Dan Roodt: Een radikalisme roep ‘n ander op

In die politiek word daar gepraat van die Overton-venster, dít  wat op ‘n gegewe oomblik in ‘n land as polities aanvaarbaar beskou word, aldan nie. In die tagtigerjare onder PW Botha is die ANC as ‘n terreurorganisasie beskou en kommunisme of die nasionalisering van grond of ander eiendom sonder vergoeding was nie deel van die hoofstroompolitiek nie. Die handjie vol mense wat sulke idees gepropageer het, is deur die destydse Veiligheidspolisie dopgehou en is as ‘n gevaar vir die samelewing gesien.

Sedertdien het die Overton-venster in ons land natuurlik radikaal na links beweeg: voormalige terroriste word as “helde” geloof. Afrikaans word aan universiteite verbied. Swart politieke partye wat openlik geweld of oorlog teen blankes aanhits, word as “hoofstroom” beskou en die media berig oor hulle asof dit die normaalste ding op aarde is.

Hier is ‘n diagram wat die Overton-venster (vernoem na ‘n Amerikaanse politieke wetenskaplike Joseph P. Overton) voorstel.

Tot redelik onlangs, was dit in Europa onaanvaarbaar om oor immigrasie te praat; dit is as ‘n “verregse onderwerp” beskou. Die eerste politikus in Nederland wat uitsprake oor immigrasie gemaak het, Hans Janmaat, is allerweë verguis en het heeltemal buite die Overton-venster geval. Sedertdien het die politieke gesprek min of meer oral in Europa na regs verskuif en word daar wel oor immigrasie debat gevoer, selfs deur linkse partye.

Sowel die EFF as die BLF sou verkies dat daar geen blankes in Suid-Afrika meer woon nie; soms sê hulle dit selfs openlik, maak dreigemente of sing “Kill a Boer, kill a farmer”. In die geval van Julius Malema, sing hy “Kiss a Boer”, maar maak dan geluide asof skote afgaan, sodat almal verstaan dat hy “Kill a Boer” bedoel. So pas hierdie naweek, het Julius Malema met “oorlog” gedreig en sy “vegters” soos hy hulle noem, tot optrede opgeroep.

Die hoofstroomjoernalis van Naspers en City Press, Ferial Haffajee, het ‘n boek geskryf met die titel What if there were no whites in South Africa? Die titel het geen beroering veroorsaak nie, want eintlik is ‘n Suid-Afrika heeltemal sonder blankes reeds ‘n aanvaarbare idee. Onder die EFF of BLF of ‘n koalisie van die twee, kan dit baie maklik — soos in Zimbabwe — beleid word.

Wat vandag dus as ekstreem, “ondenkbaar” en radikaal beskou word, kan môre of oormôre as redelik gesien word en selfs as regeringsbeleid aanvaar word. Dit is die punt van die Overton-venster en veral van ‘n verskuiwing in die openbare mening. Sedert 1994 het die ANC, die SAKP en hul meelopers die meeste media in Suid-Afrika oorgeneem en het hul eens radikale, ondenkbare idees die heersende ideologie in ons land geword.

Kom ons maak ‘n vinnige lysie van enkele sodanige radikale idees wat tans beleid is of wat beleid onder die ANC-bewind bepaal:

  1. Blankes en veral Afrikaners het die swartes se grond gesteel, vandaar Ramaphosa se “onteiening sonder vergoeding”.
  2. Afrikaners het geen reg op eie skole, universiteite of enige ander instellings nie.
  3. Engels is die enigste amptelike taal van Suid-Afrika, hoewel daar in naam “elf amptelike tale bestaan”.
  4. Afrikaners is nie eintlik Suid-Afrikaners nie, synde nie-swart en nie-Engels. Hulle word as “immigrante” of “setlaars” maar net verdra, tot verdere kennisgewing.
  5. Die oranje-blanje-blou en Die Stem deur C.J. Langenhoven, wat eens nasionale simbole was, gee aanstoot en moet selfs verbied word.
  6. In dieselfde asem, gee Afrikaans insgelyks aanstoot, oral waar dit in die openbaar of in instellings gepraat of geskryf word.
  7. Die swart stamme was “voor ons hier”, dus is hulle “inheems” en ons nie.
  8. Enige sweem van rassisme of “haatspraak” jeens swartes is onaanvaarbaar en selfs strafregtelik vervolgbaar. Boerehaat, daarenteen, is heel aanvaarbaar.
  9. Suid-Afrika is “net nog ‘n Afrikaland” wat op die Afrikamanier regeer sal word.
  10. Staatsdepartemente en -ondernemings soos Eskom, SAL, Transnet, ens., “behoort aan swartes” en kan daarom na hartelus geplunder word deur middel van tenders, hoë salarisse, bonusse, ens.
  11. As Afrikaland moet Suid-Afrika van sy Westerse en veral Afrikanererfenis ontslae raak.

