Jakes Gerwel in perspektief

Deel op
Die afsterwe van Jakes Gerwel het aan al die gebruiklike verdagtes ‘n gulde geleentheid gebied om propaganda teen apartheid, maar eintlik teen blankes en veral Afrikaners, te maak. Publikasiegeleentheid vir so iets is mildelik in die pers en uitsaaimedia toegestaan. Ordentlikheidshalwe kan kommentaar kort na die dood van iemand ‘n mate van toeskietlikheid openbaar, maar alle ewewig moet nie oorboord gegooi en die waarheid ernstige geweld aangedoen word nie. Om sowel politieke as etniese redes het veral bruines Gerwel se lof op ‘n uiters oordrewe manier besing.

Ek het Gerwel in die jare sewentig geken en sedertdien oor sy doen en late ingelig gebly. Van twee dinge gaan ek my weerhou. Eerstens: Willem Pretorius, ‘n joernalis met ‘n loopbaan sonder hoogtepunte, het hom na PW Botha se dood, maar voor sy begrafnis, aangematig om in sy rubriek in Die Burger te skryf dat Botha se dood hom koud laat. So ‘n opmerking oor ‘n swarte sou nooit gepubliseer gewees het nie. Ek het Pretorius se opmerking werklik aanstootlik gevind. Met wat ek oor Gerwel te sê het, het ek doelbewus tot na sy nadoodse huldigingsbyeenkoms gewag; ook sodat ek kennis kon neem van die uitlatings wat daar gemaak is.

Tweedens wil ek my nie in dieselfde mate as die Gerwel-juigkommando aan eensydigheid skuldig maak nie. Daarom erken ek (1) dat Gerwel wesenlik Afrikaans gebly het, al het hy Afrikaans sekerlik nie altyd bevorder nie. Gerwel is deur bv Franklin Sonn kwalik geneem omdat hy sy kinders Afrikaans opgevoed het. (2) ‘n Amperse kompliment is dat die blanke personeel van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) geneig was om Gerwel as rektor (1987-1994) ietwat minder te wantrou as die vise-rektor, Jaap Durand. (3) Gerwel het ‘n mate van beskeidenheid behou. Hy het bv nie ‘n Nkandla vir homself opgerig nie, maar veel eerder (soos Jan Smuts in sy sinkhuis in Irene) tot sy dood in sy Belhar-huis bly woon.

My vroegste herinnering aan Gerwel is hoe hy as dosent in Afrikaans aan die UWK middae lank voor sluitingstyd na die biblioteek gekom het om te wag dat sy vrou huis toe kon gaan. Sy het as ‘n assistent in die biblioteek gewerk. Gerwel het dan die tyd verwyl deur in die slegste denkbare “Afrikaans” met die studente te gesels. Dít terwyl hy as dosent in Afrikaans ‘n navolgenswaardige voorbeeld in Afrikaans behoort te stel. Dít terwyl hy in staat was om Standaardafrikaans te praat en te skryf.

Wat my ook van Gerwel se gedrag gehinder het, was dat daar by hom as jong dosent geen dringendheid was om ‘n omvattende stel eie lesings deeglik uit te werk en sy doktorale proefskrif te voltooi nie. Hy het eerder voorkeur aan die uitlewing van swartmagpolitiek en marxisme gegee. In Rapport het Michael le Cordeur bevestig dat Gerwel Afrikaans doseer het om sy politieke boodskap tuis te bring. Ek was nooit by Gerwel aan huis nie, maar diegene wat daar was, het gesê dat as jy by die voordeur inkom, jy met ‘n groot plakkaat met ‘n gebalde vuis (in die tradisie van die vredesikoon Nelson Mandela) gekonfronteer is.

