Sonja Loots oor ‘n Afrikanermuseum

Deel op

Daar is min mense wat my so irriteer soos ‘n militante feminis wat as’t ware in die kombuis sit en skryf omdat sy haar man as joernalis na die kroon wil steek; dus hom wil oortref. Sonja Loots is myns insiens so ‘n mens. Op Praag het ek al oor Loots berig met as opskrif: “Wenke aan ‘n volksmoeder” (Praag 10.03.2013). Kort voor dit het ek ook oor “Sonja Loots se anti-Afrikanervenyn” geskryf (Praag 18.02.2013). Dit was na aanleiding van haar boek, Sirkusboere (2011). Eintlik is alle Boere in haar oë sirkusboere. “As so ‘n spektakel van die vernedering van enige ander Suid-Afrikaanse bevolkingsgroep gemaak sou word, sou die boek nie ‘n uitgewer gevind het nie.” Dit is amper oorbodig om by te voeg dat Naspers se Tafelberg die uitgewer van Sirkusboere is.

Ek het ook verwys na Loots se opmerking dat sy “deernisvol die moer in vir ons Afrikaanse voorvaders” is. “Loots wek die indruk dat sy die arm vrou se Antjie Krog wil wees.” Sy hou van linkse elemente wat “onvoorspelbaar en dikwels ongenooid opdaag om Afrikaans se verroeste werfhekkies oop te gooi en ‘n paar wolwe onder die loom werflammers in te jaag.” Dít is klaarblyklik die waarneming van ‘n ANC-werfbobbejaan*. Sluimerende Afrikanerslapgatte, wat gekenmerk word deur “benepenheid, dweperigheid en agtelosigheid,” is glo geneig om hulle op ‘n “voosgesitte leunstoel” tuis te maak. [*Loots het ‘n magisterverhandeling (1996) oor Alexander Strachan se Die Werfbobbejaan (1994) geskryf.]

Oor die Afrikaanse taalstryd het Loots ook heeltemal uitgehaak. Sy het in 2000 “op die KKNK betoog dat dit nie die ANC is wat Afrikaans bedreig nie, maar die taalstryders en feeste soos die KKNK* en die idee van ‘n afsonderlike Afrikaanse TV-kanaal” (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, 2013, p 74). “Mense soos Antjie Krog en Sonja Loots sê Afrikaans sal eers gered word as hy bevry is van dié wat hom wil red” (p 74-75). [*In haar jongste skrywe verwys Loots na die KKNK as “in-die-volstruisbol-gepikte kunstefeeste”. As sy dit amusant vind, is daar darem een persoon wat haar guitigheid geniet.]

Loots skryf steeds ‘n rubriek in Rapport. In haar jongste skrywe (27 Julie) stel sy die vraag: “Is ons gereed om anders na onsself te kyk?” Wat Loots eintlik bedoel, is dat ons so gemeen soos sy moet wees om moedswillig skeef na Afrikaners te kyk. Die teks handel oor Afrikanermuseums en sy noem dan as voorbeelde die Oorlogsmuseum, Voortrekkermonument, Taalmonument, Apartheidsmuseum en die NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum). Dan voeg sy by, skynbaar in ‘n ligte trant: “en die plaasmoordemuseum (van laasgenoemde se bestaan het ek juis onlangs tot my groot verbasing verneem)”. Plaasmoorde val klaarblyklik buite hierdie voortvarende dame se belangstellingsveld. Dit is maar net sirkusboere en hulle naasbestaandes wat koelbloedig uitgewis word. As Loots se ouers wreed op ‘n plaas vermoor is, bv met ‘n byl of pik, sou sy ‘n ander deuntjie gesing het.

Loots vertel dat sy hierdie lysie van museums “onentoesiasties” opgenoem het en dít het haar “by voorbaat uitgeput”. Sy hou ooglopend nie van Afrikaners as ‘n besprekingsonderwerp nie. In werklikheid het sy doelbewus vir die hoeveelste keer Afrikaners as tema van haar rubriek uitgesoek. Dit bied aan haar immers die geleentheid om weereens gal oor haar kultuurgroep te braak. Sy kom tot die gevolgtrekking dat daar nie ‘n enkele museum bestaan wat spesifiek en omvattend oor Afrikaners handel nie. Elk van die genoemde museums handel oor ‘n aspek van Afrikaners.

“Ek vind dit [‘n omvattende Afrikanermuseum] trouens ‘n onrusbarende idee. Ek kan my die bakleiery voorstel oor hoe Afrikaner-identiteit(e) verteenwoordig moet word. Dit sal soos ‘n laertrekkery lyk. En dit sal suggereer dat Afrikaners ‘n museumspesimen geword het, gedoem om uit te sterf, soos die dinosourus.” Let op die afgesaagde verwysings na uit die mode verskynsels soos laers en dinosourusse. Sy wens klaarblyklik dat Afrikaners tot die verlede moet behoort; dat hulle in hulle moer in moet gaan en hiertoe help plaas- en ander moorde natuurlik fluks.

