praag.co.za

Tag: aardbewing

  • Kragtige aardbewing skud Suider-Afrika

    ‘n Kragtige aardbewing van 6,5 op die Richterskaal het ‘n yl bevolkte gebied in Botswana Maandagaand geskud. Geen sterftes is aangemeld nie.

    Die skudding was sowat 230 kilometer noordwes van Gaborone en was op ‘n diepte van 29 kilometer. Die skudding om 20 voor agt gisteraand is tot in buurlande gevoel.

    Verskeie berigte is ontvang dat die skudding duidelik in Gauteng gevoel kon word. In Johannesburg is twee geboue as voorkomingsmaatreël ontruim.

    ‘n Seismoloog van die raad van geo-wetenskap, Dr. Martin Brandt, sê die skudding om agt minute oor vyf, was inderdaad ‘n aardbewing. Brandt sê egter daar is nie rede tot kommer nie.

    Hy sê die aardbewing van 4,6 se epi-sentrum was in die Klerksdorp-omgewing in Noordwes. Dit is so ver as Welkom in die Vrystaat en Pretoria en Johannesburg in Gauteng gevoel.

    Noordwes se regering het bevestig dat ‘n aardbewing in die vroeë oggendure van Maandag 5.2 op die Richterskaal geregistreer het.

    Die aardbewing was 5 km onder die aarde se oppervlak en sy episentrum was binne 8 km van die Noordwes dorpie Stilfontein.

    LUR Galaletsang Gaolaolwe sê die provinsiale rampbestuur se span is gestuur om die situasie te evalueer.

    ESKOM het bevestig dat daar slegs ‘n kragonderbreking was wat reeds reggestel is. Die Kamer van Mynwese en die Departement van Minerale Hulpbronne het ook bevestig dat daar geen beserings was nie.

    Kragtige aardbewings in Suider-Afrika is ‘n seldsame verskynsel. Mosambiek het in 2006 deurgeloop onder ‘n skudding van 7,5 waarin vier mense omgekom het.

  • Man met outisme het Nieu-Seelandse skudding voorpel

    Man met outisme het Nieu-Seelandse skudding voorpel

    Drie weke gelede het ‘n man wat aan outisme ly, Frankie MacDonald in ‘n video gewaarsku van ‘n moontlike aardbewing “wat enige tyd binnekort Nieu-Seeland sal tref”.

    Frankie, ‘n Kanadees, het heeltemal korrek voorspel dat die aardbewing “7.0 of groter in omvang” sal wees.

    Hy het ook gewaarsku dat die mense van Nieu-Seeland moet voorberei en dat die aardbewing spesifiek Christchurch Nieu-Seeland sal tref, een van die stede wat tans swaar ly onder die ramp.

    Elektrisiteitstoevoer is in baie gebiede onderbreek en talle hoofweë en paaie is gesluit.

    Hoewel die aanvanklike waarskuwings van ’n tsoenami landwyd in Nieu-Seeland teruggetrek is nadat ‘n aardbewing wat 7,8 op die Richterskaal geregistreer het die land getref het, het die regering inwoners gemaan om weg te bly van kusgebiede.

    Volgens die New Zealand Herald is meer as 100 naskokke gevoel. John Key, Nieu-Seelandse eerste minister, het gesê nog sterftes kan ná die kragtige skudding verwag word, nadat twee mense die lewe gelaat het.

    Key het aan joernaliste gesê hulle volg nog die besonderhede oor die noodlottige gevalle op. Volgens die koerant is die een oorledene aan ’n hartaanval dood en die ander persoon het in ’n geskiedkundige gebou omgekom.

    Militêre helikopters is na die kusgebied en toeristedorp van Kaikoura, sowat 91 km van die middelpunt van die aardskudding, gestuur, in die noord-noordooste van Christchurch op Suid-Eiland om inwoners en toeriste te ontruim.

    Die dorp was weens die skudding afgesny.

    Die grootste skade is in Wellington aangerig waar paaie en geboue beskadig is en inwoners is gemaan om uit die middedorp te bly.

    Skole in Noord-Canterbury en Wellington was Maandag gesluit.

  • Groot skade nadat Italië weer geskud word

    Groot skade nadat Italië weer geskud word

    ‘n Aardbewing wat 6,6 op die Richterskaal gemeet het, het Italië Sondag­oggend weer geskud.

    Verskeie gebou in hierdie streke is deur die bewing in puin gelê. Aanvank­lik is die bewing op 7,1 gestel, maar dit is later aangepas. Dit was 1,5 kilometer diep.

