praag.co.za

Tag: migrante

  • Franse studente help Afrika-migrante om in staatsgebou te plak

    Franse studente help Afrika-migrante om in staatsgebou te plak

    ‘n Gebou in die middestad van Bordeaux, Frankryk, is deur onwettige Afrika-immigrante met die hulp van blanke Franse studente beset.

    Dit verteenwoordig amper iets uit die distopiese roman deur Jean Raspail, Omsingel die laer van die heiliges waarin sekere Franse immigrante uit die derde wêreld verwelkom om hul land te kom oorneem.

    Die studente hoop dat hulle “model” van georganiseerde plakkery in amptelike geboue as “voorbeeld vir Frankryk” kan dien, om sodoende onwettige immigrante uit Afrika te herberg wat tans op straat slaap.

    ‘n Leë gebou van 240 vierkante meter in die middestad van Bordeaux wat aan die streeksraad (conseil régional) behoort, is deur nege Afrika-migrante beset. Eiendomspryse is, soos elders in die groot Franse stede, hemelhoog in Bordeaux met woonstelle wat teen €3000 (ongeveer R48000) per vierkante meter verhandel, wat beteken dat die kleinerige gebou ongeveer €720 000 (of R11,5 miljoen) werd moet wees. Onwettige water- en elektrisiteitsaansluitings is Soweto-styl in die gebou uitgevoer, waarskynlik vanaf naburige geboue.

    Die vyf blanke Franse studente wil die gebou in ‘n “ontvangsentrum vir migrante” omskep.

    “‘n Plakkersgebou is ‘n plek waar ‘n mens nie huur betaal nie, dis al. Dis die enigste verskil. Ons het die gebou taamlik opgeknap,” het een van die studentes aan die kanaal C-news gesê, ‘n Franse digitale nuuskanaal wat voorheen as iTélé bekendgestaan het.

    Volgens die twee joernaliste van C-news, Antoine Estève en Jérôme Rampnoux, wil die studente “hoop gee aan die Afrika-migrante, en bowenal ander jongmense oorreed om hulle na te boots”.

    Die migrante is blykbaar minderjarig, en wil “skool toe gaan”. Volgens liefdadigheidsorganisasies in die stad, “kom daar een duisend minderjarige migrante jaarliks in Bordeaux aan, met plakkersgeboue wat vermenigvuldig”.

    Een van die Franse studente het gesê: “Die minderjariges wat hier geherberg word, wil Franse identiteitskaarte bekom, maar ook binne die samelewing integreer.”

    Die streeksraad, die staatsinstelling wat die gebou besit, is in kennis gestel maar het besluit om nie ‘n uitsettingsbevel teen die migrante te bekom nie. “Uitsetting is geen oplossing nie. Elke geval sal bestudeer word, tesame met openbare instellings wat noodakkommodasie verskaf,” het ‘n woordvoerder aan C-news gesê.

  • Onwettige derdewêreldmigrante noop Franse universiteit om te sluit

    Onwettige derdewêreldmigrante noop Franse universiteit om te sluit

    Die Universiteit van Reims in Frankryk, URCA, het aangekondig dat dit nie langer die veiligheid van studente kon waarborg nie en tydelik gesluit moes word nadat die kampus onwettig deur derdewêreldinkommers beset is.

    Die rektor van die Universiteit, Guillaume Gellé, het aan die personeel en studente gesê dat daar Dinsdag geen lesings sou wees nie aangesien hy nie hul veiligheid kon verseker nie.

    In ‘n gesprek met plaaslike media, het Gellé, gesê: “Betreffende die onwettige besetting van die universiteit, kan ek nie langer almal se veiligheid verseker nie, en ek dring op veiligheid vir almal aan. Dit is waarom ‘n tydelike sluiting van die universiteit Sondagaand afgekondig is.”

    Dit is die eerste keer dat ‘n Franse universiteit sy deure moes sluit weens die migrantekrisis in die land.

    Die rektor het gemeen dit is nie vir sy instelling om oplossings vir die plakkerskamp in die stad te vind nie, maar vir die staat. Hy het die regering versoek om in te tree aangesien vele studente poog om hul studies onder moeilike omstandighede te voltooi.

    Daar word beraam dat daar ongeveer 41 migrante in die plakkerskamp woon, met ‘n verdere 18 tente wat langs die regsfakulteit aan die ander kant van die kampus opgeslaan is.

    Enkele dae gelede het inwoners van die St John Perse-parkomgewing in die plaaslike pers die toestande veroordeel en dit ‘n “mini-Calais” genoem wat slegs enkele meters van hul huise af bestaan.

    Volgens France Bleu het die migrante in die nabye St John Perse-park gekampeer, maar sou daar deur die polisie uitgesit word, daarom het hulle besluit om hul intrek op die kampus self te neem, waardeur die owerheid gedwing word om opnuut ‘n uitsettingsprosedure teen hulle te begin.

    Die Franse studentevereniging, UNEF, het die “lewensomstandighede van dié gesinne” veroordeel en gevra “vir solidariteit van die plaaslike owerheid en die stadsraad van Reims, asook die Prefektuur, om die gesinne te huisves”.

    Daar is slegs drie maande oor van president Emmanuel Macron se verkiesingsbelofte dat daar teen die einde van die jaar geen meer migrante op straat sal slaap nie.

    Volgens ‘n twiet deur Valérie Coulet (hier bo) “haal die migrante op die kampus van Reims vir Macron aan”.

