Die Taalmonument: liefde vir Afrikaans dring my

Deel op

Op 14 Augustus, Afrikaansdag, is daar ‘n artikel deur Dan Roodt ter huldiging van ons moedertaal op Praag gepubliseer. Op dieselfde dag het ek Jan van Wijk se boek, Taalmonument: simbool van Afrikaans (Tokai: Historical Media, 2014, 96p, R199 in die boekwinkel, maar R120 by die monument) gekoop. Ek het hierdie boek sonder meer aangeskaf, want liefde vir Afrikaans dring my. Weens die beperkte oplaag en afset verskyn gedrukte boeke oor Afrikaans deesdae meesal alleenlik danksy ‘n ruim subsidie van die LW Hiemstra-trust. Dit geld ook hierdie publikasie.

Die boek is in groot (byna A4-) formaat met baie illustrasies, wat die produksiekoste opgestoot het. Ek het egter groot probleme met die bibliografiese afwerking van hierdie publikasie. Die newetitel wat hierbo genoem word, is op die rugkant van die boek en as deurlooptitel aan die bokant van die recto-bladsye, maar nie op die titelbladsy nie. “Die Taalmonument” is as deurlooptitel bo-aan die verso-bladsye gedruk, maar stem nie ooreenstem met die boektitel op die titelbladsy en op die omslag (voor-, rug- en agterkant) nie.

Die Afrikaanse Taalmonument
Die Afrikaanse Taalmonument
Die teks begin met ‘n bedanking, maar daar word nie aangedui dat dit deur Van Wijk is nie. Die voorwoord is deur Leoni Schmidt geskryf. In Van Wijk se teks is daar verwysings na ‘n redakteur, wat egter nêrens geïdentifiseer word nie. Ek vermoed dat Schmidt die redakteur is. Die indeks is ook hoogs onvolmaak. Daar is bv ‘n inskrywing vir sowel Hannes as JDP van der Merwe terwyl dit na dieselfde persoon verwys.

Maar laat ek dadelik byvoeg dat hierdie werk (soos ander publikasies van Historical Media) ‘n waardevolle boek is wat sekerlik sy prys werd en terselfdertyd kits-Africana is. Die outeur, Johan Carel (Jan) van Wijk (1926-2005), is die argitek van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Aan die einde van Van Wijk se teks, voor die bylaes, is daar die datum 2004 (p 69), wat blykbaar dui op wanneer die manuskrip voltooi is. In 2010 het Historical Media op sy webwerf ‘n artikel, “The Afrikaans language monument celebrates 35 years,” gebaseer op Van Wijk se teks gepubliseer. Maar die boek het eers vandeesmaand verskyn.

14 Augutus is Afrikaansdag omdat die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA) op daardie dag in 1875 aan huis van Gideon Malherbe in die Paarl gestig is om Afrikaans as bv skryf- en Bybeltaal te bevorder. Dit is ook waarom die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl staan en nie elders in Suid-Afrika nie. Van Wijk se as word in ‘n rots agter ‘n gedenkplaat naby die monument bewaar. Die Taalmonument is sekerlik sy trotsste en hopelik blywendste skepping. ‘n Newe-projek van die Taalmonument was die restourasie van Malherbe se huis onder die leiding van ‘n ander argitek, Gideon Fagan. Die Afrikaanse Taalmuseum word daar gehuisves. ‘n Amfiteater is naby die monument teen ‘n ander hang van Paarlberg gebou. Die monument is op 10 Oktober 1975 ingewy, dus ‘n eeu na die stigting van die GRA.

Leoni Schmidt skryf in die voorwoord oor Van Wijk se poëtiese visie waarvolgens “die groei van Afrikaans as pilare in ‘n snelstygende boog” (p 6) uitgebeeld word. Daardie visualisering van “hoe kan Afrikaans ‘gesien’ word” (p 8), is die argitek se hooftriomf. Maar hy het ook op ‘n praktiese manier vergestalting aan sy visie gegee deur ‘n struktuur na te laat wat min onderhoud verg. Die Taalmonument is terselfdertyd ‘n uitstekende kunswerk. Schmidt is ‘n dosent in skone kuns, maar sy woon deesdae, soos so baie Afrikaners, in Nieu-Seeland.

