Gebou stort ineen in Pakistan

Reddingswerkers in Pakistan het gister 99 mense lewend onder die puin uitgehaal nadat ’n fabriek in die stad Lahore ineengestort het, het AFP berig.

Talle ander fabriekswerkers is vermoedelik steeds onder die puin vasgekeer, met ten minste 18 mense wat gesterf en wie se liggame al verwyder is.

Die gebou het Woensdagaand in duie gestort, waarna die reddingswerkers met die hulp van soldate versigting deur die staal moes sny en hyskrane moes gebruik om die rommel te verwyder sodat hulle by die beseerdes kon kom.

Een van die vasgekeerde werkers het aan SAAMA TV gesê hy lê steeds onder ’n swaar ysterstaaf vasgepen en is baie dors.

Dit is nog nie ­duidelik hoeveel mense in die gebou was toe dit ineengetuimel het nie, maar reddingswerkers meen dit kan tot soveel as 200 wees.

’n 22-jarige fabriekswerker, Mohammad Navid, het aan AFP gesê die gebou het met ’n harde slag ineengestort en hy het bewusteloos op die grond geval. Toe hy ’n rukkie later sy bewussyn herwin, het hy gehoor hoe mense om hulp roep en skree.

Volgens Navid het kinders van so jonk as 12 jaar in die fabriek gewerk.

Die eens vier verdieping poliëster-fabriek, Rajput Polyester, is in die Sundar-nywerheidsheidsgebied aan die buitewyke van Lahore geleë.

Die vermoede is dat die gebou strukturele skade opgedoen het in die aardbewing op 26 Oktober waarin nagenoeg 400 mense in Pakistan en Afganistan omgekom het.

Gebou in Nairobi stort ineen

Nooddienspersoneel op soek na oorlewendes in die puin van ’n toringgebou in Nairobi.

Ten minste vier mense is dood, 40 beseer en verskeie ander word vermis ‘n dag nadat ‘n ses-verdieping residensiële gebou ineengestort het in die Keniaanse hoofstad, sê amptenare.

Onder die dooies was ‘n een-dag-oue baba, het reddingswerkers gesê.

Die hoop vervaag dat nog lewendes onder puin van die woonstelblok gevind sal word wat Sondagaand in die Haruma-buurt meegegee het.

Die Keniaanse Rooi Kruis het bevestig dat vier mense dood is en 40 beseer in die ineenstorting.

President Uhuru Kenyatta het intussen gewaarsku dat bouers krimineel aangekla sal word as hulle boureëls verontagsaam.

Hy het die “grootskaalse wetteloosheid” deur ontwikkelaars wat “basiese wette en regulasies” ignoreer, veroordeel.

Verlede jaar het ‘n gebou van 16 verdiepings in Dar-es-Salaam in Tanzanië ineengestort met talle slagoffers.

 

Gebou in Kenia stort ineen

Een persoon is dood en die vrees bestaan dat ander onder die puin vasgekeer of moontlik dood is, nadat ’n vyfverdiepinggebou in Nairobi Woensdag ineengestort het.

Sewe mense is lewendig uit die puin gered.

Vanweë die hoë aanvraag na behuising in Nairobi, systap sommige eiendomsontwikkelaars bouregulasies ten einde koste te bespaar en hul wins te vermeerder.

Die vyf-verdieping residensiële gebou het Woensdag naby die Makongeni-polisiestasie in Nairobi meegegee.

Meer as 30 gesinne het reeds vroeër in die gebou ingetrek wat nog onder konstruksie was en huurders het die grond, die eerste en tweede verdieping beset.

‘n Koerant van die Nation Media Group Publications, die Business Daily het berig dat die meeste geboue in die Eastlands-gebied nie ‘n aardbewing sal oorleef nie.

Dié bevinding is in ‘n verslag gepubliseer deur deur Raul Figueroa van die Carnegie Mellon Foundation gedoen is wat aangedui het dat 3 uit 4 geboue ernstige skade in die geval van ‘n aardbewing sal oorhou.

China se verskaffer van konstruksiemasjinerie, XCMG, het Woensdag die reddingsoperasie gelei.

Tongaat: Gebou sonder goedkeuring stort ineen

tongaat2Paramedici van KZN EMS en privaatambulansdienste, personeel van die SAPD en die brandweer was op die toneel nadat konstruksie van ‘n winkelsentrum ineengestort het.

Pogings om mense wat moontlik steeds vermis word in die puin van die Tongaat-winkelsentrum, noord van Durban, is steeds vanoggend aan die gang.

Een van die werkers het aan die Business Day gesê die beton was nie “hard” nie en daarom het die vloer meegegee.

Hulle het deurnag gewerk op soek na werkers wat dalk nog vasgekeer is. Die derde vlak het ineengestort en op werkers op die tweede vlak geval. Dié vlak het daarna ineengestort.

Lede van die polisie se soek- en reddingseenheid tesame met snuffelhonde soek na oorlewendes.

Oudio-toetse is ook gedoen om reaksie te probeer kry van enige vasgekeerdes. Een persoon is dood en dertig beseer toe die gebou wat onder konstruksie is, ingetuimel het.

Twee mense is kritiek, en een van die pasiënte is na Nkosi Albert Luthuli Sentrale Hospitaal deur die KZN EBW lugambulans gebring.

Agt mense is ernstig beseer en 18 het ligte beserings opgedoen. Ander is vervoer na Umhlanga-hospitaal en Tongaatkliniek.

Dit is steeds onduidelik hoeveel werkers op die konstruksieterrein was ten tyde van die ongeluk.

Ondersoek gaan intussen ingestel word na waarom bouwerk voortgegaan het ten spyte van regstappe oor die beweerde verontagsaming van bouregulasies.

Die adjunkburgemeester van Ethekwini, Nomvuzo Shabalala sê die hof is verlede maand genader om bouwerk aan die winkelsentrum te keer. Geen planne vir die bouerk is deur die owerhede goedgekeur nie.

Verkeer is baie druk in die gebied en die mense is gister aangemoedig om weg te bly om noodvoertuie deur te laat.