Leeu wat man aanval in Nairobi geskiet

’n Man is die week in die buitewyke van Kenia se hoofstad, Nairobi deur ’n leeu aangeval en beseer waarna natuurbewaarders die leeu van kant gemaak het.

Dit is die vierde keer vanjaar dat leeus buite die Amboseli Nasionale Park in Kaijado rondloop en die tweede keer in twee weke dat iemand deur ’n leeu aangeval en beseer word.

Die donkermaanhaar-leeumannetjie is in ’n beboude gebied in die suide van die hoofstad doodgeskiet, het AFP berig.

’n Woordvoerder van Kenia se afdeling vir natuurbewaring, Paul Udoto, sê die beseerde man is na ’n nabygeleë hospitaal geneem.

In vorige voorvalle vanjaar is die leeus óf teruggejaag na die 117 vierkante kilometer natuurreservaat óf het die diere self na die park teruggekeer.

Die reservaat is byna heeltemal omring deur die vinnig groeiende stad met meer as drie miljoen mense.
Die park is nie heeltemal omhein nie ten einde ruimte te laat vir die tradisionele migrasie van diere op soek na weiding.

Die groot katte is onder toenemende druk van een van Afrika se vinnigste groeiende stede wat inbreuk maak op eeue ou migrasieroetes en jagvelde.

SANParke in Suid-Afrika het intussen gesê die rondloperleeu, Sylvester, sal slegs van kant gemaak word as laaste uitweg.

Die bewaringsowerheid het gister planne aangekondig om Sylvester uit te sit wanneer hy weer gevang is, maar dit het tot ‘n hewige reaksie in die sosiale media gelei.

Die leeumannetjie het Maandag vir die tweede keer uit die Karoo Nasionale Park naby Beaufort-Wes ontsnap. Hy is nog nie weer gevang nie.

‘n Woordvoerder van SANParke, Wanda Mkutshulwa, sê daar is verskeie opsies beskikbaar waarvan een is om die leeu na die wildtuin terug te neem.

Hulle kan dit ook oorweeg om die leeu na een van hulle ander nasionale parke te verskuif. n Derde opsie is om Sylvester aan ‘n ander staats- of nie-staatsinstansie te skenk.

‘Samelewing ag leeu hoër as mens’

Dit is betreurenswaardig wanneer die samelewing ’n vlak bereik waar ‘n leeu se waarde hoër is as die van ’n mens.

Dit is volgens toerismekenner, Melville Saayman, en volg op die omstredenheid rondom die onwettige doodmaak van Cecil die leeu deur die Amerikaanse jagter Walter Palmer, verlede maand.

Saayman het kommentaar gelewer nadat dié gebeurtenis in ‘n mediasirkus van emosiebelaaide onsinnighede ontaard het.

Saayman het verder gesê die herrie rondom die Zimbabwiese maanhaar is ironies, gegewe die lot van hongerlydendes in dié land en ander Afrika-lande.

Saayman meen verder dit is sleg dat die jagbedryf soveel negatiewe aandag kry.

Hy sê renosterjag behoort eerder beperk te word aangesien die renoster só bedreig word. Saayman sê trofeejag is baie meer as net leeujag of die Groot Vyf.