Dan Roodt: Ja, Koos, die (konformistiese) Afrikaner se denke is bankrot

Onlangs het Koos Kombuis ‘n rubriek gepubliseer met die titel Is ons denke werklik so bankrot? Ek wil graag daarop antwoord, nie net omdat hy verkeerdelik na my en Steve Hofmeyr as “wit nasionaliste” verwys nie, maar ook omdat ek sy aanvoeling dat “ons denke” bankrot is, wil beaam. Hoeveel onse in jou pond Koos? kan mens tereg vra. Vir seker sluit ek nie myself en die res van die PRAAG-rubriekskrywers en nog minder vir Steve Hofmeyr by dié “onse” met bankrotdenke in nie.

Ten eerste wil ek vir Koos Kombuis reghelp met sy ontnugtering. Hy skryf:

Dit lyk asof al die kulturele bastions wat ons probeer bou het om die chaos buite te hou, vanaf die eng denke van die N.P. tot die droom van ’n eenheid bo alle rasgrense heen, meteens ’n dilemma ervaar wat vergelykbaar is met die Springbokke ná hul rampspoedige wedstryd teen Japan verlede maand.

Morele, strukturele en selfs geestelike bankrotskap.

Die droom van ’n “reënboognasie” is vervang deur die retoriek van die revolusie. Apartheid is terug in nuwe gedaantes.

In kort: hoe verder die spekter van wit nasionalisme verdwyn in die verlede in, hoe harder word die tromgeslag gehoor van ’n nuwe gedagtestroom: swart nasionalisme.

Natuurlik moet alle regdenkende Suid-Afrikaners enige vorm van nasionalisme verwerp.

Onmiddellik wil ek vra: Moet “alle regdenkende Suid-Afrikaners” insgelyks Engelse en Suid-Afrikaanse nasionalisme – wat deesdae een en dieselfde ding is – verwerp? Want die ekstreemlinkse Engelse (en Jode) is ooglopend triomfantelik en nasionalisties oor hul “oorwinning” oor Afrikaners. Die stryd om beheer oor swart opvoeding en media wat al sedert die koms van die Britse sendelinge woed, is oënskynlik deur hulle gewen. Dis waaroor die sogenaamde “opstand teen Afrikaans” in 1976, wat deur die Anglikaanse Kerk, asook The Star en The Rand Daily Mail, georganiseer en georkestreer is, óók gegaan het.

In die roes van hul nuutgevonde oorheersing binne ons demokratuur – ‘n mengsel van demokrasie en diktatuur – stook hulle gedurig die revolusie. Die “transformasie” van Suid-Afrika wat hulle verlang, word in al hoe radikaler terme geskilder. Kennelik verteenwoordig die radikalisering van die demokratuur – nou met minder demokrasie en meer diktatuur – vir Koos en baie ander wat in die skadu van die Helderberg op Stellenbosch grootgeword het, ‘n verrassing. Diegene van ons wat in Johannesburg opgegroei en die radikale, Engelse beweging by Wits en elders van naderby leer ken het, is eerder verras dat Suid-Afrika nie reeds veel nader aan sy Zimbabwaanse (om nou die pragtige Nederlandse adjektief te gebruik) eindpunt gekom het nie.

Koos verwys na “die eng denke van die N.P.”, maar is dit nie presies waarmee hy besig is nie? Beleef ons nie nou juis wat die N.P. in sy terminale fase vir ons wou bewerkstellig nie? Immers is Roelf Meyer, F.W. de Klerk, Leon Wessels, Renier Schoeman en die res van die N.P. tot die Engelse neomarxisme van ‘n multikulturele demokratuur bekeer! Die drie wesentlike elemente van Marx, Engels en Lenin se politieke denke is die volgende:

  • die nastreef van ‘n maatskaplike omwenteling of revolusie;
  • wat gelei word deur die “voorhoede van die werkersklas” en;
  • wat ná die staatsgreep ‘n “diktatuur van die proletariaat” sal vestig.

Al drie hierdie elemente is reeds in Suid-Afrika verwesenlik. Die ekstreemlinkse Engelse en Jode was die “voorhoede” wat met ‘n kombinasie van stedelike terreur en propaganda vir ons die revolusie gebring het. Die diktatuur van die proletariaat of die massa is ook reeds gevestig. Vandeesweek het ons by Wits gesien hoe selfs dié eertydse sitadel van marxistiese Boerehaat en “progressiewe denke” die knie moes buig voor ‘n skare wat die administrasiegebou, Senate House, beset het. Die “voorhoede” en die massa baklei tans oor die mag, hoewel die “voorhoede” bly in beheer van dít wat die Franse marxis, Louis Althusser, die “repressiewe staatsapparaat” genoem het: die weermag, die polisie en ander veiligheidsdienste. By enige marxistiese revolusie is die massa of die voorhoede bloot die instrument wat die voorhoede se finale oorheersing en magsgreep moet bewerkstellig.

Waarom is die Broederbond, die N.P., die N.G. Kerk en elke ander belangrike instelling so maklik tot die revolusie bekeer? Juis vanweë die bankrotskap van hul denke! Terugskouend het F.W. de Klerk en die res van die N.P. aan Joe Slovo, Ronnie Kasrils, Ben Turok en hul figurant Nelson Mandela oorgegee omdat hulle nie werklik verstaan het met wie en waarmee hulle te doene gehad het nie! De Klerk en sy broer Wimpie was produkte van die PUK waar dans tot redelik onlangs verbode was en die werke van Marx en Engels, asook die geskrifte van Harold Wolpe, Joe Slovo, Ruth First en ander, seker dieper in die doofpot gesteek is as Wimpie se seksuele skandes by die meisieskoshuis waar hy eens koshuisvader was. Praat van wolf skaapwagter maak!

Elke dag as ek die Afrikaanse koerante of hul aanlynoorblyfsels lees, kom ek onder die indruk van die volslae naïwiteit van ons mense, hul gebrekkige begrip van internasionale politiek, maar veral die enorme leemte in hul opvoeding as dit kom by die Europese denktradisie wat steeds in ‘n hoë mate die gang van globale politiek bepaal. In Frankryk, Nederland, Swede, Duitsland en ander lande heers daar tans ‘n intense debat oor kultuurkonflik wat deur die sg. “migrante” verhewig word. Europa ontdek nou die problematiek waarmee Verwoerd en sy tydgenote destyds geworstel het, dié van ‘n multiëtniese samelewing met diepgewortelde kultuurverskille. Pleks daarvan dat Afrikaanse skrywers, intellektuele en politici egter op gelyke voet hieraan deelneem, is hulle tjoepstil. Hulle probeer Slovo en Mandela se revolusie ter wille wees! Oor die enkele interessante idees en politieke insigte wat ons mense oor die jare ontwikkel het, het hulle geheueverlies, of verkies om glad nie daarvan kennis te neem nie omdat dit teenstrydig met die heersende Slovoïsme sou wees.

Mandela was nooit opreg in enigiets wat hy gesê het nie. Sy sogenaamde “versoenende uitsprake” is gemaak in ‘n tyd toe die ANC-SAKP nog nie volkome beheer oor die weermag en polisie gehad het nie. Hy was ‘n kulkunstenaar wat die revolusionêre broodnodig gehad het om hul staatsgreep te verstewig. Die paragraaf van Mandela wat Koos aanhaal, is in elk geval al tot vervelens toe aan ons deur die hoofstroommedia opgedring en dit is sinneloos. Geen grondwet op aarde kan die oorheersing van ‘n etniese minderheid verhoed nie, tensy dit dalk in Kanada is. Maar in alle veeltalige Westerse lande soos Kanada, België of Spanje waar daar min of meer billik met die regte van verskillende taal- of etniese groepe omgegaan word, geskied dit vanweë die dreigement van selfbeskikking en onafhanklikwording van die minderheidsgroep. Dis ‘n hele debat op sigself en ek laat dit daar.

Terug na “ons” intellektuele bankrotskap, waarvan ek myself en ‘n klein groepie andersdenkende Afrikaners uitsluit. Ons is nie deur die wierook van die demokratuur om die bos gelei nie. Die SAKP en sy “voorhoede” van “progressiewe denkers” en hatige revolusionêre verdrukkers was nie aan ons onbekend nie. Trouens, my eie vader het op dieselfde tydstip as Yossel (Joe) Slovo aan Wits gestudeer in ‘n tyd toe een derde van die studente op dié Engelse kampus Afrikaners was en daar reeds ‘n felle politieke stryd in aanloop tot die 1948-verkiesing gevoer is. Ons het as’t ware saam met die revolusionêre “voorhoede” grootgeword. Al was ons by tye hoe liberaal of hoe afvallig van die hoofstroom- Afrikanerkultuur, sou ons nooit die fout gemaak het om soos die N.P. ons vertroue in die revolusie te plaas nie. My liewe hemel, het die Afrikaner in 1994 dan niks geweet nie? Het hy nie Solsjinitsin gelees, of selfs Arthur Koestler of Albert Camus oor die “Rooi Kerk” nie? Die Franse intellektuele wat in die sewentigerjare verdoemende kritiek op marxisme en kommunisme gelewer het, het in die laat sewentigerjare selfs die voorblad van die Amerikaanse tydskrif Time gehaal. Het “ons” – Koos Kombuis se “ons” – nie daarvan kennis geneem nie?

Interessant genoeg laat weet Leon Lemmer vir my per e-pos nie te lank gelede nie dat hy reeds in 1980 op ons destyds aweregse tydskriffie Taaldoos – waarin Koos Kombuis destyds ook gepubliseer het – ingeteken was. Vandag hier op Praag herinner Lemmer ons aan ‘n brokkie deur Jaap Steyn dat Verwoerd in 1941 die voorstel gemaak het dat Afrikaans die enigste amptelike taal van Suid-Afrika moes wees. Vandag is Engels die enigste amptelike taal. Maar die feit dat ‘n klein groepie van ons al dekades lank en ondanks die revolusie wat die land – en die wêreld, as ons dink aan die skipbreuk van Oos-Europese kommunisme – intussen deurgemaak het, steeds konsekwent pro-Afrikaans en anti-kommunisties in ons denke gebly het, verskaf darem ‘n sprankie hoop dat nie almal se denke “bankrot” is nie.

Daar is net een stukkie waarheid in Koos Kombuis se kommentaar en dit is dat swart nasionalisme in Suid-Afrika ‘n “pseudo-beweging” is. Net soos elke bankrot Afrikaland deur ‘n groter moondheid of “donateur” (deesdae veral China) gemanipuleer word, só staan daar agter elke “swart nasionalis” ‘n blanke marxis of organiseerder of geldskieter. Waarskynlik het Malema nog nooit ‘n sent van enige van sy ondersteuners in die lokasie (“kasi” is seker die meer polities korrekte spelling, soos die SABC dit gebruik) ontvang nie. ‘n Beweging soos die EFF ontstaan nie uit die niet of “spontaan” nie. Politiek kos geld, baie geld. Sekere elemente van die “voorhoede” beskou dit egter as in hulle belang om ‘n figuur soos Malema te befonds, aan te praat, publisiteit te gee en van allerlei logistieke steun te voorsien.

Koos Kombuis het ook nie gelyk as hy meen dat ek en Steve Hofmeyr “wit nasionliste” is nie. Ek kan nie vir Steve praat nie, maar nêrens het hy nog ooit ‘n oproep gedoen dat “die witmense van Suid-Afrika” teen ander rasse moet saamstaan, op die manier waarop sommige Amerikaners dit doen nie.

Afgesien van die rol van marxistiese ideologie, verskaf taal die sleutel om Suid-Afrika te verstaan. Koos Kombuis ly aan die Stockholmsindroom as hy dink dat Steve Hofmeyr vir Blade Nzimande of Panyaza Lesufi sou “uitlok” om teen Afrikaners en Afrikaans op te tree. Het ons ooit die Engelse in die negentiende eeu uitgelok? Nietemin het die Britse koloniale owerheid alles in sy vermoë gedoen om ons taal te onderdruk en kort ná 1902 is dit deur Milner voortgesit.

Die probleem is dat Afrikaans en Afrikaners in die weg van die revolusie staan. Dit is deel van die doktrine van die SAKP wat reeds in die 1950’s aangeneem is dat Engels die enigste landstaal moet wees en dat die totale bevolking geassimileer moet word in een Engelstalige proletariaat wat deur die Party en die voorhoede gelei sal word. Die Katalaanse akademikus en politikus Alfred Bosch het ‘n skerpsinnige opstel oor die “ANC se konsep van nasie” geskryf en bevind dat Joe Slovo die kern daarvan verwoord het toe hy gesê het:

“Suid Afrika is nie ‘n veelrassige land nie: dis ‘n nasie-in-wording… Ons weet baie goed wat ‘veelvolkery’ beteken. Dis ‘n uitgeslape manier om nasionale heerskappy te behou… Ons kan geen uitgebreide of berekende voorstelle aanvaar wat ‘n ‘veelvolkige’ raamwerk in stand hou en wat ‘n verbrokkelde nasionale identiteit en daarmee saam wit rassisme, beskerm nie” (M. Van Diepen, 1988, p. 148).

In sy liedjie oor Koos de la Rey, geskryf deur Sean Else, het Bok van Blerk gesing:

Want my vrou en my kind
lê in ‘n kamp en vergaan,
en die Kakies se murg loop oor
‘n nasie wat weer op sal staan.

Om dit na die hede te transponeer, kon hy net sowel gesing het:

Want my vrou en my kind
lê tuis in angs en vergaan,
en die kommunis se murg loop oor
‘n nasie wat weer op sal staan.

Nie net die kommunistiese revolusionêr nie, maar ook sy handlanger, die grootkapitalis wat in radikalisme en revolusie ‘n manier sien om deur korrupsie en die koop van mag en invloed sy rykdom te vergroot, is ons vyand. Alles wat die Afrikaner geskep en ontwikkel het, soos Eskom, Telkom, Sasol, Transnet, die poskantoor, die munisipaliteite, om nie van die boere se grond te vergeet nie, sal nog op ‘n groot bankrotveiling verkoop word. Grootkapitaliste lek reeds hul lippe daarvoor af.
Daarom lei die Afrikaner se bankrotdenke onvermydelik tot sy finansiële en maatskaplike bankrotskap.

Onlangs lees ek in Rapport oor die huidige “studenteopstand” by Wits wat binne die verband van Suid-Afrika se “klassestryd” deur ene Claudi Malovich ontleed word (“Die anatomie van studenteprotes: Wat die Wits-protes oor ons samelewing sê”). Dis byna lagwekkend! Die spook van Karl Marx en sy volgelinge preek nou vir ons vanuit die “konserwatiewe” N.P. se eertydse koerant en Sondagmondstuk.

