Aan Piet Croucamp: Afrikaners ís ’n etniese groep

roodt_dan_wiki

deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Piet Croucamp is geen ernstige denker nie. Trouens, hy neem nie sy opponente ernstig op nie en maak hulle gewoon as “onintelligent” of “regses met ’n “lae IK” af. Boonop is dit moeilik om te bepaal uit watter ideologiese hoek sy stellings oor “regses”, konserwatiewes”, ensovoorts gemaak word. Hy roem homself blykbaar daarop dat hy ’n linkse of neomarxis is, maar watse soort neomarxis? Is hy ’n Hegeliaan na die Frankfurt-skool of ’n meer strukturalistiese tipe in die styl van Louis Athusser, Etienne Balibar, Dominique Lecourt en ander?

Aan die een kant wil dit lyk asof Croucamp bloot dinge sê om polemiek te bedryf of om mense die harnas in te jaag. Eintlik beledig hy Afrikaners en verwag dan een of ander reaksie van ons. Ek dink Gustav Venter het hom reeds ‘n week of wat gelede op hierdie vlak geantwoord in Nou wie’s nou dom, hû?, asook Manfred Delport in Kaptein Piet Croucamp se spekskietery.

My eie indruk van Croucamp is dat hy graag namens die heersende ideologie praat. Op dié manier verskil hy nie veel van Nasionale-Party-Afrikaners van die verlede nie, wat ook graag die heersende diskoers nagepraat het.

Blykbaar is hy egter geen Afrikaner nie, al lyk hy soos een en praat hy soos een. In elk geval sal niemand Croucamp vir ’n Engelsman uit die stad van Londen aansien nie. Hy het, soos Koos Kombuis, alias André Leroux du Toit, uit die Afrikanerdom “bedank”. Só maklik is dit egter nie, om in ‘n komplekse, veelvolkige (multinasionale) staat soos dié van Suid-Afrika jouself anders te begin etiketteer. Soos die vrou wat destyds tydens die Soweto-onluste uitgeroep het, “I’m English!” mag dit dalk nie genoeg wees om jou van ander te distansieer nie, aangesien jy nog steeds etnies as blanke, Westerling en, les bes, Afrikaner, ervaar mag word.

Hierdie mag ‘n futiele oefening wees. Soos ek reeds gesuggereer het, wil Croucamp nie hê dat ons hom ernstig opneem nie. Hy sê maar net enigiets wat in sy kop inkom en gee nie eintlik om as dit aanvegbaar is nie, solank dit een of ander reaksie in die geledere van “die volk” veroorsaak. ’n Mens bespeur dieselfde soort houding by Max du Preez wat sy lojaliteit teenoor Engelse, swartes of wie ook al betuig deur Afrikaners te beledig, te stereotipeer en te verguis. Dis ’n soort hensopperdiskoers, want eintlik is die toehoorder altyd die ander, die nie-Afrikaner wat goed gaan voel omdat hy “slimmer”, “linkser” of “meer bevry” as die gemiddelde Afrikaner sou wees.

Nietemin wil ek enkele van die stellings (teses) wat Croucamp maak, ernstig opneem en aan ’n ligte ondersoek onderwerp om te sien of hulle waar of vals is. Verskoon my as dit na ’n soort matriek- of eerstejaarsopdrag klink, maar siende dat ons hier met heel basiese begrippe werk, kan dit nie anders nie.

Croucamp sê byvoorbeeld: “Die konsep ‘Afrikaner’ het waarskynlik lankal nie meer die nominale inhoud van ’n etniese groep nie.” Nou vra ek: Hoe waar is dit en op watter gesag berus hierdie stelling?

Let op die gebruik van die woord “waarskynlik”. Eintlik ondermyn Croucamp sy eie stelling, want hy wil sê dat hy self nie seker is nie. Beroep hy hom op ’n vae soort openbare mening, die Zeitgeist wat Naspersjoernaliste in hul onkunde vir ons konstrueer?

Elke woordeboek ter wêreld bevat ’n definisie van die begrip “Afrikaner”. Laat my byvoorbeeld die Nederlandse Van Dale aanhaal: “Afrikaner… vooral in Zuid-Afrika gebezigde aanduiding van een in Z.-Afrika geboren blanke, m.n. van Boerenafkomst.”

Met ander woorde, daar is wel “nominale inhoud”. “Nominaal” kan hier twee dinge beteken: “volgens die naam” en “gering”. Die eerste betekenis is semanties van aard en die tweede dui op ‘n “geringe etniese inhoud” as ek hom reg verstaan. In albei gevalle is sy stelling dus vals: Die semantiese inhoud van “Afrikaner” is bewese en algemeen aanvaar, soos die meeste woordeboeke in ’n groot verskeidenheid tale op aarde bewys en ten tweede kan die etniese aard van die begrip “Afrikaner” ewe min ontken word. Die huidige president van Suid-Afrika het reeds by verskeie geleenthede die bestaan van Afrikaners as ’n etniese groep erken deur na ons as “inheems” te verwys.

Maar afgesien van hierdie soort “staatkundige erkenning” deur die staatspresident van Suid-Afrika, is daar ook ander, meer objektiewe – noem dit volkekundige of antropologiese – maatstawwe. Die “Afrikanergeskiedenis” is reeds in honderde boeke, asook waarskynlik duisende proefskrifte en tienduisende artikels in allerlei tale geboekstaaf. Die hele Suid-Afrika is besaai met monumente en simbole wat elemente van daardie geskiedenis gedenk. Iewers het ek gelees dat 90% van alle monumente in Suid-Afrika deur Afrikaners opgerig is. Tot in China weet mense van die Voortrekkermonument, want dit is die monument in ons land wat die meeste besoek word en dan veral deur Mandarynse Chinese.

Benewens geskiedenis, watter ander merkers van etnisiteit is daar? Taal, kookkuns, tradisies, godsdiens, kleredrag, danse, ens. Standaardafrikaans is ’n skepping van die Afrikaner, nogal die Genootskap van Regte Afrikaners. Daar is iets soos Boerekos en Afrikanerkookkuns, Boerewors, sosaties, poedings, koeksisters, noem maar op. Trouens, die res van die mense in die land spot met ons omdat ons sulke kenmerkende etniese eetgewoontes het, terwyl hulle aan Amerikaanse hamburgers smul. Selfs Woolworths, wat nie Afrikaans as taal erken nie, verkoop Boerewors, asook ’n variant wat Grabouw-boerewors genoem word. Toe ek op skool was, het ons volkspele gedoen en ek weet daar bestaan nog vele volkspelegroepe in die land waar mense tradisionele danse beoefen wat toeka se tyd in die Kaap ontstaan het en saam met ons die binneland ingekom het en tot vandag toe beoefen word. Selfs RSG, die radiostasie wat hom by monde van sy hoof, Magdaleen Kruger, téén Standaardafrikaans uitgespreek het, saai Boeremusiek uit!

Die term “Afrikaner” druk dus beslis ’n etniese begrip uit. Ironies erken iemand soos prof. Wannie Carstens van die Noordwes-universiteit dit ook as hy sê dat ons die term “Afrikaner” anders moet defininieer: “Ek is van oordeel ons moet eerder die term ‘Afrikaner’ herdefinieer as dat dit almal wat Afrikaans praat, insluit. Dan beweeg ons weg van die assosiasie met kleur. Want die assosiasie met kleur vind ek diskriminerend.”

Dit wil dus voorkom asof sowel Croucamp as Carstens ’n ongemak met die begrip “Afrikaner” ervaar, wat moontlik daarmee te make het dat albei universiteitsdosente is. Sedert Kader Asmal die akademiese vryheid wat in die land bestaan het, beëindig het, weet ons dat akademici besonder gevoelig is vir enige vorm van politiek wat van die heersende ideologie van “nasiebou” en die ontkenning van etnisiteit afwyk. Dieselfde persoon wat Afrikanerskap ontken of, les bes, “anders wil definieer”, het egter geen probleem daarmee om na “Jode”, “Palestyne”, “Franse”, “Nederlanders” of selfs “Vlaminge” te verwys nie. Hy drink steeds “Skotse” whiskey en probeer nie die bestaan van Skotland as ’n etniese gebied binne die Verenigde Koninkryk ontken nie.

Die gemiddelde Afrikaner daarbuite het egter vrede met die institusionele probleme van universiteitsdosente wat vir aanvaarding en bevordering van ’n polities korrekte onderdanigheid teenoor die owerheid afhanklik is. Daarom gaan ons ons nóg “herdefinieer” om Carstens te pas nóg om Croucamp se valse stellings waar te maak.

Die gewraakte onderwerp “rassisme” word elke dag tot vervelens toe in Suid-Afrika aangeroer. Omdat Croucamp iemand is wat graag die stroom volg, doen hy dit ook in sy stuk deur te sê:

“Afrikaners wat hulself as polities regs (‘n veronderstelde ideologiese konsep) identifiseer, verskil in minstens een – of net een – belangrike opsig van hul mede taal-en kultuurgenote en dit is dat hulle kru rassisties is op ’n wyse wat met lae intelligensie geassossieer kan word.”

Hier doen Croucamp ten minste twee dinge: hy veronderstel dat alle “regses” (ons weet nie presies wie of wat dit is nie, maar dis seker almal wat nie marxiste of sosialiste is nie) en alle “rassiste” oor ‘n “lae intelligensie” beskik.

Hoe waar is dit? Kom ons begin by die rassiste. Daar bestaan geen samehangende definisie van “rassisme” nie, maar kom ons veronderstel dat daardie intellektuele, skrywers, denkers en wetenskaplikes wat in die onlangse verlede deur die meer liberale media as “rassiste” uitgekryt is, wel rassiste is. Indien Croucamp korrek is, sal hulle almal dom wees, of oor ’n “lae IK” beskik. “Hoe laag is ’n ‘lae IK’?” is die volgende vraag. ’n Normale IK in Westerse lande is 100, dus moet dit laer as 100 wees. So ’n persoon sou nie in staat wees om byvoorbeeld ’n universiteitskwalifikasie te verwerf nie, wat nog te sê ’n nagraadse kwalifikasie. Hy sou ook nie in staat wees oorspronklike wetenskaplike navorsing te doen nie. Wat van ’n Nobelprys in die medisyne, spesifiek vir ontdekkings in die molekulêre biologie?

So ‘n beroemde – en vermoedelik intelligente – rassis is James D. Watson, een van die vaders van die moderne genetika. Soos almal weet, het hy en sy kollega Francis Crick die “dubbele heliks” van ons DNS ontdek. Daarvoor het hulle in 1962 die Nobelprys in die medisyne ontvang. Watson het hom sy lewe lank met genetiese navorsing besig gehou, totdat hy in 2007 tydens ’n boekpromosietoer die volgende gewraakte opmerking teenoor ’n Britse joernalis gemaak het:

“…there is no firm reason to anticipate that the intellectual capacities of peoples geographically separated in their evolution should prove to have evolved identically. Our wanting to reserve equal powers of reason as some universal heritage of humanity will not be enough to make it so.”

Die implikasie van dié stelling is natuurlik duidelik: dat verskillende rasse gemiddeld nie oor dieselfde intellektuele vermoëns beskik nie. ’n Geweldige skandaal het losgebars; Watson moes die res van sy toer kanselleer en hy is ook gedwing om uit sy pos as hoof van ’n navorsingslaboratorium te bedank.

Dit raak nog erger, ten minste vir Croucamp se teorie dat alle rassiste dom is. Nog ’n wetenskaplike, William Shockley, het die transistor uitgevind en daarvoor in 1956 die Nobelprys vir fisika ontvang. Hy word as die vader van die sogenaamde “Silicon Valley” in Kalifornië beskou en sonder hom sou ons seker nie vandag op rekenaars gesit en tik het nie. Miskien is rekenaars ook “rassisties” want later in sy lewe, nadat hy professor aan die Stanford-universiteit was, het Shockley ’n oortuigde voorstander van eugenetiek geword. ’n Groep van 30 van sy kollegas het egter gesê: “Shockley is the man who brought silicon to Silicon Valley.”

Aan die einde van sy lewe is Shockley geteister deur joernaliste wat sy sienings oor ras en intelligensie belaglik wou maak en hy het ook ’n lastersaak gemaak waarin die hof hom gelyk gegee het, maar slegs $1 aan vergoeding toegestaan het.

Volgens die liberale media en die hoëpriesters van politieke korrektheid was beide Watson en Shockley “rassiste”. Een was die uitvinder van die transistor en die vader van “Silicon Valley” en die ander die mede-ontdekker van die DNS-heliks. Albei het die Nobelprys in wetenskaplike dissiplines ontvang. Ons kan baie dinge van hulle sê, maar nie dat hulle “dom” was nie.

Die vader van moderne rassisme word allerweë as die Franse skrywer, Graaf de Gobineau, beskou. Benewens romans en ander geskrifte, het hy ’n boek met die onvergeeflike titel, Die ongelykheid van menslike rasse, gepubliseer. Nietemin word hy steeds as klassieke skrywer in Frankryk erken. Was hy ook “dom”?

