Bodem 28: Die eerstelig

vlamtoring2‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers Bodem 27 en alle vorige episodes.

In die nat en koue, met onheil hoorbaar om jou, kan jy leer dat luuksheid bepaal word deur verwagting. Die lyf wat mor oor die dikte en digtheid van ʼn duvet kan gekoester voel in modder en wind as die verwagting was dat dit gebruik en gebroke in die veld sou lê.

Cara Karedes het deur die nag teen Joubert gesit, geklou soos ʼn gorillakleintjie teen die borskas van haar iesegrimmige ma. Sy het tussen sy bene gesit, plat met haar agterstewe in die ou natgereënde mis en die modder agter die ou kraalmuur, haar lyf dwars na syne gedraai sodat sy opgetrekte regterbeen haar rug gestut het en beide haar bene oor sy lang linkerbeen wat voor hom uitgestrek is, gedrapeer. Haar arms was om sy nek en haar kop onder sy kakebeen en teen sy borskas.

Hy het haar eers kop en al onder sy poncho ingetrek, want die windvlae het die reën teen hulle vasgesproeiverf, maar dit het vir haar bedompig geword. Omdat daar net een kopopening in die groot reënkleed was, het hy ʼn spleet daarin gesny met sy Leatherman en die poncho omgedraai sodat die kappie oor haar tuimeling van swart hare gegaan het, al het dit beteken dat sy kop buite in die reënwind en koue was.

Die reën het naderhand getaan, ʼn strelende motreën geword en toe meer van ʼn mistigheid totdat dit heeltemal opgehou het asof die nag asem ingetrek het… en dit toe weer uitgeblaas het in ʼn hewige wind, asof die weer self die dade van die nag wou wegblaas soos droë blare voor ʼn waaier uit.

Die Engelse admiraal Horatio Nelson het volgens legende ʼn jas op die dek van ʼn skip in ʼn koue nag geweier deur te sê dat sy plig teenoor sy land en sy koning genoeg is om hom warm te hou. Daardie nag in die reënkoue teen die kraalmuur in die rantjies was Joubert Els se plig en drang om die fyn meisie te beskerm warmte genoeg vir hom.

Al was dit gefilter deur die gesuisel van die reën het die nag die geluide van die geveg duidelik aangedra. Stemme wat roep in die donker, ʼn skoot, krete, meer skote, gille, die gedreun van enjins, die vreeslike taptoe van outomatiese geweervuur, klaagroepe, hernude warreling van kleingeskut…

Dit sou nooit ophou nie, maar dit het. Daar was net die geloei van die nagwind, maar vrees het nie gewyk nie, net van greep verander, want so lank as wat die skote geknal het, kon die verstand kennis wen en rangskik, maar geluidloosheid was vol skimme en skrikwekkende moontlikhede. En tog is die mens se gemoed aanpasbaar, juis omdat dit nie onbepaald ʼn emosie kan volhou nie en daar het ʼn klein vrede oor die twee gekom, ʼn tevredenheid dat, indien niks anders nie, is hulle vir die volgende hartklop veilig en nie alleen nie, teen die skans van ʼn klipmuur.

Joubert Els het met sy arms om die soepel meisiesfiguur gesit in die houding wat bondig verklaar dat enige en alle onheil eers met hom sou moes klaarspeel voor dit by hom sou kom, en dit sou nie maklik wees  nie, het die vrouegemoed sonder ontleding gesnap, want hy is lank en vinnig en die spiere waarteen sy aanleun is jonk en sterk en in sy regterhand wat agter om haar skouer vou, is die harde, saaklike staal van sy groot rewolwer.

Maar omdat jong vlees nie misken kan word  nie, nie eens in die omgewing van doodsgeweld nie, is die Sauer & Sohn naderhand nie al wat hard is en wat hy teen haar hou nie. Hy was eers verskrik en verleë, verbaas, maar gou nie meer nie, want as opstuwing die gevolg van die kontras tussen vroulike broosheid en manlike weerbaarheid is, was die omstandighede ideaal. Daar was nou in hom ʼn akute bewustheid van haar vlees, haar fermsagte lyf, die aangrypende kurwe van haar heup teen sy voorarm, die vrugbare kussingheid van haar een bors teen sy bolyf.

Met die nuwe aandrang van sy eie liggaam moes hy sy posisie verstel en sy het geprotesteer tot hy tot ruste gekom het met alles fisies gerangskik en alles innerlik oorhoops.