Natuurlik kan die Overton-venster in Suid-Afrika nóg verder na links verskuif sodat die EFF en Malema eintlik die “sentrum” verteenwoordig en die ANC die regtervleuel. Die beleid van etniese suiwering jeens Afrikaans wat die ANC reeds op ‘n verdoeselde wyse voer, sal dan meer openlik geskied en mense sal moontlik uit hul huise gesmyt word om plek te maak vir EFF-ondersteuners, ‘n bietjie soos dit onder kommunisme in Oos-Europa gedoen is.

Maar gestel die teenoorgestelde gebeur, om een of ander wonderbaarlike rede? ‘n Deus ex machina red ons van gewisse ondergang? Hoe sou die teenbeleid lyk om die ANC, EFF en BLF se radikale idees en beleide ongedaan te maak?

Anders gestel: Duidelik verteenwoordig ‘n Suid-Afrika sonder blankes vir die swart partye aan die linkerkant van die politieke spektrum ‘n ideaal om na te streef. Vandaar ook die idee van “verafrikanisering” wat op alle gebiede moet geskied, veral by die universiteite, maar ook elders, in die media, die reklamewese, letterkunde, kultuur en mode.

Op ‘n diplomatieke vlak het Suid-Afrika ook reeds ‘n anti-Westerse land geword. By die Verenigde Nasies het die ANC-bewind net in 18% van gevalle dieselfde stem as die VSA uitgebring; meesal skaar die land hom by die res van Afrika, die Arabiere, China en ander nie-Westerse groeperings.

Die radikale ideaal van ‘n “afrosentriese” Suid-Afrika is voor ons oë besig om verwesenlik te raak. Maar wat is die ideaal wat óns nastreef? Selfs al lyk dit tans onhaalbaar en ondergaan ons bloot ANC-beleid soos dié van ‘n besettingsmag wat op ons afgedwing word sonder dat ons ooit daartoe ingestem het, moet ons tog weet wat vir ons nastrewenswaardig sou wees?

Al dring ons bloot op gelyke regte met die swartman (en kultureel met die Engelssprekende) aan, sou dit reeds as uiters vermetel, “ondenkbaar” in Overton se taal, gesien word. Vir elkeen van bogaande radikale idees wat tans regeringsbeleid bepaal, sou ons ‘n ewe radikale teengedagte kon voorstel.

Tot dusver het ons gesien hoe redelikheid in Suid-Afrika sneuwel; eintlik is daar geen middelgrond nie. Vele ontleders uit die verre verlede, waaronder MTW Arnheim in sy boek South Africa after Vorster, het dit al oor en oor gese: óf die swartman gaan oorheers, óf die blanke. Overgezet synde: óf Suid-Afrika gaan ‘n Afrikaland word, óf ‘n Westerse land. Voorheen was ons ‘n Westerse land wat byna universeel as sodandig erken is; tans is ons op die glybaan na wat al hoe meer na oer-Afrika lyk. Privaat besit sal afgeskaf word en, soos in Zimbabwe, Mosambiek of ander Afrikastate, sal almal ewe arm wees, afgesien van ‘n klein ryk elite in die regering en ‘n verwante sakesektor wat ‘n korrupte, spandabele bestaan sal geniet.

Natuurlik, is ons reeds halfpad daar, op pad na die Afrika-norm toe.

Niks word deur kommuniste so verafsku soos ‘n sogenaamde “kontrarevolusionêr” (Engels: counter-revolutionary) nie. Teenrevolusionêr is waarskynlik beter Afrikaans. Enigiets wat die Afrikaner voorstel, al is dit bloot om ons oorlewing te verseker, sal uiteraard as “teenrevolusionêr” gesien word en afgemaak word as “regsheid”, “rassisme” en dergelike meer. Die media, asook die universiteite, ondersteun die revolusie ten volle en sal daarom soos wilde honde enige dissidente geluide uitsnuffel en tronkstraf of erger oor die ketters afroep.

Omring deur radikalisme en ekstremisme, moet ons egter die waagmoed aan die dag lê om ‘n alternatiewe ideaal na te streef. Of bloot te formuleer, wat op sigself al moeilik genoeg is.

