VSA ontplooi troepe ‘om skoolmeisies te soek’

Van bokwagters tot plofstofdeskundiges
Boko Haram: Van bokwagters tot plofstofdeskundiges?

Die VSA het sy troepe in Tsjad ontplooi om glo na die skoolmeisies wat in Nigerië ontvoer is, te help soek.

Die Verenigde State van Amerika sal 80 militêre personeellede en ‘n Predator-tuig na Tsjad stuur as deel van ‘n poging om ‘n vastrapplek in die streek te kry.

Die onbemande verkenningstuig sal aansluit by soortgelyke tuie wat in Niger glo deelneem aan die soektog.

Die Amerikaanse ontplooiing in Tsjad is deur die War Powers Act Woensdag moontlik gemaak.

Tsjad se weermag word beskou as een van die bestoegeruste in sub-Sahara-Afrika. Die land is tans in staat om duur buitelandse intervensies te finansier sonder Westerse hulp danksy sy olie-inkomste.

‘n Resolusie deur die Afrika-unie (AU) het reeds die sukses in Afrika van Tsjad se militêre strategie om homself internasionaal onontbeerlik te maak, geloof. Die AU beoog trouens om Tsjad se kandidatuur vir ‘n nie-permanente setel in die Veiligheidsraad van die VN in 2014/15 te ondersteun.

Alhoewel die Weste steeds ‘n belangrike belegger en handelsvennoot in Tsjad is deur die Tsjad-Kameroenpyplynprojek, het China baie meer langtermyn-ontwikkelingshulp aan die land beskikbaar gestel en die oliesektor aansienlik uitgebrei.

Vir China is Tsjad ‘n belangrike bron van olie en ‘n suksesverhaal van Chinese invloed in die hele streek.

Tsjad se minister van finansies het vroeër aangekondig dat hy verwag dat olie-uitvoere sal verdriedubbel teen 2015.

Die Amerikaanse President, Barack Obama het sy Kongres ingelig dat die gewapende magte betrokke sal wees by intelligensie, waarneming en verkenning ten opsigte van missies in noord-Nigerië en omliggende gebiede.

Hy het aan die Kongres gesê dat die soldate in Tsjad sal bly totdat hulle hulp met die opsporing van die meer as 200 meisies nie meer nodig is nie.

Amerika het vroeër die jongste bomaanvalle in Jos in Nigerië skerp veroordeel waartydens minstens 118 mense dood is.

Die militante groep, Boko Haram, wat glo deur die Weste befonds word, word vir dié terreurdaad verantwoordelik gehou.

Die ontvoerings het straks ‘n handige rede verskaf vir Amerikaanse militêre ingryping in die streek.

Zuma kritiseer Veiligheidsraad as ‘ondemokraties’

unsc2President Jacob Zuma het die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad as ‘oud‘ en ‘ondemokraties‘ bestempel voor ‘n beraad van wêreldleiers in New York.

Die Business Day het Zuma aangehaal waar hy sê die huidige Veiligheidsraad is “uitgedien“.

Ontwikkelende lande het ‘n oproep vir die hervorming van die Veiligheidsraad gedoen. Sedert die Tweede Wêreldoorlog is vetoreg oor wesenlike besluite tot vyf permanente lede beperk, naamlik die Verenigde State van Amerika, Brittanje, Frankryk, Rusland en China.

“Jy het ‘n situasie waar diegene wat oor vetoreg beskik meer oor oorlog as vrede praat,” het Zuma gesê aan Suid-Afrikaanse joernaliste by die aanvang van die byeenkoms van die VN se Algemene Vergadering hierdie week.

“Jy het ‘n minderheid wat die laaste sê het en ongelukkig nie meer help nie. Dit is eintlik besig om deel van die probleem te word,” het hy gesê, en die Raad se optrede oor die konflikte in Irak en Libië oor die afgelope tien jaar afgekeur.

“As klein lande glo ons dat die reëling onregverdig is, dit is ondemokraties, dit is nie goed nie.” Sapa/AFP

Suid-Afrikaner sterf ná Al Kaida-groep weerwraak in Nairobi belowe

Die grusame Twitterfoto
Die grusame Twitterfoto

Buitelandse militêre magte ondersteun sedert 2011 Keniaanse troepe teen die al-Shabab-rebelle in Somalië. Al-Shabab is aan Al Kaida verbonde.

‘n Keniaanse militêre woordvoerder, majoor Emmanuel Chirchir, het twee jaar gelede gesê “een van die vennote”, moontlik die Verenigde State van Amerika of Frankryk, het lugaanvalle geloods wat die dood van ‘n aantal al-Shabab-militante veroorsaak het. Die Franse vloot het rebelle se posisies vanaf die see aangeval, het die Keniaanse weermag destyds in ‘n verklaring gesê .

Twee senior Amerikaanse amptenare in Washington het egter gesê dat nóg die Verenigde State van Amerika of die Sentrale Intelligensie-agentskap lugaanvalle teen Somalië geloods het.

Amerikaanse amptenare in Kenia het geweier om kommentaar te lewer . ‘n Franse diplomaat in die Verenigde State van Amerika het nie op telefoonoproepe gereageer nie.

Indien Western militêre magte inderdaad die konflik betree het, sê ontleders, kan dit ‘n keerpunt verteenwoordig. Die groep beheer die suide van Somalië.

