Die Nasionale Mynwerkersunie, Numsa, sê geskorste werknemers van die Medupi-kragstasie in Ellisras (Lephalale) sal na verwagting môre terugkeer werk toe. Dié aankondiging kom te midde van groot druk op die kragleweringsnetwerk.
Eskom het Woensdagaand fase-drie beurtkrag ingestel, en sê die kragnetwerk is tans kwesbaar.
Nuus24 berig ten minste 1 500 werknemers is uit die kragstasie gesluit nadat hulle ‘n bonus vir die voltooiing van eenheid 6 geëis het.
Numsa-streekswoordvoerder, Mahlodi Modike, sê hulle sal steeds vandag met werknemers vergader om die voorstel van die werkgewer te bespreek. Sommige van die werkers het boodskappe ontvang dat hulle geskors is, terwyl ander bloot uitgesluit is.
Dié aksie het tot die staking aanleiding gegee.
Eskom en Numsa het drie dae lank onderhandel, waarna die geskorste werkers uiteindelik toegelaat is om terug te keer werk toe. Die bonuseis is egter nog nie uitgeklaar nie.
Eskom het intussen aangekondig dat Fase Twee beurtkrag van sesuur vanoggend tot tienuur vanaand hervat sal word.
Die kragvoorsiener sê die netwerk is onder druk weens opwekkingseenhede wat buite werking is. Fase Drie beurtkrag is Woensdag ingestel nadat geskeduleerde onderbrekings sedert Sondag voorkom.
Die Johannesburgse elektrisiteit-nutsmaatskappy City Power het bekend gemaak dat ‘n nuwe stelsel in werking gestel word.
Volgens die kragbeperking-stelsel sal krag na huishoudings gesny word wat elektrisiteit buitensporig gebruik. Dit sal egter slegs geld vir huishoudings met slim-meters.
Die burgemeester van Johannesburg, Parks Tau wat die loodsfase in Aspen Hills bekend gestel het, sê verbruikers sal aangemoedig word om krag tydens dié tydperke spaarsaam te gebruik.
Eskom het aangekondig dat beurtkrag vanaf Donderdagoggend na fase 2 sal aangepas word.
“Die kragnetwerk is steeds onder druk. Fase 2-beurtkrag sal vandag [Donderdag] van 08:00 tot 23:00 toegepas word,” het Eskom se woordvoerder, Khulu Phasiwe gesê.
Die kragvoorsiener ervaar steeds probleme met sy opwekkingvermoë.
Eskom het Woensdag van 10:00 tot 14:00 fase 1-beurtkrag toegepas waarna fase 2-beurtkrag tot na 22:00 toegepas is.
Fase 1-beurtkrag maak voorsiening dat tot 1000 MW se kragverbruik ingekort word, fase 2 tot 2000 MW en fase 3 maak voorsiening vir die inkorting van tot 4000 MW se kragverbruik.
Dit beteken ook dat verbruikers tot twee maal ‘n dag vir sowat twee tot vier ure ‘n dag sonder krag kan wees. Hy sê die druk kan toegeskryf word aan die verlies van nog opwekkingseenhede.
Volgens Phasiwe is vyf van die eenhede onklaar.
‘n Woordvoerder van Nasionale Energiereguleerder (NERSA) het vroeër gesê hulle is nog besig om te bereken nadat Eskom toestemming gegee is om kragtariewe te verhoog.
NERSA het toestemming vir ‘n verhoging gegee om bykomende dieselkoste te verhaal wat Eskom moes aangaan om gasturbines aan die gang te hou vir kragvoorsiening.
NERSA het in November verlede jaar ‘n 12,6% verhoging aan Eskom toegestaan
Margarita Simonjan, 33, hoofredaktrise van Russia Today. Sy is reeds op die ouderdom van 25 in dié pos aangestel.
Margarita Simonjan, 33, is die hoofredaktrise van die staatsbeheerde satellietnuusnetwerk, Russia Today. In hierdie onderhoud, wat met die Duitse tydskrif Der Spiegel gevoer is, beweer sy dat Westerse joernaliste steeds verkies om Rusland as ‘n booswig te skilder en dat haar stasie geen uitlaatklep vir regeringspropaganda bied nie.
