Geweld teen buitelanders vlam weer op in Umlazi

Die situasie by Umlazi, suid van Durban, het Dinsdagoggend na normaal teruggekeer ná gewelddadige oproer Maandag uitgebreek het teen buitelanders.

Die geweld het tot laatnag geduur toe swart inwoners winkels van buitelanders in die omgewing aangeval en geplunder het.

Hulle is glo woedend oor gerugte dat leerlinge by skole in KwaMashu ontvoer is. Die verkeer het Maandag op die Mangosuthu-hoofweg tot ‘n stilstand gekom. Die pad was met rommel versper.

Niemand is in verband met die geweld in hegtenis geneem nie.

Volgens berigte was daar ook verkeersopeenhopings in en om die Isipingo-gebied. Betogers het bande gebrand en begin klipgooi. Motoriste is aangemoedig om alternatiewe roetes te gebruik.

Die verkeer het tot stilstand gekom op die Mangosuthu-snelweg in Umlazi, ná inwoners die snelweg afgesper het.

Motoriste is ook versoek om weg te bly van Mega City, Price Mshiyeni Hospitaal, Clare Estate, Foremanweglokasie, Constantine-lokasie, Wandsbeckweg, Marriannhill, Holznerweg, Dorfnersingel, Reunionbrug en die Mega City-kruising tot verdere kennisgewing.

In 2015 is mense van die Kongo, Burundi, Rwanda, Ethiopië en Malawi in dieselfde gebied aangeval. Pres. Jacob Zuma het in Februarie vanjaar uitgevaar teen algemene wetteloosheid, asook dreigemente van geweld en intimidasie teen buitelanders.

Hy het die regering se kommer uitgespreek oor huidige dreigemente van geweld en dade van intimidasie en vernietiging van eiendom wat gerig is op nie-landsburgers wat in Suid-Afrika woon.

Inwoners in sommige gemeenskappe blameer nie-landsburgers vir die toenemende misdade, veral dwelmhandel.

Polisie gaan SA gebiede monitor waar buitelanders woon

Die polisie sê hulle het gebiede wat die ergste deur aanvalle op buitelanders en hulle sake-ondernemings geraak is, as prioriteitsgebiede geoormerk.

Rosettenville in Johannesburg en Pretoria in die Tshwane Metro het die ergste onder die vlaag gewelddadige aanvalle op buitelanders se winkels in die townships deurgeloop.

In Pretoria-Wes is hoofsaaklik Nigeriërs aangeval en van dwelmhandel, mensehandel en prostitusie beskuldig.

Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, sê die polisie sal voortgaan om die situasie in die betrokke gebiede te monitor.

Die ministers in die Justisie-, Misdaadvoorkomings- en Veiligheidsgroepering, sê die regering het gewaarsku teen sake-ondernemings wat buitelanders sonder dokumente in diens neem as ‘n manier om goedkoop arbeid te bekom.

Die regering sê sulke optrede deur sakelui skep spanning tussen plaaslike inwoners en buitelanders.

Die Minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba, sê planne is gereed om inspeksies te doen.

Gigaba sê buitelanders sonder dokumente wat in die land opgespoor word, sal na hulle lande van herkoms teruggestuur word.

Hy sê tydens die vorige geldjaar is net meer as 33 000 mense gerepatrieer wat ‘n redelike duur proses is om uit te voer.

Watse xenofobie? ANC hou hulself dom

Meer as honderd mense is in verband met xenofobiese aanvalle in Pretoria in hegtenis geneem.

Intussen het die Suid-Afrikaanse minister van binnelandse sake Malusi Gigaba verklaar Suid-Afrikaners is nie xenofobies nie. Die minister het Sondag by die Lighthouse Chapel International Kerk in Pretoria gepraat.

President Zuma het vroeër’n soortgelyke siening gehuldig toe hy gepraat het oor die saak.

Die Nigeriese regering het bevestig dat geen Nigeriërs in onlangse aanvalle dood is nie.

Gigaba sê die frustrasies teen vreemdelinge is vererger deur die diepgewortelde sosio-ekonomiese probleme in die land. Hy het gepleit met die regering om ‘n einde te bring aan armoede en ongelykheid. “Ons het nie genoeg vordering gemaak om armoede, werkloosheid en ongelykheid aan te spreek nie. Maar ek wil hê julle moet weet dat ons streek van Suider-Afrika in ons vasteland van Afrika nie ‘n hindernis is nie, maar ‘n pad na ons verlossing uit armoede, werkloosheid en ongelykheid,” het Gigaba gesê.

