‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter
Lees eers Bodem 28 en alle vorige episodes.
Die lewe skop weer af met koffie.
Kort ná sonsopkoms het hulle begin verskyn, soos diere na ʼn vloed, versigtig, asof hulle eers wou seker maak die planeet het nie uit afgryse oor wat mense in die nag aan mekaar kan doen, ophou bestaan nie.
In hierdie eerste verskyning aan mekaar, verwyder hulle ook, sonder oordenking, ʼn klein, ferm skans onder hulle. Hierdie middelklasmense het nog altyd (met die ooglopende uitsondering van Bart Kolver) netjies geklee en goedversorg tussen mekaar beweeg: Beskawing, tradisie en doodgewone ordentlikheid het dit vereis. Hierdie oggend is hulle in klere wat uithang, los flap en skeef lê. Van hulle het nog die modderbekoekte en bloedbespatte drag wat as rekord van die vorige nag dien, aan. Mansgesigte is ongeskeer, oë is bloedbelope, monde droog en bakteries.
Hulle het oor vaak gesigte gevryf en onnadenkend jeukplekke in armholtes gekrap en sonder ʼn hand voor die mond gegaap.
Hulle het mekaar gegroet in hees, slymerige vroegoggendstemme, kop geknik, miskien stram gegrinnik, want wat is die protokol na só ʼn nag? Omhels julle mekaar omdat julle oorleef het? Probeer jy iets diepsinnigs sê sodat die gewigtigheid van die situasie ʼn tydlose byskrif kan hê, of miskien ʼn wrang grappie om die stram atmosfeer te prik? Of laat jy trane oor jou ingesuigde wange los om jou menslikheid te herbevestig?
Jy weet nie, want jy was nog nooit daar nie, so jy begin by die begin en die begin van die dag is blaaslediging, wat die vroue en meisies in ʼn geduldige ry by Bart se uiters tydelike fasiliteit doen en die mans met groot en onregverdige gemak buite sig, voor die motors verrig. En dan maak hulle koffie.
Bart Kolver het vroeg reeds ʼn groot, geduikte emaljeketel vol water op ʼn verbleikte blou gasbottel en roetgesmeerde kookplaat aan die gang en hoewel daar ooglopende agterdog oor die higiëne van sy toerusting was, het die treklede hulle kampbekers geredelik aangedra vir kookwater waarin hulle teelepels Nescafé of Ricoffy kon skep en met suiker of Cremora of suiker én Cremora inklits.
Dis asof die walms van die warm koffie die skerp rande van ongemak stomp maak en hulle begin in klein groepies staan, herwin hulle stemme en gesprekke slaan op. Hulle begin deur mekaar se welstand te behandel en dan is daar ʼn wisselhandel van brokkies inligting en die uitgebreide proses om ʼn samehangende beeld van die nag se gebeure saam te stel, begin.
“Koppietjie vir die ou girl,” sê Bart en kantel die ketel se tuit vir die kookwater om te midde van dik, rein dampe in Alba Verhoef se rooi plastiekbeker te plons.
“Dankie Bart,” sê Alba. “Ek voel vanoggend oud.”
“Oud? Oud! Wag dat jy my ouderdom is.
“Ek hoor jy het soos ʼn wilde jong pop baklei laasnag?”
“Ag tog,” sê sy vies. “Ek het twee magasyne leeg geskiet en twee skote het getref. Twee! Op minder as tien treë.
“En Bart, ek is tien jaar ouer as jy as ek ʼn dag is.”
“Dis nie dae wat tel nie, Albatjie, dis myle, veral myle op klipperige paaie.
“Jou myle, as ek so kyk, is almal op teerstrate gedoen. In ʼn Cadillac. Met air-con. En lugsuspensie.”
“Van my myle weet jy niks.”
“Nou praat jy waar. Wie van ons ken ʼn ander se myle?
“En dié is vir Byl?”
