ANC-binnegeveg eis drie in Phillipi-Oos

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die dood van drie mans in Phillipi-Oos op die Kaapse Vlakte nie.

Geweld het uitgebreek nadat oproer oor ‘n gebrek aan dienste glo buite beheer geraak het en twee gemeenskappe mekaar die stryd aangesê het.

Die onrus het Woensdag begin en Saterdag in volskaalse geweld tussen inwoners van die Marikana nedersetting en Lower Crossroads ontaard.

Alhoewel die owerhede beweer dat hulle nie weet wie vir die geweld verantwoordelik is nie, sê inwoners dat konflik tussen die ANC en die Ses’Khona People’s Rights Movement tot die geweld gelei het.

Die ANC-jeugliga het Ses’Khona voorheen bygestaan om ontlasting by die Kaapse lughawe te strooi en hulle aangemoedig tot wetteloosheid.

‘n Lid van die burgemeesterkomitee in Kaapstad belas met Veiligheid en Sekuriteit het die graad van verwoesting en skade aan die eiendom as “ongeëwenaard” beskryf nadat hy die gebied besoek het.

Die drie is vroeër in die voortslepende geweld in die gebied doodgeskiet. Hulle is tussen 28 en 32 jaar oud.

Vier mense is in ‘n ernstige toestand in die hospitaal.’n Woordvoerder van die Wes-Kaapse nooddienste sê die vier mense is met verskeie skietwonde in die Grootte Schuur-hospitaal opgeneem.

Nog drie mense in met ligter wonde in die Mitchellsplein distrik-hospitaal opgeneem.

Ses-en-twintig hutte en vyf huise in die gebied is met petrolbomme bestook.

Talle voertuie is beskadig en skade van tussen 18 en 20 miljoen rand is aan infrastruktuur in die gebied aangerig.

Tien mense is intussen in verband met die geweld in hegtenis geneem, en ‘n openbare vergadering tussen die twee gemeenskappe is ook gehou om raakpunte te probeer vind.

Daar is steeds ‘n groot polisieteenwoordigheid in die gebied waar die situasie gespanne is. Geen voorvalle van geweld is oornag aangemeld nie.

Somaliërs moet winkels op Kaapse Vlakte sluit

Somaliese winkels in die Marikana-lokasie in Philippi op die Kaapse Vlakte moes Woensdagaand inderhaas sluit weens geweld teen buitelanders.

Een persoon is dood, een gewond en verskeie winkels is Dinsdag in die gebied geplunder.

Gemeenskapsleiers het intussen vergader om vrese te probeer weerlê van plundery in die gebied.

Die Seskhona beweging het aangedui dat hulle openbare vergaderings sal hou om die geweld te probeer aanspreek.

‘Brand die plase’

Ten minste een swarte is erg opgewonde oor die nuwe liedjie van ‘n kletsrymgroep Dookoom.

Andile Mngxitama was in die middestad van Kaapstad vir die bekendstelling van Dookoom se Larney Jou poes.

Die video het skokgolwe in Suid-Afrika veroorsaak.

Die hoofsanger, Die Mutant, is glo ‘n “hip-hop-legende” op die Kaapse Vlakte.

Mngxitama, Julius Malema se regterhand, sê die video vertel ‘n “swart waarheid oor wit mag” en is ‘n “uitnodiging vir die hervoorstelling van bevryding”.

Hy voorspel dat Dookoom ‘n treffer gaan wees. Volgens Mngxitama is daar min twyfel dat hulle in alle waarskynlikheid Die Antwoord sal verbysteek.

Afrikaners sal waarskynlik baie verlig wees om dit te verneem.

Mngxitama meen swartes is nog steeds “vasgevang in die koloniale verhouding” waar blankes swartes deur die geweer of deur die liefde regeer. Hy sê hulp is die mees kragtige wapen van kolonialisme, deur te gee wanneer dit eintlik tienvoudig terugneem.

Kennelik is anargie en geweld volgens die sanger sowel as Mngxitama al manier om van hierdie verhouding te ontsnap.

Toestand uiters gespanne op Kaapse Vlakte

Oproer in Nyanga en Philippi op die Kaapse Vlakte het gesorg vir ‘n uiters gespanne toestand in die gebied.

Die onrus het uitgebreek toe taxibestuurders begin staak het nadat hulle na bewering deur verkeersbeamptes en taxi-eienaars geteister word.

Sewe busse van Golden Arrow is aan die brand gesteek en nog busse is gevandaliseer.

Die spanning het verder opgelaai nadat ‘n taxibestuurder Maandagoggend doodgeskiet is en minstens elf busbestuurders aangerand is.

