Gambië nou ‘n Islamitiese staat

President Yahya Jammeh het verklaar dat Gambië ‘n “Islamitiese staat” geword het, maar Kersfees bly.

“President Yahya Jammeh se uitspraak of verklaring is ongrondwetlik, dit bevat geen grondwetlike basis nie en… dit is ‘n onwettige verklaring,” het Ousainou Darboe, die sekretaris-generaal van die vernaamste opposisieparty, die United Democratic Party, aan AFP gesê.

“Dit is steeds belaglik dat wanneer hy die openbare aandag wil aflei van wat gebeur in die land, hy kolonialisme aanval,” het Darboe gesê.

Die verarmde voormalige Britse kolonie, binne Senegal, is bekend vir sy wit sand strande. Gambië het ‘n bevolking van byna twee miljoen waarvan 90 persent Moslem is.

Van die oorblywende agt persent is Christen en twee persent is gedefinieer as inheemse oortuigings.

In 2013, het Jammeh onttrek uit die Statebond, en gesê die liggaam verteenwoordig “‘n verlenging van kolonialisme”.

“Gambië se lot is nou in die hande van die Almagtige Allah. Van vandag af, is Gambië ‘n Islamitiese staat. Ons sal ‘n Islamitiese staat wees wat die regte van burgers respekteer,” is hy aangehaal op die presidensiële webwerf.

In televisiebeeldmateriaal van die toespraak op GRTV, wat deur AFP Saterdag gesien is, het die president egter nie in detail uitgebrei oor wat die verandering sal beteken vir die land nie, maar het Christene gerusgestel.

“Kersfees sal voortgaan,” het hy gesê en bygevoeg dat hy nie Islamitiese polisie sal aanstel nie.

Jammeh, 50, is ‘n militêre offisier en voormalige stoeier met ‘n plattelandse agtergrond. Hy het tot dusver die land regeer met ‘n ystervuis, nadat hy mbv ‘n staatsgreep in 1994 aan bewind gekom het.

Teenstanders sê hy het al hoe meer paranoïes geword, skommel gereeld sy ministers en laat slegs ‘n klein aantal betroubare bondgenote naby hom toe.

Hy vaar gereeld uit teen Gambië se koloniale verlede en gee dit die skuld vir baie van die land se ellende.

In Maart 2014, het Jammeh aangekondig dat Gambië Engels as amptelike taal sal laat vaar, maar nie aangedui watter van die inheemse tale Engels sal vervang nie.

Mau Mau onthul monument vir slagoffers van Britte

Die sekretaris-generaal van die vereniging van Mau Mau-oorlogveterane (MMWVA), Gitu wa Kahengeri, het duisende mense toegespreek die afgelope naweek in Uhuru Park se vryheidshoek in Nairobi met die inhuldiging van ‘n nuwe standbeeld.

Die monument vir slagoffers van marteling deur die Britse kolonialiste in die Keniaanse hoofstad, is deur die VK befonds.

Die wandade het tydens Kenia se “noodtoestand” aan die einde van die Britse ryk se gloriedae in Kenia tussen 1952 en 1960 plaasgevind.

Die monument is opgerig nadat Brittanje in 2013 tot ’n multimiljoen dollar-skikking vir duisende Keniane ingestem het wat deur koloniale magte gemartel is.

In dié tyd het vegters van die Mau Mau-beweging Britse teikens aangeval en paniek onder wit setlaars gesaai.

Die Keniaanse menseregtekommissie beraam dat nagenoeg 90 000 Keniane dood of vermink is en 160 000 tydens die opstand aangehou is.

Brittanje het verklaar dat die monument versoening sal bevorder.

Rooi Antjie Krog sê blankes ‘moet toilette in lokasies gaan skrop’

Die digteres Antjie Krog, wat in Engels skryf al is haar Engels baie vrot, het Saterdagaand in ‘n tirade teen Suid-Afrikaanse blankes uitgebars toe sy die Sunday Times-prys vir Engelse poësie ontvang het. Soos ‘n wafferse Rosa Luxemburg, die beroemde Duits-Joodse vrouekommunis van ‘n eeu gelede, het Krog voorgestel dat “blankes toilette in die lokasies moet gaan skrop, geboue moet oppas, onderwys gee en vraestelle merk”, alles sonder betaling as straf vir “apartheid en kolonialisme”.

Sy meen verder dat alle middelklaswoonbuurte vrylik deur plakkers beset behoort te word om van Suid-Afrika ‘n “roereier” te maak en sodoende die gevolge van “apartheid en kolonialisme” ongedaan te maak. “Bevryding bly onvoltooid as die apartheids- en koloniale stad nie geherorganiseer word nie…” het Krog gesê.

Vir ‘n tydperk van twee jaar moet eiendomswette opgeskort word sodat plakkers vrylik plase, voorstede en selfs parke kan beset  en oor die ruimtes met eienaars kan “onderhandel”. Dit sal Krog se droom van ‘n “roereier”-Suid-Afrika bespoedig. Die twee jaar van revolusie wat aan Pol Pot se Kambodja of Mao se “kulturele revolusie” in Rooi China herinner, noem Krog die “Tydvak van Radikale Heropbou”. Tydens “Radikale Heropbou” moet “alle energie, hulpbronne, asook elke Suid-Afrikaner, gebruik word om massiewe strukturele verandering te bewerkstellig”. In die praktyk sou dit beteken dat inwoners op die klassieke kommunistiese manier van die twintigste eeu as “slawe van die revolusie” gratis dienste aan die staat en sy revolusionêre leierskap moet lewer.

Volgens Krog het blankes “drie eeue lank skade aan die land aangerig” waarvoor “niks ooit sal vergoed nie”. Sy meen dat dit nou “die tyd vir woede is” en dat swartes rede het om blankes te wil doodmaak. Daar moet meer begrip wees vir waarom swartes blankes doodmaak, verklaar sy. “Ek respekteer woede,” sê Krog. “Woede is dikwels waar belangrike verandering begin. Nie die woede van blinde vernietiging nie, maar die woede wat helderheid van rigting en deurdagte doelwitte bring. As iemand kwaad is en sê: ‘Ons moet die blankes doodmaak sodat…’ dan is dit tyd vir reële reaksies, soos: ‘hoe? of op grond van watter beginsel? of belangriker: en wat dan?’.”

Studente wat afstudeer of mense wat afgetree is, moet ook gratis “in hul geboortedorp of -stad gaan werk om tekorte of agterstande in die howe, hospitale, skole, administratiewe kantore, korrupsie-ondersoeke, kindersorg werk… Sonder salaris. Die dorp sal kos en slaapplek verskaf.”

In kommentaar op sosiale media, het dr. Dan Roodt van PRAAG gesê:

Dit wys jou net hoe die mees idiotiese verloopte Afrikaners deur “die media” tot openbare figure opgebou word, net om agterna in dié kwasi-kommunistiese retoriek te verval.

Weet sy ooit wat sy sê? Sy het nie ‘n benul van ekonomie, politiek, filosofie of enige ander ingewikkelde onderwerp nie. Sy skryf rympies oor “wit Afrikanermans met boepense” waaroor die linkse Engelse (en Beeld) gaande is.

Sy behoort ‘n voorbeeld te stel en al haar besittings en sommer die kopiereg op haar derderangse “digkuns” op te skort sodat die werkersklas dit gratis kan lees.

Kom nou, Antjie, wys vir ons hoe Rooi jy regtig is!

Die Rosa Luxemburg van Kroonstad.

Oos-Kaapse polisie soek na Baartman-vandale

Die Oos-Kaapse polisie sê hulle is steeds opsoek na diegene wat ‘n Sara Baartman-gedenkteken by Hankey gevandaliseer het.

Ooggetuies sê hulle het Saterdag gesien hoe ‘n groep mense wit verf oor die gedenkteken van die Khoi-vrou uitgooi. Die Khoi was die eerste bewoners van Suid-Afrika voordat Bantoes hulle verdryf het.

Dit is die jongste beskadiging van ‘n standbeeld wat begin het na ‘n veldtog om ‘n standbeeld van die Britse kolonialis, Cecil John Rhodes by die Universiteit van Kaapstad te verwyder.

‘n Aantal standbeelde, insluitend een van Paul Kruger in Pretoria, is intussen beskadig te midde van ‘n anti-wit veldtog teen “kolonialisme”.

Kruger, sowel as Baartman was slagoffers van kolonialisme, anders as Rhodes, maar oproepe van die ANC-Jeugliga asook die EFF om beelde te verwyder, is duidelik teen blankes gemik.

‘n Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, Gerda Swart het bevestig dat ‘n ondersoek na die voorval aan die gang is.

Schalk Jacobsz: Ope brief aan Julius Malema en sy kamerade

Ek wil julle nie beledig deur aan julle in die koloniale taal, Engels (wat ek magtig is), te skryf nie.

Daarom skryf ek hierdie brief aan julle in Boers, die taal van my volk die Boervolk, gebore in Afrika, wat ophou bestaan het nadat een van ons mense, Jan Gerritze Bantjes die seun van my groot oupa-grootjie Jan Gerritze Bantjes van Bloedrivier-faam, die Witwatersrandse goudrif waar die Floridameer nou is, ontdek het. Hulle het daardie gat met die hand gegrawe.

schalk_jacobszDie Britse Ryk het my volk wat uit bykans 180,000 siele bestaan en maar net oor 60,000 weerbare man beskik het met ‘n weermag van 450,000 man aangeval. Hulle het ook wit en swart Afrikaners gebruik om teen my volk te veg. Hulle het ons plase afgebrand en ons vee onder die bajonet gesteek. Ons vroue en kinders het hulle in konsentrasie kampe saamgehok waar 22,000 Boere kinders en 6,000 Boere vroue dood is aan verhongering en blootstelling. Die oorlog het ook die duisende wildsbokke, kos vir mense in die veld, in die land uitgeroei. Dit alles om beheer te kry oor die Witwatersrand se goudproduksie.

Ons verstaan julle renons in die koloniale beelde wat die wêreld vol staan. Ons verstaan ook dat julle beelde van Boerehelde sien as koloniale simbole – soos al die mense oorsee is julle nie vertroud met die geskiedenis van hierdie land ken nie.

Ons verstaan dat julle al hierdie goed verwyder wil hê.

Want die Britse Ryk het met hulle koloniseringsbeleid ook Indiërs uit hulle land, indertyd ‘n Britse kolonie, weggevoer om goedkoop arbeid te verkry vir die suikerrietplantasies in Natal.

Maar wat julle nie verstaan nie is dat daardie ou klipgeboue wat rondom Kruger en die Boerkrygers op Kerkplein opgerig is ook simbole is van die “kolonialisme” wat julle so verpes. Besef julle dat julle ook daardie geboue sal moet verwyder? Dit sal geheel-en-al verwyder moet word dat daar nie oral hope bourommel rondlê wat die aanwas van weivelde vir julle vee verhoed nie.

Ons verwag nie dat julle met daardie geboue begin nie – veels te moeilik. Ons wil voorstel dat julle met eenvoudiger bousels begin sodat julle kan eksperimenteer met die beste maniuer om van die bourommel ontslae te raak.

