‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter
Lees eers Bodem 25 en alle vorige episodes.
Daar is – was; dit is nou seker nie meer daar nie, nie na die Chaos alles verspoel het nie – ʼn foto van Don van der Merwe in ʼn silwer raam bo die driebeenmuurtafeltjie in die elegante marmerteël- en- persiese-tapyt-ingangsportaal van sy dakwoonstel in Rosebank, Johannesburg. Dit is ʼn onselfbewuste foto van Don soos hy homself sien: Op ʼn rots in die Hooglande van Skotland, so in die mis, met ʼn dik diepblou wolhemp aan, bruin koordferweelbroek, leerstapskoene met dik rubbersole en ʼn geruite keps op sy kop. Maar dis die trui, die trui wat die een stukkie aanvoeling is wat hom so aangegryp het in ʼn portret van homself: ʼn Silwerwit trui wat agter hom van sy skouers af hang, moue voor hom oormekaar gevou, ʼn duursame, soepel trui, fyngebrei met ʼn kabelpatroon en dit hang so vormbaar soos ʼn nertspels oor sy skouers. Wil jy weet wat elegant is? Dít is elegant.
Daardie trui, daardie man op die rots op die geruite piekniekkombers met die peperduur kristalfles enkelmout-whisky sigbaar in die diggeweefte rottangmandjie en die newelgevulde vallei aan sy ander kant. Dít is Don van der Merwe. Aards dog gesofistikeerd. ʼn Korporatiewe regsadviseur wat homself vind in die natuur. Don van der Merwe, jazz-luisteraar, poësievoorleser, huldiger van ʼn buigbare mensgedrewe liberale politieke bewussyn, raconteur en somtydse agent provocateur, terggees van verkramptheid, sjef met die Nederlands-Javaanse rijstafel as sy spesialiteit, wynkenner en Gerard Sekoto-versamelaar, skiër van mediumgraadhellings by St. Moritz.
Dít is Don van der Merwe, nie die bewende wrak wat sonder oogknip in die spartaanse kajuit van die kru Land Cruiser-trok sit met die druppende urinekol regoor die voorkant van sy broek – ironies genoeg dieselfde bruin koordferweelbroek van die foto – nie.
Hoe het hy van sy wêreld – dáárdie fynsmaakwoonstel – tot hier gevorder, hier op die klipperige koppie langs die N3 in die reënnag, hier te midde van ʼn geweldkarnaval wat deur kranksinnige gode gelas en bloedmal barbare gereël is? Dit was so ʼn kort verskuiwing, so ʼn vinnige, holderstebolder tuimeling deur een of ander kosmiese wurmgat in, van die dag wat hy deur ʼn peperduur privaatsekerheidsmaatskappy in ʼn konvooi van koeëlvaste motors uit Johannesburg ontruim is na die duplex-woonstel van sy huidige vaste vriendin, Lilian Vermeulen, in Dawnview Park. En toe daardie tien geesverwerende dae toe sy omtrent elke dag deur haar halfbeskaafde eks-man geterroriseer is om die een of ander halsoorkopkonvooi na moontlike veiligheid mee te maak.
Hier sit hy nou nadat sy blaas padgegee het met die aanvanklike stormloop van die demone uit die nat langgras. Hy het eers die dofswart Glock oor die donker, uitdyende kol gehou, maar, met die vae gedagte dat die noodlot hom sal toelaat om vir sy lewe te pleit, het hy dit onder die sitplek ingestop. Swart Afrika sal nie vergewensgesind wees as hulle ʼn pistool op jou natgepiste skoot vind nie.
JP sou nooit weet hoe hy by sy bebloede vriend gekom het nie. Daar was ʼn oomblik in die nag toe hy op sy sy op die grond gedraai en agtertoe gekyk het en vir Jack geskree het om homself nie bloot te stel nie. Daar is ʼn ander oomblik wat hy met sy vriend se roggelende liggaam oor sy skoot getrek sit. En niks tussenin nie.
