praag.co.za

Tag: Leeus

  • Leeuteel: Jagters gebraai, maar stropers nie

    Leeuteel: Jagters gebraai, maar stropers nie

    ‘n Toerisme deskundige, Melville Saayman sê, om volhoubare toerisme en ekonomiese groei in Suid-Afrika te verseker, moet ‘n leeuteelprogram ontwikkel word.

    Saayman het al voorheen oor die implikasies van die jag van leeus in gevangenskap gepraat.

    Sekere vyandige nieregeringsorganisasies wil kwessies rakende die jag van sulke leeus en ander roofdiere vir kommersiële doeleindes by die 2016 Internasionale Unie van Natuurbewaring se World Conservation Congress wat tans aan die gang is in die VSA, aan die groot klok hang.

    Die aktiviste het al groot skade aan Suider-Afrika se beeld as ‘n jag- en toersite bestemming berokken met histeriese veldtogte soos dié een van Cecil die leeu wat deur ‘n Amerikaanse tandarts in Zimbabwe geskiet is.

    Die tandarts, Walter Palmer, word nou verantwoordelik gehou vir die uitroei van wildlewe oor die hele kontinent, waarskynlik omdat hy wit en welvarend is. Die aktiviste rep nie ‘n woord oor swart stropers (foto bo) nie, die werklike probleem.

    Saayman sê ‘n duidelike onderskeid moet getref word tussen geblikte jag en die jag van diere in gevangenskap.

    Die jongste verslag oor spesiegetalle in Suider-Afrika toon dat Suid-Afrika en Namibië die enigste twee lande is waar wild toeneem. Die res van Afrika ervaar hoë vlakke van stropery en ‘n afname in die aantal wilde diere.

    Dit impliseer dat uit ‘n bewaringsoogpunt doen wild in Afrika oor die algemeen nie goed nie en een van die redes hiervoor is omdat jag, ook geblikte jag, groot waarde skep wat help met bewaring.

    Maar anti-jag aktiviste glo dat fotografiese safari’s ‘n natuurlike en ‘n beter plaasvervanger sal wees.

    Die werklikheid is dat dit nie maklik is om jagters met fotografiese toeriste te vervang nie omdat fotojagters baie minder bestee as jagters. Laasgenoemde vereis ook ‘n groot mate van vaardigheid, iets waaroor ‘n toeris met ‘n kamera nie beskik nie.

    Kenia is ‘n goeie voorbeeld van waar ‘n verbod op jag totaal misluk het. In die 1970’s het Kenia olifantjag verbied nadat hul getalle afgeneem het. Dit het egter geen verskil gemaak aan die groot spelers in ivoorhandel nie.

    Ivoor ervaar steeds so ‘n groot aanvraag dat amptenare maklik omgekoop kan word. Vandat die verbod in plek gestel is, word drie keer die aantal olifante geskiet of in strikke gevang, ‘n ramp vir bewaring en toerisme.

    ‘n Verbod op jag is nie die antwoord op die kwessies wat deur beide die anti-jagvoorstanders en sekere Britse bewaringsinstansies geopper word nie.

    Daar is baie voorbeelde in Suid-Afrika wat bewys dat goed bestuurde jag ekonomiese voordele genereer asook bydra tot bewaring. Die gevaar is dat redelike argumente op dowe ore sal val.

  • Leeu verskeur kind op wildplaas

    Leeu verskeur kind op wildplaas

    Die polisie in Parys ondersoek ‘n saak van strafbare manslag nadat ‘n 12-jarige seun verskeur is deur leeus by die Otavi-wildplaas buite Parys.

    Daar word beweer dat die oorledene, Nkalamelo Latha, een van die plaaswerkers om die plaas vergesel het.

    Die werker het in die leeukamp ingegaan saam met Nkalamelo. Die leeus het glo ontsnap uit hul voedingsarea en die plaaswerker en die swart kind aangeval.

    Die plaaswerker het daarin geslaag om te ontsnap sonder beserings maar Nkananelo was nie so gelukkig nie. Hy het aan sy wonde beswyk.

    Volgens die polisie was Nkananelo ‘n weeskind wat by sy suster en haar man gewoon het, ‘n toesighouer by Otavi.

    Die plaasbestuurder, Ina Human, sê ‘n man in sy 30’s, wat in hul diens was vir die afgelope ses maande het die sleutel tot die hok gesteel en toegang verkry. Sy sê hulle is hartseer oor die voorval.

