Die Ivoorkus se pres. Alassane Ouattara het ‘n beroep op die parlement gedoen om ‘n nuwe grondwet te aanvaar.
Ouattara het in sy herverkiesingsveldtog verlede jaar beloof om die grondwetlike vereiste te verwyder dat presidentskandidate se ouers natuurlik gebore Ivoorkusburgers moet wees. Dit is ’n teer punt in ’n land wat vir lank immigrante uit naburige lande getrek het.
Nasionaliteit was die middelpunt van die krisis wat in 1999 tot ’n staatsgreep gelei het en die oorsaak was van die 2002-2003-burgeroorlog, wat die Wes-Afrikaland die afgelope agt jaar verdeel gelaat het.
In die konsepgrondwet wat Ouattara Woensdag in die parlement voorgelê het, word die klousule versag wat in die verlede sy opponente verhinder het om as kandidate in verkiesings te staan. Dit het ook ’n simbool van uitsluiting van inwoners van die noordelike gebiede geword. Hierdie inwoners se familiebande strek dikwels oor grense.
“Hierdie is die geleentheid om ’n nuwe blaadjie om te slaan en agtereenvolgende krisisse in die land agter die rug te kry en ’n nuwe maatskaplike onderneming aan te gaan,” het Ouattara aan wetgewers in die nasionale vergadering gesê.
Ouattara is in 2010 verkies, al het sy oorwinning ’n tweede oorlog ontketen waarin minstens 3 000 mense dood is, nadat pres. Laurent Gbagbo geweier het om die nederlaag te aanvaar.
Gbagbo staan nou in die internasionale geregshof tereg vir misdade teen die mensdom.
Die parlement het tot 15 Oktober om die teks van die grondwet goed te keur vóór dit by wyse van ’n referendum op 30 Oktober aan die publiek voorgelê word.
Ander wysigings verwyder die maksimum ouderdomsbeperking van 75 jaar vir presidentskandidate en maak dit ook makliker om die grondwet in die toekoms te wysig.
Opposisiepolitici en burgerlike samelewingroepe het die proses om die grondwet op te stel, gekritiseer en sê dit is sonder konsensus en deursigtigheid gedoen.
‘n Swaar bewapende Ugandese militêre konvooi het Donderdag die grens na Suid-Soedan oorgesteek om die land se burgers wat in Jaba vasgekeer is, na veiligheid te neem, het AFP berig.
Dit kom midde vrees dat die intensiewe gevegte van verlede naweek enige oomblik weer kan uitbreek, ondanks die skietstilstand-ooreenkoms wat steeds van krag is.
Die Verenigde Nasies het gewaarsku oor die gespanne toestand in die land en die moontlikheid van nuwe geweldpleging.
Die Ugandese konvooi van ongeveer 50 vragmotors, wat vergesel word van gepantserde voertuie wat met masjiengewere bewapen is, het die grens by Nimule oorgesteek om ‘n veilige korridor vir vlugtende burgerlikes op die 200 kilometer lange pad tussen Juba en Nimule te open.
“Ons beplan om na Juba te gaan en ongeveer 3 000 Ugandese wat daar gestrand is en die land wil verlaat, na veiligheid te neem,” het Uganda se weermaghoof, brigadier Leopold Kyanda, gesê.
Kyanda sê die sending sal tussen twee en drie dae duur.
Die Ugandese weermag het aan die kant van pres. Salva Kiir geveg nadat die burgeroorlog in Desember 2013 uitgebreek het tussen magte lojaal aan hom en magte wat deur die visepresident Riek Machar gelei is.
Van buite Juba is berigte van geweldpleging in die dorpe Leer in die Eenheidstaat en Wau in die westelike Bahr el Ghazal-staat ontvang. Die weermag en rebellemagte het ook in die omgewing van Malakal in die Bo-Nyl-streek gemobiliseer.
Handelsvlugte is gister uit Juba hervat. Vliegtuie wat aangekom het was leeg en het stampvol vertrek met mense wat desperaat was om die stad te verlaat. Spesiale huurvlugte neem buitelanders sedert Woensdag uit die land.
Die Amerikaanse Tesourie het aangekondig dat die swart spioen, Harriet Tubman die eerste vrou in meer as ‘n eeu sal wees om op Amerikaanse banknote te verskyn.
Die onaansienlike bediende Tubman is in die 1820’s as ‘n slaaf gebore en het gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog op die Suide gespioeneer.
Sy sal die oudpresident Andrew Jackson, wat ‘n slawe-eienaar was, voor op die 20-dollar-noot vervang.
Die Unie het haar betaal om die bewegings van die Konfederale troepe te verraai.
In 1863, het die swart bediende kolonel James Montgomery en sowat 150 swart soldate op ‘n kanonboot vergesel met die inval in Suid-Carolina.
Die Unie het die Konfederale rebelle verras en toe die slawe wat in die afgebrande plantasies geskuil het, besef die Unie kan hul vryheid waarborg, het hulle uit alle rigtings na die bote begin aanstorm.
“Ek het nog nooit so ‘n gesig gesien nie,” het Tubman daarvan gesê van die 700 siele.
Sy word tans voorgehou as een of ander swart militêre genie wat ‘n veldslag teen die “rassistiese” Suide gewen het.
Die sekretaris van die Tesourie, Jacob Lew sê Tubman is ‘n geskiedkundige leierfiguur wat haar eie lewe op die spel geplaas het om ander re red.
Tubman se onvleiende gesig is verfraai vir die noot.
Volgens Tubman self het sy soos ‘n “onkruid” opgekom as kind.
Die Tesourie het planne laat vaar om een van die stigters van die Amerikaanse finansiële stelsel, Alexander Hamilton van die 10-dollar-noot te verwyder.
