WAM Carstens oor Afrikaans

Deel op

WAM Carstens, tot onlangs die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), het pas (15 deser) ‘n artikel oor Afrikaans op LitNet Akademies gepubliseer. Dit is ‘n portuurbeoordeelde artikel waarvoor die outeur R10 000 ontvang. Ek moet noem dat daar ‘n opvallend ernstige onvermoë by die outeur se verwerking en sistematisering van die stof en die aanbieding daarvan onder sinvolle hoofde en onderhoofde te bespeur is. Die artikel wek nie die indruk van ‘n netjies afgewerkte stuk werk nie. Voorts bepaal ek my aandag egter by die inhoud.

Die titel van die artikel is: “Op pad van ‘n verdeelde na ‘n gedeelde toekoms in die Afrikaanse taalgemeenskap: Die rol van die Afrikaanse Taalraad in die proses van versoening.” Hierdie titel berei die leser in ruime mate voor op die politiek-korrekte teks wat volg; dus dat dit eerder gaan om politieke as taalkundige oorwegings. Daarmee insinueer ek nie dat politiek en taal altyd maklik geskei kan word nie. My beswaar is teen die mate waarin Carstens en die ATR se posisie of rol eerder deur politiek as taal bepaal word. Die ATR se slagspreuk, “Bemagtig, bevorder, beskerm”, het ‘n politieke geur. Daar is geen sprake van die ontpolitisering waarvan gewag gemaak word nie. Propaganda teen Afrikaans en die Afrikaner word deur Carstens eerder welwillend gesluk as manmoedig beveg. Die verdedigende en apologetiese modus waarin glad te baie Afrikaanssprekendes verval het, kon myns insiens ten beste opgehef word as Carstens liewer die anti-Afrikaanse elemente daadwerklik bestry het.

Die rede waarom die ATR hom in ‘n ongunstige posisie bevind, is omdat dit vir hom in die eerste plek om versoening gaan, wat sekerlik eerder ‘n politieke as taalkundige ideaal is: “Versoening tussen die uiteenlopende Afrikaanse gemeenskappe was … van die begin af die fokus in die hele proses.” In die “hartseer verlede van Afrikaans” het dinge glo so “skeefgeloop” dat ‘n “heelmaakproses” nodig is. Die “slagyster van die verlede” word as sleg voorgestel en het glo benadeel, gemarginaliseer, veronreg, verdeel, verskeur en versplinter, gevolglik word talle kere beweer dat daaroor gewroeg word. Al die bekende holruggeryde segswyses teen Afrikaans kom in die teks voor: daar kleef ‘n stigma aan en dit is bevlek, dra die bagasie van die verlede en is die taal van die onderdrukker. Daar word uitgesien na ‘n gedeelde toekoms: inklusief, heelmakend, versoenend, verenigend, bemagtigend, transformerend, demokratiserend. “Verskonings vir die onverskoonbare (= apartheid)” moenie geopper word nie. Die apartheidsera word sonder meer as onvry en die na-apartheidsera as vry voorgestel, terwyl ‘n mens deesdae nie veilig in jou eie huis voel nie en moed moet monster voor jy dit buite waag.

Apartheid het “‘n groot seer gelaat.” Ampie Coetzee word aangehaal: “In Afrikaans is daar dinge gesê, en Afrikaners het dinge gedoen, in die verlede wat afskuwelik was.” Daar word verwys na die “foute” en “slagoffers” van die verlede en na die bekende beskuldig dat alle blankes “skuldig” aan apartheid was. Nêrens in die teks word nie-wittes se gedrag veroordeel of sleggesê nie. Die ANC se propaganda het by die onkritiese Carstens in die spreekwoordelike lieflike plekke geval. Daar word ook na Mamphele Ramphele verwys wat beweer dat apartheid “psigologiese littekens” gelaat het. Ter wille van ewewig behoort die sielkundige en ekonomiese littekens gelaat deur bv die UDF/ANC se boikotte, onrus, geweld en terrorisme ook genoem te word. Afrikanernasionalisme word as ‘n vlieg in die salf voorgestel. Die euwel van swart mag kom egter nêrens aan bod nie.

