Bodem 25: Die hand-tot-hand

Deel op

vlamtoring2‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers Bodem 24 en alle vorige episodes.

Boog op – trek – hou snaar, vingerpunte en pylagterkant teen mondhoek – houuuu… Daar is ʼn ritme in dit alles, ʼn spiergeheue wat molekule vir molekule saamgestel is oor baie jare en ontelbare repitisies. Houuuu… loslaat! Houuuu… ennn… laat sak.

Die boogskutter volg die vlug van die pyl, soos ʼn perdeafrigter wat sy spogmerrie se naelloop na die wenstreep betrag. Die oomblik wat sy wys- en middelvinger die snaar laat losglip het, het hy geen verdere beheer oor die vlug van die elegante koolstofveselstam-pylveer-breëkopkonstruksie nie, maar kyk sou hy kyk waar sy pyl heen flits. Deon Stetner het die Groot Droom van elke pyl-en-boogentoesias beleef: Om ʼn pyl los te laat op ʼn regte, egte mens.

In die wit tregter van die Patrol se hoofligte is dit net ʼn skerfie van ʼn sekonde en die pyl staan in die aanvaller se regterborsspier met meer as tweederdes daarvan buite sig versink. Op twintig meter het Deon Stetner se pyl dwarsdeur die swarte se lyf gesteek. Nie dat dit die aanvaller se bui temper nie. Hy was onstuimig, toe tref die pyl en hy skrik, en nou is hy briesend. Hy gryp die pyl se steel en die ruk daaraan, pluk en pluk weer, maar die wrede weerhake aan die breëkoppyl weerstaan sy pogings. Dit gee vir Stetner die leë oomblik om ʼn tweede pyl uit die koker op die grond te trek, dit teen die snaar te keep, die boog te lig en – trek – hou snaar, vingerpunte en pylagterkant teen mondhoek – houuu…

Die tweede pyl, deur goeie tegniek of blote vloek, raak aan die eerste pyl toe dit ook in die reeds bebloede borsspier wegslaan.

Die aanvaller laat staan die pyle net waar hulle is, hef die ysterstaaf bo sy kop, brul soos ʼn Andalusiese bul voor die picador se skerp stokke en storm.

Stetner het kans om die derde pyl te trek, maar nie om dit teen die snaar te bring nie. Die aanvaller is met lang treë op hom en die boogman lig bloot die pyl soos ʼn rapier voor hom, hou sy arm styf en die swartman hardloop op volle vaart daarin. Die pylpunt tref hom ʼn handbreedte onder die borsbeen en dryf ʼn tonnel diep in sy borskas in voordat dit vasslaan.

In ʼn ommesientjie is die gewonde aanvaller bo-oor Deon Stetner, wat hard agteroor val terwyl dit voel asof die aarde ʼn wilde oseaanbrander om hom geword het en hom onbeheersd rondtuimel. Die swartman kom bo-op hom tot stilstand, wydsbeen oor hom, en slaan na sy kop met die yster, maar dié is te lank en tref die grond iewers aan die bokant van Stetner se skede en, hoewel ʼn deel van die staaf hom hard tref, is dit nie noodlottig nie, want die punt steek vas.

Hy ruk die staaf terug vir nog ʼn probeerslag, maar Stetner kry die pylsteel in die man se middeborskas beet en trek hom vorentoe terwyl sy lyf heen-en-weer en op-en-af flap en beur. Die aanvaller bulk van pyn en woede, stamp sy handpalm in Stetner se gesig en haal die ysterstaaf weer oor.

Atta Stetner se oorloghamerkop – want dit is waarmee haar man haar bewapen het, ʼn langsteelhamer met ʼn kleinerige kop – tref die aanvaller met al die geweld waaroor ʼn lang, verskrikte vrou beskik, reg op sy linker skouerknop, wat onder die vel induik en bars. Hy swaai woedend agteroor op sy rug en sy swaaiende regterbeen tref Atta en stamp haar eenkant toe sodat sy vooroor moet strompel om haar balans te hou.

Deon Stetner ryg homself regop tot op sy voete, bloed- en modderbesmeer. Hy tas na die swaard wat hy aan sy linkersy gehad het, maar in die worsteling het dit tot agter sy rug op die breë lyfband geskuif. Hy strek tot agter sy linkersy met sy regterhand, vind die hef en trek die lang swaard met ʼn lang boogbeweging uit die skede.

Teen dié tyd is Atta reeds weer op die aanval, maar haar volgende hamerhou, gemik vir die aanvaller se kop, tref hom net skrams teen die skedel. Dan is Deon by en hy swaai ʼn magtige kaphou na die swarte en tref hom bo teen die regterskouer. Hy wikkel die lem los, hou dit punt na onder voor hom, leun met sy volle gewig daarop en dryf die swaard in die man se borskas in.

Die swarte se gebrul maak ʼn fuga na ʼn skril, hees gil. Hy gryp die lem met albei hande vas en die skerp staal versnipper sy vingers terwyl hy dit met al sy mag uit sy lyf probeer trek.

