Brief: ANC-staat is anti-blank as dit by onderhoud van skole soos Hoërskool Driehoek kom

Ek dink die meeste van die ou model C-skole gaan sulke krake in baie van hul geboue en strukture toon soos dié by Hoërskool Driehoek. Niemand sien dit raak nie. Dit is uit die oog uit en die departement doen niks om ingenieurs of wie ook al die geboue kan inspekteer, aan te stel nie.

Die departement gee minimale fondse om model C-skole te help met onderhoud. Ek weet van twee skole direk langs mekaar wat model C-skole was. Die een (ou seunskool) het ‘n swart skool geword terwyl die seuns oor is na die meisieskool om dan ‘n gemengde skool te word.

Die departement het bykans 20 miljoen rand spandeer om daardie swart skool weer op te knap. Hoeveel is aan die blanke skool reg langsaan spandeer? Niks!

Die staat sal moet besef dat die veiligheid van leerders, ouers en onderwysers hul verantwoordelikheid is! Daar word mos gereken dat alle ou model C-skole ryk is en self die onderhoud moet doen. Daardie skole het doodeenvoudig nie daardie fondse nie. Die staat moet ten volle verantwoordelik gehou word vir sulke ongelukke wat gebeur!

—Phillip Enslin

Dan Roodt-onderhoud met Stefan Molyneux op YouTube

Dr. Dan Roodt van PRAAG se YouTube-onderhoud is gisteraand opgelaai en kan hier onder gevolg word. Die onderhoud is ongeveer ‘n uur lank en gaan oor die ondermyning van Suid-Afrika deur die ANC en SAKP in die verlede, maar ook oor die toekoms van die Weste. Sowel Roodt as Molyneux is bekommerd oor dieselfde faktore soos die oorheersing van linkse denke en ongebreidelde bevolkingsgroei wat Suid-Afrika lamgelê het en wat tans die Weste as sodanig bedreig.

Molyneux raak ook die omstrede kwessie aangaande IK-verskille tussen rasse aan, wat mag verklaar waarom die Afrikavasteland so traag is om te ontwikkel.

Die Iers-gebore Stefan Molyneux, maar wat tans in Kanada woon, is een van die leidende mediafigure van die wêreldwye altregse beweging en sy video-onderhoude word met intense belangstelling gevolg. In die enkele ure sedert die Roodt-Molyneux-gesprek opgelaai is, het dit reeds 30 000 sigte op YouTube ontvang. Na verwagting sal honderde duisende kykers van regoor die wêreld daarna kyk. Ook het Steve Hofmeyr die skakel vanuit Auckland, Nieu-Seeland getwiet na sy 252 000 volgelinge op Twitter.

Kyk die onderhoud hier.

Waterpype lek en geld vloei

Waterlekkasies in pype, nog voor dit gemeenskappe se krane bereik, sal as prioriteit vir die regering beskou word.

Mlimandlela Ndamase, woordvoerder van die minister van Water en Sanitasie, Novula Mokonyane, sê ‘n interne ministeriële komitee vir droogte beskou dit as ‘n kritieke aangeleentheid waarna munisipaliteite moet omsien.

Hy sê die regering het die verantwoordelikheid op hom geneem om dié probleem op te los in ‘n poging om water te bespaar.

Die regering het ook onderneem om fondse beskikbaar te stel om swart loodgieters op te lei om werksgeleenthede te skep.

Gemeenskappe se samewerking is egter van groot belang. Ndamase sê mense moet waterlekkasies aanmeld.

Hy sê mense moet nie aanneem dat iemand anders ‘n lekkasie sal aanmeld nie. Hulle moet dit self doen en voortdurend opvolg hoe lank dit ‘n munisipaliteit geneem het om herstelwerk te doen.

Hy vra mense om munisipaliteite aan te gee wat versuim of tydsaam is om die lekkasies, wat ‘n vermorsing van water veroorsaak, te herstel.

Hy beklemtoon die noodsaaklikheid van samewerking onder alle belanghebbendes en gee sy versekering dat die regering toegewyd is tot waterbesparing in die land.

Inisiatiewe is reeds van stapel gestuur om water aan droogtegeteisterde gebiede te versprei.

Organisasies wil steun werf om veral swart gemeenskappe wat hulp nodig het, by te staan.

Drie miljoen liter water is reeds versprei in die Vrystaat, Noordwes en die Oos-Kaap.

Twintig tenkwaens sal water na die Tswaing plaaslike munisipaliteit aanry. Die munisipaliteit is die afgelope tyd swaar getref deur watertekorte en die droogte.

Die Departement van Water en Sanitasie het R350 miljoen bewillig vir die Ngaka Modiri Molemadistrik in Noordwes om sanitasie en droogteverwante probleme te probeer verlig.

Die gebied word geteister deur watertekorte en swak bestuur wat afvalwater-behandeling in die wiele ry.

Die uitvoerende hoof van Sedibeng Water het onderneem om te verseker dat die water-infrastruktuur in die gebied verbeter word.

Rembuluwani Takalani sê hulle het ‘n sakeplan van R2 miljard ontwikkel wat al die droogtegebiede sal insluit.

Al nege onderwysdepartemente kry druipverslae

Al nege provinsiale onderwysdepartemente het druip-rapporte gekry vir die bou van nuwe klaskamers en die instandhouding van skole.

Dit is volgens ‘n prestasie-verslag deur die ouditeur-generaal.