Hy kopwys na die blou beker in haar ander hand.
“Byl?” vra sy en hou die beker uit. “Gielie?”
“Ja. Gielie. Byl.”
“Ek weet nie of ek gemaklik is daarmee dat julle hom Byl noem nie.”
“Dan moes hy die byl laasnag by die huis gelos het.”
Alba gaan na die Patrol, plaas die bekers op die groot enjinkap en meng die koffie daar. Sy gaan maak die linkeragterdeur oop.
Gielie “Byl” Degenaar lê opgekrul op die agtersitplek, op sy sy, styf in ʼn bondel getrek want daar is baie van hom en die bank is heeltemal te kort. Die reeds legendariese byl lê op die vloer en Alba sien dat die lem ook maar half skoon gevee is.
“Gielie!” sê sy.
Die seun sit sonder enige navraag regop en knip sy oë. Sy kort hare staan in stywe stekels regop en daar is swart strepe en rooi bloedstrepe op sy gesig. Hy het net ʼn kortbroek aan en sy bolyf is aangepak met spiere en sy bo-arms is dik en knopperig.
Sy hou sy koffie na hom toe uit.
“Tannie Alba,” sê hy. “Dankie Tannie.”
Hy proe aan die koffie, sug en kreun tevrede, suig weer daaraan, trek sy lippe dun.
“Hulle noem jou ‘Byl.’”
“Wie Tannie?”
“Die ander.”
“Tannie Alba. Tannie. Ja, dit was… wild. Ek het, Tannie… ek was wild, Tannie. Ek het…”
“Hartjie,” sê sy toe sy sien hy grawe desperaat in sy woordeskat vir die regte uitdrukking, “Hartjie, dis orraait. Ek is trots op jou.”
“Tannie is?”
“Tannie is. Jy het gedoen wat jy moes doen.”
Hy drink aan sy koffie sodat hy niks hoef te sê nie, totdat iets anders, algeheel meer gewigtig in sy gemoed, hom byval.
Hy sit sy koffie versigtig op die vloer van die voertuig neer, strek oor die agterste sitplekleuning tot in die bagasieruim en bring die Browning-haelgeweer te voorskyn. Dit is in twee stukke, die kolf morsaf gebreek in die handgreep.
“Tannie,” sê die seun hees en vermy haar oë. “Tannie, ek is só jammer. Ek het Oom At se haelgeweer gebreek. Ek is so onnosel Tannie. Baie, baie jammer.”
Alba reik in die voertuig in en neem die twee stukke van die haelgeweer. At het die geweer, soos alles, deeglik versorg. Die houtwerk is vernis en gepoleer tot ʼn glans wat in die grein ingetrek het en die loop is ʼn diepdonkerfluweelblou. Dit was sy pa sʼn gewees en At het die wapen gekoester asof al die herinneringe van sy pa daarin ingelê is. Sy vryf met haar duim oor die splinters van die breuk wat soos ʼn beenfraktuur lyk.
“Hoe het jy dit gedoen, Hartjie?” vra sy.
“Ek het ʼn… zombie geslaan, Tannie. My koeëls was op.”
“En wat het die… zombie gedoen?”
“Hy het geval, Tannie.”
“Het hy weer opgestaan?”
Hy dink dis baie snaaks en grinnik. “Tannie. Nee Tannie. Hy het nie weer… opgestaan nie.”
“Dan klink dit vir my die geweer het sy werk gedoen.
“Jy weet, my man het baie wapens gehad. Weet jy wat was sy gunsteling?”
“Hierdie een, Tannie?”
“Amper, maar nee.
“Hy het ʼn ou voorlaaier, ʼn regte bobbejaanboud. Dit was sy oupagrootjie sʼn wat nog saam met Louw Wepener teen die Basotho’s baklei het. Dit het ook gebreek, net hier op dieselfde plek as die haelgeweer, en ek dink vir dieselfde rede want die ou oom was blykbaar ʼn sterke derduiwel. Maar hy het dit reggemaak, met ʼn stuk leer wat hy om die greep gedraai en met riempies vasgewerk het en toe laat droogtrek het.
