praag.co.za

Tag: Vryheidsfront

  • Vuurwapenwet: Staan saam en tree op, versoek ad hoc-groep

    Vuurwapenwet: Staan saam en tree op, versoek ad hoc-groep

    Die tyd het aangebreek vir organisasies om saam te werk om Suid-Afrika te versterk. Dit was die boodskap wat deur bykans alle rolspelers tydens gister se vergadering van die ad hoc-groep vir die beskerming van eiendomsreg bevestig is.

    Dié groep het besluit om alle belanghebbende groepe byeen te roep om die omstrede wetsontwerp oor vuurwapens te bespreek. Dié wysigings kom neer op ‘n vorm van onteiening van eiendom, waarteen die groep adviseer.

    Die ad hoc-groep vir die beskerming van eiendomsreg is ʼn informele groepering van organisasies, georganiseerde landbou en landbouverteenwoordigers, burgerlike en burgerregte instellings, opposisiepartye en akademici sowel as geloofsinstellings. Die groep vergader gereeld om enige beleidsraamwerke wat eiendomsreg mag skaad of ondermyn, te bespreek en onderlinge standpunte, aksies en inisiatiewe te oorweeg.

    “Dit was goed om ‘n uiteenlopende groep organisasies byeen te hê,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Wat baie duidelik na vore gekom het uit die groepe wat die byeenkoms bygewoon het en uit die kommentaar van mense wat dit deur sosiale media gevolg het, is dat daar nou daadwerklik opgetree moet word om te voorkom dat hierdie tipe wetgewing deurgevoer word.

    “Ons ervaar ernstige probleme met die administrasie en uitvoerbaarheid van bestaande wetgewing. Dit is dus belaglik om te dink nuwe wetgewing wat baie meer administrasie gaan verg, sal suksesvol geïmplementeer kan word.”

    TLU SA en die Vryheidsfront Plus het bevestig dat hulle die wetsontwerp totaal afkeur en hulle nie daaraan sal onderwerp nie.

    Die groep stem saam dat die wetsontwerp nog deur die parlementêre proses moet vorder, maar dat daar nou reeds voorsiening gemaak moet word vir komende regsaksies.

    “Intussen doen ons ‘n dringende beroep op alle Suid-Afrikaners om nie apaties te staan teenoor belangrike sake soos hierdie wat die basiese vryhede soos dié van keuse, aan bande lê nie. Raak betrokke, laat jou stem hoor, wees bewus van jou veiligheid en wat jou te doen staan.”

    Die groep het ook gemaan dat mense nie roekeloos moet optree nie, maar deel moet word van ‘n beheersde plan om hierdie wetgewing teen te staan.

  • Front Nasionaal: waarom ‘n nuwe party nodig is

    Front Nasionaal: waarom ‘n nuwe party nodig is

    Embleem van die nuwe politieke party
    Embleem van die nuwe politieke party

    Na afloop van ‘n debat op Facebook gisteraand, het mnr. Hannes Engelbrecht, leier van Front Nasionaal, die volgende verklaring uitgereik betreffende argumente wat tydens die debat gebruik is.

    1. Eenheid

    “Volkseenheid” en “saamstaan” is tot ‘n groot mate ‘n mite. Met die Groot Trek was daar talle trekleiers soos Tirchardt, Landman, Maritz ens. Plus sewe verskillende kerkgenootskappe. Teen die einde van die Tweede Vryheidsoorlog het tot soveel as 20% van die “Boere” as National Scouts en Hensoppers vir die Britse magte gewerk.

    Selfs met Republiekwording het Verwoerd skaars meer as 50% steun gehad. Die naaste wat ons nog ooit aan “eenheid” was, was in 1977 toe Vorster meer as 70% van die stemme getrek het.

    Ons is ‘n individualistiese volk (vanuit ons Franse erfenis) en pleks dat ons dit as ‘n swakheid moet beskou, moet ons dit eerder as ‘n sterkpunt beskou, want dit het nog altyd debat gestimuleer. Ons spits ons toe op daardie enersdenkendes wat dieselfde kultuur en Westerse lewensbeskouing het.

    2. Vryheidsfront

    Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus
    Dr. Pieter Mulder van die VF Plus, in koalisie met die ANC, ‘n multikulturele party.

    Elke politieke handboek en elke woordeboek in die hele wye wêreld sal dieselfde definisie gee as ‘n persoon van een party in ‘n ander party se regering dien: dis ‘n “koalisie”, “alliansie” of “pakt”. Jy kan die adjunkministerskap van dr Mulder versiersuiker soos jy wil en dosyne redes daarvoor aanvoer – dit bly ‘n feit. Dis ‘n koalisie met ‘n multikulturele party. Presies dieselfde met die “koalisie” wat nou voor die verkiesing met die oorwegend swart en multikulturele partye soos Cope aangekondig is. Hoe kan jy praat van selfbeskikking en terselfdertyd ‘n multikulturele koalisie goedpraat? Ons het geen probleem met die VF+ se geskrewe beleid of sy lede nie. Ons het wel ‘n enorme probleem met die siening van die leierskap.

    3. Deelname

    Front Nasionaal neem deel aan die verkiesing, nie om deel van ‘n multikulturele staat te word nie, maar om ten minste ons saak vir selfbeskikking op die internasionale toneel te plaas. Enigeen wat dink jy gaan iets regkry sonder internasionale steun en sonder instemming van die Verenigde Nasies is bietjie naïef. Die VN en wêreldregerings steur hulle eenvoudig nie aan kleiner groepies nie, maak nie saak hoe sterk jou saak is of hoe goed jou argumente is nie. Ons sal móét steun bewys vir selfbeskikking en die verkiesing as “referendum” is ‘n goeie begin. Vir iets om aan die VN voorgelê te word moet ‘n lidland van die VN die saak vir jou verder voer. Ons het reeds gesien hoe die Nederlandse en Vlaamse parlementslede van die Europese Parlement ons saak stel in 2012 en 2013. As die Franse Front Nasionaal en die Griekse Golden Dawn se parlementslede ons ook begin steun, word die saak al sterker. Ongelukkig is selfbeskikking ‘n “politieke saak” en Europese “politici” moet ons ondersteun; en politici verstaan net één ding: stemme vir ‘n saak tydens ‘n verkiesing.

