Pagad, People Against Gangsterism and Drugs, sal aanstons ‘n mediakonferensie in Kaapstad hou oor bewerings dat hy bande met Iran het.
Sekere intelligensie-agentskappe het dié organisasie sowel as skynbaar ander onverwante Suid-Afrikaanse organisasies genoem as fasiliteerders vir Iranse intelligensie-aktiwiteite.
Pagad en die Ahl ul-Bait Foundation, ‘n Sjia-instituut, het die bewerings ten sterkste ontken.
Al Jazeera het intussen berig dat Pagad se nasionale koördineerder Abdus Salaam Ebrahim gesê het die groep het nog nooit enige ondersteuning ontvang nie. “Dit maak nie saak of dit Iran of Irak of Saoedi-Arabië is nie. Ons het nooit die ondersteuning van enige een ontvang nie,” het hy gesê.
Al Jazeera het ‘n dossier – Operasionele Doelanalise – gelek wat opgestel is deur Suid-Afrika se Nasionale Intelligensie-agentskap in Januarie 2010. Dit was gemik teen Iranse agente.
Volgens Al Jazeera, het die SA Staatsveiligheidsagentskap gesê Iranse spioene is individue wat “hoogs gemotiveerd is en moeilik om te werf”.
Hulle skyn “beleefd”, “verdraagsaam” en “oortuigend” te wees “maar pas voortdurend teenintelligensiemaatreëls toe”.
Die Guardian het gesê die dokumente wys dat Iran Suid-Afrika se leierskap genader het om internasionale sanksies deur Westerse lande te omseil.
Professor Mike Hough, afgetrede hoof van die Instituut vir Strategiese Studies aan die Universiteit van Pretoria, het gister gesê dat Suid-Afrika se bande met Iran nog nooit geheim was nie.
Ten opsigte van die spekulasie oor Iran se befondsing vir terreur organisasies, het Hough gesê ‘n direkte skakel tussen Iran en Pagad is nog nooit vasgestel nie.
Geen Pagad-lede is ooit aangekla vir die bom wat in Kaapstad in 1998 in die Planet Hollywood ontplof het nie.
