Sweedse politieke assistent geskors omdat ‘hy graag ANC-aktiviste in SA sou wou skiet’

‘Ek sou graag ‘n soldaat wou wees vir die apartheidsregering sodat ek teen swartes kon oorlog voer. Dit sou gaaf wees om ANC-guerillas te skiet’ – Joel Anker, Sweedse politieke navorser by EU-parlement

Joel Anker, ‘n dertigjarige prokureur wat as assistent vir ‘n politikus van die Sweedse Demokrate by die Europese parlement werk, is uit die party geskors omdat hy onder andere op die internet sy steun vir apartheid uitgespreek het. Volgens ‘n berig in die linkse Sweedse koerant Aftonbladet het hy geskryf: “Ek sou graag ‘n soldaat wou wees vir die apartheidsregering sodat ek teen swartes kon oorlog voer. Dit sou gaaf wees om ANC-guerillas te skiet.”

Joel Anker, die navorser van die Sweedse Demokrate wat weens steun vir die destydse apartheidsregering en anti-Moslem-uitlatings geskors is.
Joel Anker, die navorser van die Sweedse Demokrate wat weens steun vir die destydse apartheidsregering en anti-Moslem-uitlatings geskors is.

Volgens die koerant het hy “rassistiese dinge oor Moslems, Jode en swartes op die webwerf Flashback geskryf”. Die koerant het insgelyks onthul dat Joakim Andersen van die Sweedse Groen Party rassistiese uitlatings op die Ubuntu-geselsforum gemaak het.

Joel Anker het tot voor sy skorsing as navorsingsassistent vir ‘n EU-parlementslid, Kristina Winberg, gewerk. Oor Moslems het Anker op die Flashback-webblad gesê: “Islam en sy mense is in die hel uitgevind en moet na die woestyn teruggedryf word, met wapens as dit nodig is.”

Die navorsingsassistent van die Sweedse Demokrate het verder skerp kritiek gelewer teen ‘n Joodse krimonologieprofessor in Stockholm, wat hy as ‘n “Judas” getipeer het.

Hoewel Anker sy uitlatings onder ‘n skuilnaam gemaak het, het Aftonbladet sy identiteit vasgestel en die party daarmee gekonfronteer, waarna hy geskors is.

“Daar was geen ander uitweg nie. Ons kan nie ‘n persoon wat sulke dinge skryf in ons party duld nie,” sê die EU-politikus Kristina Winberg.

Joakim Andersen van die Groen Party het in koerantberigte beweer dat immigrante in Swede welkom behoort te voel. Maar toe hy anoniem op die Ubuntu-geselsforum skryf, het hy presies die teenoorgestelde gesê en was “verheug” om te hoor dat ‘n immigrant vermoor is.

Swede ondervind al hoe meer probleme met geweldsmisdaad wat deur immigrante gepleeg word, maar die Sweedse Demokrate is die enigste party wat immigrasie wil beperk terwyl die hoofstroompartye dit aanmoedig. Enigeen wat “vir homself werk” kan in Swede gaan woon en ten minste ‘n eenjaarvisum verkry. Swede neem ook jaarliks ‘n hoë aantal politieke vlugtelinge uit die Midde-Ooste in, die meeste van enige EU-land.

Palestynse terroris: ISIS = Apartheid

Die voormalige Palestynse terroris, Leila Khaled, het die bedrywighede van die militante groep, die Islamitiese Staat, skerp veroordeel.

Sy het gesê die dade van ISIS is vergelykbaar met dié van verregse Joodse setlaars en Sioniste wat apartheid en rassisme ondersteun het. ISIS word hoofsaaklik deur Saoedi-Arabië befonds om Wahabi-Islam, ‘n fundamentalistiese Moslemvertakking, te bevorder.

By ‘n plegtigheid waar die voormalige intelligensieminister Ronnie Kasrils ook teenwoordig was om ‘n boikotveldtog teen Israel te loods, het Khaled ISIS se onthoofdings as terreurdade bestempel.

Minister Malusi Gigaba het Khaled by OR Tambo lughawe ingewag saam met Umkhonto We Sizwe en ander ANC-organisasies.

Sy is in Suid-Afrika as gas van die Boycott, Divestment and Sanctions-beweging. Die aktivis het Port Elizabeth besoek as deel van haar landwye besoek aan Suid-Afrika.

Khaled het in 1969 eiehandig ‘n vliegtuig gekaap, een van verskeie. Vlug TWA 840 is opgeblaas nadat die gyselaars ontset is.

Sy het die onlangse moord op die Jordaniese vlieënier vergelyk met die branddood van ‘n Palestynse tiener Mohammed Abu Khdeir in Jerusalem verlede jaar deur regse Jode.

Na die publikasie van ‘n ikoniese foto van Khaled waar sy ‘n AK-47 ophou, geklee in ‘n keffija, het sy “ses operasies aan haar neus en ken” gehad “om haar identiteit te verberg”, maar dié is sedertdien glo omgekeer.

Bronne beweer egter dat die beweringe oor plastiese chirurgie onwaar is omdat die persoon op die foto nooit Khaled was nie, maar ‘n model wat vir die foto geposeer het.

Windbestuiwing by die Curroskool

In Sub A het ons lessenaars gehad waarop ons so twee-twee gesit het. Dit was sulke houtlessenaars, suur van die sweet van talle vorige geslagte skoolkinders. My lessenaarmaatjie was die slimste kind in die klas, Suzette. Ek was doodbang vir haar, selfs banger as vir die juffrou. Suzette het rooi hare en sproete gehad, en ‘n humeur om daarby te pas. Sy het my gereeld op my plek gesit. Sy was beduidend groter as ek, dwarsdeur die laerskool, asook beduidend slimmer. As sy minder as 95% gekry het vir enige vak, het haar ma-hulle die hoof in ‘n toestand van paniek gebel.

delport_manfred_600Ek weet nie wat die juffrou se plan was met my en haar by dieselfde lessenaar nie. Daar was waarskynlik nie veel van ‘n plan nie, buiten om ‘n stout seuntjie te laat intimideer deur ‘n dogtertjie wat op alle gebiede sy meerdere was. Suzette het die res van ons eweneens deur ons ganse laerskoolloopbaan uitgestof. Dit het my ook nie veel gehelp om langs haar te sit nie. Haar akademiese prestasies was helaas nie aansteeklik nie. Gelukkig ook nie haar sproete nie.

Gedagtig aan Suzette, moet ek erken dat ek so ‘n effe in die duister verkeer oor die huidige herrie rondom die Curroskool in Pretoria. Sowat dertig ouers, vermoedelik almal swart, is geweldig ontstoke agv die sogenaamde “apartheid” by die skool. Dié betrokke skool het ‘n meerderheid swart “lênnas”. Die skool se bestuur het dit egter goedgedink om voëls van enerse vere bymekaar in die klas te sit. Verbouereerde blanke graadeentjies is dus by ander blanke graadeentjies ingedeel, sodat die kinders by mense van hul eie kultuur aanklank kon vind, en kon maatjies maak.

Immer op die uitkyk vir die geleentheid om “dat’s rayyysssiiss” te skree-huil, het sowat dertig ouers van swart “lênnas” egter mal geraak van verontwaardiging. Hoe durf die skoolmaatjies van dieselfde kultuur saam wil groepeer? “Dis apartheid!”, het die ryk, swart ouers, wat hul kinders by ‘n privaatskool ingeskryf het, aan’t gil gegaan.

Dit is skynbaar onaanvaarbaar dat daar klasse is met slegs Sipho’s en Lindiwes, terwyl ander klasse weliswaar Sipho’s bevat, maar ook Jannies en Sannies. Die Ierse immigrant en kaartmannetjie met die skril stemmetjie op die radio, John Robbie, het op Talk Radio 702 ‘n onderhoud gevoer met die hoofuitvoerendebeampte van die Curroskole, en heel voorspelbaar het Robbie self, nes die ousies wat so geweldig aan’t skree gegaan het, geen oomblik verspil voordat hy die indeling van maatjies insgelyks probeer vergelyk het met PW Botha se optrede aan die grens met Angola nie. ‘n Klag van misdade teen die mensdom by die VN was stellig Robbie se volgende stap.

Waarom ek dit moeilik vind om te begryp, is die volgende: Die groot geteem oor swart staatskole handel eintlik oor dié skole se gebrekkige infrastruktuur en fasiliteite, die spreekwoordelike klaskamers onder bome. Beide die blanke en swart leerlinge by hierdie Curroskool gaan egter op presies dieselfde banke sit, onder dieselfde dak, voor dieselfde swart- of witbord. Hulle gaan presies dieselfde geriewe geniet, op alle vlakke. Hulle gaan deur dieselfde (blanke) onderwysers onderrig word. Siende hoe ons telkens vertel word hoe eners mense glo is, watter moontlike verskil kan dit maak, sou een klas meer swart lênnas en minder blanke kindertjies hê? Onthou: “Ons is almal dieselfde”, volgens die linksverkramptes, en die NSA is hoeka so kleurblind soos maar kan kom.

Voorts is daar heelwat mense wat beweer dat rassisme ‘n aangebore eienskap van blankes is. Sou dit wel die geval wees, waarom wil die mammas van die swart lênnas hul kinders op so ‘n jong ouderdom aan ontluikende blanke rassissies blootstel? Hou Sipho om hemelsnaam weg van die klein rassis, Jannie!

Dis dus voorwaar ‘n raaisel, hierdie vreemde geteem deur die swart ouers. Die enigste moontlike verklaring wat ek kan bedink, is dat die rassisme-gillers meen dat akademiese prestasie aansteeklik is, dat hul swart telgies moontlik dmv windbestuiwing by die blanke kinders hul intelligensie, en werksywer sal aansteek. As die klas 100% swart is, is daar as’t ware geen akademiese stuifmeel in die lug nie.

Helaas kan ek uit bittere persoonlike ervaring getuig: Ek het nie my akademiese prestasie by Suzette aangesteek nie. Windbestuiwing werk slegs as jy ‘n vrugteboom is.


Eugene de Kock kry parool, CDL sit

Voormalige Vlakplaas bevelvoerder Eugene de Kock sal op parool vrygelaat word, het die minister van justisie, Michael Masutha Vrydag gesê.