    In ‘n persverkaring Maandag het die rektor van die URCA gesê dat hy hom “ná raad deur die bekwame owerhede”, tot die administratiewe hof wend. Die verhoor sou vandag, Woensdag 20 September te Châlons-en-Champange gehou word.

    Intussen sal die Rooi Kruis-kampus geslote bly en word ongeveer 8 000 studente van opvoeding weerhou.

  • Identiteitsbeweging huur skip om migrante na Afrika terug te vat

    Identiteitsbeweging huur skip om migrante na Afrika terug te vat

    Bekommerde Europeërs van die Identiteitsbeweging het ‘n skip gehuur en is op pad na die Middellandse See om die invloei van immigrante wat na die EU wil kom, te stuit.

    Pan-Europese lede van die betrokke groep Verdedig Europa, het vandeesweek aangekondig dat hulle ‘n vaartuig as deel van die projek gehuur het. Verdedig Europa se befondsing het meer as $100,000 in net ‘n maand ingesamel.

    Die groep het die geld ingesamel ten spyte van die feit dat finansiële instellings baie donasie-strome gesluit het. Hulle moes op Bitcoins en bankoorplasings staatmaak.

    ‘n Pro-migrasie-aktivisgroep genaamd Hope not Hate het gesê die vaartuig van Identiteitsbeweging het van ‘n Djibouti-hawe vertrek en sal teen 18 Julie Sicilië bereik.

    “Hierdie konfronterende en gevaarlike projek word georganiseer deur verregse aktiviste met ‘n lang rekord van anti-Moslem en anti-immigrante-aktivisme en terwyl dit deur die Europeërs gereël word, word dit ondersteun, befonds en bevorder deur die ekstreemregses regoor die wêreld,” het die groep uitgevaar.

    “Die gevaar is dat, as dit onbeantwoord gelaat word, kan Verdedig Europa bewys word dat dit ‘n groot propagandasukses vir die regse identiteitsbeweging is, wat hierdie missie sal gebruik om verder te finansier en uit te brei.”

    Die missie is gemotiveer deur ‘n oorvloed van bewyse dat NRO-reddingsmissies in die Middellandse See smokkelaars help wat migrante op onwettige skepe laai in die wete dat hulle gered sal word en na Italië geneem sal word.

    Italiaanse owerhede het aangevoer dat hierdie ekstra veiligheidsnet meer migrante motiveer om die risiko te loop om in vaartuie te kom wat die reis nooit sonder hulp van NRO’s kan maak nie. Italië het sedertdien gedreig om sy hawens vir sulke skepe te sluit.

    Met die Griekse lambda as sy logo – ‘n verwysing na die Spartaanse skilde wat teen die Persiese Ryk gebruik is, sê die identiteitsbeweging dat hulle bekommerd is oor die “Islamitiese inval in Europa”.

    Lorenzo Fiato, die leier van die Italiaanse tak van beweging, het die anti-immigrasie-inisiatief van stapel gestuur. Die groep het aan die Duitse media gesê hulle sal ook gewapende veiligheid in diens neem om enige vergelding van mensehandelaars af te weer.

    Die 40-meter-vaartuig sal mensehandelbote afsny en terugstuur na die Libiese kuswag, voordat NRO-groepe hulle kan bereik en na Italië kan vervoer. Volgens die UNHCR neem hierdie private reddings-NRO’s nou 41 persent van die mense wat sogenaamd gered word.

    “Ons doel is om in te gaan waar ons politici versuim om te doen wat nodig is om die dodelike onwettige migrasie in Europa te stop,” het die groep op hul suksesvolle skarefinansieringsblad aangekondig.

    “Ons sal die Libiese Kuswag ons ondersteuning bied as recon ship … Ons sal almal red wat ons kan as ons ‘n SOS-sein kry, maar ons sal seker maak dat hulle na Afrika teruggebring sal word.”

    Die groep het belowe om NRO-skepe te dwing om koers te verander in ‘n poging om die finansiële en organisatoriese hulpbronne van liefdadigheidsorganisasies wat migrante na die EU vervoer, te tap, het hulle vroeër op hul webwerf gesê.

    Mensehandelaars hoop dat Libiese owerhede binnekort die groep se projek sal saboteer en hulle toegang in hul territoriale waters sal weier, wat daarop dui dat sommige Libiërs ook by die mensesmokkel betrokke is. In Mei het die beweging onsuksesvol probeer om ‘n Medecins sans Frontieres-vaartuig te stop om die hawe op ‘n reddingsmissie te verlaat.

    Elizabeth Collett van die Migrasiebeleid Instituut het aan Deutsche Welle gesê dat die NRO’s verantwoordelik is vir die ernstige situasie: “Dit is ‘n uiters komplekse morele kwessie waarin NRO’s hulself bevind, en ek dink dit is baie maklik om die situasie te oorvereenvoudig. Enersyds is dit ‘n humanitêre optrede: As ons hierdie mense nie optel nie, sal hulle sterf. Hulle is in bote wat nie ‘n sekere afstand verder as ‘n paar kilometer van die Libiese kus kan gaan nie. Hulle gebruik egter die bote as gevolg van die teenwoordigheid van die NRO’s. Maar omdat hulle daardie situasie geskep het, kan nie-regeringsorganisasies nie net onttrek nie.”

    Volgens die Internasionale Organisasie vir Migrasie is die gemiddelde sterftesyfer vir mense wat oor die Middellandse See, een in 39. Meer as 1 200 migrante het gesterf tot dusver hierdie jaar alleen.

    In Junie het die aantal immigrante wat in Italië aangekom het deur middel van die Med-roete met 8% gestyg van Mei tot 24 800, het Frontex gerapporteer.

