Tiener vas vir moord op Winnie Rust

‘n Agtienjarige “belowende atleet” wat aan die Hoërskool Hugenote gematrikuleer het, sal Maandag in die landdroshof in Wellington verskyn in verband met die moord op die skrywer Winnie Rust.

Die skryfster wat verhale oor rassekwessies gepen het, is verlede Woensdag doodgemartel, vermoedelik deur die tiener wat sy gehelp het.

Volgens Noloyiso Rwexana, ‘n polisiewoordvoerder, is die vermeende moordenaar die naweek in hegtenis geneem deur die Wellingtonse speurtak nadat verskeie artikels wat by Rust gesteel is, in sy besit gevind is.

Die verdagte is die seun van die kleurlinghuishulp.

“Vir ons is dit nie ‘n prioriteit of haar moordenaar vasgetrek word nie,” het Rust se jonger broer, Chris van der Merwe (72), gesê nadat hy gehoor het die tiener is gevang.

Intussen is ‘n tweede verdagte ook vasgetrek vir die moord. Hy sal glo Dinsdag verskyn.

“Die polisie kan bevestig dat ’n 34-jarige verdagte ook vir Winnie se moord in hegtenis geneem is en in die hof sal verskyn sodra hy formeel aangekla word,” sê Rwexana.

Bure het Woensdagmiddag harde geluide uit die woonhuis van die egpaar hoor opklink. “Ons het harde geluide gehoor wat uit die huis gekom het,” het ‘n buurvrou aan Nuus24 gesê.

Maar die egpaar se kwaai Duitse herdershond, Max, het nooit geblaf nie.

Inwoners het gesê Rust het nie haar gru-dood verdien nie, omdat sy so uitermatig barmhartig was.

“Sy is die laaste mens met wie so iets moes gebeur en dit maak ’n mens nogal kwaad. Haar sagte manier van omgee het ‘n invloed op almal in die dorp gehad, of jy nou wit, swart of bruin is,” het ‘n vriendin van 30 jaar aan Nuus24 gesê.

Rust se vrygewigheid het van haar ‘n “rolmodel” gemaak, het sy gesê. Sy het glo dikwels kinders van alle rasse gehelp.

Nog ‘n kennis het haar beskryf as iemand met ‘n “fyn oog vir onreg”.

Verskeie bure het by navraag gesê hulle voel uiters onveilig op Wellington.

Een wit inwoner is ‘n paar maande gelede deur booswigte oorval wat voorheen in sy tuin gewerk het.

“Ons het drie jaar gelede van Johannesburg af hierheen getrek. My man het juis Woensdag nog gesê dat dit soveel veiliger hier as daar is, maar ek dink nie so nie. ’n Mens is nêrens veilig nie, nie eens in jou eie huis nie.”

Rust se drie kinders woon in die buiteland.

Drie bejaardes slagoffers van swart aanvallers

‘n Bejaarde inwoner van Hoopstad, Adri Maree (67), is Saterdagmiddag vir dood agtergelaat nadat sy in haar motorhuis deur swartes oorval is.

Sy is eers Sondagoggend deur ‘n kennis ontdek en is na ‘n hospitaal in Bloemfontein gehaas.

Maree het veelvuldige kopbeserings opgedoen, en haar gesig is erg vermink. Sy verkeer tans onder swaar verdowing.

Nog twee bejaardes, Thomas Gardiner (76), en Rina Langenhoven (67) het ook onder swart aanvallers deurgeloop. Langenhoven van Haenertsburg in Limpopo het nie die aanval oorleef nie.

Langenhoven se drie swart aanvallers wat haar op Sweet Mist Farm doodgemartel het, is intussen aangekeer. Een was voorheen in haar diens.

Gardiner is Sondagaand in sy huis in Doorn, Welkom, deur swartes aangeval, maar kon die polisie ontbied voordat hy doodgemaak is.

Sy aanvallers het hom met ‘n tuinvurk aangerand en ernstig beseer voordat die polisie opgedaag het.

Die swartes het daarna op die vlug geslaan met die slagoffer se selfoon en beursie.

Gardiner word tans in die hospitaal in Welkom behandel.

Eugene de Kock kry parool, CDL sit

Voormalige Vlakplaas bevelvoerder Eugene de Kock sal op parool vrygelaat word, het die minister van justisie, Michael Masutha Vrydag gesê.