“Kyk nou net, kyk nou net!” huil hy. “Jy luister áltyd vir my, altyd, maak nie saak watter fokken onnosel idee ek volgende het nie. Hoekom nie nou nie? Hoekom nie nou nie?”
“Broeders en susters,” sê Jack. Die laaste lettergreep word versteur as hy in sy eie dik bloed gorrel.
“Jack! Jack, Ouboet, ek is jammer oor jou ribbebeen, ek is, ek was nog altyd…”
“Broeders,” sê Jack. “Broeders!” En dan, sag, ratellend: “Behou die geloof!”
“Behou die geloof? Behou die geloof! Wat beteken dit, Jack, wat beteken dit? Jy weet ek gaan kerk toe…”
Jack se lyf trek ʼn sidderende boog, soos ʼn stoeier wat brug om sy skouers van die krytmat af te hou, en dan trek die vreeslike slapte van sy voetsole af op en deur hom, laat hom saf en weg, daardie verskriklike verweg. JP trek die bolyf teen om vas, styf, stywer en stywer, op sy allerstyfste asof hy ʼn laaste gloed van Jack in homself kan intrek en bewaar.
ʼn Stormlopende groep mense is soos water: Hulle momentum word in die weg van die minste weerstand gekanaliseer en vloei in waar hulle nie weerstaan word nie. In die laer se geval is dit in die eerste plek tussen die twee Land Rovers deur waar Chris Lourens gestaan het.
Aan die ander kant, regs van sy Defender en links van Andreas Vermeulen se Land Cruiser is Fred Bakkes, effe vooroorgehurk in ʼn klassieke Weaver-houding, Beretta voor aan ʼn stokstywe regterarm met sy ander hand oor die regterhand en ʼn geboë linkerarm wat terugrem teen die pistoolhand. Hy doen dinge volgens voorskrifte en daarom dubbelpot hy, sarsies van twee vinnig opeenvolgende skote, BLAM!-BLAM!, BLAM!-BLAM!, BLAM!-BLAM!
Hierdie weerstand maak ʼn indruk op die aanvallers en die stroom verdeel na die anderkant van die Toyota waar dit ook weg skil, want in die gaping staan Lilian Vermeulen, rooi van haar, mildelik van kurwes, en skiet dubbelskootsarsies met haar eks-man se Beretta-bo-en-onderdubbelloophaelgeweer. Dis ʼn wapen wat sy goed ken. Sy en Andreas het vir drie jaar hulle eie gastewildsplaas bestuur en kleiduifskiet was een van die afleidings daar. Sy het die baan behartig en self ʼn entoesias van die sport geword.
Die eerste twee skote het sy trompop op drie aanvallers, wat hulleself woedend met vertrekte gesigte en kappende-stekende-swaaiende handgevegimplemente na haar geslinger het, afgevuur. Sy het effens gesukkel met die herlaaislag; vingers wat bewe, hande wat onbeplande bewegings maak, ʼn gestel vol angs en adrenalien, maar sy het haarself tot ʼn weergawe van kalmte vermaan, die nek van die haelgeweer geknak, seker gemaak die leë doppies is werklik uit, twee vars rondtes uit haar kakie-onderbaadjie se sak getrek, hulle in die vuurkamers se oop bekke ingeglip, die geweer toegeklap en sonder om te mik uit die skouer gevuur.
Die stroom het geswenk van haar en sy het nog twee sarsies geskiet voor sy, tot haar ontstelde verleentheid, besef het haar patrone is op.
Die tweede bres is geslaan tussen Bart Kolver se Chevrolet en die Stetner-Patrol waar die middeleeuekundige en sy vrou ná net twee pyle uit sy boog voor die geweldsimpetus moes wegval. Atta het toe wel een skoot met Bart se Boito-haelgeweer geskiet, maar toe is dit ʼn maalkolk van liggame om haar en haar man in die donker.
Agter die voertuie vloei die strome bymekaar. Houe val, manne en vroue brul en liggame bots.