Hy het nog altyd regtig net een meisie geken: Jeanelle van die plaas, met haar lenige sonbruin lyf, die klein trotse borste, die gespierde bene van die perderuiter. Haar seksualiteit is op die grens van pellewees gesetel, ʼn uitbundige, vrygewige, onbelemmerde vrouwees. Hy was nooit toegerus om ʼn Cara Karedes te bemin óf te weerstaan nie. Haar vroulikheid was te kwesbaar gevaarlik, te prontuit en verskuil, te intimiderend en te aanmoedigend.

As sy gevoel het wat teen haar bobeen druk – en sy moes! – het sy nie geprotesteer nie, nie kennisgewing van kennisname gegee nie, anders as miskien ʼn klein keelklankie wat ʼn berisping of geamuseerdheid kon gewees het. Wat sy wel gedoen het, ʼn paar keer in die nag, in die antieke ritueel van die vrou in benoudheid wat ʼn alliansie smee met ʼn man wat lank en gespierd of ryk en slim genoeg is om haar te beskerm, het sy opgekyk met die kleinste beweging van haar kop en die water met fyn vingerpunte onder lang gemanikuurde naels van sy winkbroue, neus, wangbene en lippe weggevee voor sy weer opgekrul het teen hom, haar skild in die nag.

En laat hom daarmee natgereën, windverwaai, styfseer gesit en ten hemele dankbaar dat hy nêrens anders is as daar en nou nie.

Hulle was vaarders in ʼn baie groot buitenste ruimte in die karige klein kapsule van hulle aangepaste poncho; biologiese gevoelsbrokkies in ʼn oneindige heelal van onheil en moontlikhede.

Die einde van die nag bring verligting en ʼn einde aan wanhoop, maar die dag bring pyn, verbystering en herinneringe van verlies. Die nag doen sy werk ernstig en somber, maar die dag doen dit met ʼn lag en ʼn verraderlike knipoog.

Daardie oggend kom die daeraad, eers skugter in dofgeel en ligte oranje, maar naderhand so helder soos ʼn glimlag op ʼn betraande gesig. Die ligstrale kleur die buitelyne van motorwrakke en gesneuwelde vegters in en die vonke wat dit slaan maak juwele van doudruppels; diamante in rye langs grasstingels af en robyne in die bloedkolle op lyke.

Daan-Dirk word op sy maag wakker in presies dieselfde posisie waarin hy in ʼn geruislose put van droomlose slaap verval het. Hy is wakker en die omvang en implikasies van die vorige nag se gebeure ruk hom soos ʼn terriër ʼn waterrot sal skud en daar is veral een gedagte in hom, ʼn dringendheid om iets te doen, enige iets, om te beweeg en in beweging te kry om hulle teen enige verdere aanslae en verliese te vrywaar.

Hy stoot sy bolyf regop op sy arms en die pyn slaan slagysterkake in sy rug in, skroeiende weerhake, gloeiende skerwe wat op en af en van kant tot kant verteer met die brandpunt daarvan in die middel van sy blad.

ʼn Swartheid vol swewende ligkolle omring sy visie en hy grom van pyn.

Die tentklap dwarrel en Edna kom gebukkend in.

“Lief!” sê sy. “Stadig!”

Daan-Dirk maak dit tot in ʼn sittende posisie, judostyl met sy maermerries onder hom en sy hande op sy dik bobene. Sy hare staan wild en sy volbaard lyk ongekam.

“Hoe laat is dit? Hoekom is dit al lig?”

“Na ses, amper half-sewe.”

“Half-sewe? Half-sewe. Half-sewe! Hoekom het julle my nie wakker gemaak soos ek gesê het nie?”

“Andreas Vermeulen het gekom en gesê ons kan jou laat rus, hy sal in jou plek waghou. Toe het ek saam met hom gegaan.”

“Jy? Saam met hom?”

“Hy is ʼn baie interessante man.”

“Jy en Andreas Vermeulen?”

“Ons het lekker gevry, net hier voor die karre in die veld, maar as ek swanger raak, kan ons altyd sê dis jou kind.”

“Bliksems, vrou! Dit gaan oor beheer, jy weet? Ek het ʼn reëling getref. Reëlings is nodig, maar reëlings beteken niks as julle julle gatte daaraan afvee nie!”

“Ek het geweet jy gaan vanoggend so wees. Ek het vir die kinders gesê hulle moet uit jou pad bly.”