Hy sê die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners is nie xenofobies nie.

Maar verlede week was ‘n week van angs en beproewing, vrees en intimidasie vir die meeste Nigeriese, Zimbabwiese, Somaliese, en Pakistani immigrante in die omgewing van Johannesburg en Pretoria.

Die geweld het gelei tot die inhegtenisneming van 136 mense. In Johannesburg’n paar weke gelede in die suidelike woonbuurt van Rosettenville, is Nigeriërs geteiken vir dwelmhandel en prostitusie.

Die Afrika-lande, waarvan die burgers geteiken word in hierdie aanvalle, was ironies genoeg instrumenteel in die leiding van die stryd teen apartheid.

Suid-Afrika is ‘n groot bestemming vir miljoene asielsoekers. Die land, in teenstelling met baie Afrika-lande, het ‘n baie liberale asielbeleid, want die meeste vlugtelinge het die reg om te werk, studeer en selfs te lewe in die stad, in teenstelling met ander lande

Keniane wat met verslaggewers gepraat het in Pretoria, het dreigboodskappe deur WhatsApp ontvang, wat hulle waarsku dat ‘n aanval kom. Die Daily Nation berig dat Kenia se Hoë Kommissariaat die situasie monitor.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het hom uitgespreek teen die onlangse vlaag aanvalle teen immigrante.

Die kommisie het Maandag’n “noodvergadering” van belanghebbendes gehou ná geweld tussen plaaslike inwoners en buitelanders in Pretoria en Johannesburg.

Die Menseregtekommissie sê die kommissie is “baie bekommerd” oor die stand van sake en het alle betrokke partye uitgenooi om insette te lewer hoe hulle die “situasie” gaan hanteer.

Atteridgeville gespanne voor optog teen immigrante

In Atteridgeville, wes van Pretoria is die toestand gespanne in afwagting vir die optog teen “onwettige immigrante” wat skynbaar gemik is teen Nigeriërs.

Paaie in die woongebied is met brandende bande, klippe en ander voorwerpe versper. Die toegangsroetes is gesluit en niemand kan uit of in beweeg nie.

Die polisie het drie mense in hegtenis geneem nadat meer as 20 winkels oor die afgelope week in Atteridgeville, Pretoria geplunder is. Kaptein Bongi Msimango het gesê al die winkels behoort aan buitelanders.

Voorvalle is ook in ander swart woonbuurte in Pretoria-Wes en Mamelodi aangemeld.

Verlede week is ten minste 10 huise wat vermoedelik behoort het aan buitelandse dwelmbase en bordeeleienaars aan die brand gesteek in Rosettenville, suid van Johannesburg.

‘n Woordvoerder van Tshwane se Metropolisie het aan RSG gesê geen voorvalle van geweld is nog aangemeld nie. Die optog word gereël deur `n groep wat hulself Mamelodi Concerned Residents noem.

Die optog-organiseerder sê hulle is moeg vir onwettige immigrante wat handeldryf in dwelmmiddels en prostitusie.

Die optog sal na die kantore van die Departement Binnelandse sake wees en strate in Pretoria se middestad sal gesluit wees.

Intussen is nóg Suid-Afrikaanse sake-ondernemings in Nigerië geteiken weens ontevredenheid met die aanvalle teen buitelanders in Suid-Afrika.

Die Vereniging van Nigeriese Studente in Abuja het onder meer by die kantore van Multichoice betoog.

Betogers het ook die kantore van MTN bestorm waar hulle met klante slaags geraak en selfone gesteel het.

Franse breek ‘Oerwoud’ af

Frankryk het gister begin om die sogenaamde “Oerwoud” migrante-kamp by die noordelike stad Calais te ontruim voordat dit opgebreek sal word.

Die migrante word nou na ontvangsentrums elders in Frankryk geneem.

Die kamp bestaan uit ‘n versameling tente en skuilings en staan op ‘n winderige moddervlakte naby Calais. Die kamp is ‘n trekpleister vir migrante wat probeer om die kanaal na Brittanje oor te steek.

Die 6 000 tot 8 000 inwoners van die kamp is hoofsaaklik Afgane, Irakese, Eritreërs en Soedanese.

Daar is gevrees dat geweld sou uitbreek oor die gedwonge verskuiwing, maar die eerste dag het glo ordelik verloop.

Die Franse owerhede is gretig om van die oogseer en kriminele nes ontslae te raak voor die verkiesing volgende jaar, maar die dorpies wat die uitlanders moet huisves is woedend en talle betogings teen die asielsoekers is reeds gehou.

