Anton van Niekerk: politieke korrektheid, feite-waarheid en morele waarheid

Deel op

Wanneer dit vakansietyd is, word Die Burger se lesers gekonfronteer met artikels en ook briewe deur Anton van Niekerk. Op hierdie manier kry hy publisiteit en verdien hy ook sakgeld. Vir hom is dit blykbaar nie voldoende as akademici kennis van sy menings in vaktydskrifte neem nie. Hy smag daarna om ‘n openbare intellektueel te wees. Maar dit is myns insiens van deurslaggewende belang dat enigiemand wat aanspraak op sodanige status maak, die beeld van geloofwaardigheid moet hê. Kom ons ondersoek Van Niekerk se geloofwaardigheid na aanleiding van sy artikel in die jongste uitgawe van Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Om praktiese redes (bv om die lengte van hierdie rubriek binne perke te hou) gebruik ek uitsluitlik die opsomming van sy artikel (heel moontlik deur homself gemaak en vir publikasie aangebied) soos gepubliseer in Die Burger (30 Desember, p 13). Die opskrif is: “Wat is ‘polities korrek’?”

Van Niekerk begin deur ‘politieke korrektheid’ te definieer. “Die begrip ‘politieke korrektheid’ verwys na ‘n soort geveinsdheid in spreke en optrede wat daarvan wegskram om vermeende onreg en onbevoegdheid by die naam te noem, en wat daarom, bloot ter wille van gedienstigheid aan aanvaarde sosiale konvensies, sake só voorstel dat die waarheid omtrent wat verkeerd loop in die samelewing, verdoesel word deur wat ons sê en soms ook doen.” Hy kon byvoeg: Ook wat ons nie sê en nie doen nie. Maar laat ons nie vlieë afvang nie. Sy definisie is nie sonder verdienste nie. Ek hou veral van die skerpheid van “geveinsdheid”, “gedienstigheid” en “verdoesel” (wat al drie in my laaste paragraaf hieronder na hom toe terugkom), hoewel verdoesel dikwels die vorm van algehele ontkenning aanneem.

Tereg noem Van Niekerk dat ons die verskynsel van politieke korrektheid het omdat bv die gevoelens (van nie-wittes) nie seergemaak en (negatiewe) stereotipes (van nie-wittes) nie bevorder mag word nie. Myns insiens kan dit soms nodig wees om ego’s af te blaas ten einde mense te verbeter. ‘n Stereotipe is ook nie noodwendig ‘n onding nie. Dit is eintlik ‘n veralgemening. Sonder veralgemening kan die wysbegeerte en die wetenskap en ook doodgewone gesprekvoering nie vorder nie. In die logika word dit induksie genoem. As ek van ‘n groep mense sê hulle is bouers of brekers is dit ‘n geldige veralgemening in soverre die lede van daardie groep werklik bou of breek.

“Dit is … polities inkorrek om te beweer dat ‘plaasmoorde’ (in die sin van ‘n berekende, georganiseerde aanslag van swart mense op wit boere) in Suid-Afrika plaasvind, aangesien dit die stereotipes van swartes as barbaarse moordenaars en wittes as relatief welvarende en ekonomies produktiewe landsburgers bevorder, en die idee bestendig dat swart mense en wit mense nie in vrede in dieselfde land kan saamleef nie.” In die voorafgaande sin word talle elemente ingebring wat sake verdoesel. Omdat “plaasmoorde” tussen aanhalingstekens geplaas word, kan dit op onsimpatie by Van Niekerk dui. In hoeverre plaasmoorde die gevolg van ‘n georganiseerde aanslag is, is onbekend. Wat van belang in daardie aangehaalde sin tot by die eerste komma is, is dat talle plaasmoorde (met boere, hulle gesinslede en werkers as die slagoffers) in die nuwe Suid-Afrika gepleeg is en heel dikwels is dit wittes wat vermoor word en swartes wat die moorde pleeg. Politieke korrektheid vereis dat daar nie gesê mag word dat wittes (in hierdie geval op plase, maar sekerlik ook elders) deur swartes vermoor word nie. Maar hierdie stelling is waar in die mate wat dit werklik gebeur het.