Begin dus met die huise in Soweto en die ander swart woongebiede of “locations” wat voor 1994 deur die wit apartheidsregering gebou is. Julle kan party vervang met die tradisionele grasbedekte modderhutte van die Sothos of die grashutte van die Zoeloes en die Xhosas. En onthou om al die teerstrate en die randstene en plaveisels en die rioolpype en die watertoevoerpype en die elektriese pale en drade te verwyder en die geysers en die stowe en die yskaste want die goed is alles koloniale gemors. Moenie die boeke en goed vernietig nie. Deel dit uit aan die arm mense sodat hulle in die winter daarmee kan vuurmaak. Die goed staan alles in die pad van die Afrika-Renaissance en gesonde weiding vir julle vee.

En moenie van die motorvoertuie vergeet nie. Goed wat nie ingeploeg kan word nie kan as skroot aan buurlande verkoop word om die werk te finansier.

Dan sodra julle klaar is daarmee kan julle julle ervaring gebruik om met die ou geboue te begin. Die beste een om mee te begin, is een wat alleen staan weg van ander geboue af met genoeg grond rondom waar die bourommel tydelik opgehoop kan word voordat julle dit wegkarwei. Dit is die Uniegebou in Pretoria. Julle sien, die Uniegebou is die simbool van die Britse Ryk se berowing van al die Afrikaners (wit & swart) in Suid-Afrika se regmatige erfenisse. Die grondwet van die Unie van Suid-Afrika is in September 1909 deur die Britse Parlement in Londen aangeneem en deur die Britse koning Eduard VII gepromulgeer.

Ten spyte daarvan dat hulle ons Boere op 31 Mei 1902 selfregering beloof het met die Vredesverdrag van Vereeniging het hulle ons Republieke saam met die Kolonies van Natal en die Kaap en die Tuislande van die Swart Afrikaners van Suid-Afrika op 31 Mei 1910 as provinsies onderdanig gemaak aan die Regering van die Unie van Suid-Afrika – ‘n Britsontwerpte regering .

Die sandsteengebou is deur Sir Herbert Baker ontwerp in die styl van die neoklasissisme van die Italiaanse Renaissance met Eduardiaanse en Kaapshollandse detail. Konstruksie is begin op 1 November 1910 en die gebou is voltooi in 1913. Die naaste wat hierdie gebou kom aan Afrika is die Kaapshollandse detail. Julle sal baie versigtig moet werk dat julle nie Mandela se standbeeld beskadig nie. Die Mandela-familie sal baie seergemaak wees en die res van die wêreld woedend, want Mandela is ‘n internasionale ikoon!

Kyk hoe staan hy daar met sy uitgetrekte arms asof hy wil sê “Kom my kinders, sluit by my aan en word in vrede saam met my onderdane van die Internasionale Geldmag wat my so ryklik beloon het met die Nobel-prys vir Vrede!”

As julle klaar is met die Uniegebou kan julle die Parlementsgebou in Kaapstad aanpak. En daarna die Universiteit van Kaapstad. In Natal kan julle Zoeloe-lede daardie aaklige neo-Afrikaanse stat van Zuma afbreek en vervang met tradisionele Zoeloe-hutte in die styl van Dingaanstat.

Die voordele van so ‘n projek is die werkgeleenthede wat dit sal skep en die lae koolsuurgasvoetspoor daarna.

Die nadele is dat die beloftes van julle voorvaders wat julle tot niet gaan maak, hulle gramskap gaan verwek.

Hulle sal julle looi.

O, ten slotte, julle sal móét ontslae raak van Engels want die Engelse taal maak van Suid-Afrika ‘n Britse kulturele kolonie.

Groete,

Schalk W. Jacobsz

Swapo spoeg vuur oor grond

Die amptelike bekendstelling van Namibië se geskiedkundige Nasionale Aksieplan vir Menseregte 2015 – 2019 is Dinsdag oorskadu deur die pres. Pohamba se woede-uitbarsting teen koloniale grondbesitters en diegene wat oor grondbelasting kla.

President Hifikepunye Pohamba het vir ’n tyd van sy amptelike toespraak afgewyk en sy aanval begin deur uit te vaar teen die “Duitsers” en die “apartheid-regime” asook die Ruiterstandbeeld wat vroeër voor die Alte Feste-museum gestaan het.

“Toe ons die Ruiterstandbeeld verwyder het, het ons ’n nuwe monument opgerig wat vertel wat werklik gebeur het”.

Pohamba het verwys na Namibiërs van Europese oorsprong wat nie oor die verlede wil praat nie.

“Hulle kom van die Europese vasteland, maak van ons slawe en doen allerhande dinge met ons.” Volgens Pohamba moet oor dié dinge gepraat word. “Ons kinders moet weet; dis ons geskiedenis.”

Hy het verwys na Namibië se geskiedenis van Duitse heerskappy en jare van apartheid.

“Mense is doodgemaak. Eers deur die Duitsers en toe deur die apartheid-regime. Dié wat oor die grens gevlug het, die vlugtelinge, is oor die grens gevolg en by Cassinga doodgemaak.”

Vandag, sê Pohamba, is dit hierdie einste mense wat nou as die kampioene van menseregte gesien wil word.

Hy het verwys na petisies wat die des­tydse Swapo-leiers opgestel en aan die Verenigde Nasies voorgelê het. Hul pleidooie het egter op dowe ore geval, sê Pohamba, omdat die meerderheid wat dit moes aanhoor, van Europese oorsprong was.

“Ons het teen die wit mense van Europa gepraat wat gekom het om ons híér te koloniseer!”

Volgens Pohamba is dit dieselfde mense wat blyk die grootste kampvegters vir menseregte te wees.

Hy het na Namibië se stryd om onafhanklikheid as “lank en bitter” verwys, met “kosbare lewens wat geoffer is.”

Pohamba het ook ’n woord vir buurland Suid-Afrika gehad en gesê hulle is deur die Europeërs ondersteun.

“Toe ons gevra het vir soldate, toe sê hulle ee’.”

Die staatshoof het teenoor gaste by die geleentheid erken hulle sou seker eerder wou hê hy moet “diplomasie” oorweeg, maar gesê “die waarheid moet vertel word”.

Pohamba het in die destydse Rhodesië gaan draai en verwys na die dag toe Ian Smith aan bewind gekom het.,“Ons (Swapo) het gevra vir optrede. Niks.”

Maar, het hy getier, vandag is dit dieselfde mense wat, wanneer iets in dié land gebeur en veral as dit oor die omstrede grondkwessie gaan, sanksies teen Zimbabwe toepas. “Maar julle kon dit nie teen Ian Smith doen nie, dis nie regverdig nie! Ons raak emosioneel, want ons het die gruweldade gesien!”

Hy het 21 Maart 1990 as ’n “glorieryke dag” beskryf toe die “las” verwyder en die “toekoms omhels” is. “Al ons mense, nie net swart nie. Wit ook, ja, selfs dié wat ontplooi is om gruweldade teen swart Namibiërs te pleeg.”

Volgens Pohamba was dit stigterpresident Sam Nujoma wat vir rekonsiliasie gevra het. “Dit was nie maklik om te aanvaar nie, maar dis waarom ’n mens die man bewonder.” Die staatshoof het gemaan dit is nie net gebaseer daarop om “saam met ’n wit man aan ’n tafel te eet nie,” maar ook op grond.

Hy het uitgevaar teen dié wat grond van swart mense gekonfiskeer het, maar dit nie wil laat gaan nie.

“Die basis van die vryheidstryd was nie om net saam aan die tafel te eet nie!” Pohamba het beklemtoon menseregte sluit die reg tot grond in. “Ons mense voel gediskrediteer omdat hulle nie grond besit nie, grond wat besit word deur die kinders van dié wat gekom het om ons te koloniseer!”

Hy het ook vuur gespoeg teenoor dié wat oor grondbelasting kla. “Hulle wil nie hê die regering moet die geld hê om die grond van hulle te koop nie, dis wat dit indirek beteken!”

Hy het wel lof gehad vir Swapo se besluit om gelyke verteenwoordiging tussen mans en vroue as deel van hul partystrukture te hê. “Dis ’n weerspieëling om te wys mans en vroue is gelyk.”

Bron: Die Republikein

‘Brand die plase’

Ten minste een swarte is erg opgewonde oor die nuwe liedjie van ‘n kletsrymgroep Dookoom.

Andile Mngxitama was in die middestad van Kaapstad vir die bekendstelling van Dookoom se Larney Jou poes.

Die video het skokgolwe in Suid-Afrika veroorsaak.

Die hoofsanger, Die Mutant, is glo ‘n “hip-hop-legende” op die Kaapse Vlakte.

Mngxitama, Julius Malema se regterhand, sê die video vertel ‘n “swart waarheid oor wit mag” en is ‘n “uitnodiging vir die hervoorstelling van bevryding”.

Hy voorspel dat Dookoom ‘n treffer gaan wees. Volgens Mngxitama is daar min twyfel dat hulle in alle waarskynlikheid Die Antwoord sal verbysteek.

Afrikaners sal waarskynlik baie verlig wees om dit te verneem.

Mngxitama meen swartes is nog steeds “vasgevang in die koloniale verhouding” waar blankes swartes deur die geweer of deur die liefde regeer. Hy sê hulp is die mees kragtige wapen van kolonialisme, deur te gee wanneer dit eintlik tienvoudig terugneem.

Kennelik is anargie en geweld volgens die sanger sowel as Mngxitama al manier om van hierdie verhouding te ontsnap.

Twee rampe: Die Nasionale Party-regering en die ANC-bewind

winnie-mandela-slovo_flag

deur Leon Lemmer

Arthur Keppel-Jones (1909-1996) het die verloop van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in sy boek voorspel: When Smuts Goes: A history of South Africa from 1952 to 2010, first published in 2015 (Cape Town: African Bookman, 1947, 203p). Uit die datums blyk die aktualiteit van die teks. Die outeur was ‘n dosent in geskiedenis aan die Universiteit van die Witwatersrand, maar het hom in 1959 in Kanada gevestig. In 1972 het hy Suid-Afrika besoek en erken dat sommige van sy voorspellings foutief is. Sy pa was ‘n Brit en sy ma was ‘n afstammeling van die Britse setlaars.

Uit sy boek blyk Keppel-Jones se bewondering vir die Britte en selfs kolonialisme. Hy was ‘n Anglofiel wat bv van die veronderstelling uitgegaan het dat Rhodesië ‘n vesting van Britse voortreflikheid sou bly. Sy siening van die Afrikaner-bewind en Britse kolonialisme blyk uit die volgende: “The Republic had achieved its aim of keeping the Kaffir ‘in his place’. He had not been allowed to advance in civilization. That he would have made an advance, under the determined and patient guidance of civilised leaders, is proved by what has happened to the branches of his race in other African countries” (p 174).

Natal was Keppel-Jones se gunsteling provinsie omdat dit meer Britsgesind as die Kaap en veral as die Transvaal en Oranje-Vrystaat was. Hy het begrip gehad waarom sommige wou hê dat Natal van die Unie moet wegbreek. Hieruit kan reeds sy Afrikaner-haat afgelei word. Keppel-Jones was deurdrenk van liberalisme en was oortuig dat federalisme ‘n oplossing vir Suid-Afrika se grondwetlike probleme bied. Maar hy het gedink niks hiervan sou in Suid-Afrika tereg kom nie. Sy boek skets nie ‘n utopie nie, maar ‘n distopie.