Die taxibestuurder is by die Nyanga-taxistaanplek doodgeskiet en sy vuurwapen is geroof.

‘n Polisiewoordvoerder, Frederick van Wyk sê egter dit is onduidelik of die taxibestuurder se dood met die geweld verband hou.

Talle paaie in die gebied is steeds gesluit, asook gedeeltes van die R300, Baden Powell-rylaan en Borchards Quarry.

Busse van Golden Arrow en MyCiti is opgeskort en loop nie tans op dié roetes nie.

Pagad belowe om misdadigers self vas te vat

Die misdaadbekampingsgroep Pagad sê die polisie moet dwelmhandelaars op die Kaapse Vlakte vasvat of sy lede sal dit self doen.

Pagad het by vergadering wat gehou is in Freedom Park Sondag, die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) beskuldig daarvan dat hulle nie misdaad hokslaan nie.

Ontstoke inwoners by die Freedom Park Gemeenskapsaal, sê daar is ‘n skerp styging in bendes en dwelmmisbruik in hul gemeenskap.

Een inwoner sê die polisie doen nie genoeg om die probleem te bekamp nie.

“Vir my is dit asof die polisie saam met die bendelede werk, want ons sal ‘n saak maak, maar niks kom van die saak nie en die dossier verdwyn.”

Inwoners sê as hulle verslag doen van kriminele aktiwiteite, wil die polisie nie onmiddellik reageer nie, of versuim hulle om misdadigers vas te vat.

Hulle het gevra vir ‘n toename in die polisie se sigbaarheid in die gebied.

Pagad het beloof om die Mitchells Plain-gemeenskap te help in die bekamping van misdaad.

Pagad sê inwoners is desperaat vir effektiewe maatreëls om oortredings soos dwelmhandel te bekamp.

Volgens ander inwoners werk sekere lede van die polisie saam met bendelede en dwelmhandelaars.

Die beweging se nasionale koördineerder, Abdus Salaam Ebrahim, het die gemeenskap van Tafelsig in Mitchell’s Plain toegespreek.

Hy het ‘n beroep op inwoners gedoen om op te staan vir hulle regte en hulle teen misdaad te verset.

Polisie op Kaapse Vlakte ontplooi

burningtyresDie polisie is in Kaapstad ontplooi by Brown’s Farm in Phillipi op die Kaapse Vlakte waar ‘n groep oproeriges Dinsdagoggend paaie versper het.

‘n Woordvoerder van die polisie sê die oproeriges het die kruising by Varkensvlei- en Weltrevredeweg met rommel en brandende motorbande afgesper.

Volgens die polisie word verkeersvloei tans nog nie geraak nie.

Die gedeelte van die nabygeleë Vanguard-rylaan is weer heropen nadat dit Maandag versper is deur ontevrede inwoners.

Inligting dui daarop dat Brown’s Farm in Philippi verlede jaar in November deur optogorganiseerders geteiken is wat ook die mobilisering van mense van Khayelitsha, Dunoon en Wallacedene insluit.

Inwoners van plakkerskampe is opgevorder om in Kaapstad te gaan betoog en aangemoedig om te gaan plunder tydens die beplanningsvergaderings wat plaasgevind het.

Organiseerders het voorgestel dat kos en Kersgeskenke “maklik beskikbaar in die middestad sal wees” vir die betogers.

Onderwyser op Kaapse Vlakte verkrag beste vriend se kind

admin-ajax‘n Kleurlingonderwyser het in die Blue Downs-landdroshof op die Kaapse Vlakte verskyn in verband met die verkragting van ‘n 12-jarige leerder, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gesê.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG, het gesê die 39-jarige man is borgtog geweier en sal weer op 3 Desember in die hof verskyn.

Die man staan tereg op ses aanklagte van ontvoering en 12 aanklagte van verkragting.

“Ons verwelkom die hof se besluit om borgtog te weier, omdat dit die verkeerde boodskap aan die publiek sou uitstuur.

“Die onderwyser, wat daarvan beskuldig word dat hy die leerder verskeie kere verkrag het, was ook haar onderwyser en haar pa se vriend.” – Sapa

N2 weer gesluit weens oproer

burningtyresDie N2 naby Khayelitsha op die Kaapse Vlakte is vir verkeer gesluit weens ‘n protesoptrede.

Die Wes-Kaapse verkeershoof, Kenny Africa sê die protesgangers bestook ook voertuie met klippe.

Die gedeelte van die pad wat geraak word is tussen die R300 en Mew-weg.

Die polisie monitor die situasie. Intussen hou die polisie en verkeersbeamptes steeds die situasie dop by Du Noon naby Milnerton waar inwoners oor dienslewering betoog.