    “Die polisie sê dit is verskriklik nalatig van hom om ‘n kind in ‘n leeukamp te neem. Ons maak altyd seker dat die hok ten alle tye gesluit is. Niemand kan die hok ingaan nie… Ons maak seker dat dit altyd toegesluit is, altyd. Dat die vereiste veiligheidsmaatreëls in plek is. Ek kan nie verstaan ​​waarom hierdie man besluit het om die sleutels te steel om by die hok in te gaan nie,” sê Human.

    Die ondersoek duur voort.

  • Slegte week vir leeus in Kenia

    Slegte week vir leeus in Kenia

    Verlede week was ‘n slegte week om ‘n leeu in Kenia te wees.

    Donderdag is ‘n tweejarige leeu bekend as Lemek dood aangetref, met ‘n spies deurboor, het die Kenya Wildlife Service gesê.

    Die tweede dooie leeu kom net ‘n dag nadat veldwagters van die diens ‘n ander leeu, Mohawk doodgeskiet het omdat hy glo ‘n swarte van sy motorfiets gestamp het.

    Die swarte het vermoedelik self afgeval van skrik, maar het nogtans die leeu blameer vir sy geringe beserings.

    Die spoor- en pad-projek wat sny deur die hart van ‘n natuurreservaat, Nairobi Nasionale Park, aan die buitewyke van die hoofstad, veroorsaak dat die leeus probeer om te ontsnap op soek na stiller jagvelde, volgens Reuters.

    Beide leeus is in die suide van die park, gestig in 1946, doodgemaak. Die park word tans omring deur krotbuurte.

    “Voor die konstruksie in die park begin het, het die leeus nie ontsnap nie, so daar is aanduidings dat die geraas en skietwerk hul bewegings beïnvloed,” sê Robert Ndetei, bewaringbestuurder by die Nairobi-kantoor van die World Wildlife Fund.

    Die moorde het min verontwaardiging uitgelok, in teenstelling met wêreldwye woede-uitbarstings oor ‘n wit Amerikaanse tandarts ‘n leeu met ‘n kruisboog doodgeskiet het.

    Walter Palmer is selfs deur die Zimbabwiese polisie in verband met aanklagte van stropery gesoek. Die Huisgenoot het selfvoldaan na die tandarts verwys as “die mees gehate man in die wêreld”.

    Theo Bronkhorst, ’n professionele jagter van Zimbabwe en eienaar van Bushman Safaris in Bulawayo, moes ook in die hof verskyn het op ’n aanklag van die stroop van ene Cecil.

    Die oud-CNN-aanbieder Piers Morgan het getwiet : “Ek sal graag die moordenaar-tandarts dr. Walter Palmer gaan jag sodat ek hom kan opstop en op my kantoormuur kan monteer.”

    Die TV-persoonlikheid Sharon Osbourne het op Twitter getwiet sy hoop dat Palmer sy huis, praktyk en geld verloor aangesien hy “reeds sy siel kwyt is”.

    “Walter Palmer is Satan. Ek weet nie hoe enigiemand ná dít vir tandheelkundige dienste na die man kan gaan nie. Hy is ‘n moordenaar,” het sy in ‘n daaropvolgende twiet gesê.

    Richard Dawkins het alle trofeejagters as “sleg” uitgekryt en “olifant- en renosterstropers is nog erger” het hy getwiet.

    Die Suid-Afrikaanse supermodel Candice Swanepoel en die Namibiese model Behati Prinsloo was ook besonder vyandig.

    “Hoe durf jy, Walter Palmer! Watter plesier kry jy deur so iets te doen? Dit is ‘n seën om die diere lewendig in hul natuurlike habitat te sien. Jy moet siek wees om so ‘n majestueuse skepping van God te wil doodmaak,” het Swanepoel gesê.

    Prinsloo het ​op Instagram uitgevaar: “Verveelde idiote wat dink dat trofeejag ‘n sport is, moet gestop word. Hoe kan ons steeds mense toelaat om hierdie ongelooflike diere te jag.”

    In teenstelling word die swart plakkers in Kenia wat dié diere doodmaak, nie deur die media of bekendes veroordeel nie. In plaas daarvan word liters ink verspil oor die onafwendbaarheid van die leeus se krimpende habitat.

