Gebou in Nairobi stort ineen

Nooddienspersoneel op soek na oorlewendes in die puin van ’n toringgebou in Nairobi.

Ten minste vier mense is dood, 40 beseer en verskeie ander word vermis ‘n dag nadat ‘n ses-verdieping residensiële gebou ineengestort het in die Keniaanse hoofstad, sê amptenare.

Onder die dooies was ‘n een-dag-oue baba, het reddingswerkers gesê.

Die hoop vervaag dat nog lewendes onder puin van die woonstelblok gevind sal word wat Sondagaand in die Haruma-buurt meegegee het.

Die Keniaanse Rooi Kruis het bevestig dat vier mense dood is en 40 beseer in die ineenstorting.

President Uhuru Kenyatta het intussen gewaarsku dat bouers krimineel aangekla sal word as hulle boureëls verontagsaam.

Hy het die “grootskaalse wetteloosheid” deur ontwikkelaars wat “basiese wette en regulasies” ignoreer, veroordeel.

Verlede jaar het ‘n gebou van 16 verdiepings in Dar-es-Salaam in Tanzanië ineengestort met talle slagoffers.

 

Nog 3 lyke in Soweto-kragstasiepuin gevind

Nog drie liggame is Maandagaand in die gebou gevind wat in duie gestort het in Power-park, Soweto.

Die polisie sê die liggame is deur sekuriteitsbeamptes wat in die gebied werk gekry.

Die gebou is ʼn ou kragstasie agter die Orlando-torings. Dit het in Junie ineengestort en die polisie het kort na die ramp ʼn oproep van ʼn beseerde swartman gekry.

Hy was glo deel van ʼn groep wat besig was om kabels en metaal uit die gebou te steel.

Dertien mense is al in die gebou gevind, maar net vyf het die ineenstorting oorleef.