  • Migrant steek Duitse Rooikruis-werker dood

    Migrant steek Duitse Rooikruis-werker dood

    ‘n Migrant uit Sirië het ‘n Rooikruisgeestesgesondheidsraadgewer in die suidwestelike Duitse stad Saarbrücken doodgesteek, volgens die Duitse polisie. Saarbrücken is die hoofstad van Duitsland se kleinste deelstaat, Saarland.

    Die moordenaar en sy 30-jarige slagoffer wat as sielkundige gewerk het, het glo tydens ‘n terapeutiese sessie ‘n argument gehad. Die slagoffer is op die toneel dood. Duitse amptenare het ontken dat die voorval verband hou met terrorisme.

    Die slagoffer het sedert 2014 by die Rooikruis gewerk. Die Duitse owerhede het die verdagte kort ná die Woensdagaanval gevang, slegs ‘n paar honderd meter van die misdaadtoneel in Saarbrücken. Die man is in die hospitaal opgeneem vir ernstige beserings, wat self toegedien is.

    Die polisie glo dat die 27-jarige Siriese immigrant die terapeut tydens ‘n beradingsessie gesteek het, by die sentrum vir getraumatiseerde vlugtelinge wat deur die Rooikruis bestuur word. Die sentrum in Saarbrücken, naby die Franse grens, spesialiseer in die behandeling van migrante wat ly aan post-traumatiese stres of nuwelinge wat probleme ondervind met die aanpassing in Duitse kultuur.

    “Ons is almal verskrik en geskok,” het die Duitse Rooikruishoof, Rudolf Seiters, gesê. Hy het gesê dat alle Duitse Rooikruis-medewerkers die slagoffer “roem as ‘n lofwaardige werknemer”. Sy mede-werkers het tevergeefs probeer om hul kollega te red.

    Die polisie het ook ‘n mes op die toneel gevind, maar kon nie sê of dit die moordwapen was nie.

    “Dit is nogal vreeslik,” het Martin Erbelding, woordvoerder van die Saarland se DRK-nasionale vereniging, gesê. “Die kommer oor kollegas is baie, baie hoog.” ‘n Krisisintervensiespan en nood mediese sorg was ter plaatse.

    Die skokkende moord kom na ‘n aanval op Sondag toe ‘n vyfjarige kind in ‘n vlugteling-skuiling in Suidoos-Duitsland deur ‘n Afghaan doodgesteek is. Die 41-jarige aanvaller het ook die kind se ma, ‘n Russiese burger, beseer.

    ‘n Sesjarige kind op die toneel moes vir skok behandel word by die vlugtelingsentrum in Arnschwang, naby die Tsjeggiese grens, en na die hospitaal geneem word.

    Die jongste aanval lyk ook soos ‘n dodelike mesaanval in Swede verlede jaar, toe ‘n 22-jarige vroulike maatskaplike werker deur ‘n jong immigrant vermoor is.

  • Migrante moet weggehou word van pro-immigrasie G7-leiers

    Migrante moet weggehou word van pro-immigrasie G7-leiers

    Die leiers van G7-lande neem geen kanse met “vlugtelinge” wanneer dit hul eie veiligheid raak nie.

    Smokkelbote wat migrante in die Middellandse See optel, word verbied om in Taormina waar die G7-byeenkoms op 26-27 Mei gehou word, anker te gooi.

    Die riglyn van die Italiaanse Ministerie van Binnelandse Sake het gelei tot ‘n geleidelike afname in die aantal skepe wat by die hawens van Sicilië aanland, en sal lei tot die volledige sluiting van die hawens vanaf 22 tot 28 Mei.

    Vrees dat migrante die veiligheid van wêreldleiers in gevaar sal stel, is deur die polisiehoof Franco Gabrielli geopper. Hy het gesê dat die Italiaanse veiligheidsdienste ‘n plan aangebied het om die veiligheid van die staatshoofde en die regerings wat tydens die beraad teenwoordig sal wees, te waarborg.

    Die verbod op die aankoms van migrante sal vanaf Maandag in werking tree, terwyl leiers vergader om ekonomiese beleid te bespreek by die San Domenico Palace-hotel op die eiland. Die Libië-Italië-taxi wat deur NRO’s bedryf word om Europa te oorspoel van mense uit die Derde Wêreld, sal na ander hawens gerig word, wat volgens Dokters-Sonder-Grense (MSF) ‘n dag of twee tot die reis kan toevoeg.

    Tommaso Fabbri, hoof van MSF Italië, het gesê hulle is bekommerd oor die migrante: “Ons is bekommerd omdat dit ‘n dag of twee by die seiltyd voeg.”

    Migrantebote dok gereeld in Sicilië om gratis kos en mediese behandeling te ontvang voordat hulle na ander Italiaanse hawens vaar.

    Migrante word ironies genoeg weggehou van die Duitse kanselier Angela Merkel wat ‘n oop grensbeleid met alle mag bevorder. Die res van Europa se kiesers moet daagliks met die risiko leef van migrante, maar anders as gewone mense sal die EU- en ander leiers nie aan dieselfde gevaar blootgestel word nie.

    Die dorp sal vanaf 13 Mei afgesper word, met motors wat verbied is. Inwoners is woedend oor die ongerief maar waarskynlik dankbaar dat die toestroming tydelik gestaak sal word.

  • Duitse stad onteien privaatwonings vir migrante

    Duitse stad onteien privaatwonings vir migrante

    Die Duitse owerhede in Hamburg het ses residensiële eenhede in die Hamm-distrik naby die middestad gekonfiskeer in wat as ‘n ernstige ingryping in eiendomsreg beskryf kan word.