    4. Nog ‘n party

    Sedert 1910 was daar nog altyd vier of vyf “wit” partye en dit het voortgeduur tot 1994. Sedertdien het ons baie buite-parlementêre partye en een parlementêre party – die Vryheidsfront. Ongelukkig is dit so dat jy nie uit blinde lojaliteit vir ‘n party moet stem nie. As die VF+ nie in 20 jaar uiting gegee het aan dít wat ons verwag nie, is dit tyd vir ‘n nuwe party. Nes die Mulders, Groenewalds en Boshoffs die reg het om ‘n politieke party te bedryf; net so het enigiemand anders ook die reg om ‘n politieke party te bedryf. Ons standpunt is dat as 10% van die bevolking wit is, daar darem seker 5% parlementariers moet wees wat na ons belange omsien? Wie gaan vir ons baklei teen regstellende aksie, kwotas, diskriminasie, swart ekonomiese bemagtiging?

    5. Geldsake

    Die DA gaan sowat R174m aan die verkiesing bestee. Dis aanvaarde praktyk (mens argumenteer nie eers daaroor nie) dat partye geld insamel vir hulle stryd. Selfs kleiner organisasies soos Boervroueliga, FAK, AWB samel geld in om hulle doelstellings na te streef. Front Nasionaal het die reg om verkiesingsgeld in te samel – ons het die reg om dit te bestee om ons beleid te bevorder. Dit het deur die eeue so gewerk en dit werk nog steeds so.

    6. Persoonlikhede

    FRONT NASIONAAL is nie rondom persoonlikhede gebou nie, want persoonlikhede het op die ou einde voete van klei. Ons dagbestuurslede is nie van dieselfde dorp/stad of selfs dieselfde provinsie nie. Ons is wyd versprei onder mense wat net dieselfde doel nastreef van oral in die land. Ons het ook die mees demokratiese Reglement van Orde van enige SA politieke party met ‘n stelsel van terugroeping/”recall” soos in die Voortrekker- en Boererepublieke gegeld het en wat nou nog in Swede en Switserland van krag is. Terugroeping beteken dat enige kongres van FN te eniger tyd met ‘n gewone meerderheidstem ontslae kan raak van enige verkose ampsdraer wat nie sy of haar werk doen nie. Daarby moet die dagbestuur elke drie jaar weer verkies word. FN wil nie mense in posisies plaas waar hulle vir twintig jaar sit en niks doen en jy kan nie ontslae raak van hulle nie.

    Ook ons aanwysing van kandidate is die modernste in die hele SA. Sewe dagbestuurslede oorweeg lyste as individue, waarna die sewe lyste gekonsolideer word. Daarmee keer ons dat families en vriende bevoordeel word. (Kyk gerus na die omstrede kandidatelys van die DA wat eintlik maar deur Zille opgestel is met haar voormalige woordvoerder en sekretaris wat hoog op die lys is). Van die Vryheidsfront se nepotisme gaan ek nie eers praat nie.

    7. Sosiale media

    Die sosiale media is hoog op ons prioriteitslys. Ons almal weet van Naspers se rol in 1994 se oorgawe en die rol wat hulle steeds speel. Vir die eerste keer in die laaste vyftig jaar bereik ons deur Facebook en Twitter meer mense as wat Naspers se Afrikaanse koerante bereik. Ons moet daarvan gebruikmaak. Beeld, Volksblad en Burger kan ons ignoreer soos hulle wil – ons boodskap gaan na honderde duisende mense toe. Natuurlik gaan almal wat jou boodskap kry nie vir jou stem nie, maar ten minste gaan hulle weet van jou; iets wat nie in die verlede die geval was nie.

    8. ‘n Wiskundige model

    ‘n Wiskundige model wat deur nagraadse studente van die PUK gebruik is, het gewys dat ons kan reken op omtrent 500.000 stemme. Ons nismark was daardie 800.000 mense wat “nee” gestem het tydens die 94-verkiesing. ‘n Meevaller is derduisende wat skielik moeg geraak het vir die DA en ook mense wat ontnugter is deur ander partye. Ons besef ons tyd is kort om verkiesing te veg en mense te oortuig. Ons het daarom nie ‘n idée hoeveel stemme ‘n mens regtig kan verwag nie. Ons sal enigiets bokant 50.000 as ‘n bonus beskou. Maar my hart is op ‘n halfmiljoen stemme en tien volksverteenwoordigers wat uit ons belastinggeld betaal word eerder as tien “multikulturele parlementariërs” van ander partye.

    9. Selfbeskikking

    Selfbeskikking gebeur nie oornag nie. Dit sal waarskynlik nie in my, dr Dan Roodt of Gordon Fox se leeftyd gebeur nie. Dis ‘n lang proses wat stapsgewys gevolg moet word. Eerste prioriteite is om beheer oor jou eie onderwys, kultuur en volkslewe te verkry. Om ‘n grondgebied te bepaal, was die werk van die Volkstaatraad – dit het ongelukkig nie gerealiseer nie. Ons sal moet om ‘n ronde tafel kyk na ons demografiese, stempatrone en geskiedkundige aansprake. Orania, Boererepublieke, Noord-Kaap, Ohrigstad, Oase; almal; sal moet insette lewer. Ons gaan beslis nie op ‘n klein plekkie sit en krepeer nie – daarvoor het ons voorouers te veel in hierdie land belê. Dit moet lewensvatbaar wees.

    10. Boer vs Afrikaner

    Ons stel nie belang in so ‘n debat nie. Dit is reeds in 1992/93 afgehandel en was een van die groot redes waarom die “Nee”-stem verloor het en ons in vandag se chaos beland het. Afrikaander is reeds in die 1700s gebruik. De la Rey se sekretaris het gepraat van Afrikaners. Ons was al Vryburgers, Voortrekkers, Boere, Afrikaners, Bittereinders… Boer is ‘n kulturele begrip en Afrikaner ‘n geskiedkundige begrip. Dis snaaks dat diegene wat nou die term “Boer” vir hulleself wil opeis en al die ander tot die hel wil verdoem, géén beswaar gehad het om tydens die Grensoorlog in die loopgraaf saam met die Kaapse Afrikaner, die Porra of die Soutie te lê nie! Hulle haal ook nie graag aan dat daar tydens die Vryheidsoorlog ‘n Ierse, Russiese, Buitelander- en Nederlandse kommando was wat saam met die Boere geveg het nie en dat tientalle Kaapse Rebelle deur die Britte tereggestel is nie.