Carstens beweer alle kante van ‘n saak moet aandag kry, maar sy teks is nie ‘n toonbeeld hiervan nie. Daar word na Willie Esterhuyse se “voorheen-onderdruktes” verwys maar nie na die tans benadeelde blankes nie. Meerdere kere verwys Carstens (afkeurend) na die bomontploffing deur wittes op Worcester in 1996. Nelson Mandela se bomplantveldtog word egter nie genoem nie; wél dat hy na minderheidsgroepe uitgereik het. Carstens gee die volgende getuigskrif: “Nelson Mandela het apartheid verafsku, maar hy het nie haat en bitterheid in sy binneste vertroetel nie.” Mandela is die enigste persoon na wie in die teks as “meneer” verwys word; iets wat heeltemal buite orde in ‘n wetenskaplike, vakkundige artikel is. Nêrens word die UDF/ANC en PAC se vandalisme en terrorisme genoem nie, wat nog te sê veroordeel. Verskeie kere verwys Carstens (goedkeurend) na die Soweto-opstand in 1976. Die joernalis J Rantoa se bewering van rassisme word aangehaal, asook dat die destydse regering volgens hom Afrikaans in alle Suid-Afrikaners se kele afgedruk het. Afrikaans is seker destyds in sekere opsigte bevoordeel, maar in veel mindere mate as Engels deur die ANC-regering, maar Carstens noem dit nie.

André Duvenhage beweer “die apartheidsregering [het] sekere groepe hul taal en kultuur … ontneem.” Dit is gewoon onwaar, maar weereens opper Carstens geen beswaar nie. Tydens apartheid is die kulturele belange van die verskillende etiese groepe erken en is trots op hulle moedertale aangemoedig. Ek was bv teenwoordig toe ‘n woordeboeksentrum vir Xhosa in die jare sestig deur die regering aan die Universiteit Fort Hare gevestig is. Rantoa: “There is nothing special about Afrikaans.” Carstens spreek hom nie teen nie, omdat dit nie politiek-korrek sou wees nie. Die waarheid is dat Afrikaans hoogs spesiaal is in die sin dat dit lank voor Engels plaaslik op groot skaal (ten minste in proto-vorm) gepraat is en Afrikaners se bydrae tot die ontwikkeling en beskawing van die land heel moontlik groter as dié van enige ander etniese of taalgroep is.

Carstens wil die toekoms van Afrikaans verseker. Met die oog hierop en in ooreenstemming met die huidige neiging in Suid-Afrika word slegs kwantitatiewe norme in ag geneem; dus hoe meer sprekers van Afrikaans daar is, des te beter die oorlewingskanse van die taal. Daar is in die teks nie ‘n enkele woord oor die gehalte van die Afrikaans waarop die ATR-proses afstuur nie. Die bruines wat sitting in die ATR het, is sover bekend almal teen Standaardafrikaans gekant en ten gunste van groter erkenning vir ‘n hibridiese variant, naamlik die mengeltaal Kaaps. Hierdie standpunt is etnies en polities gemotiveerd.

Hoewel die toenemende besoedeling van Afrikaans met onnodige Engelse woorde ‘n aaklige werklikheid is wat reeds talle kere in die literatuur geopper is, is daar in Carstens se teks en bronnelys geen verwysing hoegenaamd hierna nie. Dit is waarskynlik te wyte aan sy klem op versoening, dus politiek, pleks van hierdie elemente in die ATR trompop te konfronteer en aan hulle uit te wys dat Engels en die ANC die hoofbedreigings vir die voortbestaan van Afrikaans is. Daar word darem sagkens erken “dat die Suid-Afrikaanse regering nie werklik daarop ingestel is om Afrikaans … te bevorder nie.” (In werklikheid is daar “aktiewe benadeling”, soos Flip Buys tereg op 3 deser in Rapport uitgewys het.) Afrikaans moet vanselfsprekend in ‘n respektabele vorm behou en eerder in gehalte opgehef as afgedruk word.

Carstens vertel dat hy namens die ATR met regse Nederlandse politici gesprek gevoer het en dat daar die moontlikheid van geldelike ondersteuning uit daardie oord was. ‘n Medelid van die ATR, Christo van der Rheede, het hom toe aangematig om Carstens ‘n “taalprostituut” te noem. Carstens behoort sulke vermetelheid nie versoenend te duld nie. Van der Rheede was in daardie stadium die hoof van Naspers se Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. Sy ampsplig was om veral bruines se grootskaalse migrasie na Engels te stuit. Ampshalwe het hy dus aan bruines verkondig dat hulle Afrikaanse skole moet bywoon, maar hy het sy eie kinders in Engelse skole geplaas. As Carstens nie vir Van der Rheede, wat hy eufemisties ‘n taalaktivis pleks van ‘n ANC-aktivis noem, kan kortvat nie, is daar min hoop op sukses vir die ATR.

In die artikel word telkens die wens uitgespreek dat mense Afrikaans in hulle huise moet gebruik. Dit is glad nie die hoofprobleem nie; selfs nie by die bruines nie. Dit is veral bruines wat in die openbaar hoogs dislojaal teenoor Afrikaans is. Carstens en die ATR behoort die moed van hulle oortuiging te hê om hierdie probleem openlik aan te spreek. Alle Afrikaanssprekendes moet, in soverre dit enigsins prakties moontlik is, Afrikaans oral benut.