Die verslag het tekortkominge met infrastruktuurprojekte in al nege provinsies uitgewys.

Van die bevindinge gaan oor die verontagsaming van tenderprosedures, die feit dat projekte nie gemonitor word nie en die aanstelling van kontrakteurs wat nie aan vereistes voldoen nie. Swak bouwerk en skole sonder elektrisiteit en water is tydens die inspeksie van die 52 skole landwyd gevind.

Projekte is ook deur kontrakteurs vertraag en een so ‘n projek is in die Vrystaat gevind waar die bou van ‘n skool al vir ‘n jaar agter skedule is.

Provinsies het altesaam R6.6 miljard vir dié projekte gedurende die 2013/2014 boekjaar ontvang.

Die auditeur-generaal sê konstruksie van klaskamers en die instandhouding van skole laat veel te wense oor.

‘n Nuwe skool wat al vyf jaar gelede voltooi is maar nog leeg staan, is tydens ‘n inspeksie van infrastruktuurprojekte in die Noord-Kaap gevind.

Die bevindinge is in ‘n auditeur-generaal-verslag oor ‘n prestasie-oudit van die onderwyssektor vervat.

Van die probleme met die projekte in verskeie provinsies sluit in die aanstel van kontrakteurs wat nie aan vereistes voldoen nie en swak monitering deur provinsiale onderwysdepartemente.

Luidens die verslag is die bou van ‘n skool in die Vrystaat al vir ‘n jaar lank vertraag, terwyl ‘n skool in die Noord-Kaap ‘n wit olifant geword het omdat die sleutels van die gebou nooit aan die provinsiale onderwysdepartement oorhandig is nie.

Leë klaskamers, rekenaarlokale en biblioteke is in ses provinsies gevind, want toerusting is nooit afgelewer nie.

Swak bouwerk, wat ‘n bedreiging vir kinders en personeel se veiligheid inhou, is ook in sommige skole gevind.

Eskom kondig Fase-2 beurtkrag aan

Eskom het Maandagmiddag aangekondig dat hy fase twee van beurtkrag begin toepas het, het Sapa berig.

“Beurtkrag het van 15:00 af van fase een na fase twee beweeg,” het die kragreus in ‘n verklaring gesê. Beurtkrag sal tot 22:00 Maandagaand voortduur.

Fase een maak voorsiening vir die besnoeiing van tot 1 000MW se kragverbruik, fase twee tot 2 000MW en fase drie maak voorsiening vir die besnoeiing van tot 4 000MW se kragverbruik.

“Ons weet nie om watter rede nie, [maar] ons het net ʼn oproep van Eskom ontvang om na fase twee te skakel,” het Sol Masolo, woordvoerder van City Power, gesê. “Eskom-bestuurders hou glo ‘n noodvergadering,” het hy gesê.

Eskom het vroeër Maandag gesê die kragnetwerk verkeer onder kwaai druk weens onvoorsiene tegniese probleme by kragstasies en het verbruikers gevra om nie-noodsaaklike toestelle af te skakel.

Beurtkrag wag vir Namibië na SA se kragkrisis

’n Verslag wat deur internasionale­ kenners saamgestel is, waarsku dat Namibië ’n ernstige kragkrisis­ in die gesig staar vanweë die plaaslike­ afgeleefde­ hidroëlektriese kragaanleg­, asook die land se steun op Suid-Afrika, het die Republikein berig.

NamPower se beplande Kudu- en Arandis-kragsentrale, asook kleiner beleggings in hidroëlektriese- en sonkragontwikkeling sal eers in die lang termyn vrugte afwerp. Tot dan sal kragverbruik in Namibië die aanbod van elektrisiteit ver oorskry en sal kragonderbrekings en beurtkrag by tye aan die orde van die dag wees, sê Business Monitor International (BMI), deel van die Fitch-groep, in sy verslag, “Namibia Power Report”.

MI meen voorts “ernstige tekortkominge­ in die struktuur van die mark” sal nuwe beleggings in veral hernubare energie bemoeilik. Daar heers ’n tekort aan ’n “robuuste­ regulatoriese­ raamwerk” in Namibië se energiemark en dit word boonop oorheers deur ’n “ondoeltreffende­ voorsiener in staatsbeheer wat private mededinging uitsluit”, aldus BMI.

Dié ontleders verwag dat Namibië se kragopwekking binne tien jaar met 500% sal styg, hoofsaaklik aangedryf­ deur termiese- en gasaangedrewe kragsentrale-ontwikkelings. Teen 2023 behoort die land 12,4 terawatt-uur­ (TWh) te bereik.

Volgens BMI behoort Namibië se kragverbruik teen dié jaar 6,6 TWh te beloop, wat beduidende uitvoere van elektrisiteit moontlik sal maak.

“Transmissie- en verspreidingsverliese in 2015 sal hoog wees – 24,9% van uitset – weens diefstal en die swak toestand van die kragnetwerk. Persentasiegewys­ behoort dit egter oor die tienjaar vooruitskattingstydperk­ stelselmatig­ te verminder,” sê BMI.

Namibië behoort binne die volgende­ vier tot vyf jaar geen ernstige­ kragonderbrekings­ te ervaar nie, het NamPower verlede week in ’n verklaring­ ­verseker.