Die voormalige polisiekolonel, ook bekend as “Prime Evil” is deur die ANC geloof toe hy ander oud-lede daarvan beskuldig het dat hulle nie verantwoordelikheid vir apartheidsveiligheid wil neem nie. Hy het gesê oudlede het “nie die ruggraat om op te staan en verantwoordelikheid te neem nie”.

Clive Derby-Lewis, wat skuldig bevind is aan die moord op die SAKP-leier Chris Hani, sal egter nie op mediese parool vrygelaat word nie, Masutha gesê.

Die 79-jarige Derby Lewis wat longkanker het, dien lewenslange tronkstraf uit vir sy rol in die moord op Hani. Die SAKP en die Hani- familie is gekant teen die aanbeveling dat Derby-Lewis op parool vrygelaat word.

“Daar is niks om te wys dat mnr Derby-Lewis se toestand sodanig is dat hy fisies onbevoeg is nie… genoeg om sy daaglikse aktiwiteit te beperk nie.”

‘n Aanbeveling dat Derby-Lewis op mediese parool vrygelaat word, kan dus nie goedgekeur word nie, het Masutha verklaar.

Plaasaanvallers slaan 2 keer in 4 weke toe

plaasPlaasaanvallers het twee keer in vier weke op ’n plaas in Delmas toegeslaan.

Die stasiebevelvoerder van die Delmas-polisiekantoor, sê dit is “bisar” dat aanvallers binne vier weke op een plaas toeslaan.

Die drie gesinslede is Dinsdag met ’n stry­kyster gemartel, het Beeld berig.

Jan Berg (78) is op sy agterstewe gebrand, sy dogter, Riana (45), op haar wang en bene. Vier weke gelede is Jan se vrou, Ina (75), op die wang gebrand.

Jan is toe ook met ’n geweerkolf op die voorkop geslaan.

Die aanvallers het by vorige geleenthede kontant, ‘n voertuig en ‘n wapen gebuit na doodsdreigemente.

Die gesin het intussen diefwering en veiligheidshekke laat aanbring, maar die swart aanvallers het weer Dinsdag die eiendom binnegedring.

Drie swartes is Woensdag in hegtenis geneem. Die gesin het een verdagte uitgeken wat Vrydag in die Delmas-landdroshof op aanklagte van huisroof en aanranding met die opset om ernstig te beseer, sal verskyn.

Swarte martel 86-jarige vrou ure lank

Engela Nel in haar studeerkamer 'n week ná die voorval. Foto: Die Pos
Engela Nel in haar studeerkamer ‘n week ná die voorval. Foto: Die Pos

Die Pos op Nylstroom berig dat Engela Nel (86) van die Zebra Park-sekuriteitsoord op die dorp Woensdagnag, 19 Maart, ure lank gemartel is. Sy het vir haar lewe, asook vir haar tuinwerker se siel, gebid nadat hy haar glo oorval en ure lank in haar huis aangehou en emosioneel geteister en rondgeruk het.

Thomas Madimetsha Kemp het glo ongeveer vyf jaar lank vir Nel in haar tuin gewerk en ook gehelp met ander take in en om die huis.

Sy het aan Die Pos vertel dat Kemp op dié betrokke dag sy gewone vriendelike en gemoedelike self was.

Nadat hy om ongeveer 16:30 klaar gewerk het, het hy saam met Nel kombuis toe gestap, nes altyd, waar sy hom vir die dag se werk moes betaal. Hy het ’n register gehad waarin hy gewoonlik ontvangs geteken het vir sy geld.

Sy sê dat hy op dié dag kastig vir haar ’n lekkende kraan in die badkamer in haar slaapkamer wou wys, maar dat sy nie saam met hom soontoe gestap het om te gaan kyk nie. Sy het net vir hom gesê dat daar nie tyd was daarvoor nie. Sy was van plan om hom by die huis te gaan aflaai, aangesien dit gelyk het asof dit binnekort sou reën.

Kemp het haar toe glo vir meer geld gevra, maar Nel het vir hom gesê dat sy nie soveel geld het nie.

Die volgende oomblik, vertel sy, het dit vir haar gevoel asof sy deel is van ’n nare droom.

Toe sy omdraai om haar motorsleutel op die kombuistoonbank te vat, het hy haar glo van agter om die nek gegryp en begin wurg. Sy is hard op die kop geslaan en het vir ’n ruk haar bewussyn verloor.