Daar is ook die ANC-regering se redenasie dat plaasmoorde nie apart in misdaadstatistiek gelys word nie, met as regverdiging dat alle moorde in dieselfde mate veroordeel word. Maar dit is bloot ‘n vyeblaar om nie enige voorkeur vir blankes/boere te toon nie. Die waarheid is dat alle moorde, net soos alle mense, nie eenders/gelyk is nie. Vir die naasbestaandes van ‘n vermoorde kan die verlies ewe groot en die vermoorde ewe onvervangbaar wees. Enige objektiewe waarnemer sal egter kan insien dat die moord op ‘n boer ‘n baie groter verlies vir die land as dié van ‘n armlastige plakker is. Om hierdie rede behoort meer gedoen te word om moorde op plase as in plakkerskampe te verhoed. Dit gaan om bv ekonomiese oorwegings en nie om etnisiteit nie. Dit is hierdie soort ding wat in landsbelang gesê moet word eerder as om polities korrek te swyg.

Die ANC-regering wil ook nie misdaadsyfers openbaar waarin die etnisiteit van die misdadigers en die slagoffers openbaar word nie. Die rede hiervoor is glo omdat rasseklassifikasie amptelik afgeskaf is. Maar in die praktyk kan die ANC-regering glad nie sonder sodanige nie-amptelike klassifikasie funksioneer nie. Deesdae word rassediskriminasie teen veral blankes ten gunste van veral swartes gepleeg en “transformasie” genoem. Sonder rasseklassifikasie kan die ANC nie sy “regstellingsbeleid” (bv swart ekonomiese bemagtiging en grondhervorming) uitgevoer nie. Waarom dan nie etnisiteit ook in die misdaadstatistiek vermeld nie? As ‘n sekere groep (getals- of persentasiegewys) meer misdaadgeneig as ander groepe blyk te wees, is dit in die openbare belang dat bv voorkomings- en rehabilitasieprogramme op daardie groep toegespits word.

[In die huidige vakansieseisoen was die meerderheid padsterftes voetgangers, heel moontlik swartes. Dit volg dat padveiligheidsveldtogte op diesulkes toegespits behoort te word. As uit die statistiek blyk dat swart minibusbestuurders baie ongelukke veroorsaak, moet hulle by wetstoepassing geteiken word. Regstellende aksie moet nie teruggehou word as swartes die sondebokke blyk te wees nie. In hierdie konteks is politieke korrektheid sekerlik ‘n onding.]

Wat ek probeer aantoon, is dat dit in die openbare en dus landsbelang kan wees om politieke korrektheid opsy te skuif deur plek te maak vir geldige stellings en heilsame voorstelle gebaseer op feite. Te veel word in die naam van politieke korrektheid verdoesel of verswyg. Met verwysing na die laaste aangehaalde sin hierbo: Waarom kan/mag dit nie maar hard en duidelik gesê word dat blankes sedert 1652 ‘n bewese rekord van ekonomiese produktiwiteit het nie? Is dit nie ‘n feit dat dit veral danksy blankes se insig, toewyding, vindingrykheid, arbeid, ens, is dat Suid-Afrika die welvarendste Afrika-land geword het nie? Is dit nie in landsbelang om te beweer dat hierdie land meer sulke mense nodig het as hy voorspoedig wil wees nie; dat wittes as burgers gekoester en nie verguis moet word nie?

Politieke korrektheid vereis by implikasie en by voorbaat dat nie beweer moet/mag word dat swart en wit nie in vrede in dieselfde land kan woon nie. Maar dit is moontlik dat (die groot) kultuurverskille, wat nie ontken kan word nie, saambestaan (in ‘n mate/grootliks) onmoontlik maak. Die meeste mense is seker geneig om rus en vrede bo onmin en stryd te verkies, maar dit kan ‘n onbereikbare ideaal in die huidige politieke bedeling blyk te wees. Pleks van ‘n eenheidstaat waarin talle groepe saamgebondel word, is dit moontlik dat ‘n tuisland vir elke kultuur-/etniese groep groter harmonie en voorspoed (vir almal) tot gevolg kan hê. Politieke korrektheid as “geveinsdheid” moet nie toegelaat word om sulke gesprekke te ontmoedig nie.