    Dit bly onduidelik waarom niemand die grondwetlikheid van die onteiening van die eiendom uitgedaag het nie, aangesien owerhede begin het om privaat wonings op te eis teen die wil van die eienaar.

    Boonop sal ‘n trustee deur die tweede grootste stad in Duitsland aangestel word om die eiendomme op te knap om dit aan “vlugtelinge” te verhuur, terwyl alle opknapping teen die eienaar se koste gedoen sal word. Die wonings in Hamm staan sedert 2012 leeg.

    Die tekort aan behuising het ontstaan ​​deur kanselier Angela Merkel se besluit om binne ‘n kort tyd die grense vir meer as twee miljoen migrante oop te maak.

    Stadsamptenare het reeds op kommersiële eiendomme beslag gelê en hulle sedert laat 2015 in migrantskuilings begin omskep. Op 1 Oktober 2015 het die stadsraad van Hamburg ‘n nuwe wet goedgekeur wat die stad toelaat om onbeboude kommersiële eiendomme te koop – kantoorgeboue sowel as grond – en te gebruik om migrante te huisves. Maar nou het hulle tot die stap oorgegaan om privaat eiendomme ook te konfiskeer.

    Toe Merkel miljoene uit Afrika, Asië en die Midde-Ooste ingenooi het, het die behuisingsprobleem akuut geword. Meer as 400 nuwe migrante kom elke dag in Hamburg aan en al die bestaande vlugtelingskuilings is vol.

    Die behuisingskrisis is egter deur die stad self vererger. ‘n Studie wat in 2012 gedoen is, het voorspel dat teen 2017 sal daar ‘n tekort van minstens 50 000 huur eiendomme wees. Die regering het ‘n plan aangebied om 6 000 nuwe residensiële eenhede per jaar te bou, maar die plan het nooit van die grond gekom nie omdat voornemende bouers deur regering-opgelegde huurgeld verhinder is, wat dit onmoontlik gemaak het om selfs net hul konstruksiekoste te verhaal.

    Sedertdien het die stad beslag gelê op private eiendom om sy behuisingstekort op te los. Aangesien die eienaars van onbeboude eiendomme weier om hul eiendomme op vrywillige grondslag aan die stad beskikbaar te stel, word daar bloot beslag gelê op die wonings.

    Die maatreël is natuurlik verwelkom deur links en ver-links. “Ons doen alles wat ons kan om te verseker dat die vlugtelinge nie in die komende winter dakloos is nie,” het senator Till Steffen van die Groen Party voorheen gesê. “Om hierdie rede moet ons vakante kommersiële eiendomme gebruik.”

    “Die voorgestelde konfiskering van privaat grond en geboue is ‘n massiewe aanval op die eiendomsreg van die burgers van Hamburg,” het André Trepoll van die Christen-Demokratiese Unie (CDU) gesê en bygevoeg dat die doelwitte die middele nie regverdig het nie. “Dit is ‘n onteiening deur die staat.” Hy het die maatreël ‘n “intimidasiewet” genoem wat ‘n “politieke dambreuk met verreikende implikasies” tot gevolg het.

    Katja Suding, die leier van die Vrye Demokrate in Hamburg, het gesê die voorgestelde wet is ‘n “onaanvaarbare oorsteek van rooi lyne. Sulke dwangmaatreëls sal slegs woede teen vlugtelinge veroorsaak.”

    Soortgelyke onteieningsmaatreëls is in Berlyn, die Duitse hoofstad, voorgestel, maar nie geslaag nie omdat hulle ongrondwetlik geag word.

    Christiana Kant, wat van die vlugteling-behuising in Hamburg koördineer, het aan die BBC gesê dat die blote getalle van die instroming ‘n groot logistieke probleem is. “Ons huisves mense in supermarkte, in ‘n tennissaal, net om ‘n dak oor hul koppe te kry,” het sy gesê.

    Sal Duitse owerhede die maksimum hoeveelheid leefruimte per persoon beperk en diegene met groot woonstelle dwing om dit met vreemdelinge te deel?

  • Duitsland in skok na verkragtings, moord by ouetehuis deur swarte

    Duitsland in skok na verkragtings, moord by ouetehuis deur swarte

    Duitsland is in skok na ‘n dubbele verkragting, en moord deur ‘n swart migrant by ‘n ouetehuis in Neuenhaus, ‘n dorp in die distrik Bentheim in Nedersakse.

    ‘n Somaliese “asielsoeker” is aangekla van verkragting van twee gestremde mans in ‘n tehuis asook die moord op die vrou van een, in die vroeë oggendure van 22 Oktober verlede jaar.

    Die “18-jarige” het na berig word ingebreek by die ouetehuis in Neuenhaus, waar hy ‘n verlamde 59-jarige man verkrag het. Die polisie sê die migrant het daarna ‘n bejaarde in ‘n aangrensende kamer verkrag, voordat hy gekonfronteer is deur die 87-jarige vrou van die slagoffer.

    Na wat verneem word het die vrou in dieselfde kamer as haar man by die Haus am Bürgerpark ‘n bejaarde sorghuis, gewoon.

    Die vrou van die tweede slagoffer het die verkragter verras waarna hy haar met “groot krag” vermoor het om te verhoed dat hy gevang word, volgens Duitse polisiebronne.

    Die beskuldigde is tans in ‘n psigiatriese inrigting vir waarneming, want hy was glo in ‘n “alkoholiese toestand” met “geestelike probleme”. Dié twee kesssies kan uiteindelik lei tot verminderde straf.