Plus ça change, plus ça reste la même chose, soos die Franse sê. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde. Ek verstout my om te sê dat dieselfde groepering of dampkring wat vir die Anglo-Boereoorlog verantwoordelik was – ‘n paar grootkapitaliste in Londen en Johannesburg, asook Kaapse politici – vandag steeds poog om Afrikaans en, soos Joseph Chamberlain dit gestel het, “die laaste oorblyfsels van Afrikanerisme in Suid-Afrika uit te roei”.

Internasionaal heers daar ‘n bedreiging vir alle blankes en ons sou dom wees om dit heeltemal te ignoreer. Maar in Suid-Afrika moet ons veral nie wit nasionaliste wees nie, want dit sal ons verhoed om “die mag agter die troon” raak te sien. Die swartman as sodanig is nie ons vyand nie; sedert die Voortrekkers se dae werk ons met bepaalde swart stamme saam, sluit ooreenkomste met hulle en verskaf bepaalde dienste en ontwikkelingshulp aan hulle in ruil vir hul goedgesindheid en neutraliteit in die groter stryd om beheer oor Suid-Afrika wat al 200 jaar of langer woed.

Nie net is die Afrikaner tans te swak om enige voordeel vir ‘n ander groep te hê nie, maar FW en Roelf Meyer het ook ons laaste oorblywende swart bondgenote in die vroeë negentigerjare in die rug gesteek. Geen selfrespekterende swart leier sal ooit weer ‘n Afrikaner vertrou nie, danksy die optrede van sogenaamde “Afrikanerleiers” in die onlangse verlede.

Wat Koos Kombuis uiteindelik bepleit, is ‘n Fukuyama-agtige “einde van die geskiedenis”. Hy hoop dat die geskiedenis in 1994 geëindig het en dat ons vyande almal soos mis voor die son verdwyn het. Daarom bestaan daar nou die moontlikheid van ewigdurende samesyn in ‘n “nie-rassige utopie”. Suid-Afrika is egter tans meer rasbewus as ooit onder sogenaamde “apartheid”.

Die hoofkarakter in James Joyce roman Ulysses sê ook iewers aan die begin, verwysende na Ierland: “Die geskiedenis is ‘n nagmerrie waaruit ek graag sou wou ontwaak.” Oral waar Engelse bedrywig was, het hulle sulke “nagmerries” geskep.

Ongelukkig vir Koos Kombuis en baie ander Afrikaners wat gedink het dat die geskiedenis of die stryd nou tot stilstand gekom het, of dat die nagmerrie daarvan “opgehou” het, is so iets onmoontlik. Paul Kruger het die ontdekking van goud in die Transvaal as ‘n vloek beskou, want hy het besef dat dit afguns en konflik sou veroorsaak.

Net so het Afrikanerregering in die twintigste eeu rykdom en welvaart geskep, wat verdere afguns en gierigheid veroorsaak het. Slegs wanneer die laaste Afrikanerbate ingepalm is, sal die konflik ophou, indien ooit. Want solank as wat ons oor die vermoë beskik om steeds die Afrikaanse taal en kultuur te bedryf, tesame met voortreflike skole en kampusse, sal daardie jaloesie oor ons aangewakker raak, al oorhandig ons elke ander ding wat ons besit, elke huis, plaas of voertuig. Selfs al gaan die hele Suid-Afrika tot niet en poog ons agterna om dit weer te herbou, sal dit vyandskap en nydigheid ontlok; lees maar Joseph Conrad se grootste roman, Nostromo, oor ‘n fiktiewe Suid-Amerikaanse kolonie waar ‘n Britse erfgenaam probeer om ‘n silwermyn weer aan die gang te kry.

Ongelukkig is ons in ‘n alles-of-niks-stryd vasgevang. Óf ons gaan heeltemal ten gronde, óf ons doen iets daaraan en begin opstaan soos ons voorouers soveel male vantevore gedoen het.

Steve Hofmeyr het nog nooit “alle swartmense voor die voet af(ge)maak as minderwaardige halfmense” nie. Net so is dit wensdenkery om te dink dat die Afrikaner se legio vyande, noudat hulle die hef in die hand het, gaan ophou om ons te kasty. Inteendeel, “ons” onkunde en apatie maak die roofdierinstink in hulle wakker en lei tot die tipe magswanbalans en oorheersing wat die Suid-Afrikaanse demokratuur tans kenmerk.

Anders as in jou Stockholmsindroomlogika, Koos, is dit nie Steve wat die toenemende revolusionêre klimaat aanhits nie, maar jy en ander wat nie die werklikheid van ons geskiedenis en die land se etniese en talige dinamiek in die oë wil kyk nie. Een of ander tyd word elke lekkergeloof of drogredenasie egter aan die toets van die werklikheid onderwerp. Die pessimistiese toon van jou rubriek sê reeds vir my dat die “reënboogteorie”, wat ‘n tydelike foefie van die vyand was – terwyl hy besig was om die weermagmagasyne en die polisiestasies oor te neem – aan skerwe lê.

Nostalgie as ‘n turksvy vir verloopte Afrikaners (en Jacob Zuma)

‘Elke keer as ek ‘n rubriek van Wilhelm Jordaan, ‘n oud-joernalis en sielkunde-dosent, sien, wonder ek: Waarom voltooi hy nie eerder sy doktorale proefskrif nie?’ – Leon Lemmer

In Hennie Aucamp (1934-2014) se boek, Kommerkrale (Kaapstad: Tafelberg, 1983), vertel hy van ‘n droom wat telkens by hom opkom. Hy is “oud en verlate” en kom op ‘n winternag by sy ouers se plaas in die Stormberg aan. “Van die opstal het net ‘n murasie oorgebly. Ook hier is geen skuiling nie. Maar wanneer ek om die hoek van die bouval stap, sien ek dat een vertrek bly staan het, en dat daar ‘n lig in die kamer brand. Ma sit en wag voor die swart stofie met sy krom pote. Die tafel staan gedek, en by my ou sitplek is daar ‘n netjiese stapeltjie pos met buitelandse seëls. Ek gaan sit by Ma en streel haar hande soos ek dit nooit gedoen het toe sy nog gelewe het nie” (Aangehaal deur Abraham H de Vries, “Die kwessie van Hennie se kierie,” Rapport, Weekliks, 28 Desember, p 11).

Dit is vir my van die treffendste prosa wat Aucamp geskryf het. Hy gee uitdrukking aan sy intense heimwee na sy jeug en sorgsame moeder. Dit is positiewe, eerbiedwaardige verlange. In die nuwe Suid-Afrika moet blankes en veral Afrikaners telkens aanhoor dat hulle nie na die verlede mag verlang nie, al is dit duidelik dat die ou Suid-Afrika in talle opsigte beter was as wat die nuwe Suid-Afrika is. Verskillende benaderings tot nostalgie is moontlik. Koos Kombuis, Julian Müller en Wilhelm Jordaan het onlangs hieroor geskryf.

In die nuwe Suid-Afrika word die indruk gewek dat die kombuis na die sitkamer gekom het. Dít is kenmerkend van ‘n omgedopte land waarin ‘n waardetransformasie plaasgevind het. Byvoorbeeld, mense wat nooit op hoërskool was nie, doen deesdae, asof dit so hoort, kantoorwerk by lessenaars. In tradisionele huishoudings in Europa word dit algemeen aanvaar dat (wit) bediendes hulle eie eetgerei het en nie saam met die huisgenote eet of in die sitkamer sit en gesels nie. In die nuwe Suid-Afrika word ons wysgemaak dat sodanige leefwyse nie die blote erkenning van ekonomiese, kulturele of standverskille nie maar die uitdrukking van naakte rassisme is. Dat soort soort soek en verkies, was eeue lank ‘n evangeliese waarheid, maar word deesdae heftig in progressiewe kringe ontken.

Koos Kombuis het ook in ons voorkamers beland. Ek skryf na aanleiding van twee van sy jongste artikels. Julian Müller gebruik Kombuis se eerste artikel, “Wanneer ‘n volk skeur” (Beeld, 3 Desember; “Die nuwe Groot Trek – ‘n Bybelse verwarring,” Netwerk24) as aanleiding vir sy artikel, “Verlede gevaarlik verbeel” (Netwerk24, 5 deser). Kombuis het ‘n deel van die Afrikaners soos volg beskryf: “Hulle verlang terug na die eenvoudige wit-en-swart waardes van die ou Suid-Afrika op dieselfde manier as wat ek as kleuter soms terugverlang het na die simplistiese boodskap van die Kinderbybel.” Wat ons myns insiens gerus as die waarheid kan aanvaar, is dat ons geneig is om dinge skoner of eenvoudiger te bedink as wat hulle in werklikheid was of is. Uit die verlede onthou ons net sekere dinge, bv gebeure wat ons as goed of sleg beskou, en ons vestig ons hoop selektief op sekere kenmerke in die toekoms.

Kombuis se verwysing na politiek en religie pas Müller, ‘n afgetrede teoloog van die Universiteit Pretoria. Hy erken dat ons “verlang na soveel kosbaarhede wat skynbaar onherroeplik verlore is”. Wat religie betref, kan ons nostalgies wees oor die tyd toe ons soos kinders kon glo en aanvaar het dat die Kerk die waarheid verkondig. Sy algemene karakterisering van nostalgie is: “Dreaming the past and telling a future.”

Volgens Müller is nostalgie egter “nie die vertelling van die verlede nie. Eerder ‘n obsessie met die verlede. ‘n Verheerliking van ‘n era wat in elk geval nooit presies so bestaan het soos in die drome wat gedroom word nie.” Dit word hierbo deur die Aucamp-droom onderskryf. “Die verbeeldingshuis waarna gehunker word, word uiters selektief saamgestel.” Müller onderskei tussen restourerende/herstellende en reflekterende/oordinkte nostalgie. “Die eerste behels daardie onrealistiese geloof dat die verlede soos dit in ons verbeelding bly voortleef, weer net so in al sy glorie herstel kan word. Daarteenoor behels reflekterende nostalgie ‘n omhelsing van, maar ook ‘n kritiese omgang met herinneringe van die verlede.”

Müller is besig om ‘n strooipop op te stel. Met daardie “verheerliking van ‘n era” het hy klaarblyklik die apartheidsera in gedagte: “Die verlede bevat … skandes en skaamte.” In werklikheid is daar min Afrikaners wat apartheid “in al sy glorie” wil herstel. By nie-verloopte Afrikaners is daar sekere kenmerke van die verlede wat hulle graag sou wou terugbring. Byvoorbeeld om geborge in jou vaderland te voel, erkenning te ervaar vir wat jou voorgeslagte vermag het, volwaardige landsburgers te wees, selfbeskikkend hede en toekoms te bepaal, ongehinderd in en deur Afrikaans te lewe, ens. Om die goeie in die verlede uit te soek, verg onderskeidingsvermoë, dus daardie “kritiese omgang met herinneringe van die verlede” wat Müller bepleit. Hy val dus eintlik uit die minibus met hierdie stelling: “Wat ons vandag aan baie fronte sien en ervaar, is gevaarlike en sieklike nostalgie.”

Müller se onderrok hang al hoe meer onder sy toga uit wanneer hy voorts beweer:

“Soos wat ons selektief is oor politiek en landsomstandighede wanneer ons rondom ons braaivleisvure vertel van die goeie dinge van die ou Suid-Afrika, so is ons ook selektief oor die kerk van vroeër … Die gevolg van sulke nostalgie is dat ons weerstand bied teen vernuwende idees en dat die kerk vasgevang word in ou strukture en formulerings van geloof. Nuwe belydenisse, soos Belhar, word verwerp.”

‘n Geweeklaag oor die spraakvryheid van Afrikaners tydens vleisbraaiery is gewoonlik die uiting van frustrasie by verloopte Afrikaners. Kombuis verwys ook na braaivleisvure maar erken darem: “Die Beloofde Land is deesdae nogal ‘n moeilike plek om in te woon.” Myns insiens is dit Afrikaners se goeie reg om oor “die goeie dinge van die ou Suid-Afrika” te praat en krities oor “vernuwende idees” soos politieke korrektheid en die Belhar-belydenis te wees.

Om Müller se uitlatings in perspektief te plaas, is dit nodig dat ons let op sy geskiedenis. Ek het dit (nog) nie die moeite werd geag om sy jongste boek, Geloof anderkant Sondag (2014), te lees nie. Ek bepaal my aandag dus by sy vorige boek, Om te mag twyfel: ‘n gelowige se reis (Kaapstad: Tafelberg, 2011, 194p). Müller kom uit ‘n bloedsapfamilie, maar hy het tot in die Afrikaner Broederbond gevorder. Hy het christelike nasionalisme onderskryf, maar dink deesdae dat dit van hom ‘n rassis gemaak het (p 46). Polities het hy saam met die tyd beweeg en die nuwe Suid-Afrika verwelkom. Hy reken nou dat ons nie die verdedigende aksies van 1838 as Geloftedag moet vier nie (p 59). Met die Soweto-skoolopstand het hy deesdae groot simpatie (p 55-57) en hy opper geen beswaar daarteen dat hierdie destruktiewe gebeurtenis jaarliks herdenk word nie. Hy het die Waarheids- en Versoeningskommissie omarm (p 51) en onderskryf die Belhar-belydenis (p 63).

Müller is tans eerder ‘n nuwe Suid-Afrikaner as ‘n tradisionele of konserwatiewe Afrikaner. Hy formuleer sy verlooptheid soos volg: “Ek kon deur ‘n proses van losmaking gaan wat kerk en volk betref” (p 38). Dit is vir my altyd moeilik om te besluit in hoe ‘n mate so ‘n radikale frontverandering op oortuiging of opportunisme dui. Müller het eers kort voor sy aftrede as teologie-dosent openlik met sy skeptisisme oor die christelike religie vorendag gekom; dus toe dit nie meer sy salaris en pensioen nadelig kon beïnvloed nie. Om krities of skepties oor die verlede, hede en toekoms, of oor enige onderwerp, insluitende religie, te wees, is myns insiens nie verkeerd nie. Dit is ‘n beter opsie as fundamentalisme of dogmatisme. Maar ‘n mens moet nie dermate deur modestrome meegevoer word dat jy (net) die slegte in jou kultuurgenote (wittes, Afrikaners) raaksien maar by voorkeur (net) die goeie in die ander nie.