Dié onderneming in staatsbeheer­ het voldoende maatreëls deur middel van sy kort termyn kritieke­ kragvoorsieningsinisiatiewe­ getref om as teenvoeter teen enige moontlike­ tekorte te dien, het NamPower­ gesê.

NamPower se planne om voldoende elektrisiteit in die afsienbare toekoms te voorsien, sluit in die bestuur van kragvraag, die opknapping­ van die Van Eck- en Ruacana-kragsentrale­, asook die ontwikkeling van ’n kragaanleg­ van 250 MW. Laasgenoemde gaan in samewerking met die private sektor aangepak word om in kragbehoeftes te voorsien totdat Kudu ontwikkel is.

In die medium tot lang termyn beplan NamPower die ontwikkeling van die Baynes-waterkragaanleg.

Intussen het Eskom in ‘n verklaring gewaarsku dat die vraag na krag in spitstyd sal tot Vrydag hoër wees as die kragvermoë wat beskikbaar is. Dit sal waarskynlik nog kragonderbrekings tot gevolg hê.

Die Suid-Afrikaanse verskaffer het Maandag tweeduisend Megawatt aan die netwerk onttrek in ‘n poging om te keer dat die vraag sy vermoë oorskry, na tegniese probleme by van die kragstasies.

Lasbrief dalk vir Zuma se seun uitgereik

Die Sunday Independent het berig dat ʼn lasbrief vir Edward Zuma (39) uitgereik is nadat hy glo versuim het om onderhoud te betaal en in die hof te verskyn ten spyte van dagvaardings wat hy ontvang het.

Die polisie in KwaZulu-Natal kon Sondag nie bevestig die lasbrief vir die inhegtenisneming van pres. Jacob Zuma se oudste seun uitgereik is nie.

Die lasbrief is glo op 23 Junie in die Pietermaritzburg-onderhoudhof uitgereik en die polisie het dit in Durban-Noord, waar Edward se huis is, bedien.

“Ons kan eers môre [Maandag] volledige besonderhede verskaf,” het maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, aan die koerant gesê. Hy het bevestig die polisie sal bepaal of ʼn lasbrief uitgereik is en aan die polisiestasie oorhandig is. “Ek het met die stasiebevelvoerder gepraat wat nie dadelik daarvan kennis gedra het nie.”

Edward Zuma het glo aan die Sunday Independent gesê hy weet glad nie van die dagvaardings of die lasbrief vir sy inhegtenisneming nie.

Ekonoom waarsku dat beurtkrag ekonomie kan knou

Die ekonoom Mike Schüssler sê die huidige ronde van beurtkrag sal ‘n ernstige uitwerking op die Suid-Afrikaanse ekonomie hê.

Eskom het aangekondig dat beurtkrag regdeur die land hierdie week sal geld.

Dié stap is geneem nadat ‘n silo wat tonne steenkool bevat, gekraak het en voorrade aan al ses eenhede van die Majuba-kragstasie in Mpumalanga geraak is.

Die kragstasie voorsien 10% van elektrisiteitkapasiteit.

Schüssler sê terwyl huishoudings ook verontrief sal word, gaan swaar nywerhede en klein besighede die hardste getref wees.

Hy sê hulle vra elke besigheid om terug te sny op hul kragverbruik wat weer in die vervaardigingsuitset weerspieël sal word.

Dit sal matriekeksamens waarskynlik raak sowel as verkeersvloei met baie verkeersligte wat buite werking sal wees.

“Dit kom op die ergste tyd vir ons net wanneer ons pas opgetel het vir ‘n herstel,” het hy bygevoeg.

Intussen het Andrew Etzinger, Eskom se woordvoerder verwys na die beurtkrag-skedule sodat inwoners hul beplanning kan aanpas.

Die skedule is beskikbaar by loadshedding.eskom.co.za. Mense kan ook die oproepsentrum by 0860037566 skakel.

Vrese dat hospitale, lughawens sonder krag sit

Suid-Afrikaners staal hulself vir landwye kragonderbrekings.

Die uitvoerende hoof van Eskom, Tshediso Matona, het egter vrese oor beurtkrag by lughawens en hospitale probeer besweer.

Hy het gesê sulke sleutelinstellings sal nie by die kragvoorsiener se voorgestelde beurtkragskedule ingesluit word nie.

Matona het die media by die Eskomhoofkantoor in Megawattpark in Johannesburg toegespreek om verbruikers te maan dat beurtkrag vir minstens nog ‘n week sal voortduur.

Talle dele van die land is steeds sonder krag.

Uitgebreide beurtkrag het in die land se groot stede het voorgekom nadat ‘n steenkoolsilo by die Majubakragstasie in Mpumalanga ineengestort het.

Beurtkrag is Sondag in Johannesburg, Pretoria, Kaapstad en Port Elizabeth toegepas.

Steve: ‘Apartheid was nie oorsaak van Afrika-agterstand’

‘Ek is net so verlig soos elkeen as ek soggens ongedeerd wakkerword’

Terwyl die Afrikanermening tot onlangs as onbelangrik en nie-tersake in Suid-Afrika geag is, ontlok Steve Hofmeyr se uitsprake en optrede soos die sing van Die Stem toenemend reaksie by die heersende Engelse media en meningsvormers, sy dit dan dikwels negatief. Ná sy uitspraak dat swartmense die eintlike “argitekte van apartheid” is, het die sosiale media, webblaaie en koerante gegons van reaksie. Daarom het praag ‘n onderhoud met Steve Hofmeyr gevoer en hom verder oor sy sienings uitgevra.