Die voormalige leier van Unita, Jonas Savimbi, is nou ’n skurk in ’n videospeletjie en dit het sy kinders hewig ontstel, het AFP berig.
Die familie van die gevalle Angolese rebelleleier, Jonas Savimbi, dagvaar die vervaardigers van ’n gewilde videospeletjie, Call of Duty vir die uitbeelding van sy karakter as ’n “barbaar”, het hul regsgeleerde gesê.
Drie van Savimbi se kinders wat in die Parys-streek woon, vra een miljoen euro in skadevergoeding van die Franse tak van die speletjie se vervaardigers, Activision Blizzard.
Savimbi was die stigter van die Nasionale Verenigde Front vir die Totale Onafhanklikheid van Angola (Unita), wat in ’n 27-jaar lange burgeroorlog met die Angolese regering betrokke was.
Hy is tydens gevegte in 2002 dood en dit het die weg vir ’n vredesooreenkoms gebaan wat ’n einde aan een van Afrika se langste en bloedigste konflikte sou maak.
Die oorlog het die lewens van minstens ’n halfmiljoen mense geëis en vier miljoen burgerlikes gedwing om uit hul huise te vlug.
Hy was net so charismaties as wat hy omstrede was en die bebaarde Savimbi het gereeld in die openbaar in sy uniform met ’n rooi baret verskyn.
Tien jaar ná sy dood, was dit hierdie figuur wat sy kinders ontdek het toe Call of Duty die Black Ops II videospeletjie in 2012 bekend gestel het.
Die omstrede deel wys Savimbi, bekend as die “swart haan” onder sy ondersteuners, waar hy op ’n tenk staan en sy troepe opsweep en die MPLA in aantog is en geweervuur oral gehoor kan word.
Hy skree slagspreuke soos “veg, my broers” en “ons moet met hulle klaarspeel . . . dood vir die MPLA”.
Die Savimbi-familie se regsgeleerde sê Savimbi word uitgebeeld as ’n “groot domkop wat almal wil doodmaak”.
Dit is nie die eerste keer dat geskiedkundige en politieke figure as karakters in Call of Duty hul verskyning maak nie.
Kuba se Fidel Castro, die ontslape Amerikaanse president, John F. Kennedy en die voormalige Panamese diktator, Manuel Noriega, het ook al hul verskyning gemaak.
Noriega het in 2014 in Amerika hof toe gegaan en gesê die speletjie stel hom in ’n slegte lig. Die hof het die saak verwerp.
Pres. Denis Sassou Nguesso is reeds meer as 30 jaar aan die stuur van sake in die Republiek van die Kongo.
Die 72-jarige president word grondwetlik verhinder om hom vir ‘n derde termyn verkiesbaar te stel en daar is ‘n ouderdomsbeperking van 70 jaar vasgestel, het AFP berig.
Sassou Nguesso is onder verskeie Afrika-leiers wat in omstredenheid gedompel is omdat hulle verseg om die leisels prys te gee.
Sassou Nguesso se besluit om hom vir ‘n derde termyn verkiesbaar te stel, het tot protesoptrede in die hoofstad, Brazzaville, gelei nadat die regering verlede maand sy voornemens aangekondig het.
Soortgelyke planne deur sy eweknieë het vanjaar elders in Afrika tot geweldpleging gelei. In nabygeleë Burundi het pres. Pierre Nkurunziza se wyd veroordeelde derde termyn tot ‘n mislukte staatsgreep gelei.
Laat verlede jaar is die ystervuis-leier van Burkina Faso, Blaise Compaore, uit die kussings gelig ná wydverspreide en gewilde straatprotes. Dít nadat hy probeer het om sy 27 jaar lange bewind te verleng.
Die Oktober-referendum sal handel oor die twee-termyn-beperking en om die ouderdomsbeperking-voorsiening te skrap.
Die referendum sal op 25 Oktober plaasvind.
Sassou Nguesso was van 1979 tot 1992 president. Daarna was hy die leier van die opposisie en het ná ‘n kort burgeroorlog in 1997 na die presidensiële paleis teruggekeer.
Hy is in 2002 en weer in 2009 herkies as president midde ernstige besware van opposisiepartye rakende wydverspreide verkiesingsbedrog.
Duisende migrante uit Afrika en die Midde-Ooste het oor die Masedoniese grens gestorm en veiligheidsmagte oorweldig.
Die land het Donderdag ‘n noodtoestand afgekondig en sy grense vir vlugtelinge gesluit.
Veiligheidsmagte het skokgrenate en knuppels ingespan om onwettige immigrante in bedwang te probeer bring, maar Masedonië het tevergeefs probeer om die jongste mensegety te keer.
Duisende stroom uit die Balkan na Wes-Europa – waar grensbeheer tussen Schengenlande afgeskaf is – om van staatstoelae te kan leef.
Ten minste 5000 migrante het aangekom in Serwië Sondag op ‘n reis verder wes, nadat die naburige Masedonië se pogings om hulle te verhoed, misluk het.
Betrokke Europese leiers het oproepe gedoen vir ‘n “radikale aanpassing” in die EU se migrasiebeleid, voordat die EU “sy siel verloor”.
Duisende vlugtelinge – hoofsaaklik uit die oorloggeteisterde Sirië, sowel as uit Afrika en Asië – het Serwië hierdie naweek bereik, nadat hulle met geweld deur die Griekse-Masedoniese grens gebreek in ‘n poging om verder in die EU te reis na meer vrygewige lande.
Alhoewel die Masedoniese polisie aanvanklik die mensevloei met skokgranate en traangas kon terughou, het die land intussen besluit om migrante na Serwië te laat deurreis.