    Sy verhoor sal voor die Land Gericht Osnabrück se jeugfasiliteit plaasvind, maar dit is nie seker of die dader wel ‘n jeugdige is nie.

    Die 32-jarige opsigter het Woensdag, nadat hy die skof van ‘n kollega oorgeneem het, op die dader afgekom. Om middernag, het alles gelyk of dit nog in orde was, maar op die middelste vloer, het hy skielik ‘n persoon teëgekom wat ​​in die gang in die dowwe gloed van die naglig staan.

    “Ek was verbaas en het gedink dit was ‘n inwoner,” het die verpleër verduidelik. Die vermeende verkragter het daarna doodluiters die trappe afgeloop na die grondvloer in die rigting van die hoofingang, maar skielik verander van rigting en ontsnap.

    Die Somaliër is egter gou in hegtenis geneem na die misdade. In sy huis, het die polisie ‘n paar wit – nog klam – tekkies, en ‘n stel nat klere in die kas ontdek. Dit is deur ‘n 53-jarige polisiesuperintendent aan die media onthul.

    Verlede maand het ‘n 19-jarige Marokkaanse migrant skuldig gepleit op die verkragting van ‘n 90-jarige Duitse vrou helder oordag op pad huis toe van die kerk.

    Verlede week is aangekondig dat die Afghaanse reeksmoordenaar en verkragter, Hussein K., deur Duitse aanklaers as ‘n jeugdige beskou word, ten spyte van verskeie mediese ouderdomskundiges wat bepaal het dat hy 22-jaar oud was toe hy die 19-jarige Maria Ladenburger vermoor het. Hy het haar liggaam in Dreisamrivier in Freiburg gegooi.

    Die meisie was die dogter van ‘n top Eurokraat, en ten minste die tweede slagoffer van die moordenaar.

    Hy het voorheen ‘n ligte twee-en-‘n-half jaar tronkstraf uitgedien vir die verkragting en moord op ‘n jong Griekse student wat hy daarna van ‘n krans afgegooi het.

  • Meerderheid Europeërs wil Moslem-immigrasie stopsit

    Meerderheid Europeërs wil Moslem-immigrasie stopsit

    ‘n Peiling het getoon dat ‘n meerderheid van Europeërs ‘n verbod op immigrasie uit Moslem-meerderheid lande steun, ten spyte daarvan dat inwoners vertel word deur hul huidige leiers dat hulle “vlugtelinge” móét verwelkom.

    “Nuwe navorsing dui op beduidende en wydverspreide vlakke van openbare angs”, het ‘n opname aangedui. Die Chatham House Royal Institute of International Affairs het aanlynrespondente uitgevra oor hul standpunte rakende die stelling dat “alle verdere migrasie van hoofsaaklik Moslemlande gestop moet word”.

    Slegs 20 persent het nie saamgestem nie, terwyl 25 persent nie ‘n mening oor die saak gehad het nie.

    Die Chatham House-opname is voor die Amerikaanse president Donald Trump ‘n uitvoerende bevel wat immigrasie uit die sewe Moslem lande verbied, gedoen. Die lys van lande is deur Barack Obama opgestel, maar sy surrogate maak asof hulle dit nie weet nie en gaan tekere oor Trump se “onmenslikheid”.

    Gemiddeld, dink 55 persent van die mense wat ondervra is in 10 Europese lande, dat alle toekomstige immigrasie uit Moslemlande voor die voet moet ophou. Die verbod is deur 71 persent van die mense in Pole, 65 persent in Oostenryk, 53 persent in Duitsland en 51 persent in Italië gesteun. ‘n Yslike 72 persent van Hongare het ‘n negatiewe siening van Moslems.

    Die potensiële uitwerking van Moslemimmigrasie op binnelandse politiek op daardie lande, is ook uitgelig.

    “In die meeste van hierdie lande, is radikale regses van wisselende grade ‘n politieke mag en wil hierdie angs oor Islam mobiliseer by die stembus, hetsy gedurende verkiesings in 2017 of op die langer termyn.”

    Net twee van die tien lande was nie gekant teen immigrasie uit hoofsaaklik Moslemlande nie: Spanje en die Verenigde Koninkryk waar ‘n meerderheid van die respondente bereid is om meer Moslems te verwelkom. In die Verenigde Koninkryk, het slegs 47 persent ‘n verbod ondersteun.

    ‘n Ipsos Mori-peiling in 2016, het bevind dat die Europeërs die aantal Moslems wat in hul lande woon, totaal oorskat. Die Franse publiek dink daar is meer as vier keer die werklike getal en in Brittanje heers ‘n persepsie van drie keer groter as die werklike syfer.

    Maar interessant het die opname bevind daar is min korrelasie met die aantal Moslems wat reeds in ‘n land gevestig is en die weersin in hulle.

    “Openbare teenkanting teen verdere migrasie vanuit Moslemlande is veral intens in Oostenryk, Pole, Hongarye, Frankryk, en België,” lui die verslag. Maar daar is baie minder Moslems in Pole as in Frankryk, byvoorbeeld.

  • Hulpagentskappe smokkel glo migrante na Europa

    Hulpagentskappe smokkel glo migrante na Europa

    Volgens die organisasie Gefira, het ‘n aantal hulpagentskappe byna 40 000 migrante binne twee maande na Europa gesmokkel.