Die Russiese president, Wladimir Poetin, het ‘n anti-CNN vir Westerse gehore geskep deur middel van die internasionale satellietnuusnetwerk, Russia Today. Hy het die netwerk van stapel gestuur ten einde “die monopolie van die Angel-Saksiese massamedia te verbreek”. Die regering het kennelik in sy doel geslaag, want die netwerk geniet meer kykers in die vernaamste stede van die Verenigde State as enige buitelandse uitsaaier.
In Washington skakel 13 keer soveel kykers op Russia Today in as op sy Duitse eweknie, Deutsche Welle. ‘n Totaal van 2 miljoen Britte volg die program. Op YouTube het Russia Today, wat in Moskou geleë is, onlangs die miljardgrens verbygesteek, die eerste uitsaaier ter wêreld wat dit regkry. Die hoofredaktrise, Margarita Simonjan, 33, sien die uitsaaier as ‘n soort ministerie van mediaverdediging vir Rusland.
U netwerk sien sigself as ‘n teenvoeter vir die vernaamste Amerikaanse uitsaaiers. Hoe het u daarin geslaag om die CNN-legende, Larry King, 79, van alle mense af te rokkel?
Simonjan: U sal hom daardie vraag moet vra, maar ek weet dat hy hoogs tevrede is om weer in spel te kom.
Wat kan Russia Today aan King bied wat ander nie kan nie?
Simonjan: Ek kan uit een van sy onlangse onderhoude aanhaal: “Ek het gedink ek kan aftree, maar ek is versot op my werk. Ek het nie gedink ek sal dit mis nie, maar ek mis dit wel.”
U netwerk word deur die Russiese regering befonds. Wat staan in u missieverklaring?
Simonjan: As u op enige gewone dag op CNN of die BBC inskakel, is 80 tot 90 persent van die berigte identies. Ons wil wys dat daar baie meer stories daarbuite bestaan as die 10-per-dag wat ‘n mens gewoonlik teëkom. Ek sê nie dat mense nét na ons program moet kyk nie, ek sê hulle behoort dit óók te kyk.
Die Russiese media het ‘n ietwat meer dramatiese siening van u doelwitte. Vele vergelyk u netwerk met die departement van verdediging. U het dit self al gesê, as Rusland gaan oorlog maak…
Simonjan: … dan sal ons by die geveg betrokke raak, ja. Dit is op die land se regte, gewapende konflikte van toepassing. Onthou u die oorlog in Augustus 2008? Op daardie tydstip het die meeste Westerse mediahuise gereageer asof hulle Georgië se departement van verdediging was.
In 2008 het Russiese troepe die Georgiese grondgebied binnegeval nadat president Mikheil Saakasjwili die bevel gegee het om Suid-Ossetië aan te val, ‘n separatistiese republiek wat noue bande met Rusland handhaaf.
Simonjan: Al die Westerse uitsaaiers het slegs die Georgiese kant van die verhaal weergegee. Saakasjwili is op al die netwerke vertoon; sy verklarings is op alle programme uitgesaai. Daar is gesê dat Rusland die oorlog begin het. Daar is gesê dat die land se troepe ‘n besige mark in die provinsiale dorpie Gori gebombardeer het. Ons het dadelik ons korrespondente soontoe gestuur, wat geen spoor van hetsy ‘n geskietery, hetsy bombardemente, kon vind nie. Westerse uitsaaiers het hul dekking in die geheel op die lyding van Georgiese burgerlikes gefokus. Daar was geen verwysing na Suid-Ossetiërs nie, wat intussen elke nag artillerie-aanvalle deur Saakasjwilli moes verduur. Dit was suiwer pro-Georgiese propaganda.
Dit was nie só eensydig nie. SPIEGEL het byvoorbeeld vroeg reeds verslag gedoen dat dit Saakasjwilli was wat die eerste skoot geskiet het. ‘n Komitee van die Europese Unie het tot dieselfde gevolgtrekking gekom.
