Leon Lemmer: Neville Alexander: Groot in ‘n era oorheers deur klein mensies

Neville Alexander
Deel op

In ‘n normale, ontwikkelde, beskaafde samelewing is daar die vermoë om tussen goed en kwaad te onderskei. Misdaad is sekerlik een van die dinge wat met afkeer bejeën behoort te word; des te meer as ‘n land in sy geheel wêreldwyd as ‘n misdaadnes bekend staan. In die geval van Suid-Afrika word die misdadigheid van die verlede, veral van die periode 1984-1994, tot in die hede voortgesit. Onder die dekmantel van nuutgevonde vryheid is die grootste booswigte in leidende magsposisies ontplooi. Die algemene voorkoms van booswigte in topposte is eintlik al sigbare teken van FW de Klerk se beloofde wigte en teenwigte. Hoe groter die vergrype, des te meer word hierdie boosdoeners vereer. Die boodskap wat hiermee aan die gepeupel oorgedra word, is dat misdaad lonend is; selfs dat dit moontlik die lonendste, toeganklikste en volhoubaarste plaaslike bedryf is.

Daar het in plaaslike menseheugenis ‘n radikale, revolusionêre omkering van waardes plaasgevind. Onbevoegdes kwalifiseer om die hoogste poste in die land te beklee. Die allerverderflikste misdadigers word vereer en tot rolmodelle verhef. Diegene wat die morele kern van die land verteenwoordig, word verguis. Bouers word as veragtelik en brekers as voortreflik voorgestel. Van diegene wat hulle goed gedra en ‘n misdaadvrye rekord het, word verwag om herhaaldelik om verskoning te vra. Almal wat weens ernstige misdade op Robbeneiland aangehou is, word egter sonder meer as goed geklassifiseer. In hierdie konteks word Neville Alexander (1936-2012) hier geëvalueer. Hy kwalifiseer tans vir verering omdat hy nie-wit is en veral omdat hy saam met Nelson Mandela ‘n gevangene op daardie eiland was (1964-1974). Alexander se kommunisme (Troskiïsme, dus permanente revolusie) verleen deesdae verdere glans aan hom.

Weerkaatste Mandela-lig bou op ‘n misplaaste manier aan Alexander se beeld; nie net in die politiek nie, maar ook in die akademie en ongelukkig, hoe vergesog ook al, selfs in die konteks van Afrikaans. Wie sou in die vorige eeu kon dink dat die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) hieraan medepligtig sou wees deur sy prestigetoekenning na Alexander te vernoem? (Praag 17 September). Weens geestelike ontreddering tree universiteite deesdae eerder polities as akademies korrek op. Die allerheiligstes in die NG Kerk spreek hulle seën oor bv die Belhar-belydenis en homoseksualiteit uit. Waarom kan die ATM dan nie maar probeer om Robbeneiland pleks van die Taalmonument tot die toonbeeld en gevangenes soos Mandela en Alexander tot die vaandeldraers van Afrikaans te verhef nie? Mandela het immers Ingrid Jonker se gedig “Die kind” in die parlement voorgedra.* Uiteindelik kan hierdie ingesteldhede tog maar net tot die vernietiging van onderskeidelik die akademiese lewe, die NG Kerk en Afrikaans lei. Die huldiging van Jonker vandeesmaand by die kykNET Foxwood-fees (LitNet 13 deser) word ongetwyfeld deels deur linkse politiek gemotiveer.

[* Die gedig handel oor ‘n swart kind wat deur die blanke bewind se veiligheidsmagte gedood is. Dit is dus duidelik dat Mandela ‘n politieke motief gehad het toe hy hierdie gedig uitgesoek het. Omdat alles wat Mandela sedert sy vrylating in 1990 gedoen het normaalweg gunstig bejeën is, is sy optrede in die parlement geloof as ‘n erkenning van Afrikaans. Die misbruik van die gedig vir politieke doeleindes word voortgesit. Bongani Ndodana-Breen, wat die oratorium Credo, gebaseer op die Vryheidsmanifes, gekomponeer het, het nou ook “Die kind” getoonset. Vir die komponis gaan dit oor “die immoraliteit van apartheid”. Die “militarisering van die apartheidstaat” word in Afrikaprotesmusiek verklank. ‘n “Struggle-lied ‘Oliver Tambo thetha noBotha’ (Oliver Tambo praat met Botha)” word aangehaal. “Die bekroonde sopraan Goitsemang Lehobye gaan in die première sing.” Die komposisie sal op 22 deser in die Kaapstadse stadsaal deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes uitgevoer word (Die Burger, 12 deser, p 9).]