Waarom word jy tans so heftig gekritiseer? Dink jy daar is ‘n georkestreerde veldtog?

Steve Hofmeyr: Ek gebruik my ruimtes op sosiale media om die wegholperd so af en toe in die bek te ruk. As my pleidooi vir gedeelde aandadigheid aan die verlede nie slaag nie, gaan ons en ons kinders les opsê in die afsienbare toekoms. Moontlik vir ewig.

Hoe moet mens jou twiet dat swartes die “argitekte van apartheid” was, interpreteer?

Steve Hofmeyr
Steve Hofmeyr

SH: Ek dink swartes dra ook skuld vir die feit dat ander, nie net Verwoerd nie, wetgewing gebruik het om aparte ontwikkeling te bevorder. Soos ek altyd sê, as niemand met jou wil speel nie, is dit nie altyd ander se skuld nie.

Apartheid was nie die oorsaak van Afrika-agterstand nie. Apartheid het ‘n bestaande agterstand moontlik net besweer. Apartheid was as gevolg van daardie agterstand onder buurvolke. Daar is beslis ‘n georkestreerde veldtog om my mond te snoer terwyl ek bykans oral geboikot word. Ten spyte van die nasionale banvloek, is my nuwe CD en boek tog bo-aan die treffersparades. Ek en my vriende daar buite se goeie verhouding word onderskat deur ‘n klomp kloekende middelmanne wat ek nou weet, altyd oorbodig was. Ek praat nie af na die publiek nie; ek praat uit hulle uit, en as ek nie meer verwoord wat hulle hartslag verraai nie, sal hulle my sê en sal ek weggaan.

Die Mail & Guardian se adjunk- digitale redaktrise beskryf jou as ‘n “right-wing Afrikaner nationalist”. Wat is jou kommentaar daarop?

SH: Ek is ‘n nasionalis bloot omdat hulle nasiebouprojek liederlik gefaal het. Mens “bou nie nasies” nie. Nasies kom met eeue se momentum. Hulle moet kom dat ek hulle die regte “right wing” wys, dan sal hulle weet dat ek nog van die laaste regses is wat enigsins met hulle wil redeneer. Uiteindelik is ek eintlik gematig, selfs liberaal in sekere opsigte, en dan weer deeglik behoudend daar waar dit nodig sou wees, soos ons erfenis, asook ons vooruitsigte. Hulle grootste twee foute is: om my te sien as ʼn eensame stem in die wildernis en om my tipe van reaksie nie te identifiseer as ʼn simptoom van hulle eie gebrekkige beleid en ideologie nie. Hulle wiskunde is maar sleg en ná twintig jaar se proeftydperk, vertrou ons hul eksperiment nie meer nie.

In Suid-Afrika tref mens dikwels die sondeboklogika aan. Gegewe die vele mislukkings wat Suid-Afrika tans op soveel gebiede ervaar, het jy die indruk dat daar ‘n sondebok van jou gemaak word?

SH: Ja! Die onversadigde wraaklus wat swartes het ten opsigte van die verlede sou hulle so graag op iemand tasbaars wou vel. Die liberale media hou ook daarvan om my te blameer vir huidige mislukkings, die skielike skeiding tussen rasse en die wanprestasie van die ANC, asook ou bagasie van baie lank voor my tyd. Dit is ‘n groot eer, maar nee, dit is ʼn stokou wond wat hulle by magte was om te heel, en daartéén gekies het. Ek is maar net die simptoom van hul grootste probleem aan hierdie kant – hulle het ons lank terug vervreem. En al wat hulle ons kan toesnou, is hoe ons dom is.

Deur jou landwye toere kom jy met baie mense in aanraking. Wat is die algemene gevoel tans onder Afrikaners? Moedeloos? Gedwee? Polities korrek? Aanvaar hulle die huidige toestande of is daar tog ‘n kritiese bewussyn?

SH: Soos baie van ons, skop die Afrikaner daar buite nog teen die nuwe norm. Hy wag vir Godot, vir lig, maar begin tekens toon van uitputting. Die uitputting verminder hoe verder suid jy reis, eksponensieel. Dis byvoorbeeld steeds gerieflik om aan Gautengers voor te skryf vanuit Tamboerskloof en Stellenbosch.

Dit verander egter. Die Afrikaner en Boer gryp na die laaste strooihalms van trots, soos om tartend en uitdagend op te staan en Die Stem te sing, uit volle bors. Om sy hart te stort in sosiale media en om saam te kloek om braaivleisvure waar jy net weer mag sê wat jy wil, voel wat jy wil en trots wees waarop jy wil. Jy sal flou neerslaan as jy weet hoeveel Engelse Suid-Afrikaners vandag eens is met hoe ons voel. Ons is ‘n kultuur in neurose. Al wat ons nog stamina bied, is vlae paranoia en die feit dat as jy wegkyk en ophou konsentreer, jy en jou familie kan uitbloei daar onder in die gang. Ons is so omdat ons goeie mense is. Ons wil vertrou, wil glo in die beste van ons medemense, ons gee maklik alles oor omdat ons Christene is, mededeelsaam is en meesal die goeie in almal sien.

Dis duidelik dat die sosialistiese narratief seëvier oor logika en oorlewingsdenke.