Thomas Madimetsha Kemp, wat tans deur die polisie gesoek word
Thomas Madimetsha Kemp, wat tans deur die polisie gesoek word

Toe sy ’n bietjie later in haar slaapkamer op die mat bygekom het, was Kemp besig om haar hande en voete vas te bind en aan die bed se pote vas te maak. Hy het ook tou om haar nek en oor haar mond vasgebind. Nel sê dat die toue só styf vasgemaak was, dat die gevoel in haar hande en voete doodgegaan het. Daar was ook baie bloed.

Sy sê dat sy vir hom gevra het hoekom hy dit doen. Hy het geantwoord dat hy R3 000 nodig het, blykbaar vir ‘n sangoma-kursus wat hy wou aflê of reeds afgelê het. Die hele tyd wat sy met hom probeer praat en by hom gepleit het om haar los te maak, het hy glo aangehou om te sê dat hy daardie bedrag geld nodig het. Sy het vir hom gesê dat sy nie soveel geld in die bank het nie, maar hy het blykbaar aangehou om vir haar te sê dat sy jok en dat hy haar nie vertrou nie.

Nel het later vir Kemp die kluis in haar studeerkamer oopgemaak, waarin daar ook niks van waarde was nie. Hy het haar toe in die studeerkamer toegesluit terwyl hy deur die huis gestap het en al die sleutels wat in die huis was, bymekaar gemaak het. Nel het die studeerkamer se duplikaatsleutel, wat toevallig ook in die kluis was, uitgehaal en die studeerkamer se deur versigtig oopgesluit. Omdat hy haar debietkaart gevat het, het sy gedink dat hy dalk gery het om te gaan kyk hoeveel geld hy uit haar rekening kon trek.

Toe sy by die studeerkamer uitstap, het hy haar egter weer van agter gegryp en gevra of sy probeer wegkom. Die toue, wat die dun vel oor haar arms en gewrigte teen dié tyd deurgeskaaf het, is nóg stywer getrek.

Teen ongeveer middernag is Kemp glo met Nel se bankkaart, selfoon, TV en motorsleutels weg. Die landlyn is blykbaar al vroeër ontkoppel en uit die studeerkamer geneem. Nel het haar handvuurwapen, wat in die studeerkamer versteek was, met haar geswelde en bebloede hande probeer laai en dit ná ’n gesukkel reggekry om twee skote af te vuur om die bure se aandag te trek.

Sy het ook een van die venstertjies in die studeerkamer se glasdeur met ’n ornament gebreek.

“Ek het besluit as hy weer terugkom, skiet ek hom dood voordat hy mý doodmaak,” het Nel gesê.

In die studeerkamer het sy ook ou Telkom-telefone onder in ’n boekrak gekry en gelukkig het een van hulle gewerk.
Sy het van die bure gebel en laat weet wat gebeur het. Terwyl sy besig was om oor die telefoon te praat, het sy haar aanvaller skielik wéér deur die glasvensters van die studeerkamer by die agterdeur sien inkom. Sy het hard vir haar buurman oor die foon gesê: “Bel die polisie, ek is deur Thomas (almal daar ken hom) aangeval.” Kemp het volgens haar net daar in sy spore omgedraai en verdwyn.

Een van haar bure, Theuns Minnaar, het ’n spaarsleutel vir Nel se voordeur gehad en kon die huis oopsluit. Die polisie, wat glo baie flink gereageer het op die oproep, moes egter die studeerkamer se deur oopskop om Nel te bevry, aangesien Kemp dié, sowel as alle ander sleutels in die huis met hom saamgeneem het.

Nel is eers na dr. Mich Veldman geneem om haar wonde te verbind, voordat ds. Fanie Hoffman (voorheen van die Hervormde Kerk op Modimolle) haar teen ongeveer 01:30 die oggend na die Orania-versorgingseenheid in die Noord-Kaap geneem het, waar sy tot Sondag, 23 Maart, behandel is. Haar dogter, Estelle Pretorius, het vir ’n paar dae kom kuier sodat sy ’n ogie oor haar ma kan hou. Sy sê dat dit die vreeslikste gevoel is om in die middel van die nag wakker gebel te word en te hoor dat jou ma aangeval is.

Nel is die tweede bejaarde inwoner in ’n kort tydperk wat op Nylstroom aangeval is. Piet Venter is verlede jaar ook pimpel en pers geslaan nadat hy in sy huis by die Amarula-kompleks deur ’n mede-inwoner se seun oorrompel en aangerand is vir geld.