Soos sy held Mandela, het Gerwel geen groot besware teen kommunisme gehad nie. Mandela se enigste beswaar was dat dit blankes in Moskou was wat die beheer oor kommunisme uitgeoefen het. Na ‘n besoek aan Kuba het Gerwel gesê dat hy graag daar sou wou woon. Ek het al ‘n foto gesien wat toon hoe Gerwel (lafhartig) weghardloop van ‘n gebou wat aan die brand gesteek is. Wynand Mouton, wat in 1974 die UWK-rektor was, het aan my vertel dat Gerwel by hom gebieg het dat hy misdade gepleeg het en in die tronk hoort.

Gerwel se proefskrif handel veel eerder oor politiek as Afrikaans. Dit is soos Russel Botman se proefskrif wat eerder oor politiek as godsgeleerdheid handel. Pas het Botman vir sowel Gerwel as die Universiteit Stellenbosch die eer aangedoen om hom ‘n “revolusionêre Matie” te noem. Die bevrydingsteoloog Botman het genot daaruit geput toe Gerwel tydens ‘n direksievergadering na die kommunis Antonio Gramsci verwys het. Sowel Gerwel as Botman het op ‘n myns insiens onprofessionele manier politiek in en buite die klaskamer gepredik. Hulle was eerder aktiviste as akademici. Geen UWK-dosent het in ‘n enigsins vergelykende mate sy amptelike posisie so misbruik om apartheid te propageer nie.

Gerwel se klasse was om die verkeerde redes gewild. Daar is destyds uitbasuin dat die UWK se Departement Afrikaans die grootste in die wêreld was. Die Burger het lustig hieraan meegedoen; natuurlik sonder om te sê waarom so baie studente Afrikaans as vak gekies het. Gerwel se standpunt was dat plaaslike literêre werk by die “bevrydingstryd” betrokke moet wees. Dit is hy wat Ingrid Jonker se gedig, “Die Kind”, by Mandela aanbeveel het. Mandela het die anti-blanke sentiment daarin aangegryp en tot die uiterste misbruik. In Die Burger is hierdie skuif egter gunstig vertolk as sou dit erkenning van Afrikaans deur so ‘n grootsheid soos Mandela impliseer.

Sy ideologiese voorkeur het Gerwel in alles weerspieël. ‘n Universiteit is veronderstel om ruimte vir die wisselwerking van verskillende standpunte te bied. As rektor het Gerwel die UWK egter as die “intellektuele tuiste vir die linkses” geposisioneer. Die UWK het in die eerste plek ‘n ANC-nes pleks van ‘n eerbare akademiese inrigting geword. In dié proses is die universiteit van ‘n oorwegend Afrikaanse inrigting tot ‘n eentalige Engelse inrigting getransformeer. Dit is gedoen omdat ANC-gedienstigheid by Gerwel baie swaarder as lojaliteit teenoor Afrikaans geweeg het.

Dit het van Gerwel ‘n geskikte kandidaat gemaak toe die ANC-regering ‘n voorsitter gesoek het vir ‘n ondersoek na die toekoms van Afrikaanse universiteite. Daar is aanbeveel dat daar twee (pleks van die destydse vyf) Afrikaansmedium universiteite mag wees; een in die noorde en een in die suide. As raadslid van die suidelike Afrikaanse universiteit, die Universiteit Stellenbosch, het Gerwel egter nie gevolg aan sy kommissie se aanbeveling gegee deur in ‘n taalbul ten behoewe van Afrikaans te ontpop nie. Hy het eerder Botman se verengelsingsbeleid en die afskaling van Afrikaans gesteun.

Baie jare het verloop voordat Gerwel uiteindelik in 1979 sy proefskrif voltooi het. Hy is gevolglik eers daarna tot professor bevorder en enkele jare daarna sommer tot rektor. Om politieke redes het hy sy intreerede, as hoogleraar in Afrikaans, in Engels gelewer. Weereens het hy gedemonstreer dat daar by hom geen lojaliteit teenoor Afrikaans is as hy anti-Afrikaanse sentiment ten behoewe van die UDF/ANC kon demonstreer nie. Toe Gerwel Genadendal, ‘n grondig Afrikaanse omgewing, besoek het, het hy in eentalige Engels in die besoekersboek geskryf.