  • Minister Davies sien nie wit plakkerskampe raak

    Minister Davies sien nie wit plakkerskampe raak

    robdaviesWit Suid-Afrikaners word nie verarm deur die beleid van breë swart ekonomiese bemagtiging (BSEB) nie, sê dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid.

    In ’n geskrewe vraag op ’n parlementêre vraag het hy Donderdag gesê: “BSEB se doelwit is nie die verarming van wit mense nie – dis ’n sake-imperatief wat daarop bemik is om maatskappye aan BSEB te laat voldoen ten einde die ekonomie te transformeer.”

    Sowel swart as wit maatskappye moet tot die transformasie van die ekonomie bydra, sê hy.

    “Bowendien is daar nie een wit mens wat verwarm is weens die bekendstelling en uitwerking van BSEB nie.”

    Die vraag is deur Anton Alberts van die Vryheidsfront gestel. Hy het ook gevra of die minister navorsing tot sy beskikking het oor enige “onbedoelde gevolge” wat voortgevloei het uit of steeds voortvloei uit bemagtigingsbeleid.

    Davies sê hieroor: “Daar was nog geen navorsing oor die onbedoelde gevolge van BSEB  met betrekking tot die verarming van wit mense nie; die departement sal enige studie vanaf die agbare lid verwelkom.” – Sapa

  • Vryheidsfront verloor op Naboom teen DA weens verdeelde regse stem

    Die Vryheidsfront Plus het gister tydens ‘n tussenverkiesing in wyk 4 ‘n neerlaag teen die DA in ‘n konserwatiewe Noord-Transvaalse kiesafdeling op Naboomspruit teen die DA gely deur met 582 stemme teen die DA se 665 te verloor. Van die party se organiseerders blameer Afriforum wie se voorsitter op die dorp, mnr. Philip van Staden, as onafhanklike kandidaat gestaan het en 278 stemme behaal het. Die ANC het 104 stemme ontvang en Cope 3.

    Mnr. Philip van Staden van die Vryheidsfront, wat die dr. Ilse de Beer se veldtog namens die Vryheidsfront vanuit Centurion kom ondersteun het, het in ‘n epos gesê: “Kryt my uit en sê my asseblief sleg, maar ek is klaar met DA-liberaliste en Afriforum-rugstekers. Ek hoop hierdie boodskap bereik hul ore.”

    Die Gautengse leier en LPW van die party, mnr. Jaco Mulder, het egter die party vir sy poging op Naboospruit in ‘n mediaverklaring gister geloof:

    “Die VF Plus het vandag ‘n beduidende prestasie behaal deur sy steunbasis in die wyk 4 Naboomspruit tussenverkiesing te behou terwyl DA steun met 16 persent gedaal het.

    “Die DA se kandidaat mnr Charl van der Merwe het 665 stemme op hom verenig terwyl die VF Plus se dr Ilse de Beer 582 behaal het.  Die uitslag is tekenend van ‘n nuwe wending in oposisie-politiek met ‘n groeiende bewuswording van die noodsaak om minderheidsregte te bevorder op plaaslike vlak deur middel van die politieke platform van die VF Plus.”

    Volgens ander lede van die party, sou die Vryheidsfront gewen het indien dit nie vir die onafhanklike kandidaat was nie. ‘n Gebelgde Vryheidsfrontlid het gesê: “As jy die Afriforum-kandidaat se stemme by ons s’n tel, sou ons met daardie syfer gewen het. Selfs die DA stem saam met ons, Afriforum het gesorg dat ons verloor.”

  • Malema kan geskiedenis meer as Mandela verander

    Malema kan geskiedenis meer as Mandela verander

    Miskien moet ‘n mens effe terugstaan en na die groter prentjie kyk, sover dit die huidige histerie rondom Julius Malema betref. Indien Malema regtig die myne wil nasionaliseer, behoort ons hom daarin te ondersteun.

    Dis waarskynlik ‘n gemeenplaas om te sê dat die Suid-Afrikaanse geskiedenis oor die afgelope 200 jaar bestaan het uit ‘n nimmereindigende mededinging tussen die Afrikaners, swart stamme en dít wat ‘n mens losweg die “Uitlanderelement” kan noem.

    Die koloniale mynhuise het tradisioneel die toppunt van Uitlander- en Britse mag in Suid-Afrika beliggaam. Sedert die Jameson-strooptog aan die einde van 1895, het die Uitlanders ‘n aktiewe rol in die politiek gespeel. Iewers in die laat sewentigerjare het hulle besluit dat die Nasionale Party ontsetel behoort te word en deur ‘n “progressiewe” swart-oorheersde regering vervang behoort te word. Vandaar hul ononderbroke steun vir die ANC en die idee van ‘n gesentraliseerde, “wenner-vat-als”-tipe stelsel wat ons in 1994 ontvang het.

    Sonder twyfel is daar baie fassinerende redes waarom die myne ten dele die opkoms van neo-Marxistiese denke aan die Engelse universiteite in ons land gefinansier het en oor die algemeen die ANC se gryp na totale mag in Suid-Afrika geondersteun het. Onder andere is ons mense, asook die blanke middelklas, gekant teen mynbesoedeling en moraliseer hulle oor die waarskynlik korrupte verhoudings tussen die myne en ANC-politici.

    Interne stryd, verraad en die blote onnoselheid van hul leiers het die doodsklok vir Afrikanerdeelname aan die Suid-Afrikaanse politiek gelui en die enigste oorblyfsel van hul vorige rol is die Vryheidsfront Plus wat maar 140 000 stemme by die stembus trek.

    In die onlangse verlede was Suid-Afrika waarskynlik die enigste land waar groot maatskappye geld aan ‘n Kommunistiese Party geskenk het. Indien ons vir Jeremy Cronin kan glo, ondersteun die Kommunisteparty nie nasionalisering nie. Verduidelik dít aan Marx en Lenin.