Te midde van dit alles maak Lilian Nel-Vermeulen twee goeie besluite: Sy maak die deur van Bart se Chevrolet oop en sy rand vir Don van der Merwe aan.
Daan-Dirk staan en skyn met Brian se koplampie op JP wat met Jack se liggaam oor sy skoot op die grond sit.
“Nee!-nee!-nee!” skree Daan-Dirk. “Nie Jack nie! Nie Jack nie!”
Die reën wat in strepe van JP se kop afstroom, trek bleekvelvoortjies deur die bloed en modder op sy gesig.
Hy hou sy kop agteroor, en omdat daar nie woorde in enige formele taal vir sy ontsteltenis is nie, brul hy soos ʼn ondier in ʼn fuik.
“Kom!” skree Daan-Dirk. “Kom! Hier kan nog land! Ek help jou. Ons sleep hom agter die rots in!”
JP hou op skree, kyk na Daan-Dirk en daar is ʼn trek van onversagte woestheid op sy gesig en sy oë staan styf.
“Die mortier!” sis hy hees. “Die donnerse mortier! Ek gaan hom stukkend maak! Stukkend!”
Hy stoot die lyk van hom af en kom rukkerig orent, strompel teen die helling van die koppie af.
“Stukkend!” skree hy. “Stukkend!”
Daan-Dirk draf agter hom aan en die reën giet op sy kaal bolyf neer en verdun die bloed deur sy verband tot ʼn waterige pienk. Hy kry ʼn handvol van JP se hemp beet, maar die man stamp sy greep met groot venyn weg.
“Stukkend! Stukkend!”
JP gaan staan net om die skietlamp op te tel en hy skakel dit aan. Die lig is ʼn wit, beskuldigende vlam wat ver oor die veld deur die gaas van reënstrale tas.
Hy trek sy Ruger-rewolwer en peil weg in die rigting van die veld. Wanneer hy by Andreas, hurkend agter sy rots, beweeg, skree dié: “Waarheen nou!”
“Stukkend!” sis JP. “Stukkend!”
“Hy gaan die mortier soek!” skree Daan-Dirk uit die donker.
“Seun!” sê Andreas en hy en Rattus staan op en volg vir JP die veld in, hy met sy jaggeweer van die regterskouer af diagonaal voor sy borskas ondertoe en die rifrug met die gemaklike gang en die oop kake eie aan sy ras, elke molekule dié van ʼn mensvreterhond.
Die menslike brein hanteer ʼn akute bedreiging deur alle onderliggende indrukke af te skakel sodat die persoon op die gevaar voor-die-hand kan konsentreer. Periferale visie word sonder meer afgeskakel sodat dit nie kan indring nie.
Na haar laaste tweeskootsarsie kan Lilian vir ʼn oomblik op niks anders konsentreer as die feit dat sy geen ammunisie meer oor het nie. Haar hele werklikheid bestaan uit die gapende bekke van die dubbellope se vakante vuurkamers. Sy skud haar kop, kyk op, van links na regs, op en af en haar visie kring uit. Sy word bewus van ʼn geskud en ʼn gehamer langs haar en draai haar kop. In die dowwe lig wat van die veld weerkaats, sien sy die bonkige figuur van Bart Kolver se teefhond wat haarself waansinniglik teen die ruit werp, oor en oor, terwyl sy tjankgrombrulknorblaf soos ʼn hele demoniese koor uit die onderwêreld. Sonder enige oorweging van gevolge gryp Lilian die deurhandvatsel en trek dit oop.
Vicegrip tref die opening met die krag van ʼn koekepan teen ʼn steil afdraande, val op haar sy op die grond, skiet op en streep vorentoe, na die ligkol voor die groot bakkie toe.
ʼn Swartvrou is in aantog, ʼn donker, snelwaggelende figuur met ʼn ysterheiningpaal in die hand, karig geklee in ʼn besmeerde romp en met massiewe pap borste wat pendulumswaai in ʼn wit buustelyfie bo ʼn groot maag wat met elke tree skud. Haar gesig is verwring, is dié van ʼn besetene, van ʼn mens wat innerlik oor die kruin getuimel het tot in die donga van dierlikheid.