Vervolgens beweer Van Niekerk dat ‘n liberaal-demokratiese staat “die beste soort staat [is] om in te bly.” Sodanige staat erken bv spraak- en persvryheid. Daarom is Van Niekerk glo in beginsel teen politieke korrektheid as dit ‘n demper op die politieke diskoers plaas. Volgens hom moet hierdie soort korrektheid eerder deur die najaag van die waarheid vervang word. [As u verder lees, sal u sien dat Van Niekerk se getrouheid aan wat in hierdie laaste twee sinne staan, ernstig bevraagteken kan word.] Hy onderskei tussen feite-waarheid en morele waarheid. As ‘n mens met feite fouteer, dus nie die waarheid beet het nie, is dit ‘n vergissing en kan dit reggestel word. Van Niekerk plaas die klem egter op wat hy morele waarheid noem. As ‘n mens met morele waarheid ‘n fout maak, is die resultaat ‘n leuen. ‘n Leuen is verwerpliker as ‘n vergissing omdat die leuenaar doelbewus, dus “willens en wetens”, die waarheid weerhou. ‘n Leuen kan nie soos ‘n feite-fout reggestel word nie: “‘n leuen moet vergewe word.”

[Die HAT vereenvoudig sake en vat kortpad deur te beweer dat ‘n feit iets is “wat werklik plaasgevind het, wat werklik vasstaan.” Die begrip “feit” is egter baie meer glibberig as dit, met “waarheid” wat nog wyer toepassings het en dus nog vaer is (Bede Rundle, Facts, London: Duckworth, 1993, p 18). Wanneer moraliteit bygevoeg word, “we have concepts whose usefulness rests on assumptions which may not be conceded” (p 82). Van Niekerk se artikel is ‘n klinkklare voorbeeld hiervan.]

Ons kom nou by hoe Van Niekerk vir homself ruimte gun sodat hy die waarheid kan buig/manipuleer om sy politiek te pas. “Waarheid, veral in ‘n morele konteks, kan daarom nie altyd sonder meer gelyk gestel word met ‘die naakte feite’ nie. Die waarheid funksioneer in ‘n konteks wat nie altyd bloot ‘meegedeel’ kan word nie, maar wat dikwels geïnterpreteer moet word. Tot die waarheid behoort naamlik die sin van feitelike gegewens, dit wil sê die belang of die waarde wat sulke gegewens het vir die mens wat lewensoriënterend daarmee gemoeid is.” Van Niekerk onderskei dus tussen feite en die vertolking van feite, wat seker insluit dat feite in konteks beoordeel moet word. Oor die feite sal ons waarskynlik makliker ooreen kan kom as oor die vertolking van daardie feite. In wat volg, toon Van Niekerk egter dat hy soms nie eens sy feite reg het nie, gevolglik is sy vertolkings ook nie in die kol of aanvaarbaar nie. Die kern van die probleem is dat hy hom laat lei deur wat polities korrek is; bv die belange van swartes kry voorkeur bo dié van wittes.

Van Niekerk skryf oor regstellende aksie: “swart mense [word] sonder die gepaste kwalifikasies en ervaring ten gunste van [hy bedoel: ten koste van] wit kandidate in poste aangestel of tot prestige-studierigtings soos geneeskunde aan universiteite toegelaat. [Dit is presies wat by sy werkplek, Universiteit Stellenbosch (US), gebeur.] Dit is meermale ‘n onverstandige en onregverdige praktyk wat nouliks goed te praat is, veral as dit blyk dat die ooreenkomstige werksprestasie of uitkomste van dié [wan]praktyk benede peil is.” Juistement, maar dit is polities inkorrek, gevolglik soek Van Niekerk ‘n uitkomkans, dus ‘n ander vertolking van die feite.

