Bodem 27: Die nag

Deel op

vlamtoring2‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers Bodem 26 en alle vorige episodes.

ʼn Nag is sonder einde, as dit geweef is uit die donkerste duisternis van doodsvrees en die ontdekking in ʼn mens dat jy self vreeslike en wrede dinge kan doen. Dít, sien, bring ʼn vreemde nuwe vrees, die agterdog dat daar in jou omtrekke ʼn wese skuil wat jy nooit geken het en nooit kán ken nie, ʼn oerdier met ʼn onblusbare aptyt en geen agting vir die versigtige rituele en roetines van jou lewe nie. ʼn Mens kan die optrede en vergrype van ander soveel makliker ontleed as wat jy jou eie gewelddade kan ontsyfer, want jy wéét jy ken ander nooit ten volle nie, maar aanvaar dat jy aan jouself bekend is. En dan is jy nie.

So groei die nagvrees ná geweld, in swart uielae, een skil wat oor ʼn ander groei, laag op laag van onbegrip en afgryse.

Die nag het geen einde nie, want daarin is nie sekondes wat wegkerf aan tyd nie, of minute wat daarteen hamer of ure wat dit wegkalwe nie. Al wat getalle het, is die slae van  jou hart, die inname en uitinge van jou asemhaling, die houe wat jy verduur, die houe wat jy slaan. En as jy ander hoor skiet en slaan en kap en skree en gil en smeek, en jy doen dit  nie self nie, maar wag dat dit na jou sal aankom, selfs ná die kakofonie en wandade opgehou het, is jy ʼn insek wat magtelose trillings maak in die knelgreep van ʼn donker spinneweb in die swartste swart. Jou kompas het geen Oos waarin die son sal opkom nie. Dis nag sonder einde.

Vir hulle wat daardie nag op die koppie langs die pad was, het alles verander – en dit is hoe hulle daarvan sou praat: Die Nag op die Koppie langs die pad; soms half-spelerig: Die Slag van die Koppie-Langs-Die-Pad. Dit het verander hoe hulle oor die lewe en die toekoms en hulle posisie daarin gedink het; en oor ander mense, met die nuwe sin vir die werklikheid van die wreedheid van ander. En daardie kennis is self gemaak van die nag, sodat selfs toe hulle soos motte uit die papie van die duisternis gekruip het, was die nag steeds deel van hulle en hulle van die nag.

Die eerste gemeenskaplike instink was om van daardie rantjies, hulle eie Aasvoëlheuwel, te vertrek in haastige ontvlugting, maar elke praktiese oorweging het daarteen geweeg en hulle eie rede het hulle op die Koppie-Langs-Die-Pad vasgetrek. Net so deeglik as wat elke wese op die planeet Aarde teen die grond geboei is deur swartekrag en ingekerker is deur die atmosfeer, net so onbeweeglik was die lede van die Möller-trek deel van die koppie, daardie lang nag, soos rosyntjies vasgebak in die kors van ʼn brood.

Oorlewing, fisies en emosioneel, na ʼn slag, begin met die klein rites waarmee orde geskep word, want in orde is kennis en in kennis is hoop en in hoop is die nodige wil om voort te bestaan. Die eerste item in die prosedure van orde, is om die trop te tel en te rangskik. Kinders vra uit na ouers en ouers na kinders, vroue na hulle mans en mans na hulle vroue, en vriende na mekaar.

Gielie Degenaar was eerste, miskien nie so eienaardig nie, gegewe sy emosionele plooibaarheid voor, tydens en ná gewelddadigheid. Hy het in die nag gestaan en grom en hyg sodat die longe in sy wye, diep borskas asem versamel het in magtige teue, ʼn jong Noorman, ʼn Sikloop met die flits langs sy kop ʼn onknippende, skroeiende oog, die bebloede breëlembyl nog in sy hand. Die lig daarvan het op Tannie Alba geval en met ʼn kreet wat ook ʼn snik kon wees is hy met lang treë na haar toe.

Sonder om die byl te laat val en met dieselfde gemak waarmee hy dit vashou, het hy sy linkerarm onder haar arms en om haar tengerig geryg en haar van die grond af teen hom opgetel en sy nat kop teen haar nek gedruk.

“Tannie, is Tannie orraait? Is Tannie orraait? Tannie moet orraait wees. Tannie?”

“Ek makeer niks, Giel,” sê sy ferm en haar klein gestewelde voete trap lug onder haar. “Ek weet nie of ek nog niks sal makeer as jy my stywer druk nie, maar as jy my nou neersit behoort ek piekfyn te wees.”

Hy sit haar neer en buig af na haar toe. Die flitsoog betas haar van onder na bo en weer na onder.