“Ek kan nou nog nie glo dat Thomas tot so iets in staat was nie. Ek het op ’n stadium, terwyl hy my aangehou het, vir hom gesê om my hand te vat sodat ek vir hom ook kan bid omdat hy met ’n verkeerde ding besig was,” vertel sy.

Haar advies aan die gemeenskap: “Moet niémand vertrou nie.”

Ao. James Findlay, woordvoerder vir die polisie op Modimolle, het aan Die Pos gesê dat Nel se motor en selfoon later die nag in Kroepstraat, naby die polisiestasie, gevind is. Kemp is nog nie opgespoor nie, maar ’n saak van huisroof en diefstal van ’n voertuig is geopen. Dit word deur ao. Koos van der Berg en sy span ondersoek. ’n Beloning word aangebied vir positiewe inligting wat mag help met die ondersoek.

Van den Berg kan gebel word by tel. 072 534 5334.

Gemartel, gewurg en vir dood agtergelaat

Chaney Weyers
Chaney Weyers

Petro Weyers, 66, van Louis Trichardt (Makhado) sê sy is dankbaar dat haar sesjarige kleindogter, Chaney, nog lewe.

Die twee is verlede Donderdagoggend (6de) wreedaardig deur swartes aangeval in ‘n huisroof by Petro se woonstel in die Kismet-kompleks in Andersonstraat. Die aanval het plaasgevind presies ‘n week voor Petro se 66ste verjaardag op 13 Februarie.

Die Zoutpansberger het Petro minder as vier ure ná die aand se skokgebeure by haar woonstel gevind. Bebloed en steeds in skok het Petro dapper die skriknag se gebeure herleef, terwyl die klein blondekop Chaney ongesteurd eenkant gespeel het. Dit was egter moeilik om die bloukolle op haar gesiggie mis te kyk, asook die dik, rooi vingermerke om haar nekkie soos haar aanvaller haar gewurg het.

Petro, Chaney se voog, het omstreeks 23:00 die vorige aand wakker geword van ‘n geraas. Sy het opgestaan en Chaney, wat saam met haar in haar dubbelbed geslaap het, wou dadelik weet wat is fout. Petro het al die ligte in die huis aangeskakel, maar kon niks verkeerd vind nie. Al die deure was gesluit en die twee het rustig weer gaan slaap. Omstreeks 01:30 is hierdie rustigheid verpletter.

“Ek het wakker geword met hande om my keel en ‘n man wat wydsbeen bo-op my sit … daar was ook een op haar [Chaney] … Die maerder een het op haar gesit, maar hy was ‘n baie wrede een,” sê Petro.

In die donker van die kamer was Petro en klein Chaney se aanvallers se gesigte niks meer as swart silhoeëtte teen die dowwe lig deur die toegetrekte gordyne nie. Petro se aanvaller het vlot Afrikaans gepraat, maar het Engels met sy makker gepraat.

Drie keer het Chaney smekend uitgeroep: “Ouma! Ouma! Ouma!” Elke keer het Chaney se aanvaller haar deur die gesig geklap en gewurg met die woorde: “Shut up! Shut up!” “Daar is steeds ‘n wroeging in my hart dat Chaney gedink het ek wou haar nie help nie, maar ek kon nie …” sê Petro.

Ná Chaney se derde angsroep om hulp – met haar aanvaller se hande styf om haar nekkie soos hy die lewe uit haar probeer wurg het – het haar stem stil geword. Die man het haar opgetel en haar lyfie op die vloer gegooi.

“Ek het gedink my kind is dood,” sê Petro. Dan oorval die emosie haar weer en begin sy onbeheersd huil. “Ek het baie gebid … O, ek wil dit nooit weer deurleef nie…” prewel sy die woorde uit.

Die aanvaller op Petro het ‘n mes uitgepluk en kort-kort teen haar nek en sy gedruk. Ses keer het hy haar gewurg, telkens net tot voor sy haar bewussyn verloor. Dan het hy sy greep verslap sodat sy weer kon asem skep, net om haar weer te wurg. Kort-kort het die man wat pas vir Chaney gewurg het, oorgeleun en vir Petro met die vuis in die gesig geslaan. Hierdie marteling het vir bykans twee ure aangeduur.

