Terreursaak teen SA tweeling gaan voort

Die terreursaak teen ‘n Moslemtweeling (23) sal in die Johannesburgse landdroshof voortgaan.

Die saak is Donderdag uitgestel nadat Brandon Lee en Tony Lee Thulsie van Newclare se regsverteenwoordiger `n aansoek teen hul aanhouding ingedien het.

Hulle regte name is Sallahoeddin (Brandon-Lee) en Jakeen (Tony-Lee) Thulsie.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle beplan het om die Amerikaanse ambassade en Joodse instellings in Gauteng aan te val.

Hulle sou gister om borgtog aansoek gedoen het, maar dit het toe nie plaasgevind nie weens die aansoek teen hul aanhouding.

Die vrou van een van die tweeling het die nag van hul inhegtenisneming beskryf.

In ‘n beëdigde verklaring, het die vrou van Tony-Lee Thulsie, Aadila Alben, besonderhede gegee van die aand van die arrestasies.

Sy het gesê die polisiedokumente is onderteken deur haar skoonfamilie in ‘n “klimaat van vrees en intimidasie”.

Hulle beweer dat hulle nie lasbriewe ontvang het toe hulle in hegtenis geneem is nie.

Die twee het vandeesweek drie keer die Johannesburgse landdroshof verskyn. Hulle het nog nie formeel om borgtog aansoek gedoen nie.

Borgverrigtinge is uitgestel ten einde vas te stel of hul arrestasies in werklikheid onwettig was.

Die vervolging moet nou bewys dat die behoorlike prosedures gevolg is toe die identiese tweeling op 9 Julie in hegtenis geneem is.

As hulle versuim om dit te doen, kan die Thulsie broers vrygelaat word.

Die tweeling is in hegtenis geneem in Newclare, wes van Johannesburg.

Humeure vlam na wangedrag-bevindinge teen EFF

Humeure het opgevlam en stemme het opgegaan Dinsdag met die EFF se dissiplinêre verhoor, toe die party se 20 LP’s se wangedrag tydens die chaotiese Nasionale Vergadering se sitting in Augustus bespreek is.

Twee EFF-perlementslede het uitgestap uit protes nog voor die slotbetoë van die Bevoegdhede- en Voorregtekomitee gehoor is.

Die bruin advokaat, Randal van Voore, het bevind dat sommige van die 20 EFF-lede hulle in die Nasionale Vergadering tydens President Zuma se antwoordsessie aan growwe wangedrag skuldig gemaak het.

Van Voore is aangestel as die getuienisleier in die Parlement se wangedragverhoor teen die EFF-parlementslede.

Hy het sy verslag van meer as 170 bladsye voltooi en sy betooghoofde uitgestippel nadat vyf getuies in die verhoor getuig het.

Van Voore het gesê daar kan min twyfel wees dat die agbare lede presie geweet het wat van hulle verwag word en doelbewus en opsetlik geweier het om die Speaker se instruksies te ignoreer.

Hy het gesê sy verslag is ‘n stel feite wat nie tot sommige lede sal spreek nie, maar feite bly feite al is hulle ongerieflik.

SA Menseregtekommissie gaan verhoor oor plaasgeweld hou

Ná 20 jaar van gruweldade op plase in die vorm van moorde en martelings, het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie vandeesweek te kenne gegee dat hy ‘n verhoor oor menseregteskendings gaan hou.

Dié verhoor sal egter “plaaswerkers se diensvoorwaardes insluit”. Volgens Isaac Mangena, die woordvoerder van die Menseregtekommissie, het die MRK “nog altyd menseregteskendings op plase veroordeel”.

Tydens ondersoeke in 2003 en 2008 het die kommissie “heelwat klagtes” oor menseregteskendings op plase ontvang en het daarom besluit om ‘n openbare verhoor daaroor te hou.

‘Mangena is aangehaal as sou hy gesê het:

“Al hierdie punte dui daarop dat veiligheid en sekuriteit, asook die beskerming van menseregte, insluitend die diensvoorwaardes in die boerderygemeenskappe, steeds noemenswaardige uitdagings bly.

“Daar is ’n sterk grondslag vir ’n ondersoek.”

Daar word verwag dat slagoffers van plaasaanvalle en Afrikaanse organisasies ook geleentheid sal kry om voor die kommissie te getuig.

Die kommissie het reeds meer as ‘n jaar gelede ‘n versoek ontvang om so ‘n verhoor te reël en het nou eers gereageer.

’n Span is reeds saamgestel om die verhoor te reël.

Boeremag-aansoek van die hand gewys

Van die Boeremag-aangeklaagdes in die hof
Van die Boeremag-aangeklaagdes in die hof

Die Hoë Hof in Pretoria het ‘n aansoek deur die Boeremag-aangeklaagdes van die hand gewys om ‘n spesiale vermelding van ‘n onreëlmatigheid in die hofrekord te laat aanbring, het die The Citizen Saterdag berig.

Regter Eben Jordaan het Vrydag die aansoek deur die 20 aangeklaagdes van die hand gewys. Hulle is verlede jaar aan hoogverraad skuldig bevind. Die regter het gesê dat hy eers later redes vir sy bevinding sal verstrek.

Die aansoek was daarop gemik om ‘n hefboom te verkry wat tydens hul appèl teen hul skuldigbevindings op klagtes van hoogverraad te gebruik.

Die skuldigbevindings spruit uit ‘n staatsgreepplan in die laat negentigerjare en vroeë millennium om die ANC-bewind omver te werp.

Sekere van die aangeklaagdes het gedurende die verhoor beweer dat hulle soldate in ‘n legitieme stryd om ‘n onafhanklike Boererepubliek sou wees.

Die aansoek om tot krygsgevangenes verklaar te word, is van die hand gewys.

Ná hul skuldbevindings, is getuienis gelewer wat volgens hulle bewys dat die polisie se misdaadintelligensie-eenheid hul konsultasies met hul regsverteenwoordigers by die C-Maks-gevangenis en die hofselle afgeluister het. – Sapa