    Toe verskyn Julius Malema, die swart massa se kampioen, op die toneel, gereed om die ANC se voormalige bondgenoot teen die Afrikanerdom, die koloniale mynmaatskappye, teen te gaan!

    Moontlik is Malema se oë groter as sy maag aangesien sy nasionaliseringsplan ‘n grootskaalse reaksie van die magtige Uitlanders mag ontlok, asook die gewone vertoë aan Brittanje en Amerika om dit te keer. Of miskien gaan die myne eenvoudig vir Malema afkoop deur aan hom ‘n voordelige SEB-transaksie aan te bied terwyl hulle Rhodes se slagspreuk mompel: “Elke man het sy prys.”

    Alreeds aanskou ons ‘n intense mediaveldtog wat teen Malema gevoer word, met toespelings op sy onverklaarbare rykdom, moontlike belastingontduiking en dergelike. Helaas, revolusionêre floreer gewoonlik op negatiewe publisiteit en dit sal ook die geval vir Malema wees.

    Malema, meer as Mandela, kan dalk ons geskiedenis vir altyd verander. Met niks meer om te verloor nie, gaan vele Afrikaners in die armblanke plakkerskampe of laag besoldigde poste waarskynlik ook vir Malema toejuig.

    Indien die mynhuise as ‘n politieke faktor in ons geskiedenis verdwyn, kan die moontlikheid om ‘n Afrikanervolkstaat teenoor die Malema-faksie te beding, net verhoog aangesien Brittanje se invloed op ons daarmee grotendeels geneutraliseer sal wees.

    брекеты детскиеФильчаков Александр Васильевич

  • Die betowering van die DA se koloniale droom

    Eergister het ek die grootste deel van die dag, van vroegoggend tot ná sononder, by die Vryheidsfront Plus se stalletjie by Tijgerpoortlaerskool naby Silver Lakes in Pretoria deurgebring. Die geleentheid was ‘n munisipale verkiesing wat in wyk 2 van die Bronkhorstspruit- (“Kungwini”-) munisipaliteit gehou is.

    Gister het die uitslae bekend geraak en dit blyk dat die VF+ eintlik besonder swak in dié besondere tussenverkiesing gevaar het. Die VF+ het naamlik ‘n skamele 66 stemme teenoor die DA se 1079 behaal:

    DA 1079

    ANC 214

    VF  66

    Onafhanklik (gesteun deur belastingbetalersunie) 37

    Soos ‘n briefskrywer op PRAAG gister met waarskynlike verwysing na hierdie wyk geskryf het, is “(d)ie demografie in die wyk… seker 70% blanke Afrikaanssprekendes, 25% blanke Engelsprekendes en 5% swart Sothosprekendes”.

    Vir diegene van ons wat onwrikbaar glo in die idee van Afrikanervryheid en dat ons taal, kultuur en ideniteit eendag weer sal herleef om tot sy volle reg te kom, kan so ‘n uitslag nie anders as uiters teleurstellend ervaar word nie.

    In my geval, ná ongeveer 10 ure buite op ‘n koue en reënerige dag – ek het agtergekom dat ek nie warm aangetrek was nie – is die teleurstelling sekerlik veel erger. Die onmiddellike vraag wat by ‘n mens opkom, is: waarom stem Afrikaners deur die bank vir die party van die ultraliberale of “progressiewe” mev. Zille, met sy boodskap van assimilasie en integrasie binne die sogenaamde “reënboognasie”?

    Aan die ander kant was ek voorbereid op ‘n swak vertoning deur die Vryheidsfront. Deur die dag was dit duidelik dat die meeste blanke Afrikanerkiesers hulself meer geredelik tot die DA-stalletjie gewend het. Sekerlik beskik die DA oor ‘n meer “herkenbare handelsmerk” as die Vryheidsfront en geniet dit meer aandag in die nasionale media.

    Gedurende die dag het ek egter baie tyd gehad om die petalje van ‘n munisipale tussenverkiesing dop te hou en ek meen ek het ‘n paar gevolgtrekkings om met my lesers te deel.

    Ons Vryheidsfrontstalletjie was slegs drie of vier meter van die DA s’n aan die oorkant van die skool se inrypad verwyder. As ‘n mens tien ure lank na die DA-embleem met sy NSA-vlag en NSA-kleure moet staar, dan voel jy jy begin iets van die groepering aan die oorkant verstaan, benewens natuurlik mev. Zille se onlangse toespraak oor die Progressiewe beweging in Suid-Afrika.

    Ook het ek geredelik met lede van die DA gesels, van mnr. Dennis Peach wat saam met kollegas hul stalletjie beman het, tot die pas verkose leier van die DA in Pretoria, mnr. Brandon Topham, wat in sy silwer Porsche Boxster opgedaag het om sy troepe te kom inspekteer.

    As ‘n mens eerlik is, moet jy erken dat die DA die historiese telg van die ou SAP-beweging in Suid-Afrika is. Trouens, hoewel wyk 2 ‘n Afrikanermeerderheidsgebied is, was die meeste DA-werkers Engelssprekendes vanuit die Pretoria-omgewing. Hulle praat wel goed Afrikaans, maar ‘n hele paar het erken dat hulle ‘n lang pad in die politiek geloop het, van die Verenigde Party, deur die Progressiewe Party of PFP tot by die DA. Oud-Nasionaliste was nie eintlik onder die partywerkers verteenwoordig nie. Om sy liberale, reënbooggetuigskrif gestand te doen, was daar ook ‘n Indiër- en ‘n swart medewerker.

    Indien enigiemand tussen die jare 1948 en 1994 sou gesê het dat die meeste Afrikaners eendag weer vir die Sappe of Oudsappe sou stem, sou so ‘n persoon as ‘n naïweling uitgekryt gewees het. En tog was dit in wyk 2 van “Kungwini” wel die geval. Afrikanerkiesers het uit beleefdheid soms by die Vryheidsfrontstalletjie getalm, ons petisie vir beter dienslewering geteken of ‘n geselsie aangeknoop en natuurlik was daar 66 mense wat wel vir ons gestem het, maar oor die algemeen het ek die indruk gekry dat die kiesers veel eerder met die DA en sy NSA-kleure geassosieer het as die oranje en groen van die VF+.