Die voormalige polisiekolonel, ook bekend as “Prime Evil” is deur die ANC geloof toe hy ander oud-lede daarvan beskuldig het dat hulle nie verantwoordelikheid vir apartheidsveiligheid wil neem nie. Hy het gesê oudlede het “nie die ruggraat om op te staan en verantwoordelikheid te neem nie”.

Clive Derby-Lewis, wat skuldig bevind is aan die moord op die SAKP-leier Chris Hani, sal egter nie op mediese parool vrygelaat word nie, Masutha gesê.

Die 79-jarige Derby Lewis wat longkanker het, dien lewenslange tronkstraf uit vir sy rol in die moord op Hani. Die SAKP en die Hani- familie is gekant teen die aanbeveling dat Derby-Lewis op parool vrygelaat word.

“Daar is niks om te wys dat mnr Derby-Lewis se toestand sodanig is dat hy fisies onbevoeg is nie… genoeg om sy daaglikse aktiwiteit te beperk nie.”

‘n Aanbeveling dat Derby-Lewis op mediese parool vrygelaat word, kan dus nie goedgekeur word nie, het Masutha verklaar.

‘Grysgebiede’

Van ‘n geëerde hoogleraar aan die Universiteit Stellenbosch verneem ons onlangs dat bepaalde feite soos rassediskriminasie teen blankes in Suid-Afrika teen die agtergrond van die geskiedenis “herinterpreteer” of gerelativiseer moet word. Waarom lê hy nie die moed aan die dag om te sê rassediskriminasie is verkeerd ongeag van wie dit toepas nie? Die verkeerdheid daarvan word net nog erger wanneer dit huigelagtig met die dekmantel van “nie-rassigheid” beklee word.

En ‘n fatsoenlike rubriekskrywer van Die Burger spreek die mening uit dat die waarheid iewers in die ”grysgebied“ tussen waar en onwaar geleë is. Dit is sekerlik moeilik om altyd ‘n klinkklaar beslissing te maak tussen goed en sleg, waar of nie waar nie, maar “grysgebied” lyk alte veel na die kenmerkende eienskap van ons moderne samelewing: Grys, kleurloos, Godloos, beginselloos, ruggraatloos, futloos en oortuigingsloos. Dof en vaal. Dit lyk asof ons wêreld alle houdings en waardes net in een obsessionele beheptheid saamgepers het, naamlik “ras”.

Nou kom ons praat nou juis oor rassisme, oor huigelagtigheid, oor relativisering van die waarheid en oor grysgebiede.

Op die netwerf van die Department of Justice and Constitutional Development word aangehaal uit die Suid-Afrikaanse grondwet wat in wese sê dat enige onbillike diskriminasie op grond van ras, geloof geslag of seksuele oriëntasie ens., ens., ens. ongeoorloof is. In die volgende sin kwalifiseer hulle dit egter deur te beweer dat diskriminasie nie onbillik is as dit “onregverdighede van die verlede” aanspreek nie. Nou toe nou. Mens sou sê die professor van Stellenbosch het die teks vir hulle geskryf.

Dit beteken dus doodeenvoudig hulle kan diskrimineer wanneer dit hulle pas, want bykans enigiets kan gesien word as ‘n ”regstelling” van die een of ander “onbillikheid” uit die verlede. M.a.w. die verbod op diskriminasie is nie ‘n rotsvaste reël nie, maar net nog ‘n politieke instrument wat op arbitrêre wyse uitgepluk en toegepas kan word om die regime se belange te dien. Die verbod op diskriminasie is die hoeksteenbeginsel van die nuwe grondwet, maar dit word gewoon in die snippermandjie gegooi wanneer dit moontlik mag indruis teen die regime se belange. Dit gee ‘n duidelike indruk van hoeveel beskerming ons as blankes en Afrikaners van die grysgebiedgrondwet kan verwag.

Een van die hoofoogmerke van die reg is om aan die landsburger sekerheid te gee van waar hy staan, van wat sy regte en verpligtinge is, wat hy mag en nie mag doen nie, en wat die gevolge van sy doen of late is. Maar hier het ons ‘n totale dryfsandsituasie.

Die landsburger: “Mag teen my gediskrimineer word?”

Die staat: “Allermins. Nou-ja tog wel, afhangende van omstandighede.”

Die burger: “Wat is dié omstandighede?”

Die staat: “Dit kan ons ongelukkig nie sê nie. Daar kan baie omstandighede wees. Basies enigiets wat in ons kraam pas.”

Hierdie soort absurditeit het met die reg niks te make nie.

Ten spyte daarvan dat hoog opgegee word oor die verhewe aard van die grondwet, dat dit as’t ware uit die hemel geval het, is die grondwet ten slotte die maaksel van ANC-politici wat die dokument geskep het om legitimiteit te verleen aan hulle maneuvers om hulle magsposisie te versterk en voorregte vir hulle en hulle ondersteuners te skep en natuurlik te gryp waar hulle kan.

Miskien moet die hoogggeleerde Stellenbosse professor ons presies voorlig oor hoe ons dit alles moet “interpreteer”. Soos dit wil voorkom, is die diskriminasie teen ons veroorsaak deur diskriminasie wat ons iewers in die verlede teen swartes gepleeg het. Dit lyk dus asof die arme swartes nou geen keuse het nie as om ook teen ons te diskrimineer. En omdat hulle geen keuse het nie, is hulle ook nie verantwoordelik vir diskriminasie teen wittes nie. Dis eintlik die wittes wat verantwoordelik is vir die diskriminasie teen hulleself! Maar dis natuurlik niks nuuts nie, want swartes is mos nooit vir enigiets verantwoordelik nie. Hulle diskrimineer teen ons want hulle kan nie anders nie. Is dit korrek herinterpreteer, professor?

Ons neem as voorbeeld die herhaaldelike gevalle van briljante jong witmense wat toelating tot mediese fakulteite geweier word ten gunste van 40%-gemiddelde-swart-kandidate. Hierdie vorm van skandelike diskriminasie is natuurlik moontlik en wettig omdat dit ‘n geval is waar diskriminasie nie onbillik is nie omdat dit “onreverdighede” van die verlede regstel. Let wel , dis “regverdig” dat ‘n kandidaat met ‘n gemiddeld van 40% in matriek, voorkeur moet kry bo ‘n kandidaat met 95%. Maar die vraag is wattter onregverdighede het hierdie jong witmense teen swartes gepleeg wat nou ten koste van hulle reggestel moet word? Hulle was ten tye van die afskaffing van apartheid nog nie gebore nie. Miskien behoort hierdie jongmense tot die “grysgebied” tussen die “ou” en die “nuwe” Suid-Afrika. Ongelukkig net dat die “nuwe” Suid-Afrika nooit werklik gaan aanbreek nie.

Ons as blankes en as Afrikaners kan natuurlik hierdie situasie waaraan ons onderwerp word gelate aanvaar. Inderdaad doen baie dit reeds. Of ons kan elke geleentheid aangryp om, elkeen op sy eie manier, hierdie naakte rassisme en diskriminasie teen ons aan die groot klok te hang. Mense moet eenvoudig nie toelaat dat hulle deur ANC-oëverblindery benadeel word nie. Die howe moet gebruik word om ons regte af te dwing. Alles moet in die stryd gewerp word om bogenoemde gedrogtelikhede in die grondwet aan die kaak te stel. Indien nodig moet ons ons tot internasionale howe wend en in elk geval moet ons alles in ons vermoë doen om hierdie groteske skending van ons menseregte internasionaal bloot te stel.

En nou ‘n laaste gedagte waaroor ‘n mens nogal katvoet moet wees, want daar is baie sensitiewe tone in die pad. Dit is dat as ons enigsins hond haaraf wil maak, sal alle bewegings, partye, instansies wat ook al, wat min of meer dieselfde pro-Afrikaanse doelwitte en ideale het, hulle kragte moet saamsnoer ten einde ons saak te bevorder. Maar nou verkies ons mos om mekaar uit te kryt vir allerlei dinge en oor en weer vlieë af te vang, dikwels in ‘n poging om darem tog in die mode te wees. Iewers sal iemand bereid moet wees om ter wille van ‘n groter saak die minste te wees, maar dit is tog sooo swaar. Met “jy in jou klein hoekie en ek in myn” kom ons nêrens, maar net nêrens.

‘Daar’s apartheid in Frankryk’, meen Franse eersteminister

Die sosialistiese eerste minister van Frankryk, Manuel Valls, het dit vandag betreur dat daar “apartheid” in sy land bestaan. Tydens ‘n toespraak  voor die media het hy gesê:

“Oor die afgelope tyd het vele mense die euwels wat aan ons land knaag beklemtoon of die uitdagings wat ons in die gesig staar. Daarby moet gevoeg word die verdeeldheid, die spanning wat al geruime tyd opbou en waarvan min gepraat word… Die buitestedelike uitwerping van sommiges, die ghetto’s, dit waarvan ek reeds in 2005 gepraat het, ‘n territoriale, maatskaplike en etniese apartheid, wat in ons land ontstaan het.”

Hy het verder na die onluste van 2005 verwys toe duisende motors deur swartes en Arabiere aan die buitewyke van Parys verbrand is en gesê:

“Agterna vergeet ons, dis maar hoe dit is… Die onluste van 2005, wie onthou dit vandag nog, en tog… Die letsels is steeds daar.”

In ‘n verdere poging om immigrantestemme te werf, het Valls ook die diskriminasie teen mense van nie-Franse afkoms bekla.

Valls het verwys na die “maatskaplike ellende…. waartoe gevoeg kan word die daaglikse diskriminasie omdat ‘n mens nie die regte (Franse) van het nie, die regte velkleur nie, of selfs ‘n vrou is”.

Volgens die Franse eerste minister “gaan dit geensins daarom om verskonings te vind nie, maar ‘n mens moet ook die werklikheid van ons land raaksien… tesame met die kollektiewe vrees vir grootskaalse werkloosheid, langdurige werkloosheid, veral van jongmense, teenoor die lewenskoste wat te hoog is, met die risiko dat jy agteruitgaan, die angs rondom individuele verarming wat mense in hulself laat keer, asook ouers wat vir die toekoms van hul kinders vrees.”

TT Cloete oor diversiteit en nivellering

‘Tans regeer die swartes nie omdat hulle dit beter as bv die blankes kan doen nie, maar bloot omdat hulle meer (en meer gewelddadig) is.’