“Ons [kan] ons egter nie eenvoudig blindstaar teen die ‘naakte feite’ van wat tans waargeneem word in hierdie verband nie. Ons kan veral nie oor die onderliggende problematiek wat regstellende aksie in die oë van die oorgrote meerderheid van die bevolking ‘n ononderhandelbare vereiste van die Suid-Afrikaanse samelewing maak, praat asof ons onlangse geskiedenis in Suid-Afrika weggewens kan word nie.” Van Niekerk laat hier toe dat die meerderheid mense die feite of die waarheid bepaal. Dit kan ‘n fout wees. Byvoorbeeld, die meerderheid mense het eens gedink dat die aarde plat (en nie rond nie) is. Dit is waarom ek ook teen ongekwalifiseerde gelyke stemreg in die eenheidstaat Suid-Afrika is. Die meerderheid kiesers bepaal wie die land regeer; nie (noodwendig) die beste (bv ingeligte, insigryke, kundige, hardwerkende, toegewyde) inwoners nie.

Soos die swartes beperk Van Niekerk sy aandag by “ons onlangse geskiedenis,” klaarblyklik die apartheidsera (1948-1989). Hierteen het ek ‘n tweeledige beswaar. Eerstens was die bewind van die Nasionale Party nie net sleg nie. Ter wille van ewewig, eintlik doodgewoon die waarheid, moet sowel die goeie as die slegte in ag geneem word. Tweedens moet nie net op daardie vier dekades gefokus word nie, maar op ons hele geskiedenis. Sedert 1652 het die blankes op ‘n voortreflike wyse gepresteer; op ‘n manier wat deur geen ander etniese groep naasteby oortref word nie; ook op ‘n wyse waarby alle etniese groepe, in die verlede en in die hede, gebaat het.

Kyk hoe drasties verskil Van Niekerk se vertolking van die feite van myne: “Ons geskiedenis is ‘n verhaal van een van die mees blatante instansies van diskriminasie teen mense op grond van velkleur wat die wêreld nog ooit gesien het.” “Ons geskiedenis” verwys selektief na ‘n (politieke) aspek en veral na vier dekades eerder as na meer as drie en ‘n half eeue. Daardie rassediskriminasie is ook nie gemotiveer deur velkleur nie. Fundamenteel het dit gegaan om kultuurverskille. Pigmentasie het bloot as ‘n uiterlike aanduiding van daardie verskille gedien. Waarom verskil my en Van Niekerk se feite-vertolking so radikaal? Onder meer omdat ek uit beginsel, maar nie blindelings nie, kant vir my eie mense kies en Van Niekerk sy etniese genote versaak en hulle offer op die altaar van politieke korrektheid. Hy is in die eerste plek nie (meer) ‘n Afrikaner of blanke nie, maar ‘n Suid-Afrikaner en Afrikaan en hy aspireer seker ook vir identiteitslose wêreldburgerskap.

Met die voorafgaande as grondslag gaan Van Niekerk nou tot die aanval oor. In hierdie proses doen hy bekende feite “willens en wetens” geweld aan; met ander woorde hy lieg in ‘n poging om sy oorverligte standpunt aan lesers op te dring. Dit neem sulke afmetings aan dat dit moeilik is om hom (ingevolge wat hyself hierbo voorgehou het) te vergewe. “Terwyl wit mense in regse kringe fulmineer [uitvaar] oor slim, wit jongmense wat deesdae nie meer so maklik toegang tot ‘n studierigting soos geneeskunde kry nie, vergeet ons veels te vinnig dat swart mense voor relatief laat in die 20ste eeu hoegenaamd [!] nie toelating tot enige [!] Suid-Afrikaanse universiteit gehad het nie – laat staan nog tot medies.”