“Ek is nie ‘só’ nie! Hierdie is belangrik. Ons het belangrike besluite om te neem.”

Hy wieg vorentoe in die handeviervoetposisie en stoot homself wankelrig regop. As pyn hoorbaar was, het iemand die volume nou skerp opgestoot. Hy is vir ʼn oomblik duiselig en wieg van kant na kant. Edna is onmiddellik by, reg om haar skraal skouer onder sy arm in te stoot.

Hy kyk na haar.

“Ek is bly jy is orraait, my wyfie.”

Sy kyk in antwoord na hom en sê sag: “En ek wens jy was.”

“Ek is.”

“Moet ons nie dat die dokter na jou kyk nie. Asseblief. Ek vra mooi.”

“Ek is nie die eerste mens om ooit ʼn skietwond te kry nie. En ek sal nie die laaste wees nie.”

“En as jy van infeksie van ʼn skietwond doodgaan sal jy ook nie die eerste een wees nie en ook nie die laaste nie.”

“Bietjie later. Ek moet eers sien wat is wat.”

Hy stoot die tentflap oop en, steeds in sy bloedbevlekte en modderbespatte klere, strompel hy na buite waar dié wat oorleef het in los groepies versamel om te probeer uitpluis  wat van die lewe oorgebly het.

Joubert ry halfstaande op die Yamaha met die plaaspad af na waar die Karedes’e se Benz ʼn laaste staanplek gevind het en hoe nader hy daaraan kom, hoe meer behoedsaam word hy en verminder hy spoed.

Met eerstelig het hy vir Cara gewek en sy, opnuut oorweldig deur onverwerkte vrees en verdriet, het eenkant gestaan, gesig op die grond voor haar gerig, terwyl hy die Yamaha in posisie gestoot en aan die brand geskop het. Hy was op sy hoede, maar redelik seker dat die aanvallers die gebied ontruim het, want hy het hulle voertuie in die donkeroggend hoor verdwyn. Hy het die poncho opgevou, daarop gaan sit en agter hom op die saal geklop. Cara het daar plaas geneem, maar nou nie styf teen hom soos die vorige nag nie.

Minute later het hulle tussen die lyke in die lang gras gery, teen die  hoogtetjie op tot waar hy, tot sy effense verbasing sy pa en Jeanelle onder een grondseil teen die rotswand aangetref het. Daar was ʼn opregte blydskap in haar, maar ook ʼn vreemde verleë ongemak by haar, selfs toe sy haar arms om hom slinger. Selfs terwyl sy hom omhels het, het hy die liggaam in die ou bekende slaapsak gesien en die hondjie wat daarop opgekrul gelê het. Hy het gevra alhoewel hy reeds die antwoord geken het.

Oom Jack. Oom  Jack. Hy het Oom Jack sy hele goddelike lewe geken. Tweede pa begin nie eers om dit te beskryf nie. Tog het die dag dit nie vir hom gegun om los te torring in ware en verdiende rou nie. Hy het net geknik, op sy tande gekners en gesê hy gaan ry om te sien wat hy kan sien, bedoelende by die Karedes’e.

Cara was skielik verskrik om van hom geskei te wees, en hy het sy hand teen haar wang gesit en dit het nie by hom verbygegaan hoe eenvoudig en gemaklik die gebaar is nie. Sy het haar hand teen syne gesit en haar wang stywer teen sy handpalm gedruk, en toe tog toegelaat dat Jeanelle haar weglei.

Hy ry oor die strook waar hy vir Cara opgeskep het en dan by die grassloot waar sy vir haar aanvallers geskuil het. Nou kan hy die wrak van die Mercedes-Benz voor in die pad sien en hy is bang, bang dat die Karedes’e nie daar sal wees nie, maar vreesbevange dat hy hulle daar sál kry en hy hoop teen alle redelike hoop in dat hulle weg sal wees, net weg, laggende goueketting-Costa, sy netjiese vrou en haar verruklike dogter Kelly.

Maar toe is hulle nie weg nie.

Joubert het die motorfiets dertig meter van die toneel gestop en met sluiptreë nadergegaan en homself toegelaat om die tekens wat die aanvallers gelos het, deur te kyk: Die konka waarin vuur gemaak is, die leë drankbottels, die diepgesonke spore van die SAMIL-trok…

Hy het vir Costa eerste gekry, of dit wat die joviale Griek nou verteenwoordig. Sy ledemate en liggaamsdele is in groteske ordelikheid gerangskik, soos toerusting wat vir voorraadopname uitgepak is.

