‘n Oud-polisievrou, Susan Kotze, is Maandag in haar plaashuis in Ellisras (Lephalale) vermoor.
Kotze se liggaam is Dinsdag in haar plaashuis, waar sy alleen gewoon het, aangetref met ‘n stuk bloudraad om haar nek. Sy is waarskynlik verwurg.
Twee selfone en Kotze se bakkie word vermis.
Kotzé, ‘n boorling van die dorp, het met beeste geboer.
Daar is geen selfoonopvangs op haar plaas nie, maar sy was gekoppel aan die radiostelsel wat mbv sonpanele gewerk het aangesien sy nie aan die kragnetwerk gekoppel was nie.
Sy het Maandagaand 18:30 nie gereageer op ‘n oproep nie en onraad is vermoed toe sy Dinsdagoggend weer nie gereageer het nie.
Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het die moord bevestig en gesê die ondersoek duur voort.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