    Die wortels van die probleem lê egter veel dieper. Die ANC het deur propaganda aan bewind gekom, propaganda wat ook die DA bevoordeel – ten minste by die rasseminderheid of -minderhede. Die situasie in die Weskaap verskil hemelsbreed van dié in Pretoria of Bronkhorstspruit en daarom is die redes waarom kleurlinge in die Kaap vir die DA steun heel anders as waarom Afrikaners in die ou Transvaal insgelyks die party ondersteun. Terloops, selfs in die Noord-Transvaal of Limpopo – eertydse bakermat van die HNP, KP en ander regste partye – het die DA in vanjaar se parlementêre verkiesing die Vryheidsfront Plus ver uitgestof. Terwyl die HNP se ondersteuners volhou dat hulle nie die wettigheid van die Nuwe Suid-Afrika erken nie, stem hulle lustig vir die liberales in die DA!

    In die minderheidspolitiek – en diegene wat nie glo dat blankes deesdae ‘n toenemende minderheid is nie kan gerus maar na die bevolkingstatistieke gaan kyk – bou die DA spoed op in die vaarwaters van die ANC. Trouens, mev. Zille beskou haarself as ‘n getrouer bewaker van die huidige SA grondwet en maatskaplike stelsel as die ANC self. Hoe meer die regime se propagandiste uitvaar teen rassisme en die historiese skuld van apartheid, hoe meer stem die Afrikaners vir die DA. Want hoewel sy die ANC in pragmatiese terme opponeer, ondersteun mev. Zille en haar Progressiewe – met ‘n hoofletter – geesgenote die ANC se waardestelsel, van “nasiebou” tot die aftakeling van die Afrikaneridentiteit en -instellings.

    Die arme Afrikanerkieser wat dus gister soos ‘n nat hoender in die reën opgedaag het om sy ietwat futiele stem te kom uitbring – want danksy swart getalle beheer die ANC feitlik elke munisipaliteit in die land, buite die Weskaap – se wil is geknak deur ‘n dubbele aanslag. Sowel die ANC as die DA het hom reeds oortuig dat hy hom oor sy geskiedenis, volkskap, kultuur en identiteit behoort te skaam.

    Een van die DA-amptenare in ‘n blou hempie het heel dag lank die kiesers op gemaak vriendelike manier verwelkom – meesal op Engels, hoewel hy ook Afrikaans magtig was. En die Afrikaners praat met hom Engels terug. Soos Wilco Labuschagne in sy brief aan PRAAG skryf, het “die DA… baie lamppale versier, uit Kaapstad gebel en op Engels gevra of hulle op my kan staatmaak en ‘n pamflet versprei oor hoe sleg die VF+ is”. As ons daaraan dink, maak dit tog baie sin. Die Britse ambassade is steeds in Kaapstad, ná al die jare. En mev. Zille, wat is sy anders as ‘n soort “Kaapse goewerneur”, Haar Majesteit se politieke verteenwoordiger in Suid-Afrika wat soos die ou Sappe ‘n Engelse nasie, lid van die Britse Gemenebes, wil bou? Net dié keer gaan dit nie meer oor ‘n blanke nasie van Europese afkoms nie, maar om ‘n multikulturele, veelrassige – of dan “nie-rassige” – nasie.

    Ook die verengelsing van Suid-Afrika onder die ANC bevoordeel die DA. Die Vryheidsfront Plus, wat sy veldtog in Afrikaans voer en ‘n spesifieke appèl op die Afrikanerkieser rig, bevind hom dus in ‘n posisie waar hy as minderheidsparty moet meeding teen ‘n party wat weens sy Engelstaligheid voorgee dat hy ‘n “nasionale” of “universele party” is.

    Wat is die DA se boodskap nou eintlik, op die keper beskou? “Ons, die DA, kan die land doeltreffender volgens ANC-beginsels regeer as die ANC self!” Die DA wil die Xhosas vinniger in die Weskaap vestig en vir hulle meer en beter huise bou as wat die ANC kan doen. Net so wil die DA die Zimbabwiërs en ander vreemdelinge met groter warmte in die land verwelkom as wat die ANC-ministers reeds doen. Op geen fundamentele politieke kwessie verskil die DA wesentlik van die ANC nie.

    In gister se reën en koue, voor die hek van Tijgerpoortlaerskool, terwyl ek toekyk hoe die Engelse van die DA hul Afrikanerstemvee met ‘n mengsel van hovaardigheid, minagting en aangeplakte vriendelikheid in die kraal jaag, het ek by myself gedink: Miskien moet ons Afrikaners dankbaar wees dat die ANC die land regeer en nie die “ware progressiewe” (mev. Zille se term) van die DA nie. Want hulle sou dalk veel meer doeltreffend die “apartheidsbuurte” opgebreek en geïntegreer, die Afrikaanse skole vinniger verengels en hul “reënboogpatriotisme” met groter ywer en fanatisme op ons afgedwing het.

    Wat ek hier sê, is allermins suur druiwe oor die Vryheidsfront eergister verloor het. Want dis nie net die Vryheidsfront wat verloor nie; dis die hele Afrikaanse beweging, die Afrikaner, die taalstryd, ons voortbestaan, ons geskiedenis wat tans besig is om skipbreuk te ly. Die kragte aan die ander kant, hetsy swart demografie, hetsy die Sap-ideologie van ‘n heengegane geslag Britte en verengelsde Afrikaners, was veel sterker as wat ons gedink het. My pa se geslag het vuisgeslaan met Sappe en het geweier om op te staan as “God save the King” in die bioskope gespeel word. Maar vandag sing die Afrikaners lustig “God save Africa” saam met die ANC en gaan stem in opdrag van sms’e wat vanuit Goewerneur Zille se kantoor in Kaapstad na Pretoria versend word.

    Die Vryheidsfront, asook elkeen wat hom- of haarself steeds as ‘n Afrikaner of ‘n Boer beskou, sal baie hard moet gaan dink wat ons nou te doen staan. Ons tyd is besig om uit te loop en oor ‘n paar jaar gaan die Afrikanervolk in dié land net ‘n vae herinnering wees. Daar sal nie meer ‘n enkele Afrikaanse pleknaam in dié land oorbly nie en soos ons al gesien het, word selfs die Afrikaanse boeke in die biblioteke by tye verpulp. Sowel die ANC as die DA werk baie hard aan ons verdwyning.