Nadat Gerwel die UWK-rektor geword het, het hy met die hartlike samewerking van sy vise-rektor, Jaap Durand, die universiteit so sou en grondig moontlik pro-ANC verideologiseer. Een van die professioneelste en doeltreffendste funksionarisse op die kampus het daarna as ‘n afdelingshoof afgetree. Hy was ‘n hoogs ewewigtige en beskaafde mens en ideologies geen vuurvreter nie. Maar hy kon nie Gerwel se anti-blanke swartmagsentimente onderskryf nie. Kort na hierdie man se aftrede het Gerwel al die personeel van daardie afdeling om net een rede na sy kantoor ontbied: om hierdie voortreflike mens grondig te diskrediteer. By hierdie geleentheid is die mikrogrootte van Gerwel se gees duidelik geopenbaar. By Gerwel was daar ten minste toe geen sprake van grootsheid van gees nie, al word hy nou na sy dood as sodanig uitgebeeld.

Ton Vosloo verwys na Gerwel as “kameraad”, asof dit ‘n onskadelike benaming is. Vosloo, wat geen naskoolse kwalifikasie het nie, beweer dat Gerwel oor ‘n “berg van akademiese kennis” beskik het. ‘n Ander kommentator het Gerwel ‘n “ontsaglike bron van wysheid” genoem. Nog een beweer Gerwel was “een van Suid-Afrika se grootste seuns.” Sulke uitlatings moet in hulle konteks beoordeel word. Dit herinner aan Kader Asmal en Trevor Manuel wat in die ANC as intellektuele geag is omdat daar so bitter min sprake van akademiese kwalifikasies op die hoogste ANC-vlakke is.

Gerwel word ook as ‘n “briljante sakeman” geloof maar die South African Airways (die eens trotse Suid-Afrikaanse Lugdiens) was tydens sy voorsitterskap ‘n volslae mislukking. Hierdie pos, asook ANC- en Naspers-poste, het hom welvarend gemaak; dermate dat Gerwel elke jaar in Ierland (nie Kuba nie) vakansie kon gaan hou. Hy het ook vir hom ‘n huis in Somerset-Oos aangeskaf. Om ‘n doseerpos en selfs ‘n universiteit blatant vir politieke doeleindes te misbruik, het dus vir Gerwel groot finansiële en ander voordele meegebring. My oorwoë standpunt is dat iemand soos Gerwel hiermee seker net in die nuwe Suid-Afrika, wat ‘n baie eienaardige samelewing is, sou kon wegkom.

In 1932 het die hoofopskrif van Die Burger gelui: “Suid-Afrika verloor Langenhoven.” Verlede week was die hoofopskrif: “SA groet Gerwel.” Die statuur van die twee mense is myns insiens nie vergelykbaar nie. Die Burger het heeltemal oorboord met Gerwel gegaan. Die redes hiervoor is die sug na politieke korrektheid en gebrekkige insig. Die Burger het oor dae waarskynlik meer huldeblyke oor Gerwel gepubliseer as oor enigiemand anders en meer ruimte daaraan afgestaan as aan enige ander onderwerp. Van die huldeblyke is blykbaar spesiaal gewerf.

Die Burger se gedrag het my aan die volgende uitdrukking laat dink: “Wanneer dit op die predikant reën, drup dit op die koster.” Dus, omdat Mandela so wonderlik is, moet sy assistent, Gerwel, ook wonderlik wees. Het hierdie koerant die waarde van Gerwel oorskat, of is dit ek wat hom onderskat? Die vraag is dus: Het ‘n seder geval, of ‘n bloekomboom, of is dit maar net ‘n Port Jackson wat omgeslaan het?

Александр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.