Drie nuwe universiteite

Deel op
Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys. Solank dit swart is, dra dit sy goedkeuring weg.
Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys. Solank dit swart is, dra dit sy goedkeuring weg.

deur Leon Lemmer

2014 kan ‘n belangrike jaar in die geskiedenis van Suid-Afrika wees omdat daar met onderrig aan drie nuwe universiteite begin is. Die vraag is of hierdie instansies die land se akademiese aansien gaan verhoog, of gaan hulle toonbeelde van nog onhaalbare “uitdagings”, dus mislukkings, wees?

Een van die nuwe universiteite is in Kimberley gesetel. Dit is in 2013 na Sol Plaatje (1876-1932), die eerste sekretaris-generaal van die ANC, vernoem. Die rede vir hierdie vernoeming is, volgens die nasionale minister van hoër onderwys en die sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, Blade Nzimande, dat Plaatje na ‘n eeu vereer is vanweë sy veldtog teen die wet op die grondbesit van swartes (wet no 17 van 1913). (Die Universiteit van Suid-Afrika/Unisa het in 2013 die biblioteek op sy Florida-kampus ook na Plaatje vernoem.) Kimberley geniet dus die twyfelagtige onderskeiding dat hy die tuiste van die derde universiteit is wat na ‘n ANC-aktivis vernoem is. Die ander twee aktiviste (en universiteite) is Nelson Mandela (Port Elizabeth) en Walter Sisulu (Umtata/Mthatha). Die grondlegging van die Kimberley-universiteit is klaarblyklik foutief omdat dit openlik sterk ideologies pleks van akademies gemotiveerd is.

Vanjaar sou net 135 studente toegelaat word. Die bekendstelling van die universiteit verlede jaar is oorheers deur drie swartes: Nzimande, die premier van die Noord-Kaap en die burgemeester van Kimberley. In die universiteitsraad dien hoofsaaklik swartes en ‘n Indiër, ‘n ingenieur, is as rektor aangestel. Op die webwerf word hulde aan oorlede Nelson Mandela gebring. Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) was betrokke by die aanvoorwerk vir die universiteit. (Wat ek interessant vind, is dat onderrig in mynbou in 1896 in Kimberley begin is, maar dat onderrig hierin in 1904 na Johannesburg verskuif is. In 1922 het hierdie instansie Wits geword.)

Die aansoekvorm wat studente moet voltooi (en wat vereis dat etnisiteit aangedui moet word) en die brosjure is uitsluitlik in Engels. Nzimande het die vermetelheid om in die brosjure gunstig na die ANC se vryheidsmanifes te verwys. Nêrens word die onderrigtaal van die universiteit genoem nie. Blykbaar word dit vanselfsprekend geag dat dit Engels moet wees. Daar word gewag gemaak van “diversity” en “inclusiveness”, maar dit geld sekerlik nie Afrikaans as onderrigtaal nie en dít in ‘n provinsie waar die inwoners oorheersend eerder Afrikaans- as Engelssprekend is. Nêrens op die internet kon ek ‘n teken van Afrikanerinvloed op die universiteit opspoor nie, al dien Suid-Afrika se geskiedenis van skool- en hoër onderwys as bewys dat Afrikaners op hierdie terrein uitmuntend presteer het. My gevolgtrekking is dat dit vir die ANC en by name Nzimande nie in die eerste plek om die akademie gaan nie, maar om ideologie.

Die Universiteit Mpumalanga in Nelspruit (Bbombela genoem) is die tweede nuwe universiteit wat vanjaar begin funksioneer het en wel met 140 studente. Die aansoekvorm en brosjure is soortgelyk aan dié van Sol Plaatje. Die rektor is ‘n swart medikus en die universiteitsraadraad is oorheersend swart, maar daar is een wit Afrikaanssprekende, Chris de Beer. Die universiteite Johannesburg, Pretoria en Wits is by die aanvoorwerk betrek. Nzimande herhaal in die brosjure sy vermetele verwysing na die ANC se vryheidsmanifes. ANC-politieke retoriek is erger as by Sol Plaatje, bv: inclusive, progressive, justice, equality, transformation. “The New university will ensure that the inbalances and injustices of the past are redressed.” Hierdie universiteit is sekerlik ook eentalig Engels. Hy word gekarakteriseer as ‘n “African university” wat vir sowel Suid-Afrika as Afrika bestaan. Dit gaan om die “African experience” waarin “African languages” vir spesiale aandag uitgesonder word. Sy inklusiwiteit sluit klaarblyklik nie Afrikaans in nie.