Stetner leun met sy volle gewig op die hefknop van die swaard. Die swarte wriemel en flap onder hom, soos ʼn moordvis aan ʼn harpoen.

“Hy wil nie! Vrek nie!” skree Stetner desperaat.

Atta gaan staan aan die kopkant van die neergevelde swarte, meet mooi, werk die meetkunde net reg uit en, met die hamerkop wat agter haar weggetrek word en in ʼn hoë boog oor haar kop kom, verbrysel sy sy skedel.

Sy staan terug, hyg vir asem, gooi die hamer neer, strompel na die Patrol en daar raap sy die haelgeweer wat Bart aangegee het, op.

Al die motorligte is aan en in die oorvleuelende ligbane storm twee dosyn gillende, vegkoorsige gedaantes van minder as twintig meter af, gewapen met byle, kapmesse, kieries en een of twee vuurwapens op die klein laer af.

Onder die kruin agter die voertuiglaer is daar ʼn fris, stampende ontploffing. En dan nog een.

JP, Jack en die gladdehaarterriër, Flaffus, het pas uitasem verby Bart se voormalige stelling by die Unimog-toneel opgedaag, toe die hond botstil gaan staan en begin lawaai, so ontsteld dat sy voorpote met elke blaf van die grond opgewip het. Die hondekabaal van bo die kruin het nou die mense se aandag ook getrek en toe die bloedversurende gegil van swartes op die aanval.

JP het nie eers kans gehad om ʼn opmerking oor die slagting wat in die lig van die skietlamp onthul is te maak nie en Jack kon nie vra of Daan-Dirk vir hulle ook teikens gelos het nie, toe daar ʼn wapperende gesis in die lug is en ʼn pletteruitbarsting van ʼn vlammebol en vlieënde klipskerwe teen die wand van die koppie agter hulle.

“Wat de moer!” skree JP.

ʼn Sekonde later is daar ʼn tweede ontploffing, dié keer voor hulle. Kluite en skrapnel kletter om hulle soos hael neer.

“Dekking!” gil JP, gryp vir Jack, slinger hom teen die grond vas en slaan vollengte langs hom neer.

“Watse splinternuwe hel is dit dié?” skree Jack met sy gesig teen die grond en sy voorarms oor sy kop gedrapeer.

“Mortiere! Bliksemse mortiere!”

Jack neem sy kreet op: “Mortiere! Mortiere!”

In die onderstebo Unimog ratel die bakwerk in simpatieke frekwensietrillings weens die eerste ontploffing.

“Lê laag!” sê Daan-Dirk en druk Brian teen die dak onder hulle voete vas.

Die tweede ontploffing is ietwat verder van hulle, maar meer ontstellend omdat hulle besef die eerste was nie ʼn verdwaalde voorval nie.

Jack en JP se gille bereik hulle. Mortiere! Mortiere!

Adrenalien pomp yskoud deur Daan-Dirk. Liewe Here! Dít ook nog? Hulle het alles geabsorbeer en op een of ander manier anderkant uitgekom, nie ongeskonde nie, maar darem. Wat is hulle nou veronderstel om teen mortiere te doen? Maar Daan-Dirk kan nie nou, net hier bly nie, kan Daan-Dirk? Daar is geen sin om stokstyf te sit en wag vir ʼn bom in lukrake vlug om te mis óf te tref nie. Hy kom orent en vind sy weg tot by die oop agterdeure en wip uit.

Hy het Brian se koplampie in sy hand en hy skyn daarmee rond. ʼn Derde ontploffing slaan dertig meter regs van die Unimog uit en hy trek sy skouers langs sy kop op. In die koplampie se ligkol lê die lyk van ʼn swartman en voor sy stil, uitgestrekte hand is ʼn kort R5-stormgeweer. Daan gee ʼn paar lang treë tot daar, skep die geweer op en wikkel tot agter die klip waar hy kort tevore sy Leonidas-ding gedoen het.

Die Lee Enfield het geknal sonder dat Chris Lourens besef het dat dit teen sy skouer gekom het, dat sy hand die grendelgreep teruggetrek en ingestoot het en dat hy sommer so losweg oor die loop gemik het. Dis asof dit alles uit sy bewussyn en geheue geredigeer is. Sandy het die ligte van die Land Rover aangeskakel, daar was hierdie figuur wat uit die gras opgestaan en begin storm het en toe bars die skoot los en die gedaante raak ongekoördineer, met sy bene wat vorentoe maal en sy bolyf wat agtertoe gaan.

Daar was tyd vir ʼn tweede skoot, maar nie om te sien of dit tref nie, en toe is die gedaantes in die oopte tussen die twee Land Rovers en op Lourens. Hy doen wat eeue se infanterie voor hom gedoen het as hulle gewere ongelaai is in die aangesig van aanvallers. Hy hou die Lee Enfield hoog voor hom met albei hande. ʼn Piksteelhou daal neer met sieklike geweld en tref die pinkie en ringvinger aan sy linkerhand en hulle punte bars oop soos ryp druiwekorrels onder ʼn stewelhak.