Onder sy huidige redakteur, Waldimar Pelser, bespeur ek by Rapport ‘n neiging om konserwatiewe politieke idees in groter mate as voorheen te duld. Hierdie frontverandering is heel moontlik deur dalende sirkulasiesyfers genoodsaak. Een van hierdie beleid se jongste winste is die publikasie van TT Cloete se artikel, “Sonder diverse kulture g’n kleur” (Rapport, Weekliks, 21 Desember, p 8-9). Cloete (gebore in 1924) is ‘n gerekende Afrikaanse letterkundige en digter. Dit verduidelik heel moontlik waarom sy artikel gepubliseer is. Dieselfde teks deur ‘n onbekende of minder bekende skrywer sou in die snippermandjie beland het. Cloete het dekades lank die ou Suid-Afrika eerstehands beleef en kan dus nie maklik deur die huidige propagandaveldtog van die ANC en sy meelopers mislei word nie. So baie jonger mense se persepsie van wat bv apartheid was, word deesdae grootliks deur moedswillig eensydige wanvoorstellings gevorm.

TT Cloete, Afrikanerdigter, letterkundige en akademikus
TT Cloete, Afrikanerdigter, letterkundige en akademikus

Cloete het sy artikel slim geformuleer ten einde publikasie moontlik te maak. Die genoemde opskrif is nie noodwendig syne nie, maar dit dui reeds daarop dat diversiteit ook kleurverskille by mense insluit. Hy lê klem op een van die modewoorde van ons tyd, naamlik diversiteit, en nie op ‘n ander gewilde woord, inklusiwiteit, nie. Dit gaan by Cloete om eerder verskille as ooreenkomste by mense aan te toon. Sy artikel dien as aanleiding vir my skrywe. Soos my gewoonte is, vul ek sy teks/dis aan met my speserye.

Iemand soos Russel Botman was aan die Universiteit Stellenbosch (US) behep met diversiteit en inklusiwiteit. As ANC-aktivis het hy op die teenoorgestelde manier as Cloete te werk gegaan, deur diversiteit/verskeidenheid as uitgangspunt te gebruik om sy ideaal van inklusiwiteit/rasse-integrasie/eendersmaking, die uitwissing van bv kulturele en taalgrense (bv meertaligheid), te propageer en bevorder. Daarom was daar weens Botman se akute aktivisme jaarliks ‘n weeklange Diversiteitsweek en ook ‘n Sentrum vir Inklusiwiteit, wat gepoog het om die blanke- en Afrikaans-tradisie aan die US so gou moontlik te vernietig en van (al) die studente nuwe Suid-Afrikaners, Afrikane en wêreldburgers te maak; nie Afrikaners en veral nie Boere nie. Die studente is bv tydens die Diversiteitsweek aangemoedig om hulle in wit te klee en met enige kleur poeier, behalwe wit, te bestrooi, wat daarop neergekom het dat nie-wit diversiteit positief en wit etnisiteit negatief voorgestel is (Praag 29.09.2013). Wit is ‘n kleur wat nie in die reënboog is nie en nie in die sogenaamde Reënboognasie tot sy reg kom nie.

Die onderskrif van Cloete se artikel het ‘n verfrissende klank: “Die Europese immigrante wat hulle in 1652 in Suid-Afrika kom vestig het, het Suider-Afrika uit sy isolasie kom bevry.” Daarvolgens is die wittes die bevryders van die hele streek, terwyl ons deesdae alewig die teenoorgestelde moet aanhoor; dat die swartes ons bevryders is; bv dat die terreurbendes van die ANC en PAC ons (polities) bevry het.

Cloete gee ‘n breë historiese oorsig wat nie deur alle kenners sonder meer onderskryf sal word nie. Sy uitgangspunt is dat die mens in Afrika ontstaan en van daar na Europa en elders versprei het. Ander kenners meen dat die mensdom elders, bv in hedendaagse Indonesië, of op meer as een plek, ontwikkel het. Gestel Afrika word as die beginpunt aanvaar. Daar is sinici wat redeneer dat dit die slimmes is wat gesorg het dat hulle wegkom uit Afrika en hulle in Europa gevestig het. Hierdie redenasie dra steeds groot gewig by veral blankes in die nuwe Suid-Afrika. Wat Cloete beklemtoon, is nie die moontlike gemeenskaplike oer-oorsprong en dus inklusiwiteit/eendersheid van mense nie, maar juis die “verstommende diversiteit”/verskeidenheid wat sedertdien in die mensdom vergestalting gevind het: “in menslike voorkoms, in tale, in kuns en kultuur.”

Europeërs, soos “‘n Da Gama en Dias” en bv Jan Van Riebeeck, het eeue later na die suide van Afrika gekom. Hulle was wit en kan ontwikkelde mense genoem word. Uit sentraal-Afrika het mense (swartes) ook suidwaarts geëmigreer. Cloete vestig die aandag op “die natuurlike agterstand van die suidwaartse migrante.” Die swart immigrante in Suider-Afrika was dus nie in dieselfde mate ontwikkeld as die wit immigrante uit Europa nie. Die gevolg was kulturele diversiteit in dieselfde land, wat inklusiwiteit/rasse-integrasie bemoeilik het; dalk onmoontlik of ten minste onwenslik gemaak het.

Anders as die Khoi-San kan die swart inkommers uit die noorde en ooste nie daarop aanspraak maak dat hulle hulle voor die blankes in die suide en weste van Suid-Afrika gevestig het nie. “Toe Van Riebeeck [in 1652] aan die suidpunt van Suid-Afrika geland het, was die huidige oorwig mense [die swartes] nog baie, baie ver weg van die Kaap af.” Dit is dus histories en in beginsel verkeerd dat die swartes deesdae, weens FW de Klerk en sy groepie meelopers se ruggraatloosheid, politieke mag oor die hele Suid-Afrika en Suider-Afrika uitoefen. Tans regeer die swartes nie omdat hulle dit beter as bv die blankes kan doen nie, maar bloot omdat hulle meer (en meer gewelddadig) is.

Die agtergeblewenheid van inheemse Afrika-bewoners (Khoi-San, swartes) in vergelyking met die die inwoners van ander kontinente, soos Asië en Europa, word deur Cloete met voorbeelde toegelig. In die Ooste was daar die denke van Confucius (551-479 vC) op ‘n stadium toe daar al formele onderwys in China was. Tydens die bewind van keiser Qin Shi Huang (247-220 vC) is duisende terracotta-beelde geskep. Cloete skryf:

“Daar was geen teenhangers in Suidelike Afrika vir die geniale kunstenaars in Kambodja wat Angkor Wat en Angkor Thom (12de eeu) opgerig het nie, met hul haas onvergelyklike beeldhou- en argitektoniese wonders.”

In die Weste:

“Daar was in Suidelike Afrika geen teenhanger vir Istanbul se Hagia Sophia (587-1453) nie, geen suidelike teenhangers van die wiskundige skrywers van die Babiloniese ‘Plimpton 322’ (1800 vC) of die Egiptiese ‘Rhindpapirus’ (1650 vC) nie, geen teenhangers vir Pythagoras, Plato, Aristoteles, Sophokles, Dante, en nog later vir Michelangelo of Da Vinci nie. Die oudste universiteite kom uit Italië, Salerno (9de eeu) en Bologna (11de eeu), maar formele skole het al in klassieke Griekeland en antieke China bestaan, en eintlik begin die akademiese opvoeding al by Plato [427-347 vC]. Oxford is in 1115 gestig en Cambridge in 1209.”

“Wat het toe in Suidelike Afrika aangegaan? Silkaats (ong 1790-1868) is ‘n goeie historiese vergelykingspunt. Toe Goethe (1749-1832) Faust geskryf het, het Silkaats in Suid-Afrika geleef, sonder dat hy geweet het van die tekstielbedryf wat met die nywerheidsomwenteling presies in sy leeftyd ontwikkel het (1760-1868). Toe was die uitvinders van die boekdrukkuns, Coster (ong 1370-1439) en Gutenberg (ong 1398-1468), al lankal dood, en die eerste Europese koerant, die Duitse Relation, het in 1605 verskyn, meer as ‘n eeu voor Silkaats se lewe. Toe het Silkaats niks geweet van sy tydgenoot Beethoven (1770-1827) nie. Toe Silkaats gebore is, was Rembrandt (1606-1669) pas meer as [‘n] eeu gelede oorlede. Wat is in Suidelike Afrika gebou toe die Gotiese katedrale in Europa ontstaan het? … Wat het in Suidelike Afrika gebeur toe Shakespeare (1564-1616) sy dramas en gedigte geskryf het?”

Waaroor gaan dit vir Cloete met hierdie voorbeelde? Hy toon aan dat daar Europeërs en Oosterlinge was wat meer ontwikkeld as swart Afrikane was. Dit illustreer die groter vindingrykheid en beter skeppingsvermoë van nie-Afrikane. Daar het ‘n ontwikkelings- of bekwaamheidsgaping tussen die inwoners van Afrika aan die een kant en Europa en Asië aan die ander kant ontstaan. Daardie verskil word gewoonlik beskawing genoem, ‘n woord wat in die nuwe Suid-Afrika skielik feitlik heeltemal uit die openbare woordeskat verdwyn het; ‘n woord wat onwillekeurig nostalgie by blankes in die nuwe milieu wek. Die vraag wat gestel kan word, is in hoeverre daardie gaping tussen Afrika en die Eerste Wêreld sedertdien vernou of uitgewis is. Indien nie, doen ‘n verdere vraag hom voor: Sou dit wys wees om die heil van ‘n land soos Suid-Afrika, wat vir bykans drie en ‘n half eeue lank (1652 tot 1989) onder die beheer van Europeërs tot die voortreflikste in Afrika ontwikkel is, aan Afrikane toe te vertrou omdat hulle meer talryk en (dalk) ook meer gewelddadig is? Sou so ‘n kwantumsprong op groot wysheid en staatsmanskap of op onverdunde, onoortrefbare dwaasheid dui? Selfs in die nuwe Suid-Afrika (en in bv Amerika) dwing swartes steeds hulle wil met gewelddadige gedrag af. Dit is (by voorkeur) hulle manier om hulle sin te kry.