Berigte van asielsoekers wat motoriste aanrand en hul motors kaap is reeds verskeie kere aangemeld.

Ivoorkus se nuwe grondwet ‘n poging spanning te ontlont

Die Ivoorkus se pres. Alassane Ouattara het ‘n beroep op die parlement gedoen om ‘n nuwe grondwet te aanvaar.

Ouat­tara het in sy herverkie­singsveldtog verlede jaar beloof om die grondwetlike vereiste te verwyder dat presidentskandidate se ouers natuurlik gebore Ivoorkusburgers moet wees. Dit is ’n teer punt in ’n land wat vir lank immigrante uit naburige lande getrek het.

Nasionaliteit was die middelpunt van die krisis wat in 1999 tot ’n staatsgreep gelei het en die oorsaak was van die 2002-2003-burgeroorlog, wat die Wes-Afrikaland die afgelope agt jaar verdeel gelaat het.

In die konsepgrondwet wat Ouattara Woensdag in die parlement voorgelê het, word die klousule versag wat in die verlede sy opponente verhinder het om as kandidate in verkiesings te staan. Dit het ook ’n simbool van uitsluiting van inwoners van die noordelike gebiede geword. Hierdie inwoners se familiebande strek dikwels oor grense.

“Hierdie is die geleentheid om ’n nuwe blaadjie om te slaan en agtereenvolgende krisisse in die land agter die rug te kry en ’n nuwe maatskaplike onderneming aan te gaan,” het Ouattara aan wetgewers in die nasionale vergadering gesê.

Ouattara is in 2010 verkies, al het sy oorwinning ’n tweede oorlog ontketen waarin minstens 3 000 mense dood is, nadat pres. Laurent Gbagbo geweier het om die nederlaag te aanvaar.

Gbagbo staan nou in die internasionale geregshof tereg vir misdade teen die mensdom.

Die parlement het tot 15 Oktober om die teks van die grondwet goed te keur vóór dit by wyse van ’n referendum op 30 Oktober aan die publiek voorgelê word.

Ander wysigings verwyder die maksimum ouderdomsbeperking van 75 jaar vir presidentskandidate en maak dit ook makliker om die grondwet in die toekoms te wysig.

Opposisiepolitici en burgerlike samelewingroepe het die proses om die grondwet op te stel, gekritiseer en sê dit is sonder konsensus en deursigtigheid gedoen.

Plakkershuise van buitelanders in Tshwane, Kaapstad brand

Die Tshwane Metro sê hulle weet nie wie verantwoordelik is vir die brand in die Plastic View-plakkerskamp nie.

Die meerderheid van Plastic View se inwoners is buitelanders en nie Suid-Afrikaanse burgers nie.

‘n Woordvoerder van die burgemeester, Blessing Manale sê hulle sal ondersoek instel na die oorsaak van die brand.

Hy sê die brand het vinnig versprei omdat daar sowat duisend plakkershuise in ‘n gebied so groot soos drie rugbyvelde is.

Vyf mense is in die brand dood, en honderde mense is dakloos gelaat.

Die Metro het die families van die inwoners wat die naweek dood is in die brand intussen gekontak.

Manale sê die Metro is al vir vier jaar in gesprek met menseregte-prokureurs oor die moontlike hervestiging van inwoners van Plastic View.

Hy sê egter die behuisingskode laat hulle nie toe om maatskaplike behuising aan buitelandse burgers toe te ken nie.

Nog ‘n plakker is vroeg vanoggend dood in ‘n brand in Gugulethu op die Kaapse Vlakte waar tien plakkershuise in puin gelê is. Byna 40 mense is dakloos gelaat.

Gugulethu is ook ‘n gebied wat hoofsaaklik deur buitelanders beset word.

‘n Woordvoerder van die Kaapstadse brandweer, Theo Layne sê die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie, en die saak is aan die polisie oorhandig vir verdere ondersoek.

Hy sê rampbestuurspanne sal vanoggend die gebied besoek om te bepaal watter bystand hulle kan verskaf.

Hofaansoek teen Operasie Fiyela

Die “menseregte-organisasie” Lawyers for Human Rights, wat deur George Soros befonds word, gaan ‘n aansoek by die Hooggeregshof in Pretoria indien teen die ANC-regering se “misbruik van die SAPD”.

Die organisasie beoog om Operasie Fiyela as onwettig en ongrondwetlik verklaar te kry.

Operasie Fiyela is ‘n nasionale inisiatief wat deur die polisie, weermag en amptenare van Binnelandse Sake bedryf word om onwettige immigrante uit te snuffel.