“Almal is in die [oorlogs]teater,” het Chirchir in ‘n telefoniese onderhoud bevestig. Die Amerikaanse weermag het voorheen aanvalle in Somalië geloods.

Amerikaanse amptenare was in 2011 bekommerd oor die vooruitsig dat al-Shabab militante in Kenia se hoofstad, Nairobi, sal wraak neem, en moontlik op Westerlinge fokus en het waarskuwings gerig dat inkopiesentrums moontlike teikens mag wees..

Die Keniaanse leër is tans gewikkel in ‘n stryd om die jongste gyselaarsdrama in ‘n winkelsentrum in Nairobi te ontlont. Ontploffings en geweervuur is sedert gisteraand al ‘n paar keer gehoor. ‘n Onbekende aantal mans, wat aan die militante groep al-Shabab verbonde is, hou nog sowat 10 gyselaars aan.

Die jongste dodetal is 69, maar polisiebronne vrees dat die dodetal baie hoër kan wees. ‘n Suid-Afrikaner is ook in die aanval dood.

Die Suid-Afrikaanse burger, James Thomas van Kaapstad, is glo tydens die aanval doodgeskiet. Thomas was in Kenia op ‘n sakebesoek vir die maatskappy, EcoVentures International.

Ander Suid-Afrikaners wat aanvanklik in die winkelsentrum vasgekeer was, is luidens berigte later bevry.

Sowat 10 gyselaars word nog in die winkelsentrum aangehou. Die Keniaanse weermag sê hulle doen alles in hul vermoë om die oorblywende gyselaars lewend uit te bring.

Die meeste van die gyselaars wat in die winkelsentrum vasgekeer was, is gered en die grootste gedeelte van die kompleks is beveilig.

Al-Shabab het in Januarie vanjaar ‘n foto van ‘n vermeende Franse spesmagsoldaat wat vermoor is in mislukte aanval, op Twitter rondgestuur om die Franse president te tart.

Die dooie Franse soldaat is met sy vermeende wapens en toerusting afgeneem.

Drie foto’s opgelaai wat ‘n wit man toon geklee in ‘n militêre broek en ‘n bloed-deurweekte hemp omring deur drie gewere, ammunisie en beskermende toerusting. ‘n Helm lê tussen sy bene.

In elk van die foto’s is ‘n silwer hangertjie, ‘n kruisie, om die soldaat se nek sigbaar. Al-Shabab het in sy boodskap gesê: “‘n Terugkeer van die Kruistogte, maar die kruis kon hom nie red van die swaard nie.“

Chemiese aanval in Sirië eis meer as 1000 lewens

Damaskus
Damaskus

Die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad het gesê ‘n verduideliking is nodig oor ‘n beweerde chemiese wapenaanval op burgerlikes in die voorstede van Damaskus Woensdag. Die Raad het nie uitdruklik gevra vir ‘n ondersoek deur die VN-ondersoekbeamptes in Sirië nie.

Die aanval kom te midde van ‘n besoek van VN-inspekteurs aan Sirië om bewerings van chemiese aanvalle deur sowel regerings- as rebellemagte te ondersoek en word beskryf as die ergste nog in die konflik wat reeds 29 maande duur.

Meer as 1 300 mense is Woensdag dood in aanvalle naby Damaskus.

Die Veiligheidsraad het na ‘n noodvergadering gesê duidelikheid oor die aanval sal verkry moet word.

Terwyl die Raad nie uitdruklik om ‘n VN-ondersoek gevra het nie, het die VN se sekretaris-generaal Ban Ki-moon daarvoor gevra. Lede wat graag Westerse ingryping in Sirië wil sien, het die oproep verwelkom.

“Die lede van die Veiligheidsraad verwelkom ook die vasberadenheid van die sekretaris-generaal om ‘n deeglike, onpartydige en vinnige ondersoek te verseker,” het Argentinië se VN-ambassadeur, Maria Cristina Perceval, voorsitter van die raad van hierdie maand gesê.

Sirië se opposisie het die Siriese president Bashar al-Assad se magte daarvan beskuldig dat hulle honderde mense, soveel as 1300, tydens ‘n aanval Woensdag dmv gas gedood het. Assad se regering ontken die gebruik van chemiese wapens.

Die Verenigde State van Amerika, Brittanje en Frankryk is van die sowat 35 lande wat vra dat die hoofondersoekbeampte Ake Sellstrom en sy span in Sirië die voorval so gou as moontlik ondersoek.

VN-diplomate egter gesê dat Rusland en China gekant was teen taal wat ‘n duidelike oproep vir ‘n VN-ondersoek bevat. ‘n Vroeëre Westerse verklaring, gesien deur Reuters, het gevra dat die Verenigde Nasies “dringend die stappe wat nodig is neem sodat die aanval ondersoek word deur die VN-sending.”

Rusland se ministerie van buitelandse sake het vir ‘n eerlike en professionele ondersoek gevra na berigte dat troepe lojaal aan Assad verantwoordelik vir die vermeende aanval was.

Moskou meen dat rebelle die beweerde aanval kon uitgevoer het om internasionale optrede uit te lok.

Dit was nie onmiddellik duidelik hoe die Siriese regering sal reageer op versoeke dat Sellstrom se span die beweerde voorval ondersoek nie.