Leon Lemmer: Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument by ‘n nuwe laagtepunt

Deel op

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl het ‘n nuwe laagtepunt bereik. Ter viering van die Taalmonument se 40ste bestaansjaar gaan ‘n prestigetoekenning die eerste keer op 10 Oktober gedoen word. Sedert bv 1875, die stigtingsjaar van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), via 1975, die jaar waarin die Taalmonument ingewy is, en in die daaropvolgende vier dekades het ‘n groot getal mense Afrikaans voortreflik gedien. Watter mens sou die ATM uit hierdie groot geledere uitsoek deur sy/haar naam aan die ATM-prestigetoekenning te koppel?

Ons moet teen wil en dank in die nuwe Suid-Afrika lewe. In die huidige bestel word die verering van blankes gewoonlik as ongewens beskou, selfs al sou dit met Afrikaans te make hê. Daar sal eerder na ‘n nie-wit randfiguur gesoek word. Maar dan sou ‘n mens ‘n onmiskenbare en grondige koppeling met Afrikaans vereis. Selfs dit is ons in hierdie geval nie beskore nie.

Die ATM het ooreenkomstig sy mate van insig in en diensbaarheid aan Afrikaans (en die ANC – nie noodwendig in daardie volgorde nie) sy prestigetoekenning na Neville Alexander (1936-2012) genoem. Hy word deur die ATM feitelik korrek soos volg beskryf: “‘n Politieke aktivis en struggle-held asook bekroonde linguis, opvoedkundige en akademikus, wat hom sterk beywer het vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika” (Die Burger, 15 deser, p 4). In hierdie beskrywing is daar nie ‘n enkele woord oor Afrikaans nie; ook niks wat uitsluitlik op Afrikaans betrekking het nie. Deur ‘n randfiguur in die Afrikaanskonteks uit te soek, is Afrikaans tot ‘n randverskynsel afgegradeer.

Let daarop dat Alexander se politieke profiel eerste genoem word, wat myns insiens daarop dui dat politiek deurslaggewend by hierdie benamingsbesluit was. Alexander was saam met Nelson Mandela ‘n prisonier op Robbeneiland. Hierdie soort prestige word nou na die ATM se prestigetoekenning oorgedra. Alexander was eerder Engels- as Afrikaanssprekend. Wanneer hy gepubliseer of toesprake gelewer het, het hy dit by voorkeur in Engels gedoen; selfs wanneer die onderwerp Afrikaans was. Hy het hom inderdaad vir veeltaligheid en moedertaalonderrig beywer, maar in albei gevalle was dit nie op Afrikaans toegespits nie. Afrikaans is bloot een van die tale wat by veeltaligheid en moedertaalonderrig betrokke kan wees.

Let op die ATM se administratiewe ondoeltreffendheid. Die “oproep” om nominasies word op 15 deser gepubliseer met as sluitingsdatum 18 deser. Dit is moontlik dat ‘n polities aanvaarbare kandidaat reeds vooraf geïdentifiseer is en dat publieke deelname blote skyn is. Dié toekenning sal deur die voorsitter van die ATM-raad, Mashudu Mashigo, aan die wenner oorhandig word. Die vraag is of dit in Afrikaans of Engels gedoen gaan word. ‘n Verdere vraag is of die verrigtinge van hierdie raad deesdae in Afrikaans of Engels geskied. Ek het voorheen oor die samestelling van die ATM-raad geskryf, asook oor die toestand waarin die ATM, “‘n agentskap van die Departement van Kuns en Kultuur”, verval het (Praag 8 Maart).

“Ek sê vir julle: As hulle [in hierdie geval die Afrikaners] stilbly, sal die klippe uitroep” (Lukas 19:40); en nie net die klippe nie; ook die groot rotse op Paarlberg: “Ons vir jou, Afrikaans!”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.