Bene, 2, met byl of kapmes verdeel by heup.

Arms, 2, met byl of kapmes verdeel by skouers.

Kop, veel gebruik, 1.

Ore, 0.

Torso, verkwart, 1.

Onderlyf, 1.

Penis, 0.

Soos Gouelokkies gaan hy van die aanbiedinge van Pappa Beer na dié van Mamma Beer.

Hy vind haar in die pad voor die Benz, asof hulle te haastig was vir die beslommernis om haar in die veld in te sleep.

Joubert het maar net die Dawnview Park se GPF-doenighede bygewoon wanneer hy vir sy pa en Oom Jack gaan kuier het en het vir Ragel Karedes maar net ʼn halfdosyn kere of so ontmoet maar sy indrukke van haar is duidelik, vol kleur en vol beweging. Sy het hom met haar eerste woorde in pront Afrikaans verbaas; sy het so Grieks gelyk, op een of ander manier, ryk Grieks, oordadig getooi met juwele en duursame uitrustings, formeel of oefendrag. Maar sy was ook viets en fiks, vonkellewendig, geselserig en het geensins weggevaag as sy tussen haar twee asemrowende dogters gestaan het nie.

Sy het ʼn krom neus gehad, onthou hy, ʼn stylvolle, geboë konstruksie wat haar bewaar het van popmooiheid. Nie dat die neus behoue gebly het nie. Dié is afgesny van die kop op haar bolyf wat op die rug lê. Die lippe – wat effens dun was – ook. Dit lyk nou of die mond grynslag, en die skeur in die middel van die gesig gaap.

Die arms en die bene is in hierdie geval weerskante van die liggaam, maar nie in hulle oorspronklike posisies nie. Die bene is teen die skouers gesit en die arms waar die bene was. Dit is opmerklik dat van die vingers afgesit is en op die manier waarop die vel aan die bokant van die stompies ingeduik is, dui daarop dat dit met ʼn draadtang of skêr van ene of ander aard, moontlik ʼn blikskêr, gedoen is. Dit is natuurlik die vingers waaraan die ringe was.

Die kuitbroek wat sy aangehad het, lê langs die  liggaam, onversigtig van die bene weggeknip.

Die skraal bobene dra nog die dofpienk smeervlekke, want die reën kon dit alles nie weg was nie.

Daar is geen skaamdele nie. Net bloed en versnipperde vleis.

Daar is geen borste nie. Net bloed en versnipperde vleis.

Vir Gouelokkies het hulle darem veld toe gesleep.

Die gedeelte van Joubert se brein wat beelde stoor, was nou te vol. Hy kon die liggaam net nie bekyk nie; wel gesien dat hulle haar arms ge-immobiliseer het. Die linkerpols is met ʼn standaartuinvurk teen die grond gepen en die regterpols met wat na ʼn tentpen lyk.

Die onderlyf het nie klere of onderklere aan nie en die bene lê wyd in die grusame pornografie van so ʼn dood. Vir welke lukraakrede ook al het hulle nie die skaamdele weggesny vir moetie nie – miskien omdat te gebruik was na die nag se feestelikhede soos aangedui deur die blouswart kneuskolle binne aan die marmerwit bobene.

Vir die borste was daar wel blykbaar ʼn mark in die moeti-bedryf. Joubert het ʼn ongevraagde, skokhelder indruk van die indrukwekkende groot sagtheid van Cara se bors teen sy lyf in die nag.

Hy het toe gewonder of hy sal opgooi, maar uiteindelik het hy nie.

Waansin word veroorsaak deur ʼn futiele worsteling met vraagstukke sonder antwoorde, en die onbegrip dat daardie oplossings nie bestaan nie. Joubert het instinktief in sy psige raak getas en dis asof hy, wat hy gesien het – wat hy sien – weggestoot het in ʼn donker soldervertrek iewers agter sy verstand. Hy het geweet dat as hy dít alles nou sou ondersoek en oorweeg, hy nooit van daardie vervloekte lappie aarde sou vertrek nie. Al sou sy pa hom kom soek en hom wegsleep, sal Joubert vir die res van sy verwarde dae daar in die gras en op die pad teenwoordig wees.

So hy trek die solderkamer toe, pers botande op ondertande en doen wat ʼn man moet doen.