  • Stropers se gif lei tot bewaringstragedie

    Stropers se gif lei tot bewaringstragedie

    Stropers gebruik deesdae gif teen wild in Suid-Afrika se Nasionale Parke.

    Die Kruger Nasionale Park (KNP) het Saterdag op ‘n olifantkarkas, 110 dooie witrugaasvoëls, twee leeumannetjies en twee jakkalse afgekom wat weens wildvergiftiging gevrek het.

    Daar is nog net 1 000 aasvoël-broeipare in die Nasionale Kruger Wildtuin oor. Die meer as 100 aasvoëls wat nou vergiftig is, is ‘n bewaringstragedie.

    Die olifantkarkas is gevind met geweerskote in sy kop, sy tande is verwyder en gif is daarop gekry. Aasdiere in die omgewing van die olifantkarkas is vergiftig nadat hulle van die blootgestelde dele van die karkas gevreet het.

    “Dit wil voorkom asof stropers hulself tot wildvergiftiging in die Nasionale Parke en ander beskermde gebiede in Suider-Afrika gewend het en ons natuurlewe daarmee wil verwoes. Wildvergiftiging is nie net ‘n bedreiging vir ons biodiversiteitbates nie, maar ‘n enkele voorval kan honderde spesies beïnvloed,” het ‘n bestuurder van die park gesê.

    Hy het gesê deur in te meng met die duur van die diere se lewensiklus, is hul ekologiese rol beïnvloed.

    Verlede jaar het die Park ‘n soortgelyke voorval aangemeld waarin een olifant en vier Afrikaleeus dieselfde oorgekom het, met 46 aasvoëls en 1 Bateleur wat ook aan vergiftiging gevrek het.

    In nog ‘n voorval van doelbewuste vergiftiging van rooijakkalse en ander klein roofdiere in die Addo Olifant Nasionale Park in 2014, is dieselfde werkswyse om wild dood te maak deur middel van vergiftiging, opgemerk.

    Die anti-stropereenheid se vinnige reaksie het verhoed dat die uitkoms nog erger kon gewees het.

    Alhoewel vergiftiging op ‘n lae vlak teenwoordig is, is dit ‘n werklike probleem in buurlande soos Mosambiek en Zimbabwe.

  • Strenger Amerikaanse wetgewing kan leeujag knou

    Strenger nuwe Amerikaanse wetgewing rakende die invoer van leeu-trofeë gaan ’n beduidende impak op die Suid-Afrikaanse toerismebedryf hê.

    Dit is volgens Melville Saayman, toerismekenner verbonde aan die NWU se Potchefstroomkampus.

    Sy kommentaar aan OFM volg nadat dit bekend gemaak is dat die nuwe wetgewing op 22 Januarie in werking sal tree.

    Saayman meen dit gaan ’n direkte invloed hê op die inkomste wat gegenereer word uit jag, veral omdat leeus so gesog vir trofeë is.

    “Dis eintlik ons grootste bron van inkomste as jy na enkele items kyk. So dit gaan vir seker ‘n invloed daarop hê. Ek dink wat amper vir my nog meer belangrik is, is die feit dat as Amerika hierdie tipe van aksies loods, het dit gewoonlik ‘n afwentelingseffek op ander lande.

    “So ons kan dalk sien dat meer lande so ‘n tipe van reaksie gaan toon, wat dan natuurlik die effek baie groter gaan maak as wat ons dit op die oomblik gaan voel.”

  • ‘Samelewing ag leeu hoër as mens’

    Dit is betreurenswaardig wanneer die samelewing ’n vlak bereik waar ‘n leeu se waarde hoër is as die van ’n mens.

    Dit is volgens toerismekenner, Melville Saayman, en volg op die omstredenheid rondom die onwettige doodmaak van Cecil die leeu deur die Amerikaanse jagter Walter Palmer, verlede maand.

    Saayman het kommentaar gelewer nadat dié gebeurtenis in ‘n mediasirkus van emosiebelaaide onsinnighede ontaard het.

    Saayman het verder gesê die herrie rondom die Zimbabwiese maanhaar is ironies, gegewe die lot van hongerlydendes in dié land en ander Afrika-lande.

    Saayman meen verder dit is sleg dat die jagbedryf soveel negatiewe aandag kry.

    Hy sê renosterjag behoort eerder beperk te word aangesien die renoster só bedreig word. Saayman sê trofeejag is baie meer as net leeujag of die Groot Vyf.

