Media gewaarsku om nie polisie se buitery te rapporteer nie

Regstellende inkopies
Regstellende inkopies

Kenia se polisiehoof het gedreig om joernaliste in hegtenis te neem ná berigte oor grootskaalse buitery deur veiligheidsmagte tydens die terreuraanval op die Westgate-winkelsentrum verlede maand in Nairobi verskyn het.

Genl. David Kimaiyo het Donderdag aan joernaliste gesê dit is “baie duidelik dat daar ’n beperking is” op mediavryheid.

“Ons kyk na individue binne die wet wat op die een of ander manier misdade gepleeg het… Hulle sal binnekort in hegtenis word en voor die hof verskyn, waar hulle die gevolge sal moet dra,” het Kimaiyo gesê.

“Julle het nie nodig om Keniane aan te hits nie, julle het nie nodig om verklarings uit te reik wat neerkom op haatspraak nie,” het hy bygevoeg.

Kringtelevisie-beeldmateriaal wys hoe lede van die veiligheidsmagte met plastieksakke uit ’n supermark in die Westgate-winkelsentrum stap kort nadat die vermeende Al Sjabaab-rebelle op omstanders begin skiet het.

Sommige winkeleienaars sê hul winkels is heeltemal geplunder.

Kenia se weermaghoof, Julius Karangi, hou egter vol dat soldate nie geplunder het nie, maar slegs koeldrank in die supermark gevat het om “hul dors te les”.

In ’n poging om te verduidelik hoekom ander items gevat is, het Karangi dit “sanitasie om hul veiligheid te verseker” genoem.

Verskeie eienaars het aan AFP gesê dat hulle die winkels gesluit het voordat hulle gevlug het.

Met hul terugkeer was die winkels egter heeltemal geplunder en waardevolle items soos juwele, selfone en elektriese ware was vermis. – Sapa/AFP

Noorweër by terreuraanval in Nairobi betrek

Abdukadir Mohamed Abdukadir
Abdukadir Mohamed Abdukadir

Noorweë se intelligensie-agentskap, PST,  het ‘n ondersoek begin om vas te stel of een van dié land se burgerlikes betrokke was in die bloedbad in die Westgate-winkelsentrum in Nairobi, Kenia, in September.

Al Sjabaab, wat bande met Al-Kaïda het, het verantwoordelikheid aanvaar vir verlede maand se aanval, waarin minstens 67 mense gesterf het.

“Gegrond op die inligting dat ‘n Noorweër dalk betrokke was in die aanval op ‘n winkelsentrum in Kenia drie weke gelede, het PST besluit om ‘n ondersoek te begin,” lui ‘n verklaring van die agentskap. – Sapa/AFP

Kenia: Die raaisel bly verdiep

Uhuru kry 'n blaaskansie in Den Haag
Uhuru kry ‘n blaaskansie in Den Haag

‘n Week is al amper verby sedert terroriste die Westgate-winkelsentrum in Nairobi aangeval het, maar die tergendste vrae bly steeds onbeantwoord.

Daar is nog geen amptelike dodetal nie. Die regering sê minstens 67 mense is dood, insluitende 61 burgerlikes en ses lede van die veiligheidsmagte. Die Keniaanse Rooikruis sê 61 mense word nog vermis. Wat het van die gyselaars geword?

Die Keniaanse ministerie van verdediging het gesê die meeste van die gyselaars is gered, maar kon geen syfers verskaf oor hoeveel gered is en hoeveel dood is nie. Alhoewel van die aangehoudenes glo gered is, het geen van hulle nog na vore gekom nie.

Die regering het daarop aangedring dat hulle Maandag “volle beheer” van die situasie geneem het. Eers 24 uur later, Dinsdagnag, het President Uhuru Kenyatta aangekondig dat sy magte die terroriste verslaan het.

Intussen is baie meer aandag gegee om Kenyatta en sy adjunk se verskyning op aanklag van misdaad teen die mensdom by die internasionale strafhof in Den Haag uit, of selfs af, te stel weens die aanval. Die dag ná sy aankondiging was daar steeds verslae van geweerskote by Westgate .

Wat het met die terroriste gebeur? Die regering het eers gesê dat vyf terroriste dood en 11 verdagtes in hegtenis geneem is. Teen Sondag was agt mense nog steeds in aanhouding in verband met die aanval en is drie na ondervraging vrygelaat  .

Verslae dui daarop dat tussen 12 en 15 aanvallers betrokke was by die aanval met intieme kennis van die gebou se planne en ontwerp. Soos met 9/11 in die VSA lyk dit onwaarskynlik dat ‘n gesofistikeerde aanval waar drie vloere ineenstort, deur “bokherders met NT-messe” uitgevoer is.

Dinsdag het die Keniaanse minister van buitelandse sake, Amina Mohamed, aan die Amerikaanse PBS-netwerk gesê twee of drie Amerikaners, en een Brits-gebore vrou, was onder die aanvallers. Dit is nie duidelik of hulle in aanhouding is nie.

Die Keniaanse regering is glo mislei deur ‘n vals Twitterprofiel wat die name van wit aanvallers uitgestuur het. Kan dit Samantha Lewthwaite ook insluit? Interpol het ‘n internasionale lasbrief vir Lewthwaite uitgereik nadat intelligensiebronne gesê het Lewthwaite was onder diegene wat deur die veiligheidsmagte doodgeskiet is.

Een amptenaar het gesê die ineenstorting van die gebou is veroorsaak deur terroriste wat matrasse aan die brand gesteek het, maar die omvang van die skade dui dat plofstof waarskynlik gebruik is.

‘n Anonieme amptenaar het daarna gesê dat die ineenstorting van die drie vloere deur die weermag veroorsaak is, maar hy wou nie sê wat die ineenstorting veroorsaak het nie. Die Keniaanse owerhede is glo ook vroegtydig oor die aanval ingelig, maar het versuim om op te tree.

Die onbeantwoorde vrae oor wat werklik in Kenia gebeur het, is kommerwekkend, veral omdat sekere stemme opgaan oor Suid-Afrika se betrokkenheid in die terreurketting, stemme wat self ‘n belang daarby mag hê omdat hulle nie deel van die staat is nie.

Dodetal in Keniaanse aanval kan verder styg

Slagoffers van die aanval in die parkeerterrein doodgeskiet
Slagoffers van die aanval in die parkeerterrein doodgeskiet

Buitelandse forensiese spanne help in Kenia met die uitkenning van die liggame van slagoffers van die naweek se aanval deur Al-Shabaab militante in die Westgate winkelsentrum in Nairobi.

Die dodetal kan vermoedelik verder styg met sowat 51 mense van wie daar nog nie rekenskap gegee kan word nie. Dit volg nadat drie vloere van die winkelsentrum ingetuimel het.

Die dodetal staan tans op 61 burgerlikes en ses soldate. Dit is Woensdag deur president Uhuru Kenyatta bevestig.

Volgens Kenyatta is 62 mense ook steeds in die hospitaal. Hy het vroeër drie dae van rou afgekondig.

Intussen beweer al-Shabaab dat van sy aanvallers steeds in die winkelsentrum is. Dit kon egter nog nie bevestig word nie en dit is ook onduidelik of hulle moontlik van die slagoffers in die puin is. – RSG