Hennie van Coller, ‘n Afrikaans-dosent aan die Universiteit Vrystaat, noem in sy biografiese oorsig dat Van Wijk op skool met die werk van Afrikaanse skrywers soos Eugène Marais, Louis Leipoldt, die Hobsons, Sangiro en NP van Wyk Louw kennis gemaak het. Van 1944 af het Van Wijk argitektuur aan die Universiteit Pretoria studeer. Hy het in 1949 die inwyding van die Voortrekkermonument bygewoon. Anders as hierdie vierkantige struktuur het Van Wijk agtergekom dat “hy meer aanklank vind by soepel, sagter vorms as by reguitlynige hoekiges” (13). Van Wijk het in sy professionele lewe saam met bekende argitekte soos Norman Eaton, At Meiring en Daan Kesting gewerk. Oor Van Wijk se argitektoniese skeppings skryf Van Coller: “Funksionaliteit is deurentyd gepaar met skoonheid en in die beste ontwerpe word iets sigbaar van ‘n kunstenaarscredo, [bv] dat ontwerp en ruimte in harmonie moet wees” (p 14).

Reeds in 1942 is ‘n komitee gestig om geld vir die oprigting van die Taalmonument in te samel. “Die maak van ‘n monument vir ‘n lewende taal!” (p 17). In 1964 is twaalf argiteke uitgenooi om ontwerpe vir die monument voor te lê aan ‘n keurkomitee bestaande uit die Afrikaanse letterkundige WJ du P Erlank (die skrywer Eitemal, 1901-1984) en die argitekte AL (At) Meiring (1904-1979) en JDP (Hannes) van der Merwe (1924-2012). Die wenner sou R1 000 en die ander mededingers R500 elk as prysgeld ontvang. Elf ontwerpe is van tien argitekte ontvang en Van Wijk s’n is eenparig as die weninskrywing aangewys.

Tydens die ontwerp van die monument het twee Afrikaanse skrywers Van Wijk deurslaggewend beïnvloed. In 1964 het hy CJ Langenhoven (1873-1932) se vriendin, Sarah Goldblatt (1889-1975), in Mowbray, Kaapstad, besoek. Sy het Van Wijk se aandag gevestig op wat in Deel 10 van Langenhoven se Versamelde Werke staan. Dit is die teks van ‘n voordrag wat Langenhoven in 1924 gelewer het en waarin hy die groei van Afrikaans met “‘n snel stygende boog” met ‘n “punt … in die bloue lug” vergelyk het (p 28). Hierdie beeld het aan Van Wijk die idee gegee van “‘n struktuur wat laag begin en teen die skuins terrein opgroei na bo in ‘n meetkundige kromme” (p 28).

In 1965 het Van Wijk ‘n besoek aan NP van Wyk Louw (1906-1970) in Linden, Johannesburg, gebring. Sy aandag is gevestig op Louw se essay, “Laat ons nie roem nie” (1959), in sy bundel, Vernuwing in die prosa (1963). Daarin staan: “Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit vorm ‘n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika” (p 154).

Die bouwerk het in 1972 begin en het drie jaar geduur. Die gebou en plaveisel is afgewerk met gehamerde granietbeton wat soos die omringende rotse lyk. Die geometriese aard van die bouwerk het groot uitdagings aan die bourekenaars, CP de Leeuw en Vennote, gestel. Van Wijk verwys na “‘n byna onmeetbare struktuur” (p 52). Die bouwerk was van so ‘n buitengewone aard dat ‘n onderhandelde boukontrak met ‘n enkele konsortium, Murray en Stewart in samewerking met die Paarlse bouers Holtzhausen en Hugo, aangegaan is. Kyk gerus na die video (of virtuele toer) op die webwerf van die Afrikaanse Taalmonument om duidelikheid oor die aard van die monument te kry.