Die nuwe norme (moord- en verkragstatistiek, lae standaarde betreffende gesondheid, opvoeding, werkloosheid, water- en kragtekorte, ontlasting in die strate, bejaarde- en kleuterverkragtings) is iets waartoe ons moeilik akklimatiseer. Ek is net so verlig soos elkeen as ek soggens ongedeerd wakkerword terwyl ek telkens stom van skok lees wat daagliks gebeur. Mag ons dit nooit as normaal “internaliseer” nie. Ons wend ons tot howe en grondwette, ons protesteer vreedsaam, tel selfs vullis op na optogte. Ek is trots om te sê ons verteenwoordig onder haglike omstandighede, kultuurbedreiging, volksuitwissing, taalmarginalisering en armoede, nog steeds ʼn mate van beskawing.

Siende dat die Mail & Guardian met jou boekerak spot, kan ons jou seker vra: Wat lees jy graag? Wie is jou gunstelingskrywers?

SH: Ironies het die M&G die uitdrukking nie verstaan nie. “In my boeke…” (In my books…) het eintlik niks met fisiese boeke te make nie. Daar gelaat, ek lees graag. Ek kry tyd en maak tyd. Ek lees tans Anthea Jeffreys se BEE – Helping or hurting? en dit lees soos Cronjé se Our next ten years en Dawie Roodt se Tax, lies and red tape, naamlik, ‘n ekonomiese grafskrif. Ek is stomgeslaan dat alle scenariobeplanners en ekonome ons onmiddellike verlossing uitspel, maar dat dit in géén partye (die DA en verder links) se manifeste opgeneem word nie. Dis duidelik dat die sosialistiese narratief seëvier oor logika en oorlewingsdenke. Kortom, ons lewe in ‘n waan en selfs ons tragiese projeksies en toenemende indeksnederlae dien geensins as waarskuwing nie. Ons was nog nooit so blind nie en die katarak se naam is politieke korrektheid. Starsug.

Toe jy in Australië was, watter soort indruk het jy van die diaspora-Afrikaners gekry? Sou hulle wou terugkom as hulle werk hier kon kry?

SH: Ek loop af en toe ‘n kwynende groepie “ekspats” raak wat vra of ek dit sou doen (terugkeer). Ek sê altyd ja, maar ons weet dit is ‘n persoonlike besluit. Oorwegend verdien mense minder oorsee, maar as jy vastrapplek kan kry, sal jy seker altyd verlang, maar nooit weer terugkeer nie. Soos in die verlede, reis ons goed, pas ons goed aan en maak ons mooi waar ons aanland. Ons werksetiek is in aanvraag op alle kontinente. Ek bedank die bedenklike prestasies van die ANC dat ek vir enorme Afrikaanse gehore in Amerika, Kanada, Nieu-Seeland, Australië, Dubai en Londen mag optree. As dit so aangaan sal ek binnekort konserte in Groenland kan doen.

Hoe sien jy die toekoms van Suid-Afrika?

SH: Lang termyn, bedroewend. Dis afskuwelik om ‘n pa te wees van wit kinders. Ons moet op ‘n daaglikse basis vir ons kinders lieg oor hulle mooi jongmensdrome en die vooruitsigte daarvan, bloot oor hul pigmentasie en rasgebaseerde beleid teen hul voorkoms. Soos jy wag ek vir ‘n wolkie op die horison. Kort termyn sou ek reken dat burgerregtekokonne ons heil is, maar alleen solank ons ons kan beroep op ‘n redelike regbank. Uiteindelik streef ons na ‘n 21-ste-eeuse Reddingsdaadbond, want maatskaplik kan ons ons eenvoudig nie meer op die regering beroep nie.

Het jy al ooit oorweeg om die politiek te betree?

SH: Ek sou seker politiek dadelik oorweeg het as ek seker was dat dit sleg genoeg gaan dat Afrikaners en ander nugterdenkendes uit hul enklaves en skulpe sou kruip om en masse te kom stem, maar ek twyfel daaraan. Jammer as ek pessimisties is, maar ek het nog geen fatsoenlike bestemming waarheen ek mense sou wou help lei nie (behalwe Perth natuurlik). Ek volhard tans graag as gatvlieg bloot omdat skeurings in die regerende party oornag alle scenario’s kan herskryf. Dit is nie buite bereik nie, maar ek kan doen met hulp. Skrou. Protesteer. Kla. Eis. Eis diens. Enige diens. Plaas druk. Do not go gently into that good night. Moet niks substandaards aanvaar nie. Laat weet almal jy is beter gewoond en moenie ophou voordat jy dit kry nie. Ek het steeds hoop vir Afrikaners en Suid-Afrikaners. Alle Suid-Afrikaners.

Naskrif: Terwyl die maatskappy Williams Hunt in Port Elizabeth Steve Hofmeyr se borgvoertuig tot groot vermaak van die liberale hoofstroommedia teruggeneem het, het hy op 28 Oktober getwiet:

Beeld se spontprent oor die Williams Hunt-episode
Beeld se spontprent oor die Williams Hunt-episode

Word Afrikaanse media deur veiligheidsdienste gemanipuleer?

landman_christo
Dr. Christo Landman

In die lig van die vreemde verskynsel dat Afrikaanse media en meningsvormers dikwels standpunt inneem téén die belange van Afrikaners of hulle daarvan probeer oortuig om van hul bates afstand te doen, het praag die volgende vrae aan ‘n kenner gevra: Is Afrikaanse media geïnfiltreer? Is daar joernaliste wat ook agente van die staat of selfs buitelandse inligtingsdienste is wat die niksvermoedende koerantlesers of radioluisteraars se sienings probeer beïnvloed?