“Hulle het aanmekaar gevra ‘Waar is die wapens?’ dan sê ek ‘Ek het nie’, dan vra hulle weer ‘Waar is die geld?’ dan sê ek ‘Ek het nie’. Ek het ‘n R1 200 in my beursie gehad … hulle het dit gevat,” vertel Petro, terwyl die trane oor haar wange rol. Sy wys dan na haar hande en arms. Dit is vol diep snye wat veroorsaak is toe haar aanvallers haar ringe, horlosie en armbande van haar afgeruk het. Sy sê sy slaap altyd met haar juwele aan.

In ‘n stadium het die twee eers Petro se bene vasgebind, asook haar hande. Daarna het hulle een van Chaney se vuil slaapbroeke gevat, opgerol en ‘n knoop daarin gemaak. Hulle het die knoop in haar mond gedruk en die slaapbroek om haar kop vasgemaak. Daarna het hulle met gordyntou uit Petro se studeerkamer haar hande styf om haar nek vasgedraai en vasgebind. Asof dit nie genoeg was nie, het hulle ‘n laken om Petro se kop gedraai en haar met kussings en komberse toegepak op haar bed. Sy kon beswaarlik asemhaal en wou kort-kort haar bewussyn verloor.

“Gelukkig kon ek met my vingers die lap uit my mond kry, anders het ek versmoor,” sê Petro. Intussen is haar kamer en die res van die huis geplunder.

Na wat soos ‘n ewigheid gevoel het, het dit skielik stiller geword. “Ek het so ‘n halfuur gelê, toe roep ek ‘Chaney? Chaney?’ … toe kom sy by.”

Chaney het opgestaan en haar ouma tot in ‘n sittende posisie gehelp. Haar klein handjies was egter nie sterk genoeg om die toue om haar ouma se nek los te woel nie. Sy kon wel die tou om Petro se bene loskry, sodat Petro een voet kon uitkry. Hierna het klein Chaney, vreesbevange en nie eers seker of hul aanvallers nog in die huis was nie, na die studeerkamer gestap en die telefoon gaan haal, aangesien Petro se selfoon ook gesteel was. Petro kon toe haar broer, mnr. Johnny Gouws, skakel. Dit was ongeveer 03:30.

“Sy [Chaney] het vir my die nommers gedruk. Sy is my held! Sy het ons lewens gered. Ouma is trots op jou!” sê Petro terwyl sy na klein Chaney kyk. Weer rol die trane.

Johnny en sy seun het hulle na die woonstel gehaas. Daar aangekom, is die polisie ontbied.

“Ons het eers om die woonstel geloop en toe kom ons in. Toe maak ek haar los, want sy was vas, vas, vas! Sy sou in haar lewe nie daardie tou afkry nie,” sê Johnny. Hy sê hy het amper 10 minute gesukkel om Petro los te kry. Haar toestand was vir hom ‘n groot skok, maar immers het sy suster en klein Chaney nog gelewe.

“Dank die Here ons altwee lewe, my kind lewe! Ek was bang sy was dood. Toe ek so lê en ek hoor haar nie, toe dink ek sy is dood … dit sou my dood beteken het,” sê Petro. Sy het geen twyfel daaroor dat hul aanvallers aangeneem het dat nie een van hulle die aanval sou oorleef nie.

Die polisie was redelik vinnig op die toneel, maar het klaarblyklik geen verklarings afgeneem of die misdaadtoneel afgesper voordat hulle weer gery het nie. Vrae hieroor en ander vrae, soos hoe die aanvallers toegang tot die woonstel verkry het, bly steeds onbeantwoord. Geen diefwering is geknip nie en al die deure was gesluit na die aanval. Een van die buitedeure se sleutel was egter vermis, alhoewel dit nog die vorige aand daar was.

Lt.kol. Ronel Otto, provinsiale polisie woordvoerder, is gevra waarom daar nie tydens die polisie se eerste besoek verklarings geneem is of die area afgesper is nie. Sy het gesê dat die polisielede wat eerste op die toneel was weliswaar die toneel moes beveilig het, totdat die misdaadtoneelbevelvoerder die toneel kom oorneem het. “As dit nie gebeur het in hierdie geval nie, dan sal daar ‘n volledige interne ondersoek wees. Sou daar verkeerde optrede gewees het, kan dissiplinêre stappe geneem word,” het Otto gesê. Die polisie het wel later die oggend die toneel besoek, goeie vingerafdrukke gekry en verklarings afgeneem. Teen druktyd was daar nog geen arrestasies in die saak gewees nie, alhoewel die polisie steeds besig was met ‘n intensiewe ondersoek na die voorval.

Bron: Soutpansberger