Voordat ek Keppel-Jones se teks ontleed, is ‘n lemmeristiese historiese oorsig nodig:

  • Na Unie-wording was die eerste drie eerste ministers: Louis Botha (1910-1919), Jan Smuts (1919-1924, 1939-1948) en Barry Hertzog (1924-1939). Al was Hertzog ‘n Afrikaner, was sy bewind in samewerking met Engelse elemente. Die periode van 1910 tot 1948 kan as ‘n oorheersend Engelse/Britse periode in Suid-Afrika se politieke geskiedenis gekarakteriseer word. Van 1948 tot 1994 was die Nasionale Party (NP) aan die bewind, met as eerste ministers (en van 1984 af as staatspresidente): DF Malan (1948-1954), Hans Strijdom (1954-1958), Hendrik Verwoerd (1958-1966), John Vorster (1966-1978), PW Botha (1978-1989) en FW de Klerk (1989-1994). Dit kan die Afrikaner-periode genoem word.
  • Van 1990 tot 1994 was egter ‘n oorgangs- of afgrondsfase toe De Klerk evolusionêre politieke ontwikkeling vir revolusionêre oorgawe verruil het. Skielik was die tradisionele veiligheidsmagte (weermag en polisie) nie meer alleen in beheer van wet en orde nie. Wanneer daar ‘n samedromming van swartes was, is die beheer aan selfaangestelde ANC-“marshals” toevertrou. Dit was die aanvang van die tirannie van die meerderheid in die vorm van swart mag.
  • Sedert Unie-wording was daar dus ‘n Engelse (1910-1948), ‘n Afrikaner- (1948-1989) en daarna ‘n swart (in meer as een sin) periode. In breër verband kan gesê word dat die Suid-Afrikaanse geskiedenis uit drie eras bestaan: die voor-beskawingsperiode, die beskawingsperiode (1652-1989) en die na-beskawingsperiode. Hier verwys “beskawing” na Europese beskawing.

Keppel-Jones se teks handel oor die Afrikaner-era, wat hy gedink het in 1952 (en nie 1948 nie) sou begin, en daarna die swart-era tot 2010, wat hy voorspel het reeds in 1988 sou begin. Hy het gedink die bewind van sowel die NP as die ANC sou katastrofies wees. Die hele periode wat hy dek (1952-2010), word as twee opeenvolgende rampe gekarakteriseer. Sy rede vir 1952 as die begin van die NP-bewind is dat dit drie eeue na die landing van Jan van Riebeeck was. Weens gebrek aan ruimte sal ek nie elke keer kan verduidelik dat Keppel-Jones dít voorspel het, maar dat dát gebeur het nie.

Wat Keppel-Jones begeer het, is ‘n heeltemal ander soort revolusie as FW de Klerk se onderhandelde algehele magsoorgawe: “One purpose of the book is … that the salvation of the country can only lie in a reversal of historic tendencies, a reversal so thorough as to constitute a revolution” (p vi). Die “historic tendencies” waarna hy verwys en wat beëindig moet word, is veral die tradisie van rasse-segregasie; in werklikheid ‘n eg Britse tradisie, maar hy erken dit nie. As dogmatiese liberalis reken Keppel-Jones dat segregasie afgeskaf en algemene stemreg ingestel moet word en dat alles dan vorentoe vir al die inwoners wonderlik sal wees.

Jukskei (eintlik DF Malan) het in 1952 eerste minister geword. Hy was die leier van die linkervleuel van die NP. Bult (eintlik Hans Strijdom) was die leier van die regtervleuel en sou Jukskei in 1962 opvolg, maar as leier van ‘n NP-wegbreekgroep, die Christelik Nasionale Republikeinse Party (CNRP). Tereg word voorspel dat die kommuniste en vakbonde dadelik kortgevat is. Ook dat die blanke verteenwoordigers van swart belange in die parlement en die stemreg van bruines in die Kaapprovinsie afgeskaf is. Ook dat woon- en sakegebiede etnies geskei is en dat die Indiese regering daaroor besware in die Verenigde Nasies (VN) geopper het. Tereg is voorspel dat ‘n tevergeefse poging aangewend sou word om die aanliggende Britse protektorate (Basoetoland/Lesotho, Betsjoeanaland/Botswana en Swaziland) by Suid-Afrika in te lyf.

Die sterkste teenstand van die NP-regering het van die Engelse universiteite gekom. Fort Hare, die enigste universiteit vir swartes, is in 1963 gesluit. In werklikheid is Fort Hare in 1960 deur die NP-regering oorgeneem en nog vier nuwe universiteite vir nie-blankes is gestig (Durban-Westville, Noorde/Turfloop, Wes-Kaapland en Zoeloeland). Heel korrek voorspel Keppel-Jones dat sommige swartes, Indiërs en Jode in ondergrondse politiek saamgespan het. Baie Britsgesindes het geëmigreer. Radio-uitsendings is onder regeringsbeheer geplaas. Die NP het in 1958 die amp van goewerneur-generaal as seremoniële staatshoof, die eedaflegging aan die Britse kroon en die Britse vlag afgeskaf met die oog daarop om ‘n republiek buite die Britse Statebond uit te roep. Politieke gevangenes is gemartel en die paswette is in verskerpte mate toegepas. Die outeur noem uiteraard nie dat die eerste paswette tydens die eerste Britse bewind aan die Kaap (1797-1803) ingestel is nie.

whensmutsgoesDie NP-regering word (moontlik verkeerdelik) as sterk anti-semities voorgestel. As immigrante was Jode onwelkom en dié wat hulle na Uniewording hier gevestig het, is van hulle stemreg en burgerskap ontneem. “The English language was deprived of official status in 1964” (p 199). Afrikaans is in 1966 tot die enigste amptelike taal verklaar. Afrikaans word die onderrigmedium ook aan die tradisioneel Engelse skole en universiteite. “I find my children’s minds are being poisoned at school” (p 81). Plek- en ander name is verafrikaans. Net blankes (Jode uitgesluit) het burgerskap. Die Vierkleur is die landsvlag van die Republiek Ossewa, geproklameer in 1966. Die CNRP word die enigste politieke party en die staatspresident kry absolute mag. Pretoria word die wetgewende, uitvoerende en regterlike hoofstad. Die provinsies word afgeskaf. Nasionalisering word ingestel. Die regering word ‘n fascistiese regime genoem.

Die uittog van emigrante van 1955 af word die Tweede Groot Trek genoem. Die Indiërs kan na Indië en die swartes na buurlande gaan. Die vloei van swartes uit Suid-Afrika was soveel groter as die invloei dat die regering dit gestop het om te verseker dat genoeg goedkoop arbeid beskikbaar is. Oor so ‘n swart vlugteling skryf Keppel-Jones: “Should he, being summoned by any European to stop, refuse to do so, he could be shot” (p 85). Die lande waarheen blankes gegaan het, word korrek geïdentifiseer, behalwe Rhodesië en Kenia, wat Keppel-Jones steeds beskou het as lande wat aan blankes leefbare omstandighede bied. Oor Rhodesië is hy optimisties: “It is doubtful if any country has ever shown such rapid and startling development” (p 84).

Volgens Keppel-Jones was daar in 1972 opstande onder nie-wittes, veral swartes, teen die Afrikaner-regime. Dit het met moord, verminking, brandstigting en plundery gepaard gegaan. Die Transkei is selfs onafhanklik verklaar. In Zoeloeland was daar ‘n soortgelyke strewe. “The United Nations placed Zululand under British trusteeship, the building of the naval base at Kosi Bay was begun” (p 110). Die Afrikaner-regime het ingegryp. Dit word “the Tenth Kaffir War” genoem (p 90). In Johannesburg was daar “babies bleeding to death beside the corpses of their mothers … The people of Orlando and Pimville were … annihilated … About 50 000 were killed in the Western Native Township” (p 91-92). “Searches would be conducted and wherever any firearms were found in a non-European area, the nearest inhabited place would be razed to the ground and its inhabitants shot … A large proportion of those who had taken up arms against the régime had been killed in the fighting or after surrender” (p 105). Daar was vuurpelotons en konsentrasiekampe. Die outeur verskaf nooit weersinwekkende besonderhede oor wat swartes aan blankes gedoen het nie.

“Higher education for the non-Europeans had been abolished. In June, 1972, the Volksraad unanimously agreed to prohibit the teaching of reading and writing to any Native, Asiatic or Coloured person … No non-European might own any business or employ any person, nor might he practice any profession independently” (p 106). Tydens die bewind van die wit regime het die paaie slaggate gehad en dienslewering het gefaal, blykbaar omdat die swartes nie wou saamwerk nie. Die VN het ekonomiese maatreëls teen Suid-Afrika ingestel, bv “an increase in customs tariffs … to offset the advantage it gained from cheap labour” (p 121).

Die blanke regime se dilemma word soos volg beskryf: “If they fought their destruction was certain. But the alternative … giving rights and power to all the races … was an unmentionable horror … The evil genius of their history had driven them on to their present predicament, and would drive them on again to their inevitable end” (p 129). Dat apartheid ‘n voortsetting en aanpassing van die Britse beleid van rasse-segregasie was, word nie deur Keppel-Jones genoem nie. Hier is sy standpunt: “Some of the old social distinctions might have been retained if the Republic had followed a generous and liberal policy towards the black race from the beginning. But there is no chance of it now” (p 168).

In 1972 “the United Nations were called upon to consider whether they thought it wise to set the precedent of intervention in the internal affairs of another country. Every nation, surely, had political, economic and cultural traditions and usages which were suited to its own character” (p 134). In 1977 is Suid-Afrika uit die VN geskop en is oorlog verklaar. Die Britte en Amerikaners het die oorlog namens die VN teen die Suid-Afrikaanse regime gevoer. Dit word die “Derde Vryheidsoorlog” genoem (p 156). Van Simonstad en Kosibaai af het die Britte ‘n skeepsblokkade uitgevoer. Die Simonstadse vlootbasis is jare voor dit deur die Afrikaner-regime aan die Britte afgestaan. Die waarheid is die teenoorgestelde: Die NP-regering het hierdie vlootbasis ten duurste van die Britse regering gekoop. Vergelyk dit met die enklawe Walvisbaai wat deur die ANC-regering gratis aan Namibië oorhandig is.

Die Amerikaners het glo ‘n militêre basis in Mosambiek gehad en die Portugese regering was ook teen die blanke bewind gekant. Die oorlog is ook uit Rhodesië oor die Limpopo-rivier gevoer. Die swartes het in opstand gekom, “all whole-heartedly on the side of the invaders” (p 146). “Murders on lonely farms, in suburban homes and in dark city streets were a nightly occurrence” (p 139). Die Suid-Afrikaanse vloot was in Saldanhabaai. Daar was ook “a fleet of ox-wagons to eke out the resources of the railways” (p 140). Pretoria was “the last ditch of the régime” (p 157). “The people of the capital saw themselves as trekkers who had retired into laager to ward off the savage onslaught” (p 158). Vir die outeur was sy verwysings na ossewaens, juskei, trekkers, laer, ens, blykbaar baie snaaks.

“No candid mind could see for the Republic any prospect but complete and final collapse. The defeat would be absolute, unlike the defeat of almost any other state. When France fell in 1940, when Germany fell in 1945, there remained a French and a German people in occupation of their historic territories. These peoples could not be destroyed. They might recover their strength and greatness at some future time. The South African Republic was in a different sort of danger. The ‘nation’ there was not the people of the country, but merely a small section whose existence and identity depended on the subjection of the rest. Liberate the Africans and the ‘South African nation’ would vanish from the scene, never to return” (149-150). Dit is myns insiens Afrikaners se dure plig om Keppel-Jones in hierdie opsig vorentoe verkeerd te bewys.

