Plaasaanval op Emslie-gesin dood vader, beseer moeder en dogter

Dr. Werner Emslie (55) van Ellisras is deur vier swart plaasaanvallers doodgeskiet, terwyl sy vrou Mariëtte in ‘n ernstige toestand verkeer met ‘n koeël wat haar lewer beskadig het. Die dokterspaar se dogter, Barbara wat insgelyks medies aan die Universiteit van Pretoria studeer, is aangerand maar nie geskiet nie.

Volgens ‘n polisiewoordvoerder, kolonel Moatshe Ngoepe, is ‘n intensiewe soektog na die gewapende verdagtes geloods.

“Daar word beweer dat op 20 September 2017 omstreeks 20:00 het dr. Werner Emslie, 55 jaar oud, buite sy huis op die plaas by Afguns gesit toe vier onbekende mans, waarvan twee met handwapens gewapen was, hom aangeval en doodgeskiet het, asook sy 55-jarige eggenote, Mariette Emslie, insgelyks ‘n dokter, geskiet het,” het Ngoepe gesê.

“Sy het die aanval met ernstige beserings oorleef en is onmiddellik vir mediese behandeling hospitaal toe geneem,” het Ngoepe vervolg. Hy het ook gesê dat twee handwapens gedurende die voorval gebuit is en dat die aanvallers met dr. Mariëtte Emslie se nuwe wit Toyota-dubbelkajuitbakkie met registrasienommer DTR 758 L weggery het.

“Die voertuig is later 2km van die huis af gevind waar dit agtergelaat is,” het Ngoepe verklaar.

Mariëtte en Barbara Emslie

Die 18-jarige Barbara Emslie is ook deur die aanvallers beseer, maar nie so ernstig soos haar ma nie. Albei word tans in ‘n Pretoriase hospitaal behandel.

Barbara was verlede jaar hoofmeisie van die Hoërskool Ellisras en het agt onderskeidings in matriek behaal. Die skool het die volgende boodskap op sy Facebook-blad geplaas:

Hoërskool Ellisras en die Ellisrasgemeenskap is in rou gedompel.

Woorde is min.

Ons groet dr. Werner Emslie en ons salueer ‘n person wat op baie gebiede soveel mense se lewens aangegryp het.

Dr. Emslie, jy laat ‘n groot leemte, jy sal as vriend en voormalige voorsitter van Hoërskool Ellisras se beheerliggaam, gemis word.

Mag die Here Sy hand oor dr. Mariette Emslie, Grant en Barbara, hou.

Ons bid dat Mariette gou sal herstel.

Aan die Emslie-gesin en familie, mag God julle styf vashou en troos in hierdie hartseer tyd.

Eskom ontken dat Medupi al R300 miljard kos

Konstruksie van die Medupikragstasie by Ellisras (Lephalale) in Limpopo, sal na verwagting teen 2019 voltooi wees, en sal ten minste R105 miljard kos, het Eskom Sondag gesê.

“Daar is berigte dat die projek R300 miljard sal kos … ons weet nie waar die syfer vandaan kom nie,” het Abram Masango aan joernaliste gesê tydens die amptelike bekendstelling van Eenheid Ses by Medupi.

President Jacob Zuma het vroeër Eenheid Ses geopen – die eerste van Medupi se ses eenhede wat voltooi moet word – en wat na verwagting minstens 800 MW elektrisiteit aan die sukkelende nasionale kragnetwerk sal lewer.

Masango het gesê die laaste eenheid, Eenheid Een sal in 2019 voltooi word en sal na verwagting in 2020 gekommersialiseer word.

Die projek, bekend as “Projek Alpha”, het begin met drie eenhede in 2007, en is later uitgebrei tot ses eenhede.

Eskom se uitvoerende hoof, Brian Molefe het aan ANA gesê werkers by Medupi sal toegerus wees met verskeie vaardighede nadat die kragstasie voltooi is.

“Mense sal Medupi verlaat met goeie vaardighede, en sal kan werk as ambagsmanne op enige plek in die wêreld.”

Toe hy gevra is hoe Eskom enige verdere moontlike vertragings by Medupi sal verhoed, het Molefe gesê streng nakoming van projekspertye sal geïmplementeer word.

“Ons gaan streng projekbestuurbeginsels toepas en almal kry om te fokus op die taak op hande … ons het lesse geleer, ons sal seker maak dat sperdatums nagekom word.”

Die oorspronklike bedrag wat begroot is, was R69 miljard toe die aanleg begin is in 2007.

Medupi moes vier jaar gelede geopen gewees het, maar die konstruksie is vertraag deur arbeidsonrus, wat glo gelei het tot stygende kostes van miljarde rande.

Groot polisieteenwoordigheid na skietery by Medupi

Die polisie moes in groot getalle by die Marapong-lokasie in Ellisras (Lephalale) in Limpopo ontplooi word na ‘n skietvoorval.