Die Serwiese minister van verdediging Bratislav Gasic sê hulle verwag dat “die mensegolf in die volgende dag of twee van ‘n soortgelyke intensiteit sal wees” het Reuters berig.
Nog ‘n Serwiese regeringsamptenaar wat anoniem wou bly het gesê dit is “die grootste getal in een dag so ver”.
Die “vlugtelingkrisis” is die “grootste uitdaging sedert hereniging” van Duitsland het die Duitse Visekanselier Sigmar Gabriel Sondag gesê.
Europa sal hul beleid “radikaal moet verander” het Gabriel gesê in ‘n onderhoud met Duitsland se ARD openbare uitsaaier.
Die Italiaanse minister van buitelandse sake het Sondag gesê, die “siel” van die EU sal met die vrye beweging van mense bedreig word nalv die situasie by die Griekeland-Masedonië grens.
Ten minste 27 mense is Maandag dood en talle beseer toe ’n vegvliegtuig van die Siriese weermag in ’n besige mark in die rebellevesting in die noordwestelike dorp, Arihe, neergestort het.
Die meeste oorledenes was burgerlikes. Die dorp in die Idlib-provinsie is in Mei deur ’n koalisie van Islamitiese insurgente ingeneem.
Die militêre vliegtuig het ’n bom in die hart van die sentrale stad afgegooi waar winkeleienaars besig was om vroegoggend hul winkels te open. Kort daarna het die vliegtuig in die middel van die markgebied neergestort.
Sondag het ’n missiel wat deur Siriese regeringsmagte afgevuur is, ’n burgerlike woonbuurt in die Sheikh Khodr-woonbuurt van Aleppo getref. Die stad was eens op ’n tyd Sirië se ekonomiese kern. Sedertdien is die stad byna in puin gelê deur gevegte en tussen regeringsbeheer in die weste en rebellebeheer in die ooste verdeel.
Gevegte tussen regeringsmagte en insurgente van die groep Jaish al Fateh, (weermag van verowering), wat Sirië se Al-Kaïda beweging, die Nusra Front insluit, het die afgelope tyd in intensiteit in die landelike Idlib-provinsie toegeneem.
Die val van Ariha het insurgente in beheer gelaat van die grootste deel van die Idlib-provinsie, wat aan Turkye grens.
Die meeste van die ryk landbougebied is egter sedertdien swaar deur die magte van pres. Bashar al-Assad gebombardeer in ’n teenoffensief om die gebied te herower.
Swaar lugaanvalle word ingespan om die insurgente se opmars in die berge van die Latakia-provinsie te stuit. Die insurgente beweeg al nader aan die kusgebied noord van die hoofstad, Damaskus, wat in regeringshande is.
Sirië se westelike flank, wat aan sowel die Middellandse See as Libanon grens, huisves Sirië se belangrikste stede, insluitend Damaskus.
Pres. Barack Obama sê die bomaanval op Somalië se hoofstad is ’n wekroep dat terreurgroepe soos Al-Sjabaab niks anders as verwoesting aan te bied het nie en gestop moet word.
Obama het tydens ’n gesamentlike nuuskonferensie met eerste minister Hailemariam Desalegn in Addis Abeba, Ethiopië, gepraat. Hy sê Amerika en ander lande moet die druk op groepe soos Al-Sjabaab volhou.
Obama sê Al-Sjabaab is ’n ernstige bedreiging vir Ethiopië.
Dié Oos-Afrikaland is ’n vennoot van Amerika in die stryd teen terrorisme en deel inligting met Amerikaanse afgevaardigdes. Amerika het ook troepe gestuur om Somalië by te staan om die onstabiliteit in die land die hoof te bied.
Die Verenigde Nasies (VN) se hoof van bystand, Stephen O’Brien, het intussen gewaarsku oor die verwoestende gevolge vir burgerlikes in Suid-Soedan ná 19 maande se burgeroorlog wat deur gruweldade gekenmerk is.
O’Brien was op ’n vierdaagse besoek om “eerstehands die gevolge van die konflik en die pogings wat deur sy bystandsorganisasie aangewend word” in reaksie op die toenemende behoeftes waar te neem.
Volgens ’n VN-verslag is hongersnood aan die toeneem.
Byna 70 persent van die land se bevolking, oftewel 7,9 miljoen van die 11,6 miljoen inwoners, staar voedselonsekerheid in die gesig.
Gewapende mans in Suid-Soedan het meisies verkrag, seuns ontvoer om soldate te word en dorpe aan die brand gesteek in van die hewigste gevegte in die 17-maande lange burgeroorlog, het die Verenigde Nasies (VN) gister bekend gemaak.
Meer as 300 000 burgerlikes is sonder enige lewensreddende hulp in die noordelike slagveldstaat Unity gestrand, nadat die VN sy agentskappe vanweë die toename in gevegte onttrek het.
Meer as 100 000 mense is genoop om uit hul huise te vlug, het AFP berig.
Die VN-vredesending sê dit is “toenemend bekommerd” oor verslae uit die Guit- en Koch-distrik in die Unity-staat oor “dorpe en nedersettings wat afgebrand word, die dood en ontvoering van seuns so jonk as tien jaar oud en die verkragting en ontvoering van vrouens en meisies”.
Die geweldpleging is die ergste wat dit in maande was met regeringsmagte wat suidwaarts beweeg van die hoofstad, Bentiu, in die opposisiesone om die dorp Leer, die tuiste van die land se eens winsgewende olievelde, te verower.
Die internasionale komitee van die Rooikruis het ook sy personeel aan Leer onttrek en gewaarsku dat toenemende gevegte tussen magte lojaal aan pres. Salva Kiir en die rebelleleier, Riek Machar, duisende inwoners dwing om vir hul lewens te vlug.
