Leeu wat man aanval in Nairobi geskiet

’n Man is die week in die buitewyke van Kenia se hoofstad, Nairobi deur ’n leeu aangeval en beseer waarna natuurbewaarders die leeu van kant gemaak het.

Dit is die vierde keer vanjaar dat leeus buite die Amboseli Nasionale Park in Kaijado rondloop en die tweede keer in twee weke dat iemand deur ’n leeu aangeval en beseer word.

Die donkermaanhaar-leeumannetjie is in ’n beboude gebied in die suide van die hoofstad doodgeskiet, het AFP berig.

’n Woordvoerder van Kenia se afdeling vir natuurbewaring, Paul Udoto, sê die beseerde man is na ’n nabygeleë hospitaal geneem.

In vorige voorvalle vanjaar is die leeus óf teruggejaag na die 117 vierkante kilometer natuurreservaat óf het die diere self na die park teruggekeer.

Die reservaat is byna heeltemal omring deur die vinnig groeiende stad met meer as drie miljoen mense.
Die park is nie heeltemal omhein nie ten einde ruimte te laat vir die tradisionele migrasie van diere op soek na weiding.

Die groot katte is onder toenemende druk van een van Afrika se vinnigste groeiende stede wat inbreuk maak op eeue ou migrasieroetes en jagvelde.

SANParke in Suid-Afrika het intussen gesê die rondloperleeu, Sylvester, sal slegs van kant gemaak word as laaste uitweg.

Die bewaringsowerheid het gister planne aangekondig om Sylvester uit te sit wanneer hy weer gevang is, maar dit het tot ‘n hewige reaksie in die sosiale media gelei.

Die leeumannetjie het Maandag vir die tweede keer uit die Karoo Nasionale Park naby Beaufort-Wes ontsnap. Hy is nog nie weer gevang nie.

‘n Woordvoerder van SANParke, Wanda Mkutshulwa, sê daar is verskeie opsies beskikbaar waarvan een is om die leeu na die wildtuin terug te neem.

Hulle kan dit ook oorweeg om die leeu na een van hulle ander nasionale parke te verskuif. n Derde opsie is om Sylvester aan ‘n ander staats- of nie-staatsinstansie te skenk.

Mau Mau onthul monument vir slagoffers van Britte

Die sekretaris-generaal van die vereniging van Mau Mau-oorlogveterane (MMWVA), Gitu wa Kahengeri, het duisende mense toegespreek die afgelope naweek in Uhuru Park se vryheidshoek in Nairobi met die inhuldiging van ‘n nuwe standbeeld.

Die monument vir slagoffers van marteling deur die Britse kolonialiste in die Keniaanse hoofstad, is deur die VK befonds.

Die wandade het tydens Kenia se “noodtoestand” aan die einde van die Britse ryk se gloriedae in Kenia tussen 1952 en 1960 plaasgevind.

Die monument is opgerig nadat Brittanje in 2013 tot ’n multimiljoen dollar-skikking vir duisende Keniane ingestem het wat deur koloniale magte gemartel is.

In dié tyd het vegters van die Mau Mau-beweging Britse teikens aangeval en paniek onder wit setlaars gesaai.

Die Keniaanse menseregtekommissie beraam dat nagenoeg 90 000 Keniane dood of vermink is en 160 000 tydens die opstand aangehou is.

Brittanje het verklaar dat die monument versoening sal bevorder.

Gebou in Nairobi stort ineen

Nooddienspersoneel op soek na oorlewendes in die puin van ’n toringgebou in Nairobi.

Ten minste vier mense is dood, 40 beseer en verskeie ander word vermis ‘n dag nadat ‘n ses-verdieping residensiële gebou ineengestort het in die Keniaanse hoofstad, sê amptenare.

Onder die dooies was ‘n een-dag-oue baba, het reddingswerkers gesê.

Die hoop vervaag dat nog lewendes onder puin van die woonstelblok gevind sal word wat Sondagaand in die Haruma-buurt meegegee het.

Die Keniaanse Rooi Kruis het bevestig dat vier mense dood is en 40 beseer in die ineenstorting.

President Uhuru Kenyatta het intussen gewaarsku dat bouers krimineel aangekla sal word as hulle boureëls verontagsaam.

Hy het die “grootskaalse wetteloosheid” deur ontwikkelaars wat “basiese wette en regulasies” ignoreer, veroordeel.

Verlede jaar het ‘n gebou van 16 verdiepings in Dar-es-Salaam in Tanzanië ineengestort met talle slagoffers.