Die simboliek vervat in die Taalmonument is onoortreflik. Die terrein is aan die suidelike hang van Paarlberg. Die monument is sigbaar van Du Toitskloof en ‘n deel van die Paarl, asook uit die rigting van Franschhoek en Kaapstad. Die weste- of linkerkant van die monument simboliseer Europese of Westerse en die ooste- of regterkant Afrika- en Oosterse invloed. Aan die linkerkant van die ingang is daar drie kolomme van afnemende hoogte wat die invloed van Europese tale (Nederlands, Duits, Frans, Engels, Portugees) op Afrikaans simboliseer; kolomme “wat groot begin en afwaarts kwyn en [by die “brug”] weer begin groei in ‘n nuwe taal – Afrikaans” (p 39). Aan die regterkant van die ingang is daar drie ronde koepels (soos hutte) van toenemende grootte wat die invloed van Afrika- tale (Khoi, San, Bantoetale) op Afrikaans uitbeeld. Tussen hierdie kolomme en koepels is daar ‘n alleenstaande kolom wat dui op die invloed wat Oosterse tale (Maleis, Arabies) op Afrikaans gehad het. Hierdie drie strome van invloed (Europees, Afrika, Oosters) kom bymekaar by die “brug” waarna Van Wyk Louw verwys het. By die brug begin die snel opstygende boog, soos gevisualiseer deur Langenhoven, voorgestel deur die hoofsuil, Afrikaans, wat in die “bloue lug” eindig. “Die punt [is] gerond soos ‘n plantwortel om die gedurige groeikrag te versinnebeeld” (p 77).

Van Wijk beklemtoon dat die getal en grootte van die kolomme en koepels nie gekwantifiseer moet word in ‘n spesifieke getal tale of vertolk moet word as aanduidend van die mate van hulle invloed nie. Hy skryf dat hulle “nie noodwendig in volgorde van belangrikheid of persentasiegewys [is] nie” (p 76); dit gaan om aanduidende simboliese voorstelling. Ook dat geeneen van hierdie items aan ‘n bepaalde taal toegewys moet word nie, selfs al sou daar die neiging wees om die grootste kolom (13,5 meter hoog) as verteenwoordigend van Nederlandse invloed te beskou. In ons era van politieke korrektheid waag niemand om dit te sê nie, maar wat vir my buitengewoon treffend is, is “die liggewende openinge aan die westekant” (p 37). Die Afrikaans-suil is ‘n uitgeholde toring soos ‘n skoorsteen. Daardie openinge laat lig in na binne oor die hele lengte van die Afrikaans-suil, vanaf die weste- of Europese kant en nie aan die ooste- of Afrika-kant nie.

Die hoof- of Afrikaans-suil (57 meter hoog) word aangevul en gebalansseer met ‘n korter en dikker Republiek-suil (26 meter hoog). Albei hierdie suile staan in dieselfde waterpoel; dus “in dieselfde aarde, water en son” (p 40) omdat hulle in dieselfde land ontstaan het en op dieselfde grond tot lewe gevoed word. Maar dit val op dat die enigste fontein vir die waterpoel aan die basis van die Afrikaans-suil is: “Afrikaans wat sy krag put uit wat reeds bereik is” (p 77). Die Republiek-suil is “korter, breër en lywiger as simbool van die betreklike jeug en groot groeipotensiaal van die Republiek” (p 85). Die Afrikaans-suil eindig in ‘n stomp punt (“nie meer as 1½ meter in deursnee … nie,” p 87) en dit is oop aan die bopunt omdat dit die voortgesette groei van Afrikaans simboliseer: “Die monument … moet ‘n wortelpunt bo-aan hê, om steeds groei te verbeeld” (p 33).

Die Republiek-suil, daarenteen is oop aan die oostekant. Hierin lees ek simboliek wat in ons polities korrekte era nie ge-uiter word nie. Die Republiek van Suid-Afrika het in 1961 onder ‘n blanke regering begin en tereg met baie hoop ‘n aanvang geneem. Sedert die politieke ramp van 1990/1994 is die blanke bewind deur swart mag vervang en het hoop vir wanhoop en groei vir agteruitgang en verval plek gemaak. Wat die Republiek-suil simboliseer, is oopheid vir invloed van Afrika se kant af. Dit het teenproduktief geblyk te wees vir sowel Europese beskawing as vir Afrikaans. Deesdae kan gesê word dat die Republiek-suil die RSA as gebroke en in sy groei gestuit voorstel.