Paaie in die omgewing is vir verkeer gesluit en motoriste is gevra om waaksaam te wees. – RSG

Zille storm uit vergadering oor SANW nie ontplooi word

zazille2Die emosionele uitbarstings van die Wes-Kaapse premier, Helen Zille is al bekend agv haar energieke Twitter-vingers.

Zille het Donderdag weer vir ongelukkigheid gesorg nadat sy uit ‘n vergadering met die minister van polisie Nathi Mthethwa gestorm het. Die vergadering is belê om hernude bendegeweld te bespreek op die Kaapse Vlakte.

Mthethwa se woordvoerder, Zweli Mnisi, het gesê Zille het die vergadering vroeg verlaat, met die verskoning dat sy ‘n afspraak met die minister van menslike nedersettings Connie September het.

“Die minister was hier teen 10:30 vir die geskeduleerde vergadering om 11:00. Maar ons moes lank wag vir die premier om te kom,” het hy gesê.

Die vergadering is belê nadat Zille ‘n ope brief aan die minister van polisie gerig het waarin sy vra dat die SANW ontplooi word in warm kolle soos Manenberg.

By die vergadering het Mthethwa gesê dat sosio-ekonomiese toestande op die Kaapse Vlakte agter die geweld sit en dit moet verbeter word.

Maar Zille het haarself glo gewip en gesê troepe moet dadelik ingeroep word om die strate te patrolleer.

Zille het haarself skielik verskoon om blykbaar vir September te gaan ontmoet. Mthethwa en sy amptenare moes daarna ontdek dat sy by inligtingsessie joernaliste by die parlement toegespreek het.

Zille se woordvoerder, Zak Mbhele, het ontken sy Donderdagmiddag uit die vergadering gestorm het. – timeslive.co.za

Nog ‘n Pagad-lid vas

pagad2Die organisasie, People Against Gangsterism and Drugs, PAGAD, sê nog een van sy senior lede is in hegtenis geneem is in verband met die driedubbele moord in Athlone verlede week.

Die organisasie sê Zacharia Albertyn is op die Kaapse Vlakte deur die polisie in hegtenis geneem.

Die leier van Pagad, Abdus-Salaam Ebrahim is verlede week in verband met die moorde in hetenis geneem.

Hy het reeds in die hof verskyn, waar sy saak tot 26 Augustus uitgestel is. – RSG

Gedenkdiens vir polisieslagoffers van Kaapse bendegeweld

drugsct‘n Gedenkdiens sal Maandag in Kaapstad gehou word vir die vier polisielede wat in die jongste voorvalle van bendegeweld in die Kaapse Skiereiland doodgeskiet is.

Nog ‘n polisielid is steeds in die hospitaal. Die polisie sê verskeie leidrade word opgevolg om die skuldiges vas te trek.

In die heel jongste voorval is ‘n 34-jarige polisielid verlede week deur twee onbekende mans by sy huis in Montclair in Mitchellsplein afgemaai.

Die nasionale polisiekommissaris Riya Phiyega sal na verwagting ‘n krans by die Khayelitsha polisiestasie lê, waarna ‘n diens later in Kuilsrivier gehou sal word.

Die minister van polisie, Nathi Mthethwa, het vroeër gesê die polisie oorweeg ‘n meesterplan om die dwelmprobleem op die Kaapse Vlakte te pak. Mthethwa sê Philippi is as ‘n loodsprojek aangewys.

Hy het ook gesê die Kaapstadse burgemeester, Patricia de Lille, steun hom in die benadering, wat behels dat maatskaplike ontwikkeling, gesondheid, onderwys en die polisie in ‘n vennootskap saamwerk.

Mthethwa sê hy is tevrede met die polisie se stryd teen dwelms in die Wes-Kaap, maar die hoë voorkoms van bendegeweld moet aandag kry.

Nie die minister of De Lille het verduidelik hoe die twee probleme geskei kan word nie, aangesien bendegeweld en dwelms nou verwant is.

De Lille se woordvoerder, Solly Malatsi, het bevestig dat die DA en ANC verlede maand in verband met die anti-dwelmveldtog oorleg geplaag het.

Hy sê Mthethwa het ook ingestem om met die provinsiale regering oor die saak saam te werk.

President Jacob Zuma sê buitengewone ingrypings is nou nodig om bendebedrywighede te bekamp. Hy het op Botshabelo, oos van Bloemfontein gepraat as deel van die ANC se veldtog vir volgende jaar se algemene verkiesing.

Die president sê bendelede wat gemeenskappe terroriseer is simbolies van ‘n ongesonde gemeenskap. Hy het slagoffers van bendegeweld in die gebied besoek en belowe om met die polisie te praat sodat stappe gedoen kan word.