‘n Patriargale lewenswyse

Deel op

Die gevestigde boer het soos ‘n outydse edelman sy groot huishouding ingerig en geregeer. Lichtenstein gee ‘n beskrywing van die lewe op die plaas van Jakob Laubscher nie ver van Saldanhabaai. Die woonhuis, stalle, skure en werkkamers was goed ingerig. Laubscher het 80 perde, 690 beeste, byna 3 000 skape en baie pluimvee besit; hy het 60 mud koring gesaai en daagliks aan 105 mense kos gegee.

Lichtenstein skryf dat so ‘n boerdery meer na ‘n klein, selfstandige en afgesonderde staat lyk, waarvan die lede mekaar bystaan en van mekaar afhanklik is. Uit die opbrengs van die lande en die veetroppe moet die mense onderhou word. Daar is geen handwerk waarin nie minstens een van die slawe bedrewe is nie. Die huisbaas wat van al die soorte werk iets af weet, hou toesig. “Ofskoon hy self geen hand aan die werk slaan nie, sou dit nogtans die hoogste onregverdigheid wees om hom van luiheid te beskuldig. Die Afrikaanse landman is inderdaad werksaam en bedrywig sonder dié uitwendige besigheidsgedoente en woelagtige bestellery, waarmee in Europa die luiheid en werkloosheid soms so mooi bemantel word.”

Die huismoeder met haar dogters en slavinne het die groot huishouding van kos en klere voorsien, botter en seep gemaak, konfyt gekook en dergelike. By feesgeleenthede, soos ‘n bruilof, die verjaardag van die huisvader, ‘n vendusie of as daar kuiergaste is, het die boervrou uitgehaal en ‘n groot oorvloed van lekkernye aan haar gaste voorgesit: gebraaide speenvarkies, pluimvee, kerrievleis, sosaties, blatjang, ingemaakte vrugte.

Dié welvaart onder die landbouers was kleiner in die binneland. Oos van Swellendam en noord van die Olifantsrivier het boere meestal gewoon in hartbeeshuisies, soms met net twee vertrekke. Die meubels was self gemaak, en die kos, met vleis steeds die hoofgereg, ietwat vervelig. Die veeboer was ook eenvoudiger geklee. Hy het gewoonlik ‘n breërandhoed, kort baadjie, growwe hemp, lang, wye velbroek en velskoene gedra. Die opmerklikste kledingstuk van die vrou was die kappie. Die behoeftes van die binnelanders was beperk: wol- en linnegoed, koffie, tee en suiker, breekgoed, lood, yster, gewere en ammunisie. Koffie en tee was die nasionale dranke. Volgens Lichtenstein het seker drie uit elke tien koloniste glad nie wyn of brandewyn gedrink nie, en die res het so min gedrink dat dronkenskap baie seldsaam was. Oor Barrow se stories van dronkenskap skryf Lichtenstein: “Wat Barrow ook van die sopie as ‘n geliefkoosde drank van die koloniste mag vertel, ek kan nogtans heilig verseker dat ek gedurende die hele tyd van my verblyf onder die koloniste slegs eenkeer ‘n gebore Afrikaner dronk gesien het.”

Oor een swak plek in die Afrikaanse karakter is die belangrikste beriggewers dit eens: dwarstrekkery en onderlinge vyandskap wat soms selfs onder broers voorgekom het. Bure het soms jare lank ‘n wrok teen mekaar gekoester. Die twiste was gewoonlik oor grense, want die leningsplase was nie duidelik afgebaken nie. Daar was ‘n iets waar van die gesegde dat elke boer met almal op vriendskaplike voet was, behalwe met sy bure.

бани внутритопкарго кидалы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.