    Nog geboue, waaronder historiese ou kerkies in verskeie klein dorpies, is verwoes. Daar was geen onmiddellike berigte van besering nie, maar die skade was groot.

    Dit het voorgekom in die sentrale dele van die land, het Amerika se geologiese opnamekantoor gesê.

    Die middelpunt van die skudding was 68 kilometer oos-suidoos van Perugia en volg na ‘n reeks aardbewings Woensdag in Sentraal-Italië.

    Geen sterftes en min ernstige besering is teen Donderdagoggend vroeg aangemeld.

    Volgens die Amerikaanse Geologiese Opname het die eerste aardbewing 5,4 gemeet, die tweede 6,1 en die derde 4,9.

    Sowat vyf uur ná die eerste skudding het Fabrizio Curcio, hoof van burgerlike beskerming, gesê talle mense is beseer van wie vier ernstig is. 

  • Aardskudding tref Tanzanië

    Aardskudding tref Tanzanië

    Minstens 13 mense is dood en 203 beseer toe ’n ­aardbewing van 5,7 op die Richterskaal die ­noordweste van ­Tanzanië getref het, het plaaslike owerhede Saterdag aan die nuusagentskap AFP gesê.

    Deodatus Kinawilo, ­distrikskommissaris van Bukoba, ’n dorp naby die middelpunt van die aardbewing, het gesê die situasie is tans kalm en onder beheer.

    Sommige mense is reeds uit die hospitaal ­ontslaan.

    Inwoners van Bukoba het vroeër gesê ­sommige ­huise het ingestort, en ­Augustinus ­Ollomi, die ­Kagera provinsie ­polisiehoof in beheer van die distrik Bukoba, het gesê “reddingsoperasies is aan die gang”.

    Volgens die Amerikaanse Geologiese Opname was die middelpunt van die aardbewing sowat 25 kilometer oos van die noordwestelike stad van Nsunga op die grens van die Victoriameer.

    Die skudding is in Rwanda, Uganda en Kenia ook gevoel.

  • Minstens 247 mense dood na aardbewing in Italië

    Minstens 247 mense dood na aardbewing in Italië

    ’n Aardbewing het ’n aantal dorpe in die bergagtige sentrale deel van Italië in puin gelê en inwoners onder hope rommel vasgekeer. Minstens 247 mense het omgekom en talle is vermis.

    Die aardbewing het in die vroeë oggendure van Woensdag plaasgevind toe die meeste mense geslaap het. Wonings is in puin gelê en paaie is onbegaanbaar gemaak in dorpe en nedersettings ongeveer 85 kilometer noordoos van Rome.

    Nooddienste het ’n lugfoto vrygestel wat toon dat hele gebiede van die dorp Amatrice, platgevee is met rommel wat die strate in nabygeleë Accumoli vol lê.

    “In die daglig kan ons sien dat die situasie veel erger is as wat ons vermoed het, met geboue wat in duie gestort het, mense wat vasgekeer is onder die rommel en geen geluid van lewe nie,” het Accumoli se burgemeester, Stefano Petrucci, gesê.

    Wye krake was sigbaar in die mure van geboue wat staande gebly het.

    Inwoners het met hul kaal hande in die rommel gegrawe voor nooddienste met toerusting en snuffelhonde bystand verleen het.

    Aangesien dit somer is, is die inwonertal in die gebied aansienlik hoër as in die res van die jaar, met baie toeriste en besoekers wat hulle in die landelike gebied bevind het.

    Amptenare sê ses mense is dood in Accumoli en ’n verdere ses in Amatrice. Sky Italia televisie het berig dat tien mense in die nabygeleë nedersetting, Pescara del Tronto, dood is. Nagenoeg 100 mense was in die nedersetting Arquata del Tronto vermis.

    “Driekwart van die dorp is nie meer daar nie,” het Amatrice se burgemeester, Sergio Pirozzi, aan die staatsuitsaaier, RAI gesê.

    “Die oogmerk is nou om soveel lewens as moontlik te red. Ons hoor stemme onder die puin en ons moet daardie mense red,” het hy gesê.

    ’n Reuters-verslaggewer het berig dat die hospitaal erg deur die aardbewing beskadig is en dat pasiënte na die strate verskuif is.

    Die aardbewing het skade in drie streke, Umbrië, Lazio en Marche veroorsaak.

    Volgens die Amerikaanse geologiese opnamediens, het die aardbewing 6,2 op die Richterskaal geregistreer en was die middelpunt naby die stad, Norcia in Umbrië.

    Die skade is vererger omdat die middelpunt redelik vlak, ongeveer vier kilometer onder die oppervlak, voorgekom het.

    Italië is op twee foutlyne geleë wat dit een van die mees seismies-aktiewe lande in Europa maak.