    Amptelik, maak hulle asof hulle migrante in nood red op see. Maar die bewegings van skepe wat aan die hulpagentskappe behoort, het Gefira tot die gevolgtrekking gekom dat hulle eintlik net buite die Libiese kus migrante aan boord te neem.

    Die amptelike beskrywing van die daaglikse aktiwiteite van hulpagentskappe is teenstrydig met inligting oor die bewegings van die skip Golfo Azuro, byvoorbeeld. Die vaartuig word gebruik deur die Nederlandse hulpagentskap Stichting Bootvluchting.

    ‘n Video wys hoe die skip, saam met drie ander skepe van hulpagentskappe, na ‘n punt 8.3 seemyl van die Libiese kus beweeg. Op sy webwerf beweer die hulpagentskap dis na ‘n oproep van die Italiaanse kuswag, maar die twee liggings verskil drasties. Tien uur na die oproep, beweeg ‘n boot van ‘n Libiese hawe reguit in die rigting van die hulpflotilla. Twee seemyl weg van hulle kom dit tot stilstand.

    Die volgende dag, word berig op die webwerf van die hulpagentskap, dat hulle ‘n reddingsoperasie uitgevoer het in die Siciliaanse Straat, dit wil sê in die Middellandse See tussen Sicilië en Tunisië, baie verder noord van werklike posisie van die skepe. Met die sogenaamde reddingspoging, het ‘n drie-jarige Nigeriese seun en 17 ander mense glo verdwyn. Die 113 mense wat “gered” is, is nie aan die naaste veilige hawe in Tunisië besorg nie, maar na Sicilië geneem.

    Gefira bevraagteken die sogenaamde reddingsoperasies, wat al hoe meer na mensehandel begin lyk. Gefira beweer ook dat die bedrywighede nie moontlik sou wees sonder die toestemming van owerhede nie en noem die volgende organisasies wat daarvan verdink word dat hulle met mense smokkel: MOAS, Jugend Rettet, Stichting Bootvluchting, MsF (Dokters Sonder Grense), Save the Children, Proactiva Open Arms, Sea-Watch.org, See-Eye en Life Boat.

    MOAS lyk na ‘n sleutelspeler in hierdie aktiwiteit. Dit is in 2013 gestig deur ‘n Amerikaanse sakeman Chris Catrambone in Malta. Hy het sy loopbaan as ‘n werknemer van die Amerikaanse Kongres begin. Sy maatskappy, Tanger Groep, het sedert 2006 gegroei van ‘n maatskappy met drie werknemers wat betrokke is in Irak, tot vandag, met bedrywighede in 110 lande en ‘n onbekende aantal werknemers. Gefira bevraagteken die manier waarop hierdie sake-onderneming in staat was om soveel inkomste te genereer sodat Catrambone met sy eie geld ‘n skip kon betaal vir MOAS. Een moontlike verklaring kan wees dat die maatskappy ‘n groot inkomste uit “reddingsoperasies” verkry.

    MOAS word gelei deur die voormalige Maltese opperbevelvoerder Martin Xuereb en ‘n paar ander personeellede met óf militêre agtergronde in Malta of in private sekuriteit. Sedert MOAS se bedrywighede eindig die immigrante aan wal in Italië en vreemd genoeg nie in die tuishawe van Malta nie.

    Gefira is ‘n Nederlandse stigting gefokus op die ontleding van die huidige geopolitieke en finansiële onstabiliteit.

     

  • Merkel-beleid het terreuraanval van Berlyn moontlik gemaak

    Merkel-beleid het terreuraanval van Berlyn moontlik gemaak

    Angela Merkel gaan nie ‘n groot politieke aanslag vermy om haar leierskap te sink oor haar ondeurdagte beleid om Duitsland se grense oop te gooi nie.

    Die terroris wat onskuldige mense by ‘n Kersmark doodgery het, was ‘n migrant wat danksy Merkel se onbesonnenheid ingelaat is. ‘n AfD-segsman, Marcus Pretzell het gesê Merkel is verantwoordelik vir die slagting.

    ISIS het vroeër verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar wat gepleeg is deur ‘n verdagte wat Duitsland as ‘n “asielsoeker” binnegekom het en reeds aan veiligheidsowerhede bekend was. Die terroris was selfs op die VSA se vlugswartlys oor sy kommunikasie met die Islamitiese staat – maar is herhaaldelik deur die Europese owerhede oorgesien en vrygelaat.

    Net soos met die massaverkragtings in Keulen met Nuwejaar, hou die elite hulle hulle koppe in die sand en sensureer hulle liewer alle nuus wat Moslems in ‘n negatiewe lig stel en nie polities korrek genoeg na hulle smaak is nie.

    Die Duitse federale vervolgingsgesag het ’n beloning van tot €100 000 uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisneming van Anis Amri (24) kan lei. Hy is die hoofverdagte wat Maandagaand met ‘n vragmotor in ‘n besige Kersmark in Berlyn ingejaag het. Twaalf mense is in die terreuraanval dood en 45 mense is beseer van wie 12 in die hospitaal behandel word, sê die polisie.

    Terwyl Duitse beroepspolitici probeer voorgee die aanval het niks met Islam en migrante te make nie, het dit sedertdien bekend geword dat die verdagte reeds aangehou is in verband met terreur en toe sommer weer vrygelaat is.

    Amri het Tunisië het Tunisië sewe jaar gelede as ’n onwettige immigrant verlaat en het tronkstraf in Italië uitgedien nadat hy ‘n skool afgebrand het.