Soos by die bevrydingsteoloë noem Müller een van die moontlike karakteriserings van God “die Gemarginaliseerde”. Maar anders as wat sy onderskrywing van die Belhar-belydenis impliseer, skryf hy dat God nie vir sommige mense (bv die armes, verdruktes, benadeeldes) meer omgee as vir ander nie (p 162). Dalk het daar ‘n sprankie van die Afrikaner/Boer in Müller behoue gebly en kan hy simpatie vir die nuwe gemarginaliseerdes/benadeeldes, die blankes, opdiep, al is daar geen teken hiervan in sy artikel nie.

Koos Kombuis se ander skrywe, “Halwe waarhede van ‘n pampoenkenner” (Die Burger, 7 deser, p 13), is eintlik ‘n aanval op Steve Hofmeyr. In sy vorige artikel het Kombuis geskryf: “Dink hulle [Afrikaners] alles gaan regkom as hulle net op aandag staan, hul oë styf toeknyp en ‘Die Stem’ sing?” Kombuis wil hê dat ons die verlede presies soos hy moet onthou en die hede net soos hy moet sien. Hy wil dus ons nostalgie rig en daarmee saam ook ons siening van die hede en ons verwagtinge vir die toekoms. In hierdie konteks is selektiwiteit onvermydelik, maar daar sal verskille wees oor wat uitgekies word. Iemand soos Kombuis, wat nie ‘n Afrikaner wil wees nie en dink sy verhoogoptredes het gehelp om apartheid te vernietig, se aandag sal op ander dinge toegespits wees as dié wat vir nie-verloopte Afrikaners saak maak.

Kombuis begin met ‘n pleidooi vir gelykheid, dus die ontkenning van ‘n hiërargie by mense. Hy ontken “dat swart mense ‘n ‘agterstand’ het by wit mense.” In die koerant lui die onderskrif van Kombuis se artikel, dus die stelling wat Die Burger wil invryf, soos volg: “Die idee dat swart mense ‘n agterstand by wit mense het, is gevaarlik – nie omdat dit ‘n leuen is nie, maar omdat dit ‘n halwe waarheid is.”

Ons word vervolgens teruggeneem na die 17de eeu aan die Kaap, die tyd van Jan van Riebeeck. “Dis … moontlik dat die Khoi-San, toe hulle die eerste keer met die wit setlaars in aanraking gekom het, gewonder het hoekom laasgenoemde te dom was om ‘n pyl en boog te maak of spoor te sny. Dis moontlik dat hulle die wit mense om hierdie rede as agtergeblewenes gesien het. Want die wit mense het geen benul gehad van die dinge wat vir die Khoi-San van die allergrootste waarde was nie. Dis hoekom die stelling ‘swart mense het ‘n agterstand’ slegs ‘n halwe waarheid is.”

Wat Kombuis uitwys, is dat daar kulturele verskille tussen die Europeërs en die inheemses was. Dié twee groepe het in vermoëns verskil. Polities korrek wil hy hê dat die een groep nie hoër of beter as die ander groep geag word nie. Maar dit is tog sekerlik moontlik dat die kundigheid van die Europeërs belangriker vir landsontwikkeling was as die veeboervermoëns van die Khoi en die jagbedrewenheid van die San. In die kultuur (maniere van dink en doen) van die Khoi-San is daar (feitlik) niks wat daarop dui dat hulle Suid-Afrika kon ontwikkel tot die vooruitstrewendste land in Afrika nie. Ten minste in hierdie opsig was die Europeërs beter as die inheemses, maar oorverligtes beskou so ‘n stelling as heiligskennis. Weens die euwel van politieke korrektheid mag daar deesdae nie positiewe stellings oor wittes en negatiewe stellings oor nie-wittes gemaak word nie.

Die dwaasheid van Kombuis se ingesteldheid blyk uit die geskiedenis. Na ‘n besoek aan die Kaap in 1605 skryf John Davis:

“A goodly Countrey, inhabited by the most savage and beastly people as ever I thinke God Created” (Harry Booyens, AmaBhulu, Vancouver, Cliffwood Fogge, 2013; Amazon Kindle 463; AmaBhulu = the White Tribe of Africa = Afrikaners). “Historically, the Khoekhoe [Khoi] were viewed by the Europeans as the most outrageously primitive people on Earth and best not engaged unless really necessary. Their peculiar customs of removing one testicle from every male, covering themselves and their hair in reeking soot-saturated animal fat, eating raw animal intestines still bearing some contents, wearing dried intestines around their necks or legs as adornment and covering newborn babies in cow dung, as reported by Van Riebeeck, did not sit well at all with Dutch Calvinistic sensibilities. At least thirteen contemporary reports describe them enjoying their own body lice as a delicacy. These they extracted with much zeal from the untanned animal skins they wore. Visitors were also taken aback by the practice of the married Khoekhoe women of throwing their exceedingly pendulous breasts over their shoulders to thereby suckle the babies borne in animal skins on their backs. It is difficult to imagine a greater cultural separation than between the 17th century Khoekhoe and the Europeans of that century. In 1616 Edward Terry described the Khoekhoe as ‘beasts in the skins of men, rather than men in the skins of beasts.’ On 14 April 1653, one year and one week after the landing at the Cape, Van Riebeeck wrote the Lords XVII and pleaded for a transfer to India away from the ‘dull, stupid, lazy, stinking people'” (714).

In ‘n tydvak wat oorversadig met liberaal-humanistiese ideologie/propaganda is, sal seker beweer word dat hierdie waarnemings oordrewe en bevooroordeeld is. Maar wat kwalik ontken kan word, is dat daar in die 17de eeu werklik groot kulturele verskille tussen die Europeërs en die inheemse Khoi-San was. ‘n Mens moet darem uiters entoesiasties oor jou politieke korrektheid wees om soos Kombuis te beweer dat hier geen gronde vir hiërargie is nie; dat die een groep ingevolge (Europese) beskawing nie beter of hoër of meer ontwikkeld was en die ander groep ‘n agterstand gehad het nie. In sy deeglik nagevorste boek toon Booyens aan dat daar tydens die Groot Trek in die 19de eeu steeds ‘n groot kulturele gaping tussen die wittes en die swartes was. Die Trekkers het bv by talle geleenthede tekens van kannibalisme/mensetery waargeneem.

Kombuis erken ruiterlik dat alles nie wel in die nuwe Suid-Afrika is nie. Maar hy vind dit nodig om te bly hoop dat dit in die toekoms beter sal gaan. “Ek herinner myself gedurig daaraan … om telkens wanneer ek my aan Afro-pessimisme wil skuldig maak, te onthou dat ons Westerse beskawing (ja, die einste beskawing wat nou die ganse ekwilibrium van die natuur bedreig) eers die afgelope honderd jaar of meer sy grootste ontdekkings gemaak het.” Let op die skeefheid van sy siening. Die Westerse beskawing word van natuurbedreiging beskuldig, maar die uitroeiing van die plantegroei vir vuurmaakhout deur die Khoi en die uitdunning van wilde diere deur die San word nie genoem nie. Die prestasies van die Westerse beskawing (bv in vergelyking met Afrika suid van die Sahara) strek veel verder terug as “eers die afgelope honderd jaar of meer,” tot by die klassieke Grieke, eeue voor Christus.

Aan die einde van sy artikel bly Kombuis selektief hamer op wat hy as tekortkominge van blankes beskou terwyl positiewe aspekte verswyg word. “Onthou: Tot ‘n paar eeue gelede was daar nog heksejagte in Europa. Onthou: Ons het eers die afgelope tien jaar begin ontdek dat gays oukei is. Ons wit mense het werklik geen rede om te glo ons is generies soveel [!] beter as ander Suid-Afrikaners nie. Ons is almal net mense. En ons het mekaar nodig. Nou meer as ooit tevore.” Let op die invoeging van die woord “soveel”. Dalk toon die ontnugterings van die nuwe Suid-Afrika tog dat ‘n wit politieke bewind beter as een oorheers deur swartes is.

Al is etniese groepe geneties (feitlik) eenders, weerspieël daardie eendersheid glad nie die groot verskille in kultuur en ontwikkeling nie. Met “ons is almal net mense” probeer Kombuis daardie verskille ontken en verklaar hy almal wesenlik eenders of gelyk. Met “ons het mekaar nodig” systap hy een van die groot werklikhede van sowel die ou as die nuwe Suid-Afrika en tewens van die wêreld: Party (etniese) groepe het ander meer nodig as wat omgekeerd die geval is omdat party groepe meer ontwikkeld, kundig, ens, en beter aangepas by bv die ekonomiese en tegnologiese werklikhede is. Blankes bly die norm waaraan ander groepe hulle meet, al word dit nie openlik en sekerlik nooit amptelik erken nie.

Elke keer as ek ‘n rubriek van Wilhelm Jordaan, ‘n oud-joernalis en sielkunde-dosent, sien, wonder ek: Waarom voltooi hy nie eerder sy doktorale proefskrif nie? Hy skryf meesal goedig oor onskadelike ditjies en datjies. Sy rubrieke voldoen altyd aan die ononderhandelbare vereiste wat Naspers se koerante vir publikasie stel, naamlik politieke korrektheid. Na aanleiding van die skrywes wat hierbo bespreek is, het Jordaan sy eiertjie gelê: “‘n Kragveld wat die deur toe hou vir jonges” (Beeld/Netwerk24, 7 deser). “Nostalgie, as ‘n verheerliking van die verlede, is besig om ‘n breedlopende negativisme oor Suid-Afrika te voed. Dit is veral ouer mense wat hulle daaraan skuldig maak. En jongmense … is moeg daarvoor. Hulle is sat vir ouer mense se volgehoue skeptisisme.” Jordaan borduur dan voort deur te beweer dat ‘n “vrugbare teelaarde vir epidemies van swartgalligheid” geskep word en dat ons hier met “slordige, koerslose emosies” te maak het, bv “selfbejammering en verlekkering in eie slagofferskap.” In hierdie proses word jongmense glo “ontneem van ‘n ander soort geboortereg – die reg om ‘n eie toekoms te bedink en te bou.”

Jordaan het met sy eensydigheid heeltemal oorboord gegaan. Nostalgie is nie noodwendig ‘n “verheerliking van die verlede” nie; in hierdie politieke konteks sekerlik nie in die meeste gevalle nie. Ouer mense het die werklikhede van die ou Suid-Afrika beleef en weet dus dat ‘n drogbeeld van wat was in bv ANC-propaganda aan mense voorgehou word. Soos Paul Kruger wil nie-verloopte Afrikaners wat goed en mooi in die verlede was, gebruik om ‘n leefbare toekoms in hierdie land te bou. Soos DF Malan wil nie-verloopte Afrikaners mense wat deur innerlike oortuiging of kultuur bymekaar hoort, bymekaar bring. Dit is verregaande om te beweer dat hierdie Afrikaners jongmense van hulle geboortereg, naamlik ‘n “eie toekoms,” ontneem. Blankes is deur FW de Klerk en sy meelopers van hierdie geboortereg beroof.

Dit is aan die kant van sulke verloopte Afrikaners dat Jordaan en ook Kombuis en Müller hulle skaar. Realisme oor die verlede, hede en toekoms moet liefs nie as negativisme geëtiketteer word nie. Realistiese, kritiese nostalgie kan as ‘n waardevolle bron en springplank vir ‘n beter toekoms dien.

Dit bring my by twee swart “bevrydingsbewegings”, die Mau Mau en die ANC. Die Mau Mau word beskryf as: “Kenyan secret guerrilla movement 1952-60 … Its aim was to end British colonial rule. This was achieved in 1960 with the granting of Kenyan independence and the election of Jomo Kenyatta as Kenya’s first prime minister” (Collins world encyclopedia, Glasgow: HarperCollins, 2003, p 589).

Op Saterdag, 10 deser, het Jacob Zuma ‘n ANC-byeenkoms in die Groenpunt-stadion toegespreek. ‘n Khoi-geestelike het, voordat hy gebid het, dit nodig gevind om Jan van Riebeeck se gees te verdryf (Die Burger, 12 deser, p 2). Eers twee dae later en bykans vyf dae na die gewraakte byeenkoms het Die Burger (14 deser, p 3) berig dat Zuma die vorige Vrydagaand, die 9de, hom soos volg by die ANC se galadinee in Kaapstad uitgelaat het: “‘n Man met die naam van Jan van Riebeeck het op 6 April 1652 in die Kaap aangekom. En dit was die begin van al [!] die land se probleme. Wat daarop gevolg het, was talle stryde en oorloë en sterftes en die gryp van grond en die ontneming van die inheemse mense se politieke en ekonomiese mag.”

Die Vryheidsfront Plus het hieroor ‘n klag van haatspraak teen Zuma by die Menseregtekommissie gelê; uiteraard nie die Demokratiese Aliansie nie. Zuma het die blankes immers as misdadigers, bv as gronddiewe en moontlik selfs as moordenaars, voorgestel. Hy het uitdrukking aan sy anti-blanke sentiment gegee en sekerlik nie versoening bevorder nie. By Zuma, met sy beperkte formele skoolonderrig, is daar geen nostalgie oor Van Riebeeck se koms en die voortreflikhede van drie en ‘n halwe eeue (1652-1989) se blanke bewind nie. Daardie tydperk word deur Zuma as ‘n distopie voorgestel; as die teenoorgestelde van wat regmatig nostalgie kan wek.

Dit het my laat dink aan ‘n opmerking wat as teenvoeter vir hierdie Zuma-uitlating kan dien. In 1952, drie eeue na Van Riebeeck se volksplanting, het die Britse koloniale sekretaris, Oliver Lyttelton, met verwysing na die Mau Mau-opstand in Kenia, die volgende in die Britse parlement gesê:

“Mau Mau is a secret society and feeds, not upon economic discontent, but is something far more sinister. It is the enemy of both white and Asian. It is the enemy of the law-abiding African. It is anti-Christ and it feeds, not upon economic discontent, but upon perverted nationalism and on a sort of nostalgia for barbarism” (Booyens, 12555).

Booyens se gevolgtrekking is:

“These words may be taken as they stand and repeated for every single rising by indigenous African people in Sub-Saharan Africa since then. All that has varied is the degree of barbarism and the degree to which the West has selectively closed its eyes to the horrors committed” (12555).