Die sug na inklusiwiteit, wat “ononderhandelbaar” is, neem by Carstens die vorm van gelykheid aan. Alle mense in die nuwe Suid-Afrika is gelyk verklaar, gevolglik het die ATR alle variante van Afrikaans, dus ook dié wat uitermate met Engels (woorde, uitdrukkings, grammatika, uitspraak) besoedel is, gelykwaardig verklaar. Die ideaal is om alle soorte Afrikaanssprekendes (“die heterogene Afrikaanspraters”) en alle variante van Afrikaans (“‘n ruim Afrikaans”) in een gelukkige bondel saam te snoer. Dit is glo moontlik as almal hulle stories in die WVK- of Tutu-modus vertel. Mode-politiek dien by Carstens deurgaans as die aanbevole model vir taalkundige sake. Die amptelike erkenning en bevordering van allerhande taalvariante deur die ATR (“om die taal in sy … diversiteit uit te bou”) gaan Standaardafrikaans, as die enigste algemeen erkende en ontwikkelde vorm van Afrikaans, myns insiens verswak en die oorlewingskanse van hierdie taal beduiwel. As die nuwe Suid-Afrika ‘n normale samelewing wil wees, moet Afrikaans in sy standaardvorm erken en bevorder word, soos wat elders in die wêreld met alle erkende tale gedoen word.

Die ATR bemoei hom nie net met Afrikaans nie. Hy wil alewig die gebruik van alle Suid-Afrikaanse tale bevorder, dus meertaligheid. Die skoenmaker behoort hom verkieslik by sy lees te hou. Die taak om Afrikaans sinvol te bestuur, is moeilik genoeg. Die sprekers van ander tale behoort self die heil van hulle moedertaal te bevorder in soverre hulle dit nodig ag. Bemoeiing deur die ATR stel hom aan die beskuldiging van paternalisme bloot.

Die regses word daarvan beskuldig dat hulle versoening in die wiele ry. “‘n Klaarblyklike doring in die vlees skyn die term Afrikaner te wees.” Leopold Scholtz: “Afrikaans is groter as die Afrikaners, want laasgenoemdes deel hulle moeder met die meeste bruin mense en selfs sommige swart mense en Indiërs.” Carstens: ‘n Organisasie soos Praag “dra nie altyd die soort legimiteit wat ‘n mens graag hier sou soek nie.” “Pogings van onder meer … Praag … het nie die beplande sukses behaal nie, en wel om ‘n goeie rede: ‘Die probleem is eenvoudig dat elke organisasie wat tans met Afrikaans gemoeid is net ‘n deel van die Afrikaanse gemeenskap verteenwoordig en daarom in die oë van sommige ander Afrikaanssprekendes “bevlek” of “gestigmatiseerd” is.'” Nêrens in die artikel word sulke etikette om bv die ANC se nek gehang nie.

In hierdie artikel, wat veronderstel is om ‘n wetenskaplike werkstuk te wees, word die politieke kersie op die taalkoek geplaas wanneer Carstens sy Damaskus-oomblik bely: “Ek was ná ‘n gesprek met [Christa] van Louw in November 2004 oortuig van my eie skromelike onkunde oor die gevolge van apartheid, wat my beskaamd gelaat het oor die aandeel wat ek daaraan gehad het.” Dan kom Carstens met ongekwalifiseerde stellings soos: “Dat apartheid mense van hulle menswaardigheid ontneem het. Dat mense minderwaardige burgers in hulle land van geboorte was. Dat mense daagliks verneder is. Dat sy as jong swanger vrou aangerand is deur lede van die veiligheidsmagte,” ens. Geen gruweldade deur nie-wittes word uitgelig nie. Geen woord nie oor die minderwaardige burgerskap wat blankes tans het omdat dit grondwetlik is om teen hulle as groep te diskrimineer op grond van hulle beweerde kollektiewe skuld.

Na aanleiding van Wilhelm Jordaan se uitlatings oor die Anglo-Boereoorlog, beveel Carstens die volgende aan: “Vereenselwig jou ‘volledig en empaties’ met die lot van die onderdrukte mense. Raak betrokke in ‘intens persoonlike kommunikasie’ met die ‘lydendes’ … Doen … bemagtigings- en opheffingswerk waar jy kan. Die lydendes is geregtig op ‘menswaardige behandeling’. Optredes moet daarom gekenmerk word deur ‘uiterste deernis en respek’. Aanvaar ‘namens [jou] volk morele verantwoordelikheid vir die oorlog en vra om vergifnis'”

Ek het na die beste van my vermoë ‘n korrekte aanduiding probeer gee van die inhoud van ‘n artikel wat veronderstel is om eerder oor taal as politiek te handel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.