Ons het oor hierdie en ander kwessies met Dr. Christo Landman gesels. Hy is ‘n voormalige hoof van koverte projekte by die departement van buitelandse sake en was ook hoof van missie in Berlyn. Onder die P.W. Botha-regering het hy in die Staatsveiligheidsraad gedien en is dus vertroud met die modus operandi van veiligheidsdienste.

praag: Dr. Landman, speel veiligheidsdienste steeds ‘n groot rol in ons land?

Landman: Onthou, veiligheidsdienste is vrygestel van regstellende aksie. Dit beteken dat hulle nog steeds mense uit die ou orde gebruik om hul projekte te doen. Hoe kan dit anders wees?

Dink maar aan die Boeremagsaak – daar is ernstige bewerings dat die aangeklaagdes deur veiligheidsdienste verlei is.

praag: Is veiligheidsdienste ook by propaganda betrokke, beïnvloeding van die openbare mening, ens.?

Landman: Vir seker is hulle! In die operasionele werk van die vorige regering het ons van dieselfde tegnieke gebruik gemaak. Ons het frontorganisasies gestig, en ons het betaalde persone gehad wat propagandawerk gedoen het. Op grond van hierdie stand van sake, is hierdie proses steeds aan die gang… Dis ‘n internasionale proses en hoogs onwaarskynlik dat dit nié hier gedoen word nie.

praag: Hoe weet ‘n mens of ‘n spesifieke persoon ‘n agent is?

Landman ‘n Mens ontwikkel ‘n neus vir hierdie goed. Só het ek byvoorbeeld in my loopbaan as amptenaar verskillende mense teëgekom wat gepoog het om ‘n houvas op my te kry en om my dop te hou. Hulle het my konstant dopgehou. Mense het my kom sien met bedenklike motiewe.

praag: En as dit gaan oor die inwin van menings, hoe werk dit?

Landman: ‘n Mens ontwikkel ‘n neus as iemand skielik opduik en ‘n meningsmous word. Wat motiveer hom? Word hy gebruik om ‘n sekere effek daar te stel, so ‘n persoon? Ek praat nie van ‘n spesifieke persoon nie. Dit kom verdag voor as ‘n ou skielik orals opduik. In die jongste geledere is daar ‘n buitelander wat gedurig oor sus en so kom kers opsteek. Hoe bekostig iemand dit om ses of sewe keer per jaar Suid-Afrika toe te vlieg omdat jy kamstig so lief is vir die land?

praag: Hoe word die media deur veiligheidsdienste gebruik?

Landman: Die mediamense is soos assuransiemense; dis mense wat by jou aankom vir ‘n storie. Hulle is dus gemaklike pionne van veiligheidsdienste.

praag: U sê dat ‘n mens ‘n neus ontwikkel… Wat sou u sê is tekens dat iemand in die media dalk vir ‘n veiligheidsdiens werk?

Landman: As hy ‘n meningsmous begin raak en herwaarts en derwaarts begin uitsprake maak. Hoekom is dit so? Wat motiveer hom? Hoekom het hy soveel toegang tot media? Ek of u het nie soveel toegang nie. Hy begin orals opduik.

praag: Sou dit reise deur die land of oorsee insluit?

Landman: Ek sou so sê. As ‘n ou so wyd en syd begin opduik, moet jy weet daar is ‘n slang in die gras. Hy beskik oor middele, asook toegang. Wie befonds hom en wie skep vir hom daardie vermoë?

praag: Hoe werk dit in die praktyk?

Landman: In die praktyk is daar ‘n drievlakstelsel: Die eerste vlak is kantoorpersoneel, wat gewoonlik aan almal bekend is. Die tweede vlek werk onder dekking. Die persoon het een of ander alibi. Byvoorbeeld, die hoof van die buitelandse veiligheidsdiens in Nederland het hom in my tyd as ‘n IT-handelaar voorgedoen. So ‘n persoon beskik oor hanteerders, koverte hanteerders. Hanteerders het op hul beurt weer agente. Die derde vlak is die inligtingsversamelaars. Hulle werk geheel en al kovert. Die houvas wat ‘n regering op sulke mense het, is ‘n uiters geheime veiligheidsklaring. Daar is ook drie vlakke van geheimhouding: vertroulik, geheim en uiters geheim.

print_media_manipulationpraag: Gebeur dit dat meningsmouse, soos u hulle noem, die openbare mening probeer beïnvloed?

Landman: Ja, absoluut, dis hulle taak! Hulle versamel inligting maar is ook besig met infiltrasie. Hulle bedryf propaganda en infiltreer organisasies onder dekking dat hulle konserwatief is en lei mense in lokvalle.

praag: Sou dit hulle taak wees om bepaalde mense en instansies te diskrediteer?

Landman: Hul take is so wyd soos die Heer se genade. Geheime organisasies wat in die NP se tyd gestig is om die konserwatiewe politici te diskrediteer, het miljoene rande daarvoor ontvang. Disinformasie is ‘n wetenskap wat deur die Russe in die Nazi-tyd vervolmaak is. Om ‘n onlangse voorbeeld te noem: die Afrikanerbond het ‘n verslag in die parlement oor landbou en grond gaan lewer. En nou is daar ‘n klomp mense wat nooit die verslag gelees het nie, wat hul menings op koerantberigte baseer. Beriggewing is absoluut oppervlakkig, terwyl die verslag baie goed is.