    Ralf Jäger, ’n minister in die Duitse deelstaat Noord-Rhyn-Wesfale (NRW), sê Amri het blykbaar in Julie verlede jaar in Duitsland aangekom en sy aansoek om asiel is van die hand gewys. Nadat sy asielaansoek van die hand gewys is, moes hy gedeporteer gewees het, maar hy kon glo nie na Tunisië teruggestuur word “sonder dokumente nie”.

    Die media kon egter Amri se gesin in Tunisië binne minute opspoor na die nuus van sy inhegtenisname bekend geraak het.

    Tunisië het sy dokumente eers ‘n dag na die aanval op die Kersmark deurgestuur, sê Jäger.

    Hy het glo verskillende name gebruik en volgens veiligheidsagentskappe was hy in verbinding met ’n Islamitiese netwerk wat lede vir ISIS gewerf het.

    Hy het sedert Februarie in Berlyn gewoon, maar was onlangs in NRW, sê Jäger.

    Die 25 ton vragmotor, gesteel van ’n Poolse vragvervoermaatskappy, het by die mark in die houthutte waar Kersgeskenke, glühwein en wors verkoop is, ingejaag.

    Die Poolse bestuurder van die gekaapte vragmotor is met ‘n enkele kopskoot dood in die kajuit gevind.

    DNA-bewyse het bevestig dat Amri in die vragmotor was. Amri se ouers self het aan die New York Times gesê dat Amri ‘n “gewelddadige”, dwelm-kop en moeilikheidmaker was voordat hy onwettig na Europa gemigreer het.

    “Hy het vier jaar in die tronk in Italië deurgebring waar hy met ekstremistiese groepe deurmekaar geraak het wat hom gewerf het,” het sy pa bevestig.

    Amri het Tunisië in Maart 2011 verlaat tydens die “al Horqa” ‘n golf van onwettige immigrasie kort ná die begin van die Soros-operasie, ‘n reeks beplande Islamitiese rewolusies by name die “Arabiese Lente”. Hy het in Lampedusa, Italië beland en ‘n humanitêre permit is aan hom toegestaan ondanks sy valse verklarings.

    Duitse intelligensie was glo bewus van Amri se vergadering met ‘n djihadis in Dortmund en in Duisburg-Rheinhause wat gekoppel is aan talle Islamitiese aanvalle. ‘n Teenterrorisme ondersoeker het Bild gesê dat Amri ook na bewering probeer het om ‘n pistool te koop van ‘n geheime polisiebeampte.

    Hy is ondersoek sedert 14 Maart deur die Duitse aanklaers wat ingelig is deur intelligensiedienste dat Amri ‘n rooftog beplan om geld te kry om ‘n outomatiese wapens te koop “moontlik om ‘n aanval op ‘n later datum met mede-oortreders” te pleeg.

    Sy telefoonoproepe is gemonitor, maar in September is die meeluistering beëindig. Duitsland het sy asielaansoek verwerp, maar hy het desnieteenstaande in Berlyn voortgegaan om sy bose daad te beplan.

    Uit vrees vir soortgelyke aanvalle, het Frankryk “voorkomende inhegtenisnemings” uitgevoer asook grensbewaking opgeskerp.

  • Hewige straatgevegte tussen asielsoekers in Parys

    Hewige straatgevegte tussen asielsoekers in Parys

    Een van die mees gewilde buurte van Parys is Woensdag verander in ‘n slagveld toe asielsoekers mekaar aangeval het in skokkende tonele.

    Franse inwoners in die buurt is ongelukkig omdat hul omgewing besig is om gewelddadig en gevaarlik te raak. Berigte van straatrowers is aan die toeneem. Die geweld, het die Britse Daily Express berig, beteken die ondergang van hul besighede en maak hul bestaan ‘n “lewende hel” sê hulle.

    Rondom die metrostasie Stalingrad het duisende migrante in die nasleep van die sloping van die “oerwoud” in Calais toegesak.

    Die Franse dagblad Le Figaro het ook berig dat die plaaslike bevolking in die Stalingraddistrik nou in vrees leef. Parysenaars kla dat die asielsoekers nie “die wet respekteer nie” en “geen poging aanwend om te integreer in die Franse samelewing nie”.

    Maar dis blykbaar nou die minste van hul probleme, want Woensdag die gebied rondom die metrostasie soos ‘n toneel uit ‘n nagmerrie gelyk, toe bendes immigrante mekaar met houtstompe begin takel het. Die asielsoekers het mekaar met hul tydelike wapens begin bewusteloos knuppel terwyl Parysenaars afgryse vervul toegekyk het.

    Meer as 2 500 immigrante leef nou in die tydelike kamp. Die stank van urine, ontlasting, en rommel wat uit die hool damp, het die lug vervuil.

    Dit is nie bekend wat aanleiding gegee tot die vroegoggend se skermutselings nie, maar mededingende bendes mensesmokkelaars is glo agter die gewelddadige gevegte wat gereeld ook in Calais plaasgevind het.

    Ten spyte van die sinnelose geweld, is ‘n pro-migrasie betoging georganiseer deur oop-grens entoesiaste by die kamp vir Woensdagaand.

    Die eens vreedsame arrondissement, in die 10de distrik van Parys, wat ‘n gewilde kuierplek met toeriste is, het vele sonderlinge restaurante en straatkafees, maar met die koms van die vlugtelingplakkers, en die gepaardgaande haglike omstandighede en geweld, is die buurt se daaglikse lewe byna tot stilstand gedwing.

    Na afloop van die sloping van die “oerwoud”, is die pogings van duisende immigrante om Brittanje te bereik, gefnuik. Hulle het nou verskuif na Parys se strate.