“The world looked on at the nemesis which the White South African nation had brought upon itself” (p 152). “No one could deny that the Republicans had brought this on themselves … their possession rested in the last resort on bayonets, and we have knocked the bayonet out of their hands … we should have interfered in South Africa before it came to this” (p 154-155). Oor die Voortrekkermonument in 1977: “A neat bombing job on the evening of the 23rd blew the structure to atoms, wiped out the bitter-enders in it, and extinguished for ever the sacred flame of Republicanism that had hitherto symbolised the unquenchable motion of the Volk” (p 163). Let op die outeur se woordkeuse: neat, wiped out, sacred, unquenchable. Maar Keppel-Jones voel dat hy nog nie genoeg gif teen Afrikaners versprei het nie: “Not all the leading personalities of the Republic had the happiness to die while the Vierkleur still waved” (p 164).

“The whole story of the South African Republic might be interpreted in military terms as that of a people who failed to understand that they must cope with more dangerous weapons than assegaais. So obsessed were the Republicans with the romantic migrations of their ancestors that they could never get away from the picture of themselves as sturdy trekkers defending their race against the puny weapons of black savages. Had they fully understood … their task … it might have occurred to them that the only defence would lie in a policy that would satisfy the world’s conscience. But this had not occurred to them. So Pretoria was a laager, and its citizens would hardly have been surprised to see a posse of young heroes ride in through a gap in the wagons with a thousand sleek, bellowing cattle seized from the enemy” (p 158). Veediewe is dus helde in Keppel-Jones se oë.

Na die oorlog het die VN ‘n militêre goewerneur in Suid-Afrika aangestel. “The supremacy of the whites was to be destroyed – world opinion demanded it, the war had been fought for that purpose, and much trouble and suffering would be avoided if the white citizens made up their minds to accept the new situation with a good grace” (p 168). Wat voorsien word is “a great future for South Africa if only all races would co-operate in a spirit of true South Africanism” (p 169). “In the reconstruction of the political, administrative and social system of the country no distinctions were to be made on the ground of race or colour” (p 166). “In 2011 the census officials abandoned the practice of distinguishing between races in their returns” (p 178). Is daar enige moontlikheid dat dit in die nuwe Suid-Afrika sal gebeur, of is sodanige rassistiese grondslag veel eerder die alfa en omega van die ANC se beleid teenoor blankes?

As rassediskriminasie die grootste euwel in die ou Suid-Afrika was, waarom het die grondleggers van die nuwe Suid-Afrika nie die elementêre insig gehad om rassediskriminasie te verbied nie? Pleks daarvan word rassediskriminasie tot in die oneindige toekoms toegelaat, mits dit teen wittes, en net wittes, gepleeg word. Van almal, dus dié wat in die nuwe bedeling bevoordeel en dié wat benadeel word, word daar egter verwag om die nuwe Suid-Afrika te laat werk. Let op in hoeverre geregtigheid na Keppel-Jones se VN-oorlog seëvier: “It would be necessary to eject the great numbers of non-Europeans who had taken forcible possession of white men’s property. But for this the government had no stomach” (p 173).

Deel van “a great mass of sullen bitter-enders for whom adaptation was out of the question” (p 169) het in 1978 na Argentinië geëmigreer. Ander het na Duitsland gegaan. Al die lande wat met die blanke regime simpatie gehad het, kan as fascisties beskou word: Argentinië, Duitsland, Japan en Spanje. “The total drain of European population from South Africa between 1977 and 1983 fell slightly short of the million mark” (p 178).

Wat is hierdie studeerkamerliberalis se siening van swartes? Die swart boer “had been accustomed to a primitive standard of living. He would improve it a little – more mealie meal to fill the aching maw would be welcome. More cattle and wives would improve his social status. But beyond that what he chiefly wanted was leisure, inactivity in the sun, escape from the intolerable tyranny, too long endured, of we[r]k … The life of glorious ease and few, simple wants appealed to them. The result was a decline in agricultural production … The same problem had to be faced in industry and mining. Native workers in these occupations were willing to apply themselves to the old tasks sufficiently to make a living of sorts for themselves and their families. But very few could be found who preferred hard, sustained work and the comforts of a civilised life to spasmodic efforts punctuating a life of sunbasking leisure” (p 174).

Vergelyk dit met hierdie na-oorlogse werklikheid: “The dependence of the country’s economy on the shrinking but still significant European population. It provided the skill in industry and agriculture and almost all the leadership and organising capacity in trade and finance … The backward races must be educated, but how?” (p 175). Teen 1986 “the civil service had begun in the lower [!] grades to employ these [non-white] products of the schools” (p 179). In die nuwe Suid-Afrika word daar egter geëis dat die demografie (dadelik) op alle vlakke weerspieël word.

Die VN het gedink “the period of tutelage ought to last at least thirty years” (p 180). Maar die swartes se sug na mag kon nie beheer word nie. Ook weens die druk van die sogenaamde wêreldmening is spoedig besluit om demokratiese verkiesings met algemene stemreg te hou. In 1987 “town, village and distict councils were elected … Illiterate voters – the very great majority – were assisted by ballot papers in which the candidates were represented by pictorial symbols” (p 180).

“The first party to be organised was the African National Party [ANP – ANC?], which hoped to win votes by demanding loudly that the troops must go and the country be granted independence. It drew support mainly from the more backward Africans and worked closely with the witch-doctors … But the party was not exclusively African, and succeeded in rallying many Coloured and Asiatic supporters and not a few white collaborationists” (p 180). Keppel-Jones kan verskoon word as hy nie kon voorsien dat oud-Broederbonders onder die meelopers sou tel nie.

Ooreenkomstig die outeur se liberalistiese ideaal het die South African Progressive Party egter in 1988 die eerste demokratiese parlementsverkiesing gewen. ‘n Verdere vervulling van Keppel-Jones se liberalistiese droom is dat ‘n wit man in 1989 as die seremoniële president verkies is. Is daar enige kans dat ‘n wit mens (om van ‘n wit man nie te praat nie) so ‘n hoë pos in die sogenaamde nie-rassistiese en nie-seksistiese nuwe Suid-Afrika sal beklee?

Die eerste agt hoofstukke handel oor die dom en bose Afrikaner-regime. Daarna volg ‘n hoofstuk oor die VN-oorlog en een oor die VN-bewind, waartydens gepoog is om Suid-Afrika reg te trek. Na hierdie lang aanloop tot ‘n demokratiese, regverdige Suid-Afrika, word ‘n enkele hoofstuk aan die swart bewind gewei. Die opskrif is: “The return to barbarism” (p 184). Die tema is: “the extraordinary decadence of a once vigorous and apparently prosperous country;” dit “reduced the civilisation of South Africa to a level that was barbaric by the standards of the previous generation” (p 184). Twee destydse voorbokke vir “bevryding”, Alex Boraine en Sampie Terreblanche, het pas elk ‘n boek gepubliseer om uitdrukking aan hulle ontgogeling te gee. Wat albei van meet af aan moes besef het, is dat nóg verpligte rasse-skeiding nóg gedwonge rasse-integrasie vryheid is.

Daar word verwys na “the dishonesty and corruption of the great mass of officials … the failure … to set a high standard of morality and idealism … the sudden elevation of ignorant and starving people to positions of financial responsibility … it has been abundantly proved that a large part of the revenue stuck to the various palms through which it passed … Judges and magistrates abandoned the blindness of justice; the police, whose eyes could rightly have remained open, were willing to close them. Partiality and corruption so permeated the atmosphere that … wealth was universally acknowledged to be the only basis of security. This conviction intensified the struggle [!] to get rich by any and every means. In a country like South Africa the accumulation of wealth inevitably implied, as its corollary, the abject poverty of the vast majority of people” (p 185). “Corruption became … the main road to riches, and one got on to this road by way of official jobbery” (p 186).

Weens “poor workmanship … exports rapidly declined” (p 186). Daar was “unwillingness to make a greater effort than was absolutely necessary … The pursuit and idolatry of wealth by the liberated black man was a part of his inheritance from his white mentors and predecessors” (p 186). Aan wittes word dus deel van die skuld gegee. “If the reader is tempted to regard these things as the reflection of some weak strain in the African race, he must remember, first, that they are found in the people of European and of Asiatic descent also. And he must observe how different is the case of Africans whose history has been different from that of their fellows in the Republic” (p 196).

“Political orthodoxy was required of all officials. This meant in practice a control of the personnel by the government in power … It was inevitable that under these circumstances the physical condition of the country should deteriorate. Much of the damage inflicted in the war was never repaired” (p 186). “The energy which is absent from all these activities is given with reckless abandon to the pursuits of the leisure hours” (p 195). “Criticism is resented … Hard work and even the deference characteristic of good manners are regarded as the badges of servility” (p 196). “The poverty of the government prevented it from spending money on dams and other constructive works … the Natives continued to overstock the rapidly eroding pastures … Considerable areas formerly fertile land … turned in … to desert … Native names of towns everywhere supplanted the Dutch and English” (p 187). “Importunate beggars pester the traveller in every street” (p 196).

In 1996 was daar ‘n staatsgreep. Sowel die eerste minister as die president is vermoor. Daar was vier amptelike tale: Zoeloe, Sotho, Xhosa en Afrikaans. “The use of English had died out” (p 190). Die nuwe staatshoof is in 2002 in ‘n bomontploffing dood. Met iedere bewindsverandering word die regering meer radikaal. “The people in Britain and the United States were grievously disappointed by the results of their great efforts of 1977. In Britain many condemned the government’s hasty withdrawal from South Africa after a short occupation. They pointed to the contrast between the state of the Republic and the civilised conditions of the neighbouring British territories” (p 192). “Beyond the border you are in a different world” (p 196), bv in Swaziland “everything here suggests efficiency, prosperity, civilisation” (p 197).

Wat Keppel-Jones herhaaldelik probeer tuisbring, is dat Britse swart onderdane wonderlik vaar maar dat Suid-Afrikaanse swartes weens die Afrikaners se bose beleid heeltemal faal. “Work was … a burden imposed by his masters, something to be avoided if possible … The ruling race failed to impose the high standards of Europe on the Natives, because that would have raised them out of their humble position. The result was that the primitive standards of the backward people were ultimately accepted by the more advanced” (p 197-198).

‘n Lid van die vorige blanke bewind het sy standpunt soos volg gestel: “The Kaffir is really a cheerful, happy person who is content with little and respects a firm master. Our policy was one of firmness and of allowing him to develop along his own lines … Now the Kaffirs have got the country … and they are destroying it. We knew this would happen, but, of course, the English government only listens to Kafferboeties” (p 193). Onlangs is gesê dat ‘n land wat atoombomme kon vervaardig in Nelson Mandela se skoot geval het, maar dat hy ‘n land geken aan vuvuzelas nagelaat het.

“South Africa has reverted to its original state of savagery” (p 202). Die Afrikaners se standpunt is: “If only we had been left alone, we could have been a happy country, but we have always had interference from overseas” (203). Keppel-Jones se standpunt is: “Their national ox-wagon took the wrong road though another road was available” (p 202), naamlik die een wat die goeie Britte bewandel.

