AfriForum het Spies se prokureurspraktyk, Hurter Spies Ing., gekontrakteer om voortaan al dié burgerregte waghond se regsaksies te hanteer. Spies se kantore en personeel sal na die Solidariteit-gebou in Pretoria verskuif, waar AfriForum se hoofkantoor gevestig is.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is Spies se aanstelling ʼn reuse aanwins vir AfriForum. Kriel het daarop gewys dat Spies as prokureur reeds groot sukses behaal het in hofsake soos onder meer dié om stemreg vir Suid-Afrikaners in die buiteland te verseker en ter behoud van Pretoria se naam. “Willie se regsvernuf, entoesiasme, werksetiek en kundigheid oor burgerregte aangeleenthede gaan AfriForum in staat stel om sy veldtogte en regsaksies op ʼn nuwe vlak te plaas,” het Kriel bygevoeg.
Kriel het herbevestig dat AfriForum sal voortgaan om buite die partypolitiek in die burgerlike samelewing vir burgerregte te stry. Volgens hom handhaaf AfriForum ʼn gesonde werksverhouding met die meeste politieke partye, sonder dat AfriForum hom aan enige party verbind. “Willie se aanstelling sal nie hierdie benadering beïnvloed nie,” het Kriel gesê.
Spies het gesê hy beskou sy nuwe rol as ʼn groot uitdaging en hy sien daarna uit om in die burgerlike samelewing ʼn bydrae te lewer. Volgens hom sal van sy eerste prioriteite wees om saam met AfriForum veldtogte en regsaksies te voer oor onder meer die voortslepende misdaadkrisis in die land, die agteruitgang in munisipale dienslewering en die bevordering van veeltaligheid en Afrikaans. “Ek verlaat my openbare rol in die partypolitiek in 'n goeie gees, maar wil my tyd en energie voortaan wy aan die noodsaaklike taak om ʼn sterk burgerlike instelling te vestig wat balans kan bring in ʼn samelewing waar veral minderheidsgemeenskappe se stem dikwels nie gehoor word nie,” het Spies bygevoeg.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.