Lede van die polisie se taktiese-reaksie-eenheid en ander polisiebeamptes patrolleer tans die gebied.

Twee konstruksiewerkers van Eskom se Medupi-kragstasie is gewond in die skietery.

Van die werkers by die kragaanlegkonstruksie het Donderdag weggebly uit vrees vir hul veiligheid, nadat ‘n onbekende skieter losgebrand het op ‘n groep werkers wat gewag het vir vervoer na die bouperseel.

Twee weke gelede is daar op twee busse geskiet, en een van die bestuurders is in die skietery gewond.

Honderde busse het egter Vrydag werkers weer aangery sonder enige ontwrigting.

‘n Span ondersoekbeamptes is intussen ingeroep om die skietvoorvalle te ondersoek.

Suid-Afrika se ekonomiese groeivooruitsigte is afwaarts aangepas weens vertragings in die vordering van die konstruksie van nuwe kragaanlegte.

Na verwagting sal die ekonomie met twee persent groei. Sonder die kragonderbrekings sou die koers tussen 2,5 en 3 persent gewees het.

Die graderingsmaatskappy, Fitch, het vroeër die maand sy kredietgradering van trippel-B bevestig en gesê ‘n onbestendige kragtoevoer het daartoe gelei dat hy sy ekonomiese groeivooruitsigte vir vanjaar en aanstaande jaar afgeskaal het.

Die Minister van Finansies, Nhlanhla Nene, sê die regering is op koers om teen 2017 sy tekort tot 2,5 persent van die Bruto Binnelandse Produk te verlaag vanaf 3,9 persent in die huidige geldjaar.

Eskom het ‘n uur gelede weer begin om Fase Een beurtkrag toe te pas.

Kragonderbrekings sal tot vanaand tienuur toe toegepas word. Die kragverskaffer sê dit is weens ‘n hoër vraag en gebrekkige opwekkingskapasiteit.

Inwoners eis dat plaaslike werkers by Medupi aangestel word

Lokasiebewoners by Ellisras (Lephalale) in Limpopo het ‘n beroep op die Wetgewer gedoen om te sorg dat plaaslike inwoners by die Medupi en Matimba-kragaanlegte aangestel word.

Hulle beskuldig buitelanders ook van ‘n prysoorlog teen plaaslike kleinsake-handelaars.

Hulle het sterk beswaar aangeteken oor buitelanders wat by onwettige sakebedrywighede betrokke is.

Die plaaslike swartes beweer dat buitelanders hul produkte te goedkoop verkoop wat tot werkloosheid en die ineenstorting van die plaaslike kleinsake-sektor gelei het.

Honderde plaaslike inwoners het by ‘n uitreikprogram teen vreemdelingehaat van die Limpopo Wetgewer in die Marapong-lokasie gekla oor dié en ander praktyke.

‘n Lid van die provinsiale wetgewer, Dickson Masemola het in reaksie op die gemeenskap se griewe gesê die ANC-regering sal verseker dat buitelanders aan die land se wette voldoen.

Hy sê die provinsiale regering en plaaslike munisipaliteite moet toesien dat sake-ondernemings behoorlik gereguleer word.

Intussen het die Nasionale Vergadering die oprigting van ‘n adhoc-komitee goedgekeur om die vlaag xenofobiese geweld van verlede maand te ondersoek.

Dié aanvalle in Durban en Johannesburg het vir kwaai internasionale kritiek gesorg.

Die veelparty komitee van elf lede sal teen 30 Augustus aan die parlement verslag doen oor hul bevindinge oor geweld teen buitelanders en verwante sake.

Die bevindinge van ‘n taakspan wat xenofobie in 2008 ondersoek het, sal ook by hul verslag ingesluit word. In 2008 is buitelanders lewend aan die brand gesteek.

Ellisras-moord: Swart verdagte voor

Swartman, 22 jaar oud, sal Maandag in die hof verskyn vir die moord op Susan Kotze (76) van Ellisras (Lephalale) in Limpopo.

Kotze is vermoedelik met ‘n draadhanger verwurg. Die verdagte het met twee selfone, kontant en haar bakkie gevlug.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het in ‘n verklaring gesê die verdagte is Vrydag in Northam aangekeer met die gesteelde items.

Volgens inligting het die verdagte op  ‘n plaas in die omgewing gewerk, maar is vroeër vandeesmaand afgedank. “Hy het Kotze gevra vir werk en sy het glo ingestem dat hy tuinwerk doen,” het Otto gesê.

Die verdagte sal in die Lephalale-landdroshof verskyn op aanklag van moord en diefstal.

Boervrou dood met bloudraad verwurg

‘n Oud-polisievrou, Susan Kotze, is Maandag in haar plaashuis in Ellisras (Lephalale) vermoor.