 

Gebou in Kenia stort ineen

Een persoon is dood en die vrees bestaan dat ander onder die puin vasgekeer of moontlik dood is, nadat ’n vyfverdiepinggebou in Nairobi Woensdag ineengestort het.

Sewe mense is lewendig uit die puin gered.

Vanweë die hoë aanvraag na behuising in Nairobi, systap sommige eiendomsontwikkelaars bouregulasies ten einde koste te bespaar en hul wins te vermeerder.

Die vyf-verdieping residensiële gebou het Woensdag naby die Makongeni-polisiestasie in Nairobi meegegee.

Meer as 30 gesinne het reeds vroeër in die gebou ingetrek wat nog onder konstruksie was en huurders het die grond, die eerste en tweede verdieping beset.

‘n Koerant van die Nation Media Group Publications, die Business Daily het berig dat die meeste geboue in die Eastlands-gebied nie ‘n aardbewing sal oorleef nie.

Dié bevinding is in ‘n verslag gepubliseer deur deur Raul Figueroa van die Carnegie Mellon Foundation gedoen is wat aangedui het dat 3 uit 4 geboue ernstige skade in die geval van ‘n aardbewing sal oorhou.

China se verskaffer van konstruksiemasjinerie, XCMG, het Woensdag die reddingsoperasie gelei.

‘SA sal nie deur terreur gedestabiliseer word’

waronterror2Die minister van staatsveiligheid, Siyabonga Cwele het gesê hy wil Suid-Afrikaners verseker dat die land nie aan die risiko van destabilisering deur terroriste blootgestel sal word nie.

Suid-Afrikaanse owerhede ondersoek nog hoe ‘n plaaslike paspoort verkry is deur Samantha Lewthwaite, die Britse vrou wat deur Interpol gesoek word sedert die terreuraanval in Nairobi, het die minister gesê.

“Ons ondersoeke duur voort en sodra ons gereed is sal ons ‘n verklaring maak,” het die minister van binnelandse sake, Naledi Pandor gesê op ‘n nuuskonferensie wat deur die Kabinet se veiligheidsgroepering in Pretoria gehou is.

Sy het bygevoeg dat owerhede intussen die “veiligheid met betrekking tot ons paspoort verbeter het”.

Dit sluit in “kontrole biometriese skakels na die agtergrond van mense wat hulle by ons kantore aanmeld.”

Lewthwaite, ook genoem die Wit Weduwee deur buitelandse media, het op ‘n Suid-Afrikaanse paspoort wat nie vervals is nie, gereis.

Dit is aan haar uitgereik in die naam van Natalie Faye Webb deur die departement van binnelandse sake .

Dit is nog nie duidelik of daar enige verband tussen Lewthwaite en Webb is en of laasgenoemde bloot ‘n slagoffer van identiteitsdiefstal was nie.

Interpol het Lewthwaite laat in September ná die aanval op Nairobi se Westgate Mall deur vermeende al-Shabaab militante, op ‘n internasionale lys van verdgates geplaas.

Daar is 72 mense gedood, maar dit is nie die finale dodetal nie.

Lewthwaite is die weduwee van Germaine Lindsay, een van die selfmoordbomaanvallers wat die openbare vervoerstelsel in Londen in Julie 2005 geteiken het.

Sy het Suid-Afrika op ‘n Suid -Afrikaanse paspoort in 2008 binnegekom, en dit gebruik tot 2011.

Dit het vrese laat ontstaan oor ‘n diplomatieke dooiepunt tussen Pretoria en Londen oor streng visumvereistes vir Suid-Afrikaners. – Sapa

Media gewaarsku om nie polisie se buitery te rapporteer nie

Regstellende inkopies
Regstellende inkopies

Kenia se polisiehoof het gedreig om joernaliste in hegtenis te neem ná berigte oor grootskaalse buitery deur veiligheidsmagte tydens die terreuraanval op die Westgate-winkelsentrum verlede maand in Nairobi verskyn het.

Genl. David Kimaiyo het Donderdag aan joernaliste gesê dit is “baie duidelik dat daar ’n beperking is” op mediavryheid.

“Ons kyk na individue binne die wet wat op die een of ander manier misdade gepleeg het… Hulle sal binnekort in hegtenis word en voor die hof verskyn, waar hulle die gevolge sal moet dra,” het Kimaiyo gesê.

“Julle het nie nodig om Keniane aan te hits nie, julle het nie nodig om verklarings uit te reik wat neerkom op haatspraak nie,” het hy bygevoeg.

Kringtelevisie-beeldmateriaal wys hoe lede van die veiligheidsmagte met plastieksakke uit ’n supermark in die Westgate-winkelsentrum stap kort nadat die vermeende Al Sjabaab-rebelle op omstanders begin skiet het.