As ons nou na bogaande stel genommerde begrippe kyk, kan ons vir elkeen ‘n teenvoorstel (ek sou selfs sê: teëgif) opper:

  1. Die swartes (en die radikale Engelse, soos byvoorbeeld Gavin Watson en sy familie van Bosasa-faam) het ons land gesteel.
  2. Ons het die reg op eie instellings soos universiteite, skole, selfs hospitale waar ons volgens eie standaarde behandeling mag ontvang.
  3. Afrikaans, synde die inheemse Westerse taal, behoort tot die enigste amptelike taal verhef te word (iets waarvoor selfs die ou NP nie kans gesien het nie).
  4. Afrikaners is die ware Suid-Afrikaners; die res is bloot immigrante. Die feit dat ons weens ‘n sameloop van omstandighede in die minderheid verkeer, maak geen verskil aan dié beginsel nie.
  5. Die ANC se stel kommunistiese simbole gee aanstoot en moet verbied word, terwyl die oranje-blanje-blou en Die Stem in ere herstel behoort te word. Elke persoon in uniform, wit of swart, behoort trou aan die Prinsevlag te sweer, anders behoort hy afgedank te word en selfs sy burgerskap te verloor.
  6. Ons verdraagsaamheid teenoor Engels is uitgebuit om die huidige situasie van taalverdrukking en die aanstig van Afrikaanshaat (veral deur die Engelse media) te skep. Daarom moet Engels op sy plek gesit word deur Afrikaans die enigste amptelike taal te maak. Of Engels kan ‘n “amptelike taal” wees in die huidige sin, maar sonder enige gebruik deur die staat, die howe, die universiteite, in die openbaar of wat ook al.
  7. Die punt dat ons Suid-Afrika in 1652 gestig het en ontwikkel het, moet oor en oor beklemtoon word. Die res is bloot immigrante of “migrante” in dieselfde sin as wat die woord in Europa gebruik word. Óns is inheems, nie hulle nie.
  8. Daar moet ‘n einde aan die hele “rassisme”-partytjie gemaak word. Soos in die VSA met sy eerste wysiging aan hul grondwet, moet daar spraakvryheid wees en Afrikaners behoort te kan sê en te kan skryf wat hulle wil, selfs al gee dit aanstoot. Aan die ander kant moet Boerehaat of oproepe tot volksmoord teen Afrikaners strafbaar gemaak word deur sulke persone uit die land te verban.
  9. Suid-Afrika moet herstel word as ‘n Westerse land, met Westerse norme van eerlikheid, orde en wetsgehoorsaamheid. Elke voertuig moet by die rooi lig stilhou, niemand moet op straat urineer sonder ‘n stywe boete nie, ens. Korrupsie en diefstal uit die staatskas moet taboe wees.
  10. Die staat sal verklein moet word en die huidige bankrot staatsondernemings sal óf gelikwideer óf reggeruk moet word. Die staat moenie langer ‘n bron van rykdom vir die swart elite of enige ander elite wees nie.
  11. Suid-Afrika se Westerse identeit, waaronder veral sy Afrikanererfenis, moet in alle opsigte herstel word. Daar moet weer operas in die Staatsteater gehou word. Die ANC se kommunistiese temaparke, Mandela-standbeelde en dergelike meer moet afgebreek word en Engeland toe gestuur word of op die ashoop verbrand word. Vergeet van “Afrika-wetenskap”, “Afrika-filosofie”, ens.; dit kan alles ten noorde van die Limpopo beoefen word.

Alhoewel dié voorstelle bloot die spieëlbeeld van die huidige ideologie verteenwoordig, kan ons sien dat hulle tans buite die ekstreem-linkse Overton-venster val. Enige sprake van ‘n terugkeer tot Afrikaans, asook Afrikaner- of Westerse norme, sal met ‘n koor van verontwaardiging, hoon en selfs haat begroet word.

Vele mense, wat die huidige radikale beleid van die ANC as “normaal” ervaar, sal meen dat dié gedagtes “te radikaal” is en dat “die koeël deur die kerk is”, sodat die land nooit meer sal kan terugkeer na sy verlore Afrikaner- en Westerse identiteit nie.

Dog een radikalisme roep ‘n ander op. Vuur moet met vuur beveg word. Al lyk dit tans na wensdenkery om bloot van ‘n beter toekoms te droom, kan ‘n mens nie vorder as jy nie weet waarheen jy op pad is nie.

Hoe dit verwesenlik kan word, is ‘n ander saak. Ek troos my egter daaraan dat ‘n mens wel die middele en die metodes sal vind om by jou doelwit uit te kom, solank jy maar oor ‘n doelwit beskik! Tans strompel ons doelloos rond en word volkome deur vyandelike denke beheer.

Op sigself was die ANC en die SAKP nog nooit ‘n magtige organisasie nie. Was dit nie vir die Skandinawiese lande, die ou Oos-Duitsland en Sowjetunie, asook Afrikanerverraad nie, sou hy nooit die land in 1994 kon verower het nie.

Indien die Verenigde State van Amerika of sy president in die persoon van mnr. Donald Trump sou besluit dat die ANC afgesit sou moes word, sou die huidige bewind nie ‘n week staande bly nie. Saddam Hoesein, Moeammar Ghaddafi en vele ander het ook rekordgetalle stemme ontvang, maar dit het Amerika nie gekeer om korte mette van hulle te maak nie.

Een manier om ‘n einde aan die ANC-bewind te maak, sou dus wees om die Amerikaanse openbare mening teen hom te laat draai, iets wat in ‘n mate reeds aan die gebeur is.