Dit is moontlik na aanleiding van die ATM se Alexander-manie dat LitNet op 28 September ‘n teks van Alexander, wat uit 2001 dateer, hergepubliseer het: “Die oorlewing van die nie-dominante tale van Suid-Afrika“. Dit is ‘n voordrag wat hy by die KKNK gelewer het. Hierdie betoog gee ‘n verteenwoordigende aanduiding van Alexander se taalbenadering en bevestig myns insiens dat hy ‘n randfiguur in Afrikaans was en glad nie iemand wat met reg op ATM-verering aanspraak kon maak nie; veral nie in vergelyking met talle groot geeste in die Afrikaanswêreld nie. Sy nie-wit- en Robbeneiland-status was deurslaggewend.

Soos dit ‘n ANC-aktivis betaam, opper Alexander geen beginselbeswaar teen elf amptelike tale met (teoreties) gelyke regte nie. Daardie gelyke regte moet, volgens hom, in die praktyk toegepas word. In werklikheid is dit onprakties, maar diegene wat oor die taalopset in die nuwe Suid-Afrika onderhandel het, het (soos in so baie ander opsigte) nie deur die ANC se sluwe plan gesien om die koloniale taal Engels in die praktyk eintlik die enigste amptelike taal te maak nie. Deur verraad in eie geledere is die land, Afrikaners en Afrikaans sedert 1990/1994 ernstige skade berokken.

In die geval van universitêre onderrigtale is daar diegene wat dink dat dit aan “die mark”/aanvraag oorgelaat moet word, wat “die doodsvonnis vir ‘n relatief klein taal soos Afrikaans sou beteken … dit in die moderne regsgeskiedenis en in die praktyk tog vas staan dat die dominante taal of tale altyd op die sogenaamde vrye mark sal seëvier.” Hierdie benadeelde posisie van Afrikaans volg uit die bepalings in die grondwet, maar Alexander erken dit nie uitdruklik nie; ook nie dat Engels vanweë die grondwet baie gebaat het en dat Afrikaans die enigste plaaslike taal is wat (moontlik onherstelbare) skade gely het nie. Hendrik Verwoerd het Afrikaans “die taal van ons wonderlike toekoms” genoem (JC Steyn, Sonkyker, Kaapstad: Tafelberg, 2008, p 167) en dit vroeër selfs as enigste amptelike taal voorgestaan. In die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, daarenteen, is daar diegene wat die getal amptelike tale tot drie wil verminder (Engels, ‘n Nguni- en ‘n Sotho-taal) en Afrikaans wil afgradeer van ‘n amptelike tot ‘n nasionale taal (Die Burger, 30 Junie, p 2).

Hierna oorweeg Alexander die taalverskynsel in die globale konteks en kom tot die gevolgtrekking dat daar ‘n “lemmingsvaart na eentaligheid” is, veral in die Anglo-Amerikaanse wêreld. In die Europese Unie bespeur hy egter die erkenning van veeltaligheid. Tereg bepleit Alexander politieke, biologiese, kulturele en taaldiversiteit. Ek dink nie politieke diversiteit word noodwendig deur die ANC voorgestaan nie. In daardie geledere is daar veral onder die kommuniste geen beginselbeswaar teen ‘n eenpartystaat nie. Biologiese diversiteit is ook nie hoog op die ANC-agenda nie. Dit word immers teengespreek deur die beleid van gelyk- en eendersmaking, gedwonge rasse-integrasie en nasiebou; ‘n bevolking wat reeds oorwegend swart is en daarby toenemend verswart.

As ANC-aktivis wil Alexander Afrikaans deel van so ‘n opset maak. “Afrikaans kan ‘n sleutelrol in die bevestiging van die demokrasie in Suid-Afrika speel namate dit sy bates en voordele met die ander inheemse tale van die land deel.” Alexander wil dus Afrikaans inspan om die huidige grondwetlike bedeling te onderskraag. Volgens hom moet Afrikaans nie slegs ter wille van homself bevorder word nie, maar saam met die ander inheemse tale. Afrikaans moet dus toelaat dat op hom geparasiteer word; ‘n tipiese ubuntu-oproep waarin die een party (Afrikaans) gee en die ander partye (Afrika-tale) ontvang, bv waar “die geletterdheid of ‘n leeskultuur en die een of ander Afrikataal … bevorder” word.

