praag.co.za

Tag: Curroskool

  • Rassehaat word deur die media aangemoedig

    Rassehaat word op baie plekke aangeleer. Een daarvan is die media, wat skreiende dubbele standaarde besig.

    Wanneer ‘n voorval soos by die Curroskool plaasvind, waar witmense die skuldiges is, is daar ‘n geskree in die media wat dikwels weke duur.

    Wanneer talle blankes daagliks deur swartes aangeval, vermoor, verkrag en gemartel word, swyg die media egter soos die graf.

    Hierdie verswyging van die ware vlakke van swart rassistiese haatmisdaad teen blankes gemik, wat in der waarheid die koers van blanke rassemisdaad ver, ver, ver oortref, word op leuenagtige wyse, ook deur Naspers, verswyg, en daar word vir blankes gelieg.

    Ek wil nie rassistiese haatmisdaad vergoeilik nie, maar die dubbele standaarde oor wie die eintlike haatmisdadigers in SA is, skrei ten hemele. Geen wonder blankes voel bedreig en tree dan reaktief op nie.

    So ook probeer die politici en die media vir ons wysmaak perdevye is soetkoek, deur die twak van die sogenaamde nie-rassige NSA aan ons te verkwansel.

    Wynand Griesel

  • Die Curroskool, vervolg

    Soos lesers kan aflei uit my twee rubrieke wat oor dieselfde onderwerp handel die afgelope paar dae, vind ek die gebeure by die Curroskool besonder interessant. Dit is interessant omdat dit al die elemente van wat die multikul-gedrog onwerkbaar maak, in een skool vervat.

    delport_manfred_600Swart ouers wil skynbaar hul kinders ten alle koste in ‘n skool met blanke leerlinge hê. Nie net dring die Curroskool se ouers aan op ‘n skool met blanke onderwysers nie, maar word daar ook heftig rassisme gegil wanneer daar nie ook blanke kinders in die swart “lênnas” se klasse is nie. Interessant, nie waar nie? Die swart ouers maak heftig beswaar oor – en hier is die skreeusnaakse aspek – ‘n oormaat van hul eie telgies; hulle is ontevrede agv te veel swart “lênnas” in dieselfde klas! Groucho Marx kon net sowel van hierdie rassisme-gillers gepraat het toe hy gesê het: “I don’t care to belong to any club that would have me as a member.” Laasgenoemde is ‘n baie raak en spitsvondige opsomming van presies wat hier aan die gang is.

    ‘n Amerikaanse skrywer, John Derbyshire, het ook op hierdie verskynsel gewys, en geskryf dat swartes ‘n geweldige begeerte het om hulself aan blankes op te dwing, onder die voorwendsel van integrasie. Hulle wil byvoorbeeld ten alle koste in blanke lande woon – talle Afrikane verdrink in die Middellandse See in hul naarstiglike gevlug na Europa. So ook wil swartes in blanke buurte woon. Hierdie drang dra egter die sade van sy eie vernietiging. Sodra daar ‘n meerderheid swartes in ‘n buurt, land of skool soos Curro beland, wys Derbyshire uit dat hulle teenwoordigheid die ganse rede waarom hulle in die eerste plek daar wou wees, vernietig. Amerikaanse eiendomsagente het selfs ‘n term hiervoor: “Blockbusting.” Sodra een swart gesin sy intrek in ‘n voormalige blanke buurt neem, vlug die oorblywende blankes na witter buurte toe. (Derbyshire het natuurlik, omdat hy die waarheid durf praat het, sy werk as skrywer verloor.)

    Dit is presies wat in die Curroskool gebeur het. Die City Press berig vandag dat daar ‘n grootskeepse onttrekking van blanke leerlinge uit die Curroskool plaasgevind het omdat blanke ouers besorg was omdat die skool verswart het, en dat hierdie sogenaamde “white flight” aanleiding gegee het tot die huidige herrie oor sogenaamde rassisme binne die skool. Blanke ouers het die skrif teen die muur gesien, op groot skaal met hul voete gestem en hul kinders uit die betrokke skool verwyder. Die resultaat hiervan was dat daar slegs enkele blanke kinders oorgebly het, en hierdie klein groepie blanke kinders is almal in dieselfde klas ingedeel. Dit is eweneens opmerklik dat die gegil oor sogenaamde rassisme nie opgegaan het omdat daar ‘n meerderheid blankes in die betrokke klas was nie. Die blanke kinders was steeds in die minderheid in die betrokke klas. Nietemin dring die swart ouers daarop aan dat selfs hierdie klein groepie blankes tussen die swart klasse verdeel moet word.

    Dit is eintlik verstommend, nie waar nie? Swart ouers teem oor blanke rassisme, maar in ‘n direkte weerspreking van hul eie huilerige geskree oor sogenaamde rassisme, dring hulle daarop aan dat hulle kinders aan daardie einste blanke rassiste blootgestel moet word. Synde ‘n privaatskool, is die Curroskool ook goed toegerus, met toereikende leergeriewe, handboeke en dies meer. Die verskoning dat swart skole swak geriewe het, word dikwels as verskoning vir swart lênnas se onderprestasie voorgehou, maar te oordeel aan die geskree rondom die Curroskool is dit klaarblyklik nie net handboeke wat volgens swart ouers tekortskiet in swart skole nie, maar dit is ook inderdaad blanke leerlinge, bid jou aan!