“Tannie is nat!” beskuldig hy. “Gaan klim in die kar en kry vir Tannie droog!”

Tot haar eie verbasing, miskien omdat hy  nog nooit vir haar ʼn bevel gegee het nie, gehoorsaam sy hom gedweë terwyl hy, vol hiperenergie, na die rand van die koppie draf om Bart se leer te laat sak sodat die span by die Unimog met die res op die koppie verbind kan wees.

So daal Edna Möller af en vind haar man, en sy is vol vreugde dat hy oorleef het en ontsteld oor hoe uitgeput en pyndeurtrek hy is, en sy tref haar seun, Brian, in die omgedopte Unimog aan. Sy is terselfdertyd verskrik deur sy wonde en tranerig bly omdat dit erger kon gewees het.

ʼn Ongedeerde en ongeboë Fred Bakkes het net ʼn paar treë gehad om te loop tot by sy vrou, Lucille, wat tussen die twee klein Hackett-seuntjies sit en, nadat sy vertroulik die inligting verneem het, vir hulle ernstig lieg oor die welstand van hulle pa en ma, vol beloftes dat Lyall en Roger hulle die volgende dag weer sou sien.

Sandy Lourens, flits in die hand, het haar man op die naat van sy rug langs ʼn lyk gevind, en na haar aanvanklike skok besef hy is gedaan verby die punt van algehele uitputting nadat hy sy weg uit die kolkgreep van die dood geworstel het.

Lilian Vermeulen het onder ʼn seil agter op haar eks-man se Land Cruiser-bakkie in Don Vermeulen se bagasie gaan grawe en sy oudste denimbroek gevind. Sy het om die bakkie na die passasiersdeur gemarsjeer, dit oopgepluk, die stomme prokureur uit die kajuit getrek en hom beveel om sy nat broek vir die droë een te verruil, wat hy in die gloed van die dakliggie gedoen het. Dit is waar en hoe Andreas Vermeulen, deurdrenk en geweer in die hand, hom gesien het en nie kon help om te grynslag nie.

Bart Kolver het vir Omo gevind en die hond het haar lyfie in oorstelpte vreugde gewikkel. Hy het na Vicegrip geroep en gefluit en toe, meer om homself as enige iemand anders te oortuig, kordaat verklaar dat sy sal terug wees.

“Die zombie wat haar sal onderkry, moet nog gemaak word!”

Andreas Holtzschuh het sy vrou en een dogter agter Bart se Chev gevind en sy seun en ander dogter agter die Stetner-Patrol. Die geweld het tot teenaan hulle gespoel, maar nie aan een geraak nie.

Die mans het begin om die groter elemente in die groep se lewe te rangskik, om tydelike bestaanstrukture op te rig om daardeur, volgens ʼn primitiewe formule, hulleself as waardevol vir die groep te bewys en sodoende geregtig op oorlewing. Bart het ʼn gaslamp op ʼn hoë staander in die middel van die laer aangesteek en die manne het begin om tente uit te haal en op te slaan. Wapens is nagegaan en herlaai en ʼn seilafdak daaroor gespan om dit uit die reën te hou.

Andreas het sy Wilhelm Heym-geweer afgedroog en in die wapenkas agter op die Land Cruiser-bakkie gaan stoor. In die plek daarvan het hy sy semi-outomatiese Remington Nylon 66AB .22 geweer uitgehaal en die dik knuppelvormige Numenor-knaldemper aan die voorkant van die loop geskroef. Hy en Gielie het na die vyande se lyke gaan omsien.

Nege het tot in die laer gevorder en nege het daar geval en gesterf. Andreas en Gielie het hulle buite die voertuigkring gesleep. Voor die voertuie was daar nog sewe wat geval het. Twee het nog kermend geleef en Andreas het een met ʼn skoot in die voorkop uitgesit. Die .22 se klap was deur die knaldemper skaars hoorbaar in die reën. Hy het by die ander een gaan sit. Dié man se pelvis is vergruis deur twee skote – BLAM!-BLAM! – uit Fred Bakkes se Beretta. Andreas het hom gepaai en uitgevra. Die man was besonder gretig om enige vrae te antwoord en toe Andreas tevrede was met die inligting, het opgestaan en dié aanvaller ook met ʼn kopskoot stilgemaak.

Hy en Gielie het drie vuurwapens – twee rewolwers en ʼn dubbelloophaelgeweer – gevind en na die laer teruggeneem.

Onder, om die voorkant van die probleemklip, was daar 14 liggame, meestal Daan-Dirk se werk. Vier het nog tekens van lewe getoon voordat Andreas met die Remington by hulle gaan staan het. Regs van hulle was nog vier liggame. Een, verlam van die bolyf ondertoe, was nog springlewendig en spraaksaam en nadat Andreas hom ondervra het, is hy ook die ewige duisternis in.