Maar dis sekerlik nie die enigste nie.

Ons moet besef dat die radikale partye en bewegings in dié land ons ondergang en selfs ons dood soek; ons kan nie anders as om ons eie denke aan te pas om meer doeltreffend weerstand te kan bied nie.

Dan Roodt: Ja, Koos, die (konformistiese) Afrikaner se denke is bankrot

Onlangs het Koos Kombuis ‘n rubriek gepubliseer met die titel Is ons denke werklik so bankrot? Ek wil graag daarop antwoord, nie net omdat hy verkeerdelik na my en Steve Hofmeyr as “wit nasionaliste” verwys nie, maar ook omdat ek sy aanvoeling dat “ons denke” bankrot is, wil beaam. Hoeveel onse in jou pond Koos? kan mens tereg vra. Vir seker sluit ek nie myself en die res van die PRAAG-rubriekskrywers en nog minder vir Steve Hofmeyr by dié “onse” met bankrotdenke in nie.

Ten eerste wil ek vir Koos Kombuis reghelp met sy ontnugtering. Hy skryf:

Dit lyk asof al die kulturele bastions wat ons probeer bou het om die chaos buite te hou, vanaf die eng denke van die N.P. tot die droom van ’n eenheid bo alle rasgrense heen, meteens ’n dilemma ervaar wat vergelykbaar is met die Springbokke ná hul rampspoedige wedstryd teen Japan verlede maand.

Morele, strukturele en selfs geestelike bankrotskap.

Die droom van ’n “reënboognasie” is vervang deur die retoriek van die revolusie. Apartheid is terug in nuwe gedaantes.

In kort: hoe verder die spekter van wit nasionalisme verdwyn in die verlede in, hoe harder word die tromgeslag gehoor van ’n nuwe gedagtestroom: swart nasionalisme.

Natuurlik moet alle regdenkende Suid-Afrikaners enige vorm van nasionalisme verwerp.

Onmiddellik wil ek vra: Moet “alle regdenkende Suid-Afrikaners” insgelyks Engelse en Suid-Afrikaanse nasionalisme – wat deesdae een en dieselfde ding is – verwerp? Want die ekstreemlinkse Engelse (en Jode) is ooglopend triomfantelik en nasionalisties oor hul “oorwinning” oor Afrikaners. Die stryd om beheer oor swart opvoeding en media wat al sedert die koms van die Britse sendelinge woed, is oënskynlik deur hulle gewen. Dis waaroor die sogenaamde “opstand teen Afrikaans” in 1976, wat deur die Anglikaanse Kerk, asook The Star en The Rand Daily Mail, georganiseer en georkestreer is, óók gegaan het.

In die roes van hul nuutgevonde oorheersing binne ons demokratuur – ‘n mengsel van demokrasie en diktatuur – stook hulle gedurig die revolusie. Die “transformasie” van Suid-Afrika wat hulle verlang, word in al hoe radikaler terme geskilder. Kennelik verteenwoordig die radikalisering van die demokratuur – nou met minder demokrasie en meer diktatuur – vir Koos en baie ander wat in die skadu van die Helderberg op Stellenbosch grootgeword het, ‘n verrassing. Diegene van ons wat in Johannesburg opgegroei en die radikale, Engelse beweging by Wits en elders van naderby leer ken het, is eerder verras dat Suid-Afrika nie reeds veel nader aan sy Zimbabwaanse (om nou die pragtige Nederlandse adjektief te gebruik) eindpunt gekom het nie.

Koos verwys na “die eng denke van die N.P.”, maar is dit nie presies waarmee hy besig is nie? Beleef ons nie nou juis wat die N.P. in sy terminale fase vir ons wou bewerkstellig nie? Immers is Roelf Meyer, F.W. de Klerk, Leon Wessels, Renier Schoeman en die res van die N.P. tot die Engelse neomarxisme van ‘n multikulturele demokratuur bekeer! Die drie wesentlike elemente van Marx, Engels en Lenin se politieke denke is die volgende:

  • die nastreef van ‘n maatskaplike omwenteling of revolusie;
  • wat gelei word deur die “voorhoede van die werkersklas” en;
  • wat ná die staatsgreep ‘n “diktatuur van die proletariaat” sal vestig.

Al drie hierdie elemente is reeds in Suid-Afrika verwesenlik. Die ekstreemlinkse Engelse en Jode was die “voorhoede” wat met ‘n kombinasie van stedelike terreur en propaganda vir ons die revolusie gebring het. Die diktatuur van die proletariaat of die massa is ook reeds gevestig. Vandeesweek het ons by Wits gesien hoe selfs dié eertydse sitadel van marxistiese Boerehaat en “progressiewe denke” die knie moes buig voor ‘n skare wat die administrasiegebou, Senate House, beset het. Die “voorhoede” en die massa baklei tans oor die mag, hoewel die “voorhoede” bly in beheer van dít wat die Franse marxis, Louis Althusser, die “repressiewe staatsapparaat” genoem het: die weermag, die polisie en ander veiligheidsdienste. By enige marxistiese revolusie is die massa of die voorhoede bloot die instrument wat die voorhoede se finale oorheersing en magsgreep moet bewerkstellig.