  • Jericho springlewendig maar Cecil morsdood

    Jericho springlewendig maar Cecil morsdood

    Die beheerliggaam van Zimbabwe se nasionale parke, Zimparks, en navorsers wat die leeus in die Hwange nasionale park bestudeer, het gerugte ontken dat die leeu, Jericho, broer van Cecil, ook doodgeskiet is.

    Die Zimbabwiese bewaringtaakspan, ‘n omgewingsgroep, het konsternasie onder diereliefhebbers wêreldwyd veroorsaak toe dit Saterdag op Facebook aangekondig het dat Jericho ook ‘n onwettige jagter ten prooi geval het.

    Zimparks het Sondag egter die gerugte die nek ingeslaan en laat weet dat “die leeu bekend as Jericho lewendig is en deur die Lion Reseach Project gemonitor word.”

    ‘n Ander Amerikaanse trofeejagter het glo in April sonder ‘n permit ook ‘n leeu gejag.

    Volgens ‘n verklaring van die Zimbabwiese regering het die ondersoek na onwettige jag sedert Cecil se dood tot die inhegtenisname van die safari-organiseerder, Headman Sibanda, gelei.

    Sibanda se kliënt was ‘n Jan Casmir Sieski van Pennsylvania wat die leeu op Sibanda se plaas gejag het.
    Wye beperkinge op jag rondom die Hwange nasionale park is Saterdag deur die owerhede aangekondig.

    Die jag op leeus, luiperds en olifante in die omgewing van die wildreservaat in die weste van Zimbabwe is verbied asook die gebruik van pyle en boë, die items waarmee Cecil geskiet is.

    Zimbabwe se beroepsjagters waarsku dat ‘n algehele verbod op trofeejag ‘n negatiewe invloed op wildbewaring in die land sal hê.

    Die regering het die naweek aangekondig dat ‘n moratorium geplaas word op die jag van leeus, luiperds en olifante in die Hwange gebied nadat die jag van die twee leeus onlangs opslae gemaak het.

    Die dood van Cecil die leeu het ‘n debat oor trofeejag ontketen wat druk op die Amerikaanse regering plaas om die invoer van trofeë te verbied.

    Die voorsitter van Zimbabwe se beroepjagsters-vereniging, Louis Muller sê afgeleë gemeenskappe is afhanklik van die inkomste wat hulle uit jagters verdien, en sal andersins met mekaar om skaars natuurlike hulpbronne moet meeding.

    Die Amerikaanse lugredery, Delta het intussen die jongste redery geword wat ‘n verbod plaas op die vervoer van wildlewe-trofeë.

    Die besluit volg ná opslae wêreldwyd oor die jag van leeus.

    Delta sê hy sal nie langer die oorskot van leeus, luiperds, renosters en buffels op sy vlugte vervoer nie. Die redery vlieg na verskeie stede in Afrika, waaronder Johannesburg.

    Intussen is ‘n leeuwyfie deur wilde leeus in haar kamp doodgebyt. Sy is deur mense grootgemaak.

    Thembile se aanvallers het lank saam met haar in die kamp deurgebring.

    Die private wildspark Gweru, het gesê dat hulle “met skok en diepe hartseer” van die voorval kennis geneem het.

  • Zim, Botswana kondig jag-beperkings aan

    Zim, Botswana kondig jag-beperkings aan

    Zimbabwiese owerhede het beperkings op jag rondom die land se grootste wildreservaat aangekondig as gevolg van die “omstredenheid” wat veroorsaak is nadat die bekende leeu Cecil deur ’n Amerikaanse tandarts doodgemaak is, het News24 berig.

    “Die jag van leeus, luiperds en olifante buite die Hwange Nasionale Park word onmiddellik gestaak,” het Edson Chidziya, die hoof van die Zimbabwiese parke- en -wildleweagentskap (ZPWA) gesê.

    Jagtogte met pyl en boog is ook verbied, behalwe met spesiale toestemming deur dié owerheid se hoof.
    “Sulke jagtogte sal nét deur geskrewe toestemming deur die direkteur-generaal van Zimbabwe se Parke en Wildsbestuursowerheid mag plaasvind,” het Chidziya gesê.

    Die ZPWA het Amerika Vrydag amptelik versoek om die jagter wat die swartmaanhaarleeu, geskiet het, uit te lewer.