Sy het die hond nooit eers sien kom nie en Vicegrip tref haar van onder af met ʼn volle lading geweld. Vrou en teef versmelt in ʼn getol van arms, bene en kappende kake. Die hond byt, skud haar groot kop in ʼn warrel, ruk ʼn bekvol vet en vleis uit, skud dit een kant toe, byt en skud weer; trek, skeur, verwoes. Nog ʼn ruk en die prooi is stil. Die hond gluur op, die goue pels om haar bek besmeer met die aaklige lipstiffie van vars bloed. Sy sien ʼn swartman wat skuins voor haar verbyhardloop en sy trek weg op kort, kappende bene, stert wat agter haar tol. Daar is nuwe vleis voor haar.
Gielie kom handeviervoet oor die kant van die koppie, en, voor hy orent kom, val sy flits se ligkol reeds om ʼn korf van swartes rondom die worstelende Chris Lourens. ʼn Oomblik later is die seun teenaan die geveg en hy swaai sy byl, bofbalkolfstyl voor hom. ʼn Aanvaller val weg. Gielie ruk die byl terug in ʼn rughandhou en dit laat ʼn aanvaller terugsteier. Dié se skedel splits hy van bo tot amper onder.
Hy swaai en kap en kap en ruk en swaai met die groot byl totdat, binne sekondes, maar lang, lang sekondes, alles verby is en Chris Lourens op sy hande en knieë staan en op ʼn stuiptrekkende lyk langs sy Lee Enfield opgooi. Teen die tyd is Gielie reeds by die geveg van die Stetners en hy kap en swaai en ruk en swaai en kap en kap en kap…
Vlak voor Andreas en die snouende JP, net links van hulle, doem die hol knalgeluid op en Andreas hoor duidelik hoe die projektiel oor hulle koppe woer-woergeluide maak en iewers ver agter hulle teen die koppie bars. JP swaai die lig skerp na links en dit val op ʼn swarte met ʼn kamoefleerbroek, weermagstewels en geel T-hemp aan, skaars vyftig meter van hulle.
Hy staan vir ʼn oomblik en staar verskrik na die skel lig. ʼn Oomblik later vlieg hy om, laat val ʼn skouerwapen wat soos ʼn baie kort haelgeweer met ʼn baie dik loop lyk en nael weg met arms wat maal en bene wat vir maksimum spoed pomp.
JP hou op skree, steek vas, rig sy rewolwer, trek die hand terug en die groot knal stamp teen die nag. Die voortvlugtende hou aan hardloop. Nog ʼn knal. Weer mis. Knal. Mis.
“JP!” skree Andreas en trek die stywe arm met die rewolwer ondertoe. “Los!”
Hy draai sy kop na Rattus wat van snoet tot stert in afwagting vibreer.
“Rattus!” sis Andreas. “Ziem-zam!”
Voor die “… am!” is die groot hond reeds weg, ʼn lae streep deur die nag.
Die ligkol bly op die een wat hardloop en dan is die hond reg agter hom. Die rifrug trek noodremme en dit is asof sy agterlyf die voorlyf inhaal en die lyf trek konsertinakort en dan tref hy die swarte. Die man val volle lengte voor en die hond wemel oor hom, hap en gryp totdat die swaar tande die nek vind en diep daarin sluit.
Andreas en JP draf tot by die hond se vangs waar Andreas die grommende Rattus skerp moet aanspreek en met sy skoensool moet wegstoot voordat hy sy rukkende prooi los.
JP gaan staan twee meter van die verskeurde swarte op die grond en, met groot doelbewustheid, skiet hy die laaste drie .44 Magnum-koeëls in die rukkende lyf vas.
Andreas kniel langs die warm lyk en draai hom om. Skuins oor die skouer is daar ʼn bandelier met nog vier gevulde lussies. Hy trek ʼn dik, kort patroon met ʼn ronde, donker punt waarom twee dun blougroen strepies geverf is en hou dit op na JP.