Dit is die soort taleverhouding wat deesdae glad nie meer as vergesog geag word nie. Die Afrikaanse Taalraad (ATR), die ATM en die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) onderskryf die beginsel van parasitering. Die ATR wil om die dood nie letterlik ‘n Afrikaanse taalraad wees nie. Hy beskryf homself eerder as ‘n versoenings- en meertaligheidsraad. Alexander loof hierdie soort houding as ‘n bydrae tot “die uitbou en behoud van die demokrasie in Suid-Afrika” en as “een van die natuurlikste maniere om regstellende aksie sonder enige verwysing na ras of kleur te bevorder. Dit is ook een van die belangrikste maniere om te verseker dat die wil van Afrikaanssprekende mense in Suid-Afrika om die status en gebruik van die taal te behou nie ‘n masker is vir die strewe na die behoud van minderheidsvoorregte wat uit ‘n ander tydvak afkomstig is nie.” In hierdie aanhaling is daar heelwat verdraaiing waaroor ek nie uitwei nie, want dan sal my teks te lank word.

My standpunt is dat Afrikaansinstansies, soos die ATR, ATM en WAT, hulle sekerlik in hoofsaak by Afrikaans moet bepaal, indien nie uitsluitlik nie; dat Afrikaans in ‘n stryd om oorlewing teen Engels en die ANC-regering verkeer en energie en aksies dus op Afrikaans toegespits moet word. Daar moet liefs nie (ongevraagd) ten bate van Afrika-tale gearbei word nie, want jy sal waarskynlik ondankbaarheid oes en heel moontlik ook van paternalisme beskuldig word. Daar moet “nie sonder deeglike beraadslaging inisiatiewe vir andere van stapel [ge]stuur [word] nie … ons moet enige aanduiding van paternalisme en beterwetery vermy … ‘n Mens kan adviseer, maar jy moet nie voorskryf nie.” Dus, al weet blankes beter, al is swartes hulpbehoewend, mag dit nie te kenne gegee word nie. Bowenal, as jy daarby Afrikaans en Afrikaner is, onthou wat die apostel Paulus geskryf het: “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie” (Galasiërs 6:9), al ontvang jy smaad in ruil daarvoor.

Alexander troos hom met hierdie ydele hoop: “dat ‘n samewerking, bondgenootskap of alliansie van die nie-dominante tale en hul sprekers in Suid-Afrika daartoe kan lei dat ‘n ewewig tussen al [!] die tale van die land herstel en gehandhaaf kan word”. Die punt is egter: Selfs al staan al tien ander tale eendragtig saam, sal Engels hulle steeds in die huidige grondwetlike bedeling oorheers. Daar moes nooit aan die vorige bedeling van twee amptelike tale getorring gewees het nie. As alternatief moes Afrikaans eerder die enigste amptelike taal gewees het, soos in 1941 deur onder andere Hendrik Verwoerd voorgestel is, want Afrikaans versinnebeeld Europese beskawing, wat eens heilsaam Suid-Afrika en Namibië tot in hulle verste uithoeke gekenmerk het. Engels was net ‘n stadstaal. Afrikaans was dié landstaal.

Alexander gaan egter selfs verder met sy goedpraat van die huidige onverkwiklike taalsituasie: “dat ons enige neiging tot diglossie op die gebied van amptelike tale moet teenwerk.” [Diglossie: “Vorm van tweetaligheid wat daarin bestaan dat daar ‘n hoër en laer vorm van dieselfde taal voorkom, een vir formele en een vir informele gebruik” (HAT).] As ons diglossie ietwat aanpas, word beweer: dat Standaardafrikaans nie as ‘n hoër taal as Kaaps geag moet word nie; dat hierdie onderskeid liefs nie gemaak moet word nie. Daarmee word die verskansing wat Standaardafrikaans teen verengelsing bied, afgebreek. Kaaps bied geen sodanige verskansing nie omdat dit wesenlik ‘n mengeltaal met ‘n groot Engelse komponent is.