Sommige winkeleienaars sê hul winkels is heeltemal geplunder.

Kenia se weermaghoof, Julius Karangi, hou egter vol dat soldate nie geplunder het nie, maar slegs koeldrank in die supermark gevat het om “hul dors te les”.

In ’n poging om te verduidelik hoekom ander items gevat is, het Karangi dit “sanitasie om hul veiligheid te verseker” genoem.

Verskeie eienaars het aan AFP gesê dat hulle die winkels gesluit het voordat hulle gevlug het.

Met hul terugkeer was die winkels egter heeltemal geplunder en waardevolle items soos juwele, selfone en elektriese ware was vermis. – Sapa/AFP

Noorweër by terreuraanval in Nairobi betrek

Abdukadir Mohamed Abdukadir
Abdukadir Mohamed Abdukadir

Noorweë se intelligensie-agentskap, PST,  het ‘n ondersoek begin om vas te stel of een van dié land se burgerlikes betrokke was in die bloedbad in die Westgate-winkelsentrum in Nairobi, Kenia, in September.

Al Sjabaab, wat bande met Al-Kaïda het, het verantwoordelikheid aanvaar vir verlede maand se aanval, waarin minstens 67 mense gesterf het.

“Gegrond op die inligting dat ‘n Noorweër dalk betrokke was in die aanval op ‘n winkelsentrum in Kenia drie weke gelede, het PST besluit om ‘n ondersoek te begin,” lui ‘n verklaring van die agentskap. – Sapa/AFP

Kenia: Die raaisel bly verdiep

Uhuru kry 'n blaaskansie in Den Haag
Uhuru kry ‘n blaaskansie in Den Haag

‘n Week is al amper verby sedert terroriste die Westgate-winkelsentrum in Nairobi aangeval het, maar die tergendste vrae bly steeds onbeantwoord.

Daar is nog geen amptelike dodetal nie. Die regering sê minstens 67 mense is dood, insluitende 61 burgerlikes en ses lede van die veiligheidsmagte. Die Keniaanse Rooikruis sê 61 mense word nog vermis. Wat het van die gyselaars geword?

Die Keniaanse ministerie van verdediging het gesê die meeste van die gyselaars is gered, maar kon geen syfers verskaf oor hoeveel gered is en hoeveel dood is nie. Alhoewel van die aangehoudenes glo gered is, het geen van hulle nog na vore gekom nie.

Die regering het daarop aangedring dat hulle Maandag “volle beheer” van die situasie geneem het. Eers 24 uur later, Dinsdagnag, het President Uhuru Kenyatta aangekondig dat sy magte die terroriste verslaan het.

Intussen is baie meer aandag gegee om Kenyatta en sy adjunk se verskyning op aanklag van misdaad teen die mensdom by die internasionale strafhof in Den Haag uit, of selfs af, te stel weens die aanval. Die dag ná sy aankondiging was daar steeds verslae van geweerskote by Westgate .

Wat het met die terroriste gebeur? Die regering het eers gesê dat vyf terroriste dood en 11 verdagtes in hegtenis geneem is. Teen Sondag was agt mense nog steeds in aanhouding in verband met die aanval en is drie na ondervraging vrygelaat  .

Verslae dui daarop dat tussen 12 en 15 aanvallers betrokke was by die aanval met intieme kennis van die gebou se planne en ontwerp. Soos met 9/11 in die VSA lyk dit onwaarskynlik dat ‘n gesofistikeerde aanval waar drie vloere ineenstort, deur “bokherders met NT-messe” uitgevoer is.

Dinsdag het die Keniaanse minister van buitelandse sake, Amina Mohamed, aan die Amerikaanse PBS-netwerk gesê twee of drie Amerikaners, en een Brits-gebore vrou, was onder die aanvallers. Dit is nie duidelik of hulle in aanhouding is nie.

Die Keniaanse regering is glo mislei deur ‘n vals Twitterprofiel wat die name van wit aanvallers uitgestuur het. Kan dit Samantha Lewthwaite ook insluit? Interpol het ‘n internasionale lasbrief vir Lewthwaite uitgereik nadat intelligensiebronne gesê het Lewthwaite was onder diegene wat deur die veiligheidsmagte doodgeskiet is.

Een amptenaar het gesê die ineenstorting van die gebou is veroorsaak deur terroriste wat matrasse aan die brand gesteek het, maar die omvang van die skade dui dat plofstof waarskynlik gebruik is.

