praag.co.za

Tag: Jaap Steyn

  • Leon Lemmer: Jaap Steyn se ‘Afrikanerjoernaal’

    Leon Lemmer: Jaap Steyn se ‘Afrikanerjoernaal’

    Teen die einde van verlede jaar het daar ‘n uitsonderlike publikasie verskyn, JC Steyn se Afrikanerjoernaal: ‘n Vervolgverhaal in 365 episodes (Pretoria: FAK, 2016, 414p, R297). Die boek is, soos in die geval van Steyn se vorige werk, Ons gaan ‘n taal maak (2014), op dik glanspapier gedruk, wat die boek swaar maak, maar die formaat is kleiner en die boek is gevolglik makliker hanteerbaar. Soos dit deesdae met monografieë oor Afrikaans gaan, sou hierdie werk nie sonder subsidies van die Verwoerd Trust, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Hiemstra Trust verskyn het nie.

    Die teks bestaan uit 365 inskrywings, een vir elke dag van die jaar. ‘n Mens sou hulle soos Uit die beek kon lees, ‘n stukkie ter stigting per dag. Ek het ‘n maand se inskrywings op ‘n slag gelees omdat elke maand ‘n onderwerp het wat aan die begin aangekondig word. Die volgorde is min of meer chronologies. Die fokus is op “die hartroerende en meesleurende storie” (p 17) van Afrikaners en Afrikaans in historiese konteks. Aan die begin van elke hoofstuk of maand is daar swart en wit foto’s. Aan die einde van die teks is daar ‘n foto van Nelson Mandela as president met sy adjunkpresidente, Thabo Mbeki en FW de Klerk, wat by die lesers tuisbring in watter troostelose situasie ons ons sedert 1994 bevind. Die boek word met ‘n bibliografie en ‘n onbevredigende (bv hoogs onvolledige) naam- en saakregister afgesluit.

    Daar is sekerlik baie min mense soos Jaap Steyn wat die deursettingsvermoë, toewyding en liefde vir Afrikaners en Afrikaans het om ‘n projek soos hierdie aan te pak en só suksesvol deur te voer. Die “dagstukkies” is aanvanklik vir publikasie op die FAK-webwerf geskryf. Dit is ook hier op die PRAAG-webblad beskikbaar. Daarna is besluit om hulle in boekvorm te publiseer. Die bladspieëls sou esteties meer bevredigend gewees het as die teks aangepas is sodat elke inskrywing op ‘n enkele aparte bladsy kon verskyn. Maar dit is ‘n onderhoudende teks wat die moeite werd is om van voor tot agter te lees. Die boek word tereg “‘n eietydse erfenisskat” genoem (17).

    Ek vestig vervolgens die aandag op ‘n aantal van die sake wat in die boek geopper word. Ten einde die lengte van my teks te beperk, veronderstel ek dat lesers ‘n mate van kennis oor ons geskiedenis het. Let veral op hoe lank voor 1948 en hoe dikwels skeiding as dié oplossing vir die rassevraagstuk voorgehou is en hoe baie kere gewaarsku is dat die afskaffing van apartheid tot die ondergang van die blankes kan lei.

    In die eerste hoofstuk val dit op hoe onbetroubaar Herry en sy mede-Khoi was en hoe onlonend die Kaapse halfwegstasie aanvanklik vir die HOIK was. ‘n Klein groepie Europeërs het in uiters moeilike omstandighede pionierswerk verrig, waarvoor daar deesdae glad te min waardering in veral nie-Westerse geledere is. As daar maar in 1717 ag geslaan is op Dominique de Chavonnes se ernstige pleidooi vir eerder wit immigrante as swart slawe (42-43) sou die blankes vandag demografies in ‘n gunstiger situasie gewees het. “Khoi-Afrikaans het in die 18de eeu ‘n moedertaal van die Khoi geword. Hierdie taal het anders gelyk as die [blanke] veeboere se taal wat nie die Khoi-onderbou gehad het nie” (49).

    Na aanleiding van HW Claassens se boek, Die geskiedenis van Boerekos 1652-1806, skryf Steyn:

    “Dit is ‘n fabel dat dit eintlik die Oosterse slawe was wat die Kapenaars geleer het om kos met speserye voor te berei … Die slawe was nie ‘n homogene groep nie. Hulle het uit armoedige streke gekom en vir baie was kook met speserye onbekend. Van die geregte wat aan die slawe toegedig is, soos bobotie, was nie ‘n Oosterse dis nie. Wat wel by die slawe ontstaan het, is die Oosterse name soos kerrie, bladjang, sambal en sosaties. Dié woorde is egter gebruik vir ander kosse as dié uit die slawe se lande van herkoms” (53).

    Die revolusionêre gees in Europese lande, bv Frankryk, het teen die einde van die 18de eeu ook aan die Kaap weerklank gevind, bv “dat die volk die reg besit om sy owerheid self aan te wys en hom desnoods weer van sy mag te onthef as omstandighede dit noodsaak” (61). “In 1776 het die Britse kolonies in Noord-Amerika hulle vry van die Britse gesag verklaar en ‘n oorlog teen Engeland begin. Frankryk het in 1779 ‘n bondgenoot van die Amerikaanse kolonies geword” (62). “Die grensboere het waarskynlik geredeneer dat as ander volke die reg het om van onpopulêre regerings ontslae te raak soos in Frankryk gebeur het [1789], ook hulle daardie reg het” (65). Dit lyk nie asof die plaaslike blankes en veral die Afrikaners in 2017 steeds in beduidende en realistiese mate hierdie elementêre reg behou het nie.

    “Wit veeboere het gekla omdat swartes hul vee laat wei op grond wat hulle in besit geneem het. Goewerneur Joachim van Plettenberg, wat in 1778 op sy reis deur die kolonie by die oosgrens aangekom het, het gemeen om die moeilikheid uit die weg te ruim deur ‘n duidelike grens tussen die twee groepe vas te stel. Hy was die eerste bewindhebber wat gebiedskeiding gesien het as oplossing vir wrywing tussen wit en swart. Die swartes wou egter nie die gebied wes van die Visrivier verlaat nie. In 1779 het Xhosas veewagters van die boere vermoor en troppe beeste geroof” (64). Voorvalle soos hierdie het aan die grensboere getoon dat Jean-Jacques Rousseau (1712-1778) se idee van die “edele barbaar” nie (algemeen) geldig was nie (65). Rassesegregasie kan onteenseglik ‘n manier wees om rassekonflik te verminder. Insgelyks kan gedwonge rasse-integrasie ongetwyfeld ‘n manier wees om rasseharmonie te versteur.

    Volgens John Barrow, wie se boek, Travels into the interior of South Africa, in 1801 en 1804 in twee dele verskyn het, “was die Afrikaners almal lui, dom, onsedelik, wreed, oneerlik en lafhartig … Sy negatiewe bewerings is weerlê deur twee ander Europese reisigers, MHK Lichtenstein en WBE Paravicini di Capelli. Baie Afrikaners het in die 20ste eeu van die vorige eeu gepraat as die ‘eeu van onreg’ van die Britte teen die Afrikaners. Met Barrow begin die groot Britse lasterkampanje teen die Afrikaner wat tot in die 20ste eeu voortgesit is” (68).

    Na die eerste Britse besetting in 1795 het lady Anne Barnard (1750-1825, aan die Kaap 1797-1802) “help verseker dat die sosiale lewe van die Afrikaner, wat voorheen sterk onder Franse invloed gestaan het, ‘n Engelse karakter kry. Lady Anne het in 1798 met genoegdoening geskryf dat die Engelse offisiere ‘at a great rate’ trou met die ‘Dutch vrows’. Tog was daar ook ander Engelse wat die ‘Dutch’ met minagting behandel het, meld sy in ‘n brief in 1797. Volgens ‘n memorandum wat in 1801 opgestel is, was daar vier groepe Afrikaners. Hulle was die Britsgesindes of ‘Anglomanne’, ten tweede die aanhangers van die Huis van Oranje [prins Willem V van Oranje het van Nederland na Engeland gevlug], wat met die Britsgesindes saamgewerk het, maar nie hul landgenote vervolg het nie, in die derde plek die ‘gemodereerde partij’ wat aan Nederland getrou wou bly en ongetwyfeld die meerderheid Afrikaners omvat het, en ten slotte ‘n groep wat onder die invloed van die heersende Franse revolusionêre denkbeelde was” (70-71). Frankryk was toe in beheer van ‘n deel van Nederland.

    Die Graaff-Reinetters het hulle teen die Britse bewind verset en wou nie ‘n eed van getrouheid aan die Britse koning afê nie. Hulle het gehoop dat hulle hulp van die Nederlandse Bataafse Republiek sou kry (70, 71) en “planne beraam om in die naam van ‘Het Algemeen Volkstem’ ‘de Colonie weer tot sig te neemen’” (71). “Die skip wat hulp sou bring, Het Haasje, is in Saldanhabaai deur die Engelse gevang en die troepe moes hulle oorgee” (70). In 1802 is die vrede van Amiens gesluit, wat bepaal het “dat die Kaap teruggaan na ‘die Bataafse Republiek’” (73).

    Reeds in 1707 het Hendrik Biebouw in Stellenbosch gesê: “Ik … ben een Africaander” (39). “Die Kompanjie het gemeen dat ‘n [druk]pers aan die Kaap ‘n instrument van revolusie kon word … Johannes Henricus Redelinghuijs (1756-1802) … het homself ‘n ‘Afrikaan’ genoem en die Kaap as sy ‘vaderland’ beskou … In Nederlandse koerante het hy die Kapenaars teen die Engelse gewaarsku en ‘n beroep op hulle gedoen om deur middel van ‘n revolusie ‘n volksregering tot stand te bring” (72).

    Op 23 Desember 1802 het kommissaris-generaal Jacob Abraham de Mist en generaal Jan Willem Janssens as amptenare van die Bataafse Republiek in Kaapstad aangekom. “Op 31 Desember het die Britse goewerneur, genl-maj F Dundas, ‘n proklamasie uitgevaardig dat almal wat die eed van trou aan die Britse koning afgelê het, daarvan ontslaan sou wees” (73). “Nadat Janssens met die vraagstukke aan die grens kennis gemaak het, het hy besef dat die verhouding tussen wit en swart kon baat vind by die beperking van kontak tussen die twee groepe. Hy het bepaal dat geen wit mens ‘n swarte in sy diens mag neem nie, onder meer omdat verskille tussen individue tot algemene twiste kon lei. Janssens het ‘n klein klompie soldate onder kapt L Alberti by Algoabaai gelaat om die vrede aan die grens te probeer handhaaf. Alberti het later in ‘n boek geskryf dat daar twee grondbeginsels vir rus en welvaart is: dat die swartes binne hulle grense bly en dat alle omgang tussen wit en swart mense beëindig moes word” (74).

    Na Janssens se terugkeer na Kaapstad het De Mist “eers noord- en daarna ooswaarts gereis. Op die reis kon De Mist tot ander insigte oor die Kaapse samelewing kom. Sowel De Mist as Janssens was voorheen sterk onder die invloed van die leerstellings van Rousseau oor die ‘edele barbaar’. De Mist het toegegee dat hy te maklik geglo het aan John Barrow en die Fransman L Degrandpére wat die grensboere so ongunstig beskryf het. Toe De Mist in 1803 self die toestand aan die grens kon waarneem, het hy geskryf hy kon nooit vermoed dat skrywers soos dié twee ‘enkel uit nationale nijd’ soveel lasterlike onwaarhede kon verkondig nie” (74).

    In 1803 het die oorlog tussen Engeland en Frankryk (en dus ook sy bondgenoot die Bataafse Republiek) weer uitgebreek. In 1806 het die tweede Britse besetting van die Kaap begin (79). “Hoewel die Afrikaanstaliges die een of ander vorm van Afrikaans gepraat het, was hul kultuurtaal Nederlands of Hollands, soos dit indertyd genoem is. ‘n Soort ‘diglossie’ het bestaan – die volk het een taal [proto-Afrikaans] gebruik as omgangstaal, dus vir ‘lae funksies’, en ‘n verwante taalvorm [Hollands] as kultuurtaal, vir ‘hoë funksies’ soos die onderwys en die godsdiens” (80).

    Vroeg in die 19de eeu het reste van Khoi-stamme, bekend as die Oorlams, die huidige Namibië binnegetrek. “Hul trek was deel van ‘n algemene beweging van die Khoi om so ver moontlik van die wit mense af weg te kom” (84). Die eerste Britse goewerneur, graaf Caledon, het gelas dat iedere Khoi ‘n pas moet dra. Op sy versoek het Richard Collins ‘n verslag opgestel. “Algehele skeiding tussen wit en swart het hy as die enigste oplossing vir die grensmoeilikheid beskou” (85).

    ‘n Rondgaande hof het in 1812/13 bewerings van onder andere die sendelinge J Read en JT van der Kemp ondersoek waarvolgens “Afrikaners moorde op Khoi pleeg … geen enkele moord op Khoi [is] bewys nie” (85). Van die sendingstasie Bethelsdorp sê die regters dat “luiheid en ledigheid en derhalwe morsigheid en smerigheid daar opgroei tot perfeksie” (86).

    Met die koms van die Britse setlaars in 1820 was lord Charles Somerset met verlof. Hy het die waarnemende goewerneur, sir Rufane Dunkin, “gevra om die Engelse, Skotte en Iere apart te plaas” (87). Die Britte het klaarblyklik naas rasseskeiding ook etniese skeiding voorgestaan. (Ek onderskei tussen ras, bv blank, en etnisiteit, bv Afrikaner.) Byvoorbeeld, in 1860/61: “Die Engelse van die ooste het Afrikaner-oorheersing deur die Wes-Kaap gevrees en wou van die weste afskei” (125). Maar daar was ook hierdie verskynsel: “Op die platteland het al hoe meer Britse setlaars Afrikaans begin leer” (93). Die half-Switserse, half-Engelse Louis Henri Meurant, maar gebore Kapenaar, het in Afrikaans oor onder meer die moontlike afskeiding van die Oos-Kaap geskryf. “Mense soos Meurant het Afrikaners onbedoeld en onbewus gereed gemaak vir ‘n Afrikaanse taalbeweging om van die volkstaal ‘n kultuurtaal te maak en weerstand te bied teen die verengelsing van die gemeenskap” (126-127). Die skeiding van die Oos- en Wes-Kaap het eers baie later onder die ANC-regering werklikheid geword.

    Andries Stockenström het in 1825 in Graaff-Reinet aan twee Britse sendelinge en ‘n Britse setlaar gesê: “Ons moet óf weghardloop, óf stilsit en ons kele laat afsny, óf ons moet verdedig wat ons het” (94). Daar was “‘n ondraaglike gebrek aan sekuriteit” (94). Steyn verwys in hierdie konteks heel gepas na Rudolf Dreyer, die hoofkarakter in FA Venter se roman, Geknelde land (1960), wat sê: “Hier sal ons altyd slawe bly. Hier sal ons altyd vir die swarte werk. Ons sal ons lewens hier nooit seker wees nie” (94). Steyn voeg skuins by: “Hy gebruik die destydse neutrale k-woord vir swarte” (94). Enkele bladsye later noem Steyn: “Hans de Lange het ‘n mak bobbejaan gehad wat volgens oorlewering selfs kon toulei!” (97).

    Veral Skotse predikante is ingevoer om Afrikaners te verengels. Hulle is vooraf “na Nederland gestuur om die taal te leer” (87). “Die Afrikanerbevolking was tien keer so groot as die Engelse deel” (91) maar Kaapstad het “lank voor 1850 al hoe meer ‘n Engelse stad en al hoe minder ‘n Hollands-Afrikaanse stad geword … Baie Afrikaners het die Anglikaanse kerk besoek en was in Engelse skole” (89). Die Morawiese Sendinggenootskap op Genadendal het egter die “druk van die Kaapse regering weerstaan om die sendingskool te verengels” (128). “By sendingstasies, selfs noord van die Oranjerivier, was Khoi-Afrikaans die omgangstaal, al het die sendelinge dit nie altyd gebruik nie, want sommige het hulle van Hollands bedien” (129). ANE Changuion skryf dat “Nederlands geen kans het om [die] volkstaal van die Afrikaner te word nie” (90), onder meer vanweë die groot verskille tussen (geskrewe) Nederlands en (gesproke) Afrikaans. “Hy noem vier skakerings van Kaapse Nederlands teen 1840: suiwer Nederlands, die Hoog-Hollands van Kaapse burgerkringe, die Platkaaps van ander wit mense en die Platkaaps van die Khoi en ander bruin mense” (90).

    Tydens die Groot Trek was die lewensverlies weens gewelddadige aanvalle deur swartes skrikwekkend. “Die meeste trekkers wat in vyandelikhede dood is, se waens was in klein groepies uitgespan en nie in ‘n laer saamgetrek nie” (98). Maar deesdae moet Afrikaners dikwels smalend aanhoor dat ons nie ter selfbeskerming laer mag trek nie. Van die Afrikanerkenmerke wat vroeg opgemerk is, is “dwarstrekkery en onderlinge vyandskap” (78). Om suksesvol te wees, “moes daar ‘n Afrikaner opstaan met die nodige leiersgawes om hulle te verenig en na ‘n bepaalde bestemming te lei” (106). ‘n Ander negatiewe kenmerk is dat Afrikaners op swaar hande-arbeid neergesien het. GD Scholtz noem dit “waarskynlik die grootste skadukant van die Afrikaanse volkslewe” (165). Orania werk tans hierdie persepsie teë deur ‘n toonbeeld van volkseie arbeid te wees. President MT Steyn het ‘n ambagskool “‘n tempel van edele arbeid genoem” (166).

    Lank voor die Anglo-Boere-oorlog was daar al hanskakies. Voordat Natal in 1843 deur die Britte geannekseer is, is Josias Cloete daarheen gestuur. Hy het “aan die Zoeloes die reg gegee om beeste en perde van die trekkers af te neem en teen betaling na hom te bring” (119). Reeds “van 1842 af het die trekkers Natal begin verlaat” (119). Dit is in hierdie situasie dat Susanna Smit gesê het dat die vroue eerder kaalvoet oor die Drakensberg sal loop as om hulle onder die Britse vlag te berus.

    “Die vordering van Engels in die Kaapse kerk was ‘n natuurlike gevolg van die verengelsing van die onderwys, veral vanaf 1865” (187). MER[othmann] noem dat “Afrikaanse meisies … veral weens die onderwys en die aansien van Engels graag dié taal onder mekaar gepraat” het; nie die seuns nie (129). “Sy skryf ook dat goeie ouers na goeie onderwys vir hul kinders gesoek het wat loopbane toeganklik sou maak. En daarvoor was Engels onmisbaar” (129). Hierdie argument moet ons steeds aanhoor. “Name is verengels … ‘n Vrou wou haar seuntjie Sydney doop. ‘Sit nie? Mag hy dan nie sit nie?’ Die vrou het die naam maar gelos. Ouers en kinders, of kinders onderling, het van 1875 af in die Kaapkolonie toenemend in Engels met mekaar gekorrespondeer. Afrikaners het in gesprekke al meer Engelse uitdrukkings oorgeneem” (129). Tans is die situasie dalk veel erger. Kyk gerus hoeveel Afrikaans daar op die studentewebwerf Bonfiire Stellenbosch is.

    “Onderwysers het Afrikaanse kinders probeer skaam maak vir hulle voorouers” (130). Deesdae is daar bv Afrikaanse dosente wat dieselfde doen. Daar is dikwels geen goeie woord vir die destydse blanke politieke bewind, Afrikaners of Afrikaans nie. In 1935 het MER geskryf:

    “Ons het in Transvaal geleer wat dit beteken om ‘n Afrikaanse volk te wees, ‘n suiwer Afrikaanse volk. So sal ons seker nie weer kan wees nie, maar wie dit gevoel het, kan dit nooit vergeet nie” (168).

    SJ du Toit, later ‘n leidende lid van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), het in 1874 oor verengelsing aan Afrikaners geskryf: “Vreemdelinge neem u plek in, en – u swyg … U het gebou, vreemdelinge neem u plek in … sonder taal, geen nasie. Daarom Afrikaners, hou u land, u volk, en u taal in ere!” (139). Johannes Brill het gesê dat Afrikaans “die ware landstaal van Suid-Afrika” is (139). In die manifes van die GRA, gestig op 14 Augustus 1875, staan: “Want as jy een volk syn taal afneem, dan maak jy hom tot een doofstomme; jy ontneem hom die wysheid van syn voorvaders … daar is mar één moedertaal, die taal van ons hart” (142).

    Die Patriot, die eerste koerant in Afrikaans, is van 1876 tot 1904 gepubliseer. Frans Lion Cachet het “geskryf dat dit ‘bitter smartelik’ was dat hy bly moes voel oor die blad se einde” (182), onder meer omdat SJ du Toit later pro-Brits en anti-Afrikaner gesind was. Du Toit het “Engeland openlik aangespoor om oorlog teen Transvaal te verklaar” (193). Dit is soos Afrikaners later oor die ondergang van die Nasionale Party gevoel het, wat in die jare negentig soos handomkeer verander het en in die ANC opgeneem is. Oorspronklik was die NP bedoel “as die Afrikaner se politieke wapen om sy taal, kultuur, tradisies en nasionale identiteit te handhaaf” (276). Teen die einde het niks van hierdie oogmerke oorgebly nie. “Die Nasionale Party het ‘n eerlose dood gesterf” (400).

    Na die ontdekking van diamante en goud het Cecil Rhodes deel van die Suid-Afrikaanse werklikheid geword. Een van sy biograwe het geskryf: “Only one race, so it seemed to him, approached God’s ideal type, his own Anglo-Saxon race; God’s purpose then was to make the Anglo-Saxon race predominant, and the best way to help on God’s work and fulfil His purpose in the world was to contribute to the predominance of the Anglo-Saxon race and so bring nearer the reign of justice, liberty and peace” (147). ANC-leiers kom deesdae met soortgelyke vergesogte metafisiese uitsprake oor swartes en die ANC.

    Onze Jan Hofmeyr “was nie ten gunste van Afrikaans nie, maar het in sy koerant [De Zuid-Afrikaan] ‘n kampvegter geword vir ‘n kultuurtrots by Kaapse Afrikaners en die behoud van Hollands in die kerk en skool. Ten dele was dit ‘n reaksie op die GRA se publikasies en sy strewe na die erkenning van Afrikaans” (149). “‘n Groot nasionalis was Hofmeyr nooit, maar hy was volksbewus genoeg om die Transvalers aan te spoor tot lydelike verset as ‘n manier waarop hulle hul Britse heersers kon uitput” (150). In 1899 het Hofmeyr “verklaar dat hy liewer ‘n verenigde Suid-Afrika onder Britse as onder republikeinse bestuur verkies” (190). In “1882 is Hollands naas Engels vir die parlement erken … later het Hofmeyr erken dat die ‘hooggeroemde’ taalgelykheid van die Kolonie eintlik nie ‘n feit was nie, maar fiksie. Hoewel Hofmeyr nie anti-Afrikaans was nie, was hy die Afrikaanse beweging nie goedgesind nie. Hy het gemeen dat dit tot verbrokkeling van kragte en mislukking van die taalstryd sou lei” (154). In 1893 is ‘n taalmonument vir Hollands op Burgerdorp onthul uit erkenning van Hollands as parlementstaal (177).

    Marie Koopmans-De Wet (1834-1906) se huis in Kaapstad het as die “Strandstraatse salon” bekend gestaan en is as “‘n voorportaal van die Afrikanerbond” van Hofmeyr beskou (177). Die kasteel in Kaapstad is in daardie tyd “‘n hele paar keer met sloping of skending bedreig … Vir baie mense was dit die bakermat van die Afrikaanse beskawing” (177). Onlangs is vier demografies onverteenwoordigende beeldhouwerke, dus net van swartes, in die kasteel onthul. Dit lyk nie asof die kasteel deur die ANC-regering as die bakermat van Afrikanerbeskawing eerbiedig word nie.