    Zimbabwe kan nie toelaat dat “ryk, buitelandse stropers” sy wild steel nie. “Ons vra daarom dat Amerika (dr. Walter) Palmer aan ons uitlewer sodat hy hier vir sy daad kan kom boet.”

    Die Regering van Botswana het dit ook duidelik gemaak dat sportjagters nie welkom is nie.

    Regeringswoordvoerder Jeff Ramsay het gesê sportjag is nou verbied in Botswana en verlede jaar het die regering opgetree om te verseker dat Botswana se leeus en ander groot karnivore vir die sogenaamde “geblikte jag” nie na Suid-Afrika of enige ander land uitgevoer word nie.

    Hy het Zimbabwe geloof vir hul “flinke” optrede. Ramsay sê die enigste plekke waar “uitbuiting” kan voorkom is op private wildsplase.

    Hy het benadruk dat die regering geen jaglisensies uitreik nie.

  • Harry se raadgewers skarrel om redes vir besoek op te dis

    Prins Harry het dié week ’n hamburger as wegneemete by ’n eetplek op Mariental bestel.

    Dit lyk asof sy Britse raadgewers skielik skarrel om redes vir sy besoek aan te dik, nadat hy in Namibië opgemerk is.

    Sy toergroep het met ’n wit LandCruiser­ met ’n Gautengse registrasiemer­k gereis. Niemand mag foto’s van die koninklike neem nie.

    “Hy was saam met vier mans en ’n Suid-Afrikaner daar,” het die bestuurder­, mnr. Stefan Nel, aan Marzanne Schoeman, ’n kadetverslaggewe­r van Republikein gesê.

    “Prins Harry het ’n wit hemp, donker kakiebroek en lekker vellies aangehad­. Hy is ’n oulike ou, baie plat op die aarde en het grappies met die mense gemaak.”

    Volgens Nel was prins Harry omstreeks­ 17:30 in die eetplek.

    Prins Harry is glo “in die Suide” saam met die ministerie van die omgewing­ en toerisme vir navorsingsdoeleindes­.

    Hy het ook ’n besoek aan die Red die Renosterfonds (SRT) gebring, asook die Woestynleeu Navorsingsprojek van dr. Flip Stander om meer van die verskillende projekte uit te vind.

    Die Woestynleeu Navorsings­projek­ het nogal die woestynleeu­mannetjie­, Xpl-94, The Prince gedoop. Die dier is met ’n nuwe satellietnekband­ toegerus. The Prince is die welpie van die leeuwyfie Nina (Xpl-49).

    Dr. Pete Morkel is glo die befaamde veearts saam met wie prins Harry reis.

    “Die Woestynleeu Navorsingsprojek­ bedank dr. Pete Morkel, Tommy Hall en die SRT vir hul hulp,” is op die webtuiste te sien.

    ’n Betroubare bron wat teenwoordig was, beskryf ook die prins as “baie aangenaam en plat op die aarde”.

    Prins Harry het glo verlede Woensdagaand­ met ’n vlug van Air Namibia, ekonomiese klas, in Namibië aangekom, is op Twitter getwiet. Dit dui daarop dat sy besoek geheim moes wees.

    Verlede Donderdagoggend het die prins inkopies op Omaruru gedoen waar mee. Hanni Griebel en Edna Botha koninklike handdrukke van hom gekry het en die aap uit die mou gelaat het.

  • Leeu wat toeris doodbyt nie van kant gemaak

    Die leeu wat ‘n Amerikaanse toeris in die Leeupark in Johannesburg doodgebyt het, sal nie van kant gemaak word nie.

    Die vrou is gistermiddag aangeval toe sy en ‘n manlike metgesel met ‘n motor in die park gery het. Haar venster was oop toe die leeu haar aangeval het.

    Die bestuurder van die Leeupark, Scott Simpson, het diereliefhebbers gewaarsku om die reëls na te kom as hulle parke en wildplase besoek.

    Simpson sê die leeu sal waarskynlik na ‘n ander park verskuif word. Hy sê hulle het nog ‘n stuk grond met heelwat diere.

    Volgens die SABC sal die leeu moontlik daarheen geneem word aangesien daar nie besoekers is nie.

  • Trop buffels soek skuiling in dorp

    Wildbewaarders moes ‘n groot trop buffels uit die Zimbabwiese toeristedorpie, Victoria Falls verjaag, het RSG berig.