    Die gemiddelde Afrikaner is so banggepraat, geïntimideer, verguis, gebreinspoel, geestelik afgetakel en geknak dat hy soos ‘n elektries geskokte hond in ‘n sielkunde-eksperiment reageer. As hy die geel liggie sien aangaan, nog voor hy die pyn voel, begin hy al tjank en sy eie stert byt. Om met sy mede-Afrikaners te assosieer en – ‘n strafbare sonde – ‘n Afrikanerparty of selfbeskikking te ondersteun, is vir hom amper taboe.

    Die oorlog wat daar vir ‘n groot deel van die afgelope twee eeue op meer as een manier teen ons gevoer is, is nog lank nie verby nie. Gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu was dit ‘n terreuroorlog, maar veral: ‘n propagandaoorlog. Hoewel, wat is die huidige vlaag geweld in die naam van “misdaad” anders as terreur?

    Tot dusver het Afrikanerleiers en -intellektuele geen doeltreffende teenvoeter vir die vyand se diaboliese en ophoudelike propaganda gevind nie. Ons is gedurig op die verdediging en beskik nie oor die Machiavelliaanse sin vir die leuen, die halwe waarheid en gemaakte verontwaardiging waarvoor ons vyande ‘n natuurlike aanleg het nie.

    Die Vryheidsfront behoort ernstig te besin oor die vorm van politieke opposisie wat hy wil beoefen. Daar is ‘n ou debat oor “samewerkende” of “regstreekse” opposisie teenoor die ANC. Ná enkele maande lyk dit nie asof daar enige voordeel vir die Afrikaner of vir die Vryheidsfront geleë is in die adjunkministerskap van Pieter Mulder nie. Enersyds bied dit ‘n gerieflike stok aan die DA om die VF+ mee te slaan, andersyds het geen verdere toegewings van die ANC aan die Afrikaner gevolg nie en word ons met groter minagting as ooit deur die owerheid behandel.

    Daar is egter ook die verhouding teenoor die DA. By die gewone kiesers, asook lede van sowel die DA as die Vryheidsfront, is daar ‘n gevoel dat “die opposisie moet saamwerk teen die ANC”. Die vraag is egter op watter basis dit kan geskied as die ideologiese verskille onbrugbaar groot blyk te wees. Hoewel die DA ‘n verenigde opposisie en koalisievorming predik, beskou hy tog op ‘n manier die Vryheidsfront, eerder as die ANC, as sy “ware vyand”. Mev. Zille het in ‘n verbasende erkenning gesê dat sy die Marxistiese Barbara Hogan van die ANC en SAKP as ‘n “geesgenoot” beskou vanweë haar “begrip vir die grondwet” terwyl sy diegene wat hulle aan etniese of rassedenke skuldig maak as ‘n verskynsel beskou wat liefs tot die buitenste ruim – of ‘n ander oewer – verban behoort te word.

    Hoewel daar pragmatiese en opportunistiese redes daarvoor mag bestaan, is samewerking met die DA myns insiens nie vir die Vryheidsfront moontlik nie. Net soos wat mev. Zille die Vryheidsfront en die swart-nasionalistiese vleuel van die ANC as twee sye van dieselfde munt beskou, behoort die Vryheidsfront en Afrikaners in die algemeen die DA en die ANC as twee aansigte van dieselfde “reënboogmonster” te beskou. Albei is integrasionisties, assimilasionisties, Engels en wesentlik gekant teen Afrikanervoortbestaan.

    Die ANC beheer die staat, die weermag, die polisie, asook die grootste deel van die media, waaronder die SAUK. Op hierdie stadium kan ons kwalik genoeg kragte teen die ANC monster. Maar die “ANC lite” wat as die DA bekendstaan, kan effektief beveg word, as die kleinere manifestasie van ‘n veelkoppige monster wat ons voortbestaan bedreig. Indien ons sukses teen die DA behaal, mag uiteindelike sukses teen die ANC nie uitbly nie.

    Dit maak nie saak hoeveel slim planne Afrikanerleiers en -intellektuele beraam om vryheid en selfbeskikking internasionaal te bevorder en selfs te beding indien Afrikaners op voetsoolvlak in elke verkiesing ten gunste van hul oplossing in die reënboognasie met sy onderbroekvlag stem nie.

    Die geskiedenis in Suid-Afrika herhaal hom blykbaar oor en oor. Die stryd tussen die Vryheidsfront en die DA het al die eienskappe van die Nat-Sap-stryd van destyds. In ‘n hoë mate verskaf die Afrikanerkieser vandag die getalle om die Engelstalige se fantasieë oor koloniale beheer moontlik te maak. Die DA verbeel hom dat hy – in weerwil van die land se demografie wat vanweë onwettige immigrasie konstant versleg – ‘n “alternatiewe regering” kan wees en dat hy verder op die horison steun vanuit die Westerse wêreld en veral Brittanje en Amerika geniet. Hierdie is alles illusies en drome wat nog nie aan die toets van die harde werklikheid onderwerp is nie. Ongelukkig is dit ‘n verleidelike droom, ‘n politieke piramideskema wat die skyn van ‘n oplossing aan die kieser voorhou. Weereens skep die kulturele oorheersing van die Engelstalige die indruk dat hy iewers steeds ‘n onsigbare hand op die hefboom van mag het, wat die Afrikaner in sy toenemende identiteitskrisis lok om sy gewig by die koloniale droom van die DA in te gooi.

    Afrikaners kon een keer in die onlangse geskiedenis teen die Britse Suid-Afrikanisme mobiliseer en seëvier. Heel moontlik kan hulle dit nou vir ‘n tweede keer regkry om die Sappe op hul baadjie te gee. Maar dan sal ons die stryd met groter skerpte en kragdadigheid moet aanpak. Getalle is op dié stadium nie so belangrik nie. Dit gaan meer oor die integriteit en veral die intensiteit van ons teenkanting teen hierdie bose bestel waarvan die DA vir seker ook ‘n pilaar is.