Teen die agtergrond van sy genoemde voorbeelde skryf Cloete voorts:

“Ek is hart en siel vir diversiteit, en daarom vir die behoud van Afrikaans. Ek is nie vir nivellering nie … Die ganse skepping getuig vir diversiteit en teen nivellering. Daar is nie net een soort gras, een soort boom, een soort dinosourus, een soort mens, een taal nie. Dié spesies is so uiteenlopend as kan kom. Stel jou voor ‘n skepping waar net een ster was, net een planeet … Die Psalms en ou Egiptiese gedigte, wat geen teenhangers in Suidelike Afrika gehad het nie, juig oor die diversiteit in die skepping, oor diverse diere of emosies, ensovoorts. Hoe vervelig sou dit gewees het as daar net een soort mens met net een taal was en almal se gesigte het eenders gelyk.”

Pleks daarvan het ons nou elf amptelike tale en ‘n mej Wêreld (wat weens borge ongelukkig net polities korrek praat en doen).

“Wat ons vandag in Suid-Afrika het en is, is te danke aan diversiteit, ook deur die ontstaan van Afrikaans, met ‘n Europese herkoms, maar inheems omvorm tot wat dit vandag is.”

Afrikaans kan dus onmoontlik die eiendom van etniese groepe sonder Europese wortels, soos die Khoi-San en die destydse slawe, wees.

In sy artikel tree die oud-Afrikaansdosent in Cloete al hoe meer na vore.

“‘n Belangrike aspek van die Europese Renaissance (nie Mbeki se mislukte een nie) was die gebruik van die volkstaal vir die diepste roersels van die siel, en selfs vir wetenskaplike ontdekkings. Indertyd was Latyn die lingua franca, en terwyl iemand soos die Nederlander Erasmus (1466-1536) nog in Latyn geskryf het, het Dante (1265-1321), lank voor Erasmus, in Italiaans geskryf – sy volkstaal. Erasmus is maklik vertaalbaar, Dante kan deur geen vertaling werklik toeganklik gemaak word nie. Niemand kan aan sy Divina Commedia werklik reg laat geskied deur vertaling nie.”

Wat Cloete uitwys, is dat tale verskil, dus diversiteit openbaar.

“Ons denke sit so vas in taal dat selfs sekere filosowe na reg nie vertaal kan word nie. Ek lees Kant se beskrywing van die kunswerk of Freud se siening van Michelangelo se Moses liefs in Duits, soos ek Sartre of Derrida liefs in Frans lees. Ek wil digters in hul taal lees. Vir baie mense is taal bloot in gebruiksartikel wat, soos Heidegger gesê het, soos brandstof in ‘n motor verbruik word, maar in literêre werke is taal ‘n versterkwater wat die taal nie verbruik nie, maar inlê en bewaar, verseël, sonder vervaldatum. Daarvoor gee die nivelleerders (wat soms voorgee hulle is vir diversiteit) niks om nie. Hulle wil alles tot ‘n lingua franca of soort Esperanto verengels, tot niks meer nie as ‘n verbruikerstaal. Alle kultuur hang van taal af, dus ook alle wetenskap. As ons nie taal gehad het nie, kon ons nie op die maan land nie.”

“Die historiese feite wat ek vergelykenderwys hierbo genoem het, het hulself geskryf. Hulle is nie te ontken of dood te swyg nie, en dit moet almal in hierdie land tot dankbaarheid en nederigheid stem, want dit is vandag ons kulturele gebruiksgoedere. Ons moet nie die geskiedenis wil herskryf na die politiek van die dag nie. Het ons vandag ‘n punt bereik waar ons die geskiedenis so na die land se omstandighede wil herskryf dat ons huiwer om kultureel kosbare dele daarvan weg te probeer dink? ‘Niks is suiwer nie,’ maar niemand in hierdie land behoort 1652 uit die geskiedenis te probeer wegskryf nie, want van toe af eers is Suid-Afrika uit sy isolasie bevry, deur in te voer wat tot dan toe ontbreek het [naamlik beskawing?]. Van toe af het ons die natuurlike agterstand begin inhaal danksy die ‘uit Afrika’-migrasie, en van toe af is ons almal Afropeërs en/of Eurokane.”

Hier moet Cloete stadiger oor die klippe. In hierdie enkele geval (die laaste aangehaalde sin) neig hy myns insiens te veel na inklusiwiteit. In Amerika is daar baie swartes wat nie met wittes wil integreer nie. In Suid-Afrika is daar ‘n gesonde kern blankes en veral Afrikaners wat ‘n tradisioneel Europese lewe wil lei, vry van die inmenging van swartes. Swartes het sekerlik hulle destydse agterstand in vergelyking met die blankes begin inhaal, maar van die algehele uitwissing van daardie “natuurlike agterstand” is daar nie sprake nie. Daar is steeds nie eendersheid nie en daar sal nooit wees nie, onder meer omdat kulturele verskille ‘n onontkenbare en durende werklikheid is. Wat verwelkom kan word, is dat Cloete by implikasie ‘n sterk saak uitmaak vir die terugbring van Van Riebeeck-dag as ‘n amptelike huldigingsdag; ‘n viering van die aankoms van Europese beskawing in swart Afrika. Dit moet liewer uitdruklik Beskawingsdag genoem word, al lyk dit sedert 1994 glad te dikwels asof daardie dag nag word.

Cloete sluit sy artikel soos volg af.

“Die mensdom besit vandag ‘n indrukwekkende literêre voorraad, omdat daar diversiteit is, omdat daar dus verskillende perspektiewe op die mens en die kosmos is, waarvan Afrikaans een is. Marais, Leipoldt en die Louws kon in Engels skryf, maar hulle was vir diversiteit pleks daarvan om die reeds ryk Engelse letterkunde verder te verryk. In watter ander taal kon ‘Oom Gert vertel’ geskryf gewees het? Lank gelede het ek daarop gewys dat Bosman in Engels geskryf het, maar sy verhale klink na Afrikaans! Die literatuur is die kosbaarste besit van enige volk. Wat bly oor as jy Chaucer, Shakespeare en Eliot uit Engels haal, Goethe uit Duits, Baudelaire of Rimbaud uit Frans, Dante uit Italiaans, Sophokles uit Grieks, Vergilius uit Latyn? Een taal alleen, soos Engels, ten spyte van al sy rykdom, kan nie die diversiteit en rykdom van die skepping vir ons oopmaak nie. Ek is vir diversiteit.”

Anton van Niekerk handel in politieke korrektheid en halwe waarhede

‘Die mees bekwame swart mediese personeel van vandag is ouer as 40 en is dus onder apartheid opgelei.’

Aangesien prof. Anton van Niekerk van die Universiteit van Stellenbosch se artikel oor “waarheid” handel het ek as gewone Suid-Afrikaner besluit om die waarheid voor te lê. Hy skryf:

“‘Politieke korrektheid’ het moontlik die vernaamste skelwoord geword waarmee regse Afrikaners deesdae hul opponente links van hulle toetakel.”

Dit klink amper soos die “skelwoord” of eerder skelwoorde soos “rassisme” en “apartheidsontkenner” waarmee linkse Afrikaners deesdae hul opponente van regs wil toetakel. Dit doen u selfs in hierdie rubriek deurdat u die gegronde en intellektuele betoë teen regstellende aksie en grondhervorming aftakel deur die redenasie dat Afrikaners (selfs dié wat na 1994 gebore is) steeds verantwoordelik gehou moet word en moet boet vir ‘n beleid wat lankal afgeskaf is. U beweer verder:

“Waarheid, veral in ’n morele konteks, kan daarom nie altyd sonder meer gelyk gestel word met ‘die naakte feite’ nie. Die waarheid funksioneer in ’n konteks wat nie altyd bloot ‘meegedeel’ kan word nie, maar wat dikwels geïnterpreteer moet word.”

Dit klink baie na ’n manier om die waarheid van die mislukkings van Suid-Afrika tot in der ewigheid te onderdruk deur die linkse interpetasies oor die verlede alewig onder almal se neuse te vryf.

Byvoorbeeld: Ja, die “naakte feit” is dat daar deesdae teen wittes gediskrimineer word, maar dit is nie die volle waarheid nie, want daar moet ook “geïnterpeteer” word dat daar êrens in die verlede (volgens my linkse interpretasie) teen swartes gediskrimineer is.

Linkses soos u, deur u “interpretasies” skep dus ‘n “sertifikaat” wat in elke instansie opgehang kan word en kan dien as die regverdiging vir die aanhoudende diskriminasie teen wit Suid-Afrikaners. Is so ’n “sertifikaat” tydloos? Wanneer volgens u, mag daar weer ‘n gelyke speelveld wees waar wit kinders weer mag medies studeer? Wanneer die gesondheidsdienste reeds aan skerwe is, of wanneer die mediese klas honderd persent swart is? ’n Disfunksionele gesondheidstelsel is een van die pryse wat betaal moet word vir die najaag van getalle om uitkomstes te manipuleer.

U erken dus die diskriminasie teen witmense, maar glo dat dit regverdigbaar is volgens ‘n blote “interpretasie” van die verlede? Hoekom word witmense dan so gekritiseer wanneer hulle die legitimiteit van die reënboogideaal bevraagteken? Hier staan en erken u dan oop en bloot dat daar teen witmense gediskrimineer word. Of die diskriminasie teen witmense regverdigbaar is of nie, getuig enige vorm van diskriminasie beslis nie van ’n “reënboognasie” nie. Nog minder van die “non-racial South Africa” waarvan Mandela gepraat het. Dieselfde “nie-rassige demokrasie” waarvoor witmense in 1992 moes stem. Dan is daar dié sinsnede:

“praat asof ons onlangse geskiedenis in Suid-Afrika weggewens kan word nie.”

Wat beteken “onlangs” volgens u? Anders as u, beskou ek die Suid-Afrikaanse geskiedenis as lank voor 1948. Daarom is 1899 vir my ook “onlangs”. Die konsentrasiekampe waarin Boerevrouens- en kinders gesterf het, moet dan liefs ook nie “weggewens” word nie. Volgens u “oog-vir-‘n-oog”-logika, het Afrikaners tot vandag toe die reg om Engelse witmense ook so uit te mergel. Nie dat die Afrikaners dit selfs na die oorlog of nadat hulle mag verkry het, ooit gedoen het nie. Van Niekerk skryf verder:

“Ons geskiedenis is ’n verhaal van een van die die mees blatante instansies van diskriminasie teen mense op grond van velkleur wat die wêreld nog ooit gesien het. Terwyl wit mense in regse kringe fulmineer oor slim, wit jongmense wat deesdae nie meer so maklik toegang tot ’n studierigting soos geneeskunde kry nie, vergeet ons veels te vinnig dat swart mense voor relatief laat in die 20ste eeu hoegenaamd nie toelating tot enige Suid-Afrikaanse universiteit gehad het nie – laat staan nog tot medies.”

