Geweld teen buitelanders vlam weer op in Umlazi

Die situasie by Umlazi, suid van Durban, het Dinsdagoggend na normaal teruggekeer ná gewelddadige oproer Maandag uitgebreek het teen buitelanders.

Die geweld het tot laatnag geduur toe swart inwoners winkels van buitelanders in die omgewing aangeval en geplunder het.

Hulle is glo woedend oor gerugte dat leerlinge by skole in KwaMashu ontvoer is. Die verkeer het Maandag op die Mangosuthu-hoofweg tot ‘n stilstand gekom. Die pad was met rommel versper.

Niemand is in verband met die geweld in hegtenis geneem nie.

Volgens berigte was daar ook verkeersopeenhopings in en om die Isipingo-gebied. Betogers het bande gebrand en begin klipgooi. Motoriste is aangemoedig om alternatiewe roetes te gebruik.

Die verkeer het tot stilstand gekom op die Mangosuthu-snelweg in Umlazi, ná inwoners die snelweg afgesper het.

Motoriste is ook versoek om weg te bly van Mega City, Price Mshiyeni Hospitaal, Clare Estate, Foremanweglokasie, Constantine-lokasie, Wandsbeckweg, Marriannhill, Holznerweg, Dorfnersingel, Reunionbrug en die Mega City-kruising tot verdere kennisgewing.

In 2015 is mense van die Kongo, Burundi, Rwanda, Ethiopië en Malawi in dieselfde gebied aangeval. Pres. Jacob Zuma het in Februarie vanjaar uitgevaar teen algemene wetteloosheid, asook dreigemente van geweld en intimidasie teen buitelanders.

Hy het die regering se kommer uitgespreek oor huidige dreigemente van geweld en dade van intimidasie en vernietiging van eiendom wat gerig is op nie-landsburgers wat in Suid-Afrika woon.

Inwoners in sommige gemeenskappe blameer nie-landsburgers vir die toenemende misdade, veral dwelmhandel.

Oproer nadat studente met skuld nie kan registreer

Studente wat nie hul klasgelde betaal het nie, het in Durban oproerig geraak toe universiteit hulle nie wou laat registreer nie.

Vyf mense is in hegtenis geneem na ‘n gewelddadige betoging deur studente van die Mangosuthu Universiteit van Tegnologie in Umlazi. Van die studente wat meer as R10.000 skuld, is nie toegelaat om in te skryf nie.

Die studente het Maandag die Mangosuthu-hoofweg met brandende bande versper. Die sekuriteitsdienste het die oproeriges van die kampus uitgesluit om eiendom en toerusting te beskerm.

Hulle is ook ontevrede met die toewysing van blyplek in koshuise. Die universiteit sê daar is ‘n nypende tekort aan studentebehuising.

‘n Woordvoerder van die universiteit, Len Mzimela sê ‘n nuwe koshuis wat tans gebou word, sal help om aan die aanvraag na behuising op kampus te voldoen. Die koshuis sal meer as 600 beddens hê.

Betogers brand motor, versper die pad

Stakers in die staatsdiens brand ‘n motor en die Mangosuthu-hoofweg in Umlazi is vanmôre van ‘n barrikade voorsien, het die polisie in KwaZulu-Natal gesê.

“Teen ongeveer 01:00 die oggend (Maandag) het ‘n groep betogers by die Prins Mshiyeni-hospitaal in Umlazi ingebars en ‘ n motor verbrand wat aan ‘n werker by die hospitaal behoort,” het luitenant-kolonel Vincent Mdunge gesê.

Hulle het om 05:00 na die Mangosuthu-hoofweg beweeg en die verkeer gehalt wat in en uit die lokasie beweeg.

“Op hierdie stadium is die snelweg gesluit. Die betogers het die pad met ‘n yskas en ou motors geblokkeer. Die polisie was op die toneel en het begin met die verwydering van die versperring,” het hy gesê.

Daar was ‘n skare op die pad. Geen inhegtenisnames is gemaak nie.

Die Kongres van SA Vakverbonde en die Onafhanklike Arbeidskoukus het ‘n week gelede ‘n landswye staking aangekondig ná die verwerping van die regering se aanbod van ‘n sewepersentsalarisverhoging en ‘n R700-per-maand-behuisingstoelae.

Hulle eis ‘n 8,6%-verhoging en R1000-behuisingstoelae.

you playАлександр Фильчаков Васильевич