Dokters Sonder Grense (MSF) het oor die naweek gesê dit het geen keuse gehad as om hul buitelandse personeel uit Leer te onttrek en sodoende alle mediese dienste in die rebelledorp te staak nie.
Leer, die geboorteplek van Machar, is in Januarie 2014 deur regeringsmagte geplunder. Gewapende magte het toe die MSF-hospitaal beroof en sommige geboue afgebrand.
MSF het sedertdien die hospitaal herbou wat die enigste verwysigingshospitaal in die opposisiegebied is.
Suid-Soedan se burgeroorlog het in Desember 2013 begin en is gekenmerk deur etnies gedrewe menseslagtings, verkragtings en aanvalle op burgerlikes en mediese instansies.
Rusland het Maandag gesê pres. Wladimir Poetin sal geen ultimatums rakende die Oekraïne duld nie.
Dié reaksie volg op Anglo-Amerikaanse mediaberigte dat Duitsland Poetin “tot môre tyd gegee het om tot ’n nuwe vredesplan in te stem, anders sal Rusland nuwe sanksies in die gesig staar”.
Poetin se woordvoerder, mnr. Dmitry Peskof, het op ’n Russiese radiostasie verbaas gesê dat niemand nog ooit aan die president ‘n ultimatum gestel nie. Dit bly ongeoorloof, ongeag die versoeking, het Peskof gemaan.
Die leiers van die Oekraïne, Duitsland en Frankryk maak gereed vir ’n beraad met Poetin in Minsk, in Belarus, môre.
Die doel is om ’n einde van tien maande se bloedvergieting in Oos-Oekraïne te bewerkstellig.
Intussen oorweeg Amerika dit om die regeringstroepe van die Oekraïne te bewapen om pro-Russiese selfverdedigingsgroepe aan te val.
Die VSA probeer ‘n burgeroorlog in die land stook na ‘n gefaalde kleurrewolusie namens groot oliebelange.
Poetin het Sondag gedreig om hom aan môre se beraad te onttrek indien die ander leiers nie tot “verskeie punte” instem nie. Hy het nie oor dié punte uitgebrei nie.
Poetin het Vrydag tot ounag in die Kremlin met me. Angela Merkel en Francois Hollande, onderskeidelik die Duitse en Franse leiers, vergader. Dit was Merkel se eerste besoek aan Rusland sedert die krisis in die Oekraïne meer as ’n jaar gelede begin het.
The Wall Street Journal het Sondag berig dat Merkel Poetin voor ’n ultimatum gestel het, maar dit is onwaarskynlik aangesien Duitsland van Russiese gas afhanklik is.
Merkel, wat geen geheim daarvan maak dat sy heftig gekant is teen die verskaffing van wapens aan die regeringsmagte van die Oekraïne is nie, het ondersteuning van Frankryk gekry.
Merkel het Maandag haar vredesplanne met pres. Barack Obama by die Withuis in Washington bespreek.
Die Australiese hooggeregshof het ‘n tussentydse bevel gemaak dat die regering nie 153 asielsoekers na Sri Lanka mag terugstuur nie.
Baie van die vlugtelinge kom egter glo uit Indië.
Die saak sal môre weer in die hoogeregshof aangehoor word. Dié stap word allerweë as ‘n maatreël teen Chinese invloed in die streek beskou.
Die hofbevel kom enkele ure nadat die regering ‘n ander vaartuig laat omdraai het.
Maandag het die hof gehoor dat die groep, wat 32 vroue en 37 kinders insluit, onder die regering se beheer op see te beskerm moet word.
“Ons het aangevoer dat die asielsoekers geregtig is om hulle bewerings te maak – eise teen die regering van Sri Lanka – [dat hulle] gehoor en verwerk word in ooreenstemming met die wet,” het hul regsverteenwoordiger George Newhouse gesê.
“Die Minister kan hulle eenvoudig nie onderskep in die nag en laat verdwyn nie.”
Newhouse het gesê hy is geskok deur die onthullings dat ‘n aparte groep van 41 asielsoekers krimineel aangekla sal word in Sri Lanka as hulle terugkeer.
“Dit versterk die dringendheid van hierdie hofaansoek, want die Regering is besig om die mense aan die risiko bloot te stel van ‘n kriminele klag, tronkstraf en marteling – want dit is wat gebeur in Sri Lanka se tronke,” het hy gesê.
Regter Susan Crennan het gesê die asielsoekers word waarskynlik tans aangehou deur die vloot en sal aan Sri Lanka se owerhede oorhandig word.
Sy het ‘n tussentydse bevel toegestaan teen enige oordrag tot die saak in die Australiese hooggeregshof aangehoor word.
Sommige van die asielsoekers het glo uit Sri Lanka na vlugtelingkampe in Indië gevlug voordat hulle ‘n boot na Australië geneem het.
Die Britse Statebond het vroeër Tamil-nasionalisme ondersteun vir outonomie in die noorde van die eiland.
Brittanje het vir byna drie dekades lank die Tamil Tiere se geweld finansier om ‘n oorlog teen Sri Lanka se Sinhala-regering te voer. Die land het lank gebuk gegaan onder ‘n vernietigende burgeroorlog.
Sri Lanka het egter hul militêre en ekonomiese samewerking met China verhoog om uiteindelik die Britse aggressie van die Tiere heeltemal te verslaan in 2009.
Die jongste verwikkelinge kom te midde van Tamil-eise om ‘n onderhandelingsproses vir ‘n outonome Tamil-noorde van stapel te stuur.