Die skrywers van die boek The Bell Curve, Herrnstein en Murray, is insgelyks deur die liberale media as rassiste uitgekryt, dog geen van hul joernalistieke en akademiese kritici kon tot dusver die sentrale punt van die boek, dat IK ’n groot rol in die samelewing speel, weerlê nie. Die omstredenheid van die boek draai rondom ’n enkele hoofstuk waarin IK-verskille tussen rasse bespreek word. Ook daardie hoofstuk is tot op hede nie verkeerd bewys nie. As dit so maklik is om die geskrifte van bekende en “dom rassiste” te weerlê, waarom doen die hordes links-liberale joernaliste en akademici dit nie?

Enkele jare gelede het dr. Leopold Scholtz, die bekende Naspers-kommentator, belowe dat hy wetenskaplike artikels uit erkende vaktydskrifte sou voorlê wat onomstootlik bewys dat “rassistiese” sielkundiges en navorsers verkeerd is en dat alle rassegroepe oor presies dieselfde gemiddelde IK beskik. Gegewe die linkse obsessie met hul “hoë intelligensie”, teenoor die geestelike gestremdheid van rassiste, is dit nie tyd dat Croucamp, Scholtz en ander met die getuienis vorendag kom dat swartes, blankes en Asiërs oor presies dieselfde gemiddelde intelligensie beskik nie?

’n Navorser wat hom insgelyks op die onderwerp van ras en IK toegespits het, was die Kanadees J. Philippe Rushton. As professor aan die Universiteit van Wes-Ontario in Kanada was hy sekerlik nie verstandelik vertraag nie en hy het allerlei aanvalle, betogings, asook ’n vier jaar lange hofsaak en pogings van die Ontario-provinsie om hom afgedank te kry, getrotseer om met sy navorsing oor IK voort te gaan. Op ’n stadium is sy klasse dermate deur betogers ontwrig dat die universiteit nie meer sy veiligheid kon waarborg nie en moes hy deur middel van video-opnames klas gee.

Croucamp se teorie dat “rassiste” noodwendig dom is, moet in die lig van bogaande getuienis, afgewys word.

Kommerwekkend van linkse denkers is hul ontvanklikheid vir groepsdruk en onverdraagsaamheid teenoor diegene wat van hulle verskil, wat gewoonlik doodgeskree, met geweld gedreig of selfs fisiek aangeval word.

Volgens Croucamp, is alle “regses” dom. ’n Groot aantal intellektuele, skrywers, digters, filosowe, komponiste en natuurlik politici deur die geskiedenis kan as “regs” of nasionalisties beskou word. Nietzsche, Wagner, Heidegger, Ezra Pound, T.S. Eliot, Céline, N.P. van Wyk Louw, C.M. van den Heever, Alain de Benoist, Enoch Powell, Kurt Vonnegut, Anna M. Louw, Jaap Steyn, Jean Raspail, Peter Sloterdijk, W.F. Hermans, Houellebecq en vele ander het op een of ander manier hulself as “regs” of ten minste nie-links geposisioneer. Heidegger word as een van die grootste filosowe van die Twintigste Eeu beskou, indien nie dié grootste nie. Prins Charles van die Verenigde Koninkryk het op ’n stadium “alle moderne argitektuur as… fascisties” beskryf en moontlik was hy reg. Daar is niks prolataries aangaande hoë geboue, glas en staal, asook die aandrang op sulke “regse” ideale soos skoonheid, suiwerheid en funksionaliteit nie.

Die linkse aandrang op “gelykheid ten alle koste” het vir ons die Sowjet-goelag gegee. Daarmee saam kan ons sien dat die voorstanders van gelykheid juis die onverdraagsames is wat mense se klasse ontwrig, ander wil sensureer, wetenskaplike navorsing wil belemmer en boeke en geskrifte verbied wil sien.

Kan ons hoegenaamd Croucamp se volgende stelling ernstig opneem: “Soos dit is, het Afrikanerskap ’n baie lelike ideologiese konstruk geword; daarom is ek geen Afrikaner nie… Diegene wat haat en nyd koester as ’n politieke identiteit is die skuim van die Afrikanerdom, die room ploeg die lande, skep werk en word burgers van ’n baie groter en interessanter prentjie.”

Ek weet nie of Croucamp as wêreldburger of Brit of wat ook al self-identifiseer nie, maar kennelik is hy nie in staat om aan ons te verduidelik waarom Afrikanerskap ’n “lelike ideologiese konstruk” sou wees nie. Immers is Afrikanerskap gegrond op vrye assosiasie, terwyl die huidige Suid-Afrikanerskap van dwang en selfs sadisme afhang. Elkeen kan kies of hy ’n Afrikaner wil wees hoewel vreemdelinge selfs vir Croucamp as Afrikaner mag sien, ongeag sy “bedanking uit die volk”. Aan die ander kant word ons eenvoudig in die nasionale staat van Suid-Afrika ingedwing, waar ons met wetteloosheid, korrupsie en sadistiese geweld vir lief moet neem. Is Suid-Afrikanerskap nie eerder die “lelike ideologiese konstruk” waarvan Croucamp praat nie? Ons word gevange gehou in ’n stelsel wat ons nie wil hê nie, waarvoor ons nie stem nie en wat ons op allerlei maniere verdruk. Tydens plaasmoorde, motorkapings en huisaanvalle word ons vroue verkrag en ons almal aangerand, beseer en vermoor. Die aaklige geweld wat ons ervaar, stem al hoe meer ooreen met die linkse utopieë van die twintigste eeu wat een en almal as “misdade teen die mensdom” verwerp is.

Goelag Suid-Afrika, tuiste van die terroriste en sadiste.

Is dit die mense met wie Croucamp, die verloopte Afrikaner en desnoods verraaier, identifiseer? Praat hy namens die totalitêre linkse tradisie van die 20ste Eeu? Die “haat en nyd” waarna hy verwys, is eerder aan die kant van die nie-Afrikaners te vinde. In vele opsigte is Suid-Afrikanerskap op Afrikanerhaat gegrond, omdat die “Suid-Afrikaner” nie in staat is om sy eie identiteit te skep nie en daarom slegs na ’n soort anti-identiteit kan aspireer, wat die ontkenning van die Afrikaner sou wees. Deur ons te ontken, word ons ook desnoods vermoor. Op sy minste word daar teen ons taal en kultuur gediskrimineer, wat geheel en al teen internasionale norme indruis.

Ek verbeel my Andries Treurnicht het destyds ’n boek, Credo van ’n Afrikaner, geskryf. Dit is nogal deur die Naspers-uitgewery, Tafelberg, gepubliseer. Ek het dit nie gelees nie, maar ek dink dit is tyd vir ’n meer positiewe, bevestigende siening van Afrikanerskap. Wat is ons credo?

Ongelukkig moet enige definisie van Afrikanerskap vandag by lyding begin. ’n Afrikaner is bowenal iemand wat ly. Ons het onder die Britte gely, tydens dít wat Smuts in ’n gelyknamige boek ons “Eeu van onreg” genoem het. Tans ly ons steeds onder die huidige imperialiste wat veel meer gewelddadig en onregverdig as die Britte is.

’n Afrikaner is ’n jong meisie wat koelbloedig doodgeskiet word. Iemand soos Danielle Esterhuizen, Willemientjie Potgieter of Alyssa Botha. Vanuit die suiwer sadisme van daardie groteske daad, moet ons voortaan ons identiteit bedink, as magteloos en blootgestel aan die “haat en nyd” waarna Croucamp so ironies verwys.

Croucamp se ontkenning van Afrikanerskap loop parallel met die ontkenning van ons menswees deur hierdie linkse stelsel: die goelag, die gelykheidsmasjien wat uit die totalitêre maag van die 20ste eeu ontsnap het om ons te kom teister.

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Twee eeue van onreg deur Engelse, deel II (1948-1974)

1948-1994: Van triomf tot ondergang

Lees ook deel I

 

Trevor HuddlestonTydens die Hertzogjare het ons gesien dat Afrikaans in 1925 as amptelike taal erken is en dat “Die Stem” in 1928 as volkslied, tesame met die oranje-blanje-blou-vlag aangeneem is. Met die oorname van D.F. Malan se Nasionale Party in 1948 kon ons meer stappe te wagte wees wat die Britse karakter wat die land onder die Britse koloniale administrasie, asook onder die pro-Britse regering van Smuts aangeneem het, enigsins sou laat vervaag. Dit is dan ook presies wat gebeur het.

Een van die eerste stappe wat die Nasionale Party in die onderwys geneem het, is om die dubbelmediumskole wat bedoel was om Afrikaans in ‘n ondergeskikte posisie teenoor Engels te stel, uit te skakel. Maar ‘n ander, baie groot stryd wat uiteindelik bepalend sou wees, het hom op die gebied van swart onderwys afgespeel.

Sowel Brittanje as die plaaslike Engelse elite, wat in wese pro-Brits was, het ‘n regering deur Afrikaners as ‘n geweldige skok ervaar. Het hulle nie reeds in 1902 met die Boere afgereken nie? Het die feit dat hulle steeds die koloniale mynmaatskappye, asook die kapitaalkragtige Engelse media, beheer het, hulle nie genoeg mag gegee om Suid-Afrika te regeer nie?

Die meeste Engelse het steeds op Afrikaners neergesien en die kombinasie van ‘n meerderwaardigheidsgevoel en ‘n ervaring van magteloosheid het tot ‘n nuwe etniese gevoel onder baie Engelse aanleiding gegee.

Hierdie nuwe etniese gevoel van intense Afrikanerhaat, afkeer van Afrikaans en van die hele Afrikaanse kultuur en tradisie in Suid-Afrika, het hom veral aan die linkerkant van die politieke spektrum onder die liberales en die kommuniste gevestig.

Waarskynlik het die Nasionale Party ‘n fout gemaak om die Kommunistiese Party op 22 Junie 1950 te verbied, maar binne die party was daar mense wat gevoel het dat kommunisme ‘n gevaar vir Suid-Afrika verteenwoordig het, veral in die lig van die kommunistiese doktrine van verandering deur gewelddadige revolusie. Ná die Sowjetunie se klinkklare winste in die tweede wêreldoorlog, het kommuniste ook ‘n meer militante en uitdagende houding ingeslaan.

Slegs een kiesafdeling in die hele land het ‘n kommunis as Volksraadslid verkies en dit was in die Wes-Kaap waar Sam Kahn – waarskynlik in ‘n destydse kleurlinggebied – aangewys is.

Ná die verbod op kommunisme, loop al die blanke kommuniste – waaronder heelwat Jode – na die ANC oor waar hulle ‘n groep, die sogenaamde “Congress of Democrats” vorm.

Verwoerd dien as minister van naturellesake in die eerste NP-kabinet en hy is gemoeid met die toepassing van die beleid wat later berugtheid as “apartheid” sou verwerf. Dit sou hom onmiddelik in konflik bring met die “radikale priester”, soos vele mense reeds na Trevor Huddleston verwys.

In sy ywer om Afrikaners polities te bestry, sou Huddleston uiteindelik die grootste gedeelte van die Britse media, die Britse Arbeidersparty, die Britse Gemenebes en die Sweedse regering opvorder en sodoende die uiteindelike triomf oor die NP by die Kodesa-onderhandelinge behaal.

Waaroor het die Koue Oorlog tussen Boer en Brit tussen 1948 en 1994 gegaan? In die eerste plek was dit natuurlik ‘n etniese stryd tussen Brittanje wat sy beheer oor Suid-Afrika wou behou en die Afrikaners wat van Suid-Afrika ‘n onafhanklike en selfstandige staat met ‘n eie patriotisme en nasionale kultuur wou maak.

Anders as in die negentiende eeu, is daar egter nie direk oorlog gemaak nie. Daar is wel blanke verkiesings in Suid-Afrika gehou, maar dit was aanstons duidelik dat die liberale, pro-Britse komponent wat deur mnr. Alan Paton van die Liberale Party en toe mev. Helen Suzman en Colin Eglin van die Progressiewe Party aangevoer is, telkens by die stembus verslaan is. Op die kruin van Verwoerd se mag in die vroeë sestigerjare het 50% van Engelse blankes vir die Nasionale Party gestem! Hierdie “verdeelde indentiteit” van die plaaslike Engelse bevolking gaan terug na die Tweede Vryheidsoorlog toe ‘n groot deel van plaaslike Engelse nie meer vir Engeland in haar imperialistiese sug na uibreiding gesteun het nie. Sowel in Natal as die Kaapprovinsie het ‘n groot deel van die Engelse bevolking destyds die onafhanklikheid van die Boererepublieke gesteun en Kaapse Engelse intellektuele het selfs teen groot persoonlike risiko pro-Boerse gedigte gepubliseer.

Afgesien van die verkiesings in Suid-Afrika wat steeds onder blankes na etniese en taalverdelings geskied het, was daar ‘n tweede, baie ou terrein van stryd wat uiteindelik vir Brittanje die vrugbaarste geblyk het: dié om beheer oor swart onderwys, swart media en om uiteindelik die swartman in Suid-Afrika se denke te beheer.

 

Verwoerd was van die begin af midde-in dié stryd en een van sy heel eerste stappe, wat tot histeriese teenkanting van Huddleston en ander Engelse geestelikes gelei het, was om die beheer oor swart onderwys van die kerke weg te neem en onder die regering te plaas.

In die huidige tydvak het elemente van die destydse Britse propaganda natuurlik die aanvaarde waarheid geword. Volgens die Britse propaganda het swartmense tot 1948 ‘n hoë standaard van liberale, Engelse onderwys geniet, wat toe deur die Nasionale Party met agterlike, minderwaardige “Bantoe-onderwys” vervang is.