    Ek vind dit interessant dat toe president Paul Kruger met die Pruisiese vors Bismarck gesels het, geen tolk nodig was nie. Bismarck het agtergekom dat sy kennis van Platduits* voldoende was om te volg wat Kruger sê (155). In 1883 het Paul Kruger in Londen “vir sir Hercules Robinson, Britse Hoë Kommissaris, voor die bors gegryp … nadat dié aan lord Derby, minister van kolonies, gesê het dat Kruger lieg! Derby en Robinson het Kruger toe om verskoning gevra” (155). Hierdie voorval herinner aan Tertius Delport se reaksie toe FW de Klerk se beloofde magsdeling geblyk het eintlik algehele magsoorgawe te wees. Delport vertel: “Ek het toe na FW se kantoor gestap en aan sy deur geklop. Toe hy oopmaak, het ek hom aan sy baadjielapelle gegryp en uitgeroep: ‘Wat het jy aangevang? Jy het die land weggegee. Jy het kinders laat onderhandel. Wat ons nou het, is nie magsdeling nie; dit is konvensionele meerderheidsregering. Ons het alle mag verloor’” (Hermann Giliomee, Die laaste Afrikanerleiers, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 424). Anders as die genoemde twee Britte het De Klerk nie verskoning gevra nie; hy spog eerder oor wat hy met sy katastrofiese onderhandelings bereik het. [* Die rol van Platduits in die ontstaan van Afrikaans word myns insiens onderskat. Platduits was “in die 16de eeu die handelstaal van Europa … waarin die Hansestede vanaf Rusland tot Engeland en vanaf Swede tot Duitsland transaksies gesluit het” (Ernst Kotzé, Kaaps in fokus, reds Frank Hendricks en Charlyn Dyers, Stellenbosch: Sun Media, 2016, 145p, R225, p 39.]

    Generaal Christiaan de Wet het in 1897 gesê “dat die verwaarlosing van ‘n taal die onafhanklikheid van ‘n nasie ondermyn” (182). DC Hesseling het hom in dieselfde jaar “heel profeties oor Nederlands in Suid-Afrika uitgelaat. Hy het gesê dat hy dit nie as moontlik beskou dat ‘n skryftaal wat van buite aangevoer is en deur ‘n kloof van twee eeue van die spreektaal geskei is, ooit die voertuig kan word van ‘n nasionale letterkunde nie – iets wat die enigste bolwerk is teen die mag van Engels wat al hoe meer veld win” (182). In 1908 het DF Malan die volgende oproep gedoen:

    “Verhef die Afrikaanse taal tot skryftaal, maak dit die draer van ons kultuur, ons geskiedenis, ons nasionale ideale, en u verhef daarmee ook die volk wat dit praat. Hou egter die volkstaal op die voet van ‘n half beskaafde provinsiale dialek, en u hou daarmee ook die volk op die peil van ‘n half beskaafde ongeletterde volksklas” (287).

    In die aanloop tot die Anglo-Boere-oorlog is generaal sir William Butler in 1898 as opperbevelhebber van die Britse troepe na Suid-Afrika gestuur. Hy het “sy verbasing uitgespreek oor die wyse waarop die Engelse pers alles wat ‘Dutch’ was, beskimp en belaster” het (188). Alfred Milner, die goewerneur van die Kaapkolonie en Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, “was gretig om die oorlog gou te laat begin. Hy het die lot van die uitlanders voorgehou as betreurenswaardig onder ‘die drukkende en verrotte bestuur van ‘n koppige en agterlike ou Boerepresident [Kruger] met sy kliek’” (189). Volgens president MT Steyn van die Vrystaat was “die uitlandergriewe … net ‘n dekmantel om die republieke, waar die Afrikanergees lewend gehou word, uit te wis en die Afrikanervolk te vernietig” (190). Milner wou die Boere verslaan “and ultimately getting rid of them as a separate, exclusive caste” (215). Sy strategie was “to admit Dutch until the Anglicizing process is consummated” (216). Die ANC volg ‘n soortgelyke strategie ten koste van Afrikaans.

    President Steyn het in die Vrystaatse volksraad verklaar: “Ek sê egter nou met ‘n vry gewete en openlik voor die volk: ek verloor liewers die onafhanklikheid van die Oranje-Vrystaat met eer as om dit te behou deur oneer of ontrou. Ek weet wat dit vir twee swakke republieke is om te stry teen die magtigste ryk wat die wêreld ooit geken het, maar ek weet dat indien dit tot oorlog mag kom, ons nie stry vir die stemreg nie, maar vir die bestaan van die Afrikanervolk” (190). Vergelyk hierdie gesindheid met die mandaadlose magsoorgawe aan die ANC deur FW de Klerk en sy groepie meelopers.

    Olive Schreiner het in 1899 haar lesers in Engeland gewaarsku “dat Brittanje met sy oormag dalk wel die Afrikaner kon verpletter, maar dat as ‘n paar van hulle die gruwele van die oorlog oorleef, geweld nooit die liefde vir vryheid in hul harte sal kan uitdoof nie” (191). Toe die oorlog ‘n voldonge feit word, het Paul Kruger geprewel: “Red toch uw volk uit zijn verdriet” (Psalm 108, vers 8). Daarna was dit, in die woorde van generaal Ben Viljoen, “God en die Mauser” (192). “Die Britte was beroepsoldate” (194) terwyl “party burgers … eerder boere as Boere” was (193).

    Winston Churchill “was gekant teen die metodes wat die Britte teen die einde van die oorlog gebruik het [bv verskroeide aarde en konsentrasiekampe] en het in ‘n brief aan Milner verwys na die barbaarsheid daarvan” (197). Toe Pretoria later in die oorlog in die hande van die Britte val en hulle intog in die stad deur die inwoners verwelkom is, het die Boerespioen JJ Naudé opgemerk: “Hoeveel van die lafhartige vis-nog-graatagtige ellendelinge tel ons soms onder die naam Afrikaner!” (205). “NP van Wyk Louw skryf daar was goeie argumente vir en teen die oorlogsverklaring. Maar ‘as ons nie geveg het nie, sou die Afrikaanse [eerder: Afrikaner-] volksgevoel van slapheid en feitlik van skaamte gesterf het, want wie behoort dan graag tot ‘n volk wat sy nek buig as dit nuttig is om nederig te wees. Maar uit die trots van die driejarige stryd teen ‘n wêreldmag is ‘n nuwe Afrikaanse [Afrikaner-] nasionalisme gebore wat nie langer te keer was nie” (207).

    Myns insiens hoef daar by Afrikaners nie danig skaamte oor apartheid te wees nie. Wie in oortreffende mate skaam behoort te wees, is diegene wat in die jare negentig en daarna roemloos oorgegee het. Vergelyk dit met wat die Nederlandse digter, Albert Verwey (1865-1937), oor die Boere gesê het: “‘n Ander en beter mensesoort het opgestaan, ‘n beter volk as ons stry in Suid-Afrika vir sy bestaan” (211). Louwrens Penning het graag daarop aanspraak gemaak dat die Boerevolk “een loot van de Oud-Nederlandse stam” was (212). “Afrikaans was die spreektaal op kommando” (215). Die vyand het na Afrikaans as bv die “ox-waggon vernacular” verwys (224). “Maar hoe nuttig die kennis van Afrikaans tog was, blyk daaruit dat Milner dit kort ná sy aankoms geleer het” (224).

    Generaal Louis Botha het president Steyn “die siel van die vryheidstryd” genoem (212). Anders as deesdae is “verraad en ontrou” destyds ten sterkste afgekeur (213). “Wapenneerlêers, of hensoppers, en veral Boere wat in diens van die Britte was, national scouts of joiners, het groot bitterheid veroorsaak” (220). Hulle word “verloopte Afrikaners” genoem (220); ‘n spesie wat steeds in ons midde is. “Ná die oorlog was die joiners sosiale uitgeworpenes en hul dade is dekades lank onthou” (220). Deesdae is verloopte Afrikaners in die voorste gestoeltes en word hulle ingevolge ubuntu, versoening, transformasie, nasiebou, handevat, ens, as moreel voortreflik voorgehou.

    In 1901 het die Transvaalse generaal Jan Smuts “aan die Vrystaat laat weet dis beter om die oorlog te laat ophou en oor vyftien of twintig jaar die stryd te hervat. [President] Steyn was, in sy eie woorde, ‘diep verontwaardig en bitter teleurgesteld.’ Hy het op 15 Mei die Transvaalse bewering verwerp dat die regering en die offisiere die oorlog sou voortsit, maar dat die volk sou oorgee. In die Vrystaat kon die regering en die offisiere oorgee, maar die volk sou dit nie doen nie. Dit sou ‘n ramp vir ons nasionale bestaan wees indien die Vrystaat wat sy goed en bloed maar ook sy vryheid vir Transvaal opgeoffer het, in die steek gelaat word. Dit sou die einde meebring van alle vertroue of Afrikanersamewerking. Aan Smuts het Steyn geskryf dat hy nie saamstem dat die volk ná oorgawe weer in opstand sal kom nie. ‘Indien ons ons onafhanklikheid wil behou, moet ons veg tot die bittere einde, want as daar eenmaal vrede is, sal die burgers nie weer oorlog wil maak nie.’ As die republieke die Kaapse rebelle in die steek laat, sal dit die nekslag vir die Afrikanervolk wees” (223).

    “Die oorlog het dus nie net Vrystaters en Transvalers geraak nie, maar ook Kaapse Afrikaners. So het die oorlog een van die kragtigste faktore geword om die eenheidsgevoel onder Afrikaners in alle dele van die land te versterk en ‘n gees van nasionalisme aan te wakker” (226). Die Afrikanervroue het bankvas agter die Boere gestaan, al het ruim ‘n kwart van die konsentrasiekampbevolking omgekom (219). Die Britte het gedink of gehoop dat die vroue sou moedverloor, wat Paul Kruger laat opmerk het: “Dit is merkwaardig hoe weinig die Engelse die innerlike wese van ons volk ken” (219).

    Gideon Scheepers is in 1902 by Graaff-Reinet deur die Britte tereggestel omdat hy gewapende swartes in Britse diens laat teregstel het. Scheepers het geskryf: “Doch wy Afrikaners zullen onder de Engelsman nooit recht zien … Hoe de vyand ook moge juigen, het Afrikaner Volk zal leven en niet sterven!” (227). “Die swart elite het Brittanje gesteun,” maar vir ‘n swart joernalis, John Tengo Jabavu, was dit “moreel onregverdigbaar om die republieke te vernietig om Britse heerskappy te vestig” (230). “David Lloyd George het beweer dat daar tot 30 000 gewapende gekleurdes in Britse militêre diens was – meer as die aantal bittereinder-Boere in Mei 1902. Ná die oolog het die Britte meer as 50 000 vuurwapens van swartes in Transvaal gekonfiskeer” (230).

    “Die Kaapse bruin mense was in die oorlog van die vurigste ondersteuners van die Britte … Die Britte het in Maart 1901 vier Afrikanerburgerlikes op grond van valse getuienis van bruin mense tereggestel” (229). Is daar al ooit uit bruin geledere verskoning hiervoor gevra? “Die historikus CFJ Muller sê dat die ‘oorgrote meerderheid’ van die Stellenbosse bruin mense Britsgesind was, maar die Afrikanerintelligentsia, -boere, -studente en -dorpsbewoners daar Boergesind” (229). Dat die politieke klimaat daar toe heeltemal anders as tans was, blyk daaruit dat die raad van die Victoria-kollege (die voorganger van die Universiteit Stellenbosch) “die kollegesaal geweier het vir ‘n konsert om geld vir siek en gewonde Britse soldate te in” (228).

    Generaal JBM Hertzog het in 1902 “daarop gewys dat die grondwette van die twee republieke nie aan die regerings die reg gee om aan die onafhanklikheid te torring nie. Net die volk kon die regerings magtig om die onafhanklikheid prys te gee” (234). Sou die blanke kiesers nie ook oor hierdie reg in die 1990’s beskik het nie? Hulle het immers nooit tot magsoorgawe ingestem nie. President Steyn het gesê: “Die volk moet nie in so ‘n toestand gebring word dat hy sy selfrespek verloor en in ‘n posisie beland waarin hy hom verneder sal voel in die oë van die Britte nie” (234). Maar het die De Klerk-onderhandelings die blankes nie heeltemal onverdiend juis in so ‘n hoogs vernederende posisie laat beland nie? Lord Kitchener het probeer om die Boere te sus met die opmerking: “Dit is onmoontlik dat ‘n volk wat gestry het soos die Boere sy selfrespek kan verloor” (234). Maar die blankes het nie in die jare negentig gestry nie. Die veiligheidsmagte (weermag en polisie) is deur FW de Klerk grootliks geneutraliseer. Die huidige geslag blankes hoef nie noodwendig hulle selfrespek te verloor nie, maar hulle behoort beslis nie respek te hê vir diegene wat hulle (grootliks) uit hulle toekoms verneuk het nie.

    Tydens die vredesonderhandelings het Milner te kenne gegee: “Ek wil slegs een taal in Suid-Afrika hê.” Hierop het Hertzog geantwoord: “Ek ook!” (236). Hierdie onderhandelings met Brittanje het nie in die kruipend toegeeflike gees plaasgevind wat kenmerkend van die NP se onderhandeling met die ANC was nie. Jan Smuts het die erns van die onderhandelings besef; dat die onderhandelaars ‘n dure verantwoordelikheid het teenoor diegene wat hulle verteenwoordig: “Ons verteenwoordig die bloed en trane van ‘n ganse volk” (237). Daar was geen welwillende kameraadskap met die vyand soos in die onlangse jare negentig nie. Onmiddellik nadat die Vrede van Vereeniging onderteken is, het FW Reitz, die Transvaalse staatssekretaris, “na ‘n hoek geloop en in trane uitgebars” (238). Smuts het aan Emily Hobhouse geskryf: “I sometimes ask myself whether South Africa will rise again” (241). In 1906 het Smuts geskryf dat hy teen stemreg vir swartes is. “When I consider the political future of the natives … I must say that I look into shadows and darkness” (271). Daardie donkerte sak sedert 1994 met mening op die blankes toe. Teen die einde van sy politieke loopbaan het Smuts rassesegregasie verwerp “omdat die stroom swartes na die nywerhede nie gestuit kon word nie” (342).

    Tydens die Nasionale Konvensie, wat in 1908 ‘n grondwet vir ‘n Unie van Suid-Afrika moes opstel, het die Afrikaners vasgestaan. Oud-president Steyn het gesê: “Die Konstitusie wat ons nou gaan opstel, sal ons eie daad wees, en niemand kan verwag dat ons vanself ons taal en ons volk in ‘n onderdanige posisie sal gaan plaas nie” (267). In vergelyking hiermee, hoe anders en diep bedenklik was die benadering van die NP-onderhandelaars nie tov Afrikaners en Afrikaans nie. Dit laat ‘n mens aan Louis Leipoldt se Oom Gert dink: “Jy wil die storie van ons sterfte hoor” (272), of: “Ons het ons nasie in die see gesink; ons het geen land meer nie” (273). In 1912 het Hertzog “gesê dat ‘die Afrikaner’ nie deur vreemdelinge regeer moet word nie. Die Afrikaners, en dit sluit Engelssprekendes in wat in die land gewortel is, moet baas wees in die politiek, die onderwys en administrasie” (275-276). Smuts het in 1917 gesê “dat [rasse]skeiding nodig is om te verhinder dat ons ‘ondergaan in die welsand’ van Afrika soos ander beskawings wat eenmaal in Afrika gebloei het en waarvan net ruïnes oor is” (316).

    Na die oorlog het JD Kestell geskryf: “Die Afrikaner-sin en -gees bestaan nog … Die Afrikanervolk bly ‘n onuitdelgbare element” (243), maar “vir die Afrikaners het dit ‘n vreemde land geword” (244). Byvoorbeeld: “Daar was dikwels niemand op spoorwegstasies en treine en in pos-, magistraats- en ander kantore wat Afrikaners in hul eie taal kon bedien nie … Openbare kennisgewings op stasies en elders was net in Engels, soms ook ‘n Afrikataal, maar selde in Hollands” (244-245). Herken lesers ons huidige situasie? Smuts het na-oorlogs getransformeer en praat nou van “konsiliasie” en hy het daarby ‘n nuwe siening: “Ons moet vergeet en vergewe, nie alleen ons eie mense nie [bv die joiners] – hulle allereers – maar ook die Engelse” (248). In sy laaste boodskap skryf Paul Kruger in 1904: “Veel van wat opgebou is, is tans vernietig, verniel, geval. Maar met eenheid van sin en eenheid van kragte kan weer opgerig word wat tans terneer lê” (253).

    By die na-oorlogse Afrikaners is “die gedagte ingegrif dat dit die Afrikaner se nasionale, morele en selfs godsdienstige plig is om sy taal te behou. Taal het deel geword van die identiteit van die Afrikaner. Taalgetrouheid het die primêre toets vir Afrikanerskap geword” (256). “Die standaardtaal wat langsamerhand ontwikkel is, is gegrond op Oosgrensafrikaans” (264); daardie soort Afrikaans wat tydens en na die Groot Trek oor die hele Suid-Afrika versprei is. “Die sprekers van Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans [die twee ander hoofvariëteite van Afrikaans] was oor die algemeen pro-Brits en die Afrikaners in die Kaapkolonie dikwels sterk anti-Brits. Die belangrikste bruin leier van dié tyd en die dekades daarna was Abdullah Abdurahman, wat bitter anti-Afrikaner en sonder doekies omdraai teen Afrikaans was” (264-265). Jakes Gerwel se houding was: “Óns het nie die Boere-oorlog geveg nie en ons hoef dit nie voort te sit nie” (265). Jaap Steyn skryf: “Dit was verstaanbaar dat Afrikaners die standaardisering van Afrikaans aangepak het sonder om kulturele leiers van ander skynbaar vyandiggesinde Afrikaanse groepe te raadpleeg” (265).

    Volgens GD Scholtz het Afrikaners na die oorlog een van drie koerse ingeslaan. “Die eerste koers was dié van die Afrikanernasionaliste. Hulle het hulle met moeite aan die veroweraar onderwerp, wou slegs Afrikaners wees, wou getrou bly aan hul taal, kultuur, tradisies en godsdiens, en was bereid om die stryd vir die behoud daarvan aan te knoop. [Sonder enige sweem van onderwerping of berusting, verwoord dit ook my koers in die nuwe Suid-Afrika.] ‘n Tweede koers was dié van mense wat bereid was om hulle aan anglisasie te onderwerp en geestelik heeltemal Brits geword het [die neo-hanskakies]. Die derde koers is gegaan deur mense wat hulle onderwerp het aan omstandighede wat na hul mening nie verander kon word nie. Hulle het die beste van die saak probeer maak en het so min as moontlik ‘n stryd aangeknoop [deesdae die polities korrekte godswater-oor-godsakker-brigade] (266).

    In Johannes van Melle se roman, Bart Nel (1936), word die hoofkarakter ‘n voorbeeld van die Afrikanernasionalis wat alles verloor maar sy siel behou het. “Hulle het nou alles, hulle het my grond, my vrou, my kinders. Maar my het hulle nie. Hulle kan maar kom, hulle kan my maar in die tronk gooi en hulle kan maar my grond vat; hulle kan my maar doodskiet ook, maar my sal hulle nie kry nie … My kry hulle nooit. Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy” (288).

    Naas die term “taalgetrouheid” (256) gebruik Jaap Steyn ook die term “volksgetrouheid” (326). Hy haal NP van Wyk Louw aan (woorde wat my as Afrikaner in my verset teen die ANC inspireer): “dat ons nie kon gebuig word / soos hul geweld dit wou” (320) en “As jy ‘n trotse volk verkneg, / word ópstand teen die reg sy reg” (329). In 1942 skryf Van Wyk Louw oor nasionale Afrikaners: “Nasionaal sal vir my beteken iemand wat Afr[ikaans] in sy huis, in die opvoeding van sy kinders, in sy skryftaal en oral bly” (336). Heelwat later sê hy oor die toekoms van Afrikaans: “Oor wat ons taal sál word, of oor wat ván hom sal word, kan ons … nie praat nie – behalwe met hartstogtelike verlange” (354).

    Volgens die Sauer-kommissie, wat deur die NP aangestel is en in 1947 verslag gedoen het, was “daar net twee rigtings in Suid-Afrika … dié van apartheid en gelykstelling. Laasgenoemde moet lei tot die vernietiging van die wit mense as selfstandige en selfregerende nasie. Gelykstelling sal op die duur vir die wittes nasionale selfmoord en vir die ander groepe vernietiging van hul eie identiteit meebring. Apartheid beskerm en beveilig elke ras se karakter en toekoms binne sy eie gebied en gun aan elke ras in sy eie tuiste volle geleenthede om te ontwikkel; apartheid verseker aan almal ‘die onvervreembare reg van selfhandhawing en selfbeskikking’” (342). Daardie “onvervreembare reg” is sedertdien van die blankes weggeneem en selfs die katastrofiese “gelykstelling” bestaan nie; vir blankes het dit agterstelling geword, insluitende die “agterstelling van Afrikaans” (343, 349). In ‘n 1954-hoofartikel in Die Burger staan: “Suid-Afrika kan alleen Suid-Afrika bly as hy deur alles heen trou bly aan sy taal en die Afrikaanse poësie … en dit as die siel van die volk erken” (352).

    Volgens Hendrik Verwoerd gee taalregte erkenning aan die menswaardigheid van mense. “Wat is meer verbonde met die waardigheid van ‘n mens as dat hy sy moedertaal erken kry en ten opsigte daarvan nie verdruk voel nie?” (357). “Taal en nasiewees is nóú met mekaar verbonde. Elke keer wanneer ‘n veroweraar die selfstandigheid van ‘n volk wou wegneem, het hy hom toegelê op die ontneming van die taal van ‘n volk” (357). In 1960 het Verwoerd verklaar dat die regering en leiers “soos mure van graniet moet staan omdat die voortbestaan van die volk op die spel staan” (357). ‘n Skrale drie dekades later was hierdie graniet kwalik spookasem.

    In 1975 is die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl onthul (371). Skaars 15 jaar later is begin om ‘n bedeling te skep waarin Afrikaans drasties aan status sou inboet en 10 ander tale (veral Engels) aan status sou wen. In 1991 was Engels die enigste onderhandelingstaal by Kodesa (385). Voor dit is geredeneer: “Liewer agt swart tuislande as een swart tuisland – die hele Suid-Afrika” (373). In 1969 het Die Beeld in ‘n hoofartikel geskryf dis “‘n ‘alte lekker geloof’ om te verkondig dat skeiding nie so noodsaaklik is vir die sukses van die skeidingsbeleid nie” (373). Terreurveldtogte is deur die ANC/UDF en die PAC gevoer. “Van die veiligheidsmagte is verwag dat hulle steeds streng binne die raamwerk van die wet optree. Vir revolusionêres het dié beperking nie gegeld nie. Die veiligheidsmagte moes dus sien hoe die revolusionêre bewegings na willekeur organiseer en hul teenstanders intimideer of doodmaak” (380). Bevrydingsteoloë het hierdie dubbele standaarde geregtigheid genoem.

    FW de Klerk het, na bewering “sonder bedreiging of verdrukking van die minderheidsgroepe,” in 1990 ‘n “kwantumsprong” of “paradigmaverskuiwing” aangekondig (385). Die voorsitter van die Afrikaner-Broederbond,* Pieter de Lange, het reeds in 1992 beweer dat “magsoorgawe” ‘n “gesuiwerde” staanplek aan wit mense sal gee. “Al sê die politici ook wat, blankes moet aanvaar dat hul magsprysgawe permanent sal wees” (386). “Joe Slovo, leier van die Kommunistiese Party, het gekraai: ‘Hulle het oor alles ingegee!’” (386). Was De Klerk se sprong in landsbelang? Suid-Afrika was in 1975 die 18de grootste ekonomie in die wêreld en die 15de grootste handelsland. Dertig jaar later was hy onderskeidelik 28ste en 37ste (363). [* Die Afrikaner-Broederbond was eintlik ‘n parodie op Hofmeyr se Afrikanerbond.]

    Hennie Aucamp het geskryf: “Wie die siel van ‘n volk of groep wil vernietig, begin by sy taal. Verdiskonteer ‘n man se geestesbesit en hy begin vervreem raak van homself” (387). Nelson Mandela het in sy volle valsheid “verskeie kere versekerings aan Afrikaners gegee dat Afrikaans nie afgeskaal gaan word nie … Afrikaans het niks te vrees in die nuwe Suid-Afrika nie” (388). Maar: “‘n Gevolg van transformasie is ‘n ingrypende inkorting van die funksies van Afrikaans” (390). Daarteenoor word Engels as die “taal van versoening” voorgehou (394). ‘n “Politiek van vergelding” (393) is aan die orde van die dag, gemik teen blankes in die algemeen en veral teen Afrikaners en Afrikaans. Heel gepas word DJ Opperman se woorde aangehaal: “Ons is geroepe om ‘n groot afspraak / met die dood te maak” (393) – tensy ons weerstand bied.