“Vir my man was dit daardie las wat die geweer so kosbaar gemaak het. As ek my oë toemaak, sien ek hom in sy studeerkamer met die geweer op sy skoot en dan vryf hy so met sy duim oor die leerlas. Vir hom het dit gemaak dat die geweer ʼn storie het om te vertel.
“Ek dink dit sal so wees met die haelgeweer.
“Hoekom vat jy dit nie vir Oom Bart en vra of hy jou kan help nie?”
Jana Verhoef sit op ʼn kussing op die onderstebo plafon van die Unimog met haar bene opgetrek en haar kop op haar voorarms op die knieë. Sy slaap nie – te onrustig oor haar pasiënte daarvoor – maar sy is in die greep van algehele uitputting, ʼn toestand wat sy so goed soos ʼn ou vriend ken.
Sy was nie ʼn onwillige passasier in die konvooi wat so driftig uit Dawnview Park gevlug het nie, eerder ʼn willose een wat haarself daarin laat rangeer het. Vir vyf weke was sy in ʼn halfbewuste toestand in die huis wat sy met haar skoonma gedeel het, terneergedruk omdat die Chaos haar verhinder het om soggens by die privaatkliniek waar sy gewerk het, aan te meld, en steeds gewikkel in die komplekse prosesse ná wat met haar man gebeur het.
Die halfdroomtoestand waarin sy geleef het en waarmee sy die wye 4 x 4 bestyg het, is so brutaal en skielik vervang deur ʼn rou werklikheid waarin sy soos ʼn frontliniedokter skielik vir die behoud van haar pasiënte moes spartel. Terwyl sy jong Brian se ringvinger geamputeer het – met genoeg vel gelos sodat sy die wond kon toewerk – het een gedagte die aarde om haar laat skommel: Dis die eerste aand! Dis die eerste aand van die trek! Die eerste aand! Daar is mos geen kans dat die eerste aand die hewigste sal wees nie? Daarom sal dinge vererger, dit sal!
Sy hoor beweging maar kyk nie om nie totdat Andreas Vermeulen teen die Unimog se agterdeur met sy wysvinger raps en vra of hy die voertuig mag betree. Hy kyk om na Rattus agter hom, sê “Hoi-NA!” skerp en die groot hond sak af tot op die grond, trek sy een agterbeen weg en begin homself raserig lek.
Jana sit terug en rus haar rug teen die bakwerk van die Unimog.
“Seker. Kom in,” sê sy in haar gedempte intensiewesorgstem.
Sy kyk skuinsweg na hom terwyl hy binnekom. Hy is klein vir ʼn man, niks langer as sy nie, en sekerlik – erken sy berouvol – ʼn paar kilogram ligter as sy; skerp gesig en ʼn parate frons; gereserveerd, onthou sy, met ʼn geneigdheid om net sterk menings uit te spreek en dit in goedgekose woorde. Hy het ʼn seilpatrolliesak en ʼn kort, bonkige, swart geweer met ʼn geboë magasyn by hom.
“Hy luister mooi,” sê sy.
Andreas kyk om na Rattus, net vinnig, terwyl hy vroetel met die sluitlussies van die patrolliesak.
“Rattus? Hy moet. Hy is ʼn veldhond. Daar is nie plek vir ʼn hond wat nie kan luister in die veld nie.’ Koffie?”
“Jy weet, ek sal ʼn appendektomie op myself doen met ʼn bottelskerf en ʼn naelknipper vir ʼn beker koffie.”
“Gaan voort,” sê hy. “Ek kyk graag.”
Hy haal ʼn emaljebeker en ʼn halfliterfles van vlekvryestaal uit die sak: “Melk? Suiker?”