Hulle het vyf R4’s, vier R5’e, vier AK’s van verskillende modelle en sewe pistole versamel en in bondels boontoe gedra asook alle magasyne en los ammunisie wat hulle gevind het.

Die vrouens het ook met hulle ewige rituele begin; begin versorg en hulle kinders vertroetel en hulle mans liefkoos.

Atta Stetner, wat net so hewig as haar man geveg het, het eers sy baadjie, hemp en onderhemp uitgetrek en sy kneusplekke nagegaan en met hulle selfgemengde room ingesmeer, voordat sy na haar eie skrape en wonde omgesien het.

Sandy Lourens het Chris se beseerde hand gewas en die gebarste vingerpunte met pleisters geheg.

Edna Möller het Daan-Dirk uiteindelik laat sit en sy rugwond bekyk, haar asem ingetrek toe sy die rou slaggat sien, dit opnuut ontsmet en ʼn vars verband uit hulle eie noodhulpkas daarom gedraai.

Kampstofies is uitgehaal en water gekook vir koffie of tee, wat met versigtig uitgetelde beskuit bedien is.

ʼn Klein huishoudelike krisis het deur die kamp geritsel: Eers is Tienie en toe Daleen en Ellen Holtzschuh deur vol blase geteister en toe moes die volwasse vrouens, Alice, Lilian, Alba en Edna self geriewe soek. Die meisies was verskeur tussen hulle vrees vir wat buite die laer is en hulle verskrikking om hulle liggaamlike funksies in die laer se lig uit te oefen.

Omdat die situasie dringend was, het Bart bloot ʼn gat in die donkerste hoek van die laer, agter die Ramkat op die punt, gegrawe en vir die meisies ʼn vierkantige tafeldoekgrootte seil gegee. Hulle het, een vir een, dit soos ʼn barbier se laken om hulle gedraai, hulle klere onder dit afgevroetel, gehurk en verligting gevind en daarna ʼn lagie grond in die gat gegooi.

Jeanelle het met die leer afgeklim en vir JP teen die koppie se wand gevind, Jack se liggaam nog steeds dwarsoor sy skoot. Sy het in sy gesig geskyn met ʼn flits.

“Oom JP? Oom JP? Oom JP!”

JP Els het opgekyk na haar.

“Dis ons Jack, Jannie, dis ons Jack.”

“Oom JP, ai Oom JP!”

Sy het langs hom op haar knieë afgegaan, dadelik in trane, nie net vir alombeminde Jack vir wie sy veral ʼn sagte plekkie gehad het nie, maar vir die rou verdriet in JP se gesig wat onbeskroomd gehuil het soos ʼn kleuterseun oor die dood van sy eerste troetelhond.

Jeanelle sit haar arms om JP se kop en trek die kant van sy gesig tussen haar ferm jong  borste vas en vryf en druk en druk en vryf en koer oor hom.

Nadat sy baie seker is hy het bedaar, skuif Jeanelle weg van hom en staan op.

“Bly hier, Oom!” vermaan sy, en klouter teen die leer op.

Minute later is sy terug met ʼn vrag in haar arms.

Sy sit ʼn batterylantern op die grond neer en lê dan Jack se slaapsak op die grond. Dit laat JP kreun.

Jack se slaapsak. Daar is geen ander slaapsak soos Jack se slaapsak nie. Hy het dit self gemaak met twee gryskomberse waaroor hy ʼn buitelaag van plastiekvoersakke vasgewerk het. Dit was warm en waterdig en wanneer Jack daarin uitgestrek was, was hy onaantasbaar deur selfs die nukkerigste weerverskynsel.

Wanneer dit opgerol is, is dit ʼn groot ronde baal. Dit was die onderwerp van dosyne bitter rusies tussen Jack en JP, want dit was ʼn lomp stuk bagasie om voor plek te vind en saam te piekel. Jack het elke keer die argument gewen met die eenvoudige strategie om te verklaar hy sal saam met JP enige plek ter aarde gaan – mits sy slaapsak by hulle is.

“Vat my, vat my slaapsak!”

“Weet jy,” sê JP toe Jeanelle weer by hom hurk, “as hy nie… as hy nie… As hy nou hier was… anders hier was, het hy op die slaapsak gaan sit en hy sou sê, weet jy wat hy sou sê?

Hy sou sê: ‘JP-tjie, ons moet drank vat. Ons moet drank vat sodat ons kan verstaan watse groot en wonderlike dinge vanaand met ons gebeur het.’