“40-mil granaat,” sê hy.
“Snotneus,” beaam JP skor, draai om en skyn met die skietlamp na waar hulle die aanvaller aanvanklik gesien het. “Kom ons kyk of ons dit kry.”
Voor die geveg losgebars het, het Fred Bakkes beveel dat vrouens en kinders onder die voertuie moet wegkruip. Marnu Möller was een van die laaste om te reageer, eerstens omdat hy besig was om met toegespitste konsentrasie seker te maak die drommagasyn vol .22-koeëltjies is reg in posisie op die bokant van die Voere AM180 wat hy by hom het, maar ook deels omdat hy traag was om onder ʼn kar te lê terwyl daar ʼn kans is om deel te neem aan ʼn regte, egte skietgeveg.
Uiteindelik was dit nie soseer Fred se gefrustreerde gebulk nie, maar sy ma se histerie wat hom genoop het om ʼn voertuig te gaan uitsoek. Daar was vroue en/of kinders onder elke kar, behalwe Tannie Alba se Patrol heel op die punt. Marnu het daar sy ronde tienerlyf ingewurm en tot onder die vooras op sy maag geseil.
Die hewige geskietery het agter hulle losgebars en eers was dit opwindend en toe vreesaanjaend. Hy het elke geluid probeer identifiseer en ontleed, gepoog om die wendings van die geveg te volg, meteens intens dankbaar dat hy uit die hitte daarvan is. Vrees het hom daaronder die Patrol gevind, die groot, intense Wil-Nie-Dat-Dit-So-Wees-Nie en, waar hy eers vir sy pa en toe vir Brian en toe die res gebid het, het sy vurige gebed naderhand net om homself gewentel. As die Here tog net nie dat die geveg oorspoel na hulle hier bo op die koppie nie.
Die honde het begin blaf, daar was uitroepe en toe kom die Patrol se ligte aan. Marnu het eers sy oë toegeknyp, probeer om nie asem te haal nie, homself gekasty om onsigbaar en onhoorbaar te wees. Toe sy oë oopgaan, was al wat hy kon sien die lang gras in die reën en, hier en daar, oral, swart, bewegende bene daarin. Die as van die stasiewa, vlak bo hom, het verhoed dat hy verder kon opkyk. Vrees was nog daar, maar dit was nou stil en ordentlik.
Marnu het gewriemel, die kort geweer se spangreep teruggetrek en vorentoe laat spring en toe vorentoe gekyk. Hy het begin om kort sarsies outomatiese vuur in elke swart maermerrie wat hy gesien het vas te skiet. Liggame het begin val en hy het in hulle ook ingeskiet. Party het bly lê. Ander het met groot haas weggekruip.
Lilian ruk die bakkie se deur oop op soek na ammunisie. Dis eers wanneer sy die donker buitelyne van Don sien sit wat sy van hom onthou, van hom en sy kort, dofswart Glock kompakte pistool.
“Don!” sis sy, die skote en krete van die geveg om haar. “Wat maak jy? Hoekom is jy hier? Jy moet kom help!”
“Nee,” sê hy in ʼn kermstem. “Nee. Los my. Nee.”
“Kom! Kom! Is jy ʼn blerrie bangbroek? Is jy ʼn moffie! Kom!”
“Los my, los my, los my!”
Lilian strek vir die dakliggie en skakel dit aan.
Don sit ineengetrek op die bank van die kajuit, sy arms om sy knieë, wiegend-wiegend, vorentoe en agtertoe, soos ‘nvroedvrou wat ʼn baba aan die slaap sus. Sy sien hoe droog sy klere is. Hoe kan dit wees? Is daar nog enige iemand in die hele, hele wêreld wat droë klere aan het? En dan sien sy die donker kol op sy broek.
Haar eerste instink is simpatie en dit word vinnig vervang met walging.
“Waar is jou pistool?”