Aan Piet Croucamp: Afrikaners ís ’n etniese groep

roodt_dan_wiki

deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Piet Croucamp is geen ernstige denker nie. Trouens, hy neem nie sy opponente ernstig op nie en maak hulle gewoon as “onintelligent” of “regses met ’n “lae IK” af. Boonop is dit moeilik om te bepaal uit watter ideologiese hoek sy stellings oor “regses”, konserwatiewes”, ensovoorts gemaak word. Hy roem homself blykbaar daarop dat hy ’n linkse of neomarxis is, maar watse soort neomarxis? Is hy ’n Hegeliaan na die Frankfurt-skool of ’n meer strukturalistiese tipe in die styl van Louis Athusser, Etienne Balibar, Dominique Lecourt en ander?

Aan die een kant wil dit lyk asof Croucamp bloot dinge sê om polemiek te bedryf of om mense die harnas in te jaag. Eintlik beledig hy Afrikaners en verwag dan een of ander reaksie van ons. Ek dink Gustav Venter het hom reeds ‘n week of wat gelede op hierdie vlak geantwoord in Nou wie’s nou dom, hû?, asook Manfred Delport in Kaptein Piet Croucamp se spekskietery.

My eie indruk van Croucamp is dat hy graag namens die heersende ideologie praat. Op dié manier verskil hy nie veel van Nasionale-Party-Afrikaners van die verlede nie, wat ook graag die heersende diskoers nagepraat het.

Blykbaar is hy egter geen Afrikaner nie, al lyk hy soos een en praat hy soos een. In elk geval sal niemand Croucamp vir ’n Engelsman uit die stad van Londen aansien nie. Hy het, soos Koos Kombuis, alias André Leroux du Toit, uit die Afrikanerdom “bedank”. Só maklik is dit egter nie, om in ‘n komplekse, veelvolkige (multinasionale) staat soos dié van Suid-Afrika jouself anders te begin etiketteer. Soos die vrou wat destyds tydens die Soweto-onluste uitgeroep het, “I’m English!” mag dit dalk nie genoeg wees om jou van ander te distansieer nie, aangesien jy nog steeds etnies as blanke, Westerling en, les bes, Afrikaner, ervaar mag word.

Hierdie mag ‘n futiele oefening wees. Soos ek reeds gesuggereer het, wil Croucamp nie hê dat ons hom ernstig opneem nie. Hy sê maar net enigiets wat in sy kop inkom en gee nie eintlik om as dit aanvegbaar is nie, solank dit een of ander reaksie in die geledere van “die volk” veroorsaak. ’n Mens bespeur dieselfde soort houding by Max du Preez wat sy lojaliteit teenoor Engelse, swartes of wie ook al betuig deur Afrikaners te beledig, te stereotipeer en te verguis. Dis ’n soort hensopperdiskoers, want eintlik is die toehoorder altyd die ander, die nie-Afrikaner wat goed gaan voel omdat hy “slimmer”, “linkser” of “meer bevry” as die gemiddelde Afrikaner sou wees.

Nietemin wil ek enkele van die stellings (teses) wat Croucamp maak, ernstig opneem en aan ’n ligte ondersoek onderwerp om te sien of hulle waar of vals is. Verskoon my as dit na ’n soort matriek- of eerstejaarsopdrag klink, maar siende dat ons hier met heel basiese begrippe werk, kan dit nie anders nie.

Croucamp sê byvoorbeeld: “Die konsep ‘Afrikaner’ het waarskynlik lankal nie meer die nominale inhoud van ’n etniese groep nie.” Nou vra ek: Hoe waar is dit en op watter gesag berus hierdie stelling?

Let op die gebruik van die woord “waarskynlik”. Eintlik ondermyn Croucamp sy eie stelling, want hy wil sê dat hy self nie seker is nie. Beroep hy hom op ’n vae soort openbare mening, die Zeitgeist wat Naspersjoernaliste in hul onkunde vir ons konstrueer?

Elke woordeboek ter wêreld bevat ’n definisie van die begrip “Afrikaner”. Laat my byvoorbeeld die Nederlandse Van Dale aanhaal: “Afrikaner… vooral in Zuid-Afrika gebezigde aanduiding van een in Z.-Afrika geboren blanke, m.n. van Boerenafkomst.”

Met ander woorde, daar is wel “nominale inhoud”. “Nominaal” kan hier twee dinge beteken: “volgens die naam” en “gering”. Die eerste betekenis is semanties van aard en die tweede dui op ‘n “geringe etniese inhoud” as ek hom reg verstaan. In albei gevalle is sy stelling dus vals: Die semantiese inhoud van “Afrikaner” is bewese en algemeen aanvaar, soos die meeste woordeboeke in ’n groot verskeidenheid tale op aarde bewys en ten tweede kan die etniese aard van die begrip “Afrikaner” ewe min ontken word. Die huidige president van Suid-Afrika het reeds by verskeie geleenthede die bestaan van Afrikaners as ’n etniese groep erken deur na ons as “inheems” te verwys.

Maar afgesien van hierdie soort “staatkundige erkenning” deur die staatspresident van Suid-Afrika, is daar ook ander, meer objektiewe – noem dit volkekundige of antropologiese – maatstawwe. Die “Afrikanergeskiedenis” is reeds in honderde boeke, asook waarskynlik duisende proefskrifte en tienduisende artikels in allerlei tale geboekstaaf. Die hele Suid-Afrika is besaai met monumente en simbole wat elemente van daardie geskiedenis gedenk. Iewers het ek gelees dat 90% van alle monumente in Suid-Afrika deur Afrikaners opgerig is. Tot in China weet mense van die Voortrekkermonument, want dit is die monument in ons land wat die meeste besoek word en dan veral deur Mandarynse Chinese.

Benewens geskiedenis, watter ander merkers van etnisiteit is daar? Taal, kookkuns, tradisies, godsdiens, kleredrag, danse, ens. Standaardafrikaans is ’n skepping van die Afrikaner, nogal die Genootskap van Regte Afrikaners. Daar is iets soos Boerekos en Afrikanerkookkuns, Boerewors, sosaties, poedings, koeksisters, noem maar op. Trouens, die res van die mense in die land spot met ons omdat ons sulke kenmerkende etniese eetgewoontes het, terwyl hulle aan Amerikaanse hamburgers smul. Selfs Woolworths, wat nie Afrikaans as taal erken nie, verkoop Boerewors, asook ’n variant wat Grabouw-boerewors genoem word. Toe ek op skool was, het ons volkspele gedoen en ek weet daar bestaan nog vele volkspelegroepe in die land waar mense tradisionele danse beoefen wat toeka se tyd in die Kaap ontstaan het en saam met ons die binneland ingekom het en tot vandag toe beoefen word. Selfs RSG, die radiostasie wat hom by monde van sy hoof, Magdaleen Kruger, téén Standaardafrikaans uitgespreek het, saai Boeremusiek uit!

Die term “Afrikaner” druk dus beslis ’n etniese begrip uit. Ironies erken iemand soos prof. Wannie Carstens van die Noordwes-universiteit dit ook as hy sê dat ons die term “Afrikaner” anders moet defininieer: “Ek is van oordeel ons moet eerder die term ‘Afrikaner’ herdefinieer as dat dit almal wat Afrikaans praat, insluit. Dan beweeg ons weg van die assosiasie met kleur. Want die assosiasie met kleur vind ek diskriminerend.”

Dit wil dus voorkom asof sowel Croucamp as Carstens ’n ongemak met die begrip “Afrikaner” ervaar, wat moontlik daarmee te make het dat albei universiteitsdosente is. Sedert Kader Asmal die akademiese vryheid wat in die land bestaan het, beëindig het, weet ons dat akademici besonder gevoelig is vir enige vorm van politiek wat van die heersende ideologie van “nasiebou” en die ontkenning van etnisiteit afwyk. Dieselfde persoon wat Afrikanerskap ontken of, les bes, “anders wil definieer”, het egter geen probleem daarmee om na “Jode”, “Palestyne”, “Franse”, “Nederlanders” of selfs “Vlaminge” te verwys nie. Hy drink steeds “Skotse” whiskey en probeer nie die bestaan van Skotland as ’n etniese gebied binne die Verenigde Koninkryk ontken nie.

Die gemiddelde Afrikaner daarbuite het egter vrede met die institusionele probleme van universiteitsdosente wat vir aanvaarding en bevordering van ’n polities korrekte onderdanigheid teenoor die owerheid afhanklik is. Daarom gaan ons ons nóg “herdefinieer” om Carstens te pas nóg om Croucamp se valse stellings waar te maak.

Die gewraakte onderwerp “rassisme” word elke dag tot vervelens toe in Suid-Afrika aangeroer. Omdat Croucamp iemand is wat graag die stroom volg, doen hy dit ook in sy stuk deur te sê:

“Afrikaners wat hulself as polities regs (‘n veronderstelde ideologiese konsep) identifiseer, verskil in minstens een – of net een – belangrike opsig van hul mede taal-en kultuurgenote en dit is dat hulle kru rassisties is op ’n wyse wat met lae intelligensie geassossieer kan word.”

Hier doen Croucamp ten minste twee dinge: hy veronderstel dat alle “regses” (ons weet nie presies wie of wat dit is nie, maar dis seker almal wat nie marxiste of sosialiste is nie) en alle “rassiste” oor ‘n “lae intelligensie” beskik.

Hoe waar is dit? Kom ons begin by die rassiste. Daar bestaan geen samehangende definisie van “rassisme” nie, maar kom ons veronderstel dat daardie intellektuele, skrywers, denkers en wetenskaplikes wat in die onlangse verlede deur die meer liberale media as “rassiste” uitgekryt is, wel rassiste is. Indien Croucamp korrek is, sal hulle almal dom wees, of oor ’n “lae IK” beskik. “Hoe laag is ’n ‘lae IK’?” is die volgende vraag. ’n Normale IK in Westerse lande is 100, dus moet dit laer as 100 wees. So ’n persoon sou nie in staat wees om byvoorbeeld ’n universiteitskwalifikasie te verwerf nie, wat nog te sê ’n nagraadse kwalifikasie. Hy sou ook nie in staat wees oorspronklike wetenskaplike navorsing te doen nie. Wat van ’n Nobelprys in die medisyne, spesifiek vir ontdekkings in die molekulêre biologie?

So ‘n beroemde – en vermoedelik intelligente – rassis is James D. Watson, een van die vaders van die moderne genetika. Soos almal weet, het hy en sy kollega Francis Crick die “dubbele heliks” van ons DNS ontdek. Daarvoor het hulle in 1962 die Nobelprys in die medisyne ontvang. Watson het hom sy lewe lank met genetiese navorsing besig gehou, totdat hy in 2007 tydens ’n boekpromosietoer die volgende gewraakte opmerking teenoor ’n Britse joernalis gemaak het:

“…there is no firm reason to anticipate that the intellectual capacities of peoples geographically separated in their evolution should prove to have evolved identically. Our wanting to reserve equal powers of reason as some universal heritage of humanity will not be enough to make it so.”

Die implikasie van dié stelling is natuurlik duidelik: dat verskillende rasse gemiddeld nie oor dieselfde intellektuele vermoëns beskik nie. ’n Geweldige skandaal het losgebars; Watson moes die res van sy toer kanselleer en hy is ook gedwing om uit sy pos as hoof van ’n navorsingslaboratorium te bedank.

Dit raak nog erger, ten minste vir Croucamp se teorie dat alle rassiste dom is. Nog ’n wetenskaplike, William Shockley, het die transistor uitgevind en daarvoor in 1956 die Nobelprys vir fisika ontvang. Hy word as die vader van die sogenaamde “Silicon Valley” in Kalifornië beskou en sonder hom sou ons seker nie vandag op rekenaars gesit en tik het nie. Miskien is rekenaars ook “rassisties” want later in sy lewe, nadat hy professor aan die Stanford-universiteit was, het Shockley ’n oortuigde voorstander van eugenetiek geword. ’n Groep van 30 van sy kollegas het egter gesê: “Shockley is the man who brought silicon to Silicon Valley.”

Aan die einde van sy lewe is Shockley geteister deur joernaliste wat sy sienings oor ras en intelligensie belaglik wou maak en hy het ook ’n lastersaak gemaak waarin die hof hom gelyk gegee het, maar slegs $1 aan vergoeding toegestaan het.

Volgens die liberale media en die hoëpriesters van politieke korrektheid was beide Watson en Shockley “rassiste”. Een was die uitvinder van die transistor en die vader van “Silicon Valley” en die ander die mede-ontdekker van die DNS-heliks. Albei het die Nobelprys in wetenskaplike dissiplines ontvang. Ons kan baie dinge van hulle sê, maar nie dat hulle “dom” was nie.

Die vader van moderne rassisme word allerweë as die Franse skrywer, Graaf de Gobineau, beskou. Benewens romans en ander geskrifte, het hy ’n boek met die onvergeeflike titel, Die ongelykheid van menslike rasse, gepubliseer. Nietemin word hy steeds as klassieke skrywer in Frankryk erken. Was hy ook “dom”?

Die skrywers van die boek The Bell Curve, Herrnstein en Murray, is insgelyks deur die liberale media as rassiste uitgekryt, dog geen van hul joernalistieke en akademiese kritici kon tot dusver die sentrale punt van die boek, dat IK ’n groot rol in die samelewing speel, weerlê nie. Die omstredenheid van die boek draai rondom ’n enkele hoofstuk waarin IK-verskille tussen rasse bespreek word. Ook daardie hoofstuk is tot op hede nie verkeerd bewys nie. As dit so maklik is om die geskrifte van bekende en “dom rassiste” te weerlê, waarom doen die hordes links-liberale joernaliste en akademici dit nie?

Enkele jare gelede het dr. Leopold Scholtz, die bekende Naspers-kommentator, belowe dat hy wetenskaplike artikels uit erkende vaktydskrifte sou voorlê wat onomstootlik bewys dat “rassistiese” sielkundiges en navorsers verkeerd is en dat alle rassegroepe oor presies dieselfde gemiddelde IK beskik. Gegewe die linkse obsessie met hul “hoë intelligensie”, teenoor die geestelike gestremdheid van rassiste, is dit nie tyd dat Croucamp, Scholtz en ander met die getuienis vorendag kom dat swartes, blankes en Asiërs oor presies dieselfde gemiddelde intelligensie beskik nie?

’n Navorser wat hom insgelyks op die onderwerp van ras en IK toegespits het, was die Kanadees J. Philippe Rushton. As professor aan die Universiteit van Wes-Ontario in Kanada was hy sekerlik nie verstandelik vertraag nie en hy het allerlei aanvalle, betogings, asook ’n vier jaar lange hofsaak en pogings van die Ontario-provinsie om hom afgedank te kry, getrotseer om met sy navorsing oor IK voort te gaan. Op ’n stadium is sy klasse dermate deur betogers ontwrig dat die universiteit nie meer sy veiligheid kon waarborg nie en moes hy deur middel van video-opnames klas gee.