Die Tamilvlugtelinge beweer minstens 11 mense op die boot is gemartel deur Sri Lanka se intelligensie dienste, en sê daar moet meer mense in ‘n soortgelyke situasie op die vaartuig wees.
Die boot is onderskep by Kerseiland meer as ‘n week gelede. Die Australiese regering het vroeër erken dat hy 41 asielsoekers Maandag aan die owerheid in Sri Lanka oorhandig het.
Dit volg op kommer dat Australië meer as twee honderd Sri Lankane oorhandig het.
Vandag “vier” ons 20 jaar van Afrikaneroorgawe- en verraad. Gisteraand ry ek laataand deur die strate van Johannesburg en daar sien ek die mees groteske Beeld-plakkaat nóg: Bylae oor 20 jaar van vryheid.
Vandaar dus my titel. Dit is selfs irriterend en onjuis om van “twintig jaar demokrasie in Suid-Afrika” te praat, want stem mense van alle rasse, maar veral blankes, nie al jare lank in ons land nie? Sonder die demokratiese persvryheid en akademiese vryheid van die Afrikanerregering tussen 1948 en 1989, sou die totalitêre kommuniste en liberale wat uiteindelik die land ingepalm het nooit in hul doel geslaag het nie. Hulle het juis die demokrasie en verdraagsaamheid van vóór 1989 misbruik om hul huidige dwingelandy te vestig!
En wat beteken die stem in elk geval vir die gemiddelde swarte in ons land? Soos een of ander Fransman gesê het: “Die swartman vra brood en ons gee hom stemreg.” My vriendin Ilana Mercer in die verre Idaho, VSA, het al etlike kere opgemerk dat universele stemreg soos dit in Suid-Afrika toegepas word juis ‘n anti-demokratiese, massa-oorheersing verseker. Op Engels word dit mob rule genoem. Ek herinner my in een of ander Hollywood-film – ek meen dit was The gladiator – word daar van imperiale Rome gesê: Rome is ruled by the mob.
Die massa, die terroris, die bende, die betoger wat brand en plunder, regeer in Suid-Afrika. Net mense wat van gesonde verstand ontdaan is, om van insig in die staatsleer en filosofie nie te praat nie, is so dom om dit “demokrasie” te noem. Onder PW Botha was hierdie land veel nader aan ‘n liberale demokrasie in die Westerse sin as tans.
Om soos die Beeld-plakkaat egter na die afgelope 20 jaar van moord, roof en verkragting as “vryheid” te verwys, is méér as grotesk. Dit gaan die verstand te bowe. Dis eenvoudig kranksinnig: die ylende, sikofantiese geprewel van half-Engelse napraters van die Anglo-Amerikaanse ryk en hul plaaslike, korrupte oligargie.
In vandag se Rapport word daar in ‘n hoofartikel insgelyks gepraat van “ons morsige… demokrasie”. Nee, die demokrasie is nie morsig nie; hy bestaan eenvoudig nie. Verder verklaar die Sondag-dooieboomorgaan so ewe:
Rapport huldig alle Suid-Afrikaners, ryk en arm, wit en swart, “links” en “regs”, wat in die naam van grondwetlike demokrasie veg vir hul regte om skoon water te drink, hul eie taal te praat en te weet waarheen staatsgeld gaan.
Is dit nie pragtig nie? Met ander woorde, solank daar skoon water sou wees en ons nog iewers maar Afrikaans mog praat – net nie op skool, universiteit of in die openbaar nie – en weet ons staatsgeld gaan na Nkandla of allerlei tenderpreneurs met staatskontrakte, is als reg! Welkom in Suid-Afrika: die diktatuur met skoon kraanwater en die AWS (Afrikaanse woordelys en spelreëls)! Maar selfs dít is ons nie beskore nie. Die water is vol riool en die spelling is vrot.
As die Afrikaner nie binne die volgende jaar of twee homself regruk en opstaan nie, gaan toekomstige geslagte na 27 April 1994 as ‘n rampspoedige datum verwys. Iets soos die plundering van Rome deur die Wesgote op 24 Augustus 410, die Arabiese verowering van Spanje in die agtste eeu of die val van Konstantinopel op 29 Mei 1453.
Praatjies dat die alternatief in 1994 “burgeroorlog” was, is loutere twak. In die 1980s het die ANC-SAKP – met die steun destyds van Swede, Oos-Duitsland, Kuba en die Sowjetunie – herhaaldelik gepoog om ‘n burgeroorlog en gewelddadige revolusie in Suid-Afrika te ontketen, sonder sukses. Sonder hul Sowjet-grootbroer sou hulle geen hond haaraf teen die destydse republiek met sy weermag, polisie en kommando’s kon maak nie. Die Rooivalkhelikopter, wat tans deur Jacob Zuma gebruik word om die magsbalans in die hele Afrika in sy guns te laat swaai, het op 15 Januarie 1990 sy eerste vlug onderneem en daarmee was die doppie van Suid-Afrika se vyande geklink. Enige verdere pantseraanvalle vanuit Angola sou met gemak gestuit kon word. Ons was besig om die mees gedugte mobiele verdedigingsmag in Afrika te raak wat selfs nie eens die VSA sonder kernwapens sou kon aandurf nie. Die gemak waarmee Poetin onlangs Amerikaanse dreigemente oor die Krim getroef het, toon dat Amerika ook nie destyds maklik die land sou aanval nie. Dink aan die politieke onrus wat dit destyds in die VSA sou veroorsaak het indien Amerika ‘n bondgenoot in die Koue Oorlog militêr sou aanval om ‘n kommunistiese regering in daardie land aan te stel, met lede soos Tokyo Sexwale en baie ander wat steeds op die VSA se amptelike terreurlys verskyn het!