Dit is op die been gebring nadat skoktonele oor die mishandeling van buitelandse burgers koerantvoorblaaie gehaal het tydens ‘n hernude vlaag van geweld teen hulle.

LHR se woordvoerder David Cote sê die operasie is ‘n doelbewuste wanaanwending van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Die groep sê die operasie word sonder enige agting vir die reg en sonder lasbriewe uitgevoer.

Hulle sê Fiyela skend die Grondwet wat die reg op privaatheid verseker, asook die reg dat ‘n woonplek nie sonder magtiging deurgesoek mag word nie.

Die Europese Unie waar die onwettige immigranteprobleem reeds tot die voorste nasionale kwessie in byna elke lidland gevorder het, dra ook by tot die LHR.

Regtegroep vaar uit teen Operasie Fiela

President Jacob Zuma het die regering se Operasie Fiela verdedig. Die operasie is daarop gemik om seker te maak dat immigrante die nodige dokumente het en wettig in die land is.

Die veldtog is deel van die regering se planne om misdaad te bekamp.

Stephen Faulkner van die People’s Coalition Against Xenophobia, het gesê die regering vergelyk buitelanders met “gemors” omdat “fiela” beteken om skoon te maak.

Die weermagoperasie impliseer dat diegene wat in hegtenis geneem word as “gemors” in stryd is met die regering se verbintenis om xenofobie uit te roei.

Die operasie word ook gekritiseer omdat dit gesien word as `n veldtog wat nie net onwettige immigrante aankeer nie, maar ook mense wat om asiel aansoek doen.

Zuma, wat vrae in die Nasionale Raad van Provinsies beantwoord het, het gesê dat dit veldtog slegs teen misdadigers is.

Inwoners eis dat plaaslike werkers by Medupi aangestel word

Lokasiebewoners by Ellisras (Lephalale) in Limpopo het ‘n beroep op die Wetgewer gedoen om te sorg dat plaaslike inwoners by die Medupi en Matimba-kragaanlegte aangestel word.

Hulle beskuldig buitelanders ook van ‘n prysoorlog teen plaaslike kleinsake-handelaars.

Hulle het sterk beswaar aangeteken oor buitelanders wat by onwettige sakebedrywighede betrokke is.

Die plaaslike swartes beweer dat buitelanders hul produkte te goedkoop verkoop wat tot werkloosheid en die ineenstorting van die plaaslike kleinsake-sektor gelei het.

Honderde plaaslike inwoners het by ‘n uitreikprogram teen vreemdelingehaat van die Limpopo Wetgewer in die Marapong-lokasie gekla oor dié en ander praktyke.

‘n Lid van die provinsiale wetgewer, Dickson Masemola het in reaksie op die gemeenskap se griewe gesê die ANC-regering sal verseker dat buitelanders aan die land se wette voldoen.

Hy sê die provinsiale regering en plaaslike munisipaliteite moet toesien dat sake-ondernemings behoorlik gereguleer word.

Intussen het die Nasionale Vergadering die oprigting van ‘n adhoc-komitee goedgekeur om die vlaag xenofobiese geweld van verlede maand te ondersoek.

Dié aanvalle in Durban en Johannesburg het vir kwaai internasionale kritiek gesorg.

Die veelparty komitee van elf lede sal teen 30 Augustus aan die parlement verslag doen oor hul bevindinge oor geweld teen buitelanders en verwante sake.

Die bevindinge van ‘n taakspan wat xenofobie in 2008 ondersoek het, sal ook by hul verslag ingesluit word. In 2008 is buitelanders lewend aan die brand gesteek.

Vermeende xenofobiese aanvallers vra pleitooreenkoms

Die verhoor van die vier swartes wat beskuldig word van die moord op die Mosambiekse burger Emmanuel Sithole is uitgestel. Die vier het in die Alexandra-landdroshof verskyn.

Hulle staan tereg op aanklagte van moord en roof.

Mthinto Bhengu, Sizwe Mngomezulu, Ayanda Sibiya en Sifundi Mzimela het Sithole glo verlede maand in ‘n straat in Alexandra, noord van Johannesburg, met ‘n mes doodgesteek.

Die mesaanval is deur die Sunday Times op foto vasgelê tydens die xenofobiese opwelling wat die land teister.

Bhengu en Sibiya het aan die hof gesê hulle wil ‘n pleitooreenkoms met die staat aangaan, terwyl hulle medebeskuldigdes, Mngomezulu en Mzimela, skuld sal ontken.

Die saak is tot 13 Mei uitgestel.