Croucamp se teorie dat “rassiste” noodwendig dom is, moet in die lig van bogaande getuienis, afgewys word.

Kommerwekkend van linkse denkers is hul ontvanklikheid vir groepsdruk en onverdraagsaamheid teenoor diegene wat van hulle verskil, wat gewoonlik doodgeskree, met geweld gedreig of selfs fisiek aangeval word.

Volgens Croucamp, is alle “regses” dom. ’n Groot aantal intellektuele, skrywers, digters, filosowe, komponiste en natuurlik politici deur die geskiedenis kan as “regs” of nasionalisties beskou word. Nietzsche, Wagner, Heidegger, Ezra Pound, T.S. Eliot, Céline, N.P. van Wyk Louw, C.M. van den Heever, Alain de Benoist, Enoch Powell, Kurt Vonnegut, Anna M. Louw, Jaap Steyn, Jean Raspail, Peter Sloterdijk, W.F. Hermans, Houellebecq en vele ander het op een of ander manier hulself as “regs” of ten minste nie-links geposisioneer. Heidegger word as een van die grootste filosowe van die Twintigste Eeu beskou, indien nie dié grootste nie. Prins Charles van die Verenigde Koninkryk het op ’n stadium “alle moderne argitektuur as… fascisties” beskryf en moontlik was hy reg. Daar is niks prolataries aangaande hoë geboue, glas en staal, asook die aandrang op sulke “regse” ideale soos skoonheid, suiwerheid en funksionaliteit nie.

Die linkse aandrang op “gelykheid ten alle koste” het vir ons die Sowjet-goelag gegee. Daarmee saam kan ons sien dat die voorstanders van gelykheid juis die onverdraagsames is wat mense se klasse ontwrig, ander wil sensureer, wetenskaplike navorsing wil belemmer en boeke en geskrifte verbied wil sien.

Kan ons hoegenaamd Croucamp se volgende stelling ernstig opneem: “Soos dit is, het Afrikanerskap ’n baie lelike ideologiese konstruk geword; daarom is ek geen Afrikaner nie… Diegene wat haat en nyd koester as ’n politieke identiteit is die skuim van die Afrikanerdom, die room ploeg die lande, skep werk en word burgers van ’n baie groter en interessanter prentjie.”

Ek weet nie of Croucamp as wêreldburger of Brit of wat ook al self-identifiseer nie, maar kennelik is hy nie in staat om aan ons te verduidelik waarom Afrikanerskap ’n “lelike ideologiese konstruk” sou wees nie. Immers is Afrikanerskap gegrond op vrye assosiasie, terwyl die huidige Suid-Afrikanerskap van dwang en selfs sadisme afhang. Elkeen kan kies of hy ’n Afrikaner wil wees hoewel vreemdelinge selfs vir Croucamp as Afrikaner mag sien, ongeag sy “bedanking uit die volk”. Aan die ander kant word ons eenvoudig in die nasionale staat van Suid-Afrika ingedwing, waar ons met wetteloosheid, korrupsie en sadistiese geweld vir lief moet neem. Is Suid-Afrikanerskap nie eerder die “lelike ideologiese konstruk” waarvan Croucamp praat nie? Ons word gevange gehou in ’n stelsel wat ons nie wil hê nie, waarvoor ons nie stem nie en wat ons op allerlei maniere verdruk. Tydens plaasmoorde, motorkapings en huisaanvalle word ons vroue verkrag en ons almal aangerand, beseer en vermoor. Die aaklige geweld wat ons ervaar, stem al hoe meer ooreen met die linkse utopieë van die twintigste eeu wat een en almal as “misdade teen die mensdom” verwerp is.

Goelag Suid-Afrika, tuiste van die terroriste en sadiste.

Is dit die mense met wie Croucamp, die verloopte Afrikaner en desnoods verraaier, identifiseer? Praat hy namens die totalitêre linkse tradisie van die 20ste Eeu? Die “haat en nyd” waarna hy verwys, is eerder aan die kant van die nie-Afrikaners te vinde. In vele opsigte is Suid-Afrikanerskap op Afrikanerhaat gegrond, omdat die “Suid-Afrikaner” nie in staat is om sy eie identiteit te skep nie en daarom slegs na ’n soort anti-identiteit kan aspireer, wat die ontkenning van die Afrikaner sou wees. Deur ons te ontken, word ons ook desnoods vermoor. Op sy minste word daar teen ons taal en kultuur gediskrimineer, wat geheel en al teen internasionale norme indruis.

Ek verbeel my Andries Treurnicht het destyds ’n boek, Credo van ’n Afrikaner, geskryf. Dit is nogal deur die Naspers-uitgewery, Tafelberg, gepubliseer. Ek het dit nie gelees nie, maar ek dink dit is tyd vir ’n meer positiewe, bevestigende siening van Afrikanerskap. Wat is ons credo?

Ongelukkig moet enige definisie van Afrikanerskap vandag by lyding begin. ’n Afrikaner is bowenal iemand wat ly. Ons het onder die Britte gely, tydens dít wat Smuts in ’n gelyknamige boek ons “Eeu van onreg” genoem het. Tans ly ons steeds onder die huidige imperialiste wat veel meer gewelddadig en onregverdig as die Britte is.

’n Afrikaner is ’n jong meisie wat koelbloedig doodgeskiet word. Iemand soos Danielle Esterhuizen, Willemientjie Potgieter of Alyssa Botha. Vanuit die suiwer sadisme van daardie groteske daad, moet ons voortaan ons identiteit bedink, as magteloos en blootgestel aan die “haat en nyd” waarna Croucamp so ironies verwys.

Croucamp se ontkenning van Afrikanerskap loop parallel met die ontkenning van ons menswees deur hierdie linkse stelsel: die goelag, die gelykheidsmasjien wat uit die totalitêre maag van die 20ste eeu ontsnap het om ons te kom teister.

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Kaptein Piet Croucamp se spekskietery

delport_manfred_600

deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

‘n Engelse woord vir ‘n seerower, “buccaneer”, is van die Franse term “boucanier” afgelei. Laasgenoemde verwys na die gewoonte van Franse jagters op Karibbiese eilande soos Haïti om vleis van wildevarke te rook op ‘n houtraam, en is ook die stam van die Engelse woord “bacon”.

Die fiktiewe kaptein Jack Sparrow, uit die rolprente Pirates of the Caribbean, se oorspronklike beroep is dus baie minder romanties as wat dit mag klink. Daardie groot intellektueel van die Universiteit van Johannesburg, dr Piet Croucamp, wat lyk na die liefdeskind van Koos Kombuis en Jack Sparrow agv sy gewoonte om met ‘n belaglike kopdoek aan in die openbaar te verskyn, het varkjagtery egter een stappie verder geneem, en boucaniers sommer tot ‘n volk verhef.

Want sien, kaptein Jack Croucamp reken hy is g’n Afrikaner nie, want Afrikaners bestaan volgens hom nie as etniese groep nie. Op Afriforum se werf Maroelamedia.co.za, nogal. O, die ironie dat hy dit in Afrikaans, die taal van die Afrikanervolk, moes doen, op ‘n werf wat aan ‘n Afrikaner-organisasie behoort!

Volgens kaptein Croucamp bestaan daar g’n so ‘n ding soos ‘n Afrikaner as ‘n etniese groep nie, laat staan nog ‘n Afrikanervolk. Afrikanerskap, volgens kaptein Croucamp, is bloot ‘n “lelike ideologiese konstruk”. Nie net bestaan Afrikaners as volk of dan etniese groep nie, maar ook is baie van ons van ‘n lae intelligensie, en kru-rassisties. Seg ‘n volwasse man wat soos ‘n seerower aantrek, maar dan van ons verwag om hom ernstig op te neem. Só dom is ons, dat ons glad nie eens begryp wat op die Praagwerf geskryf word nie. Dit is net intellektuele met kopdoeke wat werklik kan begryp wat Fransi Phillips skryf.

Ek moet daarom ook sommer onmiddellik jammer sê, my kaptein, sou jy hierdie lees, want ek weet jy gaan ‘n probleem hê met my gebruik van die term Afrikaner as ‘n naam vir my volk. Volgens jou is dit mos ‘n blote ideologiese konstruk en ‘n rookskerm vir rassisme. Beskou “Afrikaner” dus maar as my oningeligte, dom, rassistiese naam vir blanke, Afrikaanssprekende inwoners of voormalige inwoners van Suider-Afrika, wat meestal Protestantse westerlinge is en die eiesoortige, inheemse Afrikanerkultuur aanhang. Laasgenoemde is egter ‘n hele mondvol om elke keer van voor af te moet tik, en al beskou jy wat kaptein Croucamp is dit as ‘n blote sosiale konstruk, lyk laasgenoemde vir my na die definisie van nie net ‘n etniese groep nie, maar ook inderdaad na die teksboekdefinisie vir ‘n volk.

Wat sal ek egter weet? Nie net dra ek nie ‘n kopdoek nie, maar het ek ook ‘n regte werk en hou ek my lyf nie akademikus, wie se salaris deur Afrikanerbelastingbetalers betaal word, in die sagte sogenaamde wetenskap van die sosiologie, nie.

Wat kaptein Croucamp egter nalaat om te doen, in sy kwasi-intellektuele tirade op die bogenoemde werf, wat kennelik net deur kopdoekdraers begryp kan word, is om ons ou dom, rassistiese Afrikaners in te lig aan watter nasie hy wat kaptein Croucamp is, dan kwansuis behoort. Kaptein Croucamp praat Afrikaans. Hy is blank. Hy het net een eggenoot, sover ek bewus is, en sy kind woon selfs ‘n Afrikanerlaerskool by. Hy dans nie soos Helen Zille op die Afrika-manier op verhoë nie. Duidelik is hy dus nie, soos president Zuma, ‘n Zoeloe nie.

So terloops: President Zuma, anders as kaptein Croucamp, is nie verward oor wie en wat hy is nie. Hy is ‘n tradisionele Zoeloe. Hy is gemaklik in sy eie vel en tussen sy veelvuldige vrouens en kinders. Wonderlik hoe bevrydend dit moet wees om nie so hooggeleerd te wees soos kaptein Croucamp nie, en dus nie aan intellektuele angs en identiteitskrisisse blootgestel te moet wees nie.

Daarom, as dom, rassistiese Afrikaner, wag ek as’t ware op die kaptein (jammer, Elsa Joubert), om ons in te lig oor watter etniese groep kaptein Croucamp aan behoort. Sou hy sê hy is ‘n Suid-Afrikaner, vra ek hom mooi om vir ons te verduidelik hoe sou mens ‘n Suid-Afrikaner by ‘n VN-vergadering uitken? Watter taal praat hy? Is hy lig of donker van vel? Wat is sy kultuur? Aanbid hy voorvadergeeste of is sy godsdiensbegrip meer verwant aan Calvyn se sienings? Slag hy beeste in sy agterplaas tydens begrafnisse of bak sy vroulief melktert? Wees asseblief so gaaf, kaptein Croucamp, en verskaf dan vir ons die naam van die volk waaraan jy behoort, asook ‘n definisie van daardie volk, verkieslik in woorde van net een lettergreep elk, sodat selfs ek dit kan verstaan.

Al wat ek kan dink is dat kaptein Croucamp homself sien as ‘n etniese boucanier, maar dit klink vir my heeltemal te veel na ‘n spekskietery.

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Lees ook Gustav Venter se rubriek: Piet Croucamp se algemene probleem met Afrikaners

Swart dwaling en wit woede, deel 2

In dié tweede aflewering van Swart dwaling en wit woede, skryf Gustav Venter: “As hulle en die algemene media besef het hoe diep, hoe smeulend, hoe wyd die Afrikanerwoede is, sou hulle elke dag, elke minuut, met elke nuusbulletin, op elke TV-kanaal en radiostasie en in elke koerant sonder ophou gewaarsku het: Die Afrikaner is kwaad. As hulle maar net hulle marxistiese, formulegebabbel sal staak. As hulle maar net sal vra wat staan die regering te doen om die sissende magma van Afrikanerwoede af te koel…”

Eenkeer, met sy bergfiets uit op ‘n kronkelpaadjie, toe hy stop om agter ‘n bos te gaan staan, kom hy op ‘n ou plastiese LO-sak af, so ‘n rooie met ‘n gebreekte skouerband en ‘n losgetorringde ritssluiter. Nuuskierig genoeg om die inhoud te ondersoek vind hy ‘n opgerolde sweetpakbaadjie, ‘n Rama-bakkie met drie gholfballe van alle dinge, helfte van ‘n Sydney Sheldon-riller en ‘n ou polisieuitgawe Walther P38 daarin. Sy eerste instink was om die pistool by die polisie te gaan inhandig, maar teen die tyd was hy ook al skepties en onwillig om ‘n vuurwapen via onetiese polisiehande terug op die roof-en-skaakkringbaan te kry. Hy kies om eerder die pistool te gaan versteek.

Die Dag van die Laaste Strooi, toe hy hoor van die ou tannie wie se vingers brutaal deur ‘n inbreker met ‘n snoeiskêr afgesny is, het hy die pistool gaan uitgrawe, skoongemaak, geolie en ‘n paar skote op ‘n verlate mynhoop daarmee gaan skiet. Die ontwerp daarvan was nooit die beste nie en die wapen self was in bedenklike toestand, met ‘n ietwat geslyte loop. Maar dit was akkuraat genoeg vir sy doel. Hy pak daarna sy motor, vul die brandstoftenk en kry koers Noorde toe.

Onderweg spoor ‘n vriend hom per selfoon op. Waarheen is hy op pad? wil die vriend weet.

Hy sê hy is op pad Naboomspruit toe om daar by die landdroshof te wag tot die dierlike aanvaller verskyn sodat hy hom tussen die oë kan skiet.

Die vriend, dadelik oortuig van die erns van die bedoelings, begin beswaar maak.

Wat sal dit help? Hy sal net sy eie lewe opoffer, en vir wat? Daar is duisende ander sulke geweldenaars. Hulle kan nie almal geskiet word nie.

Alles is waar. Hy verstaan dit so, maar sê hy: “Ek kan nie langer met myself saamleef as ons hierdie dinge maar net laat verbygaan nie. Watse soort mense is ons dat ons kan toelaat dat ons oumensies se vingers met snoeiskêre afgeknip word?”