Die Taalmonument staan, wat my betref, op heilige grond. In die nuwe Suid-Afrika kan ‘n mens egter nie met Afrikaans en Afrikaners te make hê sonder dat negatiewe aspekte aan ‘n mens opgedring word nie. Myns insiens is die monument as sodanig volmaak, in dié sin dat ek hom nie beter kan voorstel nie. Teen die regmatige erkenning van die (eintlik geringe) positiewe rol wat nie-wittes in die ontstaan en verdere geskiedenis van Afrikaans gespeel het, het ek nie beswaar nie. Die monument gee binne verhouding erkenning daaraan. Let ook daarop dat dit gedoen is tydens die hoogbloei van apartheid. Dit toon dat apartheid nie so ‘n eensydige anti-nie-wit era was as wat dit deesdae dikwels voorgestel word nie.

Toe ek nog gesukkel het om Van Wijk se teks te dateer, omdat die drie inleidende afdelings in die boek (bedanking, voorwoord en biografiese agtergrond) geen lig daarop werp nie, het ek reeds besef dat die teks in die nuwe Suid-Afrika geskryf is, want daar word verwys na bv die rol wat nie-wittes tydens die konstruksiewerk gespeel het en dat nie-wittes ook die inwyding bygewoon het. Dit is ietwat aan die die hare en in die gees van ons tyd bygesleep. Daar word ook genoem dat Van Wijk polities verlig was. Van Coller beweer Van Wijk was “‘n liberale nasionalis met die ruimheid van denke wat so ‘n lewenshouding kenmerk” (p 15). Iedere mens het ideologiese voorkeure. Wat van deurslaggewende belang is, is die briljante en voorbeeldige manier waarop Van Wijk Afrikaans danksy hierdie pragtige monument konkreet voorstel.

‘n Besoekersentrum is later naby die monument gebou. Argitektonies pas hierdie gebou suksesvol, dus nie-steurend, op die terrein. In dié sentrum is daar egter ses panele waarop aspekte van Afrikaans (bv sy ontstaan) hinderlik, naamlik doelbewus misleidend, uitgebeeld word. Hierdie panele het na aanleiding van die eentalig-getransformeerde University of the Western Cape se “Roots”-konferensie (‘n Engelse naam vir ‘n konferensie oor Afrikaans) in 2009 en die oud-sendingstasie Genadendal tot stand gekom. Dié panele bevat eintlik die enigste inligting oor Afrikaans wat potensieel vir alle monumentbesoekers uitgestal word. Vir verder inligting is besoekers aangewese op biljette, pamflette en boeke wat gratis of teen betaling beskikbaar is.

Die punt wat ek wil stel, is dat die bestaan en voortgesette uitstalling van hierdie inligtingspanele ‘n onvergeefbare skande is. Hulle moet in ‘n museumkonteks, soos dié van die Afrikaanse Taalmuseum, beoordeel word. Die professionele museumkundige, bv historiese, hoofvereiste waaraan hulle behoort te voldoen, is die waarheid. In werklikheid word die inligting, soos ek hierbo genoem het, doelbewus misleidend aangebied. By enigeen wat die panele lees en die bygaande illustrasies sien, word die indruk gewek dat Afrikaans hoofsaaklik vanweë nie-wittes ontstaan het en danksy hulle meelewing voortbestaan. Daarom word die rol van bv sendingstasies oorbeklemtoon. Natuurlik ook die rol van nie-wit indiwidue. Jy sien die foto van Christo van der Rheede en die primêr Engelssprekende Neville Alexander, wat albei hoogstens marginaal tot Afrikaans bygedra het. (In ooreenstemming met die monumentbestuur se gewoonte om die bydrae van bruines tot Afrikaans skromelik oor te beklemtoon, is pas aangekondig dat daar voortaan jaarliks ‘n Neville Alexander-gedenklesing aangebied gaan word.) Bykans onvermydelik is daar ‘n foto van Nelson Mandela, asof hy die heil van Afrikaans bevorder het. Jy soek tevergeefs na foto’s van ons groot Afrikaanse skrywers, letter- en taalkundiges. Waarom? Omdat hulle wit is. Selfs die rol van die Genootskap van Regte Afrikaners en bv CJ Langenhoven en NP van Wyk Louw, wat hoogs tersaaklik is, word onderbeklemtoon. Hier werk die euwel van politieke korrektheid oortyd.