Hy deursoek die Benz. Die granaat het die enjinkompartement verwoes, maar die brand het wonderbaarlik nie versprei na die passasiersruim nie. Gierige hande het wel deur die besittings gegrawe en min agter gelos.

Vir Joubert was daar die genade van die ontdekking van ʼn rol swart plastiekvullissakke en, in die paneelkissie, ʼn klein aluminiumviskatrol vol sintetiese lyn. Onder die voorste passasiersitplek het hy ʼn hondeharnas vir ʼn besondere klein brakkie ontdek en toe onthou dat daar ʼn Yorkshire-terriër in die Karades-motor was. Die geelkopernaamplaatjie in die vorm van ʼn been dra die naam “D’Arcy” en ʼn selfoonnommer. Joubert hang die leiband en harnas om sy nek.

Buite die wrak vind hy ʼn silindervormige katmandjie van pienk plastiek.

Ure tevore het hy gesê Daan-Dirk Möller moet hom Harpoen noem. Nou versamel hy die brokdele van ʼn gesin wat op daardie oomblik nie ʼn konsep sou kon vorm van die nag wat voorgelê het nie. Hy tel die onderdele van Costa Karedes in vier swartsakke en bind hulle met die vislyn toe. Die lyke van Ragel en Kelly rol hy toe in swart plastiek en trek die sakke vas met spirale vislyn van bo tot onder en weer tot bo.

Joubert loop tot by ʼn klossie bloekombome teen die rantjies met die hondeharnas om sy nek en die katmandjie onder sy arm.

“Alfie!” roep hy in ʼn falsetto en fluit. “Mousse! Kssk!-kssk!-kssk!”

Agter die eerste ry bome kry hy die grys-en-rooi Yorkie met die fonteintjiekuif en die bedremmelde wit Chinchilla-kat met die half-ingeduikte gevreet, net waar hy geweet het hulle sou wees, hoewel hy nie geweet het  hoe hy geweet het nie. Die tweetjies het mekaar iewers in die nag gevind en by mekaar gebly.

Die hondjie is skoon spasties van verligting en dankbaarheid om sy naam weer te hoor en wriemel in die hurkende Joubert se greep in. Die kat is algeheel meer waardig en dit vat aansienlik langer voor hy aangedrentel kom en toelaat dat Joubert hom optel en in die katmandjie ingiet soos melk uit ʼn beker. Ná ʼn oomblik se oorweging voeg hy vir Alfie by Mousse, oortuig dat daar ʼn geblaas en ʼn gekrap sal ontstaan, maar die kat gaan lê met sy pantoffelrige pote onder hom en die Yorkie sit langs hom. Joubert druk die deurtjie toe en op knip.

Hy ry terug met die plaaspad langs, die katmandjie tussen sy reguit arms op die tenk van die Yamaha. Hy ry stadig en dit gee hom tyd om oor die veld en die modderland te kyk. ʼn Ou bakkie wat hy as ʼn  Jeep J2000, die legendariese ou Gladiator, herken, staan voor in die saailand. Heelwat dieper in, is ʼn groen motor en die regter flikkerlig daarvan wink met reëlmaat.

Sonder oorweging swenk Joubert oor die veld en deur die modderland, gly-gly en met redelike moeite, ʼn aansienlike afstand by die Gladiator verby en op koers na die raaiselagtige kar.

Dit is ʼn Daihatsu Terios en hy parkeer die ‘fiets tien meter daarvan af en skop die systaander uit. Hy sit die katmandjie langs die Yamaha neer en benader die Terios skuins van agter, verstom om te hoor dat daar musiek kliphard vanuit die motortjie speel, ʼn ou Katy Perry-liedjie, “I kissed a girl.”

Die Terios was ʼn pretbuks, lig en tog ruim, gemaak vir ʼn lat met swaarraamdonkerbril, ʼn agterstevoor bogbalkeps op die kop en iPod-spaghetti vanuit die ore en, langs hom, ʼn meisie wat met haar voete op die sitplek sit.

Joubert probeer vasstel hoekom die motortjie gaan staan het, maar die wiele het nie weggesink nie en die snoet het  nie teen ʼn kontoer vasgeploeg nie. Dit het net tot stilstand gekom.

Maar daar is ʼn onheil om die motor en die wipperigheid van die popliedjie beklemtoon dit in kontras, soos neonpienk borrelgom in die mond van ʼn vampier.