Iets wat mens ook dikwels vandag in Suid-Afrika hoor, is dat die Nasionale Party – en dus “die Afrikaners” – onderwys en opleiding geheel en al van swartes weerhou het. Baie mense, veral in die buiteland, glo dat swartes eers in 1994 begin skoolgaan het en dat hulle voorheen ook nie tot universiteite toegelaat is nie. Trouens, sommige rubriekskrywers in Afrikaanse koerante raak vandag soortgelyke snert kwyt.

Oor die afgelope 200 jaar was leuens en laster nog altyd ‘n wettige wapen in die arsenaal van Brittanje en die pro-Britse politici, skrywers en geestelikes in Suid-Afrika. Hierdie laster en verwronge aanbieding van die geskiedenis gaan vandag natuurlik lustig voort en word deesdae rojaal deur die belanstingbetaler befonds.

Die waarheid is dat die Brittanje en die Britse Ryk nêrens in Afrika enige noemenswaardige opvoedingstelsel nagelaat het nie. Toe die meeste Britse kolonies in Afrika onafhanklikheid verkry het, het hulle oor weinig matrikulante en – op enkele individue na – oor geen graduandi beskik nie. Huddleston wat, nadat hy uit Suid-Afrika weg is, as’t ware as president Julius Nyerere van Tanzanië se hanteerder opgetree het en hom in sy rampspoedige sosialistiese eksperimente aangemoedig het, vertel self in sy outobiografie dat sy “grootste kritiek teen die (Britse) koloniale administrasie is: dat dit ‘n administrasie was wat niks, absoluut niks, gedoen het om die mense vir onafhanklikheid en soewereiniteit voor te berei nie. En dus, toe die Britse koloniale staatsamptenare onttrek het (en ek kan dit met absolute juistheid sê), was die enigste werklik opgeleide persoon in die administratiewe hoofkwartier in Masasi ‘n Asiese liasseerklerk.”

Tanzanië het in 1960 onafhanklikheid van die hoogheilige Britte verkry en op daardie stadium oor geen opgeleide mannekrag of opvoedingstelsel beskik nie. Hierteenoor het die Afrikaner reeds in Paul Kruger se tyd moeite gedoen om swartmense te laat opvoed. Trouens, Paul Kruger het betaal dat ‘n plaaslike stamhoof se seun in Nederland kon gaan studeer en het ook grond aan die Berlynse sendinggenootskap geskenk om ‘n sendingstasie te begin en swartes te leer lees en skryf.

Nie te lank gelede nie was daar ‘n ontstoke persverklaring van mnr. Andrew Groenewald van die Vryheidsfront, n.a.v. die Swazi-politikus en voormalige onderwysminister Naledi Pandor se uitlatings oor “apartheidonderwys”:

“Die Onderwysminister, me. Naledi Pandor, verdraai die geskiedenis wanner sy, volgens ‘n SAPA-berig, beweer die vorige bedeling het ‘uitnemendheid in skole vernietig, ouers en skole van mekaar verwyder (en) goeie onderwysers gedemotiveer. Sy ken klaarblyklik nie die geskiedenis nie. Die ongegronde uitsprake van die Minister is hoogs onverantwoordelik. Die jeug, wat die geskiedenis nie ken nie, word daardeur opgesweep tot rassisme en haat teenoor blankes. Net soos die ANC nie voor 1994 die opstande kon beheer nie, en duisende van hul eie mense met brandende motorbande vermoor is, kan daar weer chaos uitbreek as die verwagtings van matrikulante nie realiseer nie’, het mnr Andrew Gerber, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor Onderwys gesê.

In ‘n verklaring sê mnr. Gerber dat die NP-regering in 1949, ‘n jaar nadat hy die bewind oorgeneem het, die Eiselen-kommissie aangestel het om aanbevelings te doen oor die stand van onderwys vir swart mense.  Die Kommissie het bevind dat dit in chaos was. In 1949 was daar slegs 476 swart matrikulante in Suid-Afrika. Hulle is opgelei in sendingskole. Kerke soos die Rooms Katolieke kerk en die Anglikaanse kerk het subsidies van die regering ontvang, maar die onderwysers was swak opgelei – die meeste van hulle het self slegs oor ‘n standerd 2-sertifikaat beskik. Die kerke het nie skole gebou met die subsidies nie, maar hul eie geboue gebruik en op dié wyse self voordeel uit die subsidie getrek.

Na die aanbevelings van die Eiselen-kommissie het die staat die onderwys van swartmense oorgeneem en stappe geneem om die situasie te verbeter. Onder andere is alle belastings wat deur swart mense betaal is, in die onderwys vir hul eie kinders ingeploeg.

Met die sluiting van die Departement van Onderwys en Opleiding uiteindelik in 1990, was daar 11 nuwe universiteite gebou – 7 vir swart studente en een elk vir Kleurlinge en Indiërs. In 1990 was daar 42 000 swart studente in universiteite regoor Suid-Afrika. Op ‘n stadium het die begroting vir swart onderwys sterker gegroei as die Verdedigingsbegroting – en dit in ‘n beleërde Suid-Afrika.”

‘Ek daag die Minister uit om met bewyse te kom dat daar sedert die 1950’s ‘n poging was om uitnemendheid in skole te vernietig en skole en ouers van mekaar te vervreem. Die uitnemendheid in onderwys is vernietig toe die ANC skoliere as troepe ingestuur het om 1000 skole af te brand sedert die 1970’s. Daardie skole is deur die regering gebou en sou vandag duisende skoliere kon huisves’, het mnr. Gerber gesê.”

 

Toe Zambië van Brittanje onafhanlik geword het, was daar iets soos 17 gegradueerdes in die hele land. Maar volgens die Britte en hul intellektuele meelopers in Suid-Afrika, het Verwoerd en ander ‘n “misdaad teen die mensdom” gepleeg deur universiteite vir swartes op te rig en duisende skole te bou. Uitsprake soos dié van Gerber wat op die histories korrekte syfers en toestande wys, word egter deur Suid-Afrika se pro-Britse joernaliste en akademici geïgnoreer en niemand slaan ag daarop nie. In ons Orwelliaanse heelal, het die leuen geseëvier en word dit vandag tot in die skoolhandboeke gepropageer.

Om egter die aard van die konflik oor “beheer oor die swartman se denke in Suid-Afrika” te begryp, moet ons weereens teruggaan na die negentiende eeu. Kortliks kom dit daarop neer dat daar twee benaderings tot sending en die opleiding van swartes was: die Britse en die Europese. Omdat Paul Kruger as kind die verhale van die leuenagtige Britse sendelinge in die Kaap en hul renons in Afrikaners gehoor het, het hy geweier om enige Britse sendelinge in die Transvaal toe te laat. Duitse sendelinge van die Berlynse sendinggenootskap was egter welkom en so is die grondslag vir ‘n bepaalde benadering tot swart onderwys deur Afrikaners gelê wat ook slaan op die verskil in die onderwysbenadering van Brittanje en dít wat op die Europese vasteland, veral in Duitsland, geld.

Die Britse skoolstelsel is gerig op die elite wat in sogenaamde “public schools” opgevoed word en agterna aan Oxford of Cambridge gaan studeer. Tot vandag toe verlaat sestig persent van alle Britse kinders die skool sonder matriek. Nie veel aandag word aan die gemiddelde kind bestee nie; hy ontvang akademiese onderrig en as hy nie veel aanleg daarvoor toon nie, moet hy maar gaan werk. Hierteenoor plaas die Vastelandse stelsel in Europa en veral natuurlik in Duitsland, veel klem op praktiese vaardighede, ambagte en vakleerlingskappe. Terwyl Brittanje sy rykdom verkry het deur kolonies (soos Suid-Afrika) te plunder en sy eie mense se vaardighede af te skeep, het Duitsland danksy sy hoogs ontwikkelde stelsel van beroepsgerigte onderwys die sterkste ekonomie in Europa gebou. Baie jare lank was die Duitse produktiwiteit, nywerheidsproduksie en veral natuurlik uitvoere na die res van die wêreld veel hoër as dié van Brittanje. Vandag bestaan daar kwalik meer Britse motorfabrieke, terwyl Volkswagen, BMW, Mercedes en Porsche steeds van die wêreld se suksesvolste motormaatskappye bly.

Die verskille in benadering tussen sendelinge van die Londense Sendinggenootskap en sendelinge van die Berlynse Sendinggenootskap sou uiteindelik ook die verskil tussen die Eiselen-Verwoerd-beleid en dié van die SA Raad van Kerke en Anglo-American word. Die een benadering is daarop uit om die swartman geletterd en opgelei, met bruikbare vaardighede, te maak, terwyl die ander hom tot swart intellektueel wil vorm wat uiteindelik met derderangse intellektuele vaardighede as gefrustreerde werklose iemand soek om vir sy toestand te blameer.

‘n Ander belangrike verskil tussen die Afrikaner-Duitse benadering tot swart onderwys en dié van die Britte, is dat die Duitsers en Afrikaners verkies het om swartmense in hul eie tale op te voed, terwyl die Britte altyd daarop aangedring het dat alle onderwys in Engels moet plaasvind, selfs al verstaan die leerlinge of studente nie wat daar vir hulle gesê word nie. Die hele stryd rondom moedertaalonderrig in Suid-Afrika, wat tot vandag toe woed, kan ook teruggevoer word tot die twee groepe sendelinge uit die negentiende eeu.

By Botshabelo naby Middelburg het twee sendelinge van die Berlynse Sendinggenootskap, Alexander Merensky en Heinrich Grützner, vanaf 1865 getoon hoe ongeletterde swartmense gekersten en geskool kon word, maar ook bruikbare vaardighede op die Duitse manier aangeleer kon word. Botshabelo word beskou as een van die suksesvolste sendingstasies in Suider-Afrika en het tot in 1962 aanhou funksioneer.

Die metodes van die Berlynse Sendinggenootskap is later deur die Afrikaanse kerke, veral die NG Kerk, nagevolg en so het ‘n hele tradisie van swart onderwys in Suider-Afrika ontstaan.

Ander sendelinge het onder die Tswanas van die Wes-Transvaal dieselfde benadering gevolg. Een rede waarom die destydse Bophutatswana-tuisland soveel suksesvoller as die ander was, was danksy die nalatenskap van die Berlynse sendinggenoogskap en die NG Kerk wat reeds dekades lank in daardie gedeelte werksaam was.

Verwoerd het in Heidelberg gestudeer en was daarom bekend met die Duitse opvoedingstelsel. Kort ná sy aanstelling as minister van naturellesake in 1948 het hy dus ‘n verafrikaanste Duitser uit die Berlynse sendingtradisie, Werner Eiselen, gevra om ‘n verslag oor swart onderwys saam te stel. Hieruit sou die idee van “Bantoe-onderwys” gebore word, wat die klem plaas op geletterdheid, maar ook praktiese vaardighede wat tot indiensneming in die landbou, nywerheid en handel sou kon lei.

 

Hoe het swart onderwys in 1948 gelyk? Hermann Giliomee se Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika vertel ons: “Teen 1948 het kerke en sendelinge steeds vir 90% van swart onderwys gesorg. Ongeletterdheid was algemeen. Hoewel enkele sendingskole goeie onderwys gebied het, was swart onderwys oor die algemeen baie swak: teen 1952 het net 3% van al die swartes enige skoolopvoeding ná die primêre fase ontvang, en net 8 488 swartes kon met matriek spog. Daarteenoor het meer as 40 000 wittes elke jaar die hoogste skoolstanderd bereik. In 1947 was daar maar net vier bruin hoërskole.”

Met ander woorde, die wonderlike opvoedingstelsel wat “vóór apartheid” en die gehate “Bantoe-onderwys” bestaan het, het min of meer gelyk soos dié in Tanzanië onder die Britse Ryk. Dit het ‘n klein, radikale elite geproduseer wat agterna kandidate vir swartmagpolitiek en lede van die ANC of SAKP kon lewer, terwyl die breë massa swartes ongeletterd en onopgelei gelaat is.

Verwoerd was daarvan bewus dat die Anglikaanse en ander Engelse kerke, met die radikale Huddleston aan die spits, reeds besig was om hul skole te gebruik om Afrikanerhaat en ‘n revolusionêre sentiment teen die regering aan te blaas. Daarom was daar ook politieke redes waarom die regering die beheer oor swart onderwys moes oorneem.

Kort ná 1948 word Huddleston se instinktiewe Britse afkeer van Afrikaners geradikaliseer rondom die verskuiwing van Sophiatown in Johannesburg wat deur Verwoerd voorgestaan is. Sophiatown is net so ‘n groot mite soos “liberale Britse sendingonderwys” voor 1948. In wese was Sophiatown ‘n krotbuurt en misdaadhool wat een of ander optrede van die owerheid vereis het. Die huidige voorstelling daarvan as een of ander Latynse buurt in Parys of Manhattan waar skrywers, intellektuele en musici in kafees rondgekuier het, is omtrent so misplaas soos om Zimbabwe ‘n demokrasie te noem.