Waarom is die Broederbond, die N.P., die N.G. Kerk en elke ander belangrike instelling so maklik tot die revolusie bekeer? Juis vanweë die bankrotskap van hul denke! Terugskouend het F.W. de Klerk en die res van die N.P. aan Joe Slovo, Ronnie Kasrils, Ben Turok en hul figurant Nelson Mandela oorgegee omdat hulle nie werklik verstaan het met wie en waarmee hulle te doene gehad het nie! De Klerk en sy broer Wimpie was produkte van die PUK waar dans tot redelik onlangs verbode was en die werke van Marx en Engels, asook die geskrifte van Harold Wolpe, Joe Slovo, Ruth First en ander, seker dieper in die doofpot gesteek is as Wimpie se seksuele skandes by die meisieskoshuis waar hy eens koshuisvader was. Praat van wolf skaapwagter maak!

Elke dag as ek die Afrikaanse koerante of hul aanlynoorblyfsels lees, kom ek onder die indruk van die volslae naïwiteit van ons mense, hul gebrekkige begrip van internasionale politiek, maar veral die enorme leemte in hul opvoeding as dit kom by die Europese denktradisie wat steeds in ‘n hoë mate die gang van globale politiek bepaal. In Frankryk, Nederland, Swede, Duitsland en ander lande heers daar tans ‘n intense debat oor kultuurkonflik wat deur die sg. “migrante” verhewig word. Europa ontdek nou die problematiek waarmee Verwoerd en sy tydgenote destyds geworstel het, dié van ‘n multiëtniese samelewing met diepgewortelde kultuurverskille. Pleks daarvan dat Afrikaanse skrywers, intellektuele en politici egter op gelyke voet hieraan deelneem, is hulle tjoepstil. Hulle probeer Slovo en Mandela se revolusie ter wille wees! Oor die enkele interessante idees en politieke insigte wat ons mense oor die jare ontwikkel het, het hulle geheueverlies, of verkies om glad nie daarvan kennis te neem nie omdat dit teenstrydig met die heersende Slovoïsme sou wees.

Mandela was nooit opreg in enigiets wat hy gesê het nie. Sy sogenaamde “versoenende uitsprake” is gemaak in ‘n tyd toe die ANC-SAKP nog nie volkome beheer oor die weermag en polisie gehad het nie. Hy was ‘n kulkunstenaar wat die revolusionêre broodnodig gehad het om hul staatsgreep te verstewig. Die paragraaf van Mandela wat Koos aanhaal, is in elk geval al tot vervelens toe aan ons deur die hoofstroommedia opgedring en dit is sinneloos. Geen grondwet op aarde kan die oorheersing van ‘n etniese minderheid verhoed nie, tensy dit dalk in Kanada is. Maar in alle veeltalige Westerse lande soos Kanada, België of Spanje waar daar min of meer billik met die regte van verskillende taal- of etniese groepe omgegaan word, geskied dit vanweë die dreigement van selfbeskikking en onafhanklikwording van die minderheidsgroep. Dis ‘n hele debat op sigself en ek laat dit daar.

Terug na “ons” intellektuele bankrotskap, waarvan ek myself en ‘n klein groepie andersdenkende Afrikaners uitsluit. Ons is nie deur die wierook van die demokratuur om die bos gelei nie. Die SAKP en sy “voorhoede” van “progressiewe denkers” en hatige revolusionêre verdrukkers was nie aan ons onbekend nie. Trouens, my eie vader het op dieselfde tydstip as Yossel (Joe) Slovo aan Wits gestudeer in ‘n tyd toe een derde van die studente op dié Engelse kampus Afrikaners was en daar reeds ‘n felle politieke stryd in aanloop tot die 1948-verkiesing gevoer is. Ons het as’t ware saam met die revolusionêre “voorhoede” grootgeword. Al was ons by tye hoe liberaal of hoe afvallig van die hoofstroom- Afrikanerkultuur, sou ons nooit die fout gemaak het om soos die N.P. ons vertroue in die revolusie te plaas nie. My liewe hemel, het die Afrikaner in 1994 dan niks geweet nie? Het hy nie Solsjinitsin gelees, of selfs Arthur Koestler of Albert Camus oor die “Rooi Kerk” nie? Die Franse intellektuele wat in die sewentigerjare verdoemende kritiek op marxisme en kommunisme gelewer het, het in die laat sewentigerjare selfs die voorblad van die Amerikaanse tydskrif Time gehaal. Het “ons” – Koos Kombuis se “ons” – nie daarvan kennis geneem nie?