Selfs buite konteks is hierdie ‘n vraag wat dwarsdeur Afrikanergeledere ‘n verslae gemoedskriewel laat. Wanneer ons dit egter binne die spreker se persoonlike kultuurhistoriese perspektief lees, moet dit elke skril emosionele alarm laat afgaan. Hierdie was nie lank terug nie ‘n vasberade voorbrandmaker vir die Nuwe Suid-Afrika, iemand wat nie vir die ANK gestem het nie maar besluit het die regte ding is om skouer aan die wiel in te val vir die algemene opheffing van die land. Sy besondere bydrae was om rekenaargeletterdheidsklasse in swart woongebiede te gee. Maar die ongeërgdheid waarmee die nuwe regering die misdaadgolf weggewink het, die skokkende vraatsugheid waarmee hulle hande in die staatskoffers gesteek het en die rasgedrewe halstarrigheid waarmee hulle ‘n hele volk vervreem het, het sy entoesiasme nie net nie gevoed nie, dit het sy ywer anoreksies gelaat en uiteindelik ‘n ontnugteringsdood laat sterf.

Wanneer liberales hiervan lees, en ek waarborg dit, sal hulle kondisionering onmiddellik ‘n verweer deur hulle lippe pers, ‘n tweeledige skouerophaling. Hoekom, sal hulle vra, is jy so ontstel oor een wit tannie wat ‘n ellende op die lyf geloop het? Jy sal nie so ontsteld wees as dit met ‘n bejaarde swart vrou gebeur het nie, sal jy? So hierdie afgryse in jou is bloot net rassismestuipe. Daarna sal hulle byvoeg: Baie meer swartmense ly onder geweld, so voor jy nie daaroor ‘n gemoedsteuring het nie, kan ons jou verdriet oor die ou tannie nie ernstig opneem nie. Hierdie mondelingse skuifelstap is soos die skyngebroke vlerk waarmee ‘n kiewiet die potensiële roofdier van haar nes aflok. Sodra ons betrokke raak in hulle afleidings van ras en getalle, versaak ons die koers en einddoel van ons argument.

Mor die Afrikaner oor regstellende aksie, is die gekondisioneerde verweer dat blanke mans nog die meerderheid bestuursposte beset. Dat bekwaamheid en doeltreffende bestuur – eerder as ‘n nuttelose gedienstigheid teenoor persentasies en getalle – nou kardinaal nodig is in die land, is ‘n primêre argument wat in al dié pom-pomswaaiery verlore gaan. Raak jy knorrig oor kragonderbrekings, word beduie dat swartmense in lokasies dit baie meer gereeld moet verduur en skielik is die feit dat hulle nie daarvoor betaal nie, nie ter sake nie. Kla jy oor vervalle infrastruktuur… en so gaan hulle aan.

Hierdie is egter loperige balsem vir ‘n man wat homself laat ompraat om nie ‘n bloedgierige, lafhartige monster tussen die oë te gaan skiet nie. En as ‘n swart barbaar, lendene styfgepomp met dierlike wellus, onbelemmer deur medemenslikheid, sonder die brieke van intelligensie, vrygestel van sosiale verantwoordelikheid – besef jy nie hoe uitputtend sy kinderjare was nie? – sy stompsinnige verveeldheid verlig deur saam met sy walglike kamerade ‘n ingetoë 19-jarige maagd gevange te neem, haar te martel, speels te belowe dat hy haar nie sal verkrag nie, en dit wel doen en dit op die verkleinerendste manier denkbaar – hy dwing haar, pistool teen die kop, om hom te soen terwyl sy onderlyf teen haar voorthamer – , wat dan? Word daar van ons verwag om, as’t ware, langs haar te kniel terwyl sy diep getref word deur die eerste rou oor die verlies van haar kosbaarste kleinood, haar maagdelikheid? En moet ons dan sê: “Toe, toe, staak die gekerm. Dis nie so erg nie. Dis omdat jy wit is dat jy jou dit so aantrek. Weet jy nie dat dit elke dag met duisende swart vroue in hierdie land gebeur nie?”

Watse anoreksiese troos is dit? Want dit is al verligting wat die liberales kan bied. Volgens liberale ortodoksie sou die ware misdaad nie die verkragting gewees het nie, maar die agterdog dat die blanke meisie se verskrikking en afsku instinktief verhewig is omdat dit ‘n swárt man was wat haar verkrag het; dat as sy ‘n duiwelskeuse gehad het, sy ‘n duisend maal eerder deur ‘n witman verkrag sou wou word. Die onderskeid tussen rasse, eerder as die molestering, is volgens die linkses se kode die Onvergeeflike Sonde.

Hierdie is ‘n loot wat groei uit hulle opvatting dat daar geen verskil tussen mense, ongeag ras of herkoms, bestaan nie, en dat geen mens moreel in ‘n uitgesonderde verwantskap met ‘n ander kan staan nie. Hiervolgens mag ‘n mens nie ‘n onderskeid in jou optrede teenoor jou eie en ander mense maak nie. As jou kind en ‘n ander kind in ‘n brandende huis is, en jy wil daar instorm, moet jy seker maak jy kan altwee red, of jy moet albei vir die vuur los.

Dit is ‘n opvatting wat teen elke natuurreël van oorlewing indruis. Selfs die Bybel, en dit in die Nuwe Testament, met al die klem op selfloosheid en opoffering daarin, ondersteun dit nie. Die man wat nie vir sy gesin kan sorg nie, sê Paulus, is erger as ‘n heiden. Hierdie is nie die hoogtepunt nie maar die vertrékpunt van moraliteit. Liefdadigheid, om presies te wees, begin by die huis.

Selfs moderne biologie bevestig dat die mens se brein bedraad is om ‘n voorkeur vir en ‘n vertroue te hê in mense wat soos hy lyk en is. Die Afrikaner, ná amper vier eeue se uitsifting in ‘n ongerepte, bloedeisende land, het geleer dat hy net twee wesens kan vertrou: die Here en ander Afrikaners. Sedert hulle samestelling as ‘n klein volkie in ‘n groot en leë land, het hulle gewys dat hulle die vermoë het om te bou en te versamel. Hulle het gou genoeg uitgevind dat wat hulle opgerig en bymekaar gemaak het, die nyd van ander, minder produktiewe, maar altyd talryker, inwoners sou trek. Hierdie afgunstige massas sou van meet af aan demonstreer dat daar in hulle ywer om die Afrikaner se goedere te bekom, geen perke aan hulle brutaliteit is nie.

Die ylgesaaide Boere het net een kans op oorlewing gehad en dit was om teen die bedreiging saam te snoer. Die harde lewe, genadelose eise en voortdurende aanslae teen hulle, het hierdie pioniers gehard gemaak, met ‘n ongeëwenaarde bedrewenheid om te oorleef. Hulle slaankrag het eksponensieel vermeerder volgens die getalle wat hulle byeen kon bring. As een Boer vyf Xhosas op loop kon jaag, kon twee van hulle twintig troef. Om dit te doen, moes hulle volslae vertroue in mekaar gehad het. Hierdie vertroue is gebou op die instinktiewe broederskap, nie net van bloed nie, maar van mense wat dieselfde ontberings moes deurly, dieselfde gevare moes oorleef, dieselfde oorwinnings moes behaal. Dit is op hierdie aambeeld wat Afrikaneridentiteit gesmee is. Hierdie Afrikanerskap is diamanthard, saamgepers deur eeue se numeriese agterstand en sy teenstaanders se afguns.

Die naaste wat die liberales daaraan gekom het om die Afrikanervolk in geheel los te torring, was om hierdie kern aan te val. Nie dat hulle dit die kern genoem het nie. Die uitdrukking wat hulle gekies het om die Afrikaner se herkenning van homself en sy gehegtheid aan sy eie mee los te torring was “laer,” of, na Engels se “laager”. Meestal is dit in ‘n samestelling gebruik, laermentaliteit, asof nasionale identiteit ‘n afwyking is.

O, dat hulle geslepe was, met die manier waarop hulle die Afrikaner se eie volksgoedere teen hom gedraai het, dié is gewis. Die laer verwys natuurlik na ‘n konvooi Voortrekkerwaens, in ‘n kring getrek en beveilig, sodat dit in alle kompasrigtings stekels gehad het om vir die eksterne bedreigings te wys. Die laer het die Afrikaner, sy gesin en sy besittings bevat. Dit was die simbool van alles wat veiliggewend, huislik en bewarend was.

Die post-NP-media het die Afrikanerlaer met verbetenheid aangeval, asof dit die boosste instelling op aarde was, ‘n nasionale sentrum vir brutaliteit, verkramptheid en stompsinnigheid. Hulle het dit so histeries uitgekryt dat ‘n mens sou dink dat enige toegeneentheid van die Afrikaner jeens sy kultuur en eie mense ‘n filosofiese vergryp op die vlak van Nazisme was. Die laer was, in liberale denke, die Afrikaner se Führer-bunker waar hy aan die een kant onheil teen ander opgebrou het en aan die ander kant homself as’t ware met die liggaamsreuk van sy eie afgesaagde lewensvisie versmoor het.

Die teenvoeter vir die laager-mentaliteit is, volgens die linkse ideeprojeksie, die “lager”-lewenstyl. Dis nou “lager” soos in “lagerbier,” ten beste vergestalt in ‘n skynbaar nimmereindigende rits bieradvertensies, waarvan die advertensiereeks vir Castle-bier die driftigste voorbeeld is. Die wêreld van hierdie advertensies is bevolk met pittige, ondeunde maar lojale jongmanne wat ‘n lewe van goedige kaskenades en avontuur deel. In die nuutste aflewering koer die klingelsanger: “Hoe goed is dit om te weet my broer is hier by my…” Die kinkel is juis dat hierdie broers nie almal wit is nie. Hierdie is getransformeerde kamerade. “Ons is nie verwant aan mekaar nie,” word daar ter slotsom beduie, “maar ons ís broers.” As die beeld van hierdie lageradvertensies beeldend van die land was, sou daar nooit twee of drie blanke mans byeen gewees het sonder dat ‘n swarte, van dieselfde geestigheid en kultuuruitlewing, in hulle midde was nie – sommer net ‘n paar ouens bymekaar, party wit, party swart. Die stilswyende beskuldiging is dat ‘n enkelrasgroepie eintlik niks meer as ‘n bende fasciste is nie.

Afrikaners, skielik in hulle land meer van ‘n muishond as wat hulle tydens apartheidsdae in die buiteland was, het begin twyfel aan die uitnemendheid van die laer bo die lagerfilosofie. Hulle het begin om uit die laer te sluip, om die spreekwoordelike kruithoring vir die liberale bierglas in te ruil. Maar buite die laer is hulle verkleineer, verstoot, verkrag en vermoor. Vir ‘n tyd was die Afrikaner verdwaal iewers tussen sy herkoms uit die laer en sy onaanpasbaarheid in die lagerlewe. Hy het nie geweet wie hy is nie en het vergeet wat hy was. Dit het alles in die laaste helfte van 2006 verander met die vrystelling deur ‘n onbekende sanger, amper per ongeluk, van ‘n lied oor ‘n gestorwe Boeregeneraal: De la Rey.

Skielik was daar ‘n kultuurverskynsel in Suid-Afrika wat nét aan die Afrikaner behoort het. Ander volke dink maar net hulle weet waaroor dit gaan; hulle voel nie dit resoneer diep-diep in hulle gemeenskaplike DNS nie. De la Rey is ons s’n, net ons s’n en kan nooit vertaal en iemand anders s’n word nie. Hierdie is nié ‘n lied wat die lagerbroederskap by hulle tradisionele gelykheidsjolyte kan luister nie. Die Engelsman in die groepie sou probeer snedig wees daaroor, met ‘n onrustigheid in sy hart, die swarte sou benoud in die koers van die agterdeur gemik het. En die Afrikaner tussen hulle sou, hand op die hart en trane in die oë, uit volle bors saamgesing het. Die Afrikaner het iets ontdek – homself. Hy weet nou weer wie hy is. Hy het sy identiteit teruggevind. Hy was terug in die laer en in die laer, boeta, daar roer die dinge!

Die herlewing van Afrikanerkultuur is die primêre nasionaal-maatskaplike verskynsel van die dekade. Vandag se Afrikaner is nie veel gestoor hoe uitlanderkultuur lyk of wat die buitestaanders van Afrikanerkultuur dink nie. Hy is te besig om die opskop in die laer te geniet.

Die liberales, steeds so vol ywer vir die ANK se marxistiese, voortgesette rewolusie, het hierdie herlewing van die Afrikanerkern eers ontken en toe herken. En hy bewe. ‘n Lewenskragtige Afrikaneridentiteit is ‘n banier waar rondom konserwatiewe Afrikaners kan konsolideer en ‘n verenigde Afrikanerkern sal lei tot die herlewing van Afrikaner-nasionalisme. Dit is die liberalis se bloedstollendste, langtand-, ghrieshaarnagmerrie. Die Afrikaner-liberalis se fundamentele kenmerk is juis dat hy of sy weens ‘n persoonlike onaanpasbaarheid met Afrikaneridentiteit uit die boesem van die volk, uit die laer, gedros het. Hierdie weglopery is selde ideologies gedrewe, maar is gewoonlik die gevolg van ‘n persoonlike wanaanpassing.

Hulle maak dan nuwe gebooie vir die mensdom, gebaseer op die lering van wesenlike gelykheid. Hulle Blink Nuwe Wêreld is ‘n Huxleyaanse utopie: sonder ras, sonder geslag, sonder gesinne. Let net daarop dat hierdie Groot Gebod afdwingbaar is, nié op die liberalis self nie – net op ander mense. Daarom sien hulle geen spanning tussen hulle filosofie en hulle persoonlike afwyking daarvan nie. Koos Kombuis, getroud met ‘n wit vrou, woonagtig in ‘n wit dorp, sien geen ironie daarin dat hy eufories skryf oor die noodsaak en haalbaarheid van rassevermenging nie. Frederick Fourie het doodernstig probeer om Kovsie-koshuise te vermeng vanuit ‘n beveiligde woning in ‘n eksklusiewe wit woonbuurt terwyl hy sy dogters na ‘n wit prestigeskool toe stuur. André Brink hyg histeries oor apartheid maar hou homself en sy gesin apart van ander rasse. Nico Smith pleit vir meer kontak tussen rasse, maar sodra sy verblyf in Mamelodi as reklameset gedien het, verwyder hy homself na ‘n kleinhoewe tussen blanke bure in die ooste van Pretoria.