Polisie in Thabazimbi ontplooi na xenofobiese geweld

Die polisie op Thabazimbi in Limpopo is op hoë gereedheid nadat winkels van buitelanders die afgelope twee dae aangeval, geplunder en aan die brand gesteek is.

Polisiewoordvoerder Ronel Otto sê elf mense is gearresteer en sal aangekla word van openbare geweld, huisbraak en die besit van gesteelde goedere.

Xenofobiese aanvalle het versprei na Limpopo waar winkels wat besit word deur Somaliërs en Ethiopiërs geteiken is.
 
Ongeveer 50 buitelanders, insluitend vroue en kinders, word nou tydelik gehuisves in die dorp by ‘n gemeenskapsaal.
 
Hulle het aangedui dat hulle al hul besittings verloor het en hulle moet staatmaak op die regering en ‘n paar humanitêre organisasies om basiese dinge soos kos te voorsien.
 
Thabazimbi se burgemeester, Patricia Mosito, het die voorval veroordeel. “Dit is krimineel om buitelandse burgers aan te val … dit is nie iets wat ons kan kondoneer nie.”
 
Intussen het ‘n ANC-lid in die Noordwes-wetgewer, Jeanette Dibetso-Nyathi, ‘n beroep op almal gedoen om die pogings van die nasionale regering te ondersteun in die hantering van die sporadiese aanvalle op buitelandse burgers.
 
Intussen het President Jacob Zuma amptelik die Nasionale Raad van Provinsies ingelig dat hy 338 soldate ontplooi het om enige verdere aanvalle op buitelanders in Kwazulu-Natal, Gauteng en enige ander gebied, te voorkom.
 
Zuma sê dat die soldate op die strate sal bly tot 30 Junie, en kos die land meer as R4,2 miljoen.

MRK ontvang dreigemente oor ondersoek teen Zoeloe-koning

City Press het berig dat dreigemente om die Mensregtekommissie (MRK) in Durban af te brand ontvang is as die kommissie met sy ondersoek teen die Zoeloe-koning, Goodwill Zwelithini, sou voortgaan.

Veiligheid by die MRK moes dringend verskerp word ná die dreigemente van geweld.

Zwelithini het by ‘n byeenkoms buitelanders met miere en luise vergelyk en hulle aangeraai om hul tasse te pak en te gaan in sy toespraak verlede maand in Pongola, KwaZulu-Natal.

Hy het egter ‘n “Derde Mag” en die media blameer vir aanhitsing van geweld.

‘n Georkestreerde veldtog is in Afrikalande teen suksesvolle Suid-Afrikaanse maatskappye opgemerk.

Volgens City Press is die MRK aangeraai om dadelik op te hou met hulle ondersoek om te verhoed dat die MRK-kantoor aan die brand gesteek word met werknemers binne-in. MRK-personeel word glo dopgehou.

Isaac Mangena, woordvoerder van die MRK, het bevestig dat die kommissie dreigemente ontvang het.

Mangena het gesê Zwelithini speel geen rol in die dreigemente nie en die koning het glo sy volle samewerking aan die MRK gegee.

Die regering sê intussen hulle gaan nie sy hoë kommissaris in Nigerië terug roep nie, ten spyte van Abuja wat sy ambassadeur uit Pretoria ontbied het.

Suid-Afrika het Nigerië se besluit gekritiseer en sê Nigerië het nooit aangedui dat hy die kwessie van xenofobiese geweld met Suid-Afrika wil bespreek nie.

‘n Woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge, Clayson Monyela sê hulle gaan die kwessie met Nigerië se nuwe regering bespreek, wat aanstaande maand ingehuldig word.

Twee van Zimbabwe geskiet

‘n Zimbabwiër en sy vrou is Maandagaand in hul huis in Alexandra, noord van Johannesburg, geskiet. Hulle is na die Charlotte Maxeke-hospitaal gehaas.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het gesê die motief vir die aanval is nog nie bekend nie, maar die aanvallers het die paar geskiet en hulself daarna uit die voete gemaak.

Dit is nie duidelik of die aanval met die nuwe vlaag xenofobiese aanvalle in Johannesburg die afgelope week verbind kan word nie.

Drie gewapendes het aan die deur geklop en op die twee Zimbabwiërs losgebrand. Niks is glo uit die huis gesteel nie.

Die 33-jarige man en sy 22-jarige vriendin is albei in die bolyf gewond.

Xenofobiese geweld kom reeds ‘n hele aantal jare sporadies in Suid-Afrika voor en het die afgelope tyd in Durban en Johannesburg opgevlam.