    Die meeste kom uit Soedan, Libië, Afghanistan, en Eritrea, en hulle het hul klein tente onder die metrostasie se oorbrug opgeslaan, en slaap op karton.

    Terwyl die Franse polisie al by verskeie geleenthede probeer het om die immigrante te verjaag, het hulle eenvoudig bly terugkom.

    Die Franse owerheid het Woensdag intussen begin om nage­noeg 1 500 onvergeselde “kindermigrante” van die Calais migrantekamp, wat vroeër deur veiligheidsmagte ontruim en in puin gelê is, te verwyder en na ontvangsentrums in die land oor te plaas.

    Dit kom midde ‘n dooie punt tussen Frankryk en Brittanje oor wie vir die “kinders” – eintlik is hulle volwasse mans – moet sorg, wat nie bygelê kon word nie. Hulle word “kinders” genoem sodat politici die mans meer geredelik aan die kiesers kan afsmeer.

    Die “minderjariges” word voorlopig in skeeps­houers in die noordelike stad Calais gehuisves.

    Duisende ander migrante is haastig oral in Frankryk hervestig om die oogseer te probeer wegsteek vir die komende verkiesing.

  • Franse breek ‘Oerwoud’ af

    Franse breek ‘Oerwoud’ af

    Frankryk het gister begin om die sogenaamde “Oerwoud” migrante-kamp by die noordelike stad Calais te ontruim voordat dit opgebreek sal word.

    Die migrante word nou na ontvangsentrums elders in Frankryk geneem.

    Die kamp bestaan uit ‘n versameling tente en skuilings en staan op ‘n winderige moddervlakte naby Calais. Die kamp is ‘n trekpleister vir migrante wat probeer om die kanaal na Brittanje oor te steek.

    Die 6 000 tot 8 000 inwoners van die kamp is hoofsaaklik Afgane, Irakese, Eritreërs en Soedanese.

    Daar is gevrees dat geweld sou uitbreek oor die gedwonge verskuiwing, maar die eerste dag het glo ordelik verloop.

    Die Franse owerhede is gretig om van die oogseer en kriminele nes ontslae te raak voor die verkiesing volgende jaar, maar die dorpies wat die uitlanders moet huisves is woedend en talle betogings teen die asielsoekers is reeds gehou.

    Berigte van asielsoekers wat motoriste aanrand en hul motors kaap is reeds verskeie kere aangemeld.

  • Orban het migrantekrisis aan EU blootgelê

    Orban het migrantekrisis aan EU blootgelê

    Hongarye se eerste minister, Viktor Orban, sal na verwagting die migrasiekwessie hoog op die sakelys hou, selfs ná ’n lae stempersentasie tydens die referendum teen die Europese Unie (EU) se vlugtelingkwotas wat hy oorweldigend gewen het.

    Sy kritici beweer dat die lae persentasie die stemmery ongeldig gemaak het, maar die verkiesingsuitslae het byna eenparig die regering se standpunt oor migrasie gesteun.

    Orban en sy Fidesz-party sal kiesers se afkeur van migrante gebruik om die aandag af te trek van kwessies soos korrupsie en probleme in die gesondheid- en onderwyssektor, het ’n politieke ontleder, Csaba Toth, gesê.

    Alhoewel die aantal kiesers wat by die stembus opgedaag het, net minder is as die vereiste 50 persent plus een wat nodig is om die uitslae amptelik te maak, kan die ongewilde Duitse kanselier Angela Merkel en die EU Kommissie nie kiesers se weerstand teen die instroming ontken nie.

    Minstens 28 migrante wat die EU wil binnedring, is naby die kus van Libië dood toe ván hulle in ‘n oorlaaide boot versmoor het.

    Volgens berigte was daar nagenoeg eenduisend mense op die houtboot.

    Migrante spring gereeld oorboord wanneer die Italiaanse kuswag hul vaartuie nader om “gered” te word. Die kuswag word deur wetgewing verplig om reddingsoperasies in die see noord van Libië uit te voer.

    Hulle het die week reeds meer as 1800 mense aan die Libiese kus uit die see getrek en na Italië geneem.

  • Hongare stem teen kwotastelsel vir migrante

    Hongare stem teen kwotastelsel vir migrante

    In Hongarye het die regse eerste minister, Viktor Orban, by die stembus geseëvier om migrante uit sy land te hou.

    Hongaarse kiesers het oorweldigend gestem het téén die EU se verpligte migrantekwotas.

    Die Duitse leier, Angela Merkel wil EU-lidlande verplig om kwotas te aanvaar en dat elke land deur die Europese Unie daartoe gedwing word om migrante in te neem.

    Die uitslag is ‘n sterk genoeg aanduiding dat Hongarye nie die EU se kwota migrante sal aanvaar nie.

    Omdat die stempersentasie laag was en slegs sowat ‘n derde van die geregistreerde kiesers aan die referendum deelgeneem het, beweer Angelsaksiese mediabronne dat die stemmery ongeldig verklaar moet word.

    Maar Orban het gesê meer Hongare het teen die kwotas gestem as in ‘n referendum vir die 2004-toetrede van Hongarye tot die blok vir lidmaatskap van die Europese Unie.

    Sowat 3 249 000 stemme het kwotas verwerp, in vergelyking met 2003 se 3 056 000 stemme.

    hongare

    Die Hongare het in hul tradisionel drag opgedaag om te gaan stem.

    Hongarye is die eerste Europese land om daarteen te stem. Noorweë, Swede, Denemarke en Oostenryk het reeds strenger grensbeheer ingestel na die instroming.