Die momument as sodanig, soos hierbo gesê, is volmaak, maar die bedryf daarvan laat veel te wense oor. Geld is die kernprobleem van die Taalmonument. Die administrasie van die monument is vir befondsing op die Departement van Kuns en Kultuur aangewese. Die raadslede word deur die ANC-regering aangestel. Die visie vir Afrikaans is dat dit “so inklusief moontlik” voorgestel moet word. Die “diverse herkoms” van Afrikaans, “ander inheemse tale” en “veeltaligheid” word op die webwerf en in die brosjures oorbeklemtoon. Mandela-dag word spesiaal gevier. Daar word nie ‘n gesonde onderskeid gemaak tussen wat werklik met Afrikaans te make het en wat vir baie blanke Afrikaanssprekendes afstootlik is nie. Weens die huidige politieke bedeling word, soos in die geval van so baie dinge, ook die wesenlike aard van Afrikaans doelbewus skeef voorgestel.

Wanneer Afrikaans en Afrikaners afgekraak word, kan ‘n mens altyd reken op die hartlike samewerking van sommige mense uit ons eie etniese en kulturele geledere. In Johann Nell se roman, Sondag op ‘n voëlplaas (Kaapstad: Tafelberg, 2013), is daar sprake van heelwat seksuele ambivalensie. By die aanskoue van die Taalmonument (“Penisse van klip. Grys, hard, maar koud”, Kindle 2826), kom wat sy pa gesê het by die verteller op: “Supersirkus” (2821). Destyds het die verteller ‘n entjie met “die brandende fakkel” geloop. [Volgens Van Wijk was daar in aanloop tot die inwyding van die monument landswyd agt fakkellope. Aan een hiervan het Van Wijk self deelgeneem (p 59).] “Hier gaan dit nou stop. Die vlam gaan geblus word” (2826). Die verteller lees die inskripsie, “Genootskap van Regte Afrikaners, 1875-1975”, en wonder: “Wat is ‘n regte Afrikaner?” (2826). “Dit impliseer dat daar ook verkeerde Afrikaners is” (2830). Inderdaad! Hier sien Nell die lig, maar eers nadat hy heiligskennis ten koste van Afrikaans en die Taalmonument gepleeg het. Die hele tyd word kernwaardes van tradisionele of konserwatiewe Afrikaners deur Nell verdag gemaak. Vir sulke boeke is daar kommersieel ‘n uitgewer. Vir Van Wijk se boek sou daar nie ‘n uitgewer gewees het as dit nie was vir finansiële ondersteuning van die LW Hiemstra-trust nie. Dit verklaar heel moontlik waarom daar so ‘n lang tydsverloop voor publikasie was.

Sonja Loots is een van Rapport se rubriekskrywers. Haar buitengewone vermoë om (baie) lesers hartgrondig te irriteer, verseker blykbaar dat sy maar met haar rubriek kan voortgaan. Loots begin haar jongste rubriek (Rapport 24 deser) deur te vertel hoe sy as Afrikaans-dosent en beterweter kinders en ‘n student oor hulle geradbraakte Afrikaans aangespreek en gekorrigeer het. Sy noem dat sy die Taalmonument aan haar kinders (7 en 8 jaar oud) (uit)gewys het; dus nie noodwendig die monument besoek het nie. Dan volg hierdie afgesaagde poging om van die Taalmonument ‘n bespotting te maak: “‘Die taal is dan nog nie dood nie,’ skater die agtjarige, ‘Hoekom is daar nóú al ‘n monument?”’ Vir Nelson Mandela is talle monumente voor sy dood opgerig. Het Loots en haar kinders daardie monumente so snaaks gevind dat hulle daaroor geskater het? Of is dit maar weer haar gunstelingonderwerpe, Afrikaners en Afrikaans, wat Loots se lagspiere prikkel? (Praag 3 deser).

Vervolgens gaan Loots daartoe oor om uit eie reg met Afrikaans te mors. “‘Hy’s net uitgepass,’ kraai die sewejarige wat al baie daardie song oor Johnny gehoor het. Uit die mond van die suigeling kom daar weird Afrikaans … én skrale troos. Dis moeilik, maar ek gaan probeer om nie te veel te worrie nie. Dis eweseer hulle taal as ons s’n. Kom ons hoop hulle sort dit uit. Kom ons hoop maar alles is fine. Nie dood nie (nog nie). Net uitgepass.” Daar is geen aanduiding dat Loots die dood van Afrikaans sal betreur nie; eerder die teendeel. Sy herbevestig hierdie waarheid: die laakbaarste gesindheid jeens Afrikaners en Afrikaans word in eie geledere aangetref.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.