Wat Alexander voorstaan, is die verdere verswakking van die posisie van Afrikaans. Ook omdat hy verkies dat Afrikaans onbeskermd gelaat word: “Ek wil hier ook duidelik sê dat ek nie vir die verskansing van taalregte as groepregte te vinde is nie.” Die ATR verkondig deurgaans die gelykheid van Afrikaansvariëteite maar bevorder Kaaps baie meer luidrugtig as Standaardafrikaans. Dit is kenmerkend van die nuwe Suid-Afrika in die breë: om wat op ‘n hoë vlak is, neer te haal tot ‘n laer vlak, of dit nou onderwys of dienslewering of wat ook al is; om dinge op ‘n laer vlak tot onverdienstelike gelykheid te bring.

Enersyds is daar optimisme by Alexander: “Afrikaans mag en sal nie kwyn, of selfs verdwyn, nie … daar geen rede is om te vrees dat Afrikaans gaan verdwyn nie … In ‘n demokratiese Suid-Afrika gaan Afrikaans nie uitsterf nie … daar geen rede is om paniekbevange te wees nie.” Asof die soort demokrasie wat ons plaaslik het nie ‘n verswelgingsmeganisme is nie, word dit voorgehou as ‘n waarborg vir die voortbestaan van Afrikaans. Hierdie onbekommerdheid oor Afrikaans is kenmerkend van al die bruin Afrikaanssprekendes wat hulle dikwels in die massamedia oor Afrikaans uitlaat, bv Henry Jeffreys, Michael le Cordeur en Danny Titus. Daarom weier hulle om hulle by die Afrikaanse taalstryd te laat betrek. Taalbulle is glo onnodig.

Volgens Alexander word ‘n taalstryd vermy as “Afrikaanssprekende mense ‘n vennootskap met ander Afrikataal-sprekers teweegbring … dit die enigste manier is om ‘n nuwe etnies gebaseerde taalstryd te vermy … Dit is my benadering in hierdie saak dat die geskiedenis op ‘n baie paradoksale wyse vir Afrikaanssprekende mense en hul leierskap die geleentheid bied om op ‘n grootse manier die eenheid in die diversiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing te versterk en te onderskraag deur sekere inisiatiewe op hierdie gebied te neem.” Myns insiens gaan saamstaan met Afrika-tale Afrikaans min baat of glad nie. Die taalstryd vir Afrikaans is teen die dominansie van Engels, plaaslik en internasionaal, en die vyandigheid van die ANC-regering gemik.

Andersyds besef Alexander dat hy met die optimisme oor Afrikaans ‘n grashalm beet het. “As ons en ander nie-Engelssprekende Suid-Afrikaners nie ons moue oprol en daadwerklik aan die handhawing van die nie-dominante tale werk nie, dan is daar geen waarborg dat enige een van hulle sal oorleef nie … As daar nie wal gegooi word nie, sal ons binnekort die situasie hê waar ‘n taal soos Afrikaans net in die kerk of in gesins- en gemeenskapskonteks en altemit nog gedurende die eerste drie jaar op primêre skool gehoor gaan word. Natuurlik sal ons ook nog radioprogramme en betaaltelevisie kan ‘geniet’. Dit is immers die situasie waarin alle ander Suid-Afrikaanse amptelike tale, Engels uitgesonder, hulself bevind. En wie wil beweer dat die Afrikaanse pers sy lewensvatbaarheid sal behou wanneer die aantal mense wat die taal kan lees en skryf begin afneem?” Soos gebruiklik in bruin geledere word geen woord gerep oor die gehalte/suiwerheidsgraad van daardie Afrikaans nie. Omgangsafrikaans het reeds dermate versleg dat ek nie Afrikaanse televisie kan geniet nie.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het deesdae ‘n rektor wat ontken dat die US ‘n Afrikaanse universiteit is. In Alexander het Wim de Villiers ‘n voorganger: “‘n Universiteit wat voorgraads Afrikaansmedium-klasse aanbied, maar ook toesien dat ander tale op sekere maniere voorgraads en veral nagraads geakkommodeer word, is … nie ”n Afrikaanse universiteit’ nie. Dit is wel ‘n universiteit waar die handhawing en die verdere ontwikkeling van Afrikaans as taal gewaarborg [!] word; ‘n Afrikaans-georiënteerde universiteit, dus. Sulke universiteite is ‘n conditio sine qua non vir die voortbestaan van Afrikaans as wetenskapstaal en as taal van die hoër kultuur.” In werklikheid word die voortbestaan van Afrikaans aan geen universiteit gewaarborg nie; sekerlik nie aan die De Villiers-US nie. Dit is opvallend hoe dikwels enige moontlikheid dat daar steeds so iets soos ‘n Afrikaanse universiteit bestaan, ontken word. Die bestaan van (uitsluitlik) Engelse universiteite word nooit ontken nie. Waarop dit myns insiens dui, is dat Afrikaanse universiteite sonder meer as ongewens en Engelse universiteite as gewens beskou word.