Benewens die luidrugtige Britse linkervleuele en die destydse Oosbloklande, word die SAKP-ANC se destydse internasionale steun gruwelik oorskat.
Miltêr was die ANC-SAKP nog nooit vir ons ‘n bedreiging nie en lede van die SAKP het selfs ruiterlik erken dat die hele sogenaamde “struggle” of militêre stryd teen die Afrikaner ‘n klugspel was. Die aanval vanuit Lusaka op Voortrekkerhoogte sou nooit kom nie. Ná die verbrokkeling van die Sowjetunie en met Rusland onder Boris Jeltsin was die kanse vir so iets nog minder as nul. Al wat die ANC-SAKP kon pleeg, was lukrake terreur, net soos die huidige kriminele “vryheidsvegters” wat oumense, vroue en kinders aanval, steeds met so ‘n “strategie” besig is.
Chris Louw skryf in een een van sy boeke dat FW de Klerk ná die aanvaarding van dier sogenaamde “Rekord van verstandhouding” teenoor Roelf Meyer uitgeroep het: “Maar my God, Roelf, jy het ons mos nou uitverkoop!”
Die mengsel van verraad en onnoselheid waarmee De Klerk, Meyer en die hele Afrikaner-elite destyds gehandel het, verteenwoordig ‘n frats van die geskiedenis. Daar was niks onvermydeliks aan die ANC-SAKP se oorname van Suid-Afrika nie. Rooi Joe Slovo en Rooi Ronnie Kasrils kon nie hul geluk glo toe die eens trotse, geharde Afrikaners soos lafaards kapituleer nie!
Op daardie oomblik toe FW, die vrome Doppertunis (sien Leon Lemmer se rubriek oor dié term), die Here se naam ydellik teenoor Roelf Meyer gebruik het om sy geknoei by Kodesa beskryf, het ‘n lot ons getref wat veel erger as die Vrede van Vereeniging was toe Chris de Wet en ander huilend hul Mausers moes stukkend slaan en trou teenoor die Koningin van Engeland moes sweer.
Ten minste is daar by Vereeniging ooreengekom dat ons weer op ‘n stadium selfbeskikking oftewel “selfregering” sou ontvang. In 1994 is die Suid-Afrikaanse nagmerrie van heel die twintigste eeu en waarteen PW Botha hom ook telkens verset het, bewaarheid: die diktatuur van getalle. Massa-oorheersing. Die “massamens” waarvan die Spaanse filosoof Ortega y Gasset gepraat het, het oorgeneem, aangevuur en gerig deur ‘n klein, geslepe (en merendeels blanke) kommunistiese minderheid. In die agtste hoofstuk van sy boek oor Massas en mag, getitel “Waarom die massa by alles inmeng en waarom hulle altyd gewelddadig inmeng”, skryf Ortega:
“Eens en vir altyd, aanvaar [die massamens] die arsenaal van gemeenplase, vooroordele, halfbegrepe idees of gewoon holle woorde wat lukraak in sy verstand opgestapel het, en met ‘n stelligheid wat slegs deur sy geslepenheid verklaar kan word, is hy bereid om hulle oral af te dwing. Dis wat ek in my eerste hoofstuk as die kenmerk van ons tyd neergelê het; nie die vulgêre wat glo dat hy supervoortreflik en nie vulgêr is nie, maar dat die vulgêre die reg op vulgariteit verklaar en afdwing, of vulgariteit as ‘n reg.”
Vulgariteit as ‘n reg. Dis ‘n moontlike definisie vir die Suid-Afrikaanse pseudo-demokrasie. Om deur histeriese propaganda (veral rondom die gewaande begrip “apartheid”) en rassekwotas oral jou wil af te dwing: die reg om alles tot die laagste gemene deler te laat daal. Soos Leon Lemmer ook erg apropos verduidelik, gaan dit selfs by sport nie meer daaroor om te wen nie:
In sport word die term “ontwikkeling” met swartes geassosieer. Dít word ‘n prioriteit gemaak pleks van om te wen. Mahatlane se aandag is op swart spelers toegespits. Wit spelers word glad nie genoem nie.
Solank daar nog iewers iets “ontwikkel”, selfs al is dit van die wal af in die sloot, op pad na groter vulgariteit, is dit binne die massadenke van die kommunis en Afrofascis, voortreflik.
Vir die voorstander van massa-oorheersing wat tans binne die globale Anglo-Amerikaanse imperialisme moet geskied, is die verlies aan orde, waardes, standaarde, skoonheid en voortreflikheid – die “morsigheid” waarvan Rapport vandag praat – niks. ‘n Einde aan die klugspel van die ANC-SAKP se “burgeroorlog” en militêre oëverblindery of die blote verskuiwing daarvan na ‘n ander retoriese verhoog, is al wat saak maak.
Orde, waardes, standaarde, skoonheid en voortreflikheid is nie kwantifiseerbaar nie. Selfs Rapport se “skoon water” is ‘n relatiewe begrip. Maar die ekonomiese bates wat Roelf Meyer iewers in 1992, soos met die “Rekord van verstandhouding” (Record of understanding) op 26 September, met ‘n pennehaal weggeteken het, is wel kwantifiseerbaar en kan in syfers omgeskakel word. Vele van die Afrikaner se kulturele bates wat oor die afgelope twintig jaar verlore gegaan het, kan insgelyks na waarde geskat word. Indien enigiemand nog nie begryp watter ontsaglike ramp die “Nasionale Demokratiese Revolusie” verteenwoordig nie, soos die ANC-SAKP heel korrek daarna verwys, sal die onderstaande lys dalk help om helderheid te bring.