‘n Anonieme amptenaar het daarna gesê dat die ineenstorting van die drie vloere deur die weermag veroorsaak is, maar hy wou nie sê wat die ineenstorting veroorsaak het nie. Die Keniaanse owerhede is glo ook vroegtydig oor die aanval ingelig, maar het versuim om op te tree.

Die onbeantwoorde vrae oor wat werklik in Kenia gebeur het, is kommerwekkend, veral omdat sekere stemme opgaan oor Suid-Afrika se betrokkenheid in die terreurketting, stemme wat self ‘n belang daarby mag hê omdat hulle nie deel van die staat is nie.

Dodetal in Keniaanse aanval kan verder styg

Slagoffers van die aanval in die parkeerterrein doodgeskiet
Slagoffers van die aanval in die parkeerterrein doodgeskiet

Buitelandse forensiese spanne help in Kenia met die uitkenning van die liggame van slagoffers van die naweek se aanval deur Al-Shabaab militante in die Westgate winkelsentrum in Nairobi.

Die dodetal kan vermoedelik verder styg met sowat 51 mense van wie daar nog nie rekenskap gegee kan word nie. Dit volg nadat drie vloere van die winkelsentrum ingetuimel het.

Die dodetal staan tans op 61 burgerlikes en ses soldate. Dit is Woensdag deur president Uhuru Kenyatta bevestig.

Volgens Kenyatta is 62 mense ook steeds in die hospitaal. Hy het vroeër drie dae van rou afgekondig.

Intussen beweer al-Shabaab dat van sy aanvallers steeds in die winkelsentrum is. Dit kon egter nog nie bevestig word nie en dit is ook onduidelik of hulle moontlik van die slagoffers in die puin is. – RSG

Suid-Afrikaner sterf ná Al Kaida-groep weerwraak in Nairobi belowe

Die grusame Twitterfoto
Die grusame Twitterfoto

Buitelandse militêre magte ondersteun sedert 2011 Keniaanse troepe teen die al-Shabab-rebelle in Somalië. Al-Shabab is aan Al Kaida verbonde.

‘n Keniaanse militêre woordvoerder, majoor Emmanuel Chirchir, het twee jaar gelede gesê “een van die vennote”, moontlik die Verenigde State van Amerika of Frankryk, het lugaanvalle geloods wat die dood van ‘n aantal al-Shabab-militante veroorsaak het. Die Franse vloot het rebelle se posisies vanaf die see aangeval, het die Keniaanse weermag destyds in ‘n verklaring gesê .

Twee senior Amerikaanse amptenare in Washington het egter gesê dat nóg die Verenigde State van Amerika of die Sentrale Intelligensie-agentskap lugaanvalle teen Somalië geloods het.

Amerikaanse amptenare in Kenia het geweier om kommentaar te lewer . ‘n Franse diplomaat in die Verenigde State van Amerika het nie op telefoonoproepe gereageer nie.

Indien Western militêre magte inderdaad die konflik betree het, sê ontleders, kan dit ‘n keerpunt verteenwoordig. Die groep beheer die suide van Somalië.

“Almal is in die [oorlogs]teater,” het Chirchir in ‘n telefoniese onderhoud bevestig. Die Amerikaanse weermag het voorheen aanvalle in Somalië geloods.

Amerikaanse amptenare was in 2011 bekommerd oor die vooruitsig dat al-Shabab militante in Kenia se hoofstad, Nairobi, sal wraak neem, en moontlik op Westerlinge fokus en het waarskuwings gerig dat inkopiesentrums moontlike teikens mag wees..

Die Keniaanse leër is tans gewikkel in ‘n stryd om die jongste gyselaarsdrama in ‘n winkelsentrum in Nairobi te ontlont. Ontploffings en geweervuur is sedert gisteraand al ‘n paar keer gehoor. ‘n Onbekende aantal mans, wat aan die militante groep al-Shabab verbonde is, hou nog sowat 10 gyselaars aan.

Die jongste dodetal is 69, maar polisiebronne vrees dat die dodetal baie hoër kan wees. ‘n Suid-Afrikaner is ook in die aanval dood.

Die Suid-Afrikaanse burger, James Thomas van Kaapstad, is glo tydens die aanval doodgeskiet. Thomas was in Kenia op ‘n sakebesoek vir die maatskappy, EcoVentures International.

Ander Suid-Afrikaners wat aanvanklik in die winkelsentrum vasgekeer was, is luidens berigte later bevry.

Sowat 10 gyselaars word nog in die winkelsentrum aangehou. Die Keniaanse weermag sê hulle doen alles in hul vermoë om die oorblywende gyselaars lewend uit te bring.