Teen die einde van die artikel laat Alexander hom soos volg uit: “Ek meen ons moet aanvaar dat daar ruimte onder ons is om van mening te verskil oor hoe ons met ons etniese erfenis moet omgaan. Solank ons toesien dat ons die bevolking van Suid-Afrika bymekaar hou [dus nasiebou], dat hulle nie op grond van sogenaamde [!] ras, taal, kultuur of ander kenmerkende verskille onstabiel raak en uitmekaarspat nie, het ons almal die reg om vir ons visie van ‘n toekomstige Suid-Afrika te mobiliseer. Wat die taal self betref is dit baie duidelik dat die grondwet, die taalwet waarmee ons op die oomblik besig is, die feit dat Afrikaans die derde grootste taal in die land is, die wil van Afrikaanssprekende mense [feitlik uitsluitlik Afrikaners, maar Alexander sal dit nie erken nie] om hul taal te handhaaf, die bestaan van talle Afrikaanse organisasies en projekte, die dinamiek van die moderne Afrikaanse literatuur, musiek- en verhoogkunste en die tegniese en tegnologiese kundigheid en infrastruktuur waarop voortgebou word, die beste basis vir die instandhouding van die taal is.” Let op hoe Alexander by voorkeur van “die taal” praat en nie Afrikaans by die naam noem nie en ook nie Standaardafrikaans nie en bowenal nie Afrikaners nie. Wat hy “die beste basis” vir Afrikaans noem, is heeltemal ontoereikend. Wat nodig is, is grondwetlike erkenning van hoogstens twee amptelike tale, waarvan Afrikaans een is, en ‘n regering wat Afrikaans as ‘n kleinood koester en daadwerklik bevorder.

Hierdie voordrag toon duidelik dat Alexander ‘n afstand tussen hom en Afrikaans gehandhaaf het. Dié verwydering kan veral aan politieke oorwegings toegeskryf word. In sy geskrifte gaan dit nie spesifiek om die bevordering van Afrikaans nie, maar eerder om die propagering van die waarde van moedertaalonderrig en veeltaligheid. In die konteks van Afrikaans het Alexander hoogstens in die tweede liga gespeel en selfs daar was hy seker nie meer as ‘n reserwespeler nie. Daarom is dit misplaas van die ATM om hom op so ‘n buitensporige manier te vereer. Dit bevestig die vermoede dat dit vir die ATM eerder om politiek as die heil van Afrikaans gaan.

Henry Jeffreys

Ter versagting van wat ek oor Alexander geskryf het, moet ek byvoeg dat sy gesindheid jeens Afrikaans glad nie so aanstootlik soos dié van Henry Jeffreys is nie. In ‘n onlangse artikel vra Jeffreys waarom swart Afrikaanssprekendes so stil oor Afrikaans is; waarom hulle toelaat dat die agenda deur blankes bepaal word (Die Burger, 9 deser, p 15). Vir Jeffreys as swartmagaktivis is bruines, soos hy, eintlik swart. Hy wil kennelik in dieselfde mate as swart swartes bevoordeel word. Die rede waarom blankes, volgens hom, op die terrein van Afrikaans meer bedrywig en suksesvol is, is omdat hulle tydens apartheid bemagtig, dus bevoordeel, en beter toegerus is. Dit is die ou storie: As bruines dieselfde geleenthede gehad het, sou hulle net so goed gepresteer het.