“Los my, los my net.”
Sy manlikheid en selfrespek het van hom afgegly soos ʼn baadjie van ʼn gebuigde draadhanger af. Dis net sy kermende mantra – “los my, los my” – wat oorgebly het.
“Ek los jou! Ek los jou…
Waar is jou pistool?”
“Los my.”
So sy klap hom, en omdat sy langs hom is en nie ruimte het om hom op die wang by te kom nie, tref sy hom met die hak van haar oop palm op die neus, ʼn stewige klap wat weerklink, en hy sit terug, geskok, sy oë verskrik soos ʼn haas in ʼn pofadderhok sʼn.
“Jou pistool!”
Nou bly hy stil, want onttrekking in stilte is ook ʼn uitvlug.
Lilian se humeur los soos ʼn wilde knaagdier wat deur die kant van ʼn bruinpapiersak na buite spring. Sy gryp sy agterkop en ruk sy hoof vorentoe en kap dit gewelddadig teen die voorste paneel vas, twee-drie-vier keer, nog ʼn slag.
Hy kerm nou en, vol veragting, deels vir haar eie venyn, maar hoofsaaklik vir sy papbroekigheid, laat los sy hom. Sy vroetel onder die bank van die Land Cruiser en vind die greep van die Glock 23. Sy retireer uit die kajuit van die bakkie, trek die sluitstuk van die Glock terug en laat dit vorentoe kap.
Lilian haas haarself terug in die geveg, maar sy is te laat. Dit is reeds verby.
Alba Verhoef was vroeg reeds seker dat die geveg se tentakels na hulle bo op die koppie ook sou uitreik. Dit was deels gesonde verstand, deels ʼn behoedsaamheid om altyd gereed te wees vir die ergste en deels suiwer voorgevoel. Toe die honde begin blaf, het sy in die Patrol ingeleun, die ligte aangeskakel en teruggestaan.
Voor haar het die vyand verskyn, maar sy was gereed.
Sy het die klein Walther-pistool getrek, die veiligheidsknip afgedruk, die pistool in albei hande voor haar gehou en op ʼn maer swarte voor haar begin skiet. Die skote het geknal en die leë doppies is uitgeskop en daar was vlamstrepe uit die loop van die pistool, maar die aanvaller het wonderbaarlik ongedeerd gebly. Sy het na drie skote besluit sy skiet links van hom verby en het haar vuur na die ander kant verskuif, maar steeds het sy hom ooglopend misgeskiet.
Tog moes dit na genoeg aan hom gewees het, want hy het omgetol en uit die glans van die ligte genael.
Rondom haar het skote geklap en die geveg in intensiteit toegeneem. Alba het die magasyn leeg geskiet en ʼn nuwe een in die pistool se greep gevoer. Een of twee keer het ander figure in haar skootsvak verskyn, en sy het hulle verjaag. Sy het haar tweede en toe derde magasyn leeg geskiet waarna sy geen ander opsie gehad het as om hulle te herlaai met los ammunisie nie. Dié het sy agter die Patrol gaan doen, uit ʼn plastiekkassie wat At voorsien het.
Sy het verbete gekonsentreer om die patrone in die gloed van die Patrol se agterligte teen die magasynvere in af te druk, en toe sy al drie vol het, het sy twee in haar reënbaadjie se sak gegooi en die pistool met die derde een gelaai. Sy het asem in drie skerp hale ingetrek, opgespring, om die voertuig geloop net betyds om ʼn naderende aanvaller te konfronteer.
Trek die sneller. Mis. Ander kant toe. Mis. Regs. Mis. Ondertoe. Mis… Nee!
Die aanvaller staan botstil en voel-voel aan die kant van sy nek en bekyk dan die bloedsmeersel aan sy hand.
Skiet! Mis. Skiet. Die skoot pof die broekspyp oor sy bobeenspier uit en hy gryp daarna.
Skoot. Mis!
Trek die sneller. Niks. Leeg!
En die aanvaller storm, vol pyn en wrewel.