Die leuens wat Van Niekerk hier doelbewus verkondig, is in ooreenstemming met die bekende valsheid dat Hendrik Verwoerd (eerste minister van 1958 tot 1966) swartes tot spreekwoordelike houthakkers en waterdraers verdoem het. Wat Verwoerd baie duidelik bedoel het, is dat swartes in die blanke gebiede nie tot bv professionele beroepe toegelaat sal word nie, maar dat hulle tot die hoogste vlak in enige beroep in hulle tuislande kon vorder. Dit is waarom in 1960 twee nuwe universiteite uitsluitlik vir swartes (Noorde/Limpopo en Zoeloeland) geopen het en die Universiteit Fort Hare (in 1916 deur ‘n Skotse kerkgenootskap vir swartes gestig) deur die regering oorgeneem is. Hierna is talle ander universiteite vir swartes teen groot koste gebou en onderhou. Vergelyk hierdie “naakte feite” met Van Niekerk se stelling “dat swart mense voor relatief laat in die 20ste eeu hoegenaamd nie toelating tot enige Suid-Afrikaanse universiteit gehad het nie.” Is 1916 en 1960 “relatief laat in die 20ste eeu”?

Die mediese fakulteit van die Universiteit Natal het sedert sy stigting in 1950 met die goedkeuring van die “apartheidsregering” nie-wittes as studente toegelaat. In 1976 is die Mediese Universiteit van Suid-Afrika (Medunsa) te Ga-Rankuwa, by Pretoria, geopen, uitsluitlik vir nie-wit studente. Van Niekerk skryf dikwels oor mediese sake, bv oor mediese etiek. Hy is hoogs waarskynlik bekend met die bestaan van hierdie opleidingsfasiliteite. Waarom verswyg hy dit en mislei hy sy lesers? Is hy werklik so naïef dat hy dink niemand weet van beter nie en dat hy met hierdie leuens sal wegkom? Of troos hy hom met die feit dat Die Burger en die ander Naspers-koerant hom nie aan die kaak sal stel nie? Die motief vir Van Niekerk se laakbare gedrag is blykbaar om die buitensporig vinnige verswarting van die US se mediese fakulteit te regverdig, asof dit van die eerste instansies in Suid-Afrika is wat erbarmlik swart mediese studente toegelaat het.

Oor regstellende aksie gaan Van Niekerk soos volg voort: “Terwyl baie wit mense woedend is oor die voorkeur wat soms [dikwels?] aan swart mense in die werkplek gegee word – al bly dit ‘n feit dat die oorgrote meerderheid bestuursposte in die ekonomie steeds deur wit mense beklee word [hoekom nie? – dit kan suiwer danksy bekwaamheid wees] en al gaan dit tans met wit mense ekonomies beter as in enige stadium onder apartheid – vergeet ons veels te maklik al die dekades toe werkreservering die meeste gesogte poste in die ekonomie vir swart mense belet het.” Weer eens is Van Niekerk ‘n pleitbesorger vir swartes en verkies hy om te lieg. FW de Klerk het voor die 1992-referendum belowe dat geen blanke sy werk in die nuwe Suid-Afrika sou verloor nie. Sedert 1994 het wittes grootliks uit die owerheidsdiens (sentraal, provinsiaal en plaaslik) en semi-staatsdiens verdwyn. Ook die privaat sektor gee op skandalige wyse in groot mate voorkeur aan nie-wit werknemers. Teen veral blanke mans word suiwer rassisties en seksisties gediskrimineer.

‘n Mens se vel moet darem buitengewoon dik van die politieke korrektheid wees om nie die onreg raak te sien wat daagliks sienderoë teen blankes gepleeg word nie. Hoe kan Van Niekerk beweer dat “dit tans met wit mense ekonomies beter as in enige stadium onder apartheid” gaan? Dit is ‘n inflame leuen. Hoeveel wit mense het Van Niekerk tydens apartheid by stopstrate en verkeersligte sien bedel? Ek het nooit ‘n enkele een gesien nie. Deesdae is dit ‘n daaglikse gesig. Van Niekerk gee hoog op oor moraliteit. Is dit moreel in orde om voorkeur aan akademies swakker kandidate as universiteitstudente en -dosente te gee? Behoort gehalte/verdienste/meriete nie meer gewig as etnisiteit en geslag te dra nie? Het Van Niekerk al ooit ernstig nagedink oor die onreg wat deurlopend teen blankes in die nuwe Suid-Afrika gepleeg word, of verkies hy halsstarrig om dit nie onder die oë te sien nie omdat dit polities inkorrek sou wees om jou oor blankes te ontferm?