Hy verwys dan oudergewoonte na “ons ongelukkige geskiedenis”. Wat hy doelbewus miskyk, is die uitsonderlike prestasies van blankes en veral Afrikaners oor ‘n tydperk van meer as drie en ‘n halwe eeue in Suidelike Afrika. Kontrasteer dit met die relatiewe prestasieloosheid van die Khoi-San, slawe, bruines en swartes; húlle ongelukkige geskiedenis. Die vraag is of Jeffreys nie dalk aan ‘n ernstige graad van gene-jaloesie ly nie. Maar Jeffreys se gemeenheid strek verder. Hy beweer Afrikaners (“ons medetaalsprekers”) het die nie-wit Afrikaanssprekendes van koers af gelei. Soos die gebruik geword het, word blankes ook hier die skuld vir nie-blankes se relatiewe prestasieloosheid gegee. “Daar is eenvoudig te veel om oor skaam te wees oor Afrikaans se geskiedenis.” Let op die volgende uiters aanstootlike formulering: “Swart” Afrikaners se “eie skugterheid om openlik vir die taal [soos by Alexander word Afrikaans nie by die naam genoem nie] op te kom kan dus te doen hê met ‘n skaamheid dat daardie lelikheid op ons kon afsmeer en ons besmet.” Ek kan my kwalik groter goorheid as dié van Jeffreys voorstel en hy kom sonder protes daarmee weg in ‘n hoofstroom Afrikaanse koerant!

Jeffreys verwys na “wit taalsprekers se emosionele … verknogtheid aan die taal” en kontrasteer dit met “ons, die stiefkinders van die taal.” Dan kom hy met nog ‘n goor gevolgtrekking: “Byna die ganse Afrikaanse media – koerante, tydskrifte en televisie – word deur wit taalsprekers oorheers en bestuur. Dit beteken dus dat alle besluite oor die taal geneem word uit die baie beperkte en waarskynlik bevooroordeelde perspektiewe van wit taalsprekers.” Aan wie het ons hierdie nie-beperkte en onbevooroordeelde perspektief te danke? Aan Henry Jeffreys, wat deur bevooroordeelde wittes met beperkte perspektief jaar na jaar toegelaat word om anti-blanke- en veral anti-Afrikaner-propaganda in rubriek na rubriek te verkondig. As redakteur van Die Burger (2006-2010) het hy die beskaafde, Europeesgeoriënteerde, tradisionele lesers van die koerant vervreem. Hy is gelas om sy kantoor binne ‘n dag te ontruim. Tog word sy onverkwiklike aanvalle op blankes en veral Afrikaners sedertdien steeds in Die Burger toegelaat. Hy word polities korrek toegelaat om groter as lewensgroot te vertoon in ‘n era oorheers deur klein mensies.

Oor die US skryf Jeffreys: “Ek het nog altyd gewonder en ook geskryf oor hoekom Stellenbosch belas [!] moet word as die bewaker van Afrikaans.” Hy beweer “dat daar mense is wat ‘n emosionele verknogtheid aan die taal het en nie veel dink nie aan die skade wat die aandrang daarop as voertaal die beeld van die universiteit aandoen in ‘n veranderende Suid-Afrika wat geskoei is op beginsels van nierassigheid en toeganklikheid.” Hy noem dat die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) “die bakermat vir swart Afrikaanse skrywers en digters was. Ek reken ons het so ‘n instelling nodig. As dit dan Maties moet wees, is dit daarnatoe, mits die grondbeginsels van die nuwe Suid-Afrika nie ondermyn word nie.” Soos Alexander stel Jeffreys die heil van Afrikaans ondergeskik aan ANC-politiek. Soos Alexander wil Jeffreys nie hê dat Afrikaans beskerm moet word nie, maar dit sou goed wees as dit aan die US ten bate van bruines bestaan. Geen verwyt word na die UWK oor sy verengelsing geslinger nie; net so min as wat Jeffreys die US sy toenemende verengelsing sal verwyt. Hy het net lof vir Russel Botman se afskaling van Afrikaans gehad; hom selfs ‘n stryder vir Afrikaans genoem. Afrikaans en Afrikaners kan sonder ‘n kommentator soos Jeffreys klaarkom.

Ongelukkig onderskryf Adam Small wat Jeffreys kwytgeraak het, maar hy kap hom darem omdat Jeffreys so graag swart pleks van bruin wil wees (Die Burger, 16 deser, p 17).

Slot

Alexander en Jeffreys se verhouding tot Afrikaans word gekenmerk deur bv afstandelikheid, dislojaliteit, onbesorgdheid en ondankbaarheid. Die grondliggende rede hiervoor is geknogtheid aan linkse politiek. Dit geld ongelukkig ook vir die meeste ander bruines wat hulle oor Afrikaans uitlaat.