Vir ‘n anderhalfdekade was hulle opvattings en optrede verdoesel deur ‘n mediastofstorm. Maar in die herontdekking van sy eie identiteit, kan die Afrikaner nou die linkse geveinsdheid herken vir wat dit is. En hy is vol afsku daarvoor. Die liberalis is vinnig besig om sy greep op die Afrikaner-psige te verloor. Enige iemand wat hierdie kwyning van liberale invloed wil volg, moet maar net die oog op die lot van Nasionale Pers hou.

Dekades lank het hierdie medialeviatan dit sy taak gemaak om vir die volk politieke sedelessies in elke Naspers-publikasie in te gee. Met weergalose hubris het dit die Afrikaners as kindertjies sonder enige werklike insig gesien. Nou trek die kindertjies egter hulle gesigte en sê nee!, hulle wil nie verder verstik aan Naspers-idees nie. Lesersgetalle in al Naspers se publikasies daal soos hoefysters in ‘n plaasdam. Kommentaarkolomme ná rubrieke op Beeld, Burger, Volksblad en Rapport se webwerwe word oorheers deur vurige, regse lesers wat die polities sawwe denke van die skrywers uitkryt.

Die liberales was lank genoeg die Hamelnse fluitspeler agter wie die kindertjies aangedwaal het. As hulle net lank genoeg wil ophou om hulle knik-en-grinnik-deuntjies te speel, sou hulle omgekyk het en ‘n skrikwekkende gesig gesien het:

Dis asof die Afrikaner weg was; nou is hy terug en nou wil hy weet wat de duiwel het aangegaan terwyl hy nie hier was nie. Om te sê hy is omgekrap, is nie juis nie. Hy is nie befoeterd nie – hy is tandeknersend, glurend, vuisballend, witwarmwoedend.

Wat die waarnemer tref, is die afwesigheid van die waarskuwings. Dit was ‘n groot ding gedurende die skemertyd van apartheid. Toé was daar baie wat somber waarskuwings gerig het. Dis asof almal net alarms wou laat afgaan, rooi vlae wou waai, noodfakkels wou opskiet. Daardie dae was swart woede die groot ding. Van Rian Malan tot Chris Louw, oortuig dat hulle iets sien wat die res ontgaan, het skril caveats geskryf. Louw het by sy redakteur, Harald Pakendorf aangedring: “Meneer, ons moet die mense laat weet. Die swartes is kwaad.”

En dat die swartes kwaad was, dié was seker; so kwaad dat hulle hulle eie skole, kroeë en gemeenskapsale afgebrand het, hulle eie mense met pangas doodgekap of gehalssnoer het, so kwaad dat hulle hulle eie ou tannies, nou nie met snoeiskêre ontledemaat het nie, maar gedwing het om Stasoft te drink en aan Omo te verstik omdat hulle inkopies buite die lokasies gedoen het. Uiteindelik het hulle hulleself só geskend dat FW de Klerk se regering in afgryse oorgegee het.

Maar nou is daardie selfde stemme verrassend stom. Waar is die ondersoekende joernaliste wat die geruis hoor? Praat hulle nie met die regte mense nie? Of ignoreer hulle die woorde en wanvertolk hulle die tekens? Want woorde en tekens is oral. Dit is in die kil, vasberade braaivleisdreigemente, in die verbete rassisme van jongmense wat op skool vir hulleself moet ontdek hoe skel die kontras tussen rasse is. Dis in die tandekners van boere wat sien hoe hulle kuddes gestroop word, in die gelate, doodluiterse planne wat boervrouens maak om die lyk van ‘n veedief te laat verdwyn indien hulle mans op ‘n maanlose nag die stropers op die regte tyd, die regte plek inwag.

Dit is in die kreet van ‘n petit vroutjie wat in die berge vir my een aand ete kook, pistool agter haar lyfband ingedruk. Sy is ‘n verkragtingsberader, ‘n skouer vir enige verontregte vrou om op te huil. Maar wat die velkleur van die slagoffer ook al is, die vergryper is altyd, altyd, maar altyd swart. “Ek haat hulle, Gustav, ek haat hulle almal!”

Ek hoor hierdie woede waar belastingbetalers byeenkom om te red wat te redde is teen die arrogante onnoselheid van regstellend aangestelde dorpsbestuurders. Ek hoor dit wanneer mense vertel hoe alles, alles, alles in die stokou Nuwe Suid-Afrika verval het. En ek hoor dit wanneer kundiges waarsku: Die water is op, die kos is op, die geld is op… En niemand luister nie.

En al die tyd waggel die nuwe Suid-Afrika voort, asof die besluitnemers dodelik onbewus is van die drukking wat in die onderkorse vulkaankamer opbou. Die swart regering, altyd bereid om hulle leidrade by die liberale pers en linkse meepraters te kry, gee geen aanduiding dat hulle besef die era van sogenaamde wit vrees het oorgegaan na die tydperk van uiters werklike wit woede nie. Dit gaan hulle grootste mistasting ooit wees.

As hulle en die algemene media besef het hoe diep, hoe smeulend, hoe wyd die Afrikanerwoede is, sou hulle elke dag, elke minuut, met elke nuusbulletin, op elke TV-kanaal en radiostasie en in elke koerant sonder ophou gewaarsku het: Die Afrikaner is kwaad. As hulle maar net hulle marxistiese, formulegebabbel sal staak. As hulle maar net sal vra wat staan die regering te doen om die sissende magma van Afrikanerwoede af te koel. En as hulle nie weet wie om te vra nie, laat hulle saggies aan Praag se deur kom klop.

Daar is werkbare oplossings wat die krisis kan ontlaai voor dit ‘n katastrofe word. Ons het die antwoorde, maar die tyd is min. Want vannag, môre, volgende week, is dit heel denkbaar dat nog ‘n hulpelose boeretannie se vingers met ‘n stomp snoeiskêr gehalveer kan word. En wie weet, as daar dié keer ‘n man op pad is om die skuldige monster tussen die oë te gaan skiet, gaan hy miskien nie ‘n vriend hê om hom te stuit nie. En wie sal kan sê wat dan sal begin en waar dit sal eindig?

games toЛобановский

Gee jy nog om vir Afrikaans?

Image

'n Mens kan nie ontken dat 'n wolk van mismoedigheid en magteloosheid toegesak het oor dié wat nog vir Afrikaans omgee nie. Van alle kante word Afrikaans getakel – as dit nie van staatskant is nie, kom dit uit die geledere van Afrikaanssprekendes self, soos Koos Kombuis wat in sy kenmerkende mieksertaal in 'n rubriek in Rapport reken Afrikaans is 'n "pavement special".

Koos se "pavement special" slaan op die gemengde afkoms van Afrikaans. Hy reken Algemeenbeskaafde Afrikaans (die suiwer ras) moet die knie buig vir die "eiesoortige, loslit-Afrikaans" (die basterras) wat in koerante soos Die Son en The Voice gebruik word. Sien, want ons mag nie ons bruin broers en susters onwelkom in ons taalstal laat voel nie. Die feit dat die meeste bruinmense vere voel vir Afrikaans en so gou as moontlik wil verengels, ontgaan hom heeltemal. Die feit dat invloedryke bruinmense Afrikaans aktief by akademiese instellings ondermyn, is blykbaar nie ter sake nie.

Om van iemand soos Koos Kombuis – wat 'n vadoek dra om die werklikheid van sy kaalhoofdigheid te verdoesel – te verwag om verder as sy ingeteelde skuldgevoel en naïwiteit te dink, is egter te veel gevra. Ek los die man en sy brabbeldenke dus maar in die kombuis met sy voorraad doeke … ekskuus … vadoeke.

Waaroor dit egter gaan, is die vraag: Wil die Afrikaner nog vir Afrikaans veg? soos Dan Roodt tereg in 'n onlangse artikel gevra het.

As jy nog omgee, hier is één manier hoe jy kan veg: Jy kan die Hoërskool Ermelo ondersteun in sy stryd vir Afrikaans teen die ANC-regering. 'n Geskiedkundige toetssaak vir Afrikaans vind op 20 Augustus in die Grondwethof plaas.

Mpumalanga se departement van onderwys het na dié hof geappelleer nadat die Appèlhof beslis het dat die skool se beheerraad, en nie die onderwysdepartement nie, die laaste sê oor die taalbeleid van die skool het.

Die onderwysdepartement wil die skool, die enigste Afrikaanse hoërskool in die provinsie, dwing om na parallelmediumonderwys oor te skakel omdat 27 leerlinge toegang tot die skool wil hê en nie in Afrikaans geleer wil word nie. Daar bestaan genoeg Engelse skole in die omgewing waar die kinders in die taal van hul keuse onderrig kan word.

Parallel- en dubbelmediumonderrig is die eerste stap na 'n eentalige Engelse skool of universiteit, soos die dalende getal Afrikaanse onderwysinstansies al duidelik bewys het.

As 27 Afrikaanse leerlinge nou toelating tot 'n Engelse skool soek en aandring dat hulle in Afrikaans onderrig word, wat sal gebeur? Is daar in die hele land 'n enkele voorbeeld van Afrikaanse leerlinge wat by 'n Engelse skool durf vra het om in hul eie taal, wat deur die grondwet gewaarborg word, onderrig te word?

Luister na die geskrewe argument wat die departement by die Grondwethof ingedien het: "We submit that the refusal by the governing body of the school, despite several endeavours to change the language policy so as to be inclusive of other language groupings, and the persistence to retain Afrikaans medium of instruction as an exclusive language policy at the school, has a direct impact on the provisions of … the constitution which prohibit discrimination on the grounds of language.

"We submit, despite the denial by the respondents, that the preservation of Afrikaans language policy at the school at all costs by the governing body demonstrates that the governing body intends to preserve the school exclusively for Afrikaners. This effectively amounts to discrimination directly or indirectly on the grounds of language and accordingly this raises a constitutional issue."

Is dit ironie? Massale selfmisleiding? Die blatantste vorm van vermetelheid denkbaar? Met die fanatisme van 'n Middeleeuse inkwisiteur jag die ANC-regering "rassiste" soos hekse terwyl hy self die flagrantste rassediskrimineerder en skender van taal- en menseregte is.

Die Hoërskool Ermelo het jou hulp nodig om sy saak te verdedig. Dis een skool teen die mag van die hele staat. In werklikheid gebruik die ANC my en jou belastinggeld om ons taal te beveg. (Sal 'n mens lag of sal 'n mens huil?)

Jy kan R10 vir die skool se regskoste skenk deur die woord ERMELO na 38655 te teks. Die burgerregte-inisiatief AfriForum het onderneem om 'n bykomende rand te skenk vir elke rand wat die publiek só bydra.

Ek skenk R100 en ek is 'n arm vryskutter wat sommige maande R0 verdien. Wat gaan jy, wie se gordel nog nie tot by die vierde gaatjie ingetrek is nie, bydra?

Die ANC-regering sal geen rus vir sy siel kry tot hy die blankes en by name die Afrikaner en sy taal uitgeroei het nie: hulle is 'n pynlike doring in sy vlees wat hom voortdurend aan sy onvermoë en agterlikheid herinner. Dié wat nog glo dat Zuma & Kie dit goed bedoel met die Afrikaner, wat nog glo 'n mens moet die man 'n kans gee, se oë sal baie vinnig moet oopgaan.

Watter enkele voordeel het Zuma se aanstelling die Afrikaner en Afrikaans al besorg? Pieter Mulder se aanstelling as adjunkminister van landbou? Wat was die koste in terme van verdere verdeeldheid in die reeds verskeurde Afrikanergeledere?

насосного оборудованияданильченко юрий брониславович прокурор

Rapport en Afrikaans se joernalistieke krisis

Image

Die afgelope naweek het Rapport bekendgemaak dat hy sy internetuitgawe later beskikbaar stel in 'n poging om vas te stel of die sirkulasie van die koerant se papieruitgawe deur die aanlynweergawe beïnvloed word.

Ook is die koerant se internetlesers in 'n opname gevra of hulle bereid sou wees "om vir Rapport se aanlyn-inhoud te betaal". Agt-en-tagtig persent van die aanlynlesers het egter geantwoord dat hulle nie bereid is om te betaal nie.

As ek eerlik moet wees, sal ek ook nie vir Rapport betaal nie, hetsy op papier, hetsy op my rekenaarskerm. Benewens sensasionele berigte oor Steve Hofmeyr se owerspel en foto's van Saterdag se rugby, bevat Rapport geen nuus wat my as opgevoede Afrikanerleser interesseer nie.

  Dan praat ek nie eens van die koerant se redaksionele kommentaar in die vorm van hoofartikels en rubriekskrywers nie. Daar is die Snotkop Jan-Jan Joubert wat eers 'n Mbeki-bewonderaar was en deesdae 'n soort adolessente aanbidding vir Helen Zille koester. Die goue draad van Snotkop Joubert se oppervlakkige, onintelligente menings is egter sy afkeer van alles wat van die Afrikaner is: ons geskiedenis, Standaardafrikaans, die gedagte dat ons oor taal-, kultuur- of minderheidsregte mag beskik.

'n Ander weeklikse rubriekskrywer in Rapport is Daggakop Kombuis. Onlangs het ek al menige artikel gelees waarin daar beweer word dat blootstelling aan dagga en ander dwelms permanente breinskade tot gevolg het. Daar is 'n soort ligsinnigheid omtrent hom wat spreek van 'n verwronge werklikheidsbesef. Hoe meer geweldsmisdaad daar in Suid-Afrika gepleeg word en hoe meer ons infrastruktuur in duie stort, hoe meer juig Koos Kombuis oor "demokrasie" en "vryheid". Vir hom is daar geen verskil tussen 'n rockkonsert en 'n verkiesing nie; albei is vorme van massavermaak wat met 'n bottel Tassenberg geniet kan word. Dat Rapport hoegenaamd kans sien om Koos Kombuis as 'n politieke kommentator aan te bied, toon dat die koerant insgelyks sy kontak met die werklikheid kwyt is.