Joubert sleep die Sauer uit die skede aan sy linkersy en trek die haan terug. Hy loop met lang, sagte treë nader. Die agterruit van die Terios is weggeskiet en daar is koeëlmerke in die luikpilare en in die dak. Hy stap om na die passasierskant en sien ʼn meisie vooroor sit met haar kop teen die paneel. Die windskerm is verbrokkel en die oorblywende glas is rooi bespat.

Hy bly behoedsaam teen die agterdeur, leun vorentoe en maak die voorste deur versigtig oop. Die meisie gly uit, grasieus soos ʼn ballerina in ʼn swaantoneel. Sy val halflyf  uit die motor en Joubert weet daar is niks wat oorbly om vir haar te doen nie, te oordeel aan die gholfbalgrootte gat waar haar linkerwinkbrou was. Haar hare is blink-lank en so ligblond dat dit amper wit is en haar oë is die blou van ʼn tropiese see.

Joubert laat sak die rewolwer. Hy hoor ʼn kreun en trek sy asem in. Hy stap om na die bestuurdersdeur.

ʼn Jongman sit teen die stuurwiel aangeleun. Hy het ʼn toeknoophemp met wit en blou regafstrepies daarop. Die linkerhelfte is gespoel in bloed en sy arm hang slap.

“Kan jy my help?” vra hy vir Joubert en draai sy kop na regs.

Joubert voel die naarheid soos ʼn hysbak in hom rys.

Daar is ʼn sloot in die man se kop, net onder die slape en die oogkas is oopgebreek. Sy oog hang aan ʼn bloederige koord tot op sy wang.

“Kan jy my help?” vra hy weer in Engels. “Can you help me?”

“Asseblief, help my.” Please. “Kan jy?”

Dis dan die vraag.

Joubert staan ʼn tree en nog een terug.

Kan hy die man help? Sal hy die man help?

Hy dink aan toegebinde swart vullissakke daar naby in die veld.

Die antwoord is nee.

Die man is swart.

Joubert lig die rewolwer en skiet die swartman in die voorkop.

“… and I liked it!” sing Katy Perry.

Joubert druk die Sauer terug in sy skede, stap na die motorfiets, swaai sy been oor die saal, skop die Yamaha aan die brand, buk af, kry die katmandjie, sit dit op die brandstoftenk, trek weg, maak ʼn wye omkeer en ry na sy mense op die koppie toe.

(Lees vervolgens Bodem 29.}

8 thoughts on “Bodem 28: Die eerstelig”

  1. Gustav, jy het jouself oortref met hierdie episode – DIS EMOSIE-BELAAI ! So op my nugtermaag.

    Hier lees ek duidelik die romantiese sy van Gustav, soos jyself dit tydens jou onderhoud met Praag gestel het.

    Wat die res van die aflewering aanbetref, ek sou BAIE graag ‘n kragwoord wou uiter … maar ek gaan liefs saam Katy Perry sing …
    “Joubert lig die rewolwer en skiet die swartman in die voorkop. “… and I liked it! ”
    NS: Ek sukkel van gister af om Praag oop te kry, nog meer die kommentaar-afdeling. Kan ook nie nou inteken nie.

  2. O genade! dankie tog dis lig! Die Terios vraag is uiteindelik opgelos en JA ek sou ook soos Joubert optree, maar glo nie ek sou so genadig wees om hom uit te help nie! Sou net meer bygedra het tot die pyn. As ek moes aanskou wat hy aanskou het sal geen swarte veilig wees in my nabyheid nie! O dis wreed, maar mense dit IS hoe hulle is. Hierdie episode WAS gelaai! Waar is Brian? Dis een ding, as ek Edna was was ek aan Brian se sy want hy het ‘n OOG verloor! Sy kom bietjie afsydig voor met haar seun sse wonde? Daan-Dirk moet liewer so gou moontlik behandel word anders het die swartes geslaag om hom dood te kry deur loodvergiftiging!
    Ek is bly die diere is gevind nou het sy darem iets van haar familie terug!

  3. Dolk – dit is hoekom ek se dat as ek vir Gustav aan die
    praat kan kry sal ek hom hom aan die praat hou tot die volgende more dagbreek – hy is n fontein – Die ander persoon wat my ook mateloos fasineer is Langenhoven ek sou ook so tydjie met hom een tot een wou gesels het – hy praat en ek luister en inneem soos n spons.

Maak 'n opvolg-bydrae