  • Dan Roodt: Anton van Niekerk: agterryer in die stryd vir Engels

    Dan Roodt: Anton van Niekerk: agterryer in die stryd vir Engels

    By die artikel van Anton van Niekerk op Netwerk24 waarin hy vandag Engels op Stellenbosch bepleit, is daar net een fout: Van Niekerk verskyn nie op die foto van Open Stellenbosch se betoging teen Afrikaans (sien hier bo) wat deur die blanke dr. Kylie Thomas van die Engelse departement, omring deur haar swart studente, gelei word nie. Waarom was Van Niekerk nie ook daar nie? Hy is dan nie ‘n voorstander van Engels nie? Of volg hy maar die stroom en is vandag ‘n stoere ondersteuner van ANC- en EFF-beleid téén Afrikaans, nes hy in die verlede ‘n NP-sikofant op Stellenbosch was?

    Soos by alle volkere wat vir lang tye deur vreemdelinge oorheers is, is die tema van verraad besonder bekend onder Afrikaners. Jaap Steyn se postmoderne roman uit die laat sewentigerjare, Dagboek van ‘n verraaier, het skerpsinnige vrae oor lojaliteit teenoor die eie volk en taal gestel, in die lig van ‘n Breyten Breytenbach-agtige figuur wat verraad pleeg en hom by die ANC skaar. Verder terug was daar die joiners en hensoppers van die Tweede Vryheidsoorlog waaroor daar nou nog geskryf word.

    Om soos die ietwat naïewe en dweperig godsdienstige hoofkarakter Anton in Dagboek van ‘n verraaier uiteindelik teen Afrikaners te draai, oorskry ‘n grens wat iewers in die boek só verwoord word:

    “Jy sal baiekeer in jou lewe nie mooi weet wat om te doen nie, jy sal nie altyd weet of is iets reg of verkeerd nie, maar dan sal jy tog op een of ander manier weet: ‘n Afrikaner maak nie so nie.” (bl. 94)

    Wesentlik is daar geen verskil tussen dít wat Van Niekerk in die linkse Netwerk24-media bepleit en die EFF se standpunt wat juis vandag in hul mediaverklaring oor die triomf van Engels by Kovsies verwoord is nie. “Afrikaans must fall.” Dit is die EFF se standpunt en dit is insgelyks Van Niekerk s’n. So pas het die EFF ‘n verklaring uitgereik waarin die aanvaarding van Engels as enigste taal aan die Universiteit van die Vrystaat verwelkom word:

    Nothing marks the step towards transformation at UFS than this decision to abandon Afrikaans as a medium of instruction. This is because within the institutions of higher learning, as well as in many public schools in South Africa, Afrikaans has maintained segregation and racial privileges. As an institutionalised language, it has kept alive white supremacist cultural practices and given license to white right-wing groups to think it is legal and legitimate to be racist.

    We commend all the students whose protests have brought the question of the language policy sharply into the university agenda such that it could not be postponed any more. We further call on universities of Stellenbosch, Pretoria and UNISA to heed to the call that Afrikaans Must Fall as a step towards transformation of the university.

    In addition, all colonial and apartheid statues in our campuses across the country must be removed, including symbols such as names and insignia. Our campuses must be freed from being centres that celebrate colonialists, mass murderers and their associated racist ideas. The insistence to keep Afrikaans as a medium of instruction, along with colonial statues and symbols, is a direct legitimisation of white supremacy and anti-black racism.

    Ek beskou my as ‘n Afrikanerdissident of iemand wat in weerwil van die groteske verwarring, propaganda, etniese konflik en politieke geknoei in ‘n land soos dié nog altyd gepoog het om te dink en te handel volgens daardie vae, verskuiwende lyn wat in bogaande paragraaf van Steyn verwoord word: te midde van die verwarring en propaganda moet ons standpunt inneem en handel, en tog moet ons iewers weet dat daar grense bestaan wat nie mens durf oorskry sonder om jou aan afskuwelike verraad skuldig te maak nie.

    Nou die dag vertel die uitgeweke digteres Annesu de Vos my dat die Afrikanerterroris, Hein Grosskopf, op ‘n stadium in ‘n ANC-opleidingskamp in Zimbabwe beland het waar een van ZANU PF se instrukteurs met smaak vertel het van die wreedhede wat hy en ander teen blankes gepleeg het. Grosskopf het toe blykbaar besef dat sy verraad hom nou in ‘n situasie laat beland het waaruit geen terugkeer meer moontlik was nie. Weier hy om voortaan mee te doen, sou hy self as verraaier deur sy ANC- en ZANU PF-makkers doodgemaak word. Volhard hy op sy ingeslane weg, bevind hy hom uiteindelik in ‘n wêreld van terreur en sinnelose geweld teen burgerlikes, een van die “vryheidsvegters” vir wie wreedheid self die enigste sin van hul opstand teen alle beskaafde norme is. In sy boek Negrologie, noem die Franse joernalis Stephen Smith van die linkse koerant Le Monde, dit “die vryheid van die wolwe” binne die “paradys van wreedheid”.

    ‘Tans sien ons egter hoe die brandende buiteband, met die swart rook wat daaruit opstyg, die simbool van Matiedenke – of gebrek daaraan – geword het.’

    Hein Grosskopf se verraad het tot ‘n bom in Johannesburg gelei. Anton van Niekerk s’n lei tot die ondergang van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch. Net soos Grosskopf in sy opleidingskamp wat nie meer oor die wil of die moed beskik het om “nee” te sê vir die drukgang waarin hy hom bevind het nie, volhard Van Niekerk ewe willoos op sy ingeslane verraaierstrajek. Beide Grosskopf en Van Niekerk beskik oor ‘n intense, anomiese dislojaliteit teenoor die Afrikaner as volk en as gemeenskap waaruit hulle na vore gekom het, en waarin hulle, soos die spreekwoord lui, gebore en getoë is.

    Dog verraad is verleidelik, vermoed ‘n mens. Suid-Afrika is ‘n sadistiese land. Net ‘n paar dae gelede is ‘n Afrikaanse dogtertjie, Kayla Meyer, en haar hele gesin op Randfontein deur vier nihilistiese “vryheidsvegters” uitgewis. Só word wreedheid en die oorheersing van die wolfmens elke dag in ons land gevier. Swakker en dommer tipes soos Van Niekerk voel aangetrokke tot die krag en mag, die primitiewe heerssug wat ‘n Afrikadiktator-in-wording soos Julius Malema uitstraal. Soos Stephen Smith in sy opmerkings oor “die paradys van wreedheid” insgelyks aandui, speel die tropgevoel ‘n groot rol.

    Die trop is Engels, daarom moet hy gevolg word. In sy burokratiese prosa skryf Anton van Niekerk:

    Ek self doseer tans ’n module vir ongeveer 115 derdejaarstudente. Uit herhaalde navrae wat ek reeds tot hierdie studente gerig het, blyk dit dat daar nie een onder hulle is wat Afrikaans as onderrigmedium verkies nie (hoewel daar waarskynlik ’n paar is wat opstelle en eksamens in Afrikaans sal doen).

    Dr. Kylie Thomas, die Boerehater-Engelse-dosent roep haar trop op om Engels by Stellenbosch te laat oorheers. Noem haar dan ‘n Engelse taalstryder, waarvoor ons as Afrikaanse taalstryders seker respek moet hê. Al doen sy dit om imperiale redes of om haarself in haar beroep te bevoordeel, is daar tog – hoe afskuwelik ons sulke Engelse ook al mag vind – by haar sprake van ‘n wíl. By Van Niekerk is daar geen wil, geen sweem van ‘n keuse te bespeur nie. Hy is die blote agterryer van Kylie Thomas en die Open Stellenbosch-gepeupel wat sy vanuit haar kantoor in die Engelse departement opgetower het, soos die dorpie Combray uit Proust se koppie tee te voorskyn kom as die madeleinekoekie daarin gedoop word.

    Is dit nie ironies dat iemand soos Van Niekerk ‘n dosent in die wysbegeerte is nie? Kan jy nou meer! Hy het nog nie eens daardie gewilde werke van Sartre en Camus wat ons geslag as tieners verslind het en waarin die problematiek van keusevryheid so intens aan bod kom, gelees nie. Of indien hy dit gelees het, het hy dit met sy uiters middelmatige intellek nie begryp nie. Of as hy dit begryp het, beskik hy nie oor die morele moed om dit ter harte te neem nie. Hy is bloot ‘n willose hensopper, ‘n joiner, ‘n agterryer vir ‘n polities korrekte Engelse vrou.

    Kierkegaard, die Deense filosoof wat juis in Deens geskryf het – daardie klein ou Skandinawiese taaltjie, wat seker vir tropmense onbenullig moet wees, net so onbenullig soos Afrikaans – behandel iewers die problematiek van “nie te kies nie” as juis óók ‘n keuse. Van Niekerk, die slaprugslungel, die willose, die volger, die na-aper van ‘n middeljarige Engelse dame in jeans en tekkies – ai, die smaakloosheid van Engelse vrouens! – is soos Kierkegaard se bootsman op die rivier wat moet kies maar net die stroom volg, dieselfde stroom wat hom oor die afgrond gaan voer.

    Noem my dan ‘n Deen, of ‘n Afrikaner, wat onder Afro-Saksiese heerskappy deesdae ‘n vloekwoord geword het, maar ek kies juis vír Afrikaans. Na my ervaring voel jong Afrikaners deesdae ewe patrioties en lief vir Afrikaans as vorige geslagte. My dogter, wat in ‘n Engelse Johannesburg voor YouTube grootgeword het en dolgraag ‘n tyd lank in Seoel, Suid-Korea wil gaan woon om ‘n “stedelike ervaring” te hê, verbaas my nou die dag toe sy met ‘n Voortrekkerkappie huis toe kom wat sy iewers in ‘n tweedehandse winkel in Pretoria raakgeloop het. Ook het sy opgelees oor die stylvolle kleredrag van die Voortrekkers op Sondae, hul mansmodes, en dergelike meer. Ons kinders word groot in ‘n globale wêreld, maar steeds met ‘n waardering vir ons geskiedenis, asook ‘n sterk hunkering na Afrikanerskap, Afrikaans en ‘n eie identiteit. Hulle vrees bloot die beskuldigende geweld van die marxistiese wolwe wat van die universiteite hul skuilplek gemaak het. Vandaar dus hul versigtigheid om hoegenaamd ‘n voorkeur vir hul taal uit te spreek.

    Indien daar vyf dosente aan die Universiteit van Stellenbosch was wat – ‘n mens weet nie hoe om dit te stel nie – oor ‘n paar nanogram testosteroon beskik het, was dit sonder twyfel heel anders. En sou studente nie gehuiwer het om ombeskaamd in Afrikaans klas te loop, eksamens af te lê of proefskrifte te skryf nie.

    Helaas, daar heers bloot onderdanigheid aan die nuwe orde, aan Malema se taalbeleid wat die rooihempiebrigade met ‘n brandende buiteband op ons afdwing.

    Sekerlik is Anton van Niekerk, soos al die verloopte Broederbond-Afrikaners – nee, die hele FW de Klerk-geslag met hul ellendige verraaiersmanie – ‘n bewonderaar van Winnie Mandela. Mevrou Mandela, soos Die Burger seker sou skryf. Sy het mos gepraat van die land “wat met vuurhoutjies en buitebande bevry moet word”. Tans sien ons egter hoe die brandende buiteband, met die swart rook wat daaruit opstyg, die simbool van Matiedenke – of gebrek daaraan – geword het.

    Dit herinner my aan ‘n frase van die ontslape Franse – en ja, ek weet Piet Kopdoek en die res van die universitêre agente meen dat Frankryk ewe onbenullig as Denemarke of selfs die reste van ons Afrikanerdom is – postmodernis, Jean Baudrillard.

    In een van sy essays oor die VSA verwys Baudrillard na iemand wat ‘n slang as troeteldier aanhou en die ooreenkoms tussen die baas en die reptiel se breine. Hy gebruik die sinsnede: “die innerlike nag van sy brein”.

    Van Niekerk, wat so bedwelm is deur die stink rubberreuk vanuit die EFF-betogers se brandende buitebande, asook die intellektuele erfenis van mevrou Mandela en die hele Afrikaans must fall-beweging… Hoewel om dit ‘n “beweging” te noem, laat dit klink asof ons met iets soos impressionisme of die Duitse Romantiek te make het, wat heeltemal te eurosentries is. Veel eerder dan: Van Niekerk wat so deur die Raka-agtige Afrikaans must fall-instinkte oorweldig word, openbaar deur sy anglomanie bloot die innerlike nag van sy brein.

    Hy is net iemand, hetsy Kylie Thomas, hetsy Julius Malema, se troetelslang. Met al die verraderlikheid en lis wat deur die slangmetafoor gesuggereer word.

  • Dan Roodt: Afrikaans word 90 in ‘n krisisjaar


    Dit is lekker om vandag Afrikaans se negentigste verjaardag as amptelike taal te vier. Dit sou egter 'n fout wees om te dink ons kan op ons louere rus, want die jaar 2015 gaan in die annale as 'n swart jaar vir Afrikaans verewig word. Hoewel Afrikaners oor die algemeen neerhalend na die Britse Ryk en die Engelse onderdrukking van Afrikaans in die verlede verwys, moet ons onthou dat die amptelike status van Afrikaans op 8 Mei 1925 in die Unie-parlement eenparig aanvaar is! In sy toespraak op dié dag het die latere eerste minister, dr. D.F. Malan die Britse adellikes, asook die Britse goewerneur-generaal bedank vir die erkenning wat hulle aan Afrikaans verleen het. Trouens, vir baie jare was Afrikaans, naas Frans, een van die weinige nie-Engelse amptelike tale van die Britse Statebond. roodt_fbfotoEintlik was die taalstryd in die 1920's betreklik maklik. Waar Afrikaanse ouers 'n Afrikaanse skool vir hul kinders verkies het, het die onderwysdepartement dit geredelik toegestaan en is sulke skole met staatsfondse opgerig. Vandag sal die ANC-bewind kwalik ons belastings aan ons bestee in die vorm van 'n Afrikaanse skool. Onlangs het Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys in Gauteng, die provinsie waarin die meeste Afrikaners woon, 'n ondersoek na die oorblywende Afrikaanse enkelmediumskole gelas met die doel om hulle sogenaam te "transformeer" en te verengels. Hy het aangekondig dat "Afrikaans nie bo ander tale verhewe is nie", 'n absurde stelling aangesien die ANC-bewind tot dusver baie seker gemaak het dat Engels bo Afrikaans en elke ander taal verhef en bevoordeel word. Jaap Steyn haal in sy boek Tuiste in eie taal ene MJ Posthumus aan wat in 1956 nog die volgende kon sê:

    "Ek glo nie ons generasie is in staat om die ontwikkeling van Afrikaans in die afgelope dertig jaar in sy volle omgang te skat nie. Dit het alles so sonder basuingeskal plaasgevind, maar die uitwerking en gevolge is nou al beslissend vir die toekoms." (Steyn, bl. 211)
    Onlangs het ons egter gesien hoe die ontwikkeling omgekeer word en as't ware amper 'n sterfproses word, veral wat die universiteite betref. Die laaste twee oorblywende Afrikaanse kampusse, Stellenbosch en Potchefstroom, word tans gedreig en afgepers om Engels te raak. Tydens die onlangse inhuldiging van die rektor van die US, prof. Wim de Villiers, is daar deur 'n anti-Afrikaanse betoging gehou met die naam "Open Stellenboch". Wat daarmee bedoel word, is 'n Stellenbosch wat vir Engels "oop" is, maar vir Afrikaans geslote. Op die kampus van Tukkies is die naam van die weeklikse studentekoerant, Die Perdeby, al Afrikaanse woord of sinsnede wat ooit nog daarin verskyn. Die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit is al werklik Afrikaanse kampus wat daar in die land oor is, maar danksy die verbete veldtog wat Adriaan Basson van die Beeld-koerant daarteen gevoer het, is die dae van Potch as 'n laaste vesting van Afrikaanse hoër onderwys waarskynlik getel. Beeld se onsinnige berigte oor 'n "Nazi-saluut" deur eerstejaarmeisies op dié kampus het die aandag van die kommunistiese minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, getrek en daarom is sy lakei, Dan Kgwadi, as rektor van die NWU aangestel. Net vandeesweek het Kgwadi 'n toespraak in Engels voor studente gehou waarin hy hulle vertel het dat hy die "handelsmerk" van hul kampus gaan verander en dat daar 'n "balans tussen toegang en taal" op die kampus sal wees. Dat daardie "balans" baie vinnig na Engels gaan oorhel, is 'n uitgemaakte saak. Van die swart studente wat Engels verkies, het die tolkdiens op die kampus wat volgens internasionale norme toegepas word as 'n "simbool van die swartman se verdrukking" verwerp. Trouens, indien die afgelope twintig jaar twee swart dekades vir Afrikaans was, was vandeesweek 'n swart week vir die taal. Op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat het die bruin rektor, Jonathan Jansen, wat homself as 'n "Engelse swartman" definieer, aangekondig dat Afrikaans heeltemal as onderrigtaal by dié plattelandse universiteit afgeskaf behoort te word. Sedert die sewentigerjare is die klimaat in Suid-Afrika deur linkses soos Adriaan Basson, Max du Preez en hul Engelse marionetmeesters vergiftig om 'n Afrikaansvyandigheid te skep wat tans uiters negatief op die taal inwerk. Ook is Afrikaners self deur die media gebreinspoel om 'n ondergeskikte status in die land te aanvaar, 'n status wat veral hul taal en kultuur raak. Ons is gekondisioneer om tevrede te wees met die krummels wat van die Engelse tafel afval. Ons belastings en opgeleide mense word gebruik om die Anglo-Amerikaanse kultuur te bevorder. Só pleeg ons selfmoord: taalkundig, kultureel, ekonomies en polities. 'n Onverkwiklike neiging wat kop uitgesteek het, is iets wat die digter Breyten Breytenbach jare gelede reeds raakgesien het: dat bruines om polities korrekte redes as "hekwagters" by die Afrikaanse kultuur aangestel word. Nie net is Afrikaansvyandige rektore soos Russel Botman en Jonathan Jansen by Afrikaanse universiteite benoem nie, maar elders in die media en by organisasies is sulke "regstellende bruines" ver bokant hul vlak van opleiding en bekwaamheid aangewys om vanuit magsposisies honende aanvalle op Afrikaners en Standaardafrikaans te loods. Om hulle terwille te wees, is 'n nuwe "kreoolsteorie van Afrikaans" deur 'n paar konformistiese taalkundiges geformuleer waardeur Afrikaners as't ware uit die hele taalgeskiedenis "uitgeskryf" word, nes ons uit die land se geskiedenis geweer is. Terwyl Afrikaans dus deur die owerheid of deur rektore onderdruk word, word daar in dieselfde asem die cliché soos 'n resitasie opgesê dat "Afrikaans aan almal behoort". Dus het "almal" seker die reg om dit af te skaf ook. Die enigste ligpunt in hierdie droewige toestand vir Afrikaans, is die oplewing in 'n populêre Afrikaanse kultuur, waaronder gewilde liedjies en films. Terwyl die media gereeld vir Steve Hofmeyr aanval en verguis, koop die volk sy en ander se musiek of konsertkaartjies. Dikwels is die gehalte van Afrikaanse popkultuur egter twyfelagtig en stadigaan dring al hoe meer Engelse woorde en gesegdes dit ook binne. Die Afrikaanse letterkunde is so te sê morsdood en al wat oorbly, is 'n Kaapse kliek met vriende wat by die Naspersuitgewerye werk wat mekaar se boeke uitgee en wedersyds ophemel. Baie min Afrikaners lees nog Afrikaanse literêre werke en sulke boeke het meesal niks met hulle te make nie, maar verwoord die benepe en narcistiese wêreldjie van een of ander Kaapse pseudo-intellektueel. Sulke selfvoldane "Afrikaanse skrywers" het gewoonlik self nog net 'n paar polities korrekte Engelse boeke gelees en vermoed verder niks van die klassieke Westerse letterkunde of denke nie. Die Europese literêre debat gaan heeltemal by hulle verby, asook die politieke en kulturele strominge in hul eie taal, Afrikaans, wat grotendeels aanlyn geskied vanweë die sensuur wat die enigste oorblywende Afrikaanse mediahuis, Naspers, op ons almal toepas. Saam met Cicero wil 'n mens uitroep: "O, die tye! O, die sedes!" Afrikaans is egter 'n taal wat in stryd gebore is en daarom al strydende sal voortleef, al word dit ook hóé deur die owerheid en die omringende Anglo-Amerikaanse wêreldkultuur onderdruk. Vandag is Afrikaans slegs nog in naam 'n amptelike taal en het hy die status van 1925 stelselmatig sedert 1994 ingeboet. Die Afrikaanse skryfster, aktivis en joernalis, M.E.R. het van haar "strafbare moedertaal" gepraat. Nie net Afrikaners nie, maar ook Afrikaans, word tans vir "apartheid" gestraf, 'n begrip wat toenemend alle Westerse invloed in die land en selfs die koms van Jan van Riebeeck na die Kaap in 1652, insluit. Uit die strafkamp wat Suid-Afrika geword het, smag ons vandag na 'n oomblik iewers in die toekoms wanneer ons weer vrylik ons eie taal sal kan praat en skryf, sonder om ons spyt daaroor uit te spreek.

  • Akademie kondig Hertzog- en ander pryse aan

    Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het so pas die Hertzogprys vir drama, wat aan Tertius Kapp toegeken word, asook ‘n hele rits ander pryse vir 2015 aangekondig.

    Die pryse sal na keuse van die bekroondes tydens bekroningsplegtighede, onderskeidelik op Stellenbosch (24 Junie) en Pretoria (2 Oktober) oorhandig word.

    ERELIDMAATSKAP VAN DIE SA AKADEMIE

    Erelidmaatskap is toegeken aan prof. Jaap C. Steyn, verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.

    Erkenning word aan prof. Steyn gegee vir sy kulturele en akademiese bydraes deur die jare, nie alleen in Suid-Afrika nie, maar ook in Vlaandere en Nederland. Ook vir die veelsydigheid, die gehalte van sy bydraes tot onder meer die Afrikaanse letterkunde, taalwetenskap, taalsosiologie, joernalistiek, geskiedenis en kultuurgeskiedenis.

    2. HERTZOGPRYS VIR DRAMA
    Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en heet na die groot kampvegter vir Afrikaans, genl. J.B.M. Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa in dié volgorde. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie.

    Die Hertzogprys word vanjaar toegeken aan Tertius Kapp vir sy twee dramas Rooiland en Oorsee.

    Die prys word geborg deur Rapport en ‘n 18 kt goue medalje.

    3. EUGèNE MARAISPRYS
    Die prys word toegeken vir ‘n eerste of vroeë letterkundige werk en kan net een keer aan ‘n persoon toegeken word.

    Die prys word toegeken aan Nicola Hanekom vir haar drama Die pad byster.

    Die prysgeld word gedeeltelik geborg deur Rapport.

    4. TIENIE HOLLOWAYMEDALJE VIR KLEUTERLITERATUUR
    Die medalje is driejaarliks beskikbaar en word toegeken aan die skrywer wat die beste werk van ‘n bevredigende gehalte in Afrikaans gelewer het in die genre van kleuterliteratuur.

    Die prys word toegeken aan Ingrid Mennen vir Ben en die Walvisse.

    Die prysgeld word gedeeltelik geborg deur die ATKV.

    5. ELSABE STEENBERGPRYS VIR VERTAALDE KINDER- EN JEUGLITERATUUR IN AFRIKAANS
    Dit is vir die doel van die prys geoorloof om uit enige taal werke in Afrikaans te vertaal. Hierdie werke word gemik op lesers in die ouderdomsgroep 5 tot 12 jaar (kinderliteratuur) en tieners en jong volwassenes (jeugliteratuur). By die beoordeling van die vertaling word gelet op die aansien wat die vertaalde werk binne sy eie letterkunde geniet en op die juistheid, oorspronklikheid en gehalte van die vertaling.

    Die prys word toegeken aan Kobus Geldenhuys vir Hoe om Drakonees te praat.

    Die prysgeld word geborg deur die PUK-Kanselierstrust van die Noordwes-Universiteit.

    6. M.T. STEYNPRYS VIR NATUURWETENSKAPLIKE EN TEGNOLOGIESE PRESTASIE
    Die prys word toegeken aan ‘n kandidaat vir sy skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van ‘n vertakking(s) van die natuurwetenskap of die tegnologie. Dit moet as ‘n wesenlike en belangrike bydrae tot die bevordering van die natuurwetenskap of die tegnologie beskou word, en moet suksesvol toegepas word in landsbelang. Die prys word beskou as die kroon op ‘n lewenstaak en kan daarom slegs een maal aan ‘n persoon toegeken word.