    Plaaslike inwoners sê die buffels is deur ‘n trop leeus in die dorp ingejaag.

    Die buffels het skuiling naby een van die hotelle in die middel van die dorp gesoek.

    Inwoners op die rand van die dorp kom baie met diere in aanraking, maar gevaarlike diere kom selde tot in die kern van die dorp.

  • Bees Roux keer tot rugby terug en swart gesin vergewe hom

    Bees Roux keer tot rugby terug en swart gesin vergewe hom

    Bees Roux
    Bees Roux

    Bees Roux sal binnekort as slot vir die Goue Leeus uitdraf, terwyl die familie van die swart metropolisieman van Pretoria, Johannes Nshimane Mogale, hom “onvoorwaardelik vergewe het”.

    In 2010 het die rugbyspeler die 38-jarige sersant op straat in Hatfield doodgeslaan en die jaar daarop in 2011 ‘n opgeskorte vonnis van 5 jaar tronkstraf ontvang. Van die voorwaardes van sy pleitooreenkoms was dat hy R750 000 se vergoeding aan Mogale se gesin betaal.

    Die breier van die Leeus, Johann Ackermann, het Maandag bevestig dat Roux (31) heel moontlik as slot gekies vir dié span gekies sal word tydens die komende Curriebekerseisoen. Volgens Manie Booysen, die uitvoerende hoof van die Goue-Leeus-rugbyunie (GLRU), is daar “tegnies gesproke hoegenaamd geen beletsel om Bees te kies nie. Dit sal jammer wees as mense sy betrokkenheid nou verkeerdelik wil beoordeel. Die ou het mos berou gehad.”

    Die unie het Roux self genader omdat hy tans probleme ondervind om sy slotposisies te vul. Roux sal tydens die Curriebekerreeks per wedstryd betaal word en het reeds gister saam met die res van die span in Johannesburg geoefen.

    “Ons kies hom ter wille van rugby en om geen ander rede nie. Hy is ‘n slot wat beskibaar is noudat hy van oorsee af teruggekeer het,” meen die afrigter, Johann Ackermann. Ons is in ‘n penarie aangesien daar geen ander spelers met ons ‘n kontrak geteken het nie, dus wil ons hom graag in die span intrek en kyk hoe dit gaan.”

    Die briewe waarin die Mogale-gesin hul vergiffenis aan Bees Roux uitspreek, het dit vir die unie makliker gemaak om na Roux as speler te kyk.

    “Ons het twee briewe wat uit 2011 en 2013 dateer, waarin die ouers en die gesin persoonlik hul seën daaroor uitspreek dat hy rugby speel en waarin hulle hom selfs vir Suid-Afrika wil sien speel,” het Ackermann gesê.

    “Dit het ons ‘n taamlik positiewe uitkyk gegee aangesien hulle (die familie) gewillig is om hom te vergewe en hom ‘n tweede kans in die lewe te bied.”

    ‘n Maand nadat hy op die aanklag skuldig gepleit het, het die Bloubulle-rugbyunie Roux weens kontrakbreuk afgedank en hy het later ‘n kontrak met die Franse klub, die Bordeaux-arende, opgeneem.

    In 2012 het hy by die Italiaanse span Treviso aangesluit, vir wie hy tot aan die einde van vanjaar se Europese seisoen gespeel het, terwyl hy ook in die Suid-Afrikaanse Barbare-span in hul wedstryd teen Saracens in Mei uitgedraf het.

    Pas nadat hulle ‘n plek in die 2014-Super-Rugby-toernooi deur ‘n punteverskil met die Suidelike Konings in hul promosie-relegasiewedstryde behaal het, bevind die Leeus hul in ‘n krisis wat die slotposisie betref.

    Kaptein JC Janse van Rensburg, wat die hoofanker in die voorry vir die Leeus was, het die span verlaat om vir Bayonne in Frankryk te gaan speel, terwyl Julian Redelinghuys oor die naweek ‘n langtermynbesering opgedoen het.

    “Ons kyk daarna om nog ‘n slot van iewers af te leen aangesien ons tans net drie fikse slotte in Ruan Dreyer, Jacques van Rooyen and CJ van der Linde het,” het Ackermann gesê.

    James Adams, Roux se agent, het gister gesê geen kontrak is gefinaliseer nie en hy onderhandel ook met ’n ander unie wat in Roux se dienste belangstel.