Wat is Van Niekerk se reaksie? “My punt is dat ‘die waarheid’ nie so eenvoudig is soos ‘die harde feite’ nie.” Van Niekerk ken aan homself die reg toe om feite nie bloot te vertolk nie, maar om hulle onvergeefbaar te verdraai; dus te lieg. Naas regstellende aksie/transformasie skryf hy vervolgens oor grondhervorming. “Dit is so dat talle swart boere aan wie landbougrond verniet verskaf is, as ekonomiese landbouprodusente misluk het. Ons kan ook saamstem dat dit onverstandig [onnosel?] is om landbougrond uit te deel aan mense wat nie genoeg opleiding en kennis van landbou het nie [die skuld word dus verskuif van die swartes wat te vrot is om te boer na ander mense]. Maar agter hierdie ‘kliniese feite’ wat ons graag ophaal van agter die oogklappe wat ons slegs die hede laat raaksien, staan die beskuldigende horison van die geskiedenis toe swart mense slegs 13% van Suid-Afrika se grond kon besit.”

As Van Niekerk sy “oogklappe” afhaal, sal hy besef dat daar ‘n verskil tussen ongerepte grond en ‘n gevestigde plaas is. Blankes het ongerepte grond tot plase omvorm/transformeer. Swartes matig hulle aan om nie grond te eis nie, maar ontwikkelde plase, wat dan na ontvangs in die meeste gevalle spoedig onherkenbaar verval. As Van Niekerk sy oogklappe afhaal, sal hy besef dat dit nie in die openbare of landsbelang is om miljoene der miljoene rande staatsgeld te bestee om in die naam van grondhervorming landbouproduksie drasties te verminder nie. Dit is nie net Suid-Afrikaners wat genoeg kos moet hê nie, maar ook die miljoene mense uit Afrika en elders wat die land binnestroom. Hongersnood kan ‘n rewolusie onder die gepeupel ontketen. Ek het jare lank by ‘n groot sakeonderneming gewerk. By die lessenaars het talle blanke mans gesit wat op plase grootgeword het en suksesvol kon boer, maar daar was nie plase vir hulle nie. Sou grondhervorming rasioneel nie veel meer sinvol wees as plase (gratis) aan diesulkes uitgedeel word nie? Of is dit in die nuwe Suid-Afrika heeltemal verregaande om blankes van owerheidsweë te bevoordeel?

Van Niekerk kan gerus ook kennis neem van ‘n brokkie waarheid wat sy geesgenoot Willie Esterhuyse oor grondhervorming kwytgeraak het: “Dis ‘n hoogs emosionele kwessie omdat dit nie oor grond as produktiewe bate gaan nie, maar oor grond as politieke identiteitsimbool” (Eindstryd, Kaapstad; Tafelberg, 2012, p 341). Kortom, swartes wil eerder grondbesitters as produktiewe boere wees. Swartes benut landbougrond hoogstens vir bestaansboedery. As swartes polities en demografies korrek 80%+ van die plase besit, sou dit nag vir voedselvoorsiening wees. Oor die talle kwalifiserings waarmee die beweerde 13% grond vir swartes bejeen moet word, kan Van Niekerk gerus die historikus Louis Changuion se gesaghebbende boek, Omstrede Land: Die historiese ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse grondvraagstuk, 1652-2011 (Pretoria: Protea Boekhuis, 2011, 471p), lees. Byvoorbeeld, naas die hoeveelheid moet die gehalte van die grond en die weersomstandighede (bv reënval) in ag geneem word. Anders as die reservate vir Indiane in die VSA het swartes in Suid-Afrika tradisioneel van die beste landbougrond beset, maar boedery op ‘n onproduktiewe manier bedryf. Baie grond is ook deur bv (blanke) sendelinge/sendinggenootskappe gekoop vir besetting deur swartes.