    Die prys word vanjaar toegeken aan prof. J.N. (Kobus) Eloff, verbonde aan die Departement Parakliniese Wetenskappe, Universiteit van Pretoria.

    Die prysgeld word geborg deur Sanlam.

    7. HAVENGAPRYS VIR LEWENSWETENSKAPPE
    Die Havengaprys is ‘n jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegnologiese gebied. Die prys kan net een maal aan ‘n persoon toegeken word.

    Die prys word toegeken aan prof. L.M.T. (Leon) Dicks, verbonde aan die Departement Mikrobiologie, Universiteit van Stellenbosch.

    Prof. Dicks het sy navorsing gewy aan die antimikrobiese peptiede en probiotiese eienskappe van nuut beskryfde melksuurbakterieë. Hy het reeds 15 nuwe spesies van melksuurbakterieë en 12 nuwe bakteriosiene beskryf. Hy was die eerste Suid-Afrikaner om te help skryf aan hoofstukke (agt in totaal) vir Bergey’s Manual of Systematic Bacteriology, ‘n handleiding oor die taksonomie van bakterieë. Sy groep was ook die eerste om antimikrobiese peptiede van melksuurbakterieë in nanovesels te inkorporeer en hulle het ‘n nanoveselwondbedekking ontwikkel met antimikrobiese eienskappe. Die probiotikum, entiroTM wat hy vir ‘n toonaangewende internasionale farmaseutiese maatskappy ontwikkel het, is reeds in 65 lande gepatenteer en het in Januarie 2013 op die Suid-Afrikaanse mark verskyn. ‘n Koubare vorm van entiroTM vir kinders is in Julie 2014 bekendgestel.

    8. HAVENGAPRYS VIR FISIESE WETENSKAPPE (CHEMIE)
    Die prys word toegeken aan prof. J.P. (Jacques) Petzer, verbonde aan die Departement Farmaseutiese Chemie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.

    Prof. Petzer het ‘n groot bydrae gemaak op die gebied van farmaseutiese chemie. Sy werk word grootliks gefokus op die ontdekking en ontwerp van nuwe geneesmiddels vir die behandeling van neurodegeneratiewe siektes, met spesiale klem op Parkinson se siekte.

    9. STALSPRYS VIR MULTI- EN INTERDISSIPLINÊRE SPANWERK
    Die Stalsprys word toegeken vir ‘n hoogstaande publikasie of ‘n reeks van hoogstaande publikasies by voorkeur in Afrikaans, asook vir indiwiduele of gesamentlike produkte van hoogstaande gehalte waardeur buitengewone bydraes tot die wetenskapsbeoefening gemaak word.

    Die prys word toegeken aan prof. G.B. (Gerhard) van Huyssteen, verbonde aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.

    Prof. Van Huyssteen het aansienlike interdissiplinêre navorsing en publikasies saam met rekenaarwetenskaplikes, rekenaarlinguiste, rekenaaringenieurs en tegnologie-ontwikkelaars onderneem, uitgevoer en geproduseer. Ofskoon die werk tot die voordeel van die vakgebied rekenaarlinguistiek strek, het dit ook die teenwoordigheid van Afrikaans op die web, en die ontwikkeling van digitale produkte vir die toetsing van Afrikaanse spelling en grammatika bevoordeel. Die werk waarby hy betrokke was en is, getuig van uitnemendheid. As voorbeeld word verwys na die Afrikaanse speltoetser vir Microsoft Office, wat beskryf word as waarskynlik die bekendste en mees gebruikersvriendelike speltoetser op die mark.

    10. STALSPRYS VIR KOMMUNIKASIEKUNDE EN JOERNALISTIEK

    Die prys word toegeken aan prof. Lizette Rabe, tans hoogleraar, Departement Joernalistiek, Universiteit van Stellenbosch.

    Prof. Rabe het haar onderskei as gesiene akademikus in ‘n vakgebied waar praktiese ervaring, gekoppel aan grondige akademiese kennis, ‘n voorvereiste is. Haar loopbaan getuig van ‘n benadering om alle geleenthede te benut om joernalistiek as vakgebied te bevorder en uit te bou. Haar insig in die snelveranderende omgewing van elektroniese kommunikasiemiddele stel haar in staat om joernalistieke aanwending in die nuwe medium akademies te ontleed en toekomstige joernaliste daarvoor te skool.

    11. STALSPRYS VIR SIELKUNDE

    Die prys word toegeken aan prof. Leslie P. Swartz, verbonde aan die Departement Sielkunde, Universiteit van Stellenbosch.

    Prof. Swartz was hoofrolspeler in die totstandkoming van die Sentrum vir Openbare Geestesgesondheid, in samewerking met die Universiteit van Kaapstad. Prof. Swartz dien as inspirerende voorbeeld van ‘n sielkundige en akademikus in die uitlewing van sy passie na vernuwing op die terrein van die sielkunde en die verwerwing van kennis wat hy deur woord en daad uitleef.

    12. HUBERTE RUPERTPRYS VIR KLASSIEKE MUSIEK
    Die veld van toekenning dek die klassieke musiek.

    Die prys word toegeken aan mnr. John Roos van Pretoria.

    Mnr. Roos was tot met sy onlangse uittrede direkteur van die Unisa Musiekstigting, verantwoordelik vir die organisasie van die nuutgestigte Unisa Internasionale Musiekkompetisies. Sy werk het ook ingesluit die aanbieding van die jaarlikse konsertreekse deur buitelandse en Suid-Afrikaanse ensembles en soliste, asook opvoedkundige gemeenskapsprojekte in Gauteng.

    Die prysgeld word deur die Rupert Stigting geborg.

    13. DELEEN BEKKERPRYS VIR DIE BESTE ROLPRENTDRAAIBOEK IN AFRIKAANS

    Die prys word toegeken aan mnr. Chris Barnard vir sy rolprentdraaiboek Die Wonderwerker.

    Die draaiboek is in suiwer en ryk Afrikaans geskryf en lewer bewys dat die skrywer, Chris Barnard, weens sy wye ervaring van draaiboekskryf by uitstek bevoeg is om ‘n draaiboek van hierdie aard te skryf. Sy idiomatiese gebruik van die taal, met verbeeldingryke visuele beskrywings, rolprentmatige en vloeiende dialoog, staan uit.

    Die prysgeld en ‘n 9kt goue medalje word vanjaar vir die tweede keer toegeken.

    14. MARKUS VILJOENMEDALJE VIR JOERNALISTIEKE PRESTASIE
    Die Markus Viljoenmedalje vir joernalistieke prestasie word toegeken vir langdurige hoogstaande werk in die Afrikaanse joernalistiek, hetsy in koerante of tydskrifte.

    Die prys word toegeken aan mnr. Ton Vosloo, voorheen uitvoerende voorsitter van Naspers.

    Mnr. Vosloo kan beskryf word as ‘n veelsydige en talentvolle mens wat hom deur harde werk en toewyding op verskeie terreine onderskei het. As joernalis en sakeleier het hy Suid-Afrika se mediawêreld ingrypend verander. As voorsitter van Naspers – uitvoerend en nie-uitvoerend – en as stigter-voorsitter van die M-maatskappye, het hy uitgestyg tot ‘n invloedryke figuur in die Suid-Afrikaanse en internasionale mediawese en sakewêreld.

    15. C.J. LANGENHOVENPRYS VIR TAALWETENSKAP
    Die prys word toegeken vir taalwetenskaplike en/of taalskeppende werk in Afrikaans, met inbegrip van leksikografie.

    Die prys word vanjaar toegeken aan mnr. J. d.T. (Tom) McLachlan vir sy bydrae tot die Afrikaanse taalpraktyk, asook vir die waarde wat hy toegevoeg het as Taalkommissielid, en as ondervoorsitter en voorsitter van die Taalkommissie.

    16. C.L. ENGELBRECHTPRYS VIR TAALKUNDE
    Die prys word toegeken vir wetenskaplike navorsing oor die Afrikaanse taal of letterkunde.

    Die prys word vanjaar toegeken vir die publikasie: ‘n Veelkantiger Afrikaans: streeksvariëteite in die standaardvorming. Die redakteur is prof. Kwesi Kwaa Prah.

    Die publikasie is een van die min boeke waarin daar wetenskaplike bydraes oor die streekvariëteite van Afrikaans vanuit verkillende perspektiewe vervat is.

    17. FARMOVS-PRYS VIR FARMAKOLOGIE EN GENEESMIDDELONTWIKKELING
    Die prys word toegeken vir voortreflike bydraes tot ‘n vertakking of vertakkings van farmakologie en geneesmiddelontwikkeling.

    Die prys word vanjaar toegeken aan prof. G.E. (Gerry) Swan van die Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria.

    Prof. Swan is welbekend as Farmakoloog by die Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria, Onderstepoort. Prof. Swan het ‘n lang loopbaan in die opleiding van veeartse en farmakologie as spesialisgebied. Sy bydraes behels nie net die opleiding van die groter meerderheid van al die veeartse in Suid-Afrika nie, maar ook die spesialisering van veeartse op die terrein van farmakologie op meesters- en doktoralevlak. Prof. Swan het sedert sy aanstelling by die Universiteit van Pretoria nie net as farmakoloog ontwikkel met besondere bydraes in opleiding en navorsing nie, maar ook ‘n leier geword op die gebied veeartsenykunde in die algemeen.

    18. CHRISTO WIESEMEDALJE VIR ‘N OPKOMENDE ENTREPRENEUR
    Die medalje word toegeken aan jong sakelui (45 jaar en jonger) wat sukses behaal het. Persone wat die medalje ontvang, moes ondernemerskap, visie en volharding aan die dag gelê het as private ondernemers in: (1) die vestiging/opbou van ‘n plaaslike onderneming(s); (2) die ontwikkeling/bemarking van ‘n produk of produkte en (3) die skepping van werkgeleenthede en welvaart.

    Die prys word vanjaar toegeken aan mnr. Piet Mouton, uitvoerende hoof van die PSG-Groep.

    Mnr. Mouton se dienstydperk as uitvoerende hoof van die PSG-Groep word veral deur twee uitstaande suksesse gekenmerk: Ten eerste die suksesvolle notering van PSG Konsult, ‘n maatskappy wat binne die PSG-Groep ontwikkel en uitgebou is. Deur hierdie suksesvolle notering op die Johannesburgse Effektebeurs het mnr. Mouton nie net daarin geslaag om vir bestaande beleggers waarde te ontsluit nie, maar ook om ‘n beleggingsgeleentheid vir voornemende beleggers te skep. Ten tweede die PSG-Groep se strategiese belang in Curro Holdings. Hierdie strategiese belang is tydens mnr. Mouton se dienstydperk uitgebou en Curro Holdings is ook tydens sy dienstydperk op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer.

    19. EREPENNING VIR VISUELE KUNSTE
    Die Erepenning vir Visuele Kunste (installasiekuns) word toegeken aan mnr. Wim Botha.

    Wim Botha is een van Suid-Afrika se mees prominente kunstenaars wat bekend geword het vir sy beelde of installasies wat uit ongewone materiaal, soos saamgeperste Bybeltekste, polisieverslae of mieliepap gekerf is. Dit het hom aanvanklik in omstredenheid gedompel, maar tegelyk het hy ook deur die gebruik van hierdie alledaagse materiaal aan gevestigde tradisies nuwe betekenis gegee. Sy werk is ingesluit in belangrike internasionale groepuitstallings van Afrika- en Suid-Afrikaanse kunstenaars en sluit lande in soos Dakar, Duitsland, Swede en Nederland.

    20. EREPENNING VIR RADIOHOORBEELDE IN AFRIKAANS
    Die Erepenning vir Radiohoorbeelde kan drie-jaarliks toegeken word. Werke wat uitgesaai is deur alle uitsaainetwerke in die drie kalenderjare wat die bekroningsjaar voorafgegaan het, kom in aanmerking.

    Die Erepenning word vanjaar toegeken aan mnr. Johan Rademan vir !Kwha Ttu.

    Die hoorbeeld handel oor die opleiding- en kultuursentrum sowat 70 kilometer van Kaapstad. By !Kwha Ttu word die herkoms van die San-groepe mense nie alleen bewaar en bestudeer nie, dit word lewendig gehou deur jongmense op te lei om die gebruike en tale van die San uit en oor te dra.
    21. BESONDERE EREPENNING VAN DIE SA AKADEMIE
    ‘n Besondere Erepenning word toegeken aan prof. Johan de Villiers en die Libertaskoor.

    Prof. De Villiers is stigter van die Libertaskoor en sedert 1989 die koor se dirigent. Sy besielende leiding, unieke karaktereienskappe en buitengewone bekwaamhede op die terreine van koorafrigting en die uitvoering van koormusiek geniet wêreldwye erkenning en aansien.

    Die Libertaskoor leef al die afgelope 25 jaar sy missie uit en toon harmonie in kultuurdiversiteit op ‘n konkrete, dog luisterryke manier.

    22. BESONDERE EREPENNING VAN DIE SA AKADEMIE
    ‘n Besondere Erepenning word toegeken aan mnr. Boet Troskie van Bloemfontein.

    Mnr. Troskie is een van die handjievol Suid-Afrikaners wat op eie houtjie internasionale ekonomiese sukses kon bereik. Sy Mimosa Films het hy bykans eiehandig gebou en uitgebou. Sy lewensverhaal is waardegedrewe en hy stel self prys op kwaliteit: eerder een goeie film as drie middelmatiges. Mnr. Troskie speel ook al hoe meer die rol van filantropiese entrepreneur, byvoorbeeld sy betrokkenheid by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie in Bloemfontein wat daarby baat.

    23. EREPENNING VAN DIE SA AKADEMIE SE FAKULTEIT NATUURWETENSKAP EN TEGNOLOGIE
    Die Erepenning word toegeken vir prestasies en bydraes ten opsigte van die bevordering en ontwikkeling van ‘n besondere vakgebied in die natuurwetenskappe.

    Die prys word toegeken aan proff. J.G. van As, L.R. Brown, N.J. Smit en P.J. du Preez vir hulle boek Die verhaal van lewe en die omgewing: ‘n Afrika-perspektief.

    Die outeurs is gevestigde navorsers in die natuur- en/of lewenswetenskappe wat waardevolle insette lewer op toeganklike, dog wetenskaplike wyse. Die publikasie dra voorheen moeilik verstaanbare begrippe aan die gewone leser op interessante wyse oor.

    24. PROTEA BOEKHUISPRYS VIR DIE BESTE GESKIEDENISPROEFSKRIF IN AFRIKAANS
    Die prys word toegeken aan dr. S.M. (Marianna) Botes, verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat. Die titel van haar proefskrif: Bloemfontein gedurende die bewind van president F.W. Reitz, 1889-1895.

    Die prysgeld word geborg deur Protea Boekhuis.

    25. JUNIOR KAPTEIN SCOTT-GEDENKMEDALJE (Plantkundige Wetenskappe)
    Die medalje kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling wat by ‘n Suid-Afrikaanse universiteit vir die M.Sc.-graad ingedien is (om die beurt in die dierkundige of plantkundige wetenskappe).

    Die medalje word toegeken aan me. Ansori du Plessis-Maré, verbonde aan die Departement Plantkunde, Universiteit van die Vrystaat. Die titel van haar verhandeling is Molecular and biochemical characterisation of rust and Fusarium head blight resistant wheat lines.

    26. DOUW GREEFF-PRYS VIR BESTE ARTIKEL IN DIE SUID-AFRIKAANSE TYDSKRIF VIR NATUURWETENSKAP EN TEGNOLOGIE
    Die prys word toegeken vir ‘n navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gedurende die jaar wat die prys voorafgaan, gepubliseer is.

    Die prys word toegeken aan prof. J.L. Roos vir sy artikel Nuwe bevindings oor die genetiese argitektuur van skisofrenie: Die bydrae van studies onder Afrikaners wat verskyn het in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, volume 33(1), 2014.

    27. ESTHER GREEFF-PRYS VIR BESTE ARTIKEL IN DIE TYDSKRIF VIR GEESTESWETENSKAPPE
    Die prys word vir ‘n navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe gepubliseer is, toegeken.

    Die prys word vanjaar toegeken aan prof. C.S. (Fanie) de Beer vir drie artikels wat in die tydskrif verskyn het:

    Die Polemologie vir die gees, jg. 52(1), Maart 2012 in die spesiale uitgawe: “Besinning oor die geesteswetenskappe en menslike geestelikheid”;
    Geesteswetenskappe: vry of verkneg?, jg. 52(4), Desember 2012, in die spesiale afdeling: “Besinning oor die geesteswetenskappe en menslike geestelikheid”;
    Wat het intussen van gees geword? Enkele oefeninge in die onmoontlike, jg. 53(4), Desember 2013, in die afdeling: “Verdere besinning oor gees, geestelikheid en die geestelike”.

    Die prysgeld word geborg deur prof. O.B.W. Greeff.

  • Besinning oor Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite

    Blade Nzimande, die kommunistiese minister van hoër onderwys, het onlangs gesê: “Ek wil beklemtoon dat ons nie langer Afrikaanse … universiteite het nie” (Die Burger, 23 Julie, p 2). Dit is in ooreenstemming met die vermetele voorskrifte vir “sosiale inklusiwiteit” wat Nzimande pas ter intimidering van universiteite uitgereik het (Die Burger, 22 deser, p 2). Na aanleiding van eersgenoemde uitspraak het Hans du Plessis, skrywer en voorheen Afrikaans-dosent op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit, ‘n artikel geskryf wat in Beeld (24 Julie) en Die Burger (26 Julie, p 15) gepubliseer is. Ek gebruik laasgenoemde teks.

    Volgens Du Plessis is daar drie argumente wat deesdae teen die voortbestaan van ‘n Afrikaanse universiteit gebruik word: “Dit is te wit; dit is uitsluitend; en wat dan van die ander inheemse tale? Die eerste is die rasgedrewe argument dat Afrikaans aan wit en aan Afrikaner gelyk is … Iemand wat nou nog die argument teen Afrikaans vereng tot Afrikaans as die wit gevaar, het oor die afgelope 40 jaar seker nie ‘n enkele wetenskaplike artikel oor die ontstaan van Afrikaans gelees nie … Dink maar aan Piet Muller se studie uit die 1960’s oor Arabiese Afrikaans, Achmat Davids se navorsing oor Slawe-Afrikaans. Verder is daar die teorie van Christo van Rensburg uit die vroeë 1980’s dat Afrikaans uit drie aanleerders-variëteite ontstaan het.”

    Dit sou myns insiens hoogs misleidend en sekerlik foutief wees om te beweer dat Afrikaans uitsluitlik uit aanleerders-variëteite, dus danksy nie-wittes, ontstaan het. Die oorheersende hoofkomponent waaruit Afrikaans ontstaan het, is Nederlands. Wium van Zyl het dit pas soos volg geformuleer: “Die snelle ontwikkeling van Afrikaans was immers moontlik slegs omdat dit in wese die standaardisering van ‘n variant van ‘n reeds deeglik gevestigde taal [Nederlands] was” (LitNet, Boeke en Skrywers, 14 deser). Afrikaans is dus in mindere mate (of op ‘n ander manier) ‘n Afrika-taal as bv swart tale soos Xhosa en Zoeloe. Dit help ook om te verduidelik waarom Afrikaans met groot sukses as ‘n akademiese taal funksioneer, terwyl Afrika-tale nie só ontwikkel is nie.

    Van die drie outeurs genoem in die voorlaaste paragraaf is Van Rensburg se boek oor die ontstaan van Afrikaans, So kry ons Afrikaans (2012), seker die maklikste toeganklik. Hy onderskei bv Veeboer-Oosgrens-Afrikaans, wat ‘n gesproke en geskrewe taal met ‘n Nederlandse basis was en waaruit Standaardafrikaans ontwikkel is; Khoi-Oosgrens-Afrikaans, wat ‘n gesproke aanleerderstaal was; en Oranjerivier-Afrikaans, wat Griekwa- en Nama-Afrikaans ingesluit het. In die Wes-Kaap onderskei Van Rensburg tussen bv Moslem-Afrikaans, waarin Maleise slawe-invloed te bespeur is, en Kaaps, wat met Engels deurtrek is.

    Polities korrek volg hieruit dat die geskiedenis toon dat Afrikaans nie net danksy blankes ontstaan het nie. Dit is uiteraard ook algemeen bekend dat naas wit sprekers daar deesdae steeds baie nie-wit (veral bruin) sprekers van Afrikaans is. Wat dikwels polities korrek verswyg word, is die erkenning dat dit feitlik net blankes is wat Afrikaans as ‘n geskrewe taal gevestig, gestandaardiseer en ook as ‘n akademies-wetenskaplike taal uitgebou het. Dit is hierdie hoërorde-gebruike wat aan tersiêre opvoedkundige inrigtings, soos universiteite en kolleges, van deurslaggewende belang is. ‘n Ander belangrike faktor is dat blankes geneig is om (meer) lojaal teenoor hulle moedertaal Afrikaans te wees, terwyl dislojaliteit teenoor Afrikaans as moedertaal kenmerkend van nie-wittes, veral ontwikkelde bruines, bv universiteitstudente, is.

    Russel Botman het aanvanklik met die slenter-argument gekom dat hy voorkeur aan bruines as studente en personeel gee ten einde Afrikaans te bevorder. Later het hy erken dat bruines in hierdie konteks Engels verkies. Om te argumenteer dat bruines Afrikaanssprekend is en ‘n universiteit op sodanige etniese en taalkundige grondslag geregverdig kan word, is ‘n futiele argument omdat die praktyk die teendeel bewys. Dit is om hierdie rede dat daar nog nooit druk uitgeoefen is om die Engels-getransformeerde Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) weer ‘n Afrikaanse inrigting te maak nie. Aan die ander kant gaan die argument dat daar blankes is wat Afrikaanse universiteite begeer, mank aan politieke oortuigingskrag weens die ANC se verbete en onverbloemde rassistiese beleid jeens Afrikaners.

    Wat Du Plessis in sy artikel doen, is om polities korrek die assosiasie wat Afrikaans met wittes het sover moontlik af te skaal. Met klaarblyklike verwysing na die nuwe Universiteit Sol Plaatje in Kimberley, wat Engels as onderrigtaal het, skryf Du Plessis: “Daar is byvoorbeeld genoeg akademiese kundigheid onder gebruikers van Afrikaans om in die Noord-Kaap ‘n Afrikaanse universiteit te vestig sonder ‘n enkele wit gesig.” [Dieselfde kan van die nuwe Engelse universiteit in Nelspruit gesê word (Praag 9 Februarie).] Waarom het die Noord-Kaap en Mpumalanga dan elk ‘n Engelse pleks van ‘n Afrikaanse universiteit gekry? Eerstens weens die ANC se vyandigheid teenoor Afrikaans. Tweedens omdat Afrikaanssprekende wittes en Afrikaanse koerante geen (beduidende) druk vir ‘n Afrikaanse universiteit uitgeoefen het nie. Derdens omdat (ontwikkelde) Afrikaanssprekende bruines en swartes om politieke redes nie ‘n veldtog ten behoewe van tersiêre onderrig in Afrikaans sal onderneem nie.

    Vervolgens oorweeg Du Plessis die tweede argument, naamlik dat ‘n Afrikaanse universiteit as ‘n uitsluitingsmeganisme funksioneer. Met die Potchefstroom-kampus in die gedagte skryf hy: “‘n Beleid van funksionele meertaligheid en tolkdienste om toeganklikheid te bewerkstellig, is na my mening ‘n kreatiewe beleid … Uitsluiting op grond van die onderrigmedium kan immers nie net vir Afrikaans geld nie. ‘n Engelse universiteit in die Wes-Kaap [soos die UWK] sluit die meerderheid inwoners van die Wes-Kaap uit.* Dat die ‘meeste mense’ Engels kan verstaan, is ‘n drogredenasie omdat alle syfers daarop dui dat meer as die helfte van die inwoners van Suid-Afrika nóg Engels nóg Afrikaans goed genoeg verstaan om op tersiêre vlak daarin opgelei te word.” [*As ANC-aktivis het Jakes Gerwel die leiding geneem om van die UWK ‘n eentalige Engelse universiteit te maak. Desnieteenstaande word hy, soos Russel Botman, wyd en syd maar valslik as ‘n Afrikaanse taalstryder geloof. By albei het ANC-politiek altyd voorkeur bo Afrikaans geniet.]