Alba kyk stip na hom en weet met die sekerheid van wiskunde dat sy nie betyds herlaai sal kry nie. Sy merk nou eers die halwe koevoet in sy hand op. Goeie tuinbou-implement, ʼn koevoet. Swaar, hard, eenvoudig.
Hy kom struikelend vorentoe, sleep sy verwonde been effens. Hy lig die koevoet.
Agter Alba is daar ʼn kort blaasgeluid, soos wanneer iemand ʼn druiwepit van sy tongpunt af spoeg.
Daar is ʼn klap teen die aanvaller se voorkop en hy pluk sy hand daarteen. Die koevoet val op die grond.
Die swartman se oë kyk binnekant toe, asof hy ʼn grapjas is wat vir ʼn foto poseer met ʼn vlieg op sy neus. Hy sug en kantel neer.
Alba Verhoef swaai om. Agter haar staan die onderwyser se ongemaklike seun met sy windbuks in sy hande, sy gesigspiere oopgerek in die breedste glimlag wat ooit deur ʼn Bakkes bewerkstellig is.
Dit was net meer as ʼn halfuur sedert Andreas Vermeulen die eerste skoot van die geveg afgetrek het.
Frekie Bakkes het die laaste skoot daarvan geskiet.
(Lees vervolgens Bodem 27.)

Dankie Gustav, dit was die wag werd!
Moet nou nie mens onnodig bekommerd maak nie – Hoekom staan daar nie die gewone “(Lees môre die volgende aflewering van Bodem.)” nie?
Net ‘n skielike doodsindroom sal môre se aflewering verhinder.
Gustav baie dankie jy sal moet vir ons n aanwysig vroegtydig gee
dat n mens jou kan voorberei vir die ergste (Dit is nou wanneer die boek klaar is) Dankie vir n heerlike lees-sessie.
Dankie Rifrug.
Wel, daar is dit, amper ‘n dubbelaflewering van 3,713 woorde.
Ek swoeg om my slaappatroon te herkalibreer om die aflewerings weer vroeg in die oggend afgehandel te kry.
Dolk, dankie vir die wenke. Jy het seker agtergekom ek het jou beeld van die draadhanger in aangepaste vorm gebruik.
Trippie – ek leef een stryk deur. Dankie vir die bemoediging.
Johann, jy vra goeie vrae. Ek sal ‘n diagram van die toneel optrek soos ek dit in my gedagtes sien en daar sal ‘n post-aksienabetragting van die slag wees.
Ek vra ook , Riempies . Gustav kan nie nou wil stop nie .
Baie geniet dankie Gustav.
Dankie Gustav, die lang wag was defnitief die moeite werd.
Goeie geveg – net-net sou ek dink maar hierdie soort van kontak kan natuurlik nie voortgaan nie omdat daar net nie genoeg voorraad is nie. Die storie sal een of ander kinkel (nog een) moet kry om by die Mollers se veilige hawe te kan kom – as dit nog bestaan. Die volgorde van die D-formasie was nie reg aangehaal nie waar die Landcruiser nie derde was nie en Alba net tweede laaste ipv laaste in die ry. Ek sou verwag dat Fred Bakkes meer in die middel sou staan soos aangedui; so die volgorde kan maklik herstel word. Die D-formasie lyk ook effens groter as ‘n korfbalveld- ek sou dink 40m. Gielie kon dit redelik vinnig doen in 10 sekondes – al bly dit 10 sekondes.
Die storie begin ook te voel na ‘n soort film wat ‘n storieverteller gebruik in die agtergrond – wat dit laat voel of dit waar is. ‘n Ander hoek kan ook wees dat die distopia eintlik reeds plaasgevind het met die chaos en dat hierdie net ‘n uittreksel is van een groepie wat probeer het om uit dit te kom – selfs met die kop omhoog al het baie gesterf. As 50% sterf sou dit aanvaarbaar wees. Julle moet solank kyk vir ‘n rolprent vervaardiger. Waar is Joubert?