    Adams het toegegee plaaslike unies is versigtig om ’n kontrak met Roux te sluit.

    Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) meen die GLRU oortree geen regulasies met Roux se toevoeging tot hul oefengroep nie.

    “Daar is niks wetliks of grondwetliks wat spanne daarvan weerhou om spelers met ’n misdaadgeskiedenis te kies as hulle wil nie,” was Saru se kommentaar.

    Roux was nie giste vir kommentaar beskikbaar nie. – praag en Sapa

  • Leeus terug in Super Rugby

    Leeus terug in Super Rugby

    'n Leeus-ondersteuner op Ellispark
    ‘n Leeus-ondersteuner op Ellispark

    Die Leeus het gister hul weg terug na Super Rugby gevind, ondanks die loesing van 23-18 teen die Southern Kings tydens hul tweede promosie-relegasiewedstryd op Ellispark.

    Die Kings moes met meer as agt punt wen om in Super Rugby te bly, maar kon nie genoeg krag monster om hul oor die finale hekkie te loods nie.

    Dit is vooraf as een van dié wedstryde van die seisoen aangekondig. Maar die wedstryd het ietwat lusteloos begin vanweë die vele hanteerfoute wat in die eerste helfte gemaak is.

    Terwyl die Leeus die wedstryd as die oorweldigende gunstelinge aangepak het ná hul oorwinning verlede Saterdag in Port Elizabeth, het die Kings vroeg in die wedstryd die oorhand verkry.

    Die besoekers het in die 11de minuut die eerste punte aangeteken met Scott van Breda wat ‘n strafskop verdoel het.

    Van Breda het drie minute later die voorsprong vergroot, maar het die geleentheid verbrou om nog drie punte teen die 20-minute-merk in te oes.

    Terwyl Van Breda taamlik sukses met sy skoppe pale toe behaal het, het die Leeus se losskakel, Elton Jantjies met sy visier pale toe gesukkel.

    jantjies het drie van sy pogings pale toe verbrou, maar wat uiteindelik nie ‘n groot invloed op die spel sou hê nie.

    Desnieteenstaande sy sukkelende skopwerk, was die losskakel se balverspreiding flink en het hy die agterlyn op die voorvoet gehad.

    In die 23ste minuut het die Leeus hul eerste geleentheid verkry om die Kings se voorsprong te laat krimp, maar Jantjies se skop het kort van die dwarslat geval.

    Sewe minute later het hy egter geslaag en was sy span binne drie punte van die kusspan.

    Die tuisspan het toe vir die eerste keer in die wedstryd die voorsprong geneem, toe Derick Minnie vyf minute voor halftyd ‘n doel vanaf ‘n losskrum ná ‘n lynstaan aangeteken het, met Jantjies wat die doelskop verbrou.

    Die Kings het egter die laaste sê in die wedstryd gehad to Van Breda ‘n minuut voor pouse ‘n strafdoel behaal, wat die besoekers ‘n geringe eenpuntvoorsprong besorg het.

    Ná halftyd het die Leeus daarin geslaag om weer voor te kom deur ‘n strafdoel (11-9).

    Die Leeus se selfvertroue het toegeneem en sodoende het hulle hul tweede doel van die wedstryd aangeteken toe Jaco Kriel sy pad oor die doellyn baan, met Janjties wat met die skop slaag om ‘n negepuntvoorsprong te bewerkstellig.

    Die tuisspan se geluk het egter begin draai toe die senter Stokkies Hanekom met ‘n geelkaart vir ‘n pootjieduikslag in die 67ste afgestuur is.

    Een minuut later het die Kings se slot Schalk Ferreira hom oor die doellyn gewerp, met Van Breda wat oorskop om hul agterstand tot twee punte te verklein.

    Met sewe minute op die horlosie oor, het die Kings weer punte aangeteken met Van Breda wat ‘n doel in die hoek druk en self met die doelskop slaag. Daarmee was die besoekers vyf punte voor.

    Maar die oorwinning sou vir die Kings bittersoet wees, aangesien hulle agt punte nodig gehad het om on Super Rugby aan te bly.

    Toe die skeidsregter Stuart Berry die einde van die wedstryd aankondig, bars Ellis Park los met die Queen-liedjie, We are the champions wat deur die stadion weergalm.

    As referee Stuart Berry signaled the end of the match Ellis Park erupted with Queen’s We are the Champions echoing through the stadium.