Interessant genoeg laat weet Leon Lemmer vir my per e-pos nie te lank gelede nie dat hy reeds in 1980 op ons destyds aweregse tydskriffie Taaldoos – waarin Koos Kombuis destyds ook gepubliseer het – ingeteken was. Vandag hier op Praag herinner Lemmer ons aan ‘n brokkie deur Jaap Steyn dat Verwoerd in 1941 die voorstel gemaak het dat Afrikaans die enigste amptelike taal van Suid-Afrika moes wees. Vandag is Engels die enigste amptelike taal. Maar die feit dat ‘n klein groepie van ons al dekades lank en ondanks die revolusie wat die land – en die wêreld, as ons dink aan die skipbreuk van Oos-Europese kommunisme – intussen deurgemaak het, steeds konsekwent pro-Afrikaans en anti-kommunisties in ons denke gebly het, verskaf darem ‘n sprankie hoop dat nie almal se denke “bankrot” is nie.

Daar is net een stukkie waarheid in Koos Kombuis se kommentaar en dit is dat swart nasionalisme in Suid-Afrika ‘n “pseudo-beweging” is. Net soos elke bankrot Afrikaland deur ‘n groter moondheid of “donateur” (deesdae veral China) gemanipuleer word, só staan daar agter elke “swart nasionalis” ‘n blanke marxis of organiseerder of geldskieter. Waarskynlik het Malema nog nooit ‘n sent van enige van sy ondersteuners in die lokasie (“kasi” is seker die meer polities korrekte spelling, soos die SABC dit gebruik) ontvang nie. ‘n Beweging soos die EFF ontstaan nie uit die niet of “spontaan” nie. Politiek kos geld, baie geld. Sekere elemente van die “voorhoede” beskou dit egter as in hulle belang om ‘n figuur soos Malema te befonds, aan te praat, publisiteit te gee en van allerlei logistieke steun te voorsien.

Koos Kombuis het ook nie gelyk as hy meen dat ek en Steve Hofmeyr “wit nasionliste” is nie. Ek kan nie vir Steve praat nie, maar nêrens het hy nog ooit ‘n oproep gedoen dat “die witmense van Suid-Afrika” teen ander rasse moet saamstaan, op die manier waarop sommige Amerikaners dit doen nie.

Afgesien van die rol van marxistiese ideologie, verskaf taal die sleutel om Suid-Afrika te verstaan. Koos Kombuis ly aan die Stockholmsindroom as hy dink dat Steve Hofmeyr vir Blade Nzimande of Panyaza Lesufi sou “uitlok” om teen Afrikaners en Afrikaans op te tree. Het ons ooit die Engelse in die negentiende eeu uitgelok? Nietemin het die Britse koloniale owerheid alles in sy vermoë gedoen om ons taal te onderdruk en kort ná 1902 is dit deur Milner voortgesit.

Die probleem is dat Afrikaans en Afrikaners in die weg van die revolusie staan. Dit is deel van die doktrine van die SAKP wat reeds in die 1950’s aangeneem is dat Engels die enigste landstaal moet wees en dat die totale bevolking geassimileer moet word in een Engelstalige proletariaat wat deur die Party en die voorhoede gelei sal word. Die Katalaanse akademikus en politikus Alfred Bosch het ‘n skerpsinnige opstel oor die “ANC se konsep van nasie” geskryf en bevind dat Joe Slovo die kern daarvan verwoord het toe hy gesê het:

“Suid Afrika is nie ‘n veelrassige land nie: dis ‘n nasie-in-wording… Ons weet baie goed wat ‘veelvolkery’ beteken. Dis ‘n uitgeslape manier om nasionale heerskappy te behou… Ons kan geen uitgebreide of berekende voorstelle aanvaar wat ‘n ‘veelvolkige’ raamwerk in stand hou en wat ‘n verbrokkelde nasionale identiteit en daarmee saam wit rassisme, beskerm nie” (M. Van Diepen, 1988, p. 148).

In sy liedjie oor Koos de la Rey, geskryf deur Sean Else, het Bok van Blerk gesing:

Want my vrou en my kind
lê in ‘n kamp en vergaan,
en die Kakies se murg loop oor
‘n nasie wat weer op sal staan.

Om dit na die hede te transponeer, kon hy net sowel gesing het:

Want my vrou en my kind
lê tuis in angs en vergaan,
en die kommunis se murg loop oor
‘n nasie wat weer op sal staan.

Nie net die kommunistiese revolusionêr nie, maar ook sy handlanger, die grootkapitalis wat in radikalisme en revolusie ‘n manier sien om deur korrupsie en die koop van mag en invloed sy rykdom te vergroot, is ons vyand. Alles wat die Afrikaner geskep en ontwikkel het, soos Eskom, Telkom, Sasol, Transnet, die poskantoor, die munisipaliteite, om nie van die boere se grond te vergeet nie, sal nog op ‘n groot bankrotveiling verkoop word. Grootkapitaliste lek reeds hul lippe daarvoor af.
Daarom lei die Afrikaner se bankrotdenke onvermydelik tot sy finansiële en maatskaplike bankrotskap.