Die derde nuwe universiteit wat vanjaar begin funksioneer het, is die polisie-universiteit in die Paarl. Wat in die berigte verswyg word, is dat dit ‘n herlewing is van die opleidingsfasilteit wat deur die NP-regering aan die begin van die jare negentig in Graaff-Reinet gevestig is. Opleiding in Unisa se graad BA (Polisiekunde) is aan ‘n veelrassige groep studente verskaf. Die dosente was (hoofsaaklik) wit. Dit is moontlik om hierdie rede dat die ANC-regering in 1997 besluit om hierdie fasiliteit te sluit. Die punt is, die universiteit in die Paarl is nie iets wat die ANC-regering uitgedink het nie. Dit is veel eerder ‘n poging van die ANC-regering om een van sy baie blapse reg te maak.

Die Burger (31 Jan, p 4) het ‘n foto van die amptelike opening van die Paalse universiteit gepubliseer, wat die vorige dag plaasgevind het. ‘n See van uitsluitlik swart studente kan gesien word. In die bygaande berig word genoem dat 125 studente gekeur is, waarvan slegs 23 vroue is. Generaal-majoor Vusi Nyalunga het verduidelik dat die ideaal is om aan ‘n gelyke getal mans en vroue die geleentheid te bied om Unisa se baccalaureus-graad in polisiëring te verwerf, maar dat daar nie meer geskikte vroue kandidate gevind kon word nie. Nathi Mthethwa, die nasionale minister van polisie, het gesê “daar sal iets aan dié ongelykheid gedoen moet word.” Hy is klaarblyklik sterk ten gunste van ‘n seksistiese keuringsgrondslag. Die nasionale polisiekommissaris, generaal Riah Phiyega, het gesê die opening van die universiteit is “die begin van transformasie” in die polisie. Mandla Makhanya, die rektor van Unisa, was ook daar.

Let op die skynbare algehele afwesigheid van blankes. Die genoemde vier dik spykers is almal swart, terwyl dit algemeen bekend is dat blankes, maar veral Afrikaners, hulle as voortreflike funksionarisse in skool en naskoolse onderwys bewys het. Dit lyk asof hierdie universiteit van die begin af op ‘n rassistiese en seksistiese grondslag bedryf gaan word. Hierdie ideologiese propaganda word deur Phiyega in die woord “transformasie” (verandering, distansiëring van blanke leiding, ontwitting) saamgevat.

Maar ek sal nie verbaas wees as daar tog enkele blankes onder die studente is nie. Daar sal nie twaalf of dertien wittes wees soos wat deur die magiese demografie (10%) vereis word nie. Ook nie ‘n meerderheid blanke studente soos daar seker ingevolge bekwaamheid en toewyding behoort te wees nie. As daar enkele blankes deur die sif gegaan het, is hulle die spreekwoordelike simbole (“tokens”). Hulle is dan bloot daar om as verweer te dien teen die oorweldigende rassediskriminasie teen blankes wat in die naam van transformasie gepleeg word.

Die skandaligste aspek van die koerantberig is dat verslag oor die getal vrouestudente gedoen word, maar dat hierdie Naspers-publikasie geen poging aanwend om sy lesers oor die getal blanke studente in te lig nie. Sou dit wees dat feminisme aanvaarbaar is, maar dat die koppe-tel van blankes rassisties geag word? Of word sonder meer aanvaar dat die studente en dosente swart sal wees en dit maar in orde is? Ek het my beswaardheid in ‘n teksboodskap gelug, maar dit is nie deur die koerant gepubliseer nie.

Wat opval in al die koerantberigte (ook op die internet) wat ek onder oë gehad het, is dat daar geen belangstelling is of (en indien wel, in hoeverre) wittes en Afrikaans ingesluit word nie. Fatalisties word sonder meer aanvaar dat wittes en Afrikaans deur die ANC-regering sover moontlik uitgesluit word en dat daarin berus behoort te word. Ons het hier te make met ‘n geslag joernaliste wat te vrot is om opstandig te wees; iets waarteen NP van Wyk Louw gewaarsku het.

