praag.co.za

Peugeot se Allure 4008 2.0 doen alles

Written by

in

Die naam klink sommer aantreklik. Peugeot in samewerking met Mitsubishi en Citroen het die voertuig ontwikkel om die “00” konsep wat Peugoet se nuwe generasie modelle onderskei, daar te stel.

Die 4008 is nou regtig ‘n voertuig wat allesdoen en orals gaan. Dit is ‘n leefstylmotor wat die praktiese sy van ‘n luikrug, die spasie van ‘n minibussie en die veldryvermoë van ‘n sagte sypadjieklimmer kombineer. Citroen se C4 Aircross en Mitsubishi se ASX is dieselfde soort rygoed. Die Peugeot doen dinge net so bietjie meer stylvol as sy Citroen-niggie en die ASX is nou weer slegs beskikbaar in 4×2 wat hom heelwat goedkoper maak en in ‘n ander koopsegment plaas.

Binne in die 4008 is genoeg ruimte vir vyf volwassenes met bagasie. Ons toetsmotor was met die groot glasdak toegerus wat die binneruim nog ruimer laat voel as wat dit werklik is. Swart leerbekleedsel vir die sitplekke en deure met blink metaalinselsels laat die binneruim werklik spesiaal voel. Die nuwe generasie Peugeot het net daardie tikkie meer styl as die Citroens wat meer modern voorkom. Die buitelyne van die 4008 is sterk met groot wiele en groot luginlate voor. Dit gee die hele motor ‘n baie dinamiese gevoel. Daar is ‘n lyn met LED-dagligte wat die voorkant die 4008 nog aggresiewer laat vertoon. Sterk lyne oor die enjinkap en ‘n grondvryhoogte wat jou sal laat dink dat jy oor byna enige klip sal kan ry, help alles om die Peugeot van sy twee mededingers te onderskei. As hierdie die drie susters van Driesusters was, sou die 4008 beslis die grootste en sterkste gewees het. Ek word sommer bang!

Wat die binneruim betref is die instrumentepaneel baie logies uiteengesit met groot draai knoppe vir die klimaatbeheerstelsel, die stuurwiel is dik in jou hande en voel baie sukuur op die pad. Die groot glasdak het ook klein LED-liggies aan altwee kante van die glas om die hele gevoel van kwaliteit binne die motor nog verder te beklemtoon. Die 4008 Allure se toerustingvlak is baie goed met alles van die glasdak tot klimaatbehaar, navigasie en ‘n maklik verstaanbare, uitstekende klankstelsel.

Op die pad is die 4008 ook anders as vorige Peugeots, baie harder geveer. Daar is ‘n draaiknop wat die 4008 gemaklik tussen 4×4 en 4×2 modus kan laat wissel, die stelsel kan ook in 4×4 modus gesluit word. Die 4008 is nou nie ‘n hardebaard veldryer nie, maar met die 4×4 sal jy baie ver van die pad af kan ry. Padhouvermoë en rygerief het ons baie beïndruk.

Die 4008 word aangedryf deur ‘n 2.0 liter petrolenjin wat 110Kw en 197Nm se wringkrag ontwikkel. Daar is ‘n baie gladde dubbelkoppelaaroutomatieseratkas wat al vier wiele aandryf. Brandstofverbruik het ons op 7,9l/100km aangestip wat aanvaarbaar is vir die motor veral in die gekombineerde siklus waarin ons gery het.

Kompetisie

Audi Q3 2.0 TFSi Quattro teen R421 00

VW Tiguan 2.0 TSI teen R432 000

Ons keuse, is die Peugeot 4008 teen R377 000. Dis net so stylvol en lyk na ietsie anders as wat elke ander ou in die omgewing voor sy motorhuis parkeer.

Comments

Leave a Reply