Asof 'n Snotkop en 'n Daggakop nie genoeg is nie, vergas Rapport ons ook op die halfgebakte skrywes van die Warkop Andries (alias Roof) Bezuidenhout. Benewens rocksanger, is Roof ook dosent of navorser aan Wits in 'n geesteswetenskaplike dissipline. As iemand wat self aan Wits gestudeer het in die dae toe daar nog toelatingsvereistes was, kan ek getuig van die mate waartoe die geesteswetenskappe in daardie tyd reeds gerysmier is deur 'n bonte versameling malles wat onder die vaandels van Marxisme, Feminisme en Afrikanisme die res van die samelewing as boos beskou het. Wits het nooit die ineenstorting van die Berlynse muur oorkom nie en sedertdien gryp die toenemend gehawende groepie sosioloë, politieke wetenskaplikes en literatore aan daardie universiteit na al hoe meer vergesogte teorieë en linkse clichés wat Robert Mugage na 'n groot wysgeer laat voorkom. Roof voel hom vir seker tuis by Wits en tussen die blaaie van Rapport waar hy, die Warkop, geredelik saam met Snotkop en Daggakop deelneem aan allerlei klagtes en beledigings teen die normale, heteroseksuele en boonop blanke Afrikaner wat die meerderheid van Rapport se lesers verteenwoordig.

Dan is daar nog, les bes, Jakes Gerwel, wat al odes aan die Kommunistiese Party in Rapport geskryf het en blykbaar letterlik in trane uitgebars het toe die skare vanuit Oos-Berlyn in 1989 oor die Glienickebrug gestroom het sonder dat die destydse Oos-Duitse muurskieters op hulle geskiet het om hulle in hul werkersparadys gevange te hou. Ek sou Jakes Gerwel seker Kroeskop kon noem, maar netnou word ek van rassisme beskuldig. Noem hom dan maar eerder Rooikop, wat nie die kleur van sy hare uitdruk nie, maar wel sy matelose bewondering vir alles wat met die SAKP en ANC te make het. Trouens, elkeen van sy stukke kommentaar in Rapport gaan gewoonlik oor een of ander figuur in die SAKP of ANC wat ons eer en agting verdien. Waarskynlik is hy die enigste kaartdraende lid van die ANC wat sowel 'n aanhanger van Thabo Mbeki as Jacob Zuma is, want hy koester 'n kinderlike bewondering vir albei. Hy is ook alewig besig met "nasiebou" en om alles in dié droewe land goed te praat. Elke donker wolk het sy silwer randjie en as jy gister in jou huis aangeval is of daar is ontlasting in Sannieshof se drinkwater, onthou net: dis 'n voorreg om deur die groot leiers van die ANC en SAKP regeer te word.

Voeg hierby nog Christi van der Westhuizen, Mad Max du Preez en ander Afrikanerhaters wat meer of minder gereeld in Rapport hul ekstremistiese menings lug en dis duidelik dat die koerant oor 'n doodswens beskik, ten minste wat sy sirkulasie betref. Sedert die heengaan van die ewe ultralinkse Insig, swerf 'n bepaalde groepie Kaapse joernaliste egter van een Afrikaanse publikasie na die ander rond op soek na nog 'n platform van waar hulle die Afrikanerpubliek kan beledig en slegsê.

Volgens Chris Louw beskik Harald Pakendorf oor die onderskeiding dat hy nie minder as vier Afrikaanse koerante "toegemaak het" nie. Liza Albrecht, die redaktrise van Rapport, is duidelik van plan om Pakendorf se rekord te oortref en vermoedelik daal die sirkulasie van die grootste en enigste Afrikaanse Sondagkoerant reeds. Albrecht het haar tande geslyp by die bylaag "By" waar Max du Preez, Christi van der Westhuizen en enigeen wat van Karl Marx, Andrea Dworkin en Carlos die Jakkals hou, welkom is om die kolomme vol te maak. Die voordeel van "By" is natuurlik dat kopers van Beeld, Die Burger en Volksblad dit as 'n bylaag ontvang en dus maar verlief met die inhoud moet neem. Niemand sal 'n sent daarvoor betaal nie.

Eintlik kan mens nie sê dat Liza Albrecht "uit voeling" met haar lesers is nie. Sy weet min of meer waarvan hulle hou – en gee hulle presies die teenoorgestelde. Die aanslag van Rapport – en van By – is dat Snotkop, Daggakop, Warkop, Rooikop en al die ander -koppe oor 'n soort vrypas beskik om die Afrikanerlesers van dié publikasies week vir week te beskuldig, af te kraak en te demoraliseer. Enigiemand wat homself 'n Afrikaner noem, is per definisie 'n rassis en elkeen wat van skoon drinkwater hou, is 'n Nazi wat nie die noodsaak vir diversiteit en transformasie wil erken nie.

Toevallig sien ek so pas raak dat Liza Albrecht oor 'n Twitter-profiel beskik. Ja, reg geraai, sy beskryf haarself, nogal in die Rooitaal, as: "I'm the editor of an Afrikaans newspaper in South Africa." Ene Jannie Momberg, redakteur van News24, 'n volgeling van haar op Twitter, het beswaar teen die gebruik van blankes met blonde hare op die Vryheidsfront Plus se verkiesingsplakkate.

Ek vermoed Liza Albrecht het ook 'n beswaar teen die ras en haarkleur, asook taalvoorkeur, van haar lesers. Vandaar haar veldtog om Rapport te herposisioneer as 'n byderwetse, linkse, regstellende-aksiekoerant wat iewers in die toekoms met City Press gaan saamsmelt om net in Engels te verskyn.

Liza Albrecht en haar medejoernaliste – of eerder: -propagandiste – sal seker altyd werk hê. Immers is hulle konformiste wat bloot die heersende ideologie wat vanaf die ANC-beheerde SAUK se kassie uitgebasuin word, aanhang en in Afrikaans aan die dom Boere wat steeds aanhou om Afrikaanse koerante te koop, opdis. As Rapport weens sy grondige minagting vir sy eie Afrikanerlesers ophou bestaan, sal Albrecht vir News24, City Press of enige ander publikasie in die Naspersstal gaan werk.

Die tragedie vir Afrikaans lê daarin dat dít wat vir die "editor of an Afrikaans newspaper in South Africa" net nog 'n werk is, waarskynlik vir die voortbestaan van ons taal, selfs ons fisieke voortbestaan in dié land, van wesentlike belang is.

Die internet gaan in die nabye toekoms die leemte vul wat deur kwynende Afrikaanse koerante soos Rapport gelaat gaan word. Allerlei "alternatiewe Afrikaanse media" wat grotendeels aan die dwangbuis van politieke korrektheid en konformisme ontkom, bestaan reeds op die wêreldwye web. Maar vir die afsienbare toekoms gaan daar steeds mense wees wat, hetsy nie oor rekenaars beskik nie, hetsy verkies om hul nuus op papier te lees.

Ek kan voorsien dat, soos wat publikasies soos Rapport saam met hul ANC-ideologie oor die afgrond stort, ons ook met omsigtigheid alternatiewe op papier gaan skep. Daar bestaan allerlei streeks-, gemeenskaps- en partykoerante in Afrikaans wat met 'n bietjie verbeelding gekonsolideer kan word om 'n alternatief vir Rapport in gedrukte vorm te bied.

In so 'n geval sal die heengaan van Rapport, jou anti-Afrikanerkoerant op 'n Sondag, geen tragedie vir ons taal wees nie, maar eerder 'n bevryding.

Intussen het ons by praag.co.za, wat grotendeels 'n vrywillige inernetpublikasie is, besluit om ten minste elke Sondagoggend ook 'n uitgawe aan lesers te bied wat finaal genoeg van die Rapportkoppe gehad het.

Lewer kommentaar op dié rubriek op Dan Roodt se woernaal.

для гидроаккумулятораФильчаков

Dan Roodt: Koos Kombuis en die verghwarring van die Afrikaner

‘n Verkorte weergawe van dié rubriek het reeds op LitNet aan die begin van 2006 verskyn. Hierdie is egter die eerste publikasie van die volledige weergawe.

Daar is seker min openbare figure in dié land wat so deur die media op
die hande gedra word soos Koos Kombuis. Onder andere skryf Kombuis ‘n
weeklikse rubriek in Rapport, die grootste Afrikaanse koerant, waarin
hy so pas sy “bedanking uit die Afrikanerdom” aangekondig het.

“Want,” sê die Koos in sy anglisistiese Afrikaans, “die konsep (van
Afrikaner) is obsoleet.” Dus oudmodies, uitgedien, oorbodig.

Wie en wat is Koos Kombuis nou eintlik dat hy hom kan aanmatig om sy
uittrede uit die volk aan te kondig, amper asof hy ons staatspresident
was wat nou iewers aan die kus gaan woon om sy mémoires op te teken?

Myns insiens is die Koos ‘n soort Bertolt Brecht vir die swaksinniges,
die dronkes, die bedwelmdes, die skorriemorrie, die
lumpenproletariaat. Soos Bertolt Brecht wat ná die Tweede Wêreldoorlog
deur die Oos-Duitse Kommunistiese Party toegelaat is om sy Berliner
Ensemble in Oos-Berlyn te vestig, tree Kombuis as Afrikaanse
gelukbringer vir die ANC-regime op. As Marthinus van Schalkwyk
liedjies kon skryf, sou hy en Koos ‘n PK-Groep Twee op die been kon
gebring het.

Naas André Brink wat hom self in sy romans aan groteske politiekery en
selfs Afrikanerhaat skuldig maak, is die Koos ‘n soort vlagskipskrywer
vir die Nasionale Persgroep en word sy pueriele boeke en infantiele
politiek aggressief aan die volk afgesmeer. Brecht was ‘n kommunis en
het homself in die eerste plek nie as ‘n skrywer nie, maar as ‘n
politikus beskou. Die Koos verteenwoordig insgelyks ‘n buite-
parlementêre politikus wat soms letterlik verdwaal, net om homself
weer te vind en ons met sy kleinlike prekies in geradbraakte Afrikaans
te vergas.

Terloops verneem ek onlangs dat Nasionale Pers se vlagskiptydskrif
waarin politiek korrekte idees onder die dekmantel van “leefstyl”
aangebied word, Insig, intense sirkulasieprobleme ondervind. Blykbaar
sou Insig se omset van 20 000 na 7 000 gedaal het. Die volk waaroor
die Koos en sy marionetmeesters so neerhalend is, is dus nie dom
genoeg om die ANC en Naspers se ideologie wat in kleurfoto’s verpak
word, huidjie en muidjie te sluk nie.

Daar is egter ‘n ander sy aan Koos Kombuis wat my interesseer, en dit
is juis sy status as ghwar. Insig, KykNet, Rapport en ander
Naspersmedia is nie soseer besig om die Afrikaner soos in Oos-
Duitsland met Marxistiese ideologie te voer nie, maar poog om hom
onherroepelik te verghwar. Onder die vele metodes waarmee ons tans
ondergrawe en afgetakel word, hetsy fisies deur plaasaanvalle en
misdaad, hetsy sielkundig deur manipulasie van ons godsdiens of
geskiedenis, tel ook verghwarring.

Pleks van Karl Marx se Das Kapital te moet lees, word ons gevoer met
Die Son en die skryfsels van Kombuis. Of die nihilistiese liefjies van
Fokofpolisiekar.

In die vyftiger- en sestigjare was Mimi Coertse een van ons heldinne,
tesame met Gé Korsten, Min Shaw en ander. Mimi Coertse was ‘n
internasionaal beroemde operasangeres en gekultiveerd op die Europese
manier. Sy het ‘n keurige Afrikaans gepraat, maar ook Duits en
Italiaans. In populêre taal was sy vir baie Afrikaners ‘n “rolmodel”
tydens die Afrikaner se fase van opwaartse mobiliteit.

In die jaar 2006, met die Afrikaner op pad na armoede weens
uitsluiting op grond van ras en taal, het ons nuwe rolmodelle nodig.
Pleks van Mozart-operas en eurosentriese sofistikasie, moet ons tans
geïndoktrineer word met ‘n soort jolliehotnothedonisme soos deur die
Koos verpersoonlik word. Hy drink homself poepdronk en spog agterna
oor sy babelaas in Rapport. Drank is koning en dwelms is koel.

Tereg noem die Koos aan die einde van sy rubriek in Rapport dat sy
kinders as nie-Afrikaners “…ten minste nooit hoef uit te draai soos
die Waterkloof-Vier nie.”

In die Nuwe Suid-Afrika is die ideaal dus nie meer Waterkloof waar ‘n
seder soms geval het nie (met apologie aan PG du Plessis), maar
Mitchellsplein waar die messe blink en die dagga- en Mandraxwalms uit
gebreekte bottels opstyg.

Die wêreld sonder reëls van Mitchellsplein se jeugbendes
verteenwoordig die nuwe ideaal waarheen die verghwarde Afrikaner moet
aspireer. Vanuit die direksiekamer van Naspers se gebou in
Heerengracht word hierdie grootse kultuurtransformasie met kille oë op
Die Son en Die Huisgenoot se verkoopsyfers beplan.

Vergeet van boeke lees; luister liewer “songs”. Wees vry en
nihilisties. Maak ‘n dop, wees vrolik, want môre is jy landuit, gekaap
of vermoor. Carpe diem. As Omar Kajam vandag in Suid-Afrika geleef
het, sou hy gesing het van “bier, gekleurde vroue en songs”.

Selfs ‘n Hervormde predikant van Naboomspruit het lyk my voor die
aanslag geswig en vir hom ‘n swart courtisane of twee by die plaaslike
Truckstop gaan oplaai. Of die man vooraf deur Koos Kombuis beïnvloed
is, weet mens nie.

Dis altyd makliker om af te breek as op te bou. Dis insgelyks
geriefliker om te verghwar as om te veredel. Sowel die ANC as Naspers
het hierdie natuurwet goed ter harte geneem en is daarom besig om ons
al dieper in die modder in te druk.

Arnold Toynbee skryf iewers in sy Study of History dat dit vir die
ordentlike en patriotiese mens besonder pynlik is om tye van
dekadensie te moet beleef. Deur die eeue heen was satire en spot egter
die gekose wapen van die patrisiër wat moet ly onder die geweld, die
swak smaak, die malle rumoer van die gepeupel wat fuif asof daar geen
dag van môre is nie.

Omdat die Afrikaner deur sy godsdiens en verbintenis tot die grond
geleer is om hoogmoed te verafsku, kan ons nie maklik snobisties wees
nie. Anders as die Britte of die Franse byvoorbeeld wat elke teken van
swak smaak, ‘n swak gekose kledingstuk of “‘n aksent wat gly” met
vernietigende minagting behandel.

Onder die huidige aanslag vanuit die ANC-beheerde of ANC-gesinde media
wat ten doel het om ‘n eens trotse volk kombuiswaardes aan te leer,
kan ‘n bietjie hoogmoed en snobisme ons egter net goed doen.

Soos een ontstoke leser van Rapport dit prontuit aan Koos Kombuis
gestel het, “jy is ‘n vark”. Hy kon bygevoeg het: Meng jou met die
semels…