Hierdie belaglike linkse “interpretasie” van u spreek vir my boekdele oor hoekom die wit Suid-Afrikaner so suksesvol gemarginaliseer word. Dit is hierdie witskulddogma wat veroorsaak het dat regstellende aksie regverdigbaar geword het, en dat daar nooit werklike verset teen sulke beleide was nie. Daarom sit 250 000 witmense vandag in plakkerskampe in Johannnesburg. Daarom moet ouers vir hul kinders verduidelik dat hulle te wit is om te mag studeer. U “interpretasies” oor die verlede regverdig juis dít.

Ek wil ek u inlig dat u “interpretasies” skeef is en gegrond is op ’n neo-apartheidsgeskiedenis wat eers na die jaar 1994 gevorm is en juis op so ‘n manier opgestel is om anti-wit-diskriminasie suksesvol te kan regverdig.

Die tydperk van die “mees blatante instansies van diskriminasie teen mense op grond van velkleur” is immers die tydperk waarin mense van alle kleure meer kon floreer as ooit. Dit was veral die swartmense wat wonderbaarlik ontwikkel het en hul plek in die ekonomie en werksektor begin inneem het. Vandag verloor hulle dit. Ek haal aan uit die Amptelike Handboek van die Republiek van Suid-Afrika 1985:

  • In 1970, Blacks earned 1751-million (25,5%) of the country’s total wage bill of 6865-million. By 1984, their share had grown to 32,3% (17 238-million) – an increase of more than 1000% in 14 years
  • In 1970 Blacks accounted for 23% of the total personal disposable income in South Africa and the Black national states. By 1985 their share had grown to 31,8%, while that of whites declined from 67,7% to 55,5% during the same period.
  • Of the 1 264 500 employees in the manufacturing sector during 1976, 56% were black, 22% white, 16% colored and 6% Indian.

Verder vertel die 1991-sensus dat swart werkloosheid in 1991 8,1% was. Dít teenoor die huidige 37,5%.

Daar was ook 323 340 swart besigheidseienaars in 1991 waarvan 120 662 swart vrouens was. Dit staat meer in verhouding tot die destydse swart demografie as vandag. Van Niekerk beweer ook:

“voor relatief laat in die 20ste eeu hoegenaamd nie toelating tot enige Suid-Afrikaanse universiteit gehad het nie – laat staan nog tot medies”

Dit is ’n totale leuen. In 1985 het 43 000 swart studente aan blanke universiteite in die Republiek studeer. Selfs voor 1985 het instansies soos Medunsa ekslusief duisende swart mediese studente per jaar opgelei. Daar is talle swart universiteite deur wit belastingsbetalers in die tuislande opgerig wat honderde duisende gekwalifiseerde swartmense opgelewer het. Voor 1948 was so ‘n resultaat slegs ’n swart droom wat, gegewe die onderontwikkelde swarte van 1948, onmoontlik gelyk het. (Verskoon tog as die benaming “swarte” nie polities korrek is nie.)

Die mees bekwame swart mediese personeel van vandag is ouer as 40 en is dus onder apartheid opgelei.

Moet wit skoolkinders hierom vandag tot meer as 90 persent kry om in aanmerking te kom vir toelating tot mediese opleiding? Die Stellenbosse ideoloog kom dan met sy argument oor grondbesit vorendag:

“…staan die beskuldigende horison van die geskiedenis toe swart mense slegs 13% van Suid-Afrika se grond kon besit – en daarvan baie min privaat kon besit.”

Die “geskiedenis” wat u gebruik om die “kliniese feite” te onderdruk en te verkleineer is ongelukkig gegrond op halwe waarhede en leuens.

Net soos die vorige voorbeeld, is die voorbeeld oor grondhervorming belaglik. Die “13% van Suid-Afrika se grond”-weergawe is nie heeltemal onwaar nie, maar uiters simplisties gestel en slegs ‘n halwe waarheid. Kom ek wys u op die “kliniese feite” wat nie deur enige ander “interpretasie” verkleineer kan word nie.

Die 13% (eintlik 14%) grond wat deur swartes besit kon word, was in die eerste plek dieselfde grond waarop die onderskeie swart kultuurgroepe lank voor die eerste ras-wetgewing gevestig het. Dit is hand aan hand met die implementering van apartheid summier aan hulle toegeken vir hulle ekslusiewe bewoning. Geen ander rassegroep het hierdie voorreg geniet nie. Daardie grond was die mees vrugbare streke in die hele land met die hoogste reënval.

Honderde wit boere het oor die jare hul grond verkoop om die area van die tuislande aan te vul.

Die vrugbaarheid en bewoonbaarheid van die res van Suid-Afrika, waar nie net witmense nie, maar ook kleurlinge en Indiërs moes woon, het egter veel te wense oorgelaat. Volgens South African Profile 1978 was slegs sowat 10% van die nie-tuislandareas beskikbaar vir verbouing. Die res van die nie-tuislandgrond was semi-woestyn of bloot onbewoonbaar a.g.v. onaangename klimaat en lae reënval. Dus, behalwe vir ’n handjie vol veeboere en klein primitiewe plattelandse dorpies, het blankes en kleurlinge slegs sowat 15% van Suid-Afrika se grond bewoon, waarvan hulle ‘n klein persentasie privaat besit het. Dan moet u ook onthou dat hierdie klein bewoonbare areas waar witmense en kleurlinge gewoon het, ook sowat 20% van die swart bevolking moes huisves in die stede.

Die blanke/kleurling-gebiede is dus baie meer onder druk geplaas en digter bevolk as die swart tuislande.

Die landbouprojekte vir swartes in tuislande het ook sedert 1960 duisende suksesvolle swart boere opgelewer. Anders as die swart boere van vandag wat eenvoudig aanspraak maak op grond en veroorsaak dat daardie selfde grond ’n paar jaar later vervalle en onproduktief is.

Is grondhervorming dus steeds regverdigbaar? U wil hê dat die agtergrond van die geskiedenis in ag geneem word wanneer “die waarheid” gepraat word. Juis dít het ek nou gedoen en daardeur kon ek die belaglikheid van grondhervorming en regstellende aksie selfs nog meer uitwys.

Die “agtergrond van die geskiedenis” moet ongelukkig juis interpreteer word deur alle feite in ag te neem. Nie net die oppervlak nie, maar ook die diepte van elke feit moet ondersoek word. Dit is byvoorbeeld waar dat swartmense slegs 13% van die grond kon besit, maar het u die rede en diepte van daardie feit ondersoek soos wat ek hierbo uitgelê het?

Sulke interpretasies sal die enigste manier wees om ‘n verstandhouding te bereik waarvolgens gelyke speelvelde bewerkstellig kan word en ons kan voortleef in ’n ware nie-rassige Suid-Afrika. Suid-Afrika is die land met die meeste rasgebaseerde wetgewing ter wêreld en dít as gevolg van regverdigings daarvoor wat spruit uit gebrekkige interpretasies van die verlede. Hierdie interpretasies moet vernietig en reggestel word en as dit vir sommige mense na “rassisme” en “apartheidsontkenning” klink, is dit die prys wat ons bereid is om te betaal!

– John White

Lees ook:

Anton van Niekerk: politieke korrektheid, feite-waarheid en morele waarheid

Het Afrikaners ‘n skuldlas uit die verlede? of die geskiedenis gee jou ‘n skop op jou sitvlak.

Onderstaande toespraak is in April 2001 by die KKNK op Oudtshoorn gelewer; ek herontdek dit onlangs. Wat ek hier gesê het, is steeds ter sake, gegewe die kwessie van apartheidskuld wat ons voortdurend voor die kop gegooi word.

James Joyce se karakter Stephen Dedalus in sy beroemde roman Ulysses sê in ‘n gesprek met mnr. Deasy, ‘n skoolhoof, oor die Ierse geskiedenis die volgende:

roodt_dan_wiki“Die geskiedenis is ‘n nagmerrie waaruit ek probeer wakkerskrik.” Terwyl hy dit sê, kom die geluide van ‘n skoolrugbyoefening na hulle toe aan deur die venster.  Die fluitjie blaas vir ‘n drie wat gedruk word.  As ‘n nagedagte dink Stephen Dedalus dan by homself, “En sê nou daardie geskiedenis gee jou ‘n skop op jou sitvlak?”

Wie van ons kan nie vandag Stephen Dedalus se woorde met instemming herhaal nie:  “die geskiedenis is ‘n nagmerrie waaruit ons probeer wakkerskrik”?  Dit is veral die geval as ons dink aan die hele geding rondom skuld wat tans op ons losgelaat word, ook deur ons taalgenote.  “Apartheid was ‘n misdaad teen die mensdom. Julle het apartheid geskep.  Daarom is julle skuldig aan ‘n misdaad teen die mensdom.” Hierdie simplistiese sillogismes is die bouwerk van die nagemerrielogika wat ons teister.

Dit is sekerlike die maklike – nee, die fasiele – opsie om jou te berus in die skuldideologie wat van bo af deur al die oud-Broederbonders, die “verligtes” waarteen Chris Louw fulmineer, die propagandiste van die staat, die internasionale media, ens., aan ons opgedring word.  Volgens hulle behoort ons ons in ons skuld te berus, en ons eie politieke en intellektuele magteloosheid te aanvaar.  Om nie wakker te word uit die nagmerrie nie, is dus die aangewese weg.

Dog net as ‘n mens wegsluimer en jou lyf so ruk-ruk as al die onaangename skelwoorde waarmee jy as misdadiger teen die mensdom uitgekryt word op jou reën, gee die geskiedenis jou daardie spreekwoordelike skop op die sitvlak.  Jy kom agter dat jy vandag hoegenaamd nie in ‘n veelrassige utopie leef soos wat almal sê nie.  Jy begin ‘n paar ou koerante en boeke – selfs geskiedenisboeke – lees en jy kom agter dat, ja, die hele ding nie so eenvoudig is as wat dit aan jou voorgehou word nie.  Jy waag dit selfs om te sê dat apartheid geen misdaad teen die mensdom was nie.  Onmiddellik word jy uitgekryt as ‘n ketter, ‘n rassis, ‘n regse, maar jy laat jou nie van stryk bring nie.  Intuïtief streef jy na wakkerheid, want die nagmerrie waarin jy jou bevind word al hoe ondraagliker.