Soos verwag kon word, is sommige van Keppel-Jones se voorspellings korrek en ander verkeerd. Wat duidelik blyk, is dat hy enersyds ‘n naïewe liberalistiese Anglofiel was en andersyds dat hy hoogs negatief bevooroordeeld teen Afrikaners was. Met nabaat is dit ook opvallend hoe min hy werklik van die swartes gedink het. Maar hy kon onmoontlik FW de Klerk se onderhandelde algehele magsoorgawe voorsien het. Dit is so vergesog dat ek, wat die oorgang na die nuwe Suid-Afrika meegemaak het, na twee dekades steeds nie die bitttere werklikheid van sodanige absolute dwaasheid kan glo nie. Die blankes se nederlaag in Keppel-Jones se VN-oorlog sou ‘n mindere verleentheid gewees het. Maar De Klerk roem daarop dat hy, danksy sy versiende staatsmanskap, oorlog voorkom het.

praag: geen ander Afrikaanse publikasie publiseer naastenby soveel interessante en prikkelende artikels nie! Sonder u lidmaatskap kan dit egter nie voortgaan nie. Sluit hier aan!

Misdade teen die beskawing

Die Armeense kunsmuseum in die hoofstad, Jerewan
Die Armeense kunsmuseum in die hoofstad, Jerewan

deur Leon Lemmer

Ons lewe in ‘n tyd waarin ons wys gemaak word dat alle mense gelyk en selfs wesenlik eenders is; of só behoort te wees. Dit dien as die grondslag van een mens, een stem. A weet na bewering net so goed soos B wie moet regeer, gevolglik het albei stemme dieselfde gewig. Ek sou eerder die teenoorgestelde beweer: Dat geen twee mense eenders is nie; dalk selfs nie sogenaamde identiese tweelinge nie.

Dit lyk vir my sommige mense is intelligenter as ander. Sommige is beter ingelig as ander. Sommige het meer as ander gedoen om iets wat die moeite werd is tot stand te bring. Andersom kan ‘n mens beweer dat sommige meer afgebreek het as ander, ens. Die werklikheid is dat sommige mense ‘n bate en ander ‘n las vir die samelewing is. Net die batiges behoort toegelaat te word om ‘n land se lot te bepaal.

Veralgemenend is dit ook moontlik dat sommige groepe mense gewoon beter as ander is. Dit kan op bv verskille in kultuur dui, terwyl die gelykwensers van ons almal bv Afrikane of wêreldburgers wil maak.

In die nuwe Suid-Afrika mag ons nie diskrimineer op grond van ras/kleur nie, behalwe as dit ten gunste van nie-wittes, en veral swartes, en ten koste van wittes is. Dan staan dit bekend as “billike diskriminasie”. Maar om praktiese redes moet ons liewer ons onderskeidingsvermoë behou. Byvoorbeeld, wanneer groepe mense beoordeel word, is dit in die openbare belang om tussen presteerders en nie-presteerders te onderskei. Ek verwys na “prestasie” in die positiewe of konstruktiewe sin; nie in die negatiewe of afbrekende sin van bv terroriste wat ‘n suksesvolle bomplantveldtog gevoer het nie.

Dit lyk vir my asof gesê kan word dat bv die Duitsers hulle (in sommige opsigte) as presteerders bewys het. Die kort tydperk van naziisme (1933-1945) kan nie alle Duitsers van alle tye vir sodanige huldiging diskwalifiseer nie. ‘n Mens hoef natuurlik ook nie oorboord te gaan en daarom naziisme (of fascisme of nasionaal-sosialisme) of sosialisme (of selfs kommunisme), of watter staatkundige ideologie ook al, in elke opsig te verdoem nie.

Insgelyks kan die blankes of die Afrikaners as presteerders gereken word op grond van wat hulle in Suid-Afrika tot stand gebring het. Die vier dekades van apartheid (1948-1989) diskwalifiseer blankes nie vir sodanige erkenning nie, onder meer omdat apartheid nie in iedere opsig sleg was nie.

Ook is dit ‘n wanvoorstelling om alles oor die politieke boeg te gooi. In die tydperk 1933 tot 1945 was daar baie nie-naziïstiese verskynsels in die Duitse samelewing. In die versmaaide apartheidsera het dit ook om baie meer as bloot apartheid gegaan. Die lewe en die geskiedenis behels baie meer as die politiek.

Wanneer erkentlikheid teenoor ‘n groep mense se prestasies openbaar word, impliseer dit nie dat jy noodwendig van hulle hou nie. Die Jode kan as voorbeeld dien. As die Jode (of die Romeine) vir Jesus se dood verantwoordelik gehou word, behoort ‘n mens nie daarom alle Jode (of Romeine) te verdoem nie. ‘n Mens hoef nie van Jode te hou nie, maar dit is onteenseglik waar dat hulle ‘n lang geskiedenis van buitengewone prestasie het. Daar is baie Duitse Jode wat weens anti-semitisme uit Europa gevlug en ‘n belangrike rol in die ontwikkeling en voorspoed van bv die VSA gespeel het.

Ek het onlangs ‘n omvattende boek oor die Armeniese volksmoord gelees. Die Armeniërs het hulle lank voor die Turke in wat nou Turkye genoem word, gevestig. In vergelyking met die Turke was die Armeniërs presteerders, onder meer omdat hulle meer ontwikkeld (of beskaafd) was. Armenië was sedert die 4de eeu ‘n Christelike staat; die eerste in die wêreld. Die Turke was jaloers op die Armeniërs se groter welvaart en vyandig teenoor hulle omdat hierdie Turke die Moslem-geloof fanaties aangehang het. Turke het uit sentraal-Asië na Turkye gestroom en die Armeniërs getalgewys verswelg.

Ingevolge John Stuart Mill (1806-1873) se tirannie van die meerderheid het die Turke meer as ‘n miljoen Armeniërs vermoor of in kampe laat sterf en die res uit die land gedryf. In die klein hedendaagse staat Armenië (aangrensend aan Turkye) is daar skaars 3 miljoen Armeniërs, terwyl sowat 8 miljoen van hulle hulle in ander lande bevind. Dit is ‘n klassieke voorbeeld van wat kan gebeur as ‘n beskaafde minderheid dieselfde grondgebied met ‘n minder ontwikkelde meerderheid moet deel; ‘n meerderheid wat die land regeer.

Die Armeniese volksmoord voor en tydens die Eerste Wêreldoorlog was in talle opsigte ‘n kleedrepetisie vir die Joodse holocaust tydens die Tweede Wêreldoorlog. In Duitsland en Oostenryk was die Jode presteerders en welvarend. Sedertdien het baie Jode hulle in Israel gevestig. Daar doen ‘n situasie soortgelyk aan die Armeniërs teenoor Turke hom voor, naamlik Jode teenoor Palestyne. In Israel is die Jode in die meerderheid maar in die omliggende Palestynse en oorwegend Moslem-gebiede is die Jode ‘n beskaafde minderheid.

In die geval van sowel die Armeniërs/Turke as die Jode/Palestyne is daar parallelle met Suid-Afrika. Geen wonder dat daar hartlike samewerking, bv militêr, tussen die “apartheidsregime” en Israel was nie. As eerste minister het DF Malan Israel in 1953 besoek en ongekwalifiseerd sy bewondering vir die land uitgespreek.

Teen hierdie agtergrond kan Kevin Bloom se boek, Hating Goldstone: the Jewish community against the judge (Johannesburg: Parktown Publishers, Mampoer Shorts, 2012, $2.99 – slegs elektronies beskikbaar), beoordeel word. Op die Mampoer-webwerf word Bloom se objektiwiteit in leserskommentaar bevraagteken, maar hierdie kritiek moet myns insiens eerder toegeskryf word aan die verdeeldheid wat daar oor hierdie saak binne die Joodse gemeenskap bestaan. Ek het die outeur se uiteensetting ewewigtig gevind, behalwe dat, soos deesdae die gewoonte is, apartheid sonder meer verdoem word.

Verdeeldheid is ‘n relatiewe term. As daar ‘n enkele kenmerk van die Jode is wat Afrikaners gerus kan navolg, is dit Jode se vermoë om hulle groepsverwantskap te behou. Al woon hulle verspreid oor die aarde klou baie van hulle aan hulle geskiedenis en kultuur (bv taal, godsdiens en ander gewoontes) vas. Hulle integreer dikwels hoogstens in ‘n mate met ander groepe. Sedert 1948 het die Jode ‘n tuisland wat internasionaal as ‘n staat erken word.

Is daar naasteby dieselfde mate van samehorigheid by Afrikaners? Sal die Afrikaner-diaspora met verloop van tyd in dieselfde mate as die Jode hulle identiteit behou? Waar is die Afrikaner-tuisland? Orania kan ‘n begin in hierdie rigting wees. Lees gerus Leanne George se redelik positiewe kommentaar oor Orania: Koeksister Commerce: Rebranding the White Homeland (Johannesburg: Parktown Publishers, Mampoer Shorts, 2013, $2.99 – slegs elektronies beskikbaar).

Vir jou waardes kan ‘n mens ‘n geestelike tuiste binne jouself skep. Maar ‘n konkrete, fisiese tuisland waarin jy jou in veiligheid en vrede saam met kultuurgenote kan uitleef, is sekerlik ook nodig. Dit moet ‘n ruimte wees waarmee jou hart se punt spontaan aanklank vind; iets waarop jy trots is en wat moeiteloos jou lojaliteit verdien.

Dit moet nie ‘n land wees wat feitlik onherkenbaar verander het en waarin jy ‘n tweederangse burger geword het weens die verradelike gedrag van enkele politici nie. Die Armeniërs en Jode het elk net ‘n klein landjie wat hulle hulle eie kan noem, maar hulle was en is bereid om vir die behoud daarvan te veg. Hulle sal, soos ek, sekerlik nooit die kolossale onnoselheid van ‘n De Klerk & kie aanvaar wat ‘n groot, ontwikkelde en potensieel voorspoedige land aan ‘n myns insiens immorele bende grypsugtiges verkwansel het nie.

Richard Goldstone (gebore in 1938) is in 1980 as regter aangestel en het in 2003 as regter in die Grondwethof afgetree. Hy het bekendheid verwerf as die voorsitter van die Goldstone-kommissie, wat die plaaslike geweldpleging van 1991 tot 1994 probeer uitpluis het. Daarna was hy betrokke by die ondersoek van menseregteskendings in Joego-Slawië en Rwanda (1994-1996) en Gasa (2009). Dit is sy verslag oor die gebeure in Gasa wat groot ontevredenheid in Israel en verdeeldheid in die Joodse gemeenskap in Suid-Afrika en elders veroorsaak het.

Goldstone het sowel die Israeli’s as die Palestyne aan growwe menseregteskendings skuldig bevind. In 2011 het hy teruggekrabbel oor sy skynbaar oordrewe veroordeling van die Israeli’s deur te beweer dat verdere inligting intussen aan die lig gekom het. Eintlik was Goldstone se aanvaarding van hierdie missie van die Verenigde Nasies (VN) kortsigtig, want as hy in die guns van Israel beslis het, kon daar gesê word: Dit is wat van ‘n Jood te wagte is. Daarenteen was die verwagting by die VN se Menseregteraad dat Israel veroordeel moet word. Goldstone se opdrag was om net die gedrag van die Israeli’s te ondersoek. Hy het egter albei partye se dade beoordeel.

In die konteks van bv Israel/Palestina is gevra in hoeverre daar “misdade teen die mensdom” gepleeg is. Laasgenoemde is ‘n mode-frase wat hom tot die uiterste misbruik leen. Terugverwysend na wat ek hierbo oor die kwalitatiewe verskille tussen mense geskryf het, moet ek dit in die midde lê dat ek veel eerder “misdade teen die beskawing” vir beswaar sou uitsonder. Pleks van ‘n kwantitatiewe benadering, waarvolgens die getal mense wat na bewering “benadeel” is van deurslaggewende belang is, verkies ek ‘n kwalitatiewe uitgangspunt.