1. Die verlies van soewereiniteit
De Klerk het iewers in 1998 in Londen gesê dat die aflegging van die Afrikaner se soewereiniteit en selfregering wat hy tesame met Engelssprekendes sedert 1910 geniet het, “geen maklike besluit was nie”. Hiervoor het 30 000 vroue en kinders in die konsentrassiekampe gesterf. As ons in ag neem dat vele ander volkere bereid was om hul lande deur oorloë te laat verwoes, hele ekonomieë prys te gee in die stryd om hul soewereiniteit te behou, dan wonder mens watter monetêre waarde om daaraan toe te ken? Die nasionale begroting is tans een triljoen rand. Wat sou Afrikanersoewereiniteit werd wees? Vyf triljoen rand? Tien? ‘n Triljoen dollar? Soos Cyril Ramaphosa en ander by Kodesa laggend gesê het: “Die Boere het die plaas weggegee!”
My konserwatiewe beraming: R5 000 000 000 000
2. Verlies van die Reserwebank, geldeenheid en ons goud- en ander reserwes
Gill Marcus glimlag breed, asof sy wou sê: R2 vir julle en R5 miljoen vir my! Foto: GCIS
Tans is die revolusionêre “transformasie” van ons voormalige Reserwebank onder me. Gill Marcus – iemand wat blykbaar nou bande met die SA Kommunistiese Party hadhaaf – in volle swang. Presies wat van ons goudreserwes geword het, weet niemand nie. Die totale waarde van die land se buitelandse reserwes staan tans op ongeveer $50 miljard oftewel R550 miljard.
My beraming: R500 000 000 000
3. Verlies van die vyf Afrikaanse en een tweetalige universiteit
Sedert 1994 woed ‘n konstante polemiek rondom Afrikaans as universiteitstaal en die toegang van Afrikaners tot die universiteite wat hul voorouers opgebou het. Danksy die aanhoudende verraad van sowel konserwatiewe as linkse akademici, is dié stryd grotendeels verlore en het Afrikaners heeltemal beheer oor die US, die VS, die PUK, die voormalige RAU, die UP en UPE verloor.
Volgens internetbronne kos dit ongeveer $35 miljard om ‘n groterige universiteit te bou. Dus ongeveer R400 miljard per Afrikaanse universiteit, wat die grond, geboue en toerusting sou insluit.
Vervangingswaarde van ons universiteite: R2 400 000 000 000
4. Verlies van staatsmaatskappye
Tydens die twintigste eeu het die Engelse in ons land beheer oor die Brits-koloniale mynmaatskappye behou, wat in privaat- en dikwels ook buitelandse besit was. Hierteenoor het die Afrikaner staatskapitaal aangewend om nywerhede en openbare maatskappye soos Eskom, Telkom, Transnet, PetroSA (die ou Mossgas en Soekor), Yskor, Sasol en baie ander te vestig, waarvan enkeles intussen ook geprivatiseer is. Die NOK en die Openbare beleggingskommissaris het ‘n sleutelrol by die aandeelhouding in sommige van dié maatskappye gespeel en daarom het die ANC-SAKP in hul triomfantelike plundertog deur Suid-Afrika besondere aandag aan dié instellings bestee.
Afrikaners, wat in groot getalle in dié openbare maatskappye as werknemers saamgetrek was, moes die spit afbyt en is binne enkele jare etnies uit dié maatskappye gereinig.
Weereens is dit ‘n konserwatiewe beraming, maar die vervangingswaarde van dié maatskappye wat nou geheel en al onder die revolusionêre beheer van die SAKP-ANC verkeer, is die volgende:
Daar was ‘n verlies van meer as 1000 Afrikaanse skole. Teen vandag se pryse kos dit ongeveer R50 miljoen om ‘n skool te bou, dus:
R50 000 000 000
6. Verlies van Afrikaans as kultuurtaal
Sedert 14 Augustus 1875, is daar miljoene der miljoene man-ure in die Afrikaanse taal deur Afrikaners gestort. 300 woordeboeke is opgestel en tienduisende boeke in Afrikaans geskryf. Dít alles verkeer tans in die weegskaal. Hoeveel is Afrikaans as taal werd, ‘n bate wat ons geheel en al sal moet afskryf indien die verengelsingsproses wat met die Nasionale Demokratiese Revolusie saamgaan, voortduur?
My konserwatiewe beraming: R1000 000 000 000
7. Verlies aan grond en grondgebied
Nie net het Afrikaners alle staatsgrond verbeur wat deur vorige geslagte met belastinggeld in die algemene belang verkry is nie, maar is ook deur grondrestitusie, grondhervorming, grondeise, ens., benadeel, ‘n proses wat tans radikaliseer.
Indien Afrikaners ‘n nuwe land iewers sou moes koop, wat sou dit kos? Al argumenteer dat slegs die helfte van Suid-Afrika ons toekom, dus 600 000 vierkante kilometer, sou so ‘n koopsom teen slegs R5000 per hektaar gemiddeld = 600 000 x 100 x R5000.
Grondwaarde: R300 000 000 000
8. Verlies van munisipaliteite en infrastruktuur
Munisipale korrupsie en wanbestuur is een van die hooftemas van die sogenaamde “Nuwe Suid-Afrika”. Onder andere skuld die munisipaliteite byna R100 miljard aan Eskom. Paaie en infrastruktuur wat voorheen ten duurste gebou en onderhou is, is toegelaat om te verval en verkeer onder die revolusionêre beheer van die SAKP-ANC wat na willekeur munisipale grense trek, sy kaders na munisipale besture ontplooi, ens.