Ek het hier bo ‘n aanduiding gegee van hoedanig ek Alexander in die konteks van Afrikaans en die Afrikaner evalueer. Hoe word hy deur andere getakseer? In 2013 het die Pan South African Language Board sy studiebeurs na Alexander vernoem. Vanjaar het die Universiteit Kaapstad sy geesteswetenskappegebou na Alexander vernoem, onder meer ter erkenning van sy ANC-aktivisme (Die Burger, 31 Augustus, p 5). Die Universiteit van Suid-Afrika het op 8 deser ‘n Alexander-gedenklesing deur Crain Soudien in Parow aangebied (Die Burger, 2 deser, p 12).

Les bes is daar die ATM wat op 10 deser die eerste keer sy Neville Alexander-prestigetoekenning oorhandig het. Die ATM-olifant het ‘n muis gebaar. “Die medewenners is Sabina Dumas, opvoeder aan die New Orleans Sekondêre Skool in die Paarl, en die fakulteit onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) in Wellington” (Die Burger, 12 deser, p 7). Laasgenoemde is eintlik bekend as die Cape Peninsula University of Technology (CPUT). Volgens sy rektor is dit ‘n eentalige Engelse inrigting.

Die era van ‘n Langenhoven en ‘n Van Wyk Louw is klaarblyklik verby. Dit is hierdie twee skrywers wat die ontwerp van die Afrikaanse Taalmonument deurslaggewend beïnvloed het (Praag 31.08.2014). Tans vereer klein geeste eerder soortgelyke geeste. Volgens die koerantberig is die toekenning bedoel “vir ‘n individu of instelling wat op enige gebied van Afrikaans ‘n beduidende bydrae op voetsoolvlak maak.” “Voetsoolvlak” is ‘n politiek gemotiveerde term wat in die nuwe Suid-Afrika in omloop gekom het en op ‘n onderstelaag-ingesteldheid dui. Die uitgangspunt is om (normaalweg) blankes uit te sluit.

‘n Idee van hoedanig die 40ste bestaansjaar van die Afrikaanse Taalmonument gevier is, kan verkry word uit die foto’s wat by daardie geleentheid geneem is (LitNet 14 deser). Op die ATM-webwerf is daar nog geen berig oor hierdie verrigtinge gepubliseer nie. In ‘n onderhoud het die ATM-skakelbeampte die monument ‘n “simbool van versoening en nasiebou” genoem (Die Burger, By, 10 deser, p 2). Soos by die ATR word Afrikaans dus ondergeskik aan politieke oogmerke gemaak. Die voorsitter van die ATM, Mashudu Mashige, word “‘n trotse derdetaal-Afrikaansspreker” genoem. Die vraag wat gevra moet word, is: Waarom is ‘n derdetaal-Afrikaansspreker en daarby ‘n Engelsdosent die voorsitter van die ATM-raad? Die antwoord is: Omdat die ANC se Departement van Kuns en Kultuur hom aangestel het en hy polities en etnies aanvaarbaar is; asof daar nie dosyne Afrikaanssprekendes is wat suiwer vakkundig meer geskik is om hierdie funksie te vervul nie. Daar word beweer dat “alle raadsake in Afrikaans gevoer word,” wat (sover ek weet) nie die volle waarheid is nie. Die tragedie is dat selfs die vanselfsprekende status vir Afrikaans as ATM-voertaal nie meer vanselfsprekend in die ATM-raad is nie.

Ek het voorheen (31.08.2014) sterk beswaar geopper teen die misleidende inligtingspanele wat in die besoekersentrum uitgestal is. Die goeie nuus is dat hulle verwyder is. Soos gesien kan word op minstens een van die foto’s waarna in die vorige paragraaf verwys is, is ‘n nuwe permanente uitstalling in wording. Hierdie inligtingspanele word deur die ATM geskep. Die enkele panele wat reeds uitgestal word, vertoon egter dieselfde neiging tot ANC-politieke gedienstigheid as die voriges. Daar is bv reeds ‘n aanhaling van Nelson Mandela, asook een van Mathews Phosa. Dan is daar die skynbaar onvermybare foto van Mandela, ‘n relaas oor die Soweto-opstand in 1976 en ‘n verwysing na Ingrid Jonker se gedig “Die kind”. Dít is klaarblyklik prioriteitsake vir die ATM. Daar is nog geen verwysing na enige blanke wat ‘n beduidende bydrae tot Afrikaans gelewer het nie. Die ATM sou verkies dat Sneeuwitjie swart moet wees. In die eerste paneel is daar ‘n steurende taalfout: “as sulks” pleks van “as sodanig”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.