Dwarsdeur die geskiedenis is dit begaafde indiwidue en klein uitgelese groepe, en nie die massa nie, wat positiewe dinge tot stand gebring en die voortgang en vooruitgang van die beskawing bevorder het. Andersins vra ek my af in watter mate ontwikkelde mense se lewensgehalte weens negatiewe gebeure afgeskaal is; beskawing dus blatant ondermyn is. In Turkye, Palestina en Suid-Afrika is onvergeefbare misdade teen die beskawing gepleeg.

Wat Suid-Afrika betref, sal anti-blanke elemente akkoord met “onvergeefbare misdade” gaan deur te beweer dat die blanke bewind plaaslik agtereenvolgend deur slawerny, kolonialisme en apartheid gekenmerk is en dat dit vreeslik onbeskaafd daaraan toe gegaan het. In werklikheid het die ANC en PAC se terreurveldtogte die agteruitgang van Westerse beskawing in Suid-Afrika ingelui. Plaaslik word hierdie “bevrydingsbewegings” se geweldstradisie tot op hede in die vorm van bv plaasmoorde voortgesit. Die ruggraatlose en mandaatlose magsoorgawe van 1990/1994 was myns insiens onmiskenbaar en onvergeeflik ‘n “misdaad teen die (Westerse) beskawing”.

Wat die destydse plaaslike slawerny betref, moet besef word dat die inheemse bevolking nie verslaaf is nie. Die slawe is ingevoer. Die rede hiervoor is dat die Khoisan, wat in die suide en weste aangetref is, nie bruikbare arbeiders was nie. Die swartes, wat uit die noorde en ooste die land binnegestroom het, was ook nie gretig om arbeid te verrig nie. Hoewel daar ‘n ooraanbod van swart werkloses was, het die owerheid dit dikwels eerder gerade geag om arbeiders vir die myne uit buurlande en Oosterlinge uit Indië vir die suikerplantasies in te voer.

Diegene wat die blanke bewind kritiseer oor slawerny, kolonialisme en apartheid skreeu ten hemele oor beweerde “misdade teen die mensdom”. Te midde van al hulle oordrywing kry hierdie kritici dit nie reg om die blankes van die ou Suid-Afika van volksmoord te beskuldig nie; iets wat wel tydens kolonialisme elders in die wêreld ten koste van die inheemse bevolking voorgekom het. Met verwysing na bv plaasmoorde is volksmoord dalk veel eerder ‘n potensiële kenmerk van die nuwe Suid-Afrika.

Om klaarblyklike redes beklemtoon ek eerder verskille as ooreenkomste tussen mense. Sodra ‘n presteerder aan ‘n gelykwenser erken dat alle mense gelyk behoort te wees, word daar onmiddellik met die waarneming gekom dat daar groot ongelykhede in die praktyk is. Die volgende stap is om met die verwyt te kom dat hierdie ongelykhede aan die marginalisering, benadeling, uitbuiting, ens, van nie-wittes toe te skryf is. Blankes kry dan die skuld hiervoor.

Bloom vertel hoe hartlik Goldstone met die hoëlui van die “apartheidsregime” gesosialiseer het. Ook dat Goldstone as regter noodwendig gehelp het om die apartheidstelsel aan die gang te hou. Hy was sekerlik nie ‘n anti-apartheidsaktivis nie. Goldstone beweer deesdae dat hy probeer het om apartheid van binne af te hervorm. In hierdie verband word dan verwys na sy uitspraak dat diegene wat ingevolge die wet op groepsgebiede verskuif word van alternatiewe huisvesting voorsien moet word. Die indruk wat die teks by my gewek het, is dat Goldstone nie van opportunisme vry te pleit is nie.

Enkele jare gelede is ‘n onderhoud met Goldstone op BBC-televisie gevoer. Hy noem toe dat hy hom in Amerika gevestig het. Die rede waarom hy uit die nuwe Suid-Afrika verkas het, is glo omdat sy kinders en kleinkinders in Amerika woon. Dit laat my dink aan die oorverligte Jodin wat ek as ‘n kollega gehad het. Sy het alles wat van die ANC se kant af gekom het skynbaar as manna beskou. Sedertdien het sy en haar gesin hulle sak en pak in Australië gevestig.

Vanselfsprekend verkwalik ek mense wat hulle met woord en daad vir ‘n ANC-regering beywer het maar nie kans sien om te woon in die omstandighede wat hulle help skep het nie. Maar daar is lastige vrae wat periodiek by my opkom: Is dit nie dalk deel van die briljantheid van Jode dat hulle weet wanneer om ‘n sinkende skip te verlaat nie? Is Suid-Afrika nie onmiskenbaar vir altyd opgedonder nie? Het die tyd vir blankes in Afrika nie onherroeplik uitgeloop nie? Ek wil nie so dwaas soos bv JP (Silwerrandjie) Landman wees om die donker wolk doelbewus mis te kyk nie.

Jonathan Jansen moet weens sy Afrikaansvyandigheid as rektor bedank

deur Dan Roodt

MEDIAVRYSTELLING DEUR PRAAG (PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP) OP 2 OKTOBER 2013

Die lesing wat prof. Jonathan Jansen voor ‘n gehoor van die English Academy of South Africa gelewer het en waarin hy die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal bepleit, verteenwoordig ‘n skandalige miskenning van Afrikaans en universele taalregte. Daar is geen plek vir Jansen aan ‘n Afrikaanse universiteit soos dié van die Vrystaat nie en daarom behoort hy onverwyld sy bedanking as rektor in te dien.

Jansen is ‘n epigoon van Amerikaanse politieke korrektheid en sy vervelige, middelmatige sienings word tot vervelens toe deur die media uitgedra. Hy het nog nie agtergekom dat die Republiek van Suid-Afrika nie die Verenigde State van Amerika is nie; boonop verskil ons land se problematiek grondig van daardie land s’n.

Engels is maar die vierde mees gesproke taal in Suid-Afrika. Minder as 10% van die land se inwoners praat dit tuis, net effens meer as Sepedi. Boonop is die variant van Engels wat in Suid-Afrika gebesig word, gedeeltelik verkreoliseer en armoedig. Dat dié boewetaaltjie wat vir “Engels” moet deurgaan nou tot Suid-Afrika se enigste onderrigmedium verhef moet word, is nie net vergesog nie, maar sou ‘n rampspoedige uitwerking op onderwys hê.

Terwyl opvoedkundiges reeds dekades lank die saak vir moedertaalonderrig bepleit, is Brits-koloniale troglodiete soos Jansen besig om téén alle logika in die saak vir “slegs Engels” en “Engels is beter” te stel.

Dat die Engelse Akademie van Suid-Afrika boonop ‘n platform vir dié tipe chauvinistiese en platvloerse denke bied, spreek insgelyks boekdele. Historici het al die onverkwiklike anti-Afrikaanse rol van dié “akademie” uitgewys wat in die sewentigerjare kinders in Soweto teen Afrikaans opgesweep het, iets wat op die Soweto-onluste uitgeloop het. Kennelik is dié liggaam met sy eie klein Milner-filosofie besig en gebruik die ‘swart” Jansen om sy koloniale vuilwerk vir hom te doen.

Sowel die Engelse Akademie as Jansen se stompsinnige pleidooi vir ‘n Engelse monokultuur in Suid-Afrika moet verwerp word met die minagting wat dit verdien. Sedert die negentigerjare is die idee van taalregte internasionaal gevestig en daarom kan sowel Afrikaans as ander inheemse tale aanspraak maak op gelyke behandeling teenoor die koloniale taal, Engels.

Jansen is kwaadwilliglik besig om die onregmatige opperstatus wat Engels tans in ons land geniet, te misbruik om Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat wesentlik te benadeel. Hy het reeds oor en oor bewys dat hy ‘n Afrikaner- en Afrikaanshater van die eerste water is.

Daarom moet hy onverwyld sy bedanking indien sodat ‘n meer bekwame persoon die leisels as rektor van die Vrystaatse Universiteit kan oorneem. Die Afrikanerverraaiers wat hom daar aangestel het, verdien om gestraf te word.

Terselfdertyd moet die Engelse Akademie van Suid-Afrika verantwoording doen vir sy terugkeer tot koloniale sienings wat tot die Milner-tydvak behoort en wat nie in ‘n moderne Suid-Afrika tuishoort nie.

PRAAG sal in ‘n aparte skrywe antwoorde van die Engelse Akademie verlang sover dit die chauvinistiese en inderdaad xenofobiese menings betref wat Jansen namens dié instelling uitspreek. Vir seker sal ons ook met die Engelse Akademie op Afrikaans kommunikeer en ‘n flink antwoord van die spul Milneriaanse zombies verlang.

Creecy, Heywood misbruik hul mag om Afrikaans te benadeel – mediaverklaring

MEDIAVERKLARING DEUR PRAAG (PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP)

In reaksie op die Rivonia-Primary-hofsaak in die Grondwethof, asook die voortslepende geskil rondom Hoërskool Fochville, herinner PRAAG sowel mev. Barbary Creecy as mnr. Mark Heywood van Section 27 daaraan dat Afrikaans ‘n benadeelde taal in Suid-Afrika is.

Indien dit nie vir byna 200 jaar van blatante Engelse taalfascisme in Suid-Afrika was nie, sou Engels nooit die oorheersende taal in Suid-Afrika gewees het nie. Engelse het ‘n veel swakker rol in die land se kultuur, letterkunde en onderwys as Afrikaners gespeel. Maar vanweë hul koloniale magsposisie en verbintenis aan Brittanje, het Engels ‘n hegemoniese posisie verwerf en is Afrikaans veral sedert 1994 tot die status van minderheidstaal verlaag.

Nieteenstaande die taal se minderheidstatus, is ‘n front tans teen Afrikaans in skole gemonster en word daar van ras gebruik gemaak om ‘n instelling soos Hoërskool Fochville te intimideer om Engels as medium van onderrig te aanvaar.

Sowel mev. Creecy as Section 27 en ander Brits-georiënteerde NRO’s is besig om hul mag te misbruik, iets wat op die duur net tot polarisering en etniese konflik in Suid-Afrika kan lei.

Ongeag die uitslag in die Rivonia-Primary-saak, moet die taalregte van Afrikaners dringend erken word en moet Suid-Afrika hom nie langer aan taalkolonialisme skuldig maak nie. Nêrens ter wêreld sal die blatante ongelykheid wat Creecy en ander teenoor Afrikaans pleeg, geduld word nie. In die Europese Unie bestaan daar verpligtinge op alle state om nie net minderheidstale te beskerm nie, maar ook om sodanige tale uit te bou. Dit sluit vanselfsprekend die reg van minderheidsgemeenskappe om eentalige instellingsg in stand te hou, in.

In koloniale of neokoloniale Suid-Afrika, word minderheidstale egter vir die wolwe gegooi.

Dr. Dan Roodt, Direkteur, PRAAG

Die betowering van die DA se koloniale droom

Eergister het ek die grootste deel van die dag, van vroegoggend tot ná sononder, by die Vryheidsfront Plus se stalletjie by Tijgerpoortlaerskool naby Silver Lakes in Pretoria deurgebring. Die geleentheid was ‘n munisipale verkiesing wat in wyk 2 van die Bronkhorstspruit- (“Kungwini”-) munisipaliteit gehou is.