Onlangs lees ek in Rapport oor die huidige “studenteopstand” by Wits wat binne die verband van Suid-Afrika se “klassestryd” deur ene Claudi Malovich ontleed word (“Die anatomie van studenteprotes: Wat die Wits-protes oor ons samelewing sê”). Dis byna lagwekkend! Die spook van Karl Marx en sy volgelinge preek nou vir ons vanuit die “konserwatiewe” N.P. se eertydse koerant en Sondagmondstuk.

Plus ça change, plus ça reste la même chose, soos die Franse sê. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde. Ek verstout my om te sê dat dieselfde groepering of dampkring wat vir die Anglo-Boereoorlog verantwoordelik was – ‘n paar grootkapitaliste in Londen en Johannesburg, asook Kaapse politici – vandag steeds poog om Afrikaans en, soos Joseph Chamberlain dit gestel het, “die laaste oorblyfsels van Afrikanerisme in Suid-Afrika uit te roei”.

Internasionaal heers daar ‘n bedreiging vir alle blankes en ons sou dom wees om dit heeltemal te ignoreer. Maar in Suid-Afrika moet ons veral nie wit nasionaliste wees nie, want dit sal ons verhoed om “die mag agter die troon” raak te sien. Die swartman as sodanig is nie ons vyand nie; sedert die Voortrekkers se dae werk ons met bepaalde swart stamme saam, sluit ooreenkomste met hulle en verskaf bepaalde dienste en ontwikkelingshulp aan hulle in ruil vir hul goedgesindheid en neutraliteit in die groter stryd om beheer oor Suid-Afrika wat al 200 jaar of langer woed.

Nie net is die Afrikaner tans te swak om enige voordeel vir ‘n ander groep te hê nie, maar FW en Roelf Meyer het ook ons laaste oorblywende swart bondgenote in die vroeë negentigerjare in die rug gesteek. Geen selfrespekterende swart leier sal ooit weer ‘n Afrikaner vertrou nie, danksy die optrede van sogenaamde “Afrikanerleiers” in die onlangse verlede.

Wat Koos Kombuis uiteindelik bepleit, is ‘n Fukuyama-agtige “einde van die geskiedenis”. Hy hoop dat die geskiedenis in 1994 geëindig het en dat ons vyande almal soos mis voor die son verdwyn het. Daarom bestaan daar nou die moontlikheid van ewigdurende samesyn in ‘n “nie-rassige utopie”. Suid-Afrika is egter tans meer rasbewus as ooit onder sogenaamde “apartheid”.

Die hoofkarakter in James Joyce roman Ulysses sê ook iewers aan die begin, verwysende na Ierland: “Die geskiedenis is ‘n nagmerrie waaruit ek graag sou wou ontwaak.” Oral waar Engelse bedrywig was, het hulle sulke “nagmerries” geskep.

Ongelukkig vir Koos Kombuis en baie ander Afrikaners wat gedink het dat die geskiedenis of die stryd nou tot stilstand gekom het, of dat die nagmerrie daarvan “opgehou” het, is so iets onmoontlik. Paul Kruger het die ontdekking van goud in die Transvaal as ‘n vloek beskou, want hy het besef dat dit afguns en konflik sou veroorsaak.

Net so het Afrikanerregering in die twintigste eeu rykdom en welvaart geskep, wat verdere afguns en gierigheid veroorsaak het. Slegs wanneer die laaste Afrikanerbate ingepalm is, sal die konflik ophou, indien ooit. Want solank as wat ons oor die vermoë beskik om steeds die Afrikaanse taal en kultuur te bedryf, tesame met voortreflike skole en kampusse, sal daardie jaloesie oor ons aangewakker raak, al oorhandig ons elke ander ding wat ons besit, elke huis, plaas of voertuig. Selfs al gaan die hele Suid-Afrika tot niet en poog ons agterna om dit weer te herbou, sal dit vyandskap en nydigheid ontlok; lees maar Joseph Conrad se grootste roman, Nostromo, oor ‘n fiktiewe Suid-Amerikaanse kolonie waar ‘n Britse erfgenaam probeer om ‘n silwermyn weer aan die gang te kry.

Ongelukkig is ons in ‘n alles-of-niks-stryd vasgevang. Óf ons gaan heeltemal ten gronde, óf ons doen iets daaraan en begin opstaan soos ons voorouers soveel male vantevore gedoen het.