“Melk? Waar sal jy melk vandaan kry?
“En suiker is ongesond.”
“Maar lekker, en lekker is wat jy nou nodig het. In elk geval, die melk en die suiker kom saam.”
Hy hou ʼn blik kondensmelk op vir haar om te sien en word besig sonder om vir haar goedkeuring of instemming te wag.
Met ʼn rooi Switserse weermagknipmes pons hy twee gaatjies regoor mekaar in die deksel van die blik, skink die swart, walmryke koffie en hou die kondensmelkblik gekantel bo die beker sodat die geelwit stroop in ʼn lang plastiese stingel daarin loop. Tevrede dat daar genoeg in is, klits hy dit met ʼn teelepel in die koffie in en gee vir haar die beker aan.
In die oggendlig is die koffie ligbruin en ʼn stoomskim maak ʼn lui tiekiedraai daarop. Jana suig daaraan en dit is sterk, baie soet en smaak verruklik.
“Ek weet hoe julle dokters is,” sê Andreas en wieg terug op sy hurke, ʼn posisie waarin hy so gemaklik lyk, dis maklik om te dink hy kan vir ure so sit. Veldmens.
“Ja?”
“Ek bedoel julle en koffie, watse verhouding julle met koffie in julle hospitaaljaar aanknoop.”
“Enige iets om wakker te bly,” sê Jana.
“Waar het jy geswot?”
“Edinburgh.”
“Skotland! Ek’s beïndruk.”
“My oupa was ʼn Skot en my pa was ook ʼn dokter, het sy graad daar gekry. Toutjies is getrek, maar sussie hét hard geleer op skool.
“Vreemde ding is, dis waar ek my man ontmoet het.”
“Tannie Alba se seun?”
“Hmm. Henning Verhoef. Hy was daar vir nagraadse studie, breinsjirurgie.”
“Slim?”
“Briljant verby. Ding is, ek sal my hele lewe hard werk en my bes probeer om ʼn goeie dokter te wees. Hy was dít en soveel meer. Komplekse dinge was vir hom net maklik. As hy eers geweet het iets kan gedoen word, sou hy dit regkry, en selfs dinge wat niemand anders durf waag het nie.
“Hy was net so ʼn goeie mens, geduldig, opreg, snaaks, altyd besorg oor sy pasiënte.”
“Ek is jammer… ek bedoel, ek het gehoor wat gebeur het.”
“Ja. Dankie.
“Darem het hulle hom nie verniet geskiet nie. Hulle hét sy selfoon en beursie gevat. Die ding is net, daar was seker nie twintig rand in sy beursie nie. Hy het nie aan kontant geglo nie. Net kleingeld vir ʼn karwag of ʼn koerant of so. Die res het hy kredietkaarte voor gebruik. Nie ʼn baie praktiese mens nie. En dis hoe hulle hulle gevang het. Toe hulle sy kredietkaart gebruik het.
“En sy selfoon? ʼn Stokou Nokia, want hy was agterdogtig oor nuwe selfoontegnologie. Hy wou nie bederf raak nie.”
“Ja,” sê hy. “Ja. Dis… hartseer.”
“Nou ja,” sê sy. “Dis nie eers ʼn uitsonderlike storie nie. ʼn Absolute alledaagsheid in die reënboogrepubliek.”
Sy suig aan die warm koffie, hou die beker voor haar en kyk daarna.
“Jy red ʼn lewe.”
“Dis my plesier.”
“As ek klaargedrink het, wil ek gaan kyk wat hier buite aangaan.”
“Wat wil jy sien?”
“Of daar iemand is om te help. Gewondes.”
“Daar is nie… gewondes hier nie.”
“Ek was seker ek het pynkrete gehoor na die geskietery.”
“Wel, daar is nie nou gewondes nie.”
Sy drink ʼn klein slukkie en kyk dan stip na Andreas.
