Prof. Anton van Niekerk se halwe polities korrekte waarheid

Deel op

Ek sal graag die hele artikel wil lees soos dit in Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn het, maar uit die bietjie wat ek gesien het probeer prof. Van Niekerk die punt maak dat ons die waarheid in konteks moet sien. Dus, volgens hom, ignoreer die blankes die waarheid dat swartmense benadeel was en is ons klagtes ongegrond.

Hy is heeltemal korrek in sy halwe waarheid. Ons almal sal erken dat daar tydens apartheid meer geleenthede was vir die blankes, net soos wat daar vandag is vir die swartmense. Ironies dat ‘n geleerde man dus die idee van “fighting one wrong with another” ondersteun. Hoe dit ook al sy, ons almal verstaan dat dit vandag polities korrek is om ‘n ras te ontneem van geleenthede omdat dit die verlede moet regstel.

Hierdie denkwyse is niks nuuts onder die liberale denkers nie. Wat my verstom, is hoe hulle ander beskuldig van presies dít wat hulle self doen. Die polities korrekte waarheid is net ‘n deel van die waarheid en hulle bly daarby vashaak. Mense soos prof. Van Niekerk is nie bereid om verder te kyk na die totale prentjie nie.

Die probleem wat die Afrikaner het, is nie die feit dat swartmense (is dit polities korrek om van swartmense te praat?) bevoordeel word nie, dit is die ontneming van die regte van ‘n volk wat die probleem is. Kom ons vereenvoudig dit – twee maatjies speel saam en die een gooi die ander een se koeldrank uit. Die oplossing volgens prof. Van Niekerk is dat die ander maatjie nou moet toekyk hoe sy koeldrank ook uitgegooi word. Dan het niemand meer koeldrank nie en is ons op dieselfde vlak.

Die polities verkeerde waarheid waarme nie een van die slim manne vorendag kan kom nie, is dat opheffing nie hoef te geskied ten koste van ‘n ander nie. Boere regoor die land het hulself bereidwillig verklaar om deel te neem aan grondhervorming, maar met die voorwaarde dat dit sinvol is. Daar is duisende hektaar ongebruikte grond in die besit van die staat. Daar is duisende hektaar grond in die mark wat gekoop kan word. Tog word daar elke jaar ‘n nuwe onrealistiese plan op die tafel gesit wat op ‘n gevaarlike beleid van onteiening gegrond is. Prof. Van Niekerk & kie kyk nie na hierdie deel van die prentjie nie en blameer nog steeds die mislukkings van swart boere op die verlede. Dit maak dus nie saak dat daar ‘n dimensie agter hulle realiteit is nie, want dit bevoordeel nie hulle eie ideologie nie.

Dit is totaal polities verkeerd, dalk selfs “waansinnig” om te dink dat die regering nie bevoeg is om die land te regeer nie. Baie van die liberale denkers skryf dit alles toe aan apartheid, want dié is polities korrek en mode, maar dit wil vir my al meer begin voorkom asof hierdie mense eenvoudig te lui of te moedswillig is om verder te dink.

Daar is talle universiteite en ander naskoolse instellings in Suid-Afrika waar duisende swart kinders elke jaar deel in miljoene rande se beurse om hulle op te hef. Die blanke of Afrikaner het geen probleem hiermee nie en wil niemand ontneem daarvan nie, maar sou mens kyk na die bohaai wat opgeskop word elke keer as daar van ‘n volkseie universiteit gepraat word is dit tog duidelik dat die polities korrekte waarheid dieper gewortel is in wraak, eerder as bloot regstelling.

Die probleem wat prof. Van Niekerk en ander nie wil erken nie, die ander helfte van die waarheid is dat daar ‘n verskil is tussen regstellende aksies en die onderdrukking van ‘n groep. Om meer swart dokters op te lei, is nie ‘n probleem nie, maar om wit kinders te ontneem van die reg om ‘n dokter te word omdat hulle wit is, is net so rassisties soos apartheid op sy ergste. Om grond te gee vir swart boere is nie die probleem nie, maar om wittes te ontneem van hulle bestaan en voedselsekuriteit daarmee in gevaar te stel, is totaal onverantwoordelik.

In die paar stukke wat ek gelees het, wil dit voorkom asof dit dalk nie noodwendig die polities korrekte waarheid is waarna prof. Van Niekerk soek nie, maar eerder die polities gemaklike of polities aanvaarbare waarheid waarna hy op soek is. En ‘n halwe waarheid bly maar ‘n gevaarlike ding.

Maar dit bly maar net my polities ón-korrekte opinie.

– Vannermerwe

Lees ook:

Anton van Niekerk: politieke korrektheid, feite-waarheid en morele waarheid

Anton van Niekerk handel in politieke korrektheid en halwe waarhede

Anton van Niekerk lieg skaamteloos in Die Burger

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.