Unisa se studiemateriaal is tradisioneel in sowel Afrikaans as Engels beskikbaar gestel. Die Afrikaanse materiaal was in werklikheid meesal beter omdat die oorspronklike teks gewoonlik in Afrikaans geskep is omdat die oorgrote meerderheid dosente Afrikaanssprekend was. Die Engelse studiemateriaal was meesal vertalings wat nie altyd goed was nie. Dit behoort moontlik te wees om die Paarlse studente van Afrikaanse Unisa-studiemateriaal te voorsien, maar die dosente in die Paarl sal waarskynlik eentalig Engels wees en nie klaswerk in Afrikaans toelaat nie.

Wat ook nie in die persberigte genoem word nie, is dat hierdie universiteit in die Paarl streng gesproke ‘n onnodige inrigting is. In die vorige eeu het veral blankes oor dekades die graad BA (Polisiekunde) aan Unisa verwerf deur in hulle private tyd op hulle eie en op hulle eie koste te studeer. Hulle is nie deur die polisiediens vir hierdie doel gekeur nie. Hulle het hulleself deur eie inspanning en toewyding akademies bewys. Nou word lede van die polisie, wat salarisse ontvang, ooreenkomstig die ANC se ideologie gekeur en geniet hulle die luukse om voltyds onder die leiding van dosente te studeer. Hulle word dus bevoordeel bo studente wat self hulle studiegeld betaal en op hulle eie aan Unisa studeer. Blykbaar mag ‘n mens se brood maar aan albei kante gebotter word; natuurlik (veral) as jy swart is.

Ek het verlede jaar, toe dit bekend geword het dat nuwe universiteite in die vooruitsig gestel word, talle kere Afrikaanse koerante versoek om ‘n veldtog te voer om te verseker dat die voertaal van hierdie inrigtings Afrikaans moet wees. Nie ‘n enkele keer is my teks gepubliseer nie. Geen veldtog van enige aard is hiervoor deur enige koerant gevoer nie. Die saak is doodgeswyg asof dit onbelangrik is.

Wat opvallend in die pers is, is hoe min aandag hierdie drie nuwe universiteite ontvang. Dit is asof besef word dat alles wat met formele onderrig in die nuwe Suid-Afrika te make het, tot tweederangsheid gedoem is; dat hierdie inrigtings, pleks van prestige-waarde te hê, eerder bronne van verleentheid gaan wees. Die rede hiervoor is dat naskoolse, dus tersiêre, insluitende universitêre, onderrig ‘n verlengstuk van skoolonderrig is. Dit word deesdae al hoe meer aanvaar dat skoolonderrig in die nuwe Suid-Afrika baie vrotter as bv die destydse dikwels verdoemde bantoe-onderwys is. Soos op 4 deser op LitNet geskryf is: “Die akademiese standaarde is dermate aan die daal dat ‘n leerling dalk eersdaags ‘n A-simbool sal kry deur bloot vir die eksamen op te daag; en hy sal nie benadeel mag word deur van hom te vereis dat hy betyds moet wees nie.”

Die ANC-regering speel ‘n ideologiese spel met onderwys. Al is die resultate wat skoliere behaal hoe vrot, ag die regering dit polities noodsaaklik dat die slaagsyfer verkieslik elke jaar met punte-aanpassing verhoog word. Daar is ook die sotlike maatreël waarvolgens die skoolleergang van 12 jaar in vier fases van drie jaar elk verdeel word en geen skolier, hoe vrot hy akademies ook al mag wees, meer as ‘n enkele keer per fase mag druip nie. Die resultaat is dat ‘n skolier graad 12 kan slaag maar bv literêr en wiskundig in groot mate funksioneel ongeletterd kan wees.

Van universiteite word verwag om hierdie akademiese noodgevalle as studente te aanvaar. Wat akademies op skoolvlak agterweë gebly het, moet op universiteitsvlak in die vorm van “oorbruggingskursusse” reggemaak word. Afgesien daarvan dat akademiese standaarde noodwendig ten behoewe van die meerderheid (wat ook in die politiek die kitaar slaan) verlaag word, is daar ook heftige verset as “oorbruggingskursusse” nie as volwaardige akademiese krediete gereken word nie.

