‘Dis kruipende volksmoord’: kommentaar oor uitwissing van Randfontein-gesin

Volgens die polisie se hersamestelling van gebeure by die huis op ‘n kleinhoewe in Randfontein waar Kennith McCormick (42) se gesin wreedaardig uitgemoor is, het klein Kayla Meyer (9) gepoog om te gaan wegkruip toe sy deur die moordenaars gevang is. Hulle het die dogtertjie se handjies eers met draad vasgebind, haar gewurg en waarskynlik met ‘n graaf doodgeslaan.

In kommentaar op sosiale media het mense hul skok en afgryse oor die moorde uitgespreek, met die PRAAG-rubriekskrywer J.H. du Toit wat dit as ‘n “kruipende volksmoord” bestempel het. Hy het hom soos volg op ‘n Media24-webblad uitgelaat:

Dit help nie dat Afrikaans op universiteite as rassisties gesien word, maar hierdie moorde wat duidelik deur rassistiese haat gedryf is, word nie as rassisme gebrandmerk nie.

As die ANC en EFF voortgaan met hulle rassistiese veldtog teen die wit minderheid sal hierdie tipe haatmisdaad net toeneem.

Hierdie is deel van ‘n kruipende volksmood.

Op die vermoorde paartjie Kennith McCormack en Marietjie Meyer se Facebookprofiele het ou skoolvriende en familie gister hul verdriet en medelye uitgespreek. Marietjie Meyer (45) was ‘n oudleerling van die Hoër Volkskool Heidelberg. Robert Sutadi Horneman skryf op Facebook:

Marietjie “Blackie” Meyer saam met ons in tagtigsmatriek 1988-matriek eind-1987-koshuis is wreed vermoor deur julle weet wie saam met haar dogterjie van 9, haar verloofde en skoonpa. Niks gesteel nie, net doodgeslaan, f** die bliksemse addergebroed.

Anna Sada Wiese skryf ook op Facebook:

Jy was soos ‘n suster vir ons, ek kan dit nog nie glo nie. Ons harte is stukkend, bid vir ons Vader dat hy na julle kyk en vir dié wat dit gedoen het, geen genade het nie. Ons gaan hulle kry, sal nie wegkom nie. Die mense wat dit gedoen het is nie mense nie, hulle is monsters. God slaap nie!!!

Aandoenlike foto’s van die vier vermoordes is steeds op Facebook te sien, soos dié hier bo van Marietjie en Kayla Meyer. Die gesin moes tydens ontbyt deur hul aanvallers oorval gewees het, want Saterdag was vier snye gesmeerde brood en twee koppies koffie nog op die kombuistafel waar hulle klaarblyklik verkeer het.

Die eienaar van die kleinhoewe in Rodora, Randfontein, wil nie sy naam in die media gepubliseer hê nie uit vrees dat hy geviktimiseer mag word. Hy het egter aan ‘n Sondagkoerant gesê: “Ek weet vir ‘n feit dit was nie ‘n rooftog nie.”

Kennith McCormack (42)
Kennith McCormack (42)

Vanweë die swaar reën wat verlede week aan die Rand uitgesak het, het hy niks van die moorde gesien of gehoor nie. Die laaste keer wat hy vir Kennith McCormack gesien het, was Woensdagaand. Kennith McCormack en Marietjie Meyer het in ‘n tydelike huis op die kleinhoewe gewoon terwyl hulle ‘n houthuis elders op die kleinhoewe met swart arbeid laat bou het. Woensdagaand was Kennith nog op pad na die houthuis om die werkers se daglone te gaan betaal.

Terwyl die moorde waarskynlik Donderdagoggend gepleeg is, het niemand onraad vermoed nie. Die bebloede lyk van Kennith McCormack se vader, Monty (73), is eers Donderdagaand deur ‘n vriend van Kennith op klein Kayla se bed ontdek. Hierna het ‘n soektog na die ander gesinslede gevolg.

Marietjie Meyer het voorheen in die Hartebeespoortdam-omgewing gewoon, iets wat nou nog só op haar Facebookprofiel aangedui word.

‘n Vriend, Tony van der Westhuizen, het die volgende boodskap op haar Facebook gelaat:

Marietjie Meyer, ons sal jou nog lank onthou. Ons gebede is met haar familie en vriende gedurende dié moeilike tyd! Marietjie, haar verloofde, haar 9-jarige meisie en skoonpa is maar net nog syfers op die statistieke van plaasmoorde! Vir my is dit so onwerklik, kan so iets wreeds gebeur met iemand wat ek ken en kan enige mens so wreed wees met ‘n kind?

Die polisie ondersoek steeds die moorde, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.