Pagad ontken bande met Iran

Pagad, People Against Gangsterism and Drugs, sal aanstons ‘n mediakonferensie in Kaapstad hou oor bewerings dat hy bande met Iran het.

Sekere intelligensie-agentskappe het dié organisasie sowel as skynbaar ander onverwante Suid-Afrikaanse organisasies genoem as fasiliteerders vir Iranse intelligensie-aktiwiteite.

Pagad en die Ahl ul-Bait Foundation, ‘n Sjia-instituut, het die bewerings ten sterkste ontken.

Al Jazeera het intussen berig dat Pagad se nasionale koördineerder Abdus Salaam Ebrahim gesê het die groep het nog nooit enige ondersteuning ontvang nie. “Dit maak nie saak of dit Iran of Irak of Saoedi-Arabië is nie. Ons het nooit die ondersteuning van enige een ontvang nie,” het hy gesê.

Al Jazeera het ‘n dossier – Operasionele Doelanalise – gelek wat opgestel is deur Suid-Afrika se Nasionale Intelligensie-agentskap in Januarie 2010. Dit was gemik teen Iranse agente.

Volgens Al Jazeera, het die SA Staatsveiligheidsagentskap gesê Iranse spioene is individue wat “hoogs gemotiveerd is en moeilik om te werf”.

Hulle skyn “beleefd”, “verdraagsaam” en “oortuigend” te wees “maar pas voortdurend teenintelligensiemaatreëls toe”.

Die Guardian het gesê die dokumente wys dat Iran Suid-Afrika se leierskap genader het om internasionale sanksies deur Westerse lande te omseil.

Professor Mike Hough, afgetrede hoof van die Instituut vir Strategiese Studies aan die Universiteit van Pretoria, het gister gesê dat Suid-Afrika se bande met Iran nog nooit geheim was nie.

Ten opsigte van die spekulasie oor Iran se befondsing vir terreur organisasies, het Hough gesê ‘n direkte skakel tussen Iran en Pagad is nog nooit vasgestel nie.

Geen Pagad-lede is ooit aangekla vir die bom wat in Kaapstad in 1998 in die Planet Hollywood ontplof het nie.

Pagad belowe om misdadigers self vas te vat

Die misdaadbekampingsgroep Pagad sê die polisie moet dwelmhandelaars op die Kaapse Vlakte vasvat of sy lede sal dit self doen.

Pagad het by vergadering wat gehou is in Freedom Park Sondag, die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) beskuldig daarvan dat hulle nie misdaad hokslaan nie.

Ontstoke inwoners by die Freedom Park Gemeenskapsaal, sê daar is ‘n skerp styging in bendes en dwelmmisbruik in hul gemeenskap.

Een inwoner sê die polisie doen nie genoeg om die probleem te bekamp nie.

“Vir my is dit asof die polisie saam met die bendelede werk, want ons sal ‘n saak maak, maar niks kom van die saak nie en die dossier verdwyn.”

Inwoners sê as hulle verslag doen van kriminele aktiwiteite, wil die polisie nie onmiddellik reageer nie, of versuim hulle om misdadigers vas te vat.

Hulle het gevra vir ‘n toename in die polisie se sigbaarheid in die gebied.

Pagad het beloof om die Mitchells Plain-gemeenskap te help in die bekamping van misdaad.

Pagad sê inwoners is desperaat vir effektiewe maatreëls om oortredings soos dwelmhandel te bekamp.

Volgens ander inwoners werk sekere lede van die polisie saam met bendelede en dwelmhandelaars.

Die beweging se nasionale koördineerder, Abdus Salaam Ebrahim, het die gemeenskap van Tafelsig in Mitchell’s Plain toegespreek.

Hy het ‘n beroep op inwoners gedoen om op te staan vir hulle regte en hulle teen misdaad te verset.

Nog ‘n Pagad-lid vas

pagad2Die organisasie, People Against Gangsterism and Drugs, PAGAD, sê nog een van sy senior lede is in hegtenis geneem is in verband met die driedubbele moord in Athlone verlede week.

Die organisasie sê Zacharia Albertyn is op die Kaapse Vlakte deur die polisie in hegtenis geneem.

Die leier van Pagad, Abdus-Salaam Ebrahim is verlede week in verband met die moorde in hetenis geneem.

Hy het reeds in die hof verskyn, waar sy saak tot 26 Augustus uitgestel is. – RSG