    оптовые цены трековыеОлександр Фільчаков прокурор

  • Willie Spies word AfriForum se regsman

    AfriForum het Spies se prokureurspraktyk, Hurter Spies Ing., gekontrakteer om voortaan al dié burgerregte waghond se regsaksies te hanteer.  Spies se kantore en personeel sal na die Solidariteit-gebou in Pretoria verskuif, waar AfriForum se hoofkantoor gevestig is.

    Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is Spies se aanstelling ʼn reuse aanwins vir AfriForum.  Kriel het daarop gewys dat Spies as prokureur reeds groot sukses behaal het in hofsake soos onder meer dié om stemreg vir Suid-Afrikaners in die buiteland te verseker en ter behoud van Pretoria se naam.  “Willie se regsvernuf, entoesiasme, werksetiek en kundigheid oor burgerregte aangeleenthede gaan AfriForum in staat stel om sy veldtogte en regsaksies op ʼn nuwe vlak te plaas,” het Kriel bygevoeg.

    Kriel het herbevestig dat AfriForum sal voortgaan om buite die partypolitiek in die burgerlike samelewing vir burgerregte te stry.  Volgens hom handhaaf AfriForum ʼn gesonde werksverhouding met die meeste politieke partye, sonder dat AfriForum hom aan enige party verbind.  “Willie se aanstelling sal nie hierdie benadering beïnvloed nie,” het Kriel gesê.

    Spies het gesê hy beskou sy nuwe rol as ʼn groot uitdaging en hy sien daarna uit om in die burgerlike samelewing ʼn bydrae te lewer.  Volgens hom sal van sy eerste prioriteite wees om saam met AfriForum veldtogte en regsaksies te voer oor onder meer die voortslepende misdaadkrisis in die land, die agteruitgang in munisipale dienslewering en die bevordering van veeltaligheid en Afrikaans.  “Ek verlaat my openbare rol in die partypolitiek in 'n goeie gees, maar wil my tyd en energie voortaan wy aan die noodsaaklike taak om ʼn sterk burgerlike instelling te vestig wat balans kan bring in ʼn samelewing waar veral minderheidsgemeenskappe se stem dikwels nie gehoor word nie,” het Spies bygevoeg.

    грузовое шиномонтажное оборудованиелобановский александр

  • Gedagtes oor ‘n toekomsvisie vir die VF+

    Kom ons wees dus meer positief. As jý die VF+ moes adviseer, watter raad sou jy die VF+ wou gee? Hoe kan dít wat die VF+ aan die kieser bied, meer markgerig word?

    As ek deur die VF+ aangestel sou word om strategiese leiding te gee, wat sou my raad wees?

    Daar is drie groot probleme wat ek (en ek is kennelik ‘n ondersteuner van die VF+ by die stembus) raaksien. Dié probleme is:

    1) ‘n Dubbelsinnigheid in die party se boodskap en ideologie;

    2) nie genoeg differensiasie tussen die VF+ en ander partye nie;

    3) ‘n gebrekkige of onuitvoerbare visie.

    Bostaande probleme is verwant aan mekaar, en dikwels is een of meer ‘n gevolg van die ander.

    My eerste beleidsverandering sou dus wees om die dodelike dubbelsinnighede in die VF+ se boodskap nekom te draai. Hier is ‘n voorbeeld: die VF+ is glo ten gunste van transformasie, maar nie die manier waarop dit toegepas word nie. Daardie boodskap is dubbelsinnig en verwarrend, en ook toevallig presies wat Cope of die DA sê. Dit onderskei nie die VF+ van die ander nie.

    Die meeste blankes, myself inkluis, haat regstellende aksie egter met ‘n passie, en sien dit aan vir die rassisme wat dit is.

    Beleidsvoorstel nommer een, dus: hou op om louwarm te wees. Regstellende aksie en transformasie is anti-blanke rassisme, en moet onverbiddelik beveg word. Sê dit hardop en sê dit herhaaldelik. Suiwer en vereenvoudig die party se ideologiese boodskap, dus.

    Beleidsvoorstel nommer twee, wat ook te make het met dubbelsinnigheid: Die VF+ se webwerf praat steeds oor ‘n volkstaat in die Noord-Kaap, maar geen partyleier sal waag deesdae om dit nog hardop in die openbaar sê nie. Is Orania en die volkstaat daar steeds amptelike VF+-beleid, vra die verwarde kieser soos ek myself af?

    Raak dus ontslae van Orania, die albatros om die VF+ se nek. Blankes gaan eenvoudig nie uit hetsy Kaapstad, hetsy Pretoria-Oos, na Orania verhuis nie. Orania was of is kennelik ‘n interessante eksperiment, maar dit het ongelukkig nie gewerk nie. Al wat dit tans doen, is om vir die VF+ ‘n verleentheid te skep.

    Beleidsvoorstel nommer drie, wat gekoppel is aan Orania: besin oor wat die woord “vryheid” in die naam VF+ in praktiese terme beteken, as dit dan nie ‘n volkstaat in die Noord-Kaap is nie. Indien “vryheid” nie vryheid vir Afrikaners van uitheemse volke se dwingelandy beteken nie, hoe differensieer die VF+ homself dan van die DA, as Cope, die VF+ en DA almal sê hulle is lojale Suid-Afrikaanse partye, verbind tot die begrip van multikulturalisme en ‘n reënboognasie?

    Dit is hier waar die party se visie ook ter sprake kom.

    Vir my beteken vryheid ‘n paar dinge. Een is dat ek as Afrikaner vry wil wees van ‘n Zimbabwe-lot wat Suid-Afrika in die toekoms gaan tref, en alreeds in proses is. Dit beteken ook dat ek nie onder die heerskappy of dwingelandy van vreemde volke wil verkeer nie, insluitende onder Engelse dwingelandy soos Helen Zille s’n. Ek wil geregeer en geadministreer word deur Afrikanerpolitici en -staatsamptenare en my belasting aan ‘n Afrikanerregering betaal, belasting wat aan mý belange bestee moet word.

    Dus: die “vryheid” in VF+ beteken vir my ‘n visie van regering deur Afrikaners, oor Afrikaners, vir Afrikaners.