Daar is nog ‘n ander meganisme. Inligting moet deur ‘n spesiale liggaam vertolk word. Feite word vergelyk met mekaar om ‘n waarheidselement te postuleer. ‘n Teenstrategie kan nie op valse inligting gegrond wees nie. Die teenstrategie word gebruik om jou te neutraliseer.

praag: Watter soort mens of organisasie word gewoonlik geneutraliseer?

Landman: As jy onder die aandag kom! As jy onder die aandag kom, dan moet jy aanvaar dat daar strategieë in werking gestel sal word om jou te neutraliseer. Sodra jy ‘n faktor word, is jy ‘n teiken.

Ek staan by my standpunt wat ek destyds tydens die heel eerste vergadering van die Vryheidsfront gestel het. As jy ‘n volk wil bevry, moet jy iets soos ‘n privaatveiligheidsorganisasie oprig, maar ook ‘n elitekorps om luistervinke uit te vang. Daar moet ook ‘n geheime strategie wees om vyandelike strategieë tre neutraliseer. Ons het ‘n geheime Broederbond nodig wat kovert werk. Op die oomblik is ons feitlik magteloos: voor jy iets kan doen, word dit geneutraliseer.

praag: U praat van “neutraliseer”… Hoe word dit gedoen?

Landman: Daar is nie ‘n magtiger wapen as die pen om dít te doen nie. Dis met ‘n pen wat daar ‘n streep deur jou getrek word, klaar!

‘Die Weste stereotipeer nog altyd vir Rusland’: Russia Today-redaktrise

Margarita Simonjan, 33, hoofredaktrise van Russia Today. Sy het dié pos op die ouderdom van 25 ontvang.
Margarita Simonjan, 33, hoofredaktrise van Russia Today. Sy is reeds op die ouderdom van 25 in dié pos aangestel.

Margarita Simonjan, 33, is die hoofredaktrise van die staatsbeheerde satellietnuusnetwerk, Russia Today. In hierdie onderhoud, wat met die Duitse tydskrif Der Spiegel gevoer is, beweer sy dat Westerse joernaliste steeds verkies om Rusland as ‘n booswig te skilder en dat haar stasie geen uitlaatklep vir regeringspropaganda bied nie.

Die Russiese president, Wladimir Poetin, het ‘n anti-CNN vir Westerse gehore geskep deur middel van die internasionale satellietnuusnetwerk, Russia Today. Hy het die netwerk van stapel gestuur ten einde “die monopolie van die Angel-Saksiese massamedia te verbreek”. Die regering het kennelik in sy doel geslaag, want die netwerk geniet meer kykers in die vernaamste stede van die Verenigde State as enige buitelandse uitsaaier.

In Washington skakel 13 keer soveel kykers op Russia Today in as op sy Duitse eweknie, Deutsche Welle. ‘n Totaal van 2 miljoen Britte volg die program. Op YouTube het Russia Today, wat in Moskou geleë is, onlangs die miljardgrens verbygesteek, die eerste uitsaaier ter wêreld wat dit regkry. Die hoofredaktrise, Margarita Simonjan, 33, sien die uitsaaier as ‘n soort ministerie van mediaverdediging vir Rusland.

U netwerk sien sigself as ‘n teenvoeter vir die vernaamste Amerikaanse uitsaaiers. Hoe het u daarin geslaag om die CNN-legende, Larry King, 79, van alle mense af te rokkel?

Simonjan: U sal hom daardie vraag moet vra, maar ek weet dat hy hoogs tevrede is om weer in spel te kom.

Wat kan Russia Today aan King bied wat ander nie kan nie?

Simonjan: Ek kan uit een van sy onlangse onderhoude aanhaal: “Ek het gedink ek kan aftree, maar ek is versot op my werk. Ek het nie gedink ek sal dit mis nie, maar ek mis dit wel.”

U netwerk word deur die Russiese regering befonds. Wat staan in u missieverklaring?

Simonjan: As u op enige gewone dag op CNN of die BBC inskakel, is 80 tot 90 persent van die berigte identies. Ons wil wys dat daar baie meer stories daarbuite bestaan as die 10-per-dag wat ‘n mens gewoonlik teëkom. Ek sê nie dat mense nét na ons program moet kyk nie, ek sê hulle behoort dit óók te kyk.

Die Russiese media het ‘n ietwat meer dramatiese siening van u doelwitte. Vele vergelyk u netwerk met die departement van verdediging. U het dit self al gesê, as Rusland gaan oorlog maak…

Simonjan: … dan sal ons by die geveg betrokke raak, ja. Dit is op die land se regte, gewapende konflikte van toepassing. Onthou u die oorlog in Augustus 2008? Op daardie tydstip het die meeste Westerse mediahuise gereageer asof hulle Georgië se departement van verdediging was.

In 2008 het Russiese troepe die Georgiese grondgebied binnegeval nadat president Mikheil Saakasjwili die bevel gegee het om Suid-Ossetië aan te val, ‘n separatistiese republiek wat noue bande met Rusland handhaaf.