Simonjan: Sekerlik, maar bloot agterna! Hoeveel mense het werklik die EU-verslag gelees? Die meerderheid mense glo tot vandag toe dat Rusland die oorlog geheel en al sonder provokasie begin het. Die bose Rusland bespring arme klein Georgië.
Dis nie ongewoon om Rusland in die rol van aggressor te sien nie.
Simonjan: Daarteen maak ek beswaar! Rusland het geen oorlog met ‘n ander land oor die afgelope 20 jaar begin nie. By hoeveel gewapende konflikte was Amerika in dieselfde tyd betrokke? Aan hoeveel oorloë het Europa deelgeneem?
Hoe verklaar u Rusland se negatiewe beeld?
Simonjan: Die Weste het nog nooit van die Koue-Oorlog-stereotipe afgesien nie. Een ding wat min joernaliste verstaan, is dat Rusland die Sowjetunie van binne af begin afskaf het. Dit was ons wat besef het dat kommunisme ;’n mislukking was. Ons het verstaan dat dit verkeerd was om ons wil op ander volkere af te dwing. Ons het die Oosblok sy vryheid gegun. Vandag is ons ‘n ander land, met ‘n heel anderse mentaliteit — iets wat Westerse joernaliste soms moeilik vind om te begryp. U, byvoorbeeld, het vroeër verklaar dat Rusland aggressief opgetree het sonder om dit met feite te staaf.
Is Russia Today se oogmerk om objektief verslag te doen? Of gaan dit ten eerste en bowenal daaroor om ‘n perspektief te bied wat anders as dié van die Westerse media is?
Simonjan: Het u al baie voorbeelde van objektiewe verslaggewing in die algemeen raakgesien?
Daar word pogings aangewend om objektief te wees. Maar u netwerk dek net een kant, en bied die Siriese diktator Bashar Assad ‘n platform vir sy politieke boodskap aan.
Simonjan: Daar is mense wat na Assad se politieke teenstanders as die “demokratiese opposisie” verwys. Maar selfs die rebelle het vroue verkrag en kinders vermoor. Neem byvoorbeeld vir Saakasjwilli. Hy word deur die BBC as ‘n held voorgehou. Vir ander verteenwoordig hy ‘n verdrukker. Daar is geen objektiwiteit nie – slegs benaderings van die waarheid deur soveel stemme as moontlik.
Die Russiese opposisie word slegs by uitsondering op u netwerk getoon, behalwe as ‘n teiken vir smeerveldtogte. U het selfs die Russiese woernaalskrywer en dissident Roestern Adagamof van pedofilie sonder die geringste bewys daarvan beskuldig.
Simonjan: Waarom het ons oor Adagamof berig? Want hy was besig om hom in die openbaar as ‘n kampvegter vir geregtigheid te posisioneer
Die beskuldigings wat teenoor hom gemaak is, is uitsluitlik gegrond op verklarings deur sy gewese vrou wat sê dat hy baie jare gelede ‘n minderjarige meisie in Noorweë seksueel mishandel het. Die owerheid het weens ‘n gebrek aan getuienis verseg om ‘n klag teen hom aanhangig te maak.
Simonjan: Ons het hom nie vervolg nie; ons het bloot ‘n verslag uitgesaai. Ons het ook gepoog om ‘n verklaring van die vrou en van Adagamof te verkry. Sou die Duitse media versuim om oor ‘n politieke aktivis wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n 12-jarige meisie seksueel mishandel het, te berig? Ek het self met die eggenote gepraat, en ek het beslis nie die indruk gekry dat sy kranksinnig is nie.
Hoe het dit gebeur dat u netwerk die eerste was om beeldmateriaal van die inhegtenisname van ‘n CIA-spioen in Moskou gedurende Meimaand te verkry? Hoe nou werk u met die owerheid saam?
Simonjan: Ons het daardie beeldmateriaal van ‘n agentskap verkry op dieselfde manier as wat elke ander Russiese televisienetwerk te werk gaan. Dit was nie eksklusiewe materiaal nie. Ons was eenvoudig vinniger as die ander om dit te publiseer. – Spiegel Online