Die swart skrywer Don Mattera gee die volgende beskrywing van hierdie “hawe van kultuur en gekultiveerdheid”:

“It was a place where the poor were victims of subtle exploitation at the hands of shrewd Chinese, Indian, white and in a few instances, African businessmen, who drained the masses very discreetly. Food was sold in small quantities but at huge profits. A five-penny loaf of bread would be sliced into twelve or fifteen pieces and sold at a penny a slice. Other commodities such as cooking oil, sugar, maize-meal, tea and candles were neatly packed into three-penny or five-penny parcels, which realized big profits. And the unsuspecting customers paid, unaware that they were victims of bloodsucking. Even house rentals were paid on an instalment basis. Property owners, especially the Jews and Indians, built several single quarters on small plots and also encouraged the erection of wood and zinc shanties at rentals of two and three pounds a month. Most of the yards had a single lavatory and one tap which were shared by 150 to 200 residents. People and the township dogs relieved themselves against the same walls and put their mouths under the same taps. Beneath the same three they had their brief sexual encounters.

The yards were small and stinking wherever people lived in this crowded communal way. And you would find a man or woman lying drunk in the grime and slime and debris, breathing the foul air of the dispossessed and forsaken life – men and women robbed of those vital fibres that divide man from beast.” (D. Mattera, Memory is the Weapon, Ravan Press: Johannesburg, 1987, pp.49-50)

Vandag word Soweto as ‘n toeriste-aantreklikheid beskou en min mense kan onthou dat Verwoerd dit destyds geskep het. Volgens Huddleston en ander linkses in die vroeë 1950s verteenwoordig die opruiming van Sophiatown en verskuiwing van die inwoners na Soweto egter, indien nie ‘n doodsvonnis nie, ‘n vonnis tot dwangarbeid in ‘n Siberiese strafkamp.

Suid-Afrika is ‘n land met ‘n bevolking wat gedurig aan die trek is. Oor die afgelope enkele jare het drie tot vier miljoen Zimbabwiërs oor ons grense gestroom. Tienmiljoene swartes het na die voormalige blanke stede getrek en hulle dikwels ontsier met onooglike plakkerskampe. Binne die verband van dié reusagtige demografiese verskuiwings, kan die besluit om ‘n paar duisend swartes in Sophiatown tydens die vyftigerjare na Soweto te verskuif kwalik as beduidend gesien word. Maar die gebeure rondom Sophiatown vestig tog ‘n patroon wat hom in die jare daarna ad infinitum sou herhaal waartydens die Britse media, aangevuur deur Huddleston of sy trawante, georkestreerde veldtogte teen die destydse Afrikanerregering met eensydige, kwaadwillige en negatiewe publisiteit sou voer.

Huddleston is die Anglikaanse priester in Sophiatown en hoewel hy later bevorder word tot die pos van “Provinsiaal” met die verantwoordelikheid van ‘n groter skool in Rosettenville, besoek hy steeds gereeld Sophiatown.

 

Huddleston organiseer betogings en protesvergaderings teen Verwoerd se verskuiwing na Soweto. Ondanks al sy moeite, geskied die hele verskuiwing sonder enige geweld en die inwoners verlaat Sophiatown vrywillig. Maar in die proses vestig Huddleston ‘n versetkultuur en ‘n haat jeens Afrikaners onder ‘n klein groepie swartes wat later, met hom as marionetmeester in Londen, wêreldwye aansien sou verwerf.

Huddleston probeer die swartes oprui in ‘n bioskoop in Sophiatown genaamd die Odin. Hy nooi Johannesburg se eerste swart prokureur, Nelson Mandela, uit om saam met hom op die verhoog te verskyn.

By die skool in Rosettenville genaamd St. Peter’s ly een van die 13-jarige swart seuns aan tuberkulose. Huddleston neem hom onder sy vlerk en leen vir hom boeke om te lees. Sy naam is Desmond Tutu. Een van die onderwysers aan dieselfde skool is Oliver Tambo, die latere leier van die ANC. Hy sorg dat ‘n maat, Hugh Masekela, ‘n saksofoon ontvang. Deur sy magsposisie binne die Anglikaanse kerk, skep Huddleston so te sê eiehandig die radikale, swart elite wat jare lank as Suid-Afrika se “regering in ballingskap” voorgehou sou word.

Toe die verskuiwing in 1955 uiteindelik plaasvind, nooi Huddleston al die koerante in Londen om die gebeurtenis te dek. Soos hy dit in sy outobiografie op die ANC se webwerf stel:

“It was at that time that the people I’d known best to be involved in the struggle really came into their own. Nelson Mandela, needless to say, was one of them on the African side. But I also got to know Ruth First (die kommunis Joe Slovo se vrou – DR) pretty well – she was a frequent visitor; so was Hilda Bernstein whom I knew exceedingly well – Violet Weinberg and Helen Joseph (almal kommuniste – DR). They were all visitors to my office in Rossetenville and Sophiatown. And I think the Western Areas Removal Scheme did something else: it was the first time that the media from Britain sent their top correspondents to cover what was happening. So we had all the major ‘heavies’. We had people like Cyril Dunne from the Observer, Rene McColl from the Daily Mail – everyone in fact who was in that line of business, whatever the political party their paper represented, was there. So we got an enormous amount of media coverage in Britain for the Removal Scheme.”

Met die gebeure rondom Sophiatown word die patroon vir die toekoms vasgelê: telkens een of ander aksie waaroor morele histerie aangeblaas word en wat dan globale dekking in die Britse media ontvang. Van daar word dit natuurlik deur die Amerikaanse, Europese en ander media opgeneem. Soos wat Huddleston se mag en geld tot sy beskikking toegeneem het, het hy die propaganda-aanslag teen Suid-Afrika in felheid laat toeneem met die uiteindelike doel om die NP omver te werp en, daarmee saam, die Afrikaner se moontlike vernietiging iewers in die toekoms moontlik te maak.

Trouens, Tutu verskaf ‘n motto by Huddleston se outobiografie deur te verklaar: “If you could say that anybody single-handedly made apartheid a world issue then that person was Trevor Huddleston.”

Huddleston en ander linkses probeer hul bes om die swart bevolking van Johannesburg tot openlike opstand teen die gehate Afrikanerregering op te sweep, al is Verwoerd op daardie stadium besig om meer swart skole te laat bou as ooit in die geskiedenis, asook huise om die groeiende swart bevolking van die stad in Soweto te huisves. Dit lei tot die sogenaamde “historiese byeenkoms” te Kliptown in Soweto waar die ANC se “Vryheidsmanifes” aangeneem word.

Wie het die Vryheidsmanifes geskryf? Sekerlik was dit ‘n blanke kommunis of twee, of dalk Huddleston self, maar daar word moeite gedoen om dit te laat lyk asof elke klousule “deur die massa self” voorgestel, gesekondeer en aanvaar is. Inderdaad stel die Vryheidsmanifes ‘n sosialistiese Suid-Afrika in die vooruitsig en daar word nou openlik van revolusie gepraat.

Die ANC-SAKP se Vryheidsmanifes, wat niks minder as ‘n so ‘n revolusionêre aksieplan verteenwoordig nie, word op 26 Junie 1955 aangeneem. Maar op 5 Desember 1956 slaan die regering terug en kla 156 mense van hoogverraad aan, waaronder Slovo, Mandela, Tambo, Luthuli, Ruth First, Ahmed Kathrada, kortom so te sê die totale leierskap van die ANC en sedertdien ondergrondse SAKP. Die geheime leier van die Kommuniste, Bram Fischer is die advokaat vir die verdediging.

Die hele hofsaak hou vier jaar lank aan en loop op niks uit nie. In die kommunistiese Sowjetunie word dissidente eenvoudig van die gras af gemaak of Siberië toe gestuur; in die bose “apartheid-Suid-Afrika” ontvang kommunistiese revolusionêre wat die omverwerping van die regering bepleit ‘n regverdige verhoor en word vrygespreek.

Die belang van die hofsaak vir ons verhaal is egter dat Huddleston hier ‘n nuwe geleentheid sien om sy eie mag en invloed, asook beheer oor die swart marionette van die ANC, uit te brei. Hy begin geld insamel vir die beskuldigdes en sodoende word Huddleston, die radikale priester van die Anglikaanse kerk, so te sê die betaalmeester van die ANC. Tesame met ‘n ander ekstreemlinkse Anglikaanse priester, Kanon John Collins, stig hulle die International Defence and Aid Fund. Oor die jare sou die fonds enorme bedrae geld (amptelik 100 miljoen pond) na Suid-Afrika kanaliseer en ook allerlei frontorganisasies finansier wat opstand, terreur en propaganda teen die NP-regering sou pleeg.

 

Vanuit die Sint Paulus-katedraal in Londen sou John Collins ‘n geldwassery-operasie met die steun van Londense advokate en hoëprofiel-Britte aan die gang hou wat uiteindelik die “totale aanslag”, waarvan P.W. Botha gepraat het, sou befonds. Terwyl Huddlston voorsitter van die Britse Anti-apartheidsbeweging is, sou hy ook die voorsitterskap van die IDAF beklee.

Tydens sy tydperk in die buiteland – terwyl hy in Suid-Afrika gesoek word – daag Nelson Mandela op ‘n dag in 1962 by Amen Court, die Collinse se amptelike tuiste in Londen naby die Sint Paulus-katedraal op. Volgens Collins se weduwee, Diana, “het Mandela vir John gevra of hy nog steeds die ANC sou ondersteun indien hulle hul na geweld sou wend. ‘n Lang gesprek het gevolg. John was ‘n pasifis, maar hy het gesê dat dit nie vir ons is om aan Suid-Afrikaanse swartes voor te skryf nie. Waarvan hulle ook al aangekla word, moes hulle ‘n regverdige verhoor ontvang en hul gesinne gehelp word.”

Ons vra nie vrae nie, ons gee net geld. Hierdie houding is tot in 1994 deur die Anglikaanse kerk en ander Engelse kerke gehandhaaf. Hoewel Karl Marx se Das Kapital aanvanklik die revolusionêre bybel vir Bram Fischer en die res was, sou die letterlike Bybel in die hande van die Engelse kerke en in mindere mate dié van die Katolieke Kerk – in die vorm van die “teologie van die revolusie” – die regverdiging vir terreur, aanvalle op burgerlikes, intimidasie en opstand teen die staat verskaf.

 

Die Sweedse konneksie

Kanon Collins, wat vanuit die Sint Paulus-katedraal, een van die beroemdste toeriste-aantreklikhede in Londen, geld vir die ANC insamel, sou binnekort in die vroeë sestigerjare nog ‘n bondgenoot in die sogenaamde “struggle” vekry, dié keer in Stockholm. Op 27 April 2004 sê die Sweedse ambassadeur in Suid-Afrika, Anders Mollander, op RSG tydens ‘n onderhoud dat “die ANC sonder Sweedse hulp nooit in Suid-Afrika aan bewind sou gekom het nie”. Die vraag kan met reg gevra word: was dit ‘n Britse of ‘n Sweedse “struggle” wat die ANC aan bewind geplaas het?

Die skemerwêreld van die Suid-Afrikaanse revolusie is inderdaad klein. Selfs die huidige adjunkpresident en vorige waarnemende president, Kgalema Motlanthe, vertel dat hy as altaarseun in Trevor Huddleston se kerk, die “Community of the Resurrection”, opgetree het.

Dan is daar die geval Per Wästberg. Hy dien op die komitee wat die Nobelprys vir letterkunde aan Nadine Gordimer in 1991 toeken. Teen daardie tyd is hulle al jare lank vriende en het Wästberg ‘n sleutelrol gespeel om die Sweedse geldstroom vir die ANC te ontsluit.

Ná ‘n besoek aan Suid-Afrika en Rhodesië in 1959, stig Per Wästberg die Sweeds-Suid-Afrika-komitee in 1961. Volgens hom het die Suid-Afrika-kwessie ná Sharpeville in 1960 – natuurlik ook danksy Huddleston se ywer – in Swede heelwat meer op die voorgrond getree.

Kanon Collins en Oliver Tambo daag in Swede op. Wästberg beskryf dit so:

“Especially Oliver Tambo had close relations to John Collins. It was not a father-and-son relationship, because they were of the same age, but, nevertheless, it was something like that. They were extremely close. And Trevor Huddleston and Oliver Tambo were almost the same person. Trevor Huddleston would like to die only to see Tambo in heaven. For Oliver Tambo, I think that IDAF and all it stood for, as well as John Collins as a person, represented the very best in the liberation struggle. But Mandela does not mention IDAF in his autobiography. One of the reasons, I think, is that it was written by an American ghost writer who apparently cut out an extraordinary amount of ‘boring’ stuff about organizations, committees, councils and so on. The other thing is the Winnie Mandela trial. IDAF financed a lawyer, but it was not enough in Nelson’s view, I think. They should have done much more and come out openly for Winnie at the time. I do not know what he thinks today.”

Per Wästberg is ‘n skrywer, daarom is sommige van sy opmerkings nogal interessant. Veral die sin “Trevor Huddleston en Oliver Tambo was amper dieselfde persoon” is nogal treffend. ‘n Minder polities korrekte beskrywing sou miskien wees dat Tambo die marionet was en Huddleston die marionetmeester. Oliver Tambo sou jare lank hoof van die ANC wees, maar nooit president van Suid-Afrika word nie, tot Huddleston se waarskynlike teleurstelling.