Gister het die uitslae bekend geraak en dit blyk dat die VF+ eintlik besonder swak in dié besondere tussenverkiesing gevaar het. Die VF+ het naamlik ‘n skamele 66 stemme teenoor die DA se 1079 behaal:

DA 1079

ANC 214

VF  66

Onafhanklik (gesteun deur belastingbetalersunie) 37

Soos ‘n briefskrywer op PRAAG gister met waarskynlike verwysing na hierdie wyk geskryf het, is “(d)ie demografie in die wyk… seker 70% blanke Afrikaanssprekendes, 25% blanke Engelsprekendes en 5% swart Sothosprekendes”.

Vir diegene van ons wat onwrikbaar glo in die idee van Afrikanervryheid en dat ons taal, kultuur en ideniteit eendag weer sal herleef om tot sy volle reg te kom, kan so ‘n uitslag nie anders as uiters teleurstellend ervaar word nie.

In my geval, ná ongeveer 10 ure buite op ‘n koue en reënerige dag – ek het agtergekom dat ek nie warm aangetrek was nie – is die teleurstelling sekerlik veel erger. Die onmiddellike vraag wat by ‘n mens opkom, is: waarom stem Afrikaners deur die bank vir die party van die ultraliberale of “progressiewe” mev. Zille, met sy boodskap van assimilasie en integrasie binne die sogenaamde “reënboognasie”?

Aan die ander kant was ek voorbereid op ‘n swak vertoning deur die Vryheidsfront. Deur die dag was dit duidelik dat die meeste blanke Afrikanerkiesers hulself meer geredelik tot die DA-stalletjie gewend het. Sekerlik beskik die DA oor ‘n meer “herkenbare handelsmerk” as die Vryheidsfront en geniet dit meer aandag in die nasionale media.

Gedurende die dag het ek egter baie tyd gehad om die petalje van ‘n munisipale tussenverkiesing dop te hou en ek meen ek het ‘n paar gevolgtrekkings om met my lesers te deel.

Ons Vryheidsfrontstalletjie was slegs drie of vier meter van die DA s’n aan die oorkant van die skool se inrypad verwyder. As ‘n mens tien ure lank na die DA-embleem met sy NSA-vlag en NSA-kleure moet staar, dan voel jy jy begin iets van die groepering aan die oorkant verstaan, benewens natuurlik mev. Zille se onlangse toespraak oor die Progressiewe beweging in Suid-Afrika.

Ook het ek geredelik met lede van die DA gesels, van mnr. Dennis Peach wat saam met kollegas hul stalletjie beman het, tot die pas verkose leier van die DA in Pretoria, mnr. Brandon Topham, wat in sy silwer Porsche Boxster opgedaag het om sy troepe te kom inspekteer.

As ‘n mens eerlik is, moet jy erken dat die DA die historiese telg van die ou SAP-beweging in Suid-Afrika is. Trouens, hoewel wyk 2 ‘n Afrikanermeerderheidsgebied is, was die meeste DA-werkers Engelssprekendes vanuit die Pretoria-omgewing. Hulle praat wel goed Afrikaans, maar ‘n hele paar het erken dat hulle ‘n lang pad in die politiek geloop het, van die Verenigde Party, deur die Progressiewe Party of PFP tot by die DA. Oud-Nasionaliste was nie eintlik onder die partywerkers verteenwoordig nie. Om sy liberale, reënbooggetuigskrif gestand te doen, was daar ook ‘n Indiër- en ‘n swart medewerker.

Indien enigiemand tussen die jare 1948 en 1994 sou gesê het dat die meeste Afrikaners eendag weer vir die Sappe of Oudsappe sou stem, sou so ‘n persoon as ‘n naïweling uitgekryt gewees het. En tog was dit in wyk 2 van “Kungwini” wel die geval. Afrikanerkiesers het uit beleefdheid soms by die Vryheidsfrontstalletjie getalm, ons petisie vir beter dienslewering geteken of ‘n geselsie aangeknoop en natuurlik was daar 66 mense wat wel vir ons gestem het, maar oor die algemeen het ek die indruk gekry dat die kiesers veel eerder met die DA en sy NSA-kleure geassosieer het as die oranje en groen van die VF+.

Die wortels van die probleem lê egter veel dieper. Die ANC het deur propaganda aan bewind gekom, propaganda wat ook die DA bevoordeel – ten minste by die rasseminderheid of -minderhede. Die situasie in die Weskaap verskil hemelsbreed van dié in Pretoria of Bronkhorstspruit en daarom is die redes waarom kleurlinge in die Kaap vir die DA steun heel anders as waarom Afrikaners in die ou Transvaal insgelyks die party ondersteun. Terloops, selfs in die Noord-Transvaal of Limpopo – eertydse bakermat van die HNP, KP en ander regste partye – het die DA in vanjaar se parlementêre verkiesing die Vryheidsfront Plus ver uitgestof. Terwyl die HNP se ondersteuners volhou dat hulle nie die wettigheid van die Nuwe Suid-Afrika erken nie, stem hulle lustig vir die liberales in die DA!

In die minderheidspolitiek – en diegene wat nie glo dat blankes deesdae ‘n toenemende minderheid is nie kan gerus maar na die bevolkingstatistieke gaan kyk – bou die DA spoed op in die vaarwaters van die ANC. Trouens, mev. Zille beskou haarself as ‘n getrouer bewaker van die huidige SA grondwet en maatskaplike stelsel as die ANC self. Hoe meer die regime se propagandiste uitvaar teen rassisme en die historiese skuld van apartheid, hoe meer stem die Afrikaners vir die DA. Want hoewel sy die ANC in pragmatiese terme opponeer, ondersteun mev. Zille en haar Progressiewe – met ‘n hoofletter – geesgenote die ANC se waardestelsel, van “nasiebou” tot die aftakeling van die Afrikaneridentiteit en -instellings.

Die arme Afrikanerkieser wat dus gister soos ‘n nat hoender in die reën opgedaag het om sy ietwat futiele stem te kom uitbring – want danksy swart getalle beheer die ANC feitlik elke munisipaliteit in die land, buite die Weskaap – se wil is geknak deur ‘n dubbele aanslag. Sowel die ANC as die DA het hom reeds oortuig dat hy hom oor sy geskiedenis, volkskap, kultuur en identiteit behoort te skaam.

Een van die DA-amptenare in ‘n blou hempie het heel dag lank die kiesers op gemaak vriendelike manier verwelkom – meesal op Engels, hoewel hy ook Afrikaans magtig was. En die Afrikaners praat met hom Engels terug. Soos Wilco Labuschagne in sy brief aan PRAAG skryf, het “die DA… baie lamppale versier, uit Kaapstad gebel en op Engels gevra of hulle op my kan staatmaak en ‘n pamflet versprei oor hoe sleg die VF+ is”. As ons daaraan dink, maak dit tog baie sin. Die Britse ambassade is steeds in Kaapstad, ná al die jare. En mev. Zille, wat is sy anders as ‘n soort “Kaapse goewerneur”, Haar Majesteit se politieke verteenwoordiger in Suid-Afrika wat soos die ou Sappe ‘n Engelse nasie, lid van die Britse Gemenebes, wil bou? Net dié keer gaan dit nie meer oor ‘n blanke nasie van Europese afkoms nie, maar om ‘n multikulturele, veelrassige – of dan “nie-rassige” – nasie.

Ook die verengelsing van Suid-Afrika onder die ANC bevoordeel die DA. Die Vryheidsfront Plus, wat sy veldtog in Afrikaans voer en ‘n spesifieke appèl op die Afrikanerkieser rig, bevind hom dus in ‘n posisie waar hy as minderheidsparty moet meeding teen ‘n party wat weens sy Engelstaligheid voorgee dat hy ‘n “nasionale” of “universele party” is.

Wat is die DA se boodskap nou eintlik, op die keper beskou? “Ons, die DA, kan die land doeltreffender volgens ANC-beginsels regeer as die ANC self!” Die DA wil die Xhosas vinniger in die Weskaap vestig en vir hulle meer en beter huise bou as wat die ANC kan doen. Net so wil die DA die Zimbabwiërs en ander vreemdelinge met groter warmte in die land verwelkom as wat die ANC-ministers reeds doen. Op geen fundamentele politieke kwessie verskil die DA wesentlik van die ANC nie.

In gister se reën en koue, voor die hek van Tijgerpoortlaerskool, terwyl ek toekyk hoe die Engelse van die DA hul Afrikanerstemvee met ‘n mengsel van hovaardigheid, minagting en aangeplakte vriendelikheid in die kraal jaag, het ek by myself gedink: Miskien moet ons Afrikaners dankbaar wees dat die ANC die land regeer en nie die “ware progressiewe” (mev. Zille se term) van die DA nie. Want hulle sou dalk veel meer doeltreffend die “apartheidsbuurte” opgebreek en geïntegreer, die Afrikaanse skole vinniger verengels en hul “reënboogpatriotisme” met groter ywer en fanatisme op ons afgedwing het.

Wat ek hier sê, is allermins suur druiwe oor die Vryheidsfront eergister verloor het. Want dis nie net die Vryheidsfront wat verloor nie; dis die hele Afrikaanse beweging, die Afrikaner, die taalstryd, ons voortbestaan, ons geskiedenis wat tans besig is om skipbreuk te ly. Die kragte aan die ander kant, hetsy swart demografie, hetsy die Sap-ideologie van ‘n heengegane geslag Britte en verengelsde Afrikaners, was veel sterker as wat ons gedink het. My pa se geslag het vuisgeslaan met Sappe en het geweier om op te staan as “God save the King” in die bioskope gespeel word. Maar vandag sing die Afrikaners lustig “God save Africa” saam met die ANC en gaan stem in opdrag van sms’e wat vanuit Goewerneur Zille se kantoor in Kaapstad na Pretoria versend word.

Die Vryheidsfront, asook elkeen wat hom- of haarself steeds as ‘n Afrikaner of ‘n Boer beskou, sal baie hard moet gaan dink wat ons nou te doen staan. Ons tyd is besig om uit te loop en oor ‘n paar jaar gaan die Afrikanervolk in dié land net ‘n vae herinnering wees. Daar sal nie meer ‘n enkele Afrikaanse pleknaam in dié land oorbly nie en soos ons al gesien het, word selfs die Afrikaanse boeke in die biblioteke by tye verpulp. Sowel die ANC as die DA werk baie hard aan ons verdwyning.

Die gemiddelde Afrikaner is so banggepraat, geïntimideer, verguis, gebreinspoel, geestelik afgetakel en geknak dat hy soos ‘n elektries geskokte hond in ‘n sielkunde-eksperiment reageer. As hy die geel liggie sien aangaan, nog voor hy die pyn voel, begin hy al tjank en sy eie stert byt. Om met sy mede-Afrikaners te assosieer en – ‘n strafbare sonde – ‘n Afrikanerparty of selfbeskikking te ondersteun, is vir hom amper taboe.

Die oorlog wat daar vir ‘n groot deel van die afgelope twee eeue op meer as een manier teen ons gevoer is, is nog lank nie verby nie. Gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu was dit ‘n terreuroorlog, maar veral: ‘n propagandaoorlog. Hoewel, wat is die huidige vlaag geweld in die naam van “misdaad” anders as terreur?