    Die laaste groot aardbewing was in 2009 toe meer as 300 mense in die sentrale stad, L’Aquila, gesterf het.

  • Dodetal in Ekwador-aardbewing styg

    Dodetal in Ekwador-aardbewing styg

    Die dodetal in die aardbewing in Ekwador in Suid-Amerika is opnuut opwaarts aangepas nadat dit intussen weer skerp gestyg het, het RSG berig.

    Berigte is ontvang van bevestiging deur Ekwador se president, Rafael Correa dat die dodetal nou op 272 staan.

    Die skudding het 7,8 op die Richterskaal gemeet, sowat 160km van die hoofstad Quito.

    Reddingswerkers en troepe soek steeds na moontlike oorlewendes van eergister se aardbewing waarin meer as 2500 mense beseer is.

    Tienduisend soldate en 3500 polisielede is ontplooi te midde van die omvanryke skade.

    Brûe het meegegee en woonstelgeboue het onder andere ingetuimel.

    Die adjunkpresident, Jorge Glas het bevestig dat internasionale hulp aangebied is.

  • Reddingsoperasie sluit na Taiwan-aardbewing

    Reddingsoperasie sluit na Taiwan-aardbewing

    Die reddings­operasie ná die verwoestende aard­bewing in Taiwan het Saterdag tot ’n einde gekom.

    Die massiewe aardbewing het die Wei-guan Goue Draak-gebou in Taipei in duie laat stort. Die aardbewing het vroegoggend op 6 Februarie plaasgevind en het 6.4 gemeet.

    Die finale dodetal staan op 116. ‘n Derde van die slagoffers was jonger as 25.

    Van die 289 mense wat uit die puin gered is, is 175 lewend gevind en 96 is na ’n hospitaal geneem.

    Reddingswerkers het die afgelope week gesoek na die geregistreerde inwoners van die gebou wat vermis is.

    Openbare woede oor die strukturele gebreke van die toringgebou het intussen toegeneem.

    ‘n Saak van strafbare manslag word teen drie mense ondersoek in verband met die ineenstorting van die gebou nadat vasgestel is dat die staal in die beton vervang is met blikkies en sponsplastiek.

    Inwoners wag nou dat die stadsowerhede die gebied ontsmet.

  • Tulbach geskud

    ‘n Aardbewing het Tulbagh en Saron Woensdag weer eens geskud.

    Tulbach is in 1969 deur ‘n verwoestende skudding in puin gelê, ‘n ramp wat bejaarde inwoners nog onthou.

    Die aardbewing het 3,7 op die Richterskaal gemeet en sowat 10 sekondes lank geduur. Dorpe so ver as Paarl en Melkbosstrand het ook die trillings waargeneem.

    Klaarblyklik voel inwoners al die afgelope maand waarskuwingstrillings.

    Die Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende munisipale bestuurder, Anelene de Beer, het aan Netwerk24 gesê geen skade of beserings is aangemeld nie.

  • Tsoenami-waarskuwing na aardbewing by Chile

    Drie mense is dood toe ’n aardbewing wat 8.3 op die Richter-skaal gemeet het, neffens die kus van Chili aangeteken is.

    Geboue in die hoofstad Santiago het geruk en tsoenami-waarskuwings is uitgereik aan Chili, Peru, Frans-Polinesië en die Amerikaanse deelstaat Kalifornië.

    Die president van Chili, Michelle Bachelet, het aangekondig dat sy die gebiede sal besoek wat die ergste getref is.

    Dit is die ergste aardbewing wat Chili in vyf jaar tref. Dit het ook ernstige vloede in sommige kusdorpe veroorsaak.

    ’n Vrou (26) is dood toe ’n muur op haar ineengestort het en ’n ander persoon is aan ’n hartaanval dood. Dit is nog nie bekend gemaak hoe die derde persoon dood is nie.

    Die aardbewing is tot sover as Buenos Aires in Argentinië gevoel en het ook verskeie huise en geboue beskadig en mense beseer.

    Die kusdorp Coquimbo is deur golwe so hoog as 4,5 m getref, het Chili se vloot bekend gemaak.

  • Aardbewing tref DRK

    ‘n Aardbewing van 5,6 het in die vroeë oggendure in die oostelike deel van die Demokratiese Republiek van die Kongo getref.

    Op Vrydag, plaaslike tyd, teen ‘n relatief vlak diepte van 10 km, het die Amerikaanse Geologiese Opname Donderdag berig dat die aardbewing na aan die land se grens met Rwanda voorgekom het.

    Die aardbewing het 39km noord van Bukavu, plaasgevind, het die USGS gesê.