Wästberg sou later, in 1976, die redakteur van Swede se grootste dagblad, die Dagens Nyheter, word. Maar hy is ook goed bevriend met ‘n ander invloedryke persoon, waardeur die ANC die boerpot sou tref: Olof Palme. Dié sosialistiese politikus wat in 1957 tot die Sweedse parlement verkies word, sou in 1967 onderwysminister en in 1969 leier van die Sosiaal-Demokratiese party en eerste minister word.

 

Volgens ‘n toespraak wat Palme by die VN lewer, skenk die Sweedse regering oor ‘n tydperk van enkele jare 700 miljoen kronor (ongeveer $100 miljoen of R800 miljoen in vandag se geld) aan drie Suider-Afrikaanse “bevrydingsbewegings”: SWAPO, ZANU-PF en die ANC. SWAPO en ZANU-PF ontvang natuurlik ook hulp vanuit die Oosblok en – veral ZANU-PF – vanuit China. Waarskynlik is die grootste gedeelte van die Sweedse geld aan die ANC oorgedra. Hiermee is propaganda, alkohol en wapens – in daardie volgorde – aangekoop. Die alkoholistiese “ballinge” van die ANC, soos Thabo Mbeki self, het jare lank in hotelle of in kampe in Zambië en Angola, gesit en wag dat die Britte en die Swede die “struggle” vir hulle klaarmaak. Die ANC is seker die mees onaktiewe “bevrydingsbeweging” in die geskiedenis. Indien Huddleston, Collins en natuurlik die wit kommuniste soos Slovo, Kasrils en ander hulle nie soms aangepor het nie, sou daar nie eens ‘n bom in ‘n dameskroeg in Suid-Afrika ontplof het nie.

 

Olof PalmeDie International Defence and Aid Fund het ook ‘n ander vertakking gehad: die sogenaamde International University Exchange Fund, wat deur kaptein Craig Williamson van die destydse Veiligheidspolisie geïnfiltreer is. Sowel Swede as Brittanje het geld na die IUEF gekanaliseer, ongeveer 12 miljoen Switserse frank per jaar. Op die vooraand van die Soweto-onluste op 16 Junie 1976, is R4 000 in die SASM (South African Students Movement), wat die betogings teen Afrikaans georganiseer het, se bankrekening by Barclays-bank in Jorissenstraat, Braamfontein, inbetaal. Ook die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke is sterk betrokke by die beweging teen Afrikaans in 1976, ‘n organisasie wat 90% van sy befondsing vanuit die buiteland ontvang het, hoofsaaklik vanuit Kanada, Brittanje en Swede.

 

Maar laat ons nie die verhaal van Brittanje en veral die Britse kerke se Koue Oorlog teen die Afrikaner en Afrikaans vooruit loop nie.

In die vroeë sestigerjare gebeur nog enkele belangrike dinge, waarvan die eerste aanslag op Verwoerd se lewe by die Randse skou ‘n aanduiding verskaf van hoe desperaat sommige mense begin raak het om die energieke en intelligente eerste minister van Suid-Afrika te stuit.

Die man wat Verwoerd by die Randse Paasskou in die kop skiet, heet David Pratt. Terwyl dié dramatiese gebeure plaasvind, sit ‘n sekere Britse psigiater wat toevallig ook vir Dimitri Tsafendas sou behandel (volgens Citizen-joernalis en voormalige regeringspioen Gordon Winter), op die pawiljoen. In 1959 is Pratt in Londen deur ‘n Britse psigiater behandel, waarna hy skielik belangstelling in die politiek begin toon het en tien dae voor die sluipmoordpoging verkeer hy volgens sy vriendin, Doreen Bilson, “in een of ander hipnotiese dwaal”.

Het die Britse geheime diens sowel Pratt as Tsafendas met behulp van psigiatriese tegnieke “geprogrammeer” om Verwoerd te vermoor? Selfs al aanvaar ons nie Gordon Winter se verhaal nie, bestaan daar tog vele redes waarom Verwoerd vir die Britte ‘n doring in die vlees moes gewees het.

In die eerste instansie het Verwoerd die mag van die Anglikaanse kerk en veral sy houvas op swart onderwys verbreek, behalwe in Johannesburg wat ‘n sleutelrol sou speel in Junie 1976, die pièce de résistance van die Britse media en Huddleston se byna konstante aanslag op Suid-Afrika.

Dan is daar die Republiekwording in 1961. Die meeste Engelse in Suid-Afrika wou in die Statebond aanbly. Ook Brittanje het Suid-Afrika, een van die kroonjuwele van die eertydse Britse ryk, se bedanking uit die Statebond as ‘n klap in die gesig ervaar.

As Harold McMillan sy “wind van verandering”-toespraak op 3 Februarie 1960 maak, gee hy Verwoerd geen vooraf insae in die teks wat hy in die Kaapse parlement sou lewer nie. In die toespraak stel hy egter Brittanje se nuwe beleid van erkenning teenoor die Afrika-nasionalisme of -nasionalismes. Implisiet rig hy ‘n waarskuwing aan Suid-Afrika dat swart nasionalisme ook hier sou losbars, dít waaraan Huddleston en die Anglikaanse kerk reeds so hard werk. In sy diplomatiese antwoord bedank Verwoerd McMillan en maak dit duidelik aan hom dat Suid-Afrikaanse blankes geen ander heenkome het nie en daarom sowel vriende met die Weste as met Afrika moet bly. Verwoerd verseker McMillan dat Suid-Afrika steeds die vriend van Brittanje wil wees.

Maar McMillan se gebaar met die toespraak was egter geensins vriendelik nie en is insgelyks deur die radikale vleuel in Suid-Afrika geïnterpreteer as ‘n bedekte goedkeuring vir hul revolusieplanne. McMillan meen ook in die toespraak dat daar voortaan mededinging om invloed in Afrika tussen Oos en Wes sou wees en dat Suid-Afrika se beleid moontlik Brittanje se invloed elders op die kontinent sou benadeel.

Op ‘n indirekte wyse kies Brittanje toe reeds kant ten gunste van Afro-nasionalisme, radikalisme en die verdrywing van blankes uit Suider-Afrika, eers uit die Portugese kolonies waar hulle reeds 500 jaar woonagtig is en toe uit Rhodesië. Die etniese suiwering van blankes en Afrikaners uit Suid-Afrika sou heel laaste kom, eers ná 1994, maar is natuurlik tans in volle swang.

 

Onder Verwoerd in die vroeë sestigerjare wil dit egter voorkom asof Afrikanermag vir altyd sou duur. Die ANC en SAKP wend hul omstreeks 1962 tot die “gewapende stryd”, met die seën van Kanon Collins, Huddleston en die Anglikaanse kerk. As ons daaraan dink dat die koningin van Engeland die titulêre hoof van die Anglikaanse kerk is, dan besef ons in watter mate ook die Britse staat onregstreeks betrokke raak by die ondergrawing en terreur wat daar voortaan teen Suid-Afrika gepleeg sou word.

Maar die hele ondergrondse geweldspoging stuit natuurlik op die Rivoniaverhoor, waarna die grootste deel van die ANC en SAKP se leierskap hulle in die tronk bevind. Bram Fischer verbreek sy borgvoorwaardes en vlug na Engeland, maar word in Desember 1965 weer gevang en sou die res van sy lewe in die gevangenis slyt.

Op 31 Mei 1965 vind die vyfjarige Republiekfeesviering by die Voortrekkermonument in Pretoria plaas. Ongeveer 250 000 Afrikaners woon dit by in een van die grootste byeenkomste wat daar nog ooit in Suid-Afrika plaasgevind het. In ‘n foto van die skare wat agterna gepubliseer is, lees mens in die oë van jonk en oud die hoop en idealisme wat op daardie stadium die ganse Afrikanervolk besiel het, ‘n gevoel van vryheid en “alles is moontlik”.

Kort voor die aanslag op Verwoerd, wen die land die Suidwes-Afrika-saak in die Wêreldhof in Den Haag. Rondom Suid-Afrika bestaan daar ‘n buffersone wat die land teen militêre aanvalle uit die noorde sou beskerm, ‘n cordon sanitaire bestaan uit: die twee Portugese kolonies (Angola en Mosambiek), Suidwes-Afrika wat deur Suid-Afrika geadministreer word en natuurlik Rhodesië wat kort tevore tot ‘n eensydige onafhanklikverklaring oorgegaan het. Dit wil voorkom asof die jong Republiek van Suid-Afrika, die derde republiek in ons geskiedenis, nog vir altyd sou bestaan.

Ook op kulturele gebied bereik die Afrikaanse kultuur nuwe hoogtes. Duisende boeke vir sowel kinders as volwassenes word jaarliks in die taal gepubliseer. Ywerige vertalers is besig om sowel die klassieke literatuurskat van die Weste as eietydse Europese romans in Afrikaans te vertaal, uit Duits, Frans, Russies, Italiaans en ander tale.

Streekskunsterade in die vorm van TRUK, KRUIK, SUKOVS en NARUK bied toneelstukke, ballet en opera aan en teaters verrys oral in die land. Gewilde radioprogramme in keurige en korrekte Afrikaans word op verskeie senders soos die Afrikaanse diens, Springbokradio en Radio Hoëveld uitgesaai.

Benewens hoë ekonomiese groei, word daar ook voorsiening vir die toekoms gemaak in die vorm van infrastruktuur en energieverskaffing. Daar bestaan reeds meer paaie en spoorweë in Suid-Afrika as in Groot-Brittanje. Die elektrisiteitsvoorsieningskommissie, oftewel EVKOM, onderneem die bou van ‘n hele aantal kragsentrales in die Oos-Transvaal. SASOL vervaardig petrol uit steenkool en naas die aanleg in die Vrystaat verrys ‘n hele nuwe dorp genaamd Sasolburg. Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie maak dié en ander nywerheidsprojekte moontlik. YSKOR voorsien die land van staal en al hoe meer motors word binnelands gemonteer of vervaardig.

Maar toe kom die sluipmoord op dr. Verwoerd, op 6 September 1966. Vanuit die bloute verskyn Dimitri Tsfandas, oënskynlik kranksinnig, en steek die eerste minister in die parlement ten aanskoue van die al die LV’s dood.

PW Botha, destyds minister vir gemeenskapsbou, spring op en snou mev. Helen Suzman van die Progressiewe Party toe: “Dis julle liberaliste! Kyk nou net wat gebeur as gevolg van julle histerie teen ons!” Suzman is gebelg oor die beskuldiging en dring aan op ‘n verskoning. Maar natuurlik is Botha deels korrek. Indien die Britse geheime diens nie vir Tsafendas “geprogrammeer” het nie, kan die konstante geskreeu van Engelse liberales wat daagliks alles in Suid-Afrika verguis moontlik vir die versteurde Tsafendas se daad verantwoordelik gehou word.

Kort ná die uitspraak ten gunste van Suid-Afrika deur die Wêreldhof, spreek Lord Wakefield van Kendal die volgende woorde in die Britse Hoërhuis:

“My Lords, could the noble Lord explain how it is that hundreds of thousands of Bantu are seeking to get into the Republic of South Africa because of the excellent conditions there, and the South African Government is having considerable difficulty in preventing them from doing so, while in marked contrast, in Communist East Germany a wall is erected around that Western country to prevent the people from leaving it because of the intolerable conditions there? Perhaps he could explain that situation.”

Lord Wakefield ontvang nooit ‘n antwoord op sy vraag nie. Die ander Britse lords is meer gekwel oor die reaksie van Ethiopië en Liberië, die aansoekers in die saak, asook die woede van sommige ander Afrikalande, wat op die uitspraak volg.

 

Verwoerd se tragiese einde sou later gevolg word deur ‘n nog tragieser uitkoms. Nie net sou sy ergste vrese van ‘n ANC-SAKP-oorname in die land realiseer, met die snelle aftakeling van alles wat die Afrikaner kultureel en ekonomies oor die afgelope anderhalf eeu gebou het nie, maar sy herinnering sou vertrap word. Hy, die gebore Nederlander wat sy hele lewe aan die Afrikaner se stryd sou wy om aan die Britse juk te ontkom, sou uiteindelik op ‘n manier deur sy eie volk verraai word. Die kinders van daardie selfde skare wat op 31 Mei 1966 met sterre in hul oë na die groot man opgekyk het, sou enkele dekades later voor in die koor sing om saam met die Britte en die swart bevrydingsteoloë wat deur Huddleston en Engelse kerk opgelei is Verwoerd as ‘n Nazi en ‘n rassis uit te kryt… Die stad Verwoerdburg sou die naam van ‘n Engelse krieketveld, Centurion, kry. Hendrik Verwoerdrylaan in Randburg sou na Bram Fischer, die skelm klein kommunis, vernoem word.

Ná Verwoerd sou die Nasionale Party-leierskap ‘n dalende lyn volg. Strategiese en intellektuele denke sou plek maak vir pragmatisme, vir aanpassing. Pleks van buitelandse druk teen te staan en self druk toe te pas, word daar aanmekaar toegegee. Ná die pragmatisme van B.J. Vorster en P.W. Botha, volg die nihilisme van FW de Klerk.