Die meeste van die gyselaars wat in die winkelsentrum vasgekeer was, is gered en die grootste gedeelte van die kompleks is beveilig.

Al-Shabab het in Januarie vanjaar ‘n foto van ‘n vermeende Franse spesmagsoldaat wat vermoor is in mislukte aanval, op Twitter rondgestuur om die Franse president te tart.

Die dooie Franse soldaat is met sy vermeende wapens en toerusting afgeneem.

Drie foto’s opgelaai wat ‘n wit man toon geklee in ‘n militêre broek en ‘n bloed-deurweekte hemp omring deur drie gewere, ammunisie en beskermende toerusting. ‘n Helm lê tussen sy bene.

In elk van die foto’s is ‘n silwer hangertjie, ‘n kruisie, om die soldaat se nek sigbaar. Al-Shabab het in sy boodskap gesê: “‘n Terugkeer van die Kruistogte, maar die kruis kon hom nie red van die swaard nie.“

Terreuraanval op Nairobi-winkelsentrum skerp veroordeel

'n Paniekbevange ma en haar baba vlug uit die Westgate-winkelsentrum
‘n Paniekbevange ma en haar baba vlug uit die Westgate-winkelsentrum

Die internasionale gemeenskap het gister se tereuraanval op die Nakumatt Westgatewinkelsentrum in Nairobi in Kenia skerp veroordeel.

Minstens 39 mense is in die aanval dood en meer as 150 is beseer. Volgens die Rooikruis sal dié aantal moontlik styg.

Twee Kanadese burgers, onder wie ‘n diplomaat, is in die aanval dood. Volgens berigte het twee Franse burgers ook omgekom.

Die Amerikaanse departement van Buitelandse Sake sê hy het inligting ontvang dat Amerikaanse burgers onder die beseerdes is.

‘n Britse oud-soldaat sê hy het ten minste vier mense gesien wat omgekom het, waaronder ook ‘n kind.

Die Britse minister van Buitelande Sake, William Hague het bekendgemaak dat ‘n spesiale diplomatieke reaksiespan onderweg na Kenia is.

Die Keniaanse president, Uhuru Kenyatta het vroeër gesê van sy familielede het ook in die aanval omgekom.

Die Somaliese Al Shabaab-rebellegroep het verantwoordelikheid op Twitter aanvaar vir die aanval. Dit is die ergste tereurdaad in 15 jaar in die land.

‘n Woordvoerder vir Al Shabaab het gesê hulle eis dat Kenia sy troepe uit Somalië onttrek.

“Kenia het ons land in Oktober 2011 binnegeval en die dood van baie onskuldige burgerlikes met hul militêre vliegtuie veroorsaak,“ het Sjeg Ali Mohamoed Rage in ‘n verklaring gesê.

“Ons het Kenia gewaarsku oor die aanval, maar hulle ïgnoreer [ons], gebruik steeds geweld teen ons land, terwyl hulle ons onskuldige burgerlikes doodmaak,“ het hy woedend gesê.

“Dit het daartoe gelei dat die Mujahedin wraakaanvalle op Kenia uitgevoer het. Vandag, het ‘n eenheid van die Al Shabaab Mujahedin ‘n belangrike sentrum in Kenia aangeval,” het hy bygevoeg.

Brandbestryders steel terwyl lughawe verswelg in vlamme

kenyalughaweTerwyl die verwoestende vuur besig was om die internasionale lughawe in Kenia te verswelg, was brandbestryders te besig om te steel om aandag daaraan te gee.

Die owerhede in Kenia het terrorisme uitgeskakel as ‘n moontlike oorsaak van die brand wat woensdag by die Jomo Kenyatta-lughawe in Nairobi uitgebreek het.

Die land se intelligensielede word bygestaan deur die Amerikaanse speurdiens om die oorsaak van die brand te bepaal.

Hulle probeer in dié stadium vasstel of dit brandstigting of ‘n ongeluk was. Alle internasionale vlugte is intussen hervat.

Groot skade is aan die lughawe aangerig toe brandbestryders traag gereageer het.

Intussen is het dit aan die lig gekom dat die eerste mense op die toneel van die lughawebrand banke en kitsbanke beroof het.

Polisie-amptenare het aan Assoiciated Press gesê dat polisielede wat die toneel bewaak het, probeer het om ‘n brandkluis van ‘n bank met buitelandse valuta daarin, weg te dra.

Die ondersoek is nog aan die gang. ‘n Polisie-woordvoerder sê geen formele klagtes van diefstal is tot dusver gelê nie. – RSG/praag