In hierdie konteks beteken die tirannie van die meerderheid dat die meeste studente wat tot universiteite toegelaat word (1) akademies nie op universiteitstandaard is nie, (2) desnieteenstaande om etniese en geslagsredes voorkeur by toelating, finansiële hulp en koshuisplasing kry, (3) gesamentlik veroorsaak dat akademiese standaarde verlaag word en (4) na graduering voorkeur by aanstelling en bevordering geniet. Dan is daar mense wat wonder waarom kennis-, kundigheid- en diensstandaarde in die nuwe Suid-Afrika so drasties gedaal het. Vrot skool- en naskoolse onderrig kan hierdie verskynsel in groot mate verklaar.

Wat kan hierdie nuwe universiteite doen om hulle deur akademiese voortreflikheid van die ouer universiteite te onderskeid? (Dit is terselfdertyd ‘n resep vir die verbeterring van al ons universiteite.)

* Eerstens is dit noodsaaklik dat die toelating van studente suiwer akademies moet geskied. Rassistiese en seksistiese oorwegings moet nie soos by die ander plaaslike universiteite ‘n (deurslaggewende) rol speel nie. Net studente wat akademies volgens bewese prestasie op peil is, moet universiteitstoelating kry. Deur die deursnee akademiese gehalte van die studente te lig, word dit moontlik om hoër akademiese standaarde in die onderrig en eksaminering te stel.

* Tweedens moet die personeel op ‘n nie-rassistiese en nie-seksistiese grondslag ingevolge bekwaamheid aangestel en bevorder word. Dit is die enigste manier waarop ‘n doeltreffende en suksesvolle universiteit daargestel en uitgebou kan word. Veral die personeel wat onderrig verskaf en navorsing doen, moet op suiwer akademiese gronde (bv formele kwalifikasies, ondervinding, publikasies) aangestel en bevorder word.

* Derdens behoort studente eers algemeen vormende kursusse suksesvol te voltooi voordat hulle aan gespesialiseerde kursusse blootgestel word. So ‘n strategie is onontbeerlik in ‘n land waar die skoolonderrig vrot is. Die universiteit moet teruggaan na sy historiese wortels, toe dit ‘n plek was waar voorgraadse studente as mense geestelik gevorm is. Vir hierdie doel kan die sewe vrye kunste, die trivium en die quadrivium, of Robert Hutchins en Mortimer Adler se Great Books Program, in aangepaste vorm in ‘n verpligte aanvangskernleerlang benut word. Daarna kan die studente toegelaat word om in bepaalde vakrigtings, individuele vakdissiplines of beroepe te spesialiseer. Aan die drie nuwe universiteite word net gespesialiseerde kursusse in die vooruitsig gestel. Dit is om van te ween.

* Vierdens behoort dit duidelik te wees dat ‘n onderliggende en rigtinggewende akademiese teorie of filosofie, geformuleer in ‘n eksplisiete beleid wat genadeloos toegepas word, noodsaaklik vir akademiese sukses is. Dit moet onder meer twee ononderhandelbare beginsels insluit:

Enersyds is universitêre outonomie noodsaaklik. Dit beteken dat slegs die universiteit seggenskap oor akademiese sake het. Geen inmenging van die staat (die departement hoër onderwys) en die regering (die president, kabinet, minister van hoër onderwys, premiers) moet geduld word nie. Die betrokke minister moet bv nie die reg hê om, soos tans, universiteite met die terughouding van owerheidsubsidie af te dreig sodat hulle na sy pype moet dans nie.

Andersyds is akademiese vryheid noodsaaklik. Anders as (sommige van) die ouer universiteite wat openlik en eensydig bronne van ANC-/kommunitiese propaganda is, behoort die nuwe inrigtings hulle ondubbelsinnig by ideologiese (politieke en godsdienstige) neutraliteit te skaar. Dit beteken dat studente op ‘n ewewigtige, objektiewe manier aan verskillende ideologieë blootgestel moet word.

Al drie die nuwe universiteite het op ‘n verkeerde, dwase, ideologie-gedrewe ANC-manier begin. Alles is nie noodwendig vir altyd verlore nie. As die bogenoemde riglyne gevolg word, kan daar mettertyd egte akademiese inrigtings ontwikkel waarop die land trots kan wees. Maar dit is helaas hoogs waarskynlik ‘n tevergeefse hoop.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.