Steve Hofmeyr het nog nooit “alle swartmense voor die voet af(ge)maak as minderwaardige halfmense” nie. Net so is dit wensdenkery om te dink dat die Afrikaner se legio vyande, noudat hulle die hef in die hand het, gaan ophou om ons te kasty. Inteendeel, “ons” onkunde en apatie maak die roofdierinstink in hulle wakker en lei tot die tipe magswanbalans en oorheersing wat die Suid-Afrikaanse demokratuur tans kenmerk.

Anders as in jou Stockholmsindroomlogika, Koos, is dit nie Steve wat die toenemende revolusionêre klimaat aanhits nie, maar jy en ander wat nie die werklikheid van ons geskiedenis en die land se etniese en talige dinamiek in die oë wil kyk nie. Een of ander tyd word elke lekkergeloof of drogredenasie egter aan die toets van die werklikheid onderwerp. Die pessimistiese toon van jou rubriek sê reeds vir my dat die “reënboogteorie”, wat ‘n tydelike foefie van die vyand was – terwyl hy besig was om die weermagmagasyne en die polisiestasies oor te neem – aan skerwe lê.

Rooi Antjie Krog sê blankes ‘moet toilette in lokasies gaan skrop’

Die digteres Antjie Krog, wat in Engels skryf al is haar Engels baie vrot, het Saterdagaand in ‘n tirade teen Suid-Afrikaanse blankes uitgebars toe sy die Sunday Times-prys vir Engelse poësie ontvang het. Soos ‘n wafferse Rosa Luxemburg, die beroemde Duits-Joodse vrouekommunis van ‘n eeu gelede, het Krog voorgestel dat “blankes toilette in die lokasies moet gaan skrop, geboue moet oppas, onderwys gee en vraestelle merk”, alles sonder betaling as straf vir “apartheid en kolonialisme”.

Sy meen verder dat alle middelklaswoonbuurte vrylik deur plakkers beset behoort te word om van Suid-Afrika ‘n “roereier” te maak en sodoende die gevolge van “apartheid en kolonialisme” ongedaan te maak. “Bevryding bly onvoltooid as die apartheids- en koloniale stad nie geherorganiseer word nie…” het Krog gesê.

Vir ‘n tydperk van twee jaar moet eiendomswette opgeskort word sodat plakkers vrylik plase, voorstede en selfs parke kan beset  en oor die ruimtes met eienaars kan “onderhandel”. Dit sal Krog se droom van ‘n “roereier”-Suid-Afrika bespoedig. Die twee jaar van revolusie wat aan Pol Pot se Kambodja of Mao se “kulturele revolusie” in Rooi China herinner, noem Krog die “Tydvak van Radikale Heropbou”. Tydens “Radikale Heropbou” moet “alle energie, hulpbronne, asook elke Suid-Afrikaner, gebruik word om massiewe strukturele verandering te bewerkstellig”. In die praktyk sou dit beteken dat inwoners op die klassieke kommunistiese manier van die twintigste eeu as “slawe van die revolusie” gratis dienste aan die staat en sy revolusionêre leierskap moet lewer.

Volgens Krog het blankes “drie eeue lank skade aan die land aangerig” waarvoor “niks ooit sal vergoed nie”. Sy meen dat dit nou “die tyd vir woede is” en dat swartes rede het om blankes te wil doodmaak. Daar moet meer begrip wees vir waarom swartes blankes doodmaak, verklaar sy. “Ek respekteer woede,” sê Krog. “Woede is dikwels waar belangrike verandering begin. Nie die woede van blinde vernietiging nie, maar die woede wat helderheid van rigting en deurdagte doelwitte bring. As iemand kwaad is en sê: ‘Ons moet die blankes doodmaak sodat…’ dan is dit tyd vir reële reaksies, soos: ‘hoe? of op grond van watter beginsel? of belangriker: en wat dan?’.”

Studente wat afstudeer of mense wat afgetree is, moet ook gratis “in hul geboortedorp of -stad gaan werk om tekorte of agterstande in die howe, hospitale, skole, administratiewe kantore, korrupsie-ondersoeke, kindersorg werk… Sonder salaris. Die dorp sal kos en slaapplek verskaf.”

In kommentaar op sosiale media, het dr. Dan Roodt van PRAAG gesê:

Dit wys jou net hoe die mees idiotiese verloopte Afrikaners deur “die media” tot openbare figure opgebou word, net om agterna in dié kwasi-kommunistiese retoriek te verval.

Weet sy ooit wat sy sê? Sy het nie ‘n benul van ekonomie, politiek, filosofie of enige ander ingewikkelde onderwerp nie. Sy skryf rympies oor “wit Afrikanermans met boepense” waaroor die linkse Engelse (en Beeld) gaande is.

Sy behoort ‘n voorbeeld te stel en al haar besittings en sommer die kopiereg op haar derderangse “digkuns” op te skort sodat die werkersklas dit gratis kan lees.

Kom nou, Antjie, wys vir ons hoe Rooi jy regtig is!

Die Rosa Luxemburg van Kroonstad.