[Op LitNet (4.06.2012) is daar ‘n omvattende bespreking deur Johannes Comestor van Changuion se boek gepubliseer. Daar is heelwat regverdiging vir die standpunt “dat dit reg is dat die grootste gedeelte grond aan blankes moet behoort, omdat die blankes die grond ekonomies benut” (p 212). Die swartes se besware hierteen en hulle aanspraak op die plase van blankes is op instink en ideologie gebaseer. “Die veronderstelling is dat die meeste blanke grondeienaars (of hulle voorsate) die grond wat hulle besit wederregtelik bekom het en dat dit daarom aan die ‘regmatige’ eienaars teruggegee moet word” (p 7). Nelson Mandela het dit soos volg verwoord: “The [black] people … would fight the white man and win back their country” (Long Walk to Freedom, London: Abacus, 1994, p 433). Dit is hierdie soort redenasie wat Van Niekerk om vermeende morele redes onderskryf. Die grondhervormingsbeleid kom daarop neer dat veronderstel word dat ‘n voorouer benadeel is en dat sy nageslag dus vergoed moet word. Maar is die Boere en hulle nageslag in dieselfde orde vergoed vir die onregte (bv konsentrasiekampe) van die Anglo-Boereoorlog? Anders as wat Van Niekerk skynbaar dink, mag morele verontwaardiging ewewigtigheidshalwe ter bevoordeling van blankes en selfs Afrikaners gewek word.]

Nadat Van Niekerk myns insiens reeds al sy geloofwaardigheid ontbeer het, kom hy juis by hierdie onderwerp uit. “Wat saak maak in die wyse waarop ons oor die Suid-Afrikaanse werklikheid praat, is nie bloot die resonansie van die ‘feite’ nie, maar ook die geloofwaardigheid van sowel dit wat gesê word as van die spreker self – kortom, die waarheid van wat die geval is, nie slegs in die kennis-konteks nie, maar ook in ‘n morele konteks. Die diskoers wat ons uiteindelik in staat sal stel om ‘n nuwe Suid-Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika te vorm, sal nie een wees waarin ons mekaar onophoudelik met die ‘naakte, brute feite’ van die hede probeer toetakel nie. Daardie soort diskoers maak geen indruk nie [?] en vererger die konflik net [?]. Om die waarheid te praat, vereis ‘n nuwe verstandhouding met mekaar waarin wat die geval is en kan wees, voortdurend geïnterpreteer moet word teen die agtergrond van ‘n geskiedenis wat ons nie sal uitlos totdat ons geleer het om saam met mekaar sin daarvan te maak nie.”

Waarop Van Niekerk se redenasie neerkom, is dat die feite ons in die regte morele rigting moet lei. Vir hierdie doel word die feite op ‘n bepaalde manier vertolk. Hy aanvaar die huidige politieke opset. Sy “nuwe Suid-Afrikaanse gemeenskap” beteken dat ‘n nasie gebou moet word. Vir hierdie doel kies Van Niekerk om uit die oogpunt van die swartes na dinge te kyk, wat ‘n selektiewe benadering van die geskiedenis insluit. Nêrens wek Van Niekerk die indruk dat hy blankes en veral dié wat anders as hy dink, goedgesind is nie. Die feite of waarheid word gebuig sodat polities korrekte uitkomste volg. Politieke korrektheid is vir Van Niekerk onmiskenbaar ‘n lewenswyse. Die laaste sin in sy teks kan as bevestig hiervan dien. “As ‘n verstandige [?] diskoers wat na ‘n sodanige waarheid strewe vir sekere mense [regses?] na politieke korrektheid klink, is dit ‘n prys wat ons bereid moet wees om daarvoor te betaal.”

Op grond van die voorafgaande kan ‘n mens beweer dat Anton van Niekerk in kroniese en skynbaar onredbare mate ly aan die drie kenmerke van politieke korrektheid wat hyself uitgewys het: geveinsdheid, (ANC-)gedienstigheid en verdoeseling, wat soms vergestalting in leuens vind.

Lees ook:

Prof. Anton van Niekerk se halwe polities korrekte waarheid

Anton van Niekerk handel in politieke korrektheid en halwe waarhede

Anton van Niekerk lieg skaamteloos in Die Burger

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.