Nadat Verwoerd dood is, sit Trevor Huddleston, John Collins en hul Britse en Sweedse vriende egter nie stil nie. Huddleston beklee nou ‘n redelike hoë posisie in die Anglikaanse kerk. Dit gee aan hom diplomatieke status wat hy kan gebruik om sakelui, politici en selfs staatshoofde te besoek. Terseldertyd is hy voorsitter van die Britse Anti-Apartheidsbeweging en natuurlik van die International Defence and Aid Fund waartoe Swede onder Olof Palme as eerste minister rojaal bydra. Oral in Brittanje spreek Huddleston onophoudelik skole en universiteite toe, pamperlang sy vriende in die media en reis ook toenemend na die VSA waar hy veral op kampusse net een boodskap het: vernietig apartheid-Suid-Afrika, boikot die land op ekonomiese, kulturele en sportgebied. Weens die radikalisering van kampusse dwarsdeur die Westerse wêreld in die laat sestigerjare, vind hy ‘n ontvanklike gehoor vir sy boodskap. Soms sleep hy Tambo, die kastige leier van die ANC, saam, soms nie.

Vorster drink Oude Meester, speel gholf en begaan een strategiese fout na die ander. In 1967 stuur Suid-Afrika polisiemanne na Rhodesië om daardie land in sy oorlog teen die sogenaamde Patriotiese Front van Robert Mugabe en Joshua Nkomo by te staan. Vroeg in 1973 sweer Vorster dat die polisie nooit onder sy regering vanuit Rhodesië sal onttrek nie, maar in Desember van daardie jaar swig hy onder Britse druk en onttrek hulle wel.

Sommige NP-politici begin die aard van die oorlog wat daar teen Suid-Afrika en die Afrikaner deur Huddleston en sy trawante gevoer word, insien. Vorster stel in 1968 dr. Connie Mulder as minister van inligting aan. Onder hom sou daar ‘n grootskaalse teeninligtingsveldtog geloods word. Omdat die vyand in Londen van koverte metodes gebruik maak, begin Mulder, asook die sekretaris van sy departement, dr. Eschel Rhoodie, ‘n program om die Westerse media te beïnvloed en poog op ‘n stadium om selfs die Washington Post, die invloedryke liberale koerant in die Amerikaanse hoofstad, te koop. In Suid-Afrika word die koerant The Citizen met geheime regeringsfondse opgerig, om as teenvoeter vir die Rand Daily Mail, ‘n giftige antiregeringskoerant, te dien. Hierdie veldtog duur van 1972 tot 1979.

Sowel Mulder as Rhoodie word egter betrek by ‘n magstryd binne die Nasionale Party om Vorster se opvolger aan te wys. In die stryd tussen Mulder en PW Botha om leierskap van die party, word die geheime projekte van die departement van inligting nou openbaar gemaak en ontstaan die sogenaamde “Inligtingskandaal”. Rhoodie word van bedrog aangekla, vra op ‘n stadium selfs politieke asiel in Brittanje, maar vlug na Frankryk waar hy uiteindelik gearresteer en uitgelewer word. Ná ‘n lang hofsaak word Rhoodie deur die Appèlhof in Bloemfontein onskuldig bevind, waarna hy Amerika toe emigreer.

Tydens die inligtingskandaal kry die Engelse pers in Suid-Afrika, wie se lojaliteit by die mynhuise en in die tweede instansie by Brittanje berus, die geleentheid om die Nasionale Party maande lank van korrupsie en die verduistering van staatsfondse te beskuldig. Uiteindelik skeur die party, eers as Mulder uitstap om sy eie doodgebore party te begin en daarna Treurnicht wat al jare lank in die visier van die pers verkeer. Sodoende onstaan die Konserwatiewe party as die tweede afsplintering van die NP, ná die Herstigte Nasionale Party reeds in 1968 weggebreek het onder die leierskap van dr. Albert Hertzog, seun van J.B.M. Hertzog.

In 1978, kort ná die Soweto-onluste van 1976, wen P.W. Botha die leierskapstryd in die Nasionale Party. Die volgende dekade of wat sou die toekoms van Suid-Afrika – en van die Afrikaner – op ‘n mespunt verkeer. Botha verwys wel na “die totale aanslag” teen Suid-Afrika, wat toon dat hy wel die omvang van daardie aanslag begryp het. Maar het hy die aard daarvan, as ‘n inligtings- en sielkundige oorlog wat uit Londen gevoer word, begryp?

 

As minister van verdediging het Botha met die strategiese aspekte van die militêre magspel in Suider-Afrika te doen gekry. Op die Namibiese grens is Suid-Afrika toenemend, namens “die vrye wêreld”, die Westerse wêreld waarvan Harold McMillan nog in 1960 gepraat het, in ‘n konvensionale oorlog teen die Oosblok betrokke wat groot eise aan die land se begroting en mannekrag stel. Sowel die VSA as Brittanje speel nou ‘n dubbele spel. Aan die een kant word daar van Suid-Afrika verwag om “die fort te hou” teen die Sowjetunie en sy bondgenote in Suider-Afrika, aan die ander kant werk albei lande mee aan die ondermyning van Suid-Afrika.

Hoewel Verwoerd destyds al ingesien het dat die Afrikaner se vyande nie sou rus voordat die volk, hetsy uitgewis, hetsy heeltemal geassimileer of uit die land verdryf sou word nie, heers ‘n relatiewe vrede van 1966 tot die middel-sewentigerjare.

‘n Eksterne gebeurtenis veroorsaak dat die eerste twee domino’s van die strategiese “cordon sanitaire” rondom die land val, naamlik die twee Portugese “oorsese provinsies”, Angola en Mosambiek. Die patroon in Suider-Afrika is dat die blanke minderhede, hetsy in die Portugese kolonies, hetsy in Rhodesië of Suid-Afrika, die militêre stryd met redelike gemak teen die swart-nasionalistiese guerillas wen. Maar telkens word elkeen van hulle verraai deur die metropool in die vorm van die koloniale moondhede soos Portugal of Brittanje, of die sogenaamde “leier van die vrye wêreld”, die VSA.

Op 25 April 1974 vind die sogenaamde Angelierrevolusie in Portugal plaas. Die linkse regering wat aan bewind kom, onttrek dadelik vanuit Angola en Mosambiek, wat chaos en langdurige burgeroorloë tussen mededingende swart-nasionalistiese faksies veroorsaak. In 1975 betree Suid-Afrika, op versoek van die VSA, Angola en die SAW vorder baie vinnig tot aan die buitewyke van Luanda. Voor die troepe die grens tussen Suidwes-Afrika en Angola oorsteek, word hulle toegespreek deur ‘n amptenaar van die CIA wat hulle loof vir hul dapperheid in diens van die vrye wêreld.

Maar dit word aanstons duidelik dat die VSA ‘n volgende Viëtnam vrees. In die New York Times word sterk kapsie gemaak teen nog ‘n Amerikaanse militêre avontuur in ‘n derdewêreldland. PW Botha staan nou voor ‘n moeilike keuse. Moet hy op eie houtjie, sonder Amerikaanse steun, Angola beset en die orde daar handhaaf of moet hy weer terugtrek tot oorkant die grens. Van die SA verkenners het reeds die hawe van Luanda begin myn om enige skepe met militêre voorrade vanuit die Oosblok te stuit. Indien Botha sy pro-Westerse bondgenoot Jonas Savimbi van UNITA op daardie stadium in Luanda as oorgangsregering geïnstalleer het, sou die gang van die geskiedenis dalk anders verloop het. Savimbi is lid van die Ovimbundu, die grootste stam in Angola wat ongeveer 40% van die bevolking verteenwoordig. In ‘n verkiesing sou hulle waarskynlik teen die res kon seëvier.

Botha kies egter die opsie wat die minste risiko behels: hy sê sy verkenners aan om weer die hawe van Luanda te ontmyn en die SAW retireer tot suid van die grens. In Johannesburg het ‘n nuwe redakteur die leisels van die swart koerant in die Argusgroep, The World, oorgeneem. Hy heet Percy Quoboza. Terwyl sy voorgangers op sokker en vermaak gekonsentreer het, omskep hy die koerant in ‘n linkse politieke dagblad. In The World word daar geskryf dat Suid-Afrika uit Angola onttrek het omdat die SAW “bang was” en eintlik die oorlog in daardie land, wat toe maar eers begin het, “verloor” het. Onder die swart jeug van Soweto, wat in die onlangse verlede deur die Engelse kerke met die teologie van die revolusie en die swartbewussynsfilosofie bestook is, sou hierdie artikel in The World nie ongesiens verbygaan nie. Die ewe holderstebolder oorname van Frelimo in Mosambiek, met beangste blanke Portugese vlugtelinge wat in Suid-Afrika aangekom het, sou insgelyks die indruk skep dat die kapitulering van die Suid-Afrikaanse regering nie ver weg is nie. Op 24 September 1974 vind ‘n pro-Frelimo-massavergadering op die kampus van die Universiteit van die Noorde plaas.

(word vervolg)

проверка илобановский александр дети

Twee eeue van onreg deur Engelse, deel I

PRAAG KLASSIEK

Soveel mense is totaal in die duister oor die byna konstante inmenging van Engelse en Brittanje in Suid-Afrika en hoeveel onreg die Afrikaner in die proses aangedoen is. Daarom het ek dit goedgedink om hierdie kort, ietwat polemiese geskiedenis daaroor te skryf.

1. 1806-1910

Kort ná Brittanje die mag in 1806 oorgeneem het, neem sir Johan Cradock en lord Charles Somerset stappe teen Nederlands en die Kaapse taal wat reeds in breë trekke Afrikaans was. Weens die propaganda van die sendelinge Read en Van der Kemp word die sogenaamde Swarte Ommegang of Rondgaande Hof in September onder Cradock se bewind ingestel, met die uitsluitlike doel om die inheemse blanke boere te teister, boere wat in ‘n brief deur Read aan die Londense Sendinggenootskap as “Savage Boors” beskryf is.

“Savage Boors”, “Dumb Dutchmen”, “Racist Afrikaners”… klink dit dalk bekend?

In 1813 stel Cradock gratis Engelse laerskole in met die doel om die Kaapse bevolking te verengels.

Nie lank daarna nie, neem Somerset oor. Op 9 Maart 1816 volg Slagtersnek, wat een van die oorsake van die Groot Trek was, omdat dit toe reeds duidelik was dat Afrikaners van die Swarte Ommegang geen regverdige verhoor sou ontvang nie. Volgens Theal het Slagtersnek vir tagtig jaar in die openbare geheue gebly en een van die redes waarom Kruger nie die Uitlanderopstandelinge van die Jameson Raid wou ophang nie, was omdat hy nie “‘n Engelse Slagtersnek” wou skep nie.

Somerset skryf op 14 Februarie 1821 aan die minister van oorlog en kolonies, graaf Bathurst, oor “the expediency of having all the schools in the colony conducted by English masters” met die doel om die kinders te verengels. Op 5Julie 1822 vaardig Somerset sy berugte proklamasie uit met die taalordonnansies wat slegs Engels as staats- en hoftaal afdwing.

Afgesien van Read en Van der Kemp, is dit veral dr. John Philip wat ‘n grootskaalse propagandaoorlog teen die Kaapse Afrikaners van stapel stuur. Philip het ‘n patroon gevestig wat tot vandag toe voortduur, van Engelse geestelikes, skrywers en akademici wat ‘n  haatveldtog teen Afrikaners voer en gedurig belaster as mense wat hul werkers onderdruk of van hul grond ontneem behoort te word. Hieronder verwys ek na Huddleston wat die primêre rol gespeel het om die vorige Afrikanerbewind tot ‘n val te bring en so te sê eiehandig die ANC geskep het.

Ná Somerset neem Sir Richard Bourke in 1826 oor. In 1828 vaardig hy sy berugte Ordonnansie 49 uit wat die Xhosas die reg gee om die Kaapkolonie sonder ‘n pas binne te kom, net soos wat die ANC, die huidige marionette van Brittanje, onlangs die Zimbabwiërs die reg verleen het om die Republiek vrylik binne te kom. As gevolg van Ordonnansie 49 het veediefstal epidemiese afmetings aangeneem en binne ‘n kort tydjie het die grensbewoners 5 000 beeste verloor.

In April 1828 verskyn die eerste van ‘n reeks bevooroordeelde en propagandistiese Engelse boeke, films en berigte deur wat die plaaslike inwoners as wreedaards en rassiste voorstel. Dit heet “Researches in South Africa” deur dr. John Philip. In ‘n lastersaak na aanleiding van die boek moes Philip ‘n bedrag van 200 pond en 900 pond koste aan landdros W.M. Mackay betaal wat deur Philip van “wreedheid teenoor die Hottentotte” beskuldig is.

Ordannansie 50 was ‘n direkte uitvloeisel van Philip se boek en een van die vernaamste oorsake van die Groot Trek.

Die moord op Piet Retief vind plaas omdat ‘n Britse sendeling, Owen, nie vir Retief wou waarsku oor Dingaan se ware bedoelings nie, hoewel hy vooraf geweet het dat die Zoeloekoning ‘n massamoord op Retief en sy volgelinge beplan het.

Ná die Sandrivierkonvensie (17 Januarie 1852), wat die onafhanklikheid van die Transvaal erken, asook die Britse erkenning van die Vrystaatse onafhanklikheid op 17 Februarie 1854, is albei Boererepublieke vir enkele dekades vry van Britse verdrukking.

Maar gedurende hiedie periode blaas die Britte herhaaldelik opstand teen die Boereregerings deur swart stamme aan (sogenaamde “verstekoorlog” of “war by proxy”) wat bewapen word terwyl die koloniale owerhede telkens verseg om die Boere toe te laat om wapens en ammunisie deur hul hawens in Natal en die Kaap in te voer.

