Oproer nadat studente met skuld nie kan registreer

Studente wat nie hul klasgelde betaal het nie, het in Durban oproerig geraak toe universiteit hulle nie wou laat registreer nie.

Vyf mense is in hegtenis geneem na ‘n gewelddadige betoging deur studente van die Mangosuthu Universiteit van Tegnologie in Umlazi. Van die studente wat meer as R10.000 skuld, is nie toegelaat om in te skryf nie.

Die studente het Maandag die Mangosuthu-hoofweg met brandende bande versper. Die sekuriteitsdienste het die oproeriges van die kampus uitgesluit om eiendom en toerusting te beskerm.

Hulle is ook ontevrede met die toewysing van blyplek in koshuise. Die universiteit sê daar is ‘n nypende tekort aan studentebehuising.

‘n Woordvoerder van die universiteit, Len Mzimela sê ‘n nuwe koshuis wat tans gebou word, sal help om aan die aanvraag na behuising op kampus te voldoen. Die koshuis sal meer as 600 beddens hê.

Twintig studente geskors by UJ oor beurs-oproer

ujTwintig studente is geskors na betogings by die Universiteit van Johannesburg (UJ) oor ‘n tekort aan befondsing deur die regering se nasionale studente-finansiële hulpskema (NSFAS).

Sowat ‘n honderd studente het vandag buite die universiteit se Kingsway-kampus betoog.

Geregistreerde studente is geskors hangende dissiplinêre optrede en moontlik kriminele klagte teen hulle.

Studente wat nog nie geregistreer is nie en wat deel was van die protes sal aangekla word van kriminele gedrag, het die universiteit gesê.

Die universiteit sê die studente het administratiewe en registrasie-aktiwiteite ontwrig.

“Die universiteit respekteer die reg van studente om vreedsaam te protesteer , so lank as wat akademiese en administratiewe aktiwiteite nie ontwrig word nie en die veiligheid van studente en personeel is nie in die gedrang gebring word nie.”

Die vise-kanselier, Tinyiko Maluleke sê die studente het ‘n persooneellid aangehou, en van die studente het gedreig om die universiteit af te brand.

Studente by tien universiteite sê hulle gaan registrasie en klasse ontwrig uit protes teen onvoldoende befondsing deur die NSFAS.

Die SA Studentekongres ( Sasco ) het Sondag ‘n oproep om massaprotes oor die befondsingstekort gedoen.

Mangosuthu Universiteit van Tegnologie en die Durban Universiteit van Tegnologie in KwaZulu-Natal ervaar ook ontwrigting as gevolg van die protes.

“Geen registrasie by die universiteite nie totdat alle studente gelyke geleenthede gegee word,” het Sasco se president Ntuthuko Makhombothi aan verslaggewers in Johannesburg gesê.