André Brink of iemand het jare gelede gesê dat ‘n mens niks goeds oor apartheid kon sê nie, want dit is dieselfde as om te sê dat Hitler ook goeie paaie gebou het.  Hierdie soort vergelykings, en die konstante en werklik vergesogte gelykstelling van apartheid met nazisme en volksmoord, waarvan veral die WVK-verslag vol is, is egter deel van die probleem.  Om wakker te word uit ons nagmerrie, moet ons op ‘n slag erken dat daar ‘n werklikheid in Suid-Afrika is wat nie noodwendig uit Duits te vertale is nie.  Die reële, veral in ‘n plek soos Suid-Afrika, is ‘n glibberige, ontwykende ding, en indien ons net ‘n bietjie nader daaraan kan kom, dan is elke skop van watter aard ook al die moeite werd.

waarheidskommEen so ‘n skop was my onlangse boekie met die titel, Om die Waarheidskommissie te vergeet.  Daarin lewer ek ‘n intense pleidooi dat ons moet glo in ons eie onskuld.  Maar ook dat daar ‘n dringende behoefte is om ons geskiedenis te herinterpreteer.  Ons mag nie meer toelaat dat ons geskiedenis oorheers word deur ongevraagde stereotipes, halwe waarhede en selfs blatante onwaarhede nie.  Al kos dit wat, al loop mens die risiko om jou eie reputasie deur die modder gesleep te sien, is dit nou die oomblik om waagmoedig en onverskrokke vir ‘n slag iets soos die waarheid te praat.  Nie die transendente, godsdienstige waarheid waarvan Biskop Tutu en sy trawante praat nie, maar bloot die historiese waarheid, wat op empiriese navorsing behoort te berus.  ‘n Week gelede by Stellenbosch tydens ‘n soortgelyke bespreking, het Jannie Gagiano dieselfde pleidooi vir empiriese navorsing oor die verlede gelewer.

Wat ek nou hier gaan sê, sal waarskynlik deur sommige geïnterpreteer of wangeïnterpreteer word as ‘n apologie vir apartheid.  Montesqieu, meen ek, het gesê dat ‘n skrywer die slegte gewete van sy tyd behoort te wees.  As ‘n mens na die geskiedenis van halsstarrige skrywers in Afrikaans kyk, van Eugène Marais wat deur Paul Kruger verbied is om sittings van die Volksraad by te woon, regdeur tot by die Sestigers wat deur die bank kritiek gelewer het op die kleinlike apartheidsmaatreëls van destyds, dan is dit duidelik dat die Afrikaanse tradisie ten minste ewe veel ruimte bied vir dit wat Nietzsche “ontydgenootlike denke” genoem het.

Chris Louw het vir ons gedemonstreer dat diegene wat apartheid uitgedink het en dan veral die kleinlike diskriminerende maatreëls wat mense verbied het om hotelle en strande te gebruik, of bankies in parke, nou weer eens die voorstanders is van politieke erfsonde en die ideologie van skuld.  Op dié manier poog die eertydse Afrkaner-establishment om ons toekoms te kaap ter wille van hul eie tydelike gewin en aansien by die maghebber van tans.  Ek is egter oortuig dat die Willem de Klerks en die Willie Esterhuyses reeds mee afgereken is en inderdaad geen geloofwaardigheid meer het by die breë Afrikaanse bevolking nie.

‘n Groter probleem is diegene – en dan veral die hordes internasionale opportuniste -wat reeds om ‘n verskeidenheid bedenklike redes hulself met apartheid bemoei het.  Hulle dra by om die mites oor ons verlede in stand te hou.  Ek is bevrees dit gaan meer as een skop verg om hulle van die toneel te laat verdwyn.   Dit waarteen ek my baie sterk uitspreek in my opstel oor die Waarheidskommissie, naamlik die gelykstelling van apartheid met nazisme, is een van die grootste klugte van ons tyd wat ons reeds geweldige skade berokken het en ‘n groot klomp Afrikaners van hul eie tradisie en selfs van hul eie land vervreem het.  Dit is ook die onderliggende veronderstelling van die pro-skuldfaksie.  ‘n Onderdeel van die gelykstelling van apartheid met nazisme is dat apartheid gekleurde mense in Suid-Afrika in so ‘n mate benadeel het dat hulle as’t ware sit met ‘n geweldige agterstand wat nou op kunsmatige wyse “ingehaal” moet word.  Dit verteenwoordig onder meer die regverdiging, nie net vir regstellende aksie nie, maar ook vir oproepe tot ‘n radikale herverspreiding van rykdom in Suid-Afrika, betaling van vergoeding, ens.

Vir die ontydgenootlike denker, vir die nugtere ontleder van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, gaan die argumente van die pro-skuldfaksie, van mense soos Antjie Krog en Carl Niehaus en hul abortiewe Tuiste-vir-almal-veldtog, eenvoudig nie op nie.  ‘n Onbevange kyk na ons verlede en na apartheid lewer ‘n heel ander prentjie op as die een wat gewoonlik in sulke emosionele – nee, histeriese – terme geskilder word.

As iemand wat tydens die hoogty van internasionale anti-apartheid in Europa gewoon het, kan ek onomwonde sê dat anti-apartheid so ‘n skewe beeld van Suid-Afrika voorgehou het dat dit net in terme van psigopatologie verstaan kan word.  Dit was ‘n psigose wat gevoed is uit die vele probleme met immigrasie en etniese naasbestaan regoor die wêreld, ofte wel die interne politiek van baie Westerse lande.  Ook die Wes-Europese Kommunistiese Partye, wat met hul rug teen die muur baklei het in die doodsnikke van die sosialistiese droom, het in anti-apartheid ‘n handige handperd gevind om hulself ‘n legitimiteit te probeer gee wat hul eie ideologie lank nie meer gebied het nie.

Indien die NP-verligtes en hul blufspel Oom Apartheid was, dan wasAntie Apartheid nie veel beter nie.  Ook sy is aangevuur deur ‘n byna fantasmagoriese voorstelling van die Suid-Afrikaanse werklikheid, wat vandag steeds ‘n rol speel in die konflikte wat hul afspeel op die terreine van taal, grond, en beheer oor hulpbronne.  Antie Apartheid is myns insiens ‘n veel gevaarliker kalant as Oom Apartheid, juis omdat dit op eg koloniale wyse aanvanklik vanuit die buiteland deur Suid-Afrikaanse bannelinge en hul oorsese bondgenote gevoer is en toe sedert 1994 in ‘n moralistiese stuiptrekking ter plaatse op ons losgelaat is.  Soos ek in my opstel oor die WVK betoog, is anti-apartheid bloot die spieëlbeeld van apartheid, die Doppelgänger daarvan, en behoort dit in ‘n groot mate tot dieselfde paradigma.

Anders as wat die Waarheidskommissie en oningeligte buitelanders wil beweer, was apartheid geen variant van nazisme nie, maar in baie opsigte soortgelyk aan hedendaagse opvattinge soos regstellende aksie wat ook differensieer tussen rasse en groepe.  Apartheid het, by die bekende negatiewe aspekte wat ons al tot vervelens toe gehoor het, en wat dikwels geheel en al oordryf word, ook heelwat positiewe elemente bevat.  Weer eens, wil ek geen apologie lewer vir apartheid as sodanig nie, maar ter wille van billikheid en om die skuldpsigose finaal die nekslag toe te doen, moet sekere dinge beklemtoon word:

  1. Soos Hermann Giliomee onlangs aangetoon het, was die grootste enkele bydrae van apartheid dat dit Suid-Afrika tydens ‘n kritieke fase van ons kontinent se geskiedenis gevrywaar het van die vergrype van Afrika-bevryding en allerlei rampspoedige ekonomiese eksperimente wat gelei het tot intense armoede, burgerlike konflik en selfs burgeroorloë.  Dit ly by my geen twyfel dat indien algemene stemreg vóór die val van die Berlynse muur ingestel sou gewees het, Suid-Afrika maklik die paadjie van Mosambiek of Angola kon geloop het.  ‘n Land soos Angola beskik inderdaad oor geen staat meer nie, kan kwalik belastings invorder en geen basiese dienste aan sy bevolking lewer nie.
  2. Onder apartheid is die onderwysstelsel vir swartmense drasties uitgebrei en tot net voor die Soweto-onluste het die destydse Bantoe-onderwys veel beter resultate met minder geld behaal as die huidige stelsel, in weerwil van ongelyke besteding. Volgens dr. Katherine Heugh, ‘n opvoedkundige van die Universiteit van Kaapstad, was die matriekslaagsyfer selfs tydens 1976 toe die onderwys in Soweto ontwrig is, ongeveer 83% teenoor die huidige 50% of minder.
  3. Onder apartheid is inheemse Afrikatale ontwikkel soos in geen ander land in Afrika nie. Afrikaners het grootliks bygedra om voorgeskrewe boeke vir swart skole in die inheemse tale te ontwikkel, en daar was op ‘n stadium pakhuise vol van hierdie boeke.  Dit is bekend dat die swart leerlinge van Soweto in 1976 Afrikaans verwerp het, dog min mense dra kennis dat hulle van hierdie datum af ook onderrig in hul eie tale afgesweer het, wat ‘n rampspoedige periode van mislukking en hoë druipsyfers onder swart leerlinge ingelui het.  Deel van die ontwikkeling van Afrikatale het behels die sogenaamde “Radio Bantoesenders” van die ou SAUK wat gewilde programme in plaaslike tale uitgesaai het.  Onder apartheid is die meeste van hierdie tale insgelyks gepromoveer tot televisietale.  Aan die einde van apartheid was daar slegs ses inheemse Afrikatale, Afrikaans uitgesonder, wat op televisie gebruik is, waarvan vier in Suid-Afrika.
  4. Twee van die beste aanwysers van mense se welvaart is die kindersterftesyfer en die gemiddelde lewensverwagting van ‘n bevolking.  Die ou Sowjet-Unie het fiktiewe ekonomiese statistiek gepubliseer ten einde die illusie van welvaart te skep, maar in die laaste dekades van kommunisme het die kindersterftesyfer begin styg en die gemiddelde lewensverwagting begin daal, wat dit duidelik gemaak het dat toestande besig was om te versleg. Net so kan geen mate van propaganda oor die Suid-Afrikaanse verlede ontken dat die kindersterftesyfer onder swartmense tydens apartheid dramaties afgeneem het nie.  Volgens statistieke wat ek onlangs raakgeloop het, het dit op die Witwatersrand, byvoorbeeld, vanaf 1949 tot 1961 gedaal van 280 per duisend tot 62 per duisend, ‘n duidelike verbetering.  Weer eens volgens Hermann Giliomee, was die lewensverwagting van swart Suid-Afrikaners in die laaste dekade van apartheid ongeveer 68 jaar, wat goed vergelyk het met vele Westerse lande, en ver bokant die meeste lande in Afrika en Suid-Amerika verkeer het.  Sedertdien het VIGS natuurlik hierdie syfer laat daal.
  5. Die Palestynse ambassadeur in Suid-Afrika het onlangs beweer dat alles wat hy oor apartheid hoor, klink soos die paradys, vergeleke met die situasie van die Palestyne.  ‘n Tuisland soos die Transkei wat benewens ‘n nominale onafhanklikheid, regstreekse begrotingshulp van die sentrale regering ontvang het, asook landbouhulp, opleidingsprogramme, ens., sou vir vele volke ter wêreld, waarby hedendaagse Afrikaners ingesluit kan word, iets van ‘n utopie verteenwoordig.  Die voormalige Transkei was veel groter as menige land in Wes-Europa met ‘n veel kleiner bevolking; boonop beskik dit oor vrugbare grond, goeie reënval en ‘n natuurskoon wat dit ‘n potensiële toeristeparadys maak.  Hierdie vorm van etniese outonomie waarna vele van die staatlose volke op aarde smag, is egter binne die verwronge denke van anti-apartheid beskryf as die ekwivalent van nazisme en volksmoord.  Die tuislandontwikkelingskorporasies het insgelyks miljarde rande, in vandag se terme, bestee aan landelike ontwikkeling, opleiding, infrastruktuur, en in vele tuislande swart ondernemers en sakemanne gevestig wat vandag toe nog hul ondernemings bedryf.
  6. Weliswaar was swartmense onder apartheid tweedeklasburgers.  Die swart Amerikaanse ekonoom Thomas Sowell skryf egter iewers dat dit beter is om ‘n tweedeklasburger in ‘n land met wet en orde, asook min of meer goeie administrasie, te wees, as om deur te gaan vir ‘n eersteklasburger in ‘n land waar daar verval, korrupsie en wanorde heers.  Swartmense uit vele buurlande van Suid-Afrika het tydens die sogenaamde apartheidsjare dieselfde afleiding gemaak, en met hulle voete gestem vir apartheid en teen die tirannie van uhuru in hul eie lande.  Onder apartheid moes Suid-Afrika probeer om immigrasie na die land te keer, terwyl Oos-Duitsers so desperaat was om uit hul werkersparadys te ontsnap dat hul regering dit goedgedink het om ‘n betonmuur met gewapende wagte tussen hulle en hul taalgenote in Wes-Duitsland op te rig.  Die kontras kan nie groter wees nie, en sê iets aangaande die werklike aard van apartheid en kommunisme.  Indiër-Suid-Afrikaners, wat ook nie eiendom in sekere gebiede kon besit nie, het dit reggekry om dieselfde opvoedkundige en lewenstandaard as blankes te bereik onder apartheid. Dit toon aan in welke mate die beperkings op mense om hul eie welvaart te verbeter onder apartheid eintlik veel minder was as wat die meeste mense sou wou toegee.
  7. Onder apartheid was slegs 7% van werkkategorieë onderworpe aan werkreservering, hoofsaaklik in die mynboubedryf, iets wat terug te voer is na die 1922-staking toe die SAKP dit óók voorgestaan het.  Onder die huidige regstellende aksie is 100% van arbeidskategorieë onderworpe aan rassekwotas, wat aantoon dat die ingryping in die arbeidsmark tans veel radikaler en omvattender is as onder apartheid.
  8. Die toestand van die openbare gesondheidsektor was veel beter as nou, en ‘n hospitaal soos Baragwanath in Soweto het ‘n veel beter diens aan sy pasiënte gelewer as tans.

Suid-Afrika gaan tans deur ‘n hele aantal radikale veranderinge wat sommige al as ‘n revolusie bestempel het.  In enige so ‘n situasie is daar ‘n revolusionêre voorhoede wat poog om die bates van die vorige elite vir homself op te eis of te konfiskeer, ten einde sigself as die nuwe élite te vestig.  Die huidige elite het dus ‘n materiële belang daarby om die skuldideologie in stand te hou.

Tydens ‘n onlangse besoek aan Kuba, het die Minister van Buitelandse Sake, mev. Nskosasana Dhlamini-Zuma, haar as volg uitgelaat oor kritiek op Kuba se swak menseregterekord en gebrek aan veelpartydemokrasie: “Wat is belangriker?  Dat mense stemreg het, of dat hulle beter lewensgehalte behoort te hê?”  Uit die mond van ‘n ANC-minister vind ons dus die volmaakte regverdiging vir apartheid.

As iemand wat nooit vir die NP gestem het, of ‘n ondersteuner van apartheid was nie, is dit miskien maklik vir my om te praat.  Ek is egter van mening dat selfs ondersteuners van apartheid, gegewe die verlede van relatiewe voorspoed, ontwikkeling, asook oordrag van rykdom vanaf blankes na swartmense, kwalik rede het om aan ‘n oordrewe skuldkompleks te ly.  Selfs Minister Dhlamini-Zuma stem hiermee saam.

Organisasie wat kragkrisis help skep, vaar uit teen kernkrag

Die organisasie, Earthlife Africa, ‘n versameling ekstremiste wat omgewingskwessies vir politiek aanwend, het die regering se planne om nuwe kernkragaanlegte te bou skerp veroordeel.

Dié organisasie is direk verantwoordelik vir die huidige kragkrisis in Suid-Afrika nadat hulle gesorg het dat die korrelbedkernreaktor vir Eskom gesink word in 2003.

Alhoewel byna niks oor ELA se eie struktuur en befondsing bekend is nie, sê hulle planne vir die nuwe kernaanlegte is nie deursigtig nie.

Earthlife Africa sê voorts dat groter infrastruktuur nie die oplossing vir die energiekrisis in die land is nie.

Die organisasie se woordvoerder oor energie-beleid, Dominique Doyle sê die inhoud van die ooreenkoms tussen Suid-Afrika, Amerika, Suid-Korea, Rusland, Frankryk en China bly steeds ‘n raaisel.

Doyle sê dit is wensdenkery dat die land se energiekrisis opgelos gaan word deur kernkrag.

Die presidensie het vroeër gesê die voorbereidende fase vir die nuwe kernkragaanlegte kan begin.

Die regering beplan om 9600 megawatt deur middel van kernkrag tot die kragnetwerk te voeg.

ELA het voorheen ook ‘n veldtog teen Sasol gevoer as ‘n besoedelende “apartheidsmonster”.

Derek Hanekom waarsku pop ‘om op te hou twiet aan Dan Roodt’

Derek Hanekom, die minister van toerisme, moes Woensdag inderhaas die lasteraar-buikspreker Conrad Koch se mond snoer, vermoedelik om nie die ANC verder in die verleentheid te dompel oor terreur nie.

Verskeie ANC-figure het Koch teen Steve Hofmeyr ondersteun wat hulle voorgehou het as ‘n apartheid-ontkenner, iets soortgelyk aan ‘n holocaust-ontkenner.

Koch het weer eens die etiket aan dr Dan Roodt probeer plak dat hy apartheid probeer vergoeilik. Sy regspan het dié truuk vroeër uitgehaal om Koch se teisteringsbevel en kriminele rekord ongedaan te maak.

Nadat Roodt Koch herinner het dat hy terreur regverdig, het Hanekom gou-gou ingegryp. Terreur word deur talle internasionale konvensies verbied as oorlogsmisdade.

Die minister het aan Koch gesê dat die “swaksinniges” nie sy aandag verdien nie en dat hy eerder deur sy “oorspronklike komedie” vermaak wil word.

Kennelik kan Koch nie meer onderskei tussen sy “oorspronlike komedie” en lasterlike aanvalle op Hofmeyr en Roodt nie.

 

Hanekom bemoei homself deesdae met toerisme-ooreenkomste betreffende kinderhandel, nie ‘n onderwerp wat ‘n mens sommer met toerisme verbind nie.

Kaapstad, ook ‘n gay-bestemming, gaan swaar gebuk onder seksuele uitbuiting van kinders. Sedert die ANC aan bewind is, het seksuele uitbuiting van kinders dramaties toegeneem.

Byna ‘n kwart van alle kinders in Kaapstad wat op straat is, word seksueel misbruik volgens navorsing.

Oor vyf Kaapse rassiste en Nazi-vergelykings

Vanoggend ontvang ‘n brief in my epos van ‘n leser wat eintlik aan Marianne Thamm van die Daily Maverick gerig is, na aanleiding van haar rubriek oor vyf Kaapse rassiste. Daarop het ek soos volg geantwoord.

Jy kan gerus maar aan me. Thamm op Afrikaans skryf; sy is die taal heel goed magtig. Hoe lank ons nog Afrikaans mag skryf, is natuurlik ‘n ope vraag, gegewe die feit dat sy edele, minister Blade Nzimande, so pas gesê het dat hy enige oorblywende of selfs nuwe privaat- Afrikaanse instelling sal “toemaak”.

roodt_dan_wikiMaar terwyl ons nog daardie vryheid geniet – wees dankbaar! – laat ons nie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie.

Ek het nie daardie storie van die “vyf jong blankes uit goeie huise” gevolg nie. Ek neem aan hulle is Engels, dit verklaar seker hoekom hulle uit “goeie huise” kom. Ek en jy kom nie uit “goeie huise” nie.

Miskien moet jy nie die Daily Maverick so ernstig opneem nie. Marianne Thamm se skalkse humor waar sy “na-oorlogse Duitsland” met “wit Suid-Afrikaners” vergelyk, het my laat glimlag. Of miskien is ons blanke belastingbetalers daaraan “skuldig” dat hulle die winste van Daimler Benz en BMW verhoog deur al daardie miljarde aan die ANC en SAKP se soustreinryers en tenderpreneurs beskikbaar te stel sodat hulle Mercedesse en BMW’s kan koop?