Loots noem vervolgens die Joodse museum in Kaapstad: “uitstalkaste vol volstruisvere [nogeens ‘n KKNK-verwysing], ‘n ou smouswa en die nagemaakte sinkwinkeltjie van ‘n diamantverkoper-van- ouds”. Maar dit is werklike mense van weleer waarom dit hier gaan. Dit is mense waarvan minstens sommige die land help ontwikkel het. Hulle het gewerk en self ‘n bestaan gemaak; nie bakhand gestaan en afgebreek nie. Soos egte Afrikaners het die meerderheid Jode deernis met hulle etniese genote. Hoe durf Loots haar aanmatig om so oneerbiedig oor etniese groepe soos die Afrikaners en Jode te wees? Sy sou kwalik daarin kon slaag om haar uiterste liberalisme met ‘n sweem van humanisme te versoen.

Loots sluit haar rubriek soos volg af. “Hoe sou die Afrikaner-weergawe van so ‘n ‘instelling van die geheue’ daar uitsien? In moderne museumpraktyk behels innoverende kuratorskap die self-kritiese interpretasie van herinnerings, maar ook die bewaring van ‘n wye spektrum kultuur-inligting en kulturele praktyke. Sou dit gedoen kon word sonder dat dit simptomaties raak van verval, verlies en verwyt? Museumbesoekers is soos lesers. Hulle mag interpreteer en oordeel soos hulle wil. Wie gaan wat in die besoekersboek skryf? En veral: Is ons gereed* om deur ander se oë na onsself te kyk?” [*Die uitsaaimedia en gedrukte pers vertaal “prepared” deesdae meesal met “gereed” terwyl “bereid” veeleerder bedoel word. Op ‘n soortgelyke hinderlike manier word “this” as “hierdie” pleks van “dit” vertaal.]

Waarmee Loots besig is, is om haar te verlekker in hoe ‘n Afrikanermuseum daar sou uitsien. Waarom mag daar nie verwysings na “verval [bv in die nuwe Suid-Afrika], verlies [bv plaasmoorde] en verwyt” [bv FW se magsoorgawe] wees nie? Al drie is wesenlike aspekte van die Afrikaner se geskiedenis wat in ‘n omvattende Afrikanermuseum teenwoordig behoort te wees.

Loots voorsien dat Afrikaners sal stry oor wat in hulle museum opgeneem moet word en hoe dit uitgebeeld behoort te word. Maar as hulle twis oor wat ‘n billike resultaat sou wees, is dit aanbevelingswaardig. Museums is veronderstel om, soos historici, die waarheid na te jaag; om bv die goeie en die slegte ewewigtig uit te beeld. Museumbesoekers mag, soos Loots tereg noem, vertolk en oordeel soos hulle wil. Wat nie toelaatbaar is nie, is doelbewuste valse of eensydige museumvoorstellings.

Waarby Loots glad nie uitkom nie, is die mate waarin die ANC-regering doelbewus die geskiedenis vervals. Skoolgeskiedenisboeke is aangewese voorbeelde, maar ook museums.

  • Die bogenoemde Apartheidsmuseum wend geen poging aan om die positiewe aspekte van apartheid te belig nie.
  • Die Robbeneiland-museum stel nie daarin belang om waarheidsgetroue lyste aan besoekers te verskaf van bv die misdade wat die “vryheidsvegters” gepleeg het nie.
  • Die Slawemuseum erken nie positiewe aspekte van slawerny soos die ekonomiese bydrae wat slawe-arbeid gelewer het en die maatskaplike voordele wat sodanige ledigheidsbestryding gehad het nie. Martiens van Bart toon in sy boek, Kaap van slawe (2012), aan hoe die Hollanders/Afrikaners deur dié museum as die (wrede) slawe-eienaars en die Britte as die slawe-bevryders voorgestel word. [Kyk bv Johannes Comestor se boekbespreking, LitNet 12.12.2012.]
  • Die Distrik Ses-museum vertel graag hoe die destydse inwoners “benadeel” is, maar is vaag oor die oneindig beter huisvesting wat hulle destyds by hervestiging ontvang het. Nog minder word die publiek ingelig oor die oordrewe owerheidsvergoeding wat diegene ontvang wat tans toegelaat word om na Distrik Ses terug te keer.

Die vrae wat ek vir Loots in die midde wil lê, is:

  • As daar nie-eenstemmigheid by Afrikaners oor die wat en hoe van hulle museum is, volg dit nie dalk uit hulle tradisionele eerlikheid, hulle najaging van die waarheid, nie?
  • As daar maklik eenstemmigheid oor die aard van ANC-propaganda-inrigtings soos die Apartheidsmuseum, Robbeneiland-museum, Slawe-museum en Distrik Ses-museum bereik is, dui dit nie dalk onbetwisbaar op hulle ideologiese eensydigheid nie?
  • Waarom besoek Loots nie laasgenoemde drie museums, wat naby haar drumpel is, en doen in ‘n volgende rubriek meer objektief, dus wetenskaplik/waarheidsgetrou, verslag oor wat daar aangaan nie? [Wenk: lees gerus vooraf gesaghebbende werke oor museumteorie.]

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.