Kort ná die ontdekking van diamante in 1867 begin geskille met die Transvaal oor grense want die Britte in die Kaap wou die rykdom vir hulle inpalm.

In 1877 raak Britse inmenging in ons sake baie duidelik met die eerste anneksasie van die Transvaal deur Sir Theophilus Shepstone. Danksy Paul Kruger se vasberadenheid en onverskrokkenheid, asook die Transvaal se briljante geveg by Majuba, herwin die Transvaal amptelik sy onafhanklikheid met die ondertekening van die Londense konvensie in 1884.

 

Maar die ontdekking van goud in 1886 laat die Britse aptyt om ons te kom plunder weer opvlam en nie lank nie of daar word ‘n onverwagse militêre aanval op die Transvaal beplan.

In 1896, loods die Britte ‘n staatsgreep teen die Transvaal waarby die Kaapse eerste minister, Cecil John Rhodes en hoë amptenare in Londen betrokke was.

Hierdie poging van Brittanje om die wettige, verkose regering van die Transvaal met geweld omver te werp, staan bekend as die “Jameson Raid” onder leiding van ‘n Uitlanderpolitikus, Leander Starr Jameson. Op 1 Januarie 1896 word Jameson egter gestuit deur kommandant Piet Cronjé en ‘n klein Boerekommando wat die Engelse rebelle ná ‘n geveg naby Krugersdorp in hegtenis neem.

As gevolg van die Jameson-insident moes Rhodes as eerste minister van die Kaapkolonie bedank. Dog hierna begin die propagandaveldtog teen die Transvaal in alle erns, met die doel om ‘n oorlogpsigose in Brittanje te skep. Die held van dié veldtog is die skrywer van “Jock of the Bushveld”, sir Percy Fitzpatrick, wat ‘n politieke boek onder die titel “The Transvaal from within” publiseer. Ook die Uitlanderkoerante in Johannesburg soos The Star en van die Kaapse Engelse koerante doen hul uiterste bes om die klimaat vir oorlog te skep.

Die pragmatiese, goeie, godsdienstige Boere met hul aangebore sin vir regverdigheid staan feitlik alles toe wat die Uitlanders verlang, tot die stemreg ná ‘n verblyf van sewe jaar. Hulle mag Engelse skole en kerke hê, mag Engelse in die laer howe gebruik en in die Johannesburgse munisipaliteit, alles regte wat hulle nog nooit aan ons wou toestaan nie en wat ons tans onder die ANC ook nie meer geniet nie.

Maar dit alles is nie genoeg nie. Soos Paul Kruger uitgeroep het: “Dis nie die stemreg wat julle wil hê nie, dis my land!”

As mev. Gezina Kruger die nuus van die Britse ongevalle by Spioenkop ontvang, bid sy vir die Engelse moeders wat die nuus van hul seuns se dood gaan aanhoor voordat sy aan haar eie volk se ongevalle dink. By Magersfontein laat De la Rey Engelse krygsgevangenes vry sodat hulle behandeling in hul eie, beter toegeruste veldhospitale kan ontvang.

Die Engelse veg egter nie oorlog volgens sulke beskaafde reëls nie. Trouens, al die oorlogsmisdade wat die Engelse later in die twintigste eeu voor Hitler en die Nazi’s se deur sou lê, pleeg hulle reeds tussen 1900 en 1902 in Suid-Afrika. Onder Roberts en Kitchener volg die verskroeide-aardebeleid wat niks ontsien nie. Alles wat Afrikaners besit of in die Vrystaat en Transvaal opgerig het, word voor die voet afgebrand – kerke ingesluit – en die vroue en kinders word in die middel van die winter op goederetreine na die konsentrasiekampe vervoer.

Hoewel volksmoord nie die verklaarde bedoeling van dit Britse leër in Suid-Afrika was nie, kan mens tog uit hul handelinge en hul herhaalde pogings om ons taal, kultuur, vryheid en volkskap te vernietig, aflei dat dit by verstek wel om volksmoord gegaan het.

In die kampe het die sterftesyfer op ‘n stadium 34% behaal. Selfs tydens die oorlog word die verengelsing van die oorblywende kinders in die vooruitsig gestel in ‘n brief van Sargent aan Milner.

Ná 1902 volg Milner dit op met sy verengelsingsbeleid in die skole. Die trotse Gimnasium of hoërskool wat in Pretoria deur Paul Kruger opgerig is, word verander na Pretoria Boys’ High, wat tot vandag toe ‘n Engelse skool sou bly.

By Uniewording in 1910 word “tweetaligheid” as beginsel in die grondwet aanvaar, maar dit sou eers veel later onder Hertzog in 1925 toegepas word. Toe die eerste aansoeke om Afrikaanse hoërskole aan die Rand by die onderwysdepartement ingedien word, skryf The Star in ‘n hoofartikel: “There is something rotten in the state of Denmark.” Die Engelse pers is met afgryse vervul deur die gedagte dat daar Afrikaanse hoërskole sou ontstaan en dat die “winste” van die oorlog om Engels as landstaal te vestig daarmee in die gedrang sou kom.

Uit die Britse beleid tydens die negentiende en vroeë twintigste eeue kan ons dus die volgende gevolgtrekkings maak:

Engeland sou voor niks stuit om sy wil op die Afrikaner af te dwing nie. Oorlog teen vroue en kinders, terreur, verstekoorlog, haatspraak, die verspreiding van leuens en halwe waarhede, die belastering van Afrikaners, is alles metodes wat na willekeur gebruik kan word om Engelse strategiese, ekonomiese, godsdienstige en militêre doelwitte te bereik. ‘n Geval van “die doel heilig die middele”. Afrikaans, die Afrikaneridentiteit, Afrikanergrondbesit en -landbouproduksie, asook Afrikaanse instellings soos skole, kerke en universiteite, word as ongewens beskou omdat dit tot weerstand teen die Britse totaaloorheersing aanleiding kan gee. Die aanspraak van die Afrikaner op taalregte, menseregte, selfbeskikking en volksvryheid word deur Engelse as ewe lastig gesien. Waar sulke regte tydelik erken of eerbiedig word, geskied dit halfhartig en verteenwoordig bloot ‘n voorspel op ‘n volgende hoofstuk waarin oorlog, etniese suiwering of verdrukking gaan volg.

Deur die gebruik van sendelinge, vyandige stamhoofde, verraaiers en hensoppers in eie geledere, het die Engelse dit reggekry om vir die grootste deel van die afgelope 200 jaar in Suider-Afrika die Afrikanervolk te onderdruk en so byna-byna te vernietig.

 

Volksmoord volgens sy twee definisies: etnoside (uitwissing van die vyandelike volk se taal, kultuur en identiteit) of selfs genoside (die fisieke uitwissing van die vyand se bevolking) is reeds 200 jaar lank Britse beleid jeens Afrikaners en die huidige bestel verteenwoordig bloot die voortsetting daarvan.

Kort ná die tweede wêreldoorlog het die Nasionale Party egter op 26 Mei 1948 ‘n merkwaardige oorwinning by die stembus behaal. Vir die eerste keer ná 1902 het Afrikaners gedeeltelik aan Engelse oorheersing ontkom en het Afrikaans as taal veral in die sestigerjare ‘n geweldige opbloei beleef, met ‘n opbloei in die ekonomie en nywerheidsontwikkeling.

Die aanloop tot daardie verkiesing, asook die Engelse reaksie daarna, sal die tema van ‘n volgende aflewering van my beknopte geskiedenis van die Britse rol in die Afrikanergeskiedenis uitmaak. Ek sal ook uitwys in watter mate Britte en Brittanje ‘n sleutelrol gespeel het om De Klerk tot oorgawe te dwing en ons permanent van alle politieke mag of inspraak in Suid-Afrika te stroop. Dit verteenwoordig die Endlösung of “finale oplossing” wat Brittanje vir die “Afrikanerprobleem” in Suid-Afrika in die vooruitsig stel. Soos ‘n BBC-kommentator teenoor Tony Leon tydens die program “Hard Talk” opgemerk het: “Indien die Afrikaners nie tevrede is (met permanente tweedeklasburgerskap, asook diskriminasie op grond van ras en taal) nie, het hulle die keuse om te emigreer.”

2. 1910-1948

In die tydperk 1910-1948 voer die Afrikaner ‘n ekonomiese en kulturele stryd om oorlewing. As gevolg van Milner se verengelsingsbeleid via die skole word die sogenaamde CNO-skole gestig. Hoewel daar steeds Afrikaanse laerskole was, bestaan daar min of geen Afrikaanse hoërskole. Dr. William Nicol, wat ‘n groot rol aan die Rand gespeel het in die beweging vir Afrikaanse onderwys, sou praat van die “verlore geslag” wat weens ‘n gebrek aan Afrikaanse skole eenvoudig verengels het. Trouens, in ‘n hoë mate – en met die uitsondering van Natal – bestaan daar nie iets soos “Suid-Afrikaanse Engelse” nie, aangesien ‘n groot persentasie van hulle Afrikaners is wat oor die afgelope 200 jaar verengels is. Tydens verskeie tydperke van Britse bewind of Britsgesinde bewind, is verdeeldheid tussen Afrikaners gesaai, met die mees Britsgesindes wat na die Britse kultuur oorgegaan en gewoon verengels het. Sommige van hulle het hul Afrikaanse vanne behou, ander weer het weens ondertrouery hul Afrikaanse vanne verloor.

Net voor 1920 begin die gedagte van Afrikaanse hoërskole sterk momentum verkry. Oor die volgende twintig jaar sou letterlik honderde Afrikaanse hoërskole regoor die land tot stand kom.

Ook die Viktoria-kollege word danksy die erflating van Jannie Marais van Stellenbosch ‘n universiteit waar Afrikaans gou-gou die voertaal word. Op Potchefstroom het die Universiteitskollege wat uit ‘n Teologiese Skool en ‘n “Literariese Departement” bestaan het, vanuit Nederlands in Afrikaans ontwikkel. In 1905 is die kollege van Burgersdorp na Potchefstroom verskuif en in 1919 word die “Literariese Departement” vir subsidiedoeleindes van die Teologiese Skool geskei en onstaan “Het Potchefstroom Universiteitskollege voor Christelike Hooger Onderwijs”.

Vandag kan ons ons nouliks die opwinding van die twee dekades 1920-1940 voorstel toe Afrikaans as’t ware uit die niet as skool-, universiteits- en wetenskapstaal na vore tree. Dit is ook die tyd van die Tweede Taalbeweging en van die Dertigers soos N.P. van Wyk Louw en Uys Krige wat die poësie tot groot hoogtes voer. In die prosa verskyn ‘n hele aantal romans oor die armblankevraagstuk deur Van Bruggen en ander. Van Melle publiseer sy klassieke roman, “Bart Nel” oor die rebellie. In C.M. van den Heever se roman “Laat vrugte” word ‘n naturalistiese beeld van die Afrikanerboer op die platteland gegee en soos by Emile Zola is hy onderworpe aan die kragte van die natuur, aan groei, wasdom en uiteindelike verswakking en verval.

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 kies Botha en Smuts kant vir Engeland teen Duitsland en Suid-Afrika veg aan die kant van dieselfde moondheid wat net ‘n dekade vantevore ‘n kwalik bedekte beleid van volksmoord teen die Afrikaner gevoer het. Dit lei tot die Rebellie, waartydens Koos de la Rey in ‘n skietvoorval sterf, verskeie Afrikaners in die tronk beland en Jopie Fourie voor die vuurpeleton sterf. Voor sy teregstelling sê Jopie Fourie:

“Nou moet ek sterwe, omdat ek getrou gebly het aan die dinge waaronder ek gebore is en waarvoor ek altyd geveg het. Aan my word geen genade betoon nie, hoewel ek toevalligerwyse die seun was wat onder die wit vlag uitgegaan het om die oorgawe van dr. Jameson te aanvaar, en nou is hy sir Starr Jameson, terwyl ek doodgeskiet moet word.”

 

En ook: “Die boompie wat vandag geplant en met my bloed benat word, sal groei en groot word, en heerlike vrugte vir ons volk dra.”

In G.D. Scholtz se “Ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner” wat 8 bande en meer as 3000 bladsye en byna twee miljoen woorde beslaan, skryf hy in deel VIII (1939-1948) dat die stryd om oorlewing vir, soos hy dit noem, “die Afrikaanse volk”, nie so fel sou gewees het indien dit nie vir genl. J.C. Smuts was nie. ‘n Bekende tema in die Suid-Afrikaanse geskiedenis is “nasiebou en eeheid” en nadat hy aanvanklik as staatsprokureur onder Paul Kruger en Boeregeneraal geveg het, wy Smuts hom geheel en al aan die Britse ryksideaal, asook

Van 1919-1924 is hy eerste minister van Suid-Afrika en tree hy genadeloos teen die stakende mynwerkers in 1922 op. Dit lei tot ‘n koalisie tussen J.B.M. Hertzog se Nasionale Party en die Arbeidersparty sodat eersgenoemde in 1924 by Smuts oorneem. Onder Hertzog kry die beweging van Afrikaner-nasionalisme en vir ‘n eie taal en kultuur verder momentum. In 1928 word die oranje-blanje-blou vlag en “Die Stem” van C.J. Langenhoven in die plek van die Union Jack en God Save the King aangeneem, hoewel die twee vlae en twee volksliedere nog vir baie jare naas mekaar sou bestaan.