“Hoekom, Andreas? Hoekom is daar nie gewondes nie.”
Hy ontwyk nie.
“Daar was. Ek het hulle gaan stilmaak.”
“Stil?”
“Dood, om presies te wees.”
“Jy het gewonde mense… uitgesit? Hoe?”
“Koeël in die kop.”
Die koffie is nie meer so lekker nie.
“Jy’s nie ernstig nie!” sê sy.
Hy trek bloot sy skouers op.
“Dis, dis barbaars!”
“Hulle was barbare.”
“Hulle het ook ʼn reg op lewe, op behandeling!”
“Hulle het dit verbeur die oomblik wat hulle ons agternagesit het. Voor dit. Het jy enige idee wat op die snelweg gebeur het? Ek sal jou wys. Ek het gaan foto’s neem.”
“Gee dit ons die reg om tot hulle vlak te daal?”
“Hulle vlak? Jy dink ons kan tot hulle vlak daal? Jy het geen idee nie, het jy? Geen idee nie!
“Hoeveel voorraad het jy?”
“Voorraad?”
“Medisyne, verbande, drups. Hoeveel morfien het jy?”
“Paar ampules.”
“Hier buite, net hier anderkant, was een met ʼn vergruisde pelvis. Skoot het hom reg op die gespe gevang. Hy was in intense pyn. As ek hom nie geskiet het nie, wat sou jy gedoen het? Hom behandel het?”
“Ja.”
“Morfien gegee het?”
“Ja. Moontlik. Hoe moet ek weet as ek hom nie gesien het nie?”
“En as iemand anders, een van ons, sê maar Tannie Alba, morfien nodig gehad het en jy moes kies wie dit kry, wie sou dit wees?”
“Die een by wie ek eerste kom? Ek… ek weet nie!”
“As daar enige manier is waarop jy enige van hulle kan behandel ten koste van een van ons mense… dan is dit siek, siek!”
“Jy het geen reg gehad om hulle te skiet nie!”
“So ek, ek en Daan-Dirk en Gielie en die ander, ons moes onsself ingehou het en toegelaat het dat hulle… hulle doen wat hulle aan die mense op die snelweg gedoen het?”
“Nee! Dis anders!”
“So ek mag hulle skiet, maar as ek hulle skiet moet ek hulle doodskiet?”
“Ja! Nee! Ek weet nie! Ek kan nie nou oor sulke dinge redekawel nie. Ek is net so ongoddelik moeg!”
Hy trek sy asem in en bly stil.
“Ek weet jy is moeg,” sê hy dan. “Ek’s jammer. Ek het nie kom argumenteer nie. Ek wou net help Ek weet jy is moeg. Ek het my tent bo opgeslaan. Agter my bakkie. Hoekom gaan rus jy nie. Ek sal jou pasiënte monitor.”
“Jy? Jy dink ek sal jou by my pasiënte toelaat na wat jy my vertel het?”
“Wat dink jy gaan ek doen? Vir Barry Hackett ʼn genadedood gee?”
Sy hou haar beker na hom toe en hy neem dit by haar. Dit is nog kwartvol.
“Ek het genoeg gehad,” sê sy, maar dis nie duidelik of sy van die koffie of hom praat nie.
Daar is voetstappe buite die Unimog en dan klop Gielie teen die deur.
“Oom Andreas,” sê hy. “Oom Daan-Dirk sê Oom moet kom, Oom moet gou kom.”
Andreas kyk na die beker in die koffie en sluk dit dan weg.
Hy stop die beker in die sak, kom orent en tel die kort stormgeweer op.
“Totsiens dan,” sê hy. “Ek moet myself ongewild gaan maak.”
Sy wag tot hy uit is.
“Sterkte daarmee,” mompel sy en begin, tot haar verbasing, om te huil.
(Lees vervolgens Bodem 30.)

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.