    Wys jou net: die multikul-gedrog is ‘n onding en die sogenaamde reënboognasie ‘n onwerkbare ramp. Gedwonge integrasie kos geld. Die multikul-gedrog verg aanhoudende krisisbestuur. Dit veroorsaak deurlopend konflik. Niemand is gelukkig met gedwonge integrasie nie, nie die blankes nie, en veral nie die swart ouers nie.


  • Windbestuiwing by die Curroskool

    In Sub A het ons lessenaars gehad waarop ons so twee-twee gesit het. Dit was sulke houtlessenaars, suur van die sweet van talle vorige geslagte skoolkinders. My lessenaarmaatjie was die slimste kind in die klas, Suzette. Ek was doodbang vir haar, selfs banger as vir die juffrou. Suzette het rooi hare en sproete gehad, en ‘n humeur om daarby te pas. Sy het my gereeld op my plek gesit. Sy was beduidend groter as ek, dwarsdeur die laerskool, asook beduidend slimmer. As sy minder as 95% gekry het vir enige vak, het haar ma-hulle die hoof in ‘n toestand van paniek gebel.

    delport_manfred_600Ek weet nie wat die juffrou se plan was met my en haar by dieselfde lessenaar nie. Daar was waarskynlik nie veel van ‘n plan nie, buiten om ‘n stout seuntjie te laat intimideer deur ‘n dogtertjie wat op alle gebiede sy meerdere was. Suzette het die res van ons eweneens deur ons ganse laerskoolloopbaan uitgestof. Dit het my ook nie veel gehelp om langs haar te sit nie. Haar akademiese prestasies was helaas nie aansteeklik nie. Gelukkig ook nie haar sproete nie.

    Gedagtig aan Suzette, moet ek erken dat ek so ‘n effe in die duister verkeer oor die huidige herrie rondom die Curroskool in Pretoria. Sowat dertig ouers, vermoedelik almal swart, is geweldig ontstoke agv die sogenaamde “apartheid” by die skool. Dié betrokke skool het ‘n meerderheid swart “lênnas”. Die skool se bestuur het dit egter goedgedink om voëls van enerse vere bymekaar in die klas te sit. Verbouereerde blanke graadeentjies is dus by ander blanke graadeentjies ingedeel, sodat die kinders by mense van hul eie kultuur aanklank kon vind, en kon maatjies maak.

    Immer op die uitkyk vir die geleentheid om “dat’s rayyysssiiss” te skree-huil, het sowat dertig ouers van swart “lênnas” egter mal geraak van verontwaardiging. Hoe durf die skoolmaatjies van dieselfde kultuur saam wil groepeer? “Dis apartheid!”, het die ryk, swart ouers, wat hul kinders by ‘n privaatskool ingeskryf het, aan’t gil gegaan.

    Dit is skynbaar onaanvaarbaar dat daar klasse is met slegs Sipho’s en Lindiwes, terwyl ander klasse weliswaar Sipho’s bevat, maar ook Jannies en Sannies. Die Ierse immigrant en kaartmannetjie met die skril stemmetjie op die radio, John Robbie, het op Talk Radio 702 ‘n onderhoud gevoer met die hoofuitvoerendebeampte van die Curroskole, en heel voorspelbaar het Robbie self, nes die ousies wat so geweldig aan’t skree gegaan het, geen oomblik verspil voordat hy die indeling van maatjies insgelyks probeer vergelyk het met PW Botha se optrede aan die grens met Angola nie. ‘n Klag van misdade teen die mensdom by die VN was stellig Robbie se volgende stap.

    Waarom ek dit moeilik vind om te begryp, is die volgende: Die groot geteem oor swart staatskole handel eintlik oor dié skole se gebrekkige infrastruktuur en fasiliteite, die spreekwoordelike klaskamers onder bome. Beide die blanke en swart leerlinge by hierdie Curroskool gaan egter op presies dieselfde banke sit, onder dieselfde dak, voor dieselfde swart- of witbord. Hulle gaan presies dieselfde geriewe geniet, op alle vlakke. Hulle gaan deur dieselfde (blanke) onderwysers onderrig word. Siende hoe ons telkens vertel word hoe eners mense glo is, watter moontlike verskil kan dit maak, sou een klas meer swart lênnas en minder blanke kindertjies hê? Onthou: “Ons is almal dieselfde”, volgens die linksverkramptes, en die NSA is hoeka so kleurblind soos maar kan kom.

    Voorts is daar heelwat mense wat beweer dat rassisme ‘n aangebore eienskap van blankes is. Sou dit wel die geval wees, waarom wil die mammas van die swart lênnas hul kinders op so ‘n jong ouderdom aan ontluikende blanke rassissies blootstel? Hou Sipho om hemelsnaam weg van die klein rassis, Jannie!

    Dis dus voorwaar ‘n raaisel, hierdie vreemde geteem deur die swart ouers. Die enigste moontlike verklaring wat ek kan bedink, is dat die rassisme-gillers meen dat akademiese prestasie aansteeklik is, dat hul swart telgies moontlik dmv windbestuiwing by die blanke kinders hul intelligensie, en werksywer sal aansteek. As die klas 100% swart is, is daar as’t ware geen akademiese stuifmeel in die lug nie.

    Helaas kan ek uit bittere persoonlike ervaring getuig: Ek het nie my akademiese prestasie by Suzette aangesteek nie. Windbestuiwing werk slegs as jy ‘n vrugteboom is.