Kotze se liggaam is Dinsdag in haar plaashuis, waar sy alleen gewoon het, aangetref met ‘n stuk bloudraad om haar nek. Sy is waarskynlik verwurg.

Twee selfone en Kotze se bakkie word vermis.

Kotzé, ‘n boorling van die dorp, het met beeste geboer.

Daar is geen selfoonopvangs op haar plaas nie, maar sy was gekoppel aan die radiostelsel wat mbv sonpanele gewerk het aangesien sy nie aan die kragnetwerk gekoppel was nie.

Sy het Maandagaand 18:30 nie gereageer op ‘n oproep nie en onraad is vermoed toe sy Dinsdagoggend weer nie gereageer het nie.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het die moord bevestig en gesê die ondersoek duur voort.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

 

Plaasmoordbeskuldigdes wat bejaarde doodmartel se saak uitgestel

Drie swart mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n 79-jarige pensioentrekker tydens ‘n plaasaanval vermoor het, het Donderdag in die Lephalale-landdroshof in Ellisras verskyn, het die polisie in Limpopo gesê.

Die saak is tot 30 September uitgestel vir verdere ondersoek, het kol. Ronél Otto gesê.

Die mans is in hegtenis geneem ná die moord op Koos Jonker. Hy is op 3 Augustus doodgemartel op sy badkamervloer aangetref in die wooneenheid wat hy gehuur het.

“Sy hande en voete was vasgebind en hy het ernstige wonde aan sy kop gehad weens die aanranding,” het Otto destyds gesê.

Groot vloedskade in Limpopo en Noordwes

belabelaSwaar reën in Limpopo, Noordwes en veral op Mogwase naby Sun City het groot skade aangerig.

Brûe in Mogwase is onder water en voertuie het ook in vloedwater vasgeval.

Premier Thandi Modise Sal Vrydag die rampgebied besoek.

Nooddienste werk onverpoosd in verskeie dele van Limpopo met talle mense wat in Warmbad (Bela Bela) deur die vloede geraak word.

In Ellisras (Lephalale) is noodsentrums ingerig om vloedgeteisterdes van hulp te voorsien.

Dele van die dorp is onder water nadat twee damwalle vroeër weens swaar reën meegegee het.

‘n Woordvoerder van die provinsiale Departement van Samewerkende Regering, Motupa Selomo, het die noodtoestand in die Waterberggebied naby Nylstroom en in die Capricorn-distrik in die Polokwane-omgewing as baie ernstig bestempel.

Selomo sê nooddienste is ook na mense in die Thabo Mbeki-gebied gestuur.

Motoriste word aangeraai om die N1 te gebruik en Warmbad (Bela Bela) te vermy.

Die R101 tussen Warmbad (Bela Bela) en Nylstroom (Modimolle) is onbegaanbaar. Dit is die die enigste pad in die omgewing wat gesluit is nie, aangesien talle paaie tans onbegaanbaar is.

‘n Woordvoerder vir die Moses Kotane plaaslike munisipaliteit in Noordwes sê twee kinders word ook vermis nadat vloedwater by Mogwase hulle vermoedelik meegesleur het.

Dit is nie bekend hoe oud die kinders is nie.

Ses brûe in die Madibeng plaaslike munisipaliteit het onder die oorstromings deurgeloop en vier het weggespoel by Klipgat, Maboloka en Jericho.

In Pretoria sal die soektog na drie kinders wat vroeër die week in Mamelodi vermoedelik deur vloedwater meegesleur is, ook hervat word.

Hulle het vermoedelik in ‘n stormwaterafvoerpyp, wat in die nabygeleë Moretele-rivier inloop, gespeel.

Die Kruger Nasionale Park het tien kampe weens oorstromings gesluit. Maar owerhede hou vol dat die wildtuin min gevaar of risiko’s vir toeriste inhou.

Die wêreldbekende park is hard getref deur die vloede. Verskeie paaie in die park sal gesluit bly.

Sommige riviere van beide Limpopo en Mpumalanga vloei deur die park na die naburige Mosambiek.

Toeriste het sedertdien verhuis na ander kampe.

Die swaar reënval gedurende die eerste tien dae van Maart het rekords in dele van die land gebreek, volgens die SA Weerdiens.

“Die noord-oostelike helfte van die land het meer as 100 persent van wat normaalweg vir die eerste 10 dae van Maart verwag word, ervaar,” het die klimaatinligting-eenheidbestuurder Elsa de Jager in ‘n verklaring gesê.

“Verder het Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, sowel as dele van Noord-Wes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal meer as 200 persent ondervind van wat normaalweg verwag word.”

Twaalf stede in Limpopo, Mpumalanga en Gauteng ervaar die swaarste reën in tien jaar of meer.