Geraamde waarde: R500 000 000 000
9. Verlies van buitelandse ambassades
Die republiek van vóór 1994 het van die beste ambassades in al die groot Westerse hoofstede beskik, wat op sigself aansienlike waarde het. Maar die simboliese waarde van daardie ambassades op skouspelagtige plekke wat die soewereiniteit van die land en sy rang tussen ander lande vergestalt, sal nie maklik weer verkry kan word nie. Slegs Suid-Afrika en Kanada beskik oor ambassades op Trafalgarplein in Londen, byvoorbeeld.
Geraamde waarde: R2 000 000 000
10. Verlies van die staatsadministrasie, weermag en polisie
Afrikaners word tans deur geweldsmisdaad, plaasmoorde, verkragtings, huisaanvalle en bedrog geteister. Hul enigste antwoord op dié toestand is die organisasie van buurt- en plaaswagte, asook privaatveiligheidsmaatskappye met personeel wat dikwels swak opgelei is en self aan korrupsie skuldig is. Voeg hierby organisasies soos die WNNR, Landbounavorsingsraad, Raad op Geowetenskappe, SABS, en ons kan sien dat die oorhandiging van die staat tydens die Nasionale Demokratiese Revolusie ‘n geweldige slag vir ons was. Voeg hierby ook die staatsgeboue waarvan sommige historiese geboue in die hart van die ou Boerepublieke en Kaapstad is, en ons kan sien watter geweldige kulturele en materiële verlies dit vir ons verteenwoordig.
Geraamde waarde van die staatstruktuur: R1000 000 000 000
Dus, die Afrikaner se totale verlies weens die 1994-revolusie, in triljoene (miljoen miljoene) rand uitgedruk:
Totale verlies: R13,868 triljoen oftewel R13 868 000 000 000.
Indien ons veronderstel dat daar steeds 3 miljoen Afrikaners bestaan wat ná die revolusie oor die aardbol versprei is, verteenwoordig dit ‘n verlies van:
R4,6 miljoen per Afrikaner!
As elke Afrikaner vandag begin spaar om die bedrag terug te kry wat Roelf Meyer en FW de Klerk in 1994 aan die SAKP-ANC oorhandig het, sal dit ons die volgende aantal jaar neem om dit weer op te maak:
Indien ons elkeen R1000 per maand spaar: 383 jaar.
Indien ons elkeen R2000 per maand spaar: 191 jaar.
Indien ons elkeen R5000 per maand spaar: 77 jaar.
In hul huidige verarmde, werklose toestand, sou Afrikaners waarskynlik gemiddeld nie meer as R2000 kon spaar vir ‘n nuwe staat, universiteite, infrakstruktuur, ens. nie. Die SAKP-ANC gaan ons ook nie van belasting vir hul revolusionêre staat kwytskeld om so ‘n spaarpoging aan te wend nie. Inteendeel, die huidige maghebber sal aanhou om ons uit te buit, ook met tolgeld op ons eie paaie. Daarom kan ons realisties aanneem dat dit ons byna 200 jaar gaan neem om van die terugslag van 1994 te herstel, indien ooit.
As ‘n mens in ag neem dat dit die twee verloorders tydens die tweede wêreldoorlog, Duitsland en Japan, ongeveer tien jaar geneem het om die finansiële en ekonomiese verliese van daardie verwoestende oorlog te bowe te kom, dan is die “vrede en versoening van 1994” erger as 20 wêreldoorloë ná mekaar!
Buurlande van Sirië sê die toenemende getal vlugtelinge van die burgeroorlog in die land plaas ‘n ondraaglike las op hulle eie hulpbronne.
Die verteenwoordigers van Libanon, Jordanië, Irak en Turkye het in Geneve gepleit vir groter internasionale steun. Die kwessie is reeds deur die VN se Vlugteling-agentskap aangeroer.
Sirië se minister van buitelandse sake, Walid Moeallem, sê egter van die buurlande wat by die konflik ingemeng het, het net sake vererger.
Hy het na die Siriese opposisie as terroriste verwys. – RSG
Die Britse regering is beskuldig van “buitengewone laksheid” met wapenbeheer nadat dit rugbaar geraak het dat amptenare die uitvoer van twee chemikalieëwat gebruik kan word om saringifgas te maak na Sirië gemagtig het.
Sekretaris Vince Cabel, sal vandag gevra word om te verduidelik hoekom ‘n Britse maatskappy dubbele uitvoerlisensies vir die gebruik stowwe toegestaan het, terwyl Sirië se burgeroorlog gewoed het en kommer oor chemiese wapens aan die toeneem was.
Die bekendmaking van die lisensies vir kaliumfluoried en natriumfluoried, wat albei as bronchemikalieë in die vervaardiging van gifgas gebruik word, kom nadat die Amerikaanse minister van buitelandse John Kerry gesê het die Verenigde State van Amerika het bewyse dat saringas gebruik is in verlede maand se aanval in Damaskus .
Kerry het aangekondig dat spore van die gas in hare en bloedmonsters gevind is van die slagoffers van die aanval in die Siriese hoofstad.
Die Obama-administrasie oorweeg nou militêre ingryping en het ‘n volskaalse politieke aanval Sondag geloods om ‘n skeptiese Kongres te oorreed om ‘n militêre aanval teen Sirië goed te keur.
Die Britse owerhede sê alhoewel die lisensies toegestaan is aan ‘n naamlose Britse chemiese maatskappy in Januarie 2012, is die stowwe in reaksie op strenger EU-sanksies teruggehou.
Cable erken dat sy amptenare die uitvoer van ‘n ongespesifiseerde hoeveelheid van die chemikalieë gemagtig het in die wete dat hulle op ‘n internasionale skedule van chemiese wapens gelys is.