Simonjan: Al die Westerse uitsaaiers het slegs die Georgiese kant van die verhaal weergegee. Saakasjwili is op al die netwerke vertoon; sy verklarings is op alle programme uitgesaai. Daar is gesê dat Rusland die oorlog begin het. Daar is gesê dat die land se troepe ‘n besige mark in die provinsiale dorpie Gori gebombardeer het. Ons het dadelik ons korrespondente soontoe gestuur, wat geen spoor van hetsy ‘n geskietery, hetsy bombardemente, kon vind nie. Westerse uitsaaiers het hul dekking in die geheel op die lyding van Georgiese burgerlikes gefokus. Daar was geen verwysing na Suid-Ossetiërs nie, wat intussen elke nag artillerie-aanvalle deur Saakasjwilli moes verduur. Dit was suiwer pro-Georgiese propaganda.

Dit was nie só eensydig nie. SPIEGEL het byvoorbeeld vroeg reeds verslag gedoen dat dit Saakasjwilli was wat die eerste skoot geskiet het. ‘n Komitee van die Europese Unie het tot dieselfde gevolgtrekking gekom.

Simonjan: Sekerlik, maar bloot agterna! Hoeveel mense het werklik die EU-verslag gelees? Die meerderheid mense glo tot vandag toe dat Rusland die oorlog geheel en al sonder provokasie begin het. Die bose Rusland bespring arme klein Georgië.

Dis nie ongewoon om Rusland in die rol van aggressor te sien nie.

Simonjan: Daarteen maak ek beswaar! Rusland het geen oorlog met ‘n ander land oor die afgelope 20 jaar begin nie. By hoeveel gewapende konflikte was Amerika in dieselfde tyd betrokke? Aan hoeveel oorloë het Europa deelgeneem?

Hoe verklaar u Rusland se negatiewe beeld?

Simonjan: Die Weste het nog nooit van die Koue-Oorlog-stereotipe afgesien nie. Een ding wat min joernaliste verstaan, is dat Rusland die Sowjetunie van binne af begin afskaf het. Dit was ons wat besef het dat kommunisme ;’n mislukking was. Ons het verstaan dat dit verkeerd was om ons wil op ander volkere af te dwing. Ons het die Oosblok sy vryheid gegun. Vandag is ons ‘n ander land, met ‘n heel anderse mentaliteit — iets wat Westerse joernaliste soms moeilik vind om te begryp. U, byvoorbeeld, het vroeër verklaar dat Rusland aggressief opgetree het sonder om dit met feite te staaf.

Is Russia Today se oogmerk om objektief verslag te doen? Of gaan dit ten eerste en bowenal daaroor om ‘n perspektief te bied wat anders as dié van die Westerse media is?

Simonjan: Het u al baie voorbeelde van objektiewe verslaggewing in die algemeen raakgesien?

Daar word pogings aangewend om objektief te wees. Maar u netwerk dek net een kant, en bied die Siriese diktator Bashar Assad ‘n platform vir sy politieke boodskap aan.

Simonjan: Daar is mense wat na Assad se politieke teenstanders as die “demokratiese opposisie” verwys. Maar selfs die rebelle het vroue verkrag en kinders vermoor. Neem byvoorbeeld vir Saakasjwilli. Hy word deur die BBC as ‘n held voorgehou. Vir ander verteenwoordig hy ‘n verdrukker. Daar is geen objektiwiteit nie – slegs benaderings van die waarheid deur soveel stemme as moontlik.

Die Russiese opposisie word slegs by uitsondering op u netwerk getoon, behalwe as ‘n teiken vir smeerveldtogte. U het selfs die Russiese woernaalskrywer en dissident Roestern Adagamof van pedofilie sonder die geringste bewys daarvan beskuldig.

Simonjan: Waarom het ons oor Adagamof berig? Want hy was besig om hom in die openbaar as ‘n kampvegter vir geregtigheid  te posisioneer

Die beskuldigings wat teenoor hom gemaak is, is uitsluitlik gegrond op verklarings deur sy gewese vrou wat sê dat hy baie jare gelede ‘n minderjarige meisie in Noorweë seksueel mishandel het. Die owerheid het weens ‘n gebrek aan getuienis verseg om ‘n klag teen hom aanhangig te maak.

Simonjan: Ons het hom nie vervolg nie; ons het bloot ‘n verslag uitgesaai. Ons het ook gepoog om ‘n verklaring van die vrou en van Adagamof te verkry. Sou die Duitse media versuim om oor ‘n politieke aktivis wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n 12-jarige meisie seksueel mishandel het, te berig? Ek het self met die eggenote gepraat, en ek het beslis nie die indruk gekry dat sy kranksinnig is nie.

Hoe het dit gebeur dat u netwerk die eerste was om beeldmateriaal van die inhegtenisname van ‘n CIA-spioen in Moskou gedurende Meimaand te verkry? Hoe nou werk u met die owerheid saam?

Simonjan: Ons het daardie beeldmateriaal van ‘n agentskap verkry op dieselfde manier as wat elke ander Russiese televisienetwerk te werk gaan. Dit was nie eksklusiewe materiaal nie. Ons was eenvoudig vinniger as die ander om dit te publiseer. – Spiegel Online

My lewe in Rusland: ‘n onderhoud met Fransi Phillips

 

Die Afrikaanse skryfster Fransi Phllips vertel van haar lewe in Rusland en hoe sy daar beland het op praagTV, ons YouTube-kanaal.

Die onderhoud is op 3 Julie 2013 in die Pretoriase kunsmuseum gevoer. Die vraesteller is Dan Roodt.