“En ons sou drank vat. Ons sou verstaan.”

“Nou Oom JP,” sê Jeanelle. “Help my net, dan as ons klaar is, vat ons drank.”

So hy help haar met Jack. Lig eers sy bene op en skuif die slaapsak van sy voete af tot by sy sitvlak. JP gaan staan agter hom en beur boontoe; hys die liggaam ʼn paar sentimeter sodat Jeanelle die slaapsak kan optrek. JP laat die liggaam in die slaapsak sit en hulle trek dit tot bo sy kop en vou dit toe waarna hulle hom in sy geliefde beddegoed plat op sy rug laat lê. Sy buitelyne, in die lig van die lantern, is rondweg sigbaar, soos ʼn lewensgrootte beeld wat van seesand gevorm is.

Flaffus die korthaarterriër verskyn, nat en bewend van die koue. Hy kyk na JP, kyk na Jeanelle, wip dan op die liggaam se borskas en krul homself styf op, soos ʼn hoepel, neus by stert. Hy ruk van die koue, ontspan, haal asem, ruk weer.

Jeanelle steek haar hand uit na die hondjie.

“Los hom,” sê JP. “Dis sy voorreg.”

Jeanelle gaan sit teen JP en trek ʼn grondseil om die twee van hulle. Sy het ʼn rugsak by haar en daaruit haal sy ʼn bottel Wellington-brandewyn uit en skroef die doppie af.

“Jammer Oom JP,” sê sy. “Ek het nie Coke nie.”

“Ons vat dit vanaand so,” sê hy.

Bo-op die koppie reël Daan-Dirk wagbeurte.

“Ek soek twee mans en twee vrouens op ʼn slag. Een paar onder by die Unimog en een paar hierbo. Ek en Edna sal eerste vat.”

Hy, Fred Bakkes, Chris Lourens, Deon Stetner, Bart Kolver, Andreas Vermeulen en Holtzschuh die Duitswester staan in ʼn kringetjie by die gaslamp onder die afdakkie.

“Ek dink nie so nie,” sê Fred Bakkes. “Jy is op die punt van algehele uitputting. Enige iemand kan dit sien. Gaan slaap eers. Ek en Lucille is nog vars, ten minste varser as jy.”

“Ek en Sandy ook,” sê Chris Lourens. “Ek sal nie nou kan slaap nie.”

“Ek sal ook nog ʼn ruk op wees,” sê Andreas Vermeulen. “Ek wil nog foto’s neem.”

“Foto’s?”

Andreas hou ʼn alleweerkamera met ʼn allemintige buislens op.

“Ek wil sien of ek iets kan sien oorkant die veld, jy weet,  by die karre op die snelweg.”

“O,” sê Daan-Dirk en frons. Hy weet hy moet beter vrae vra maar weet nie wat dit is nie.

“Nou goed. Chris, Sandy. Fred, Lucille. Gee net so twee ure, dan maak julle my wakker. Vir my en…”

“Ek sal,” sê Bart Kolver. “Ek sal reël vir klein Gielie Byl om saam met my beat te staan.”

“Goed,” sê Daan-Dirk. “Goed. Besluit julle wie is bo, wie is onder. Dié wat bo is, skakel van die voertuie se ligte aan, so elke paar minute, net een of twee, nooit in dieselfde volgorde nie en net vir ʼn halfminuut of so op ʼn slag, en, en, en…”

“Daan-Dirk,” sê Fred. “Ons het dit. Ons reël dinge. Gaan slaap.”

Daan-Dirk vryf oor sy ken en kyk na die vyf koepeltente van verskillende groottes wat in die omhelsing van die halfkring motors opgeslaan is.

“Goed,” sê hy. “Goed…”

Hy sê niks verder nie en strompel na sy tent waar sy vrou en  kinders wag.

“My man,” sê Edna toe hy die tentklap ooprits en gebukkend inkom. Hy rits die klap agter hom toe, maar met moeite omdat hy sukkel om te konsentreer.

Hy tuimel behoorlik neer op sy knieë en strek homself op sy maag langs sy vrou neer. Aan haar anderkant suis sy dogter se asem egalig.

“Lief,” sê Edna, “lig jouself net bietjie dat ek jou hemp kan uitkry. Jy is alweer sopnat.”

Dis te laat. Sy weet hy hoor niks.

Edna Möller trek die duvet wat sy by haar het oor hulle en skuif tot teen hom. Sy sit haar arm hoog oor sy  blad, versigtig om nie aan sy wond te raak nie. Haar vingers strengel deur sy dik, grys hare.

Daan-Dirk Möller slaap in die nag waaraan daar geen einde is nie.

{Lees vervolgens Bodem 28.}

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.