    Die USGS aanvanklik berig die aardbewing het 5,8 op die Richterskaal gemeet.

    Verdere besonderhede is nog nie beskikbaar nie.

  • Skudding tref Tokio

    ‘n Aardbewing met ‘n voorlopige sterkte van 5,6 op die Richterskaal gemeet het die Japanse hoofstad, Tokio, en omliggende gebiede vroeër geskud.

    Die land se meteorologiese agentskap sê dit was nie nodig om ‘n tsoenami-waarskuwing uit te reik nie.

    Die episentrum was net noordoos van Tokio, maar geen onmiddellike berigte oor skade of ongevalle is ontvang nie.

  • Nepal weier Britse helikopters in rampgebied

    Drie Chinook-helikopters wat deur die Britse leër gestuur om met noodleniging in die aardbewing-geteisterde Nepal te help, en gestrand was in Chandigarh in Noord-Indië, is onverrigter sake terug na Brittanje.

    Volgens vroeëre berigte het die regering van Nepal toegang vir die helikopters geweier.

    Groot verwarring heers blykbaar oor die redes vir die weiering. Die Indiese regering sê die weiering het niks met politiek te make nie.

    Die Indiese minister van Inligting sê daar is gewoon nie plek op lughawe se aanloopbaan in Katmandoe vir die groot heli’s nie, maar volgens Britse bronne is daar oorgenoeg plek omdat die Chinooks ook op die gras neffens die teer kan land.

    Volgens Chinese bronne wil die Indiese regering egter nie ‘n Britse of ‘n Amerikaanse militêre teenwoordigheid in die rampgebied hê nie.

    Die Indiese ministerie van Buitelandse Sake het ook ‘n Amerikaanse versoek om ‘n lugbeheersentrum in Nepal op te rig, geweier.

  • Nog ‘n aardbewing skud Nepal

    Nog ’n aardbewing­, wat 7,3 op die Richterskaal geregistreer­ het, het Nepal geruk.

    Bevreesde inwoners van die land se hoofstad, Katmandoe­, het gister verskrik in die strate uitgehardloop.

    Die aardbewing het om 12:35 plaaslike­ tyd die Himalajas-nasie­ getref. Die middelpunt van die aardbewin­g was ongeveer 76 kilomete­r oos van Katmandoe.

    Die jongste skok vir die land kom skaars twee weke nadat ’n 7,8-aardbewing­ die lewe van meer as 8 000 mense geëis het.

    Die trillings in Katmandoe het byna ’n minuut lank geduur.

    Die aardbewing is so ver soos die Indiese hoofstad, Nieu-Delhi­, ongeveer­ ’n 1 000 kilometer­ verder, gevoel.
    Teen gistermiddag is berig dat vier mense gesterf het.

    Nóg ’n aardbewing, wat 5,6 op die Richterskaal geregistreer het, het Nepal enkele minute later getref.

    Hele nedersettings is in die aardbewing­ van 25 April in puin gelê en tienduisende mense is dakloos gelaat.

    Reddingswerkers van oor die wêreld werk steeds om water, kos en mediese bystand aan Nepal ná die eerste aardbewing te lewer.

  • Hulporganisasie weet nie 3 van SA word vermis nie

    Die hulpverleningsorganisasie, Gift of the Givers, is nie bewus van drie Suid-Afrikaners wat moontlik nog in Nepal vermis is nie, met die amptelike dodetal wat die 7 500 kerf verbygesteek het.

    Gift of the Givers-stigter, Imtiaz Sooliman, se komentaar volg nadat die Nepalese weermag gesê het die drie is onder 105 mense van wie daar nog nie rekenskap gegee is nie. Dit is volgens die jongste statistieke van ‘n sentrale koördineringsentrum in Katmandoe.

    Volgens die weermag is sommige dorpe in bergagtige gebiede heeltemal onder modderstortings begrawe.

    Sooliman sê hy het nog niks gehoor van drie vermiste Suid-Afrikaners nie, maar indien dit wel so is, is hulle bereid om hulp te verleen, al is hul span op pad terug na Suid-Afrika.

    Die Nepalese weermag sê volgens die jongste statistieke van ‘n sentrale koördineringsentrum in Katmandoe, is die drie onder 105 mense van wie daar nog nie rekenskap gegee is nie.

    Die woordvoerder van die Suid-Afrikanse departement van Internasionale Betrekkinge, Nelson Kgwete sê egter daar is rekenskap gegee van al die Suid-Afrikaners op sy lys.

    Vroeër is die bergklimmer, Sarah Khumalo per helikopter van die berg Everest na veiligheid gebring.