In die dertigerjare neem die druk vir Afrikaanse universiteite in Pretoria en op Bloemfontein toe. Die digter Eitemal (W.J. du P. Erlank) verbrand uit protes teen die Engelse taalbeleid ‘n Britse vlag op die kampus van die destydse Transvaalse universiteitskolleg, waarna hy geskors word. Maar die beweging kan nie gestuit word nie en die UP word ‘n Afrikaanse universiteit, asook die UOVS ietwat later.

Sowel Hertzog as Smuts glo dat ‘n vorm van apartheid die beste stelsel is om die blanke beskawing in Suid-Afrika te beskerm. Wit en swart moet hul eie geografiese gebiede hê en dit bekommer Hertzog veral dat swartes deur hul vinniger bevolingsgroei uiteindelik die blankes en Afrikaners in hul eie gebied mag verdring.

Maar in 1934 vind een van daardie periodieke episodes van broedertwis onder Afrikaners plaas toe Hertzog besluit om met Smuts se Suid-Afrikaanse Party saam te smelt en die Verenigde Party te vorm. Die Nasionale Party skeur in twee en vier LV’s onder D.F. Malan vorm die Gesuiwerde Nasionale Party. In die Transvaal beskik hulle oor net een LV, die latere eerste minister J.G. Strijdom, die lid vir Waterberg. By sommige vergaderings wat hy toespreek, daag net vier mense op, maar hy gooi nie tou op nie.

By hierdie punt sou die pro-Britse beweging in die land, wat oor die jare ook baie nou met die mynhuise verbind was, waarskynlik geseëvier het. Die Gesuiwerde Nasionale Party het oënskynlik geen steun nie, nie veel geld nie en al die koerante in die land – Engels en Afrikaans – ondersteun die sogenaamde Smelterbeweging.

In die redaksiekantoor van ‘n enkele Afrikaanse koerant word daar egter indringend oor die Smelterkwessie gedebatteer, te Keeromstraat, Kaapstad. Die redakteur van Die Burger, dr. A.L. Geyer, is op die oog af geen joernalis nie, het in Europa gestudeer en stel nie vreeslik in nuus belang nie. Hy is ook ‘n ywerige versamelaar en kenner van orgideë. Die Burger, anders as Die Vaderland of Die Volksblad, besluit om sy gewig agter die Gesuiwerdes in te werp, stroomop. A.L. Geyer en sy spotprentkunstenaar, die talentvolle D.C. Boonzaaier wat self verkies om Engels te praat, werp alles in die stryd om Smuts se Verenigde Party te bestry. Rondom 1939 stig H.F. Verwoerd en drie ander op die parlementêre trein op pad Kaap toe nog ‘n pro-Nasionale koerant, Die Transvaler.

Onder die Smuts-regering poog die Engelssprekendes en die pro-Britse Afrikaners om alles wat die Afrikaane beweging onder Hertzog tot stand gebring het, af te takel. Allerlei maatreëls word bespreek en getref om “tweetaligheid” in die skole terug te bring. Die ongeskrewe wet van tweetaligheid was dat Engels as taalmedium in Afrikaanse skole teruggebring moes word, terwyl die Engelse skole natuurlik in Engels sou voortgaan.

D.F. Malan verwys na die veertigerjare as die “derde taalstryd”. In Natal, waar Afrikaanse skole net met groot moeite opgerig kon word aangesien die provinsie nie onafhanklike beheerrade by skole toegelaat het nie en alles sentraal afgedwing het, is die getal leerlinge by die Afrikaanse skole beperk. As ‘n skool dus “vol” was, moes ‘n kind desnoods na ‘n Engelse skool gaan. In die res van die land word ‘n bedrag van 100 000 pond ingesamel om die Afrikaanse skole in Natal te hulp te snel.

“Tweetaligheid” word ook vir die Afrikaanse universiteite aanbeveel, wat sou beteken dat Engels weer die oorheersende taal aan die vier Afrikaanse universiteite sou word.

Tydens die tweede wêreldoorlog woed ‘n verbete stryd tussen die pro-Duitse Ossewabrandwag en soldate van die Smutsregering. Nie net word Afrikaners (soos B.J. Vorster) krygsgevangenes nie, maar in Pretoria word pro-Duitse Afrikaners in die tronk doodgemartel.

Ná vredesluiting in 1945 woed die stryd tussen Nat en Sap voort. In een berugte geval breek gevegte met knuppels tussen soldate en O.B.-lede by die kantore van Die Transvaler in Braamfontein, Johannesburg uit.

 

Indien Smuts, soos hy verwag het, die 1948-verkiesing sou gewen het, sou die vele maatreëls om Afrikaanse skole en universiteite weer te verengels waarskynlik geslaag het. Onder ‘n pro-Britse regering sou Suid-Afrika nooit weer ‘n republiek geword het nie. En indien die liberales of progressiewes soos mev. Helen Suzman en mnr. Harry Oppenheimer hul sin gekry het, sou Suid-Afrika, soortgelyk aan die ander Britse kolonies soos Kenia, Zambië en die oud-Rhodesië, waarskynlik veel vroeër tot eenvoudige swart meerderheidsregering ingestem het. Moontlik sou Nelson Mandela, Bram Fischer en ander lede van die ANC-SAKP-alliansie nooit tronk toe gegaan het, maar Suid-Afrika sou net soos die ander Britse kolonies vandag ‘n derdewêreldstaat gewees het wat van Britse voedselhulp afhanklik is. Maar die myne sou nog steeds hul grondstowwe gelewer het, wat al is wat ooit vir die Britte van belang was.

By Jalta het Churchill die Westerse wêreld uitverkoop, net soos wat Brittanje die blankes van die oud-Rhodesië en Suid-Afrika, wat hulle in twee wêreldoorloë ondersteun het, in die rug sou steek.

Deur Brittanje se strategiese besluit om die hele Oos-Europa, waaronder Oos-Duitsland, aan Stalin van Rusland oor te dra, het hy die Koue Oorlog moontlik gemaak. Die Koue Oorlog, of die einde daarvan, sou ook uiteindelik tot die val van Suid-Afrika en die Afrikaner aanleiding gee.

Soos die linkse skryfster Nadine Gordimer in haar gevleuelde prosa iewers geskryf het, het sy nooit in haar wildste drome op die Oosrandse dorp Springs waar sy grootgeword het, kon dink dat die armoedige kaalvoet-“Japies” soos sy hulle noem, ooit die land sou regeer nie. Ook die Britsgebore historikus aan Wits, Arthur Kepple Jones, het in sy satiriese toekomsroman “When Smuts goes” ‘n donker toekoms vir die land onder die Nasionale Party voorspel. Indien dit sou gebeur, sou die land teen 1977 heeltemal in duie stort weens rassekonflik en ‘n fascistiese regering wat al hoe dommer en ongenaakbaarder sou optree.

Die 1948-verkiesing het beswaarlik oor die woord “apartheid” gegaan. In elk geval was Smuts geen voorstander van swart meerderheidsregering nie. Trouens, hy het verskeie kere in sy lewe gesê dat “politiek vir die swartman” net tot sy nadeel sou wees en tot die ondergang van die blanke beskawing in Suid-Afrika aanleiding sou gee.

Die Boer-Britstryd, asook die taalstryd en die toenemende bedreiging vir Afrikaanse skole en universiteite, het waarskynlik ‘n veel groter rol gespeel om die Afrikanerkiesers in 1948 te oorreed om vir die Nasionale Party te stem. Dit het alles ‘n bietjie futiel gelyk, want onder die Smutsregering is daar beplan om 2 000 000 Britte na Suid-Afrika te laat immigreer, wat die skamele 1 350 000 Afrikaners demografies sou oorspoel en hulle vir altyd polities magteloos sou laat, min of meer soos ná 1994. Die Johannesburgse koerant The Star het na die Afrikaners se teenkanting teen grootskaalse Britse immigrasie in 1947 as “Middeleeus” verwys.

Onder andere het die Smutsregering alle staatsamptenare verbied om aan die Broederbond te behoort. Een so ‘n Broederbonder, W.C. du Plessis, het verkies om eerder sy betrekking te laat vaar as om te bedank. Hy was heeltemal onbekend, maar het hom in die kiesafdeling Standerton teen die wêreldberoemde veldmaarskalk Smuts, gesogte raadgewer van die Britse kabinet en koninklike familie, as kandidaat gestel. Waarskynlik is hy in sy oormoed uitgelag. Wie sou ooit kon dink dat hy teen Smuts kon wen?

In sy boek “Stryd om ewewig” vergelyk C.M. van den Heever, die aantrekkingskrag van die Britse kultuur met dié van lig. Soos die mot die kers aantrek, so trek die Engelse kultuur ander na hom aan. Vir vele Afrikaners oor die afgelope twee eeue was dit so en in die laat veertigerjare van die vorige eeu het die glorie van die Britse ryk nog steeds vir baie Afrikaners helder geskyn. Deels omdat hy gevoel het dat die Verenigde Party se aanhang besig is om te taan, het Smuts in 1947 die Britse koningsgesin na Suid-Afrika genooi in die hoop dat die besoek sy party se aansien sou laat styg.

Terwyl die Engelse pers oor die koninklikes geswymel het, het Verwoerd se Transvaler op die tweede bladsy verwys na verkeersopeenhopings wat Britse toeriste in Johannesburg veroorsaak het. Ná sy terugkeer in Brittanje het die Britse koning egter gesê: “if he had to single out the most stirring of the many recollections of his tour, it would be his realisation that the faith of South Africans in Britain is not only unimpaired, but has become stronger on account of her unflagging effort in war and peace”.

Op 26 Mei 1948 het Suid-Afrika na die stembus gegaan in ‘n verkiesing wat aardskuddende gevolge vir Suid-Afrika, asook die land se koloniale verhouding tot Groot Brittanje, sou hê. Dit sou ook die radikales met nuwe ywer vervul om dit wat hulle nie deur die stembus kon verkry nie, met geweld en terreur op die land af te dwing. Sowel Bram Fischer as sy vrou Molly het in Johannesburg vir die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty in werkersklasbuurte probeer staan, maar kon geen hond haaraf maak nie.

 

Die onbekende staatsamptenaar en Broederbonder wat eerder bedank het as om sy organisasie vaarwel te roep (‘n mens wonder hoeveel Afrikaners vandag enige Afrikaanse organisasie bokant hul betrekking of posisie sou verkies), Wentzel du Plessis, beskryf die aankondiging van die uitslag op Standerton soos volg:

“Toe die landdros die klein groepie in die hofsaal (dit was onmiddellik nadat die stemtellery afgelope was) sê dat ek die oorwinnaar was, kon die atmosfeer met ‘n mes gesny word. Daar was geen kabaal nie. Daar was stilte, want die lotsbestemming het gepraat – met ‘n diep stem. Die geluid is weerkaats in die grot van die tyd en daarom was dit stil, vir eers… Die landdros moes die proklamasie uitskryf, maar hy kon nie skryf nie vanweë die bewing van sy hand. ‘Landdros, jy moet skryf,’ het ek gemaan, ‘hier staan meer as duisend mense voor die deur en die uitslag kan nou uitlek na hulle toe.’ Die landdros… het sy regterhand met sy linkerhand vasgehou en bewend geskryf.

Nou moes dit aangekondig word buite, maar nog nie afgekondig word oor die radio nie, want iemand moes eers na Irene (die woonplek van Smuts) gestuur word om die berig aan genl. Smuts persoonlik oor te dra. Die bietjie van die groot leed wat ons kon bespaar, sou bespaar word.

Die voordeur (van die landdroskantoor) word oopgesluit en ‘n yslike stilte daal neer oor die groot skare. Vrae skiet soos vonke uit meer as twee duisend oë. Die landdros begin lees, maar kom net tot by my naam… en toe breek die opgelaaide spanning los in ‘n kabaal soos ek nog nooit beleef het nie.”

Smuts was ‘n gebroke man en het nie te lank na die verkiesing nie, op 11 September 1950 gesterf.

D.F. Malan het die Nasionale Party se onverwagse oorwinning as ‘n “wonderwerk” beskryf.

Vir baie Engelse en Britsgesindes in die land was dit egter geen wonderwerk nie, maar ‘n ramp. Sekerlik in die huis van advokaat Bram Fischer en ander lede van die Kommunistiese party, was dit geen blye dag nie. Die Engelse pers in Suid-Afrika het ‘n atmosfeer van rou geskep en in Natal was daar dreigemente van afstigting van die Unie.

Bram Fischer was ‘n Rhodes-beurshouers aan Oxford en is tydens ‘n Europese studentekongres in die vroeë dertigerjare tot die kommunisme bekeer. ‘n Britse tydgenoot van hom het in die gees van Britse sosialisme, die “Fabiaanse sosialisme” grootgeword en hom as priester in die Anglikaanse kerk bekwaam.

Kort voor die einde van die tweede wêreldoorlog in 1945 het dié jong, sosialistiese Britse kerklike, sy gasmasker tydens die uitvaart van die skip uit Southampton oorboord gegooi en begin uitsien na sy nuwe lewe in Suid-Afrika. Ook hy is geskok deur die NP-oorwinning by die stembus in 1948 en hy sou die res van sy lewe daaraan wy om dit ongedaan te maak.

Dié man se naam