    Punte deur:

    Leeus 18 (8): Doele: Derick Minnie, Jaco Kriel. Doelskoppe: Elton Jantjies. Strafskoppe: Jantjies (2)

    Southern Kings 23 (9): Doele: Schalk Ferreira, Scott van Breda. Doelskoppe: Van Breda (2). Strafskoppe: Van Breda (3). – sapa

  • Leeus was rateltaai op Ellispark

    Leeus was rateltaai op Ellispark

    Waar was hierdie Leeus die hele jaar? Gister op Ellispark, teen die WP, was hulle die ene koning van die bosveld. Bygesê, by tye het hulle minder vuilbaard as ratel, en durf mens dit sê, Springbok, gelyk. Dit was juis die ratel in hulle wat hulle na ‘n skynbaar fatale verrinnewering laat terugkom het. Dit was, van alle mense, die wêreld se langste senter en deeltydse lynstaanspringer, Andries Bekker, wat hulle eers diep gekwes het. Net ná ‘n minuut se speeltyd het hy homself, bal onder die arm, in oopveld gevind en het hy die afstand doellyn toe met kameelperdtreë weggehark voordat hy platgetrek is, maar nie voordat hy die bal uitgewip het na Juan de Jongh vir ‘n skokdrie heel aan die begin van die wedstryd nie.

    Die Leeus het hulleself van die grond opgetel, afgestof en van heel voor af begin. Hulle het ‘n beloninkie gekry toe losskakel Herkie Kruger drie punte met ‘n strafskop vervaardig het. Nie lank daarna nie was dit wéér die kameelperdagtige Andries Bekker wat deur ‘n gaping gegalop het en dié keer vir sy petit blonde heelagter die bal met ‘n oop doellyn gegee het. Pietersen het sy eie drie verdoel en ‘n strafskop bygevoeg. WP was skielik 17-3 voor, twee drieë duskant ‘n eerste plek op die log.

    Dis egter toé dat die ratel in die Leeu ontwaak het, en die Springbok ook. Want as dit die rateltaaiheid was wat hulle laat terugbaklei het, was hulle taktieke reg uit die Springbok-handleiding vir 2009. Hulle het ‘n net om die WP in dié se kwartgebied getrek en stelselmatig, versmorend aangeval. Dit het uiteindelik twee Doppies le Grange-drieë opgelewer om die spanne as’t ware voor te laat begin met ‘n gelykoptelling vir rustyd.

    Die WP, met die halfeinddrome blykbaar in die kleedkamer uit hulle geskree, het die tweede helfte teen topversnelling begin en weereens was dit die Kameelperd wat die Leeus amper vertrap het. Dié keer was dit die spokerige Joe Pietersen wat om die verdediging gedwaal het om vir Bekker die bal te gee om te skoert vir die doellyn. Hy is egter ingehaal en neergekerf. Die Transvalers het hulle doellyn soos leeuwyfies verdedig en gewys hulle kan self venynig op die aanval wees. Die eerste drie van die helfte is naderhand deur Dusty Noble gedruk. Kruger het dit verdoel, wat beteken het dat die Rooibontes 21 punte sonder ‘n repliek van die WP aangeteken het.

    Die WP het ‘n laaste pyl uit die koker getrek en François Louw het op die golf van ‘n voorspelerstorm losgebreek om ‘n drie te druk. Dít en ‘n Pietersen-strafskop het die WP met ‘n nippertjie laat voorloop totdat Chris Jonck ‘n mediumafstandstrafskop oor die dwarslat gestoot het. Die Transvalers het ‘n laaste dieregestalte vertoon toe hulle soos ietermago’s walgegooi het om met 27-25 deur te skraap.

    Die Leeus het vier maande om oor hulle sondes te dink. As hulle nie ‘n paar visse deur die vingers laat glip het vroeër in die seisoen nie, sou hulle waardige halfeindrondtemededingers gewees het. Soos hulle gister en verlede week gespeel het, is dit nie ondenkbaar dat hulle Sir Don se koppie Ellispark toe kon bring nie. Nou ja, hierdie spyt kom te laat.

    En die WP? Volgende week kyk hulle ‘n omgekrapte Blou Bul tussen die horings. Gister was moontlik net die eerste nederlaag in twee weke vir hulle.

    silver wedding jewelryАлександр Фильчаков