    Die gevolg hiervan sal wees dat Afrikaners nie in die onafwendbare Afrikalot wat die meeste lande ná Oehoeroe tref, en ook Suid-Afrika se voorland is, hoef te deel nie.

    Hoe voltrek mens daardie visie? Indien dan nie ‘n Orania-volkstaat nie, wat dan? Ek sou sê die visie behoort gebou te word op aanvanklike selfbeskikking binne die grense van Suid-Afrika, met ‘n model geskoei op die Baske of Palestynse Owerheid s’n.

    Dit behels met ander woorde ‘n owerheid vir Afrikaners, maar sonder aanvanklike territoriale afstigting. Dit sou beteken dat Afrikaners ons eie owerheid verkry, die AO, wat magte het om byvoorbeeld ‘n eie polisiemag daar te stel, om staatsdiensfunksies vir Afrikaners te vervul en waaraan Afrikaners belasting sal betaal.

    Die uiteinde van bostaande proses sal wel territoriale selfbeskikking wees, in een of meer geografiese gebiede, wat byvoorbeeld ‘n deel van die Wes- of Suid-Kaap of Pretoria kan insluit.

    Bostaande sou ‘n enorme differensiator tussen die VF+ en die DA wees. Die DA sou dan dié blanke en bruin party wees wat aspirasies het om die hele Suid-Afrikaanse reënboognasie te regeer, terwyl die VF+ hom vir ware Afrikanervryheid sal beywer, en op Afrikaners sou toespits. Dit maak die VF+ onbeskaamd pro-Afrikaner, en pro-vryheid, in die letterlike sin van die woord, iets wat geen ander party is nie.

    Dit is ook ‘n duidelike en uitvoerbare visie; die groot gros Afrikaners hoef nie te verhuis nie, maar kan wel oor hulself regeer. Weer eens, daar is internasionale presedente. Die Palestyne op die Wesoewer woon in ‘n gebied wat deur Israel beset word, maar het nietemin hulle eie owerheid. Dit kort weliswaar visie en die politieke wil, maar is dit nie wat 'n politieke party behoort te verskaf nie?

    Ter opsomming: alhoewel ek nie persoonlik dink die VF+ hoef in sak en as te sit nie, is daar duidelik ‘n probleem in dié sin dat die party nie daarin slaag om die steun wat hy verdien onder Afrikaners te verkry nie.

    Die VF+ kan óf op sy huidige koers bly voortgaan en in die volgende verkiesing weer 150 000 of minder stemme kry, óf hy kan himself omvorm in ‘n party wat ‘n dinamiese en helder visie het en hom onderskei van al die ander ANC-Lites soos Cope of die DA. Die VF+ kan ‘n party word wat werklik aanklank by Afrikaners vind.

    Dit sal weliswaar ‘n geweldige paradigmaskuif (om nou ‘n cliché te gebruik) en politieke moed van die party vereis, maar die alternatief is om op die huidige frustrerende wyse voort te ploeter na ‘n onsekere toekoms, met Afrikaners wat ons lot toenemend by 'n Engels-gedomineerde party gaan ingooi.

    сайт легоФильчаков Александр Васильевич

  • Ideologiese breinspoeling in eksamenvraestelle

    ’n Groot aantal leerlinge van verskillende skole het die VF Plus hieroor genader en hulle frustrasies met die eensydige ANC-propaganda uitgespreek. In die matriekleerplan is daar byvoorbeeld slegs ses reëls wat na die Anglo-Boereoorlog en Afrikanergeskiedenis verwys. Uit die reaksie van die leerlinge is dit duidelik dat die Departement van Onderwys presies die teenoorgestelde bereik en dat hierdie werkswyse leerlinge teenoor mekaar polariseer. Veral die Afrikanerjeug kom in opstand teen wat hulle beskou as 'n verdraaiing en eensydige aanbieding van die geskiedenis.

    Daar is voor 1994 ook goeie dinge vir swart mense gedoen.  In 'n tydsbestek van 40 jaar is byvoorbeeld 7 universiteite vir Swartmense, Bruinmense en Indiërs tot stand gebring.  Daardie Universiteite funksioneer vandag nog.

    Prof. Mamphela-Ramphele wat jare lank 'n persoonlike verhouding met mnr. Steve Biko gehad het, het onlangs nog gesê dat die onderwys wat voor 1994 vir Swartmense aangebied is, in baie opsigte beter was as die UGO wat deur 'n ANC-regering nou aangebied word.  Die matrieksertifikate wat voor 1994 verwerf is, was meer werd (ook in die internasionale wêreld) as wat swart en wit mense se sertifikate vandag werd is.

    Dit het tyd geword vir die ANC om te let op wat die tendens in die wêreld daar buite is.  Werklike demokrasie beteken meer regte vir minderheidsgroepe.  Werklike demokrasie beteken dat een groep nie ander groepe probeer oorheers nie.  In Indië het kultuur- en godsdiensgroepe die reg op eie skole op staatskoste.  In België het 80,000 Duitssprekendes die reg op 'n eie Onderwysdepartement en 'n Onderwysminister.  Waarom kan meer as 'n miljoen Afrikaners nie dieselfde in Suid-Afrika kry nie?  Hulle is daarop geregtig – net soos die Tswanas, Zoeloes en ander volke ook daarop geregtig sou wees as hulle dit verkies.

    Een Onderwysdepartement waar een dominante kultuurgroep die septer swaai en sy sienings op almal afforseer, werk nie.

    Afrikaners begin ryp raak vir die gedagte van 'n eie Onderwysdepartement soos in baie lande vir minderheidsgroepe bestaan.  Die geskiedenis soos dit tans deur ‘n ANC-bril vir Afrikanerkinders aangebied word, raak by die dag meer onaanvaarbaar.

    Die VF Plus verwerp die eensydige aanbieding van die twee graad 9-eksamenvraestelle.  Dit is onverdedigbaar en bevestig die feit dat elke kultuurgroep geregtig is op 'n eie onderwysstelsel en sy weergawe van die geskiedenis.  Hier volg 'n bladsy waarin irrelevante politieke inhoud verskyn:

    Image 

    купить сход разваллобановский александр биография