Gegewe dat die Ontvanger van Inkomste, volgens ‘n onlangse aankondiging, nou net in Engels gaan kommunikeer, is ons dalk kwytgeskeld van belastings en sal ons nie langer die Nazi-motorbedryf in stand hoef te hou nie. By die mees onlangse Johannesburgse Internasionale Motorskou het ‘n besoekende Nazi, juis by die BMW-stalletjie, my vertel dat een uit elke agt Duitsers deesdae in die motorbedryf werksaam is. Hulle klink heeltemal te dom om van tenders en regstellende aksie te leef, daardie klomp Duitse Nazi’s. Mev. Merkel het nie eens ‘n Nkandla nie en luister boonop graag na Wagner, Hitler se gunstelingkomponis. Dis eenvoudig verregaande!

Ek sien Zapiro is ontsteld dat ek verwys na die rol van die marxiste in ons onlangse geskiedenis.

zapiro_dan_steve

Hoe vreemd, want almal is dan so trots om, hetsy lede van die SAKP, hetsy graduandi van ons universiteite te wees waar Karl Marx en sy horde dissipels van die Frankfurtse en ander skole net met die nodige eerbied, piëteit en bowenal toewyding behandel moet word? En mnr. Joe Slovo, “ons vader van die nasie” wat met ‘n rylaan in Johannesburg (eens bekend as Harrowweg) vereer is, was mos ewe trots daarop dat hy uit ‘n “goeie huis” doer in Obelei, Litaue gekom het om die rooi evangelie aan ons arme agterlike Afrikaners te bring, nie waar nie? As jy nog nie sy biografie onder oë gehad het nie, lees Hoe Joe Slovo die land verower het.

Benewens die vyf miljoen wat onder Thabo Mbeki aan Vigs dood is, is 500 000 sedert 1994 vermoor. Dis ‘n bagatel, ja, ek weet. En die 4000 boere wat sadisties gemartel en uitgemoor is, is insgelyks niks om oor huis toe te skryf nie. Dis alles net so pragtig… “nie-rassig”. Soos Winnie op ‘n kol gesê het: “The farmers are killing themselves.” Dis nou swart humor.

Die enigste rassistiese staatsdepartement wat nog oor is, is korrektiewe dienste wat steeds die aangehoudenes volgens ras klassifiseer. Slegs 1,2% van alle misdadigers wat vonnisse uitdien, is blankes!

Hoe is dit moontlik, sou jy vra? Met al die rassistiese blanke Nazi’s wat vry rondloop en, soos Steve ook gesuggereer het, veroorsaak dat mense in Soweto hoë mure om hul huise bou om hulle teen aanvalle, rooftogte, moord en verkragting te beskerm, is daar duidelik iets fout.

Dalk sal jy binnekort die antwoord in die Daily Maverick lees. “Skreeusnaaks” is mos die Foucauldiaanse popspeler se gunstelingwoord. Dit beloof om skreeusnaaks te wees. Miskien het Harry Potter en sy vriende ons getoor om net te vergeet van die “ware toedrag van sake” toe die blanke Nazi’s 500 000 mense vermoor het?

Ekskuus, my fout. Dis baie meer as 500 000! Soos senior advokaat Steven Budlender in die agbare poppekas, ekskuus, hof, gesuggereer het: vóór 1994 is miljoene swartes deur die blanke Nazi’s in ‘n volksmoord uitgewis. Omdat Mandela so gaaf was, het hy ons vergiffenis geskenk en het ons ons Nürnbergverhoor vrygespring. Ons hoef nie eens gemartel te gewees het om die waarheid te bely nie en geen Britse laksman soos Albert Pierrepoint het ons met ‘n snel werkende galg kom regsien nie.

Maar binnekort sal jy dalk nie meer daaroor mag praat nie, want miskien raak “apartheidsontkenning” ‘n strafbare misdryf à l’allemande. Dis nou die mense wat hoog opgee oor “vryheid van spraak” wat so iets in die mou voer.

Nog swart humor, as dit nou nie ‘n rassistiese term is nie, net enkele dae ná Swart Vrydag toe die Beierse Motorwerke-handelaars seker flink sake met staatsamptenare gedoen het.

Wat “name calling” betref, waarna jy ook verwys, is dit ongelukkig die enigste pyl in die politiese korrekte koker. Ongeag wat jy sê of doen, gaan hulle jou ‘n “rassis” en ‘n “Nazi” noem. Vermy dit dus om ‘n Duitse motor te ry en betaal hulle in eie munt terug.

Landdros ignoreer teisterwet in Hofmeyr-aansoek

Nadat die buikspreker Conrad Koch se ondersteuners Donderdag mekaar op Twitter vertel het dat hulle gelukkig op ‘n landdros van “kleur” kan staatmaak, het hulle selfvertroue om Steve Hofmeyr die swye op te lê, merkbaar toegeneem.

Die twiets het die indruk gelaat dat die landdros uitgesoek is om die saak aan te hoor.

Koch het danksy landdros Naren Sewnarain se vreemde uitspraak in die Randburgse Landdroshof nie weggestap met ‘n kriminele rekord weens sy teistering teen Hofmeyr nie.

Sewnarain het eenvoudig die wet wat teistering omskryf botweg geïgnoreer en gekonsentreer op Hofmeyr se sogenaamde apartheidsontkenning en Afrikaners se kollektiewe morele skuld in ‘n poging wat meer na ‘n openbare politieke smeerveldtog as ‘n hofsaak gelyk het.

Koch se yslike en peperduur regspan – daar is openlik op sosiale media gespog oor hul hemelhoë fooie – het VN-verklarings voorgelees oor apartheid en misdade teen die mensdom.

Sewnarain het daarna verklaar dat die definisie van rassisme so wyd is dat dit sonder skroom in die openbaar gebruik mag word.

Die landdros wou ook nie toelaat dat Koch onder kruisverhoor geneem word nie, kennelik om die vuige lasteraar die verleentheid te spaar. Koch het vroeër gespog dat hy ‘n 100% wit regspan het.

Die saak is oorheers deur wit kulturele Marxiste met swartes wat min belangstelling getoon het in die “rassiste” se doen en late.

Die selfverklaarde bruin rassis, Eusebius McKaiser, het selfs getwiet dat hy sy hande sal moet gaan was omdat hy aan die wit Roodt geraak het.

Gedurende die verrigtinge het regslui wat vir Naspers optree opgeduik wat hoegenaamd nie gemoeid is met die saak nie. Een het dr Roodt verseker dat sy alles in haar vermoë sal doen om hom te vernietig.

Ene Adelé le Roux,  ‘n prokureur van Moni Attorneys Incorporated in Killarney, Johannesburg, het daarna luidkeels aan Roodt verklaar: “Enige vyand van Dan Roodt is ‘n vriend van my.” Sy het lank met ‘n man gesels wat dr. Roodt reeds jare lank op Facebook en Twitter teister en vermoedelik agter kuberaanvalle op PRAAG sit.

Afgesien van DoS-aanvalle op die praagwebwerwe, is dr. Roodt se Facebookblad ook verlede week afgeskakel weens vals klagtes daarteen wat by Facebook aanhangig gemaak is.

Die klein wit Boerhaatkliek het mekaar tot groter venyn aangespoor en het mekaar aanhoudend daarin onderskraag met twiets, ook uit die hof, in weerwil van ‘n bevel wat dit uitdruklik verbied het.

Die oorhoofse tema was weereens dat Afrikaners, en meer spesifiek Roodt en Hofmeyr se “domheid” slegs hoon, smaad en uitwissing verdien.

Die aanvalle het veral gekom van werknemers van ‘n internetmeningsblad wat vermoedelik deur skaduagtige Amerikaanse fondse bedryf word, te wete die Daily Maverick.

Dr Roodt het die uitslag as teleurstellend beskryf, maar gesê die hele oefening verteenwoordig nogtans ‘n taktiese oorwinning aangesien die tussentydse bevel die sukses van die Afrikaans is Groot konserte kon verseker.

 

 

‘Afriforum is rassistiese randeiergroepie’

Afriforum het ontdek dat beskuldigings van “rassisme” en “randeiergroepie” teen PRAAG nie juis gehelp het om hul eie saak te bevorder in die buiteland nie.

Dié organisasie was geheel en al uit hul diepte met hul verklarings na voorleggings oor die heropening van die grondeiseproses en plaasaanvalle in Suid-Afrika aan die VN se Menseregtekommissie-forum in Genève, Switserland.

‘n Suid-Afrikaanse amptenaar het Afriforum as ‘n randeiergroepie beskryf en die VN skerp gekritiseer omdat hulle nie akkreditering van deelnemers aan die Forum se aktiwiteite met sorg gedoen het nie.

Die amptenaar het verwys na AfriForum en TLU SA as “randeier-organisasies” en na die VF + as ‘n “oorblyfsel uit die apartheidsjare”.

Sy het gesê hulle hunker terug na wit oorheersing en probeer om die regering se programme te diskrediteer wat daarna streef om ‘n demokratiese samelewing te bou wat gebaseer is op ‘n enkele nasionale identiteit en die beginsel van Ubuntu.

Afriforum het in ‘n daaropvolgende verklaring beklemtoon dat geen beskuldiging gemaak is teen die regering van ‘n volksmoord nie, en alleen die staat se onwilligheid om plaasaanvalle te verklaar ‘n prioriteitsmisdaad, is deur hulle geopper.

Die Vryheidsfront Plus het voorleggings oor die heropening van die grondeiseproses en kommer oor plaasaanvalle in Suid-Afrika aan die VN se Menseregtekommissie-forum in Genève, Switserland voorgelê.

Die partyleier, Pieter Mulder, sê hulle het vier voorleggings aan die VN-forum oor plaasaanvalle, grondeise, regstellende aksie en wat hulle genoem het, die aftakeling van Afrikaans, gedoen.

Mulder het die forum gevra om aan te beveel dat die VN se Sekretaris-Generaal ‘n volledige ondersoek doen om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om doeltreffende maatreëls in te stel om ‘n einde aan die gruweldade te maak.

Mulder het ook aan die forum gesê die heropening van die grondeise bedreig voedselsekuriteit.