Tot dusver het Afrikanerleiers en -intellektuele geen doeltreffende teenvoeter vir die vyand se diaboliese en ophoudelike propaganda gevind nie. Ons is gedurig op die verdediging en beskik nie oor die Machiavelliaanse sin vir die leuen, die halwe waarheid en gemaakte verontwaardiging waarvoor ons vyande ‘n natuurlike aanleg het nie.

Die Vryheidsfront behoort ernstig te besin oor die vorm van politieke opposisie wat hy wil beoefen. Daar is ‘n ou debat oor “samewerkende” of “regstreekse” opposisie teenoor die ANC. Ná enkele maande lyk dit nie asof daar enige voordeel vir die Afrikaner of vir die Vryheidsfront geleë is in die adjunkministerskap van Pieter Mulder nie. Enersyds bied dit ‘n gerieflike stok aan die DA om die VF+ mee te slaan, andersyds het geen verdere toegewings van die ANC aan die Afrikaner gevolg nie en word ons met groter minagting as ooit deur die owerheid behandel.

Daar is egter ook die verhouding teenoor die DA. By die gewone kiesers, asook lede van sowel die DA as die Vryheidsfront, is daar ‘n gevoel dat “die opposisie moet saamwerk teen die ANC”. Die vraag is egter op watter basis dit kan geskied as die ideologiese verskille onbrugbaar groot blyk te wees. Hoewel die DA ‘n verenigde opposisie en koalisievorming predik, beskou hy tog op ‘n manier die Vryheidsfront, eerder as die ANC, as sy “ware vyand”. Mev. Zille het in ‘n verbasende erkenning gesê dat sy die Marxistiese Barbara Hogan van die ANC en SAKP as ‘n “geesgenoot” beskou vanweë haar “begrip vir die grondwet” terwyl sy diegene wat hulle aan etniese of rassedenke skuldig maak as ‘n verskynsel beskou wat liefs tot die buitenste ruim – of ‘n ander oewer – verban behoort te word.

Hoewel daar pragmatiese en opportunistiese redes daarvoor mag bestaan, is samewerking met die DA myns insiens nie vir die Vryheidsfront moontlik nie. Net soos wat mev. Zille die Vryheidsfront en die swart-nasionalistiese vleuel van die ANC as twee sye van dieselfde munt beskou, behoort die Vryheidsfront en Afrikaners in die algemeen die DA en die ANC as twee aansigte van dieselfde “reënboogmonster” te beskou. Albei is integrasionisties, assimilasionisties, Engels en wesentlik gekant teen Afrikanervoortbestaan.

Die ANC beheer die staat, die weermag, die polisie, asook die grootste deel van die media, waaronder die SAUK. Op hierdie stadium kan ons kwalik genoeg kragte teen die ANC monster. Maar die “ANC lite” wat as die DA bekendstaan, kan effektief beveg word, as die kleinere manifestasie van ‘n veelkoppige monster wat ons voortbestaan bedreig. Indien ons sukses teen die DA behaal, mag uiteindelike sukses teen die ANC nie uitbly nie.

Dit maak nie saak hoeveel slim planne Afrikanerleiers en -intellektuele beraam om vryheid en selfbeskikking internasionaal te bevorder en selfs te beding indien Afrikaners op voetsoolvlak in elke verkiesing ten gunste van hul oplossing in die reënboognasie met sy onderbroekvlag stem nie.

Die geskiedenis in Suid-Afrika herhaal hom blykbaar oor en oor. Die stryd tussen die Vryheidsfront en die DA het al die eienskappe van die Nat-Sap-stryd van destyds. In ‘n hoë mate verskaf die Afrikanerkieser vandag die getalle om die Engelstalige se fantasieë oor koloniale beheer moontlik te maak. Die DA verbeel hom dat hy – in weerwil van die land se demografie wat vanweë onwettige immigrasie konstant versleg – ‘n “alternatiewe regering” kan wees en dat hy verder op die horison steun vanuit die Westerse wêreld en veral Brittanje en Amerika geniet. Hierdie is alles illusies en drome wat nog nie aan die toets van die harde werklikheid onderwerp is nie. Ongelukkig is dit ‘n verleidelike droom, ‘n politieke piramideskema wat die skyn van ‘n oplossing aan die kieser voorhou. Weereens skep die kulturele oorheersing van die Engelstalige die indruk dat hy iewers steeds ‘n onsigbare hand op die hefboom van mag het, wat die Afrikaner in sy toenemende identiteitskrisis lok om sy gewig by die koloniale droom van die DA in te gooi.

Afrikaners kon een keer in die onlangse geskiedenis teen die Britse Suid-Afrikanisme mobiliseer en seëvier. Heel moontlik kan hulle dit nou vir ‘n tweede keer regkry om die Sappe op hul baadjie te gee. Maar dan sal ons die stryd met groter skerpte en kragdadigheid moet aanpak. Getalle is op dié stadium nie so belangrik nie. Dit gaan meer oor die integriteit en veral die intensiteit van ons teenkanting teen hierdie bose bestel waarvan die DA vir seker ook ‘n pilaar is.

оптовые цены трековыеОлександр Фільчаков прокурор

Swaziland het die kolonialisme voorlopig oorleef

Die grootste enkele skade wat die Britse kolonialisme en imperialisme in Afrika gedoen het, is om die Westminster-stelsel van een-mens-een-stem op ‘n andersoortige sosiale werklikheid af te forseer. Die resultaat is dat vreemde ideologieë (sosialisme, kapitalisme, ens.) binne ‘n veelpartystelsel die stamgerigte sosiale orde ontwrig en selfs vernietig het. Een van die weinige Afrikalande wat voorlopig die aanslag teen die tradisionele orde oorleef het, is Swaziland.

Swaziland

Swaziland is maar ‘n katspoeg weg van SA. Derhalwe is die aanslag op Swaziland vanuit ‘n ANC- en Kommunisties-beheerde SA heftig en venynig; die laaste ideologiese kanonskote is nog nie afgevuur nie.

Die stryd teen tradisionele leierskap het ‘n lang aanloop. In 1894 het Swaziland onder die voogdyskap van die Transvaalse Republiek gestaan.

  • Tussen 1894 tot 1902 het die Britse administrasie in SA ook heerskappy in Swaziland gevoer.
  • In 1903 het die Britte direkte beheer oor Swaziland uitgeoefen. Op hierdie stadium is ‘n Britse Adviserende Raad in Swaziland tot stand gebring.
  • In 1921 is simboliese erkenning aan koning Sobuza II verleen, maar dan sonder uitvoerende mag.
  • In 1944 is erkenning aan koning Sobuza II verleen en is hy met uitvoerende magte beklee.
  • In 1964 het die Koning ‘n Interne Raad tot stand gebring wat hierdie jaar aan ‘n verkiesing deelgeneem, wat as die Umbokodvo-beweging bekend gestaan het. Genoemde beweging het al die setels van die Parlement ingeoes.
  • In 1966 het die Britte pogings aangewend om ‘n Westerse tipe grondwet, met ‘n grondwetlike monarg aan die stuur, op Swaziland af te dwing.

In 1968 het Swaziland ‘n onafhanklike land geword. ‘n Verkiesing is in 1972 gehou en het die Umbokodvo-beweging vyf en sewentig persent van die stemme op hom getrek. Die opposisieparty het bekend gestaan as die Verenigde Demokratiese Beweging van die Mense (PUDEMO). Koning Sobuza II het toe stappe geneem om van die Britse veelpartybestuurstelsel weg te beweeg en het in 1973 die parlement ontbind. Die rede wat hy aangevoer het, is dat die Britse veelpartystelsel vreemd aan die kultuur van die Swazi’s is en ideologieë ingevoer het wat verdelend op die samelewing ingewerk het. Die koning het volle beheer oorgeneem, partye verbied en vakbonde ontbind.

Swazifisering

Aanvanklik is ‘n Liqoqo as ‘n soort oppergesagdraende adviesraad ingestel, maar ook hier het die politieke ideoloë hulle invloed laat geld en die gesag van die koning ondermyn. Koning Sobuza II is in 1982 dood en hierna het koningin Dzeliwe as regentes opgetree. In 1984 is koningin Dzeliwe deur koningin Ntombi vervang, om daarmee die weg te baan vir haar enigste seun, prins Makhosetive, om die troon oor te neem en wel as Mswati III. Laasgenoemde het in 1986 die troon bestyg.

Dit is interessant dat die monarg in samewerking met die koninginmoeder regeer. Haar raad en advies moet ingewin word. Sy is protokollêr tweede in senioriteitsorde. Die eerste minister is die nommer drie. Klaarblyklik is dit nie sonder meer so dat die seun van die regerende koning ipso facto sy vader sal opvolg nie. Nee, ‘n geheime raad van adviseurs neem ‘n besluit, met inagneming van bevoegdheid, bekwaamheid en wenslikheid.

Wat natuurlik ‘n pluspunt in Swaziland is, is dat dit ‘n min of meer homogene land van verwante Swazistamme is. Derhalwe is dit moontlik om hierdie klein land op ‘n tradisionele wyse te regeer. Die resultaat is positief, ten spyte van armoede (in Westerse terme gemeet):

  • Daar is sosiale wet en orde.
  • Geweldpleging is minimaal.
  • Die bevolking is vriendelik en hulpvaardig.
  • Die sosiale weefsels in die samelewing het behoue gebly.

Suid-Afrika

In SA is die politieke toneel dramaties anders. Die Britse kolonialisme het van ‘n veelrassige, veeletniese en veeltalige land een unitêre staat gemaak. Die kolonialisme is ‘n gevoelige slag toegedien toe die Nasionale Party van 1948 die politieke leisels ter hand geneem het. Toe is die Britse kolonialisme in trurat gegooi. Wyle dr. Hendrik Verwoerd het besef dat die enigste oorlewing van ‘n Westerse samelewingsorde in Suid-Afrika geleë was in ‘n federale staat wat vir etnisiteit en tradisionele leierskap voorsiening sou maak. Universiteite is aangemoedig om etnoloë en volkekundiges op te lei. Volkekundiges is ingespan om die administrasie te begelei. Die individu is binne ‘n eie beskawings- en kultuurkonteks geïntegreer.

Die Boer-Brit-geveg

Ongelukkig het die politieke verdelingslyn tussen Boer en Brit onverpoos voortgeduur en is die beleid van afsonderlike ontwikkeling as blakende rassisme geïnternasionaliseer. Die Britse sakesektor het alles in werking gestel om grensnywerhede te ondermyn en die tuislande onwerkbaar te maak. Daarmee het ‘n vloedgolf van swartes na die oorontwikkelde vier provinsies gevloei.

Die dolk wat Hendrik Frensch Verwoerd se dood beteken het, was die doodslag van ‘n Westerse beskawing en so is die weg geskraap vir die politieke glybaan van eerste ministers Vorster en Botha, totdat F.W. de Klerk die land volledig uitverkoop het. Die tragedie van die moderne SA is aan almal bekend en die bloed het sedertdien nooit ophou vloei nie.

Implikasie

Wat Swaziland so interessant maak, is dat die Verwoerd-politieke eksperiment aldaar waargemaak kan word. Miskien is dit in die belang van die Afrikaner om op ‘n georganiseerde wyse in Swaziland betrokke te raak en te bly, ten einde te verhoed dat die linkse politieke ideoloë ook daar die tradisionele orde versteur en ontwrig.

организация освещения в ландшафтной средеданильченко юрій броніславович