Die stroom aanvallers tref vir Chris Lourens en dryf hom terug. Hy kry ʼn middellyf met sy linkerarm beet, druk instinktief sy kop teen die swart, nat bolyf vas en hulle rinkink in ʼn groteske wals agteruit.

Andreas Vermeulen was gehurk by die grinnikende Gielie Degenaar, besig om die LMG te bewonder toe die honde op die koppie begin blaf, die rumoer ontstaan en die ontploffing die nag agter hulle ruk.

“Kom!” skree hy vir Gielie, gryp hom aan ʼn T-hemp mou en trek hom na ʼn ry los rotse agter hulle.

“Seun!” gil hy op Rattus en die man, die seun en die hond nael na die rotse en tuimel agter hulle neer.

“Mortiere! Mortiere!” dawer JP en Jack se stemme.

“Mortiere, Oom?” vra Gielie vol belangstelling agter die rotse.

“Miskien. Nee. Ek dink nie so nie. Luister.”

Daar is ʼn hol knal nie ver van hulle af nie in die veld en ʼn voorwerp fladderfluit deur die lug en slaan in ʼn ontploffing twintig meter links van hulle vas.

“Granaatwerper,” sê Andreas.

Hy kry die geweer in die aanlêposisie voor hom en tuur deur die teleskoop.

“Ek kan hom nie sien nie,” sê hy vies.

Bo-op die koppie verhewig die geroesemoes van geluide, gille en skote wat knal.

“Oom!” sê Gielie. “Ek moet boontoe, Oom!”

“Sit waar jy is! Daai granaatwerper weet waar ons is. As hy jou in die oopte vang…”

“Tannie Alba, Oom! Ek moet gaan, ek móét!” kerm Gielie.

“Ons moet daai granaatwerper kry voor hy een bo-op die koppie gooi!”

“Kry Oom hom, ek gaan!”

Andreas dink net ʼn sekonde.

“Jy gaan lig nodig hê.”

“Ek  het ʼn flits, Oom!”

“Gee hom hier!”

Andreas sit die geweer op sy kolf teen die rots neer, sleep sy rugsak van sy rug af, vroetel daarin en vat dan die flits uit Gielie se hand.

“Jou kop!”

“Oom?”

Andreas kry Gielie se kop beet, trek dit vorentoe en druk die flits daarteen, lens vorentoe.

“Hou dit!”

Hy het ʼn rol grys geutband in sy hand.

“Wat is dit, Oom?”

“Duct tape!”

So vinnig as wat hy kan trek hy die kleeflint om en om Gielie se kop en plak die flits langs sy kop vas. Hy skakel die lig aan.

“Gaan!” sê hy. “En vat ʼn wapen.”

Gielie staan op, ongestoor deur die moontlikheid van barstende bomme en swaai sy kop heen en weer en soek vir ʼn wapen op die grond. Daar is onmiddellik verskeie moontlikhede wat sy aandag trek, maar sy oog val op ʼn Z88-pistool. Hy draf daarheen, tel dit op, trek die magasyn en bekyk die lading. Die magasyn is amper vol. Hy trek die Walther uit die skede wat aan die leerband van sy skouer afhang, laat val die leë pistool op die nat grond en stop die Z88 daarin. Hy kyk op en daar, in die lig van sy flits, lê die groot byl wat hy op die Mutt gebruik het. Die wilde vreugde neem weer van hom besit.

In die hardloop raap hy die byl op en storm na die steil, gladde helling wat lei na die bokant van die koppie. Hy tref dit volspoed en skarrel daarteen op, maar dit is steil en glad en sy voete skiet onder hom uit. Hy val hard en sy ken kap teen die rotsplaat, gly ondertoe, val in die modder, spring op en probeer weer. Nogmaals gly hy terug. Met ʼn briesende kreet val hy dit weer aan, en weer kan hy nie vastrapplek vir sy voete en grypplek vir sy linkerhand vind nie.

Vyftien meter agter hom draai Jack dwars en sien hoe die rotswand die desperate seun met die byl in sy een hand afweer.

“Ek kom!” skree hy.

“Bly hier, onnosel!” gil JP op hom en hy probeer ʼn greep op Jack kry, maar sy maat het reeds weggedraai.

Jack kruip ʼn paar treë handeviervoet en kom orent.

Hy draf tot by Gielie.

“Ek help jou!” skree hy.

“Oom!” skree Gielie uitasem in erkenning.

Hy werp homself weer teen die helling. Jack druk sy een skouer teen die wand en wanneer Gielie teruggly kom sy voet op Jack se skouer tot rus. Die seun buig sy been en skiet dit reguit. Hy gaan teen die rotsmuur op. Jack vang die ander voet op sy handpalm en beur al wat hy kan na bo.

Gielie, spartelend, grypend, skoppend seil teen die rotswand op. Sy regterhand vind ʼn nat handvol grasstingels en hy trek homself tot bo.

“Ja! JAAA!” jubel Jack en wanneer hy terugdraai is daar ʼn sug deur die lug en reg voor hom bars die aarde in vlamme oop.

Die slag pluk hom van sy voete en slinger hom teen die rotswand vas.

(Lees vervolgens Bodem 26.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.