    Oor die mite van uitsluiting is Du Plessis op stewige grond. Met verwysing na die samesmelting van bv die Potchefstroomse Universiteit met dié van Bophuthatswana skryf Du Plessis: “Kom ons erken dit nou maar: Die gedwonge samesmelting van hoëronderwysinstellings [deur die wysneus ANC-minister Kader Asmal] het nét Afrikaans beduidend benadeel* en gelei tot uitsluiting van almal wat nie Engels is nie. Toeganklikheid tot gevorderde opleiding is ‘n fundamentele reg, maar Engels in Suid-Afrika as enigste taal van onderrig is vir baie Suid-Afrikaners ‘n fundamentele probleem en nie die oplossing nie.” [*Dit is ook net Afrikaans wat buitensporig benadeel is toe die twee tradisionele ampstale (Afrikaans en Engels) in die nuwe Suid-Afrika deur elf ampstale vervang is. Die ander tien is almal bevoordeel, insluitende Engels wat buitensporig gebaat het.]

    “Die derde argument wat ek nie kan aanvaar nie, is dié dat as daar ‘n universiteit met Afrikaans as ankertaal is, sal die ander inheemse tale dieselfde kan eis. Ek stem volkome daarmee saam, maar dit verhinder nie Afrikaanse onderrig nie; dit beklemtoon juis die potensiaal van onderrig op alle vlakke in al die inheemse tale.” Spreekwoordelik is Du Plessis hier op heelwat dunner ys. Afrikaans is veeleerder (of wesenlik) ‘n Europese as ‘n Afrika-taal. Dit is waarom Afrikaans met dieselfde mate van sukses as Engels as onderrigtaal aan universiteite (wat ‘n Europese uitvinding is) benut kan word. As daar gepoog word om dieselfde met ‘n Afrika-taal te doen, sou omtrent al die vakkundige, wetenskaplike en tegniese terme direk uit Engels oorgeneem moet word omdat Afrika-tale nog nie ontwikkel is om sodanige hoër funksies te verrig nie.

    “Dit is logies dat Afrikaans ‘n regverdige rol as tersiêre onderrigtaal eis omdat dit ‘n funksie is wat die taal reeds ‘n eeu lank vervul. Dit beteken nie dat ander tale nie onderrigtale mag wees nie. Dit beklemtoon juis die feit dat hierdie hoë funksie ook met ‘n bietjie politieke wil ontwikkel kan word … Suid-Afrika kan dit nie bekostig om nié ‘n Afrikaanse universiteit te hê nie, omdat die produkte daarvan onteenseglik ‘n nasionale bate is … Ek dink aan die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit as moontlike Afrikaanse universiteit.”

    “Ek praat van ‘n Afrikaanse universiteit waar ras geen rol in die toelating van studente of die aanstelling van personeel speel nie. Dit gaan om ‘n veelrassige Afrikaanse instelling.” My indruk is dat Potchefstroom in die Theuns Eloff-era in groter mate as die Universiteit Stellenbosch (US) en ander eens Afrikaanse universiteite daarin geslaag het om nie-rassisties met studente-toelating en die aanstelling van personeel om te gaan. Dit is waarom dit die aantreklikste universitêre opsie vir Afrikaners was. Anders as by die US het Afrikaans op Potchefstroom die hoofonderrigtaal gebly en is dié onderrig meer suksesvol met tolking aangevul as by ander eens Afrikaanse universiteite. Maar dit lyk asof hierdie aanvaarbare huidige opset in die Dan Kgwadi-era ten koste van die heil van Afrikaans en blankes ten gunste van Engels en swartes getransformeer gaan word.

    ‘n Mens kan sê dat Du Plessis se standpunt oor die algemeen aanbevelingswaardig is. Maar ek vra my af waarom sy Potchefstroomse kollega, Wannie Carstens, nie ook ‘n soortgelyke sterk pro-Afrikaanse standpunt inneem nie. In Carstens se geval kan daar moontlik beter resultate wees omdat hy die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is, asook ‘n direksielid van die Afrikaanse Taalraad en van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument is. Carstens het ook sitting in die US-raad. Die lood wat hy in sy skoene het, word politieke korrektheid genoem. Carstens is naby aftrede en Du Plessis het reeds afgetree. Hulle het dus min te verloor en kan die heil van Afrikaans voortreflik bevorder deur hulle sterker teen die magte van die bose te verset.

    Maar ‘n mens moet jou ook afvra waarom Potchefstroom twee Afrikaans-dosente het wat hulle openlik vir Afrikaans beywer, terwyl geeneen van hulle kollegas op Stellenbosch bereid is om selfs maar ‘n piepgeluid ten gunste van Afrikaans teen die Botman-beleid te maak nie. Eintlik is die teenoorgestelde waar, want twee van die US se Afrikaans-dosente, Marlene van Niekerk en Leon de Stadler, voel hulle glad nie geroepe om vir Afrikaans in die bres te tree nie. Hulle beywer hulle eerder vir twee- of selfs meertaligheid.

    Dit laat my ook dink aan die armsalige ATKV wat na die SABC gegaan het om “hande te vat”. Daarna is beweer: “Dit was goed vir Afrikaans” (Die Burger, 24 Julie, p 3). Maar dan blyk dit “dat hulle nie daarop aangedring het dat die Afrikaanse programme na SABC2 moet terugskuif nie.” Red nou ‘n taal met sulke wankelmoediges. Op LitNet het die ATKV homself pas op die skouer geklop deur daarop te roem dat hy kerngesond en die inklusiefste Afrikaanse kultuurorganisasie is. Dit beteken doodeenvoudig dat tradisionele Afrikaners en Standaardafrikaans nie op ondersteuning uit daardie oord staat kan maak nie.

    Sedert ek die bostaande teks geskryf het, het daar drie verdere tersaaklike artikels verskyn. Die eerste een is deur Ampie Coetzee, wat eens ‘n Afrikaans-dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en daarna aan die UWK was (Die Burger, 13 deser, p 12). Coetzee betreur tereg die verdwyning van die Afrikaans-departement aan Wits en ook die verengelsing van die UWK. Hy wys daarop dat daar in 1987 1 000 eerstejaarstudente in Afrikaans aan die UWK was. Tans is daar 220. Die Burger het destyds daarop geroem dat die UWK die grootste Afrikaans-departement (vanselfsprekend in die wêreld) het.

    Wat nóg Coetzee nóg Die Burger noem, is waarom dit só was. Dit was nie te danke aan skielik opwellende Afrikaans-lojaliteit by bruin studente nie. Dit was te wyte aan veral Jakes Gerwel wat ‘n Afrikaans-dosent was en sowel in die klas as daarbuite sy kommunistiese UDF/ANC-politiek gepredik het. Adam Small het in bv die jare sewentig ook sy posisie as filosofie-dosent misbruik om onrus op die UWK-kampus te stook. Die verskil tussen Gerwel en Small was myns insiens (en ek sê dit op grond van eerstehandse kennis) dat Gerwel, soos Nelson Mandela, geweld as ‘n aanvaarbare opsie beskou het, terwyl Small daarvan teruggedeins het.

    Toe Gerwel in 1987 die UWK-rektor geword het, is Coetzee in sy doseerpos aangestel. Coetzee is deesdae tereg ontsteld oor die agteruitgang van Afrikaans, maar hy is deels daarvoor te blameer, aan die UWK en elders, weens sy destydse uitgesproke linkse politiek. Byvoorbeeld, Coetzee was in 1987 een van die Dakar-gangers. Nogtans kan ‘n mens die sentiment in sy huidige geweeklaag ondersteun: “Die bittereinders wat gestreef het vir die toekoms van Afrikaans se einde het bitter geword. Daar is net nie meer verset nie.” Die reg op weerstand, op die aanteken van beswaar, is myns insiens ononderhandelbaar; vanselfsprekend ook wat Afrikaans betref.

    Die voorlaaste artikel wat ek hier betrek, is een deur Wannie Carstens (Die Burger, 16 deser, p 11). Aanvanklik versuim hy om na die Universiteit Port Elizabeth te verwys as een van die universiteite waar Afrikaans as onderrigtaal gesneuwel het. Carstens vestig tereg die aandag daarop dat Kader Asmal se samevoeging van universiteite en technikons onderrig in Afrikaans ernstig benadeel het. Dit is immers waarom die Potchefstroomse universiteit en dié van Bophuthatswana verplig is om saam te smelt, Dan Kgwadi onlangs as rektor aangestel is en daar deesdae verwag word dat die Potchefstroom-kampus in dieselfde mate as die Mafikeng-kampus moet verswart en verengels.

    Carstens verduidelik tereg dat die ANC-regering die foutiewe uitgangspunt het dat nasiebou en sosiale samehang net deur Engels bereik kan word. Ook dat die regering ‘n ideologie-gedrewe program het, bv wat betref transformasie (dus dat die sogenaamde voorheen benadeeldes bevoordeel moet word), asook demografiese ras- en geslagsverteenwoordiging. Weens ontoereikende owerheidsfinansiering word die verengelsingsproses in werklikheid versnel. Universiteite word eintlik verplig om ‘n voorkeurtaal (Engels of Afrikaans) vir befondsing te kies.

    My beswaar teen Carstens, soos teen sy kollega Du Plessis (hierbo), is dat hulle wil hê dat Afrikaans op die rug van nie-wittes moet ry om by die ANC-regering die gewenste indruk te wek. Dieselfde motivering is onderliggend aan die misleidende klem wat dikwels op Afrikaans as Afrika-taal geplaas word. Carstens redeneer bv dat deur Afrikaans te kortwiek “word die ontwikkeling van agtergeblewe Afrika-tale nog verder benadeel.” Wat ek veel eerder in ANC-koppe wil inhamer, is dat Afrikaans wesenlik ‘n Europese taal is, dat Afrikaners oor eeue hierdie land opgebou en ontwikkel het (insluitende universiteite) en dat die ANC-regering Afrikaans en Afrikaners uit eie reg moet respekteer en aan hulle moet gun wat hulle toekom. Dus, die Boere wil Afrikaanse universiteite hê en geen swarte moet hom aanmatig om dit vir ons te ontsê nie. Hierteenoor is Carstens se polities korrekte standpunt: “Afrikaans en ras mag nie gemeng word nie.”

    Die werkwyse wat Carstens voorstel, is myns insiens deurtrek van dwaasheid. “Universiteite moet saamwerk om ‘n oplossing vir meertaligheid op kampusse te kry … Ons moet vooraf weet die enigste oplossing vir Afrikaans (en die ander Afrika-tale) lê binne ‘n meertalige konteks … Die saak van Afrikaans moenie in isolasie gesien word nie. Die ander tale móét betrek word.” Dit is hoe Afrikaans vorentoe deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns “bestuur” gaan word.

    Hierteenoor stel ek my oortuiging dat die enigste sinvolle (bv ekonomiese) oplossing vir universiteite (of kampusse) is dat elkeen ‘n enkele onderrigtaal moet hê. Dit is terselfdertyd die enigste reddende situasie vir Afrikaans. As Afrikaans een van twee (of meer) onderrigtale op ‘n kampus is, sal dit vroeër of later weens die Suid-Afrikaanse politieke situasie deur Engels ondergeploeg word.

    Wat ek bepleit, is nie net die bestaansreg nie maar ook die werklike bestaan van suiwer Afrikaanse universiteite. Dit is hierdie reg wat Blade Nzimande ontken. Volgens hom kwalifiseer eentalige Engelse universiteite as Suid-Afrikaanse universiteite maar nie eentalige Afrikaanse universiteite nie. Nzimande se standpunt is in ooreenstemming met wat ek die Willie Esterhuyse-wet van 2007 (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, 2013, p 158) noem. Dit kan soos volg geformuleer word: “Die ANC-regering befonds universitêre onderrig in Engels. As onderrig ook in Afrikaans aangebied word, moet die universiteit dit self finansier.” Carstens, anders as Nzimande, plaas die klem op (siellose) meertaligheid, wat Afrikaans as akademiese taal gaan vernietig.

    Laastens verwys ek na Jaap Steyn se artikel in Rapport (10 deser) wat oor Afrikaans ook buite akademiese verband handel. By Steyn kan ‘n mens altyd reken op ‘n pro-Afrikaanse en pro-Afrikaneringesteldheid. Voorts improviseer ek op wat hy geskryf het. Steyn vestig die aandag op die kruipende verengelsing in die plaaslike samelewing. Dit is nie bloot ‘n geval dat Engels die dominante amptelike taal in die nuwe Suid-Afrika geword het nie, maar ook dat Afrikaans as sodanig al hoe meer deur Engels vermurwe word. Daar is glad te min gesonde weerstand teen taalvermening, naamlik die onnodige opname van Engelse elemente in gesproke en geskrewe Afrikaans. Byvoorbeeld, die mengeltaal Kaaps word verheerlik en die Afrikaanse Taalraad versuim skandalig maar doelbewus en polities korrek om suiwer Afrikaans enigsins te bevorder.

    In die massamedia (pers, rolprent, radio, televisie, internet) word gemengde Afrikaans eerder gepropageer as teengestaan. Daar word gedink dat geradbraakte Afrikaans snaaks is. Dit is vir hierdie mense skynbaar lekker om met Afrikaans te mors. In ouerhuise, op skool en in die kerk kan hierdie neiging teengewerk word, maar dit gebeur nie noodwendig nie. Sommige predikante wend hulle juis tot verengelsing om in die mode te probeer wees; dus om oënskynlik te wen aan broodnodige aktualiteit. Die kern van die saak is dat geradbraakte Afrikaans deesdae die stempel van politieke verligtheid dra. Daarmee hoop sommige Afrikaanssprekendes om hulle openlik van die “slegte verlede” en die polities en selfs moreel gediskrediteerde Afrikaner te distansieer.

    Die voorafgaande lei tot hierdie onvermydelike (maar te sag gestelde) gevolgtrekking: “dat dit twyfelagtig is of die soort Afrikaans wat so deur Engels beïnvloed word, hom teenoor Engels sal kan handhaaf.”

    Les bes skryf Dine van Zyl (Die Burger, ByNaweek, 23 deser, p 11): “Dit is ‘n verskriklike onreg om mense van hul taal te ontneem … Praat Afrikaans, wil ek smeek. Praat ordentlike Afrikaans.”

  • Willie Esterhuyse se wel en wee

    Willie Esterhuyse se wel en wee

    Willie Esterhuyse (middel), met Thabo Mbeki (regs)
    Willie Esterhuyse (middel), met Thabo Mbeki (regs)

    deur Leon Lemmer

    Willie Esterhuyse (gebore in 1936) was tot 1987 lid van die Broederbond en jare lank skynbaar ‘n liefling van die Afrikaner en die NG Kerk. Byvoorbeeld, aan die Universiteit Stellenbosch het die inisiatief van hom uitgegaan om aan PW Botha ‘n eredoktorsgraad toe te ken. Esterhuyse kom uit ‘n Sap-gesin, maar hy het ‘n stoere ondersteuner van apartheid geword. Hy was een van diegene aan wie die Nasionale Party-regering aanvanklik sy onderhandelinge met die ANC toevertrou het. Kort nadat hierdie samesprekings ‘n aanvang geneem het, het Esterhuyse en Thabo Mbeki vriende geword en het Esterhuyse besluit dat hy eerder ANC- as NP-gesind is.

    Deesdae kan Esterhuyse blykbaar nie verstaan waarom hy nie meer deur sy mede-Afrikaners op die hande gedra word nie. Naspers nooi hom darem nog soms uit wanneer daar ‘n onthaal of ander funksie aangebied word. Daarna verskyn sy foto in die koerant. Andersins moet hy in die na-Mbeki-era maar briewe aan die koerant skryf of ‘n toespraak vir publikasie aanbied om nie heeltemal in die vergetelheid te verdwyn nie. Die waarheid is dat die spreekwoordelike nuttige idioot ‘n beperkte rakleeftyd het.

    Kom ons gaan ‘n bietjie na hoe Esterhuyse self sy openbare beeld getransformeer het. Daarna kan hierdie geykte vraag beantwoord word: Is Esterhuyse ‘n Afrikaner? Sy Sap-wortels en waarheen hy op pad was, het in 1979 die eerste keer duidelik geblyk met die publikasie van sy boek, Afskeid van apartheid. Dit is onder meer op grond van sy afkeer van apartheid en sy “geheime gesprekke” met die verbode ANC dat die ANC-regering tydens die Mbeki-bewind in 2003 aan hom die Orde van Luthuli (silwer) toegeken en hom ‘n leidende Afrikaner genoem het. Ek bepaal my aandag vervolgens by sy drie jongste boeke.

    Esterhuyse het sy verset teen sy kweekskoolagtergrond getoon met sy boek, God en die gode van Egipte: In die voetspore van die Onsienlike (Wellington: Lux Verbi, 2009, 256p). Daarin verskyn hierdie neerbuigende opmerking: “Veral sedert 1979 het dit vir my al moeiliker geword om na die ortodokse gebulk van die Afrikanerbulle in die Groot Kraal (staat, kultuur en kerk) te luister” (p 21). Waaroor “bulk” Afrikanerbulle? Oor beskawing, oor Westerse waardes, oor die handhawing van standaarde, oor wat blankes en veral Afrikaners tot stand gebring het. Dit is wittes wat hierdie land oor meer as drie eeue ontwikkel het, in ‘n era wat deesdae as “donker” voorgestel word. Afrikaans het in daardie duisternis as ‘n volwaardige taal tot stand gekom. Dit gaan vir hierdie “Afrikanerbulle” om kwalitatiewe sake. Moet daar saam met apartheid ook hiervan sonder meer afskeid geneem word?

    Die kernboodskap wat Esterhuyse in sy 2009-boek oordra, is dat stories en mites in die Bybel vertel word. Dit beteken nie dat die gebeure wat in die Bybel beskryf word werklik plaasgevind het nie. Dit gaan om ‘n bepaalde boodskap ter singewing oor te dra. Die Bybel word bloot ‘n “openbaring van mense” (p 67). Hy laat hom soos volg uit oor die Bybelboek Eksodus: “Dis eintlik ‘n sameflansing van ‘n verskeidenheid kampvuurstories en godsdienstige praktyke van woestyntrekkers op pad na hulle beloofde land” (p 35).

    Die Ou Testament word beskryf as “‘n storie oor hulle [die Jode se] verstaan van God en sy rol in die lewe en geskiedenis van mense, state en gemeenskappe, wat oor tyd heen in skrif beslag gekry het” (p 111). “Dis nie die gode of God wat tekste heilig maak omdat hulle regstreekse goddelike openbarings bevat nie. Heilige tekste, ‘die Skrif’ ingesluit, is niks anders en niks meer nie as die getuienisse van mense se uitsonderlike ontmoetings en ervarings” (p 135). Soos in die geval van apartheid het Esterhuyse afskeid geneem van die God waarin hy in sy ouerhuis, “die klipkerk van Laingsburg” en aan die Kweekskool van Stellenbosch geglo het (p 188).

    Godsdienstige opvattings word sodoende diensbaar aan Esterhuyse se neo-verligte politiek. Hy wil (en ons moet) hande vat (p 235) en ‘n verskil maak (p 231, 233, 241). Die modewoorde van die huidige plaaslike politieke retoriek (bevryding, verandering/transformasie, geregtigheid, ens) word kwistig rondgestrooi. Geloof word “‘n verbintenis aan saakmakende en vernuwende geregtigheid” (p 240). “Die profetiese tradisie was … primêr ‘n bevrydingstradisie” (p 240). Esterhuyse gaan selfs sover om te beweer: “Vanaf Jesaja en Miga tot by Jesus. Binne dié tradisie … Jy moes jouself identifiseer as ‘n geroepene, ‘n aktivis vir die droom van geregtigheid, ‘n vryheids- en vredestryder” (p 246).

    Jesus word voorgestel as “‘n bepaalde inkarnasie of vleeswording van die geregtigheidsdroom … ‘God’, in Jesus as ‘n rolmodel, is volgens die stories van die Bybel ‘n simbool van die ewige, goddelike soeke na geregtigheid” (p 248). Dit is duidelik dat Esterhuyse (soos) ‘n bevrydingsteoloog geword het. Sy vertolking van die Bybel is sodanig dat dit sy neo-verligte en pro-ANC-politiek ondersteun. Religie word diensbaar aan sy politieke voorkeur gemaak. Sy nie-teïstiese, pragmatiese godsbegrip rugsteun sy politieke (wan)opvattings.
    .
    Esterhuyse se volgende boek, Die God van Genesis: Drama in die amfiteater van die Oneindige (Durbanville: Christelike Media Publikasies, 2010, 294p) is in dieselfde trant as sy vorige boek geskryf en vul dit aan. Van onder meer die Bybel skryf hy: “Self dink ek nie meer die geskrifte is heilig in die sin dat hulle deur die Goddelike self met ‘heiligheid’ beklee is nie. Dit is mense wat deur hulle vereenselwiging met ‘n bestaande geskrif die geskrif as iets spesiaals, as ‘heilig’, uitsonder” (p 68). Let op die volgende vertolking: God “se fokus is nie op die hemel nie. Ook nie op die skepping as sodanig nie. Dit is op verhoudinge, veral met die mens en die aarde” (p 108). Esterhuyse kan sekerlik nie daarop aanspraak maak dat hy dit wetenskaplik vasgestel het nie. Dit is bloot sy vertolking. Daarmee gee hy ‘n vrypas aan die verderflike politiek van die bevrydingsteoloë.

    Hy erken dat dit maklik is om die Bybel te misbruik (p 283): “Dit is nie moeilik om die Bybel volgens eie vooroordeel en voorkeure te interpreteer nie” (p 252). Maar dan kom hy tog met hierdie myns insiens uiters vergesogte stelling: “Terloops, as daar ooit ‘n godsdienstige en morele revolusionêr en aktivis was, dan was dit Jesus van Nasaret. Dit is beslis nie gepas om ongekwalifiseerd ‘liewe’ voor sy Naam te skryf nie” (p 198). Dit lyk asof Esterhuyse die “voerbakke” (p 140) polities korrek rondskuif. Die volgende is sprekend van die outeur se veranderde politieke gesindheid: “Nóg ‘die volk’ nóg ‘die taal’ is ‘n skeppingsordinansie! Dit is veranderlikes” (p 253). Hy versuim om by te voeg: Dit beteken nie dat jy jou eie mense en moedertaal vir ander moet verruil nie.

    Die derde en laaste boek wat hier bespreek word, is Esterhuyse se Eindstryd: Geheime gesprekke en die einde van apartheid (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 367p). Die teks handel oor die verkennende gesprekke wat Esterhuyse en ander “uitgesoekte” lede van die Afrikaanse “binnekring” van 1987 tot 1990 met ANC- lede gevoer het. Esterhuyse praat van die “Afrikaner-ANC-gespreksgroep” (p 115). Heel aan die begin van sy betrekkinge met Mbeki het Esterhuyse aan hom bely dat hy deur die Nasionale Intelligensiediens (NI) gestuur is en dat hy aan die NI rapporteer (p 122). Omdat Esterhuyse hom spoedig eerder by die ANC as die NP geskaar het, kon hy skryf: “Die ANC sal my nie vermoor nie. Hulle het belang by my oorlewing” (p 30).

    In die boek word daar uitdrukking aan heelwat volslae naïwiteit gegee. Asof dit wysheid uit die mond van ‘n suigeling is, haal Esterhuyse sy dogter soos volg aan: “Thabo Mbeki kan tog nie ‘n terroris wees nie” (p 170). Elders noem hy egter dat Mbeki militêre opleiding in die Sowjet-unie ondergaan het (p 115), wat sekerlik nie ten doel gehad het om hom mooier in die kerk te laat sing nie. Esterhuyse wou spesifiek in die geval van Mbeki “die konstruk van ‘terroris’ ondermyn” (p 142).

    Wat Esterhuyse in sy handel en wandel en ook in hierdie boek doen, is om te ontken dat ons hier met werklike vyande te make gehad het. Vyand is ‘n “mite” (p 182 – soos hierbo in Bybelse verband), ‘n “konstruk”, bedoelende dat dit ‘n misleidende of onvanpaste term en begrip is. So ook “terroris” (p 142). Hierdie vyande moet “vennote” word (p 195). Hy wend hom tot linguistiese higiëne ten einde die ANC goed voor te stel. Dit gaan om die “ontdemonisering van die ANC” (p 36). Hulle is dus nie geweldadige en bloeddorstige terroriste nie. “Bloedorstige vyand” is ‘n “mite” (p 43). Ons is glo almal Suid-Afrikaners met ‘n gemeenskaplike vaderland, dus ‘n enkele tuisland, en ons het almal ‘n “gemeenskaplike toekomsdroom” (p 160).

    “Die ANC is in die eerste plek nie ‘n terroriste-organisasie nie, maar ‘n politieke beweging” (p 129). In die boek word moeite gedoen om die ANC, ‘n “civilised and cultured group of people” (p 138), te ontdemoniseer. In dié proses word Afrikaners (minstens dié wat apartheid ondersteun) gedemoniseer. Die apartheidsregering het moordbendes gehad (blykbaar is dit nie bloot ‘n “konstruk” of “metafoor” nie) omdat die NP-regering in die “mite” van ‘n Totale (kommunistiese) Aanslag geglo het (p 56) en dus met ‘n Totale Strategie as teenvoeter vorendag gekom het (p 70). Hierteenoor hang Esterhuyse “totále transformasie” aan (p 156). Hy gebruik graag die term “sekurokrate” (p 81) vir diegene wat die Suid-Afrika van weleer teen geweld probeer beveilig het. Blykbaar is ook hierdie term nie bloot ‘n “konstruk” nie.

    Tog konstateer Esterhuyse darem hierdie waarhede: “Die buitelandse vleuel van die ANC het finansieel, militêr en polities hoogs afhanklik van Moskou en sy meelopers geword” (p 62) en “sonder Sowjetsteun sou die ANC nêrens gekom het nie” (p 205), asook dat die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party die ANC “intellektueel en ideologies gedomineer het” (p 84). Die Botha-regering en sy veiligheidsmagte, wat hulle teen terrorisme en kommunisme verset het, word die “ystervuis” genoem (p 38) en die oorlog ‘n “burgeroorlog” (p 131). In ‘n oorlog word mense gedood, maar Esterhuyse gebruik telkens ANC- en WVK-taal: ANC-aktiviste word “vermoor” (bv p 39). Dalk net ‘n enkele keer erken hy dat die ANC moorde gepleeg het wanneer hy skryf oor “geweld en moordbendes aan albei kante” (p 181).

    Esterhuyse munt nie uit in objektiwiteit nie. PW Botha word die “Groot Krokodil” genoem en Nelson Mandela die “Groot Ikoon” (p 207). Botha was glo “arrogant” (p 108) en het ‘n “obsessie met mag en publisiteit” (p 193) gehad, maar nie “denk-elastisiteit” nie (p 177). Hy word telkens as “halsstarrig” getipeer (bv p 169). Mandela, daarenteen, is ‘n “meesterlike oorrompelaar” (p 94-95), ‘n “passievolle politieke omvormer” (p 208) en “die sjarmante en eg menslike leier” (340). “Hy tree soos ‘n visionêre leier op. ‘n Moses-figuur” (p 175). “Mandela is sy ware self: Vredesoeker; versoener; gematigd; nie-rassig” (p 272). Maar Mandela was in werklikheid die inisieerder, stigter en eerste hoof van Umkhonto weSizwe (MK), die militêre of geweldsafdeling van die ANC. Let op hoe Esterhuyse hierdie feite oor sy vredesikoon verdoesel: Mandela “het wel ‘n hoë posisie in MK gehad” (p 238).

    Mbeki het, volgens Esterhuyse, ‘n “skerp analitiese vermoë” (p 125) en “hy praat beredeneerd en baie logies” (p 164). Hy is vir Esterhuyse “die soort mens … wat ek bereid sal wees om met my lewe te vertrou” (p 142). Desmond Tutu en Allan Boesak word voorgehou as “gerespekteerde kerkleiers” (p 39), “charismatiese leiers” (p 107), “uiters bekwaam en leiersikone in eie reg. Nie revolusionêre militantes nie” (p 219). Oliver Tambo was glo ‘n “gematigde” ANC-leier (p 41), terwyl dit in werklikheid hy was wat gelas het dat sagte teikens in blanke woonbuurte deur die UDF/ANC aangeval moet word (p 87). Tambo het die gewelddadige UDF geloof as ‘n “uitstaande voorbeeld van die ‘political maturity of our people'” (p 133).

    Esterhuyse het allerhande romantiese en uiters naïewe verwagtinge van die nuwe Suid-Afrika gekoester. Hy skryf “dat ‘n nuwe politieke daeraad besig was om deur die duisternis van apartheid te breek” (p 207-208). Hy beskou dit as: “‘n Dramatiese paradigmaskuif, weg van rasgebaseerde politieke voordele en verskansings, na nie-rassigheid” (p 296). Daar is hierdie mondvol hoop: “Volhoubare vrede, geregtigheid, regverdigheid en stabiliteit” (p 302). Andrew Young, die swart Amerikaanse aktivis, het beweer dat “die ANC eendag kan bewys dat swart mense ‘n gesofistikeerde land kan regeer” (p 271). Het die ANC-regering dit bewys, of juis die teenoorgestelde? Patrick Fairweather, ‘n Britse regeringsamptenaar, het gesê: “The best way to address white fears in South Africa is to make an economic success of Zimbabwe” (p 120). Die oorverligte Esterhuyse het sy hoop gevestig op ‘n “Suid-Afrika waarvoor ons nie skaam hoef te wees nie” (p 15) en ‘n “ware nie-rassige demokrasie” (p 48).

    Die skandaligste aspek van Esterhuyse se naïwiteit is sy teenkanting teen minderheidsregte, insluitende vetoreg, vir blankes. Dít terwyl swartes in die VSA in ruime mate minderheidsregte het. Esterhuyse, die oud-Broederbonder. is “ten gunste van ‘n een-mens-een-stem-verkiesing in ‘n eenheidstaat” (p 27). Oor die grondwetlike onderhandelinge in 1993 skryf hy: “Ek het toe al lankal weggestap van die NP se idee van groepsregte en minderheidsveto’s” (p 299). In die praktyk het dit die gevolg dat alle Suid-Afrikaanse nie-wittes deesdae groepsregte het (bv ingevolge regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging) terwyl al die wittes (en net die wittes) geen groepsregte het nie. Hiervoor kan ons Esterhuyse en andere wat ‘n “onmisbare en deurslaggende rol” in die voorbereidingsfase gespeel het (p 335) mede-verantwoordelik hou. Hy is een van dié wat geen onheil in swart oorheersing gesien het nie. Hy het geen beswaar teen die verswelging van wittes deur swartes met hulle vreemde nie-Westerse waardes geopper nie. Hy het die duisternis van apartheid gekontrasteer met die lig wat die ANC sou bring. Ek is diep dankbaar dat ek dit nie op my gewete het dat ek medepligtig aan verraad teenoor my eie etniese groep is nie.

    Vervolgens vestig ek die aandag op die jongste brief (12 Oktober, p 18) en artikel (19 Oktober, p 11) wat Esterhuyse in Die Burger gepubliseer het. In die brief verwys hy na “baie Afrikaners wat hulself as ‘slagoffers’ ervaar.” Dit is glo “die moeder van onverdraagsaamheid.” Met verwysing na Jonathan Jansen se onlangse anti-Afrikaanse uitlatings skryf Esterhuyse: “Ek het groot waardering vir jou Voortrekkersrol in ons land.” Omdat Tim du Plessis kritiek op die loskanon Jansen uitgespreek het, reageer Esterhuyse soos volg: “Ek het besluit om nie meer Rapport te lees nie.” Hy verkwalik Leopold Scholtz omdat laasgenoemde twyfel uitgespreek het oor die mate waarin Russel Botman die heil van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch bevorder. Ten slotte haal hy Brigalia Bam, ‘n ANC-aktivis, goedkeurend aan: “We seem to have unlearned the power of real dialogue which served us so well in the past.” Die dialoog waarna verwys word, is daardie gesprekke wat die land in die skoot van die ANC laat beland het. Die “us” wat so baie daarby gebaat het, is die swartes. Hierdie brief dui op ‘n groot mate van frustrasie by Esterhuyse; dermate dat dit twyfel oor sy geestelike ewewig kan wek.

    Esterhuyse se jongste artikel is gebaseer op ‘n toespraak wat hy in Washington, DC, gelewer het. Die bedoeling was seker onder meer dat die koerantlesers kennis moet neem dat sy mening soms nog in aanvraag is. Hy stel hierdie vraag oor Suid-Afrika: “Waarom wás en is ons steeds ‘n geweldsland?” In Eindstryd het Esterhuyse apartheid, en nie die ANC se terrorisme nie, as die oorsaak van geweld voorgehou. Dít wat die verlede betref. Die politieke en ander geweld wat tot in die hede onder die swart massa voorduur, behoort ongetwyfeld aan die voorbeeldstelling van die ANC as “bevrydingsorganisasie” toegeskryf te word, maar Esterhuyse doen dit nie. Hy profeteer: “Gewelddadige betogings op plaaslike vlak is bestem om toe te neem.”

    Hy toon deesdae, dus in die na-Mbeki-era, ‘n mate van ongedurigheid met die ANC: “Géén volhoubare vrede sonder ‘n suksesvolle staat nie … Brose en mislukte state, sistemies korrupte state en state wie se leiers die staat intern ‘herkoloniseer’ het, kan beslis nie vrede bevorder nie … Nelson Mandela en Thabo Mbeki se vorme van visioenêre leierskap, gedra deur ‘n ANC-organisasiekultuur en korps toegewyde ‘wyse vroue en manne’ [let op die volgorde], is verruil vir blatante transaksieleierskap waarin politieke lojaliteit (en tenders en poste) koopbaar geword het. Dié soort leierskap verander ons swaar verworwe demokrasie [ANC-taal] stelselmatig en doelbewus in ‘n vorm van ‘n kliëntestaat: kolonialisme en neo-kolonialisme [gedefinieer as: “uitsluiting deur ‘n nuwe elite”] getransformeer in neo-patrionialisme[;] die staat ‘n verlengstuk van die leier, sy familie, sy vriende en geslepe sakemanne.” Esterhuyse het klaarblyklik nog nie vrede gemaak met die feit dat hooggeprese demokratiese prosesse, naamlik sy geliefde gepeupelkrasie, die oorsaak was dat sy vriend Mbeki die trekpas gekry en Jacob Zuma hom vervang het nie. Dat Suid-Afrika beter daaraan toe tydens Mandela en Mbeki se bewind was, dui in werklikheid nie, soos Esterhuyse beweer, op hulle “visionêre leierskap” nie, maar bloot op die feit dat die verval onder swart bewind geleidelik plaasvind en eksponensieel toeneem.

    Maar dan kom die oorverligte Esterhuyse weer in rat: “Vergewe en vergeet … is ‘n vorm van ‘ontkenning’ deur veral wit mense.” Hy verwys na “die onreg van die verlede” en nie na die talle opsigte waarin die land tydens bv die apartheidsera beter daaraan toe was nie. Eintlik kom sy pleidooi daarop neer dat die nuwe Suid-Afrika nou weer “brugbouers” nodig het; mense soos Esterhuyse, die “koerier” (Eindstryd, p 180) of superbode wat boodskappe tussen die NI en die ANC vervoer het.

    Ten slotte moet hierdie vraag beantwoord word: Kan ‘n ANC-meeloper soos Esterhuyse en iemand wat ongetwyfeld medepligtig aan die nuwe Suid-Afrika is, ‘n Afrikaner genoem word? Daar is veral drie kenmerke wat in ag geneem moet word: godsdiens, taal en politiek. Afrikaners is tradisioneel met christelik-protestantse godsdiens geassosieer. Die afstand wat daar veral sedert 1990/1994 tussen formele godsdiens en baie Afrikaners ontstaan het, maak van godsdiens die ontbeerlikste kenmerk van die genoemde drie. Sekularisasie in Westerse samelewings speel ook ‘n rol. Met of sonder formele kerkbande gaan die meeste Afrikaners voort om soortgelyke waardes te koester. Esterhuyse het nie net sy rug op die Afrikaner se “klipkerk” gekeer nie, maar hom ook in ruime mate met nie-Westerse Afrika-waardes vereenselwig.

    Taallojaliteit, Jaap Steyn se taalgetrouheid, neem myns insiens deesdae toenemend die plek van godsdiens in as ‘n onmisbare bestanddeel van Afrikanerskap. Afrikaanssprekendes wat nuwe-Suid-Afrika-entoesiaste geword het, praat sonder beswaar geradbraakte Afrikaans en/of maak Engels hulle taal van voorkeur. Wat opval is dat Esterhuyse, sover ek weet, nêrens kommer oor die lot van Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika uitgespreek het nie; ook nie werklike kommer oor die lot van Afrikaners en ander blankes in ‘n land waar die swart meerderheid in beheer is nie. Hy het hom nooit vereenselwig met die “taalbulle” wat hulle vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch beywer het nie. Kyk bv sy reaksie in die brief waarna hierbo verwys is. Esterhuyse het hom van die bevordering van die heil van Afrikaans en van die “taalbulle” gedistansieer omdat assosiasie met hulle afbreuk sou doen aan die neo-openbare beeld wat hy van homself in sy na-Boederbond-era probeer vestig het. Ook wat Afrikaans betref, slaag Esterhuyse nie die toets vir Afrikanerskap nie.

    Lojaliteit teenoor Afrikaans word in groot mate deur politieke gesindheid bepaal. Jan Smuts, Bram Fischer, Beyers Naudé, Nico Smith, Frederik van Zyl Slabbert, Leon Wessels, Anton van Niekerk en Willie Esterhuyse druip veral om politieke redes die lakmoestoets vir Afrikanerskap. Afrikaners voel lotsgebonde aan hulle mede-Afrikaners en ander blankes en verraai en vertrap nie Afrikaner-ideale deur eerder nie-wit etniese groepe se belange na te jaag nie. My beswaar is nie teen die uitreik na ander etniese groepe as sodanig nie, mits dit binne perke geskied. Daardie perke word oorskry as daar ‘n oordrewe sug bestaan om ander etniese groepe ter wille te wees ten koste van Afrikaners en ander blankes se belange. Dit is die kernprobleem wat al die pas genoemdes met hulle potensiële Afrikanerskap behoort te hê.

  • Afrikaans kort ‘n nuwe mediamodel

    Afrikaans kort ‘n nuwe mediamodel

    roodt_dan_wiki

    deur Dan Roodt

    [followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

    Hou van Dan Roodt se Facebookblad

    Moontlik was daar ‘n tyd in die negentiende eeu toe mense koerante gelees het bloot om ingelig te word. As deel van jou koerant het jy sommer op die koop toe die jongste aflewering van ‘n vervolgverhaal deur Charles Dickens of Honoré de Balzac, twee van die gewildste skrywers in die negentiende eeu, ontvang.

    Daardie tye is egter vir goed verby. Toenemend in die twintigste eeu, maar veral nou in die een-en-twintigste, het media byna ‘n vorm van “oorlog met ander middele” geword. Joernalistieke objektiwiteit en selfs integriteit het plek gemaak vir belange wat deur media gedien word. Individuele joernaliste en meningsvormers is “penvegters” wat elke dag teen ‘n opponent in die kryt tree. Trouens, laasgenaamde is die titel van ‘n biografie deur Jaap Steyn oor Piet Cillié, een van die bekende historiese joernaliste van Die Burger.

    Twee onlangse onderhoude wat hier op die praagwebblad gevoer is, is verhelderend sover dit die hedendaagse rol van media betref. Die eerste is dié met Margarita Simonjan, die uitvoerende redaktrise van die Russiese TV-netwerk, Russia Today. Die tweede gesprek, met dr. Christo Landman, verskyn vandag.

    In haar onderhoud vergelyk Simonjan die rol van haar internasionale nuusnetwerk met dié van die Russiese departement van verdediging en sê: “…as Rusland gaan oorlog maak… dan sal ons by die geveg betrokke raak, ja. Dit is op die land se regte, gewapende konflikte van toepassing. Onthou u die oorlog in Augustus 2008? Op daardie tydstip het die meeste Westerse mediahuise gereageer asof hulle Georgië se departement van verdediging was.”

    Aansluitend hierby verduidelik dr. Christo Landman: “As jy onder die aandag kom, dan moet jy aanvaar dat daar strategieë in werking gestel sal word om jou te neutraliseer. Sodra jy ‘n faktor word, is jy ‘n teiken.” Met ander woorde, Individue en groepe wat vir Afrikaans of die Afrikanersaak standpunt inneem, sal geteiken word.

    In die Engelse rubriek wat ek gister geskryf het, sê ek in die eerste sin: “South Africa’s multiracial and multicultural society is exploding into a never-ending Kulturkampf or American-style culture war.” Hierdie kultuuroorlog gaan oor idees, maar ook oor ons reg op voortbestaan, ons reg om ons privaateiendom te behou of om ons kinders na Afrikaanse skole te mag stuur. Dit is alles “regte” wat in die brandpunt van hierdie stryd staan. Aan die oorkant is daar twee radikale standpunte: een beskou ons as “nie deel van die Afrika-kontinent nie” en daarom behoort al ons bates gewoon genasionaliseer te word en ons uit die land verdryf te word. Die ander “laat ons toe” om aan te bly, maar op voorwaarde dat ons geheel en al in die meerderheidsamelewing integreer en op die duur geassimileer word.

    In hierdie oorlog is geen metode taboe nie: ‘n persoon kan geëtiketteer word, vir ‘n idioot uitgeskel word, sy privaatlewe kan oopgevlek word en soos ons in die onlangse Amerikaanse geval van Paula Deen gesien het, as jy dertig jaar vantevore die K-woord (die N-woord in die VSA) gebruik het, kan jou reputasie vandag daardeur geruïneer word.

    Dit is ook ‘n reële oorlog want dit gaan om klimaatskepping, propaganda, om haat en vyandigheid teen die geteikende groep op te wek. Geweld geskied agterna byna outomaties. Ek verstout my om te sê dat plaasmoorde in dié land nie sou plaasgevind het indien die Afrikanervyandige media nie oor baie jare soveel nyd en gif teen boere gesaai het nie. Die internasionale propagandastryd wat tans om Sirië gevoer word, is ‘n ander insiggewende voorbeeld. Of Amerika, Frankryk en Brittanje daardie land gaan aanval, gaan uitsluitlik bepaal word deur die soort klimaat wat hulle in die media kan skep. Daar geskied manipulasie van feite, oor en weer beskuldigings van chemiese wapengebruik, oorlogsmisdade en dergelike meer.

    Daar is feitlik geen “redaksionele onafhanklikheid” nie, want elke orgaan, elke koerant, TV-kanaal of radiostasie het reeds kant gekies, sowel plaaslik as internasionaal en dis maklik om sy partydigheid uit sy beriggewing en kommentaar af te lei.

    Om maar een bekende voorbeeld te noem: Die Naspersgroep volg openlik die Britse en Amerikaanse regerings se standpunte in sy internasionale beriggewing en daarom steun Naspers blindelings ‘n aanval op Sirië. In hul plaaslike nuusdekking word alles weer so geplooi om die DA en die groot sakeondernemings, waaronder die mynhuise, te pas. Afrikanerskap is vir Naspers ‘n onding en word telkens met “rassisme” en ander ongure begrippe verbind.

    ‘n TV-kanaal soos Russia Today word deur die Russiese regering befonds. Hier sit Afrikaners met ‘n probleem, want geen regering ter wêreld gaan vir ons media betaal nie. Plaaslike adverteerders mag ‘n bydrae lewer, maar te eniger tyd kan adverteerders deur veiligheidsdienste of vyandelike media geteiken word en kan sodanige fondse summier afgesny word. Suid-Afrikaanse korporatiewe advereerders is ook geheel en al verbind tot die multikulturele samelewing, regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en alles wat daarmee saamgaan, dus gaan hulle ook maar langtand wees om in media te adverteer wat krities teenoor dié beleidsrigtings staan. Boonop verkies Suid-Afrikaanse reklame-agentskappe steeds om op papier of in uitsaaimedia soos radio of TV te adverteer, pleks van op die internet. Volgens beskikbare statistiek, word slegs 2% van alle reklame in ons land aan digitale media bestee.

    Hoewel digitale media soos webblaaie, ens., dus aan die agterspeen suig sover dit advertensie-inkomste betref, is gedrukte koerante besig om te kwyn en word hulle deur aanlynmedia vervang. Dit skep ‘n geweldige finansiële krisis vir die mediahuise, want niemand maak werklik geld uit die internet nie, behalwe enkele reuse- internasionale groepe soos Google of Facebook wat oor honderde miljoene gebruikers beskik.

    In Afrikaans is die toestand des te meer akuut, vanweë die klein mark wat deur Afrikaanse media bedien word. Hoewel Afrikaanse media redelik sterk staan teen Engelse media in Suid-Afrika, kan ons glad nie met die groter tale, veral natuurlik Engels, internasionaal meeding nie. ‘n Webwerf soos die Britse mailonline beskik byvoorbeeld oor 70 miljoen gebruikers wat aan hom ‘n aardige advertensie-inkomste besorg.

    Om verskeie redes is Afrikaanse media nie volhoubaar nie. Naspers het ‘n sogenaamde “betaalmuur” vir sy dagblaaie se aanlynweergawes ingestel. Behalwe vir die Wall Street Journal en ‘n paar ander internasionale voorbeelde, wil lesers eenvoudig nie vir aanlyninhoud betaal nie. Die internet is veronderstel om gratis te wees.

    Dit is egter waar dat aanlynmedia tans nog op die gedrukte media parasiteer. Vanweë die groter advertensie-inkomste van gedrukte media, kan hulle bekostig om meer joernaliste in diens te hê, ondersoekende joernalistiek te doen en bepaalde groot stories oop te vlek. Aanlynmedia maak meesal gebruik van die groot nuusdienste wat die stories van gedrukte koerante herverpak en teen ‘n breukdeel van die oorspronklike koste te koop aanbied. Andersins het sulke nuusdienste hul eie joernaliste in diens wat berigte skryf wat weer aan die gedrukte koerante en aanlynmedia verkoop word.

    Maar wat gebeur wanneer gedrukte koerante heeltemal tot niet gaan en al daardie joernaliste wat danksy papier steeds ‘n salaris verdien, eensklaps sonder werk gaan sit? Ek vermoed dat ons in Afrikaans slegs vyf jaar van so ‘n situasie verwyder is, gouer indien die huidige vervreemding tussen die Nasperskoerante en Afrikaanse lesers wyer uitkring. Danksy sy oorsese belange, onder meer in Hong Kong, kan Naspers al sy Afrikaanse media sluit sonder dat dit sy winsgewendheid noemenswaardig sal beïnvloed.

    Wat ons by praag probeer regkry, is om die gratis model wat reeds op die internet gevestig is, só aan te wend dat dit op die duur volhoubaar kan raak. Niks is egter ooit heeltemal gratis nie en in die reël moet vyf persent van gebruikers bereid wees om vir ‘n diens te betaal vir so ‘n diens om te kan voortbestaan.

    Die netwerk wat praag gevestig het, met sowel ‘n Afrikaanse as ‘n Engelse webwerf, asook ‘n sterk teenwoordigheid op sosiale media soos Facebook en Twitter, beskik oor die potensiaal om daardie “departement van mediaverdediging” te word wat Afrikaners so broodnodig het. Veral vanaf ons Engelse webblad loods ons kritiese kommentaar en berigte wat hard slaan en konsternasie onder ons vyande veroorsaak, omdat Afrikaners nou vir die eerste keer in ‘n lang tyd hulle teen propaganda-aanvalle verdedig.

    Beide webwerwe verteenwoordig ‘n formidabele navorsingsbron waar die aantal moorde, verkragtings en ander geweld in ons land daagliks weerspieël word. Dit maak dit vir navorsers, aktiviste en kommentators moontlik om sulke inligting altyd byderhand te hê.

    Die internet beskik beslis oor die potensiaal om ons te bevry, want ons kan ook ekonomiese netwerke, handel, beleggings, betalings en wat nog van hier af bedryf. Daar moet egter ‘n nodale punt wees waar al hierdie dinge ontmoet.

    Dat hierdie webblad moet aanhou bestaan en moet groei, is van wesentlike belang. Word deel van die vyf persent deur op die onderstaande banier te klik!

    praagcoza_adv

  • Die Afrikaanse Taalraad en Trantraal-mengeltaal

    Die Afrikaanse Taalraad en Trantraal-mengeltaal

    Die Kaapse Klopse. Hulle praat ook 'n 'variëteit van Afrikaans'
    Die Kaapse Klopse. Hulle praat ook ‘n ‘variëteit van Kaaps’.

    deur Leon Lemmer

    Daar word dikwels beweer dat die mens in Afrika ontstaan het. Daar is egter groot eenstemmigheid dat beskawing, dus gesofistikeerde of ontwikkelde kultuur, hetsy Westers of Oosters, op ander kontinente ontwikkel het. Daar is selfs diegene wat dink dat die beste mense wat oorspronklik in Afrika gewoon het, die insig gehad het om pad te gee en daarna elders ‘n beter heenkome gevind het. Hedendaagse afstammelinge van slawe het al ongekwalifiseerde dank uitgespreek dat hulle voorgeslag uit Afrika na bv Amerika vervoer is.

    In die geskiedenis van Afrikaans is daar die kombuistaalteorie waarvolgens Nederlands aan die Kaap skeef en krom deur nie-wittes (bv in kombuise) gepraat is en dat die oorsprong van Afrikaans hiernatoe teruggevoer kan word. Maar net soos tussen die ontstaan van die mens en die uitbouing van beskawing onderskei word, moet tussen die ontstaan van Afrikaans as geradbraakte Nederlands en die uitbouing van Afrikaans as ‘n taal uit eie reg onderskei word.

    Dit lei tot ‘n politieke probleem, want die ontstaan van proto-Afrikaans word (hoofsaaklik) aan bruines toegeskryf. Daarenteen is die standaardisering, uitbouing en voortbestaan van Afrikaans (hoofsaaklik) aan wittes te danke, bv die Genootskap van Regte Afrikaners, asook die woordeboeksamestellers en almal wat Afrikaans in sy algemeen-beskaafde gedaante gepraat en geskryf het. Standaardafrikaans word gevolglik veralgemenend as ‘n witmenstaal en bv Kaaps as ‘n bruinmenstaal beskou.

    Tot in die vorige eeu was gepubliseerde Afrikaanse teks wat deur nie-wittes geskryf is, hoogs uitsonderlik. Die kombuistaal wat nie-wittes in die 17de of 18de eeu gepraat het, sou nie in die vorm van Afrikaans in die 21ste eeu oorleef het as dit nie vir die deurlopende taalkundige arbeid van blanke taalkundiges en blanke taalgebruikers was nie. Politiek korrek word daardie gestandaardiseerde taal nie meer algemeen-beskaafde Afrikaans genoem nie (al is dit steeds presies wat dit wesenlik is) maar Standaardafrikaans.

    Prof. Wannie Carstens van die Potchefstroom-kampus
    Prof. Wannie Carstens van die Potchefstroom-kampus

    Die Afrikaanse Taalraad (ATR) gebruik die hedendaagse plaaslike politiek as toonbeeld vir hoe daar met taalsake omgegaan moet word. Die eerste voorsitter van die ATR, Wannie Carstens, het van die ATR ‘n versoenings- en meertaligheidsraad pleks van ‘n Afrikaanse taalraad gemaak (Praag 17 Maart). In sy boek Vereeniging (Kaapstad: Umuzi, 2010) stel Leon Wessels homself voor as ‘n soort Johannes die Doper wat as dié voorbereider van die nuwe Suid-Afrika gefunksioneer het. Wessels word dus deesdae as ‘n grondwet- en menseregtekenner gereken. In die konteks van die Carstens-ATR se meertaligheidsmanie skryf Wessels: “Afrikaners kan nie taalregte namens ander taalgemeenskappe opeis nie – hulle moet dit self doen” (p 331).

    Ten spyte van Wessels se goeie raad gaan Carstens se opvolger as ATR-voorsitter, Michael le Cordeur, voort met hierdie paternalistiese meertaligheidspreokkupasie. Le Cordeur is tans as ‘n opvoedkundige aan die Universiteit Stellenbosch verbonde. Wat van hom nogal ‘n eienaardige opvoedkundige maak, is dat hy net die hoogste lof het vir sy vier klasmaats wat in 1976 die Hoërskool Bergrivier in Wellington afgebrand het. Le Cordeur voer tans om etniese en politieke redes ‘n veldtog ten gunste van Kaaps. Ná al die jare het die ATR egter nog geen poging aangewend om hom ondubbelsinning aan die kant van Standaardafrikaans te skaar nie.

    Uit vrees dat die Kaapsgesindes aanstoot kon neem, het die ATR nog nie eens vir suiwer Afrikaans voorbrand gemaak nie. Die verengelsing van Afrikaans gaan ongebreideld voort sonder dat die ATR ‘n vinger verroer. Die Afrikaanse skryf- en veral omgangstaal neig gevolglik al hoe nader aan die mengeltaal Kaaps. Iemand soos Nico Koopman verheerlik hibriditeit. Wat hy blykbaar probeer sê, is dat die etniese hibriditeit van bruines as model vir nuwe Suid-Afrikaners moet dien. Ingelyks kan die hibriede Kaaps die modeltaal in die nuwe Suid-Afrika word. Die uiteinde sal ‘n daadwerklike hibriede nasie wees. Daarvolgens is om bruin te wees en Kaaps te praat in die mode en dui hierdie verskynsels op die toekoms. Insgelyks, om wit te wees en Standaardafrikaans te praat, is om uit die mode te wees en tot die verlede te behoort.

    Dit kan gebruik word om te verduidelik waarom taalhibriditeit al hoe meer vastrapplek kry in wat eens Afrikaans was. Etnies gedrewe bruines is blykbaar geneig om hierdie bedenklike verskynsel te verwelkom. Dit is egter die dood in die pot vir Afrikaans. Net taaldislojale Afrikaanssprekendes sou so ‘n verwikkeling verwelkom. Ongelukkig is dit die onverkwiklike waarheid dat daar by baie bruines ‘n tradisie van taalontrouheid, dus dislojaliteit, teenoor Afrikaans is. Van moedertaal- en identiteitstrots is daar by diesulkes glad te dikwels nie sprake nie. Insgelyks ontbreek ‘n gesonde afkeur van Engels as leeftaal. Byvoorbeeld, Jonathan Jansen, die rektor van die Universiteit Vrystaat, het Afrikaans as sy moedertaal vervang met Engels as sy “eerstetaal”. Deesdae is Engels dus onbeskaamd sy voorkeurtaal.

    In die nuwe Suid-Afrika is die ANC se fanatieke voorkeur vir die koloniale taal Engels die oorheersende taalwerklikheid. Dit is voor die hand liggend dat Standaardafrikaans die enigste variëteit van Afrikaans is waarmee die bedreiging van Engels suksesvol die hoof gebied kan word. Hiervoor is ‘n verenigde front nodig; ook in die ATR. Die voorstanders en beoefenaars van Standaardafrikaans doen moeite om Afrikaans as ‘n taal te bevorder wat duidelik onderskeibaar van Engels is. Die beoefenaars van Kaaps, daarenteen, breek die onderskeid tussen Afrikaans en Engels af deur met oorgawe onnodige Engelse woorde in hulle taal toe te laat; dermate dat dit soms na opsetlike uittarting vir voorstanders van algemeen-beskaafde Afrikaans lyk. Hierdie gesindheid van bruines steun nie op geldige taalkundige gronde nie. Dit is veel eerder die uitdrukking van politieke beswaardheid teen wit Afrikaanssprekendes.

    Le Cordeur beweer Standaardafrikaans is nie “‘n meer korrekte (‘suiwer’) vorm van Afrikaans … nie. Net so is Kaaps nie ‘swak Afrikaans’ nie, dis ‘n ander variëteit” (Die Burger, 8 deser, p 19). Hy is so onentoesiasties oor Standaardafrikaans dat hy hierdie woord met ‘n kleinletter skryf. Ek dink nie dit dui suiwer op onkunde by hierdie nie-taalkundige nie; dalk eerder op moedswilligheid. Op 31 Julie het Le Cordeur op LitNet geskryf: “Die Afrikaanse Taalraad bevorder nie net standaardafrikaans nie, maar Afrikaans met al sy varieteite, en standaardafrikaans is maar net een varieteit.” Let op die verkleinerende “maar net een”. In werklikheid is Standaardafrikaans ‘n grootse prestasie. Dit is “maar net een” van die Afrikaner-prestasies wat die land die onwikkeldste en suksesvolste in Afrika gemaak het.

    Daar is politiek onderliggend aan Le Cordeur se standpunt. In die politiek is alle mense gelyk verklaar, al is daar ooglopende kwalitatiewe verskille. Na analogie daarvan beweer Le Cordeur dat Kaaps en Standaardafrikaans gelykwaardig is. Toegegee, net soos alle mense eenders of gelyk is in die sin dat hulle daar is, bv asemhaal, is Kaaps en Standaardafrikaans gelykwaardig as slegs die feit dat albei bestaan in ag geneem word. In die bestaanstryd teen Engels kan daar egter geen sprake wees dat Kaaps, wat deurspek met Engelse woorde is, suksesvol as skans gebruik kan word nie. Ten minste in hierdie opsig is Kaaps en Standaardafrikaans nie gelykwaardig nie.

    Nathan Trantraal met sy digbundel 'Chokers en survivors'
    Nathan Trantraal met sy digbundel ‘Chokers en survivors’

    Dit is nie net ‘n geval dat Kaaps geen skans teen die oorheersing van Engels bied en dus nie met die toekoms van Afrikaans vertrou kan word nie. Kaaps funksioneer inderdaad as ‘n vermurwer van Standaardafrikaans. Ek volstaan deur na ‘n enkele deelnemer aan die huidige debat oor Kaaps te verwys. Op 3 Julie is Joan Hambidge se resensie van Nathan Trantraal se digbundel op LitNet gepubliseer. Onderaan het Annemarie van Niekerk geesdriftig soos volg gereageer: “DIE poësie event van die jaar”, “in your face poetry”, “suffering” en “‘n high five vir Nathan”. In ‘n onderhoud met Trantraal het Van Niekerk gepraat van “choke-poetry”, “community” en “free wyn” (Rapport, 4 deser). Sou sy sulke geradbraakte Afrikaans in haar reaksie op ‘n teks in Standaardafrikaans gebruik het?

    Die titel van die Trantraal-bundel is Chokers en Survivors. “Vir Antjie Krog is dit ‘n bundel ‘om sidderend van regop te sit!’ … Krog beklemtoon dat ons nog nooit so iets in Afrikaans gelees het nie” (Joan Hambidge se resensie op LitNet, 3 Julie). Die eintlike vraag is: Is dit Afrikaans? Van die 18 letters in die titel word net twee (dus 11%) vir Afrikaans gebruik. Dit is die soort “Afrikaans”-variëteit wat Le Cordeur in sy hoedanigheid as voorsitter van die ATR met groter geesdrif as Standaardafrikaans bevorder. Die ironie is dat Trantraal tereg ontken dat sy Kaaps Afrikaans is: “Afrikaans en Kaaps issie dieselle taal ie … ek for instance het ‘n barely functioning Afrikaans vocabulary, maa ek is nogal eloquent in Kaaps” (Onderhoud met Annemarié van Niekerk, Rapport, 4 Augustus).

    Dit is nie net nie-Afrikaanse, bv Engelse, woorde wat kwistig in Kaaps gebruik word nie. Selfs die sinsbou is dikwels nie-Afrikaans, bv Engels of Arabies. Le Cordeur erken self dat “Kaaps dikwels die Arabiese sinkonstruksie” volg (Onderhoud met Naomi Meyer, LitNet, 8 Augustus). ‘n Mens vra jou af: Op grond waarvan sou die ATR hom dan geroepe voel om by monde van Le Cordeur Kaaps, ‘n nie-Afrikaanse taal, dus ooglopend ‘n mengeltaal, te bevorder? Nie-Afrikaanse tale val streng gesproke buite die ATR se bevoegdheidsgebied. Die antwoord op laasgenoemde vraag kan eintlik net in etniese en politieke oorwegings gevind word.

    Hoe diep die ATR in die politiek versink het, blyk uit sy politiek gekleurde missie, naamlik “om Afrikaans en Afrikaanssprekendes te bemagtig, te bevorder en te beskerm”. ‘n Baie beter en daarby taal-toegespitste leuse sou wees: “Om Afrikaans altyd, oral en suiwer te benut.” Omdat die ATR met ‘n politieke (en in die besonder ANC-) geur deurtrek is, het Le Cordeur, in sy hoedanigheid as voorsitter, Nelson Mandela amptelik namens die ATR met sy verjaardag op 18 Julie gelukgewens.

    Vrouedag wat die optog van vroue, wat hardegat oor die paswette was, na die Uniegebou in 1956 gedenk, is op 9 deser deur die ATR op Wellington gevier. Dit is gedoen sonder om te noem dat paswette nie deur die “apartheidsregime” uitgedink is nie. Plaaslik is paswette ‘n nuutjie waarmee die eerste Britse goewerneur aan die Kaap, graaf George Macartney, in 1797 vorendag gekom het.

    Pas het die ATR dit nodig gevind om inskrywings vir die Europese Unie se Sol Plaatje-poësiekompetisie te werf. Hierdie kompetisie het baie sydelings met Afrikaans te make. Die hoofmotivering vir die ATR se entoesiasme is waarskynlik omdat Plaatje as ‘n stigter van die ANC beskou kan word. Het die ATR al iets gedoen om te verseker dat die Universiteit Sol Plaatje in Kimberley ‘n Afrikaanse universiteit sal wees? Sekerlik nie.

    Genoemde sake toon waarmee die ATR hom die afgelope tyd besig gehou het. Afrikaansdag, die herdenking van die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875 in die Paarl, word jaarliks op 14 Augustus in bv die boekhandel gedenk. Dit behoort elke jaar dié hoogtepunt op die kalender van die ATR te wees. Soos gebruiklik het die ATR vanjaar geen poging aangewend om Afrikaansdag te vier of selfs daarvan melding te maak nie. Daarvoor is daar minstens twee redes. Eerstens word die GRA deur die ATR as ‘n etnies eksklusiewe groep beskou. Gideon Malherbe het klaaglik versuim om sy kombuis- en tuinhulp by die GRA se stigtingsbyeenkoms te betrek. Tweedens bevestig die nie-erkenning van Afrikaansdag dat die ATR eerder ‘n politiek gedrewe liggaam as ‘n egte en eerbare Afrikaanse taalraad is.

    Die nuwe Suid-Afrika funksioneer wesenlik kwantitatief. Kwalitatiewe verskille word dus by voorkeur geïgnoreer of selfs ontken. Omdat die meeste sprekers van Afrikaans deesdae bruin is, word sonder meer aangeneem dat die toekoms van Afrikaans in hulle hande moet wees. Dít terwyl Afrikaans en tewens die land in sy geheel uitstekend onder blanke (dus minderheids-) leiding ontwikkel het. Die skryfkuns, alfabet, manuskripte en gedrukte teks, bv boeke, is beskawingsprodukte. Hulle hoort in die domein van die ATR. ‘n Mens sou dus verwag dat die ATR 6 April jaarliks met oorgawe as Beskawingsdag sou vier. Politieke gestremdheid veroorsaak dat die ATR dit nooit doen nie. Beskawingsdag was voorheen as Van Riebeeck-dag bekend, maar in die nuwe Suid-Afrika word name mos graag verander.

    In die naam van diversiteit dien daar ‘n verteenwoordigende getal bruines in die direksie van die ATR. In die praktyk verseker dit die steriliteit van die ATR. Drie van hierdie bruines het elk ‘n hoë politieke profiel, naamlik Le Cordeur, Danny Titus en Christo van der Rheede. Wat hierdie drie verder gemeen het, is dat hulle nie Afrikaanse taalkundiges is nie. In soverre hulle voorgraads met Afrikaans in formele studie kennis gemaak het, is hulle deur veral Jakes Gerwel aan die Universiteit van Wes-Kaapland beïnvloed. Dit beteken dat hulle siening van Afrikaans met UDF/ANC- en kommunistiese ideologie deurdrenk is (Praag 3.12.2012). Die steriliteit van die ATR is dus begryplik.

    Wat nodig is, is dat al die ATR-direksielede aan minstens twee vereistes moet voldoen. Eerstens moet hulle gesindheid teenoor Afrikaans bo verdenking wees. Dit spreek dus eintlik vanself dat hulle verbintenis tot onderrig in Afrikaans vir hulle eie kinders ononderhandelbaar moet wees. Tans dien daar elemente in die ATR wat sienderoë verkies dat onderrig eerder in Engels as Afrikaans aan hulle kinders verskaf word. Tweedens moet ATR-direksielede se formele Afrikaanse taalkennis op peil wees. Hulle moet dus geskoolde taalkundiges wees. Sodanige raadslede moet verder op ‘n nie-etniese grondslag gekies word. Die huidige kwotastelsel is uit die bose. Pleks van, soos tans, Afrikaans polities te dien, sou die ATR Afrikaans dan na behore taalgewys kon dien.

    Terugverwysend na die eerste paragraaf hierbo is daar in die VSA die manie onder swartes dat wittes eintlik nie oor swartes mag skryf nie. Swartes beweer dat net hulle waarheidsgetrou oor die ervaring van swartes kan skryf. In die debat oor Kaaps het hierdie fundamentalisme nou ook kop uitgesteek. Net outentieke, nie-wit sprekers van Kaaps mag glo in Kaaps skryf (dus nie Marlene van Niekerk nie) en die duidelike voorkeur is dat net hulle menings oor Kaaps mag uitspreek. Die wesenlike aard van hierdie sotterny is reeds in 1784 deur Samuel Johnson uitgewys toe hy opgemerk het: “Who drives fat oxen should himself be fat” (James Boswell, The Life of Samuel Johnson, Londen: Everyman, 1992, deel 2, p 527).

    Uit die huidige debat blyk dit duidelik dat daar talle variëteite of subsoorte van Kaaps bestaan, bv straat-, bende- en klopsetaal en onkiese of kru of onbetaamlike variasies, waarvan Trantraal ‘n meester blyk te wees. Dit bevestig ten minste dat ons hier nie met algemeen-beskaafde of Standaardafrikaans te make het nie. Die onpraktiese maar etnies en politiek gedrewe Le Cordeur reken dat skoolhandboeke in hierdie ongestandaardiseerde groep mengeltale, kollektief Kaaps genoem, beskikbaar gestel moet word sodat die sprekers van Kaaps nie (verder) benadeel word nie.

    Waar gaan die streep getrek word? Moet skoolhandboeke in Tsotsitaal daarna volg? Waarom nie ook pleit vir handboeke in die soort geradbraakte Engels wat kenmerkend van sommige bruines is nie? Waarom ‘n saak probeer uitmaak vir nie-Standaardafrikaans, maar nie ook vir nie-standaard Engels nie? Die antwoord is: Omdat gestandaardiseerde Engels deur hierdie elemente geag en gestandaardiseerde Afrikaans deur hierdie selfde elemente geminag word. Daarmee is ons terug by wat ek hierbo, in die woorde van Jaap Steyn, taalontrouheid genoem het. Hierdie dislojaliteit teenoor Afrikaans is sekerlik politiek gemotiveerd. Kortom, die huidige voorsitter van die ATR, Le Cordeur, se veldtog ter bevordering van Kaaps is wesenlik opsetlike geringskatting van Standaardafrikaans en grondliggend minagting van Afrikaners.

    Ek het die bostaande teks voltooi voordat Leopold Scholtz se jongste rubriek (Die Burger, 16 deser, p 12) ter hand gekom het. Scholtz verduidelik dat in die stryd teen veral Frans daar in België na Standaardnederlands gereik is pleks van die verskillende Vlaamse dialekte te koester. Dit stem ooreen met my pleidooi vir Standaardafrikaans hierbo. Scholtz: “Elke Europese taal … het naas streektale en dialekte ook ‘n standaardvorm. Die behoefte aan dié standaardvorms bestaan deurgaans.” Omdat die omstandighede in België en Suid-Afrika verskil, wil Scholtz egter nie die knoop deurhaak en die vraag in die opskrif, “Voldoen Kaaps aan vereistes?”, beantwoord nie. Hy wil hê dat “die bruin intellektuele self moet antwoord.” Hy raak die spoor dan al hoe meer byster met die volgende stelling: “Niemand by sy regte verstand sal in beginsel teen die ontwikkeling van Kaaps kan wees nie.”

    Plakkaat van die Kaapse Son
    Plakkaat van die Kaapse Son

    Wat skuil agter Scholtz se terugdeinsing? Die antwoord is voor die hand liggend: Die Burger se dogma dat bruines nie vervreem mag word nie en dus dat die “bruin stem” gehoor moet word. Dit volg dat die sprekers van Kaaps oor Kaaps uitspraak moet lewer, net soos Samuel Johnson se vet osse net deur vetsakke aangeja mag word. Die Burger wil bruines feitlik ten alle koste ter wille wees; nie net omdat dit politiek korrek is nie, maar ook omdat die getal koerante wat verkoop word die allerheiligste heilige koei geword het. Dit is in selfs groter mate waar sedert sy Naspers-susterkoerant Son (in Kaaps wat oorvloediglik met Engelse woorde aangedik word) so ‘n groot aanhang onder veral bruin lesers ten koste van Die Burger opgebou het.

    Ek is by my regte verstand en het hierbo ‘n duidelike saak uitgemaak waarom Kaaps nie die voertuig vir die behoud van Afrikaans teen die aanslag van Engels kan wees nie. Net Standaardafrikaans kan daardie funksie vervul. Die bevordering van die mengeltaal Kaaps deur die ATR druis lynreg in teen die heil van Afrikaans. Dit is politieke en nie-taalkundige oorwegings wat die ATR dryf. Die Afrikaanse en Afrikanerorganisasies wat die ATR tot dusver gesteun het, sal ernstig oor hulle voortgesette deelname moet besin. Die ATR sal óf grondig hervorm moet word óf met ‘n ander liggaam wat Afrikaans doeltreffend bevorder, vervang moet word; iets soos ‘n Herstigte Afrikaanse Taalraad.

  • Goddank Afrikanervroue is geen feministe nie!

    Goddank Afrikanervroue is geen feministe nie!

    roodt_dan_wiki

    deur Dan Roodt

    [followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

    Hou van Dan Roodt se Facebookblad

    Eintlik vier ek glad nie ANC-vakansiedae nie en beskou dit net as ‘n rustige werksdag sonder verkeer of onderbrekings waartydens ‘n mens baie gedoen kan kry. Behalwe die polities korrekte banke, is omtrent al die winkels in elk geval oop, dus heers daar ‘n verfrissende gebrek aan toewyding aan “Wimmens day”.

    Netnou het ek egter skrams die opskrif van een van Naspers se idiotiese rubriekskryfsters op News24 raakgesien; elke jaar dien “Wimmens day” as voorwendsel om verslete feministiese clichés aan ons op te dring. Daarom voel ek my genoop om, soos ‘n witmens wat ‘n papier op die vloer sien lê, dit op te tel en in die snippermandjie te gooi. Of om die stuk onkruid of kakiebos uit te trek, voordat dit vervuil.

    Ek verbeel my ‘n week of twee gelede het die joernalistiekdosent op die Potch-kampus en eertydse Huisgenoot-joernalis, Hannelie Booyens, insgelyks ‘n tirade teen vroue wat kan kook en dalk mooi lyk op Rapport se webwerf gelewer.

    Op die keper beskou, was dit ‘n tirade teen die Afrikanervrou as sodanig. Want die meeste Afrikanervroue kán kook en vele is beeldskoon. Naas die Bybel, is die legendariese Kook en geniet deur mev. S.J.A. de Villiers die gewildste boek in Afrikaans wat volgens die uitgewers in verkope al die halfmiljoenkerf verbygesteek het. Trouens, ons Boerekos en Afrikaanse kookkuns vergelyk enige dag met dié van die Franse en Italianers. Met dié verskil dat ons kookkuns nie deur professionele kokke soos die Franse s’n gerugsteun word nie, maar deur ons Afrikanervroue. In elke huis leef daar ‘n groot stuk Afrikanerkultuur in die vorm van al die heerlike disse wat die huisvrou gereeld aan haar gesin voorsit.

    Resepte word van geslag tot geslag oorgedra. In my familie is daar ‘n sjokoladekoekresep wat my ouma gemaak het en waarmee ek grootgeword het omdat my oorlede ma dit van kindsbeen af by haar geleer het. My suster maak dit nou en vir seker sal my dogter dit ook aanleer, waarmee die tradisie ad infinitum sal voortduur.

    As ‘n besondere sjokoladekoek tiperend van die Afrikanervrou se tradisie in die kombuis is, is ressentiment, domheid en selfs gebrek aan beskaafdheid en goeie maniere kenmerkend van feminisme. Destyds toe feminisme in Suid-Afrika eintlik nog onbekend was, het ek op ‘n keer in die geselskap van ‘n groepie feministe beland wat ‘n soort buitelugvergadering gehou het. Afgesien van die pretensieuse groet wat veronderstel was om ‘n verwysing na die vroulike geslagsdeel te wees, het die res van die vergadering ontspoor omdat daar ‘n hele debat losgebars het daaroor of ek “as man” en as lid van die vyandelike spesie vermoedelik, by die vergadering geduld kon word.

    Afgesien van sielkundige afwykings, sadomasochisme en wat nog, is feminisme is vir my sinoniem met domheid, onbeskawing en ‘n soort Stalinistiese onverdraagsaamheid. Vrouens wat nie kan kook nie beskik gewoonlik oor geen smaak nie, ook op ander gebiede.

    Die kreet om vrouens “van die kombuis te bevry” verteenwoordig die gromgeluid van barbarisme en ‘n terugkeer na ‘n dierlike toestand toe voedsel rou verorber is. Vir diegene wat nie weet nie, die wortel van die woord “kru” – wat uit Frans afkomstig is – is “rou” of “ongekook”.

    Alle illusies wat ek eens oor die intellektuele inhoud van feminisme gekoester het, is vir my uit die weg geruim toe ek in Parys op ‘n stadium die seminaar van ‘n beroemde Franse feminis, Hélène Cixous, bygewoon het. Op ‘n dag sou ek op Frans ‘n referaat oor ‘n taamlik polities korrekte boek, die briewe van ‘n Nederlandse Jodin tydens die tweede wêreldoorlog, Etty Hillesum, lewer. Ek het taamlik moeite gedoen om die twee Franse vertalings van die boek te lees en selfs die oorspronklike van Amsterdam te bestel. Die boek staan nou nog hier op my rak vol boekmerke en papiertjies met my notas wat ek destyds gemaak het.

    Ewenwel, die feit dat ‘n manlike idioot soos ek, wat boonop van Suid-Afrika afkomstig was, Nederlands kon lees, was vir Hélène Cixous reeds ‘n bedreiging en daarom het haar gewone neerhalende opmerkings oor “mans” of “‘n man” of “die man” oorgegaan in ‘n onderliggende venyn en onbeskoftheid. Sy het my so te sê ten aanhoor van die hele lesingsaal verneder, verseg om my referaat aan te hoor en ‘n dom, vet Amerikanerin met ‘n dik bril wat haar oë so groot soos visdamme laat lyk het, in my plek ‘n stereotipe bydrae laat voorlees.

    Cixous het ook ‘n kwasi-poëtiese roman wat Winnie Mandela verafgod, Manne, gepubliseer. “Manne” in Frans beteken “manna”. Die Mandelas – Winnie en Nelson – is manna uit die hemel. So iets. U verstaan reeds die strekking van die boek.

    Elke Afrikanervrou wat ek teëkom en wat nog nie deur die aaklige feminisme vergiftig is nie, is vir my soos ‘n wonderwerk. Ons besef nie watse kleinood ons vroue verteenwoordig nie en die feit dat ons hulle tans nie genoegsaam teen die horde moordenaars en verkragters in ons land beskerm nie, is ‘n skandvlek op ons Afrikanermans.

    In vele opsigte is die Afrikanervrou – in die kombuis en in die klaskamer – die draer van ons beskawing. Soos die geskiedkundige, Hermann Giliomee, al aangedui het, het ons Afrikaners van vroeg af aan ons vroue as gelykes behandel en mog hulle luidens Romeins-Hollandse reg eiendom besit het terwyl dit in die meeste Europese lande nie die geval was nie. Ons vroue kon stem lank voor die vroue van Brittanje en dié van vele Amerikaanse state. Terwyl die man buite op die land geboer het, het ons vroue dikwels die beursie gehou en die finansies van die huishouding behartig. Jaap Steyn het elders op dié webwerf ‘n wonderlike beskrywing van ‘n ou Kaapse plaas verskaf:

    “Die gevestigde boer het soos ‘n outydse edelman sy groot huishouding ingerig en geregeer…

    “Lichtenstein skryf dat so ‘n boerdery meer na ‘n klein, selfstandige en afgesonderde staat lyk, waarvan die lede mekaar bystaan en van mekaar afhanklik is. Uit die opbrengs van die lande en die veetroppe moet die mense onderhou word. Daar is geen handwerk waarin nie minstens een van die slawe bedrewe is nie. Die huisbaas wat van al die soorte werk iets af weet, hou toesig. ‘Ofskoon hy self geen hand aan die werk slaan nie, sou dit nogtans die hoogste onregverdigheid wees om hom van luiheid te beskuldig. Die Afrikaanse landman is inderdaad werksaam en bedrywig sonder dié uitwendige besigheidsgedoente en woelagtige bestellery, waarmee in Europa die luiheid en werkloosheid soms so mooi bemantel word.’

    “Die huismoeder met haar dogters en slavinne het die groot huishouding van kos en klere voorsien, botter en seep gemaak, konfyt gekook en dergelike. By feesgeleenthede, soos ‘n bruilof, die verjaardag van die huisvader, ‘n vendusie of as daar kuiergaste is, het die boervrou uitgehaal en ‘n groot oorvloed van lekkernye aan haar gaste voorgesit: gebraaide speenvarkies, pluimvee, kerrievleis, sosaties, blatjang, ingemaakte vrugte.”

    Die bedrywige Afrikanervrou wat haar geslagsrol al eeue lank met oorgawe uitleef, staan in skerp kontras met die mannetjiesagtige, venynige skepsel wat die feminisme as “bevryde vrou” aan ons voorhou.

    Met hul skeefgetrekte renons in styl, smaak en beskawing, is daar inderdaad ‘n legio dinge waaraan feministe ‘n broertjie dood het en waaroor hulle luidkeels in die media en aan die universiteite beswaar maak, selfs heksejagte voer. Onder andere die mooi woord, “dame”. Dis nog ‘n Franse leenwoord in Afrikaans wat iets van die adellike swier van die Franse howe van die sestiende en sewentiende eeue met hom saamdra. Die Franse ekwivalent van “mevrou” is vandag nog: Madame, letterlik “my dame”.

    Afrikaanse vrouens is inderdaad dames. Selfs al is hulle fietsryers of Olimpiese spiesgooiers soos Sunette Viljoen, herken ons in hul houding en grasie daardie adellike verfyndheid wat hulle so besonders maak. Soos Goethe dit in sy drama Faust gestel het:

    Das Ewig-Weibliche Zieht uns hinan.

    Oftewel: “Die ewig-vroulike verhef ons.”

    [followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

    Hou van Dan Roodt se Facebookblad

  • Voorbereidings vir die Trek

    Voorbereidings vir die Trek

    Die meeste van die ongeveer 10 000 Afrikaners wat getrek het, was van die distrikte Graaff-Reinet, Uitenhage, Somerset en Cradock, enkeles uit Swellendam, Beaufort-Wes en Grahamstad, en ‘n paar gesinne uit Colesberg. Die meeste trekkers het uit vrees vir maatreëls van die Britse bewind in die geheim vertrek. Plase en huisraad is op vendusies verkoop, maar omdat soveel grond tegelyk op die mark gekom het, was die pryse belaglik laag. Spekulateurs het boere soms aangemoedig om te trek sodat hulle goeie grond goedkoop in die hande kon kry.

    Volgens Op Trek (deur J. Celestine Pretorius, redakteur, André Malan, Alana Bailey, Sandra Saayman, H.S. (Tia) Hugo en J.F. (Joey) Wilmans) was die ossewaens 3,6 tot 4,5 meter lank, en 80 tot 100 cm. breed. Omdat die waens hout-asse gehad het, was die gemiddelde vrag van 1600 tot 1800 kg.

    Die onderdele kon onafhanklik van mekaar beweeg, wat verhoed het dat die wa breek as dit oor ‘n groot rots of miershoop gery of in ‘n diep gat beland het. Die waens kon ook uitmekaar gehaal word om oor ‘n hoë berg of groot rivier te vervoer. Om die houtwerk te beskerm, is die waens geverf — buite gewoonlik donkergroen, binne dikwels blou.

    Kenmerkend van die wa was verder die kakebeenvorm, die wiele in kommetjievorm (omdat hulle sterker was as die gewone regaf wiel) en die kaptent van bamboesstokke of bondels latte waaroor ‘n seildoek geplaas is wat met byewas of olie behandel is om dit waterdig te maak. Wanneer deur digte bosse of doringbome getrek is, is wildsvelle oor die tentkap vasgemaak om skeure te voorkom. Die wakis op die buikplank was sit- én bêreplek.

    Weens die min plek is baie goed in die Kolonie agtergelaat. Gewoonlik is ‘n katel op die wa oorkruis met rieme gespan en voorrade en opvoubare meubels rondom gerangskik. Op die waens was verder klere, komberse en ander beddegoed, meel en onbederfbare kos soos biltong, beskuit en droë vrugte, daarby seep, kerse, leerware soos skoene en swepe, ekstra onderdele vir die waens, en lood en kruit om mee te skiet.

    Die meeste het met meer as 135 kg kruit die reis aangepak. Omdat die Britse regering die Trekkers nie wou toelaat om met skietgoed die land te verlaat nie, en Engelse patrollies die waens tot by die Oranje laat visenteer het, moes smokkelplanne bedink word. Waens het soms twee buikplanke gehad. Die boonste was 15 cm. bokant die onderste, en tussen die twee is lood en kruit weggesteek.

    Soms is die ammunisie, in bokvelsakke toegewerk, met ‘n betroubare persoon vooruit gestuur, wat dit langs die pad begrawe het. Een keer het ‘n vrou ‘n patrollie bemerk, hul sak kruit tot by die kampvuur gesleep, ‘n velkombers oorgegooi en bo-op gaan sit. So het sy die kruit gered, hoewel dit maklik kon ontplof.

    Saam met die waens was vrygestelde slawe, maar sommige het weggeloop. Die oud-slawe was dikwels saam met die wit mense slagoffers van aanvalle. Verder het die trekkers hul diere saamgeneem — nie net beeste, bokke en skape nie, maar ook honde, katte, hoenders en eende. Die Tregardts is soggens deur hanegekraai gewek. Hans de Lange het ‘n mak bobbejaan gehad wat volgens oorlewering selfs kon toulei! Die versorging van die diere was ‘n belangrike deel van die dagtaak. Verliese is soms gely weens allerlei siektes en veldbrande.

    onlineЛобановский Харьков

  • Ontmoetings met sendelinge

    Ontmoetings met sendelinge

    Die reisgeselskap van De Mist kon agterkom in watter moeilike omstandighede baie mense lewe. Op Matjesfontein in die Roggeveld het Lichtenstein geluister na die ervarings van die “dikke” Gerrit van Wyk se dogter. Byna twee jaar tevore het slawe en Khoi-Khoin haar man, Cornelis Coetsee, haar skoonvader en nog drie mense voor haar oë vermoor, die plaas leeg geplunder en met die geld, beeste en ander besittings gevlug. Sy is meegevoer en het ternouernood aan die dood ontkom. ‘n Broer van die vermoorde en sy suster het op die moordplaas gewoon. Sy het Nederlands suiwerder as ander plattelanders gebruik, en die tale van die Xhosas, Khoi-Khoni en San geken.

    In Desember 1803 het die reisgeselskap van De Mist die Herrnhutters se sendingstasie bereik. Ongeveer 200 huise, omring deur goed versorgde tuine, het sowat duisend Khoi-Khoin gehuisves. Daar was vyf sendelinge, wat saam met hul vroue in een huis gewoon het. Die naam is in die Bataafse tyd na Genadendal verander. Die kerkgebou, huise en werkplase was uitstekend onderhou en messemakery was ‘n welvarende bedryf. Na aanleiding van die Herrnhutters het die boere van “herneutermesse” gepraat.

    Verder oos het hulle die veelbesproke Coenraad de Buys teëgekom wat jare lank tussen die Xhosas gewoon het. Sy buitengewone liggaamsbou, fiere houding en hoë voorkop met die skerp omlynde gelaatstrekke het op Lichtenstein die indruk van ‘n Griekse godheid geskep. De Mist se vrae oor die Xhosas het hy beantwoord met ‘n beskeie terughoudendheid, wat ‘n aangename indruk gelaat het.

    ‘n Groot kontras met Genadendal was die sendingstasie Bethelsdorp van De Mist se jeugvriend, dr. J.T. van der Kemp. Hy was ‘n dokter wat tot inkeer gekom het ná ‘n ramp waarby sy vrou en enigste kind verdrink en hy self ‘n noue ontkoming gehad het. Hy was een van die sendelinge wat die Londense Sendinggenootskap in 1799 gestuur het. Op Bethelsdorp het almal in lendelam hutte gewoon. Lichtenstein skryf: “Op ‘n uitgestrekte vlakte sonder een enkele boom, ja byna heeltemal sonder drinkwater, staan 40 tot 50 klein hutte in die gedaante van halwe koeëls, waarin geen mens regop kan staan nie. […] Omtrent in die middel staan ‘n grondhut met ‘n strooidak en vlak langsaan ‘n paar hutte vir die sendelinge. Tans reeds sien alles vervalle daar uit, soos dit ook slordig en armoedig gebou is. Ver in die rondte is in die geheel omtrent geen struik te sien nie, want wat daar maar van dié aard te vinde was, is tot brandstof gebruik; die hele grond is oral kaal en plat getrap; nêrens is enige spoor van menslike vlyt nie.”

    Die traagheid en morsigheid op Bethelsdorp het ‘n teenstelling gevorm met die ywer van die boere om hul plase te herbou. So het die weduwee en kinders van ene veldkortnet Van Rooyen wat deur die Xhosas vermoor is, die landerye netjies geskoffel en die gaste met druiwe en spanspek onthaal. Tydelik het die gesin in ‘n meule gewoon, die enigste deel van die pragtige opstal wat nie verbrand is nie. In die omgewing van Graaff-Reinet het vier, vyf gesinne in groepe bymekaar gebly omdat hulle só makliker kon weerstand bied teen aanvallers.

    Nog geskiedenisartikels deur Jaap Steyn (in omgekeerde chronologiese volgorde):

    Reise van Janssens en De Mist

    Die Kaap is weer Hollands

    Kaap kry sy eerste weekblad

    Begin van ‘n kultuurbotsing

    Lady Anne Barnard se waarnemings

    Die eerste goewerneur

    Halfhartige verdediging van die Kaap in 1795

    Herlewing in die boukuns

    Die agteruitgang van Nederland

    Die piëtisme brei uit

    ‘n Groot Kaapse prediker

    Kerklike lewe aan die Kaap

    Die lewe in die Kolonie

    Nuwe name vir nuwe sake

    Verkenning van die land

    Skipbreuke en die held Woltemade

    Sewe Duiwels

    By die uitspanplek

    Op die trekpad tydens die Groot Trek

    ’n Nuwe geldstelsel aan die Kaap

    Die Afrikaner se eerste demokratiese opvattings

    Godsdienstigheid van die trekboere

    Die lewe van die 18de-eeuse trekboere

    Hoe ‘n admiraal en ‘n prins Afrikaans gered het

     

    мед справка 095Данильченко Юрий прокурор

  • Reise van Janssens en De Mist

    Reise van Janssens en De Mist

    JanssensEers goewerneur Janssens, en later kommissaris-generaal De Mist het omvattende reise in die binneland onderneem. Die laaste gerieflike woonhuis waarin Janssens op pad na die oosgrens tuisgegaan het, was die boerewoning van Hillegard Mulder. In een van die grootste vertrekke het daar ‘n orrel gestaan. Daar het die gesin en die bure op Sondag byeengekom om godsdiensoefening te hou.

    By die Gouritsrivier het Janssens die eerste daklose vreemdelinge teëgekom uit die gebiede wat deur die Xhosas en Khoi-Khoi geplunder is. In die omtrek van Algoabaai het die deerniswekkende toestand van groepies boere wat van hul plase verdryf was, die goewerneur diep getref. Graaff-Reinet was in ‘n treurige toestand. Die kerk, wat deur die Engelse as kaserne vir die pandoers gebruik is, was verweer. Baie huise was in puin en tuine verwaarloos. Al het net sowat twee-derde van die boere hul verliese bekend gemaak, was tussen 800 en 900 perde en byna 75 000 beeste en skape verlore.

    Nadat Janssens met die vraagstukke aan die grens kennis gemaak het, het hy besef dat die verhouding tussen wit en swart aldaar net kon baat vind by die beperking van kontak tussen die twee groepe. Hy het bepaal dat geen wit mens ‘n swarte in sy diens mag neem nie, onder meer omdat verskille tussen individue tot algemene twiste kon lei. Janssens het ‘n klein klompie soldate onder kaptein L. Alberti by Algoabaai gelaat om die vrede aan die grens te probeer handhaaf. Alberti het later in ‘n boek geskryf dat daar twee grondbeginsels vir rus en welvaart is: dat die swartes binne hulle grense bly en dat alle omgang tussen wit en swart mense beëindig moes word.

    Ná Janssens se terugkeer het De Mist op 22 Oktober 1803 met ‘n gevolg van 22 wit mense en 17 Khoi-Khoi uit Kaapstad vertrek. Onder hulle was die Duitse geneesheer dr. M.H.K. Lichtenstein, De Mist se seun Arnoldus Lambert, sy dogter Augusta en ‘n vriendin mej. E.M. Versveld. Die geselskap het eers noord en daarna ooswaarts gereis. Op die reis kon De Mist tot ander insigte oor die Kaapse samelewing kom. Sowel De Mist as Janssens was voorheen sterk onder die invloed van die leerstellings van Rousseau oor die “edele barbaar”. De Mist het toegegee dat hy te maklik geglo het aan John Barrow en die Fransman L. Degrandpére wat die grensboere so ongunstig beskryf het. Toe De Mist in 1803 self die toestand aan die grens waargeneem het, het hy geskryf hy kon nooit vermoed dat skrywers soos dié twee “enkel uit nationale nijd” soveel lasterlike onwaarhede kon verkondig nie.

    Soos ander reisigers voor hulle, is de Mist en sy geselskap hartlik in die boerewonings ontvang. Lichtenstein, wat dikwels in Barrow se geskrifte van die “onbeskaafde boere” gelees het, moes hom telkens verbaas oor die aangename maniere van die mense wie se gasvryheid hulle geniet het. By “Prammeberg” in die Karoo verwonder hy hom oor die aangebore goeie maniere en natuurlike beleefdheid van die boere in ‘n droë eensame wêreld. Boere het met hul waens en gesinne van heinde en verre gekom om die geselskap te verwelkom. Almal het persentjies van wild of die een of ander eetgoed gebring. In Anna Böeseken se samevatting van De Mist se reis (waarvan hier gebruik gemaak is) lui een van die opskrifte: “Beskaafdheid van die Boere het Lichtenstein verbaas”.

    план бани фотоалександр лобановский супермаркет класс

  • Die Kaap is weer Hollands

    Dít was sedert Mei 1795 die offisiële benaming van die Nederlandse staat. Dié het in Januarie 1795 tot stand gekom ná die inval deur die Franse en die vertrek van Willem van Oranje na Engeland. Dit het eintlik maar 'n onderhorige staat van Frankryk geword en is deur 'n Franse leër beset. Die republiek het sy naam ontleen aan die Germaanse stam die Batawe of Bataviere, oor wie se heldedade in die Romeinse Ryk die Romeinse skrywers Plinius en Tacitus geskryf het.

    Die Kaap is weer Hollands!, het die burgers uitgeroep — en dit het 'n spreekwoord gebly vir "alles is weer reg". Die gesag is oorgedra aan twee bekwame kommissarisse-generaal: Jacob Abraham de Mist en genl. Jan Willem Janssens, wat die amp van goewerneur sou beklee. Hulle het op 23 Desember 1802 in Kaapstad aangekom. Op 31 Desember het die Britse goewerneur, genl.-maj. F. Dundas, 'n proklamasie uitgevaardig dat almal wat die eed van trou aan die Britse koning afgelê het, daarvan ontslaan sou wees. Weens allerlei omstandighede kom De Mist eers op 1 Maart per proklamasie aankondig dat hy die bestuur oorgeneem het. Op dié dag het De Mist vir Janssens n  'n dankdiens in die kerk as goewerneur voorgestel aan "'n ontsaglike menigte" (aldus die Kaapsche Stads Courant) in die kasteel.

    Op dieselfde dag het hy die politieke raad, of raad van politie, soos hy dit genoem het, herstig. Daar was net een gebore Kapenaar onder die vier lede wat die goewerneur moes bystaan. Demokrasie was daar nog nie. Ook die nuwe prokureur-generaal, G. Beelaerts van Blokland, het dié dag sy opdrag van werksaamhede ontvang. Die naam "fiskaal" het verdwyn en in die nuwe raad van justisie sou goed geskoolde regsgeleerdes dien. Teen die einde van die maand het ook die rekenkamer, wat die landsinkomste moes ontvang en die geldsake van die land moes beheer, met sy werksaamhede begin.

    Daar sou ses distrikte wees: Kaapstad, Stellenbosch, Swellendam, Graaff-Reinet, Uitenhage en Tulbagh. As bestuurshoof van laasgenoemde vyf sou 'n landdros en heemrade optree (in Kaapstad 'n "raad der gemeente"), wat die regterlike gesag sou beklee. Die landdros moes onder meer toesig hou oor die onderwys, sorg dat die Khoi-Khoin as vrye mense behandel word, toesien dat "die nasies langs die grense" nie rede sou hê om geweld te pleeg nie, die slawe beskerm, waak oor die ongestoorde beoefening van die openbare godsdiens en mense aanmoedig om dienste by te woon. De Mist het in 1804 'n kerkorde uitgevaardig. Die kerk het feitlik onder die gesag van die owerheid gestaan en moes byvoorbeeld toestemming gee om 'n nuwe kerk te bou of 'n godsdienstige samekoms te hou, behalwe dié op Sondae en feesdae.

    ле шато брион фиалка фотолобановский обыск

  • Kaap kry sy eerste weekblad

    Die Kompanjie het gemeen dat 'n pers aan die Kaap 'n instrument van revolusie kon word. Die owerheid was onthuts oor die strewes van die Kaapse "patriotte" wat in 1779 'n drukpers aan die Kaap gevra het sodat wette, regulasies en ander regeringskennisgewings makliker versprei kon word. Die Here XVII het dit verwerp. Die bewindhebbers het amptelike dokumente in Nederland laat druk en met die seilskepe teruggebring. Aan die Kaap moes dokumente met die hand geskryf word. Eers in 1794 het die Here XVII ingesien dat 'n drukpers koste kon bespaar en toestemming gegee dat die Kaap een kon kry.

    Die eerste Afrikaner wat koerantredakteur geword het, was in Nederland redakteur van die Nationale Courant en later die felle Jakobynse Oprechte Bataafsche Courant van Amsterdam. Hy was Johannes Henricus Redelinghuijs (1756 – 1802), wat as 'n verteenwoordiger van die klaende Kaapse burgers na Nederland gegaan het. Hy het homself 'n "Afrikaan" genoem en die Kaap as sy "vaderland" beskou, maar moes noodgedwonge sy ideë oor "vrijheid, gelijkheid en broederschap" in Nederland verkondig. In Nederlandse koerante het hy die Kapenaars teen die Engelse gewaarsku en 'n beroep op hulle gedoen om deur middel van 'n revolusie 'n volksregering tot stand te bring.

    Ná die eerste Britse besetting het die eerste drukpersbedywighede aan die Kaap begin. Goewerneur sir George Yonge het in Julie 1800 die Kaapse handelshuis van Alexander Walker en John Robertson gemagtig om 'n drukpers op te rig en 'n weeklikse nuusblad te publiseer. Op Saterdag 16 Augustus 1800 het die eerste nommer van die tweetalige blad The Cape Town Gazette and African Advertiser/ Kaapsche Stads Courant en Afrikaansche Berigter verskyn.

    Die regering het die blad in 1801 gekoop. Daarna kon niks gedruk word wat nie die volle goedkeuring van die owerheid geniet nie. Die blad het die jongste oorsese nuus aangebied, maar dié was reeds 'n paar maande oud.

    Die eerste jaargang bevat, behalwe handelsnuus en die soort amptelike berigte wat gewoonlik in 'n staatskoerant verskyn, ook binne- en buitelandse nuus: oor die komende perdewedrenne, 'n waaghalsige inbraak, deur die dak, van ene mnr. Van den Berg se huis regoor die Parade, die Franse Revolusie wat op 4 Oktober beskryf word as een van die verskriklikste gebeurtenisse in die geskiedenis.

    Op 16 Augustus 1802 verneem die Kapenaars van die vrede van Amiens met Napoleon. Vroeg in 1803 is die blad nog tweetalig gepubliseer, maar op 26 Maart 1803 is aangekondig dat dit van April af net in Hollands sou verskyn, hoewel kennisgewings in Engels, Duits en Frans toegelaat sou word. Hierdie aankondiging was aanduiding van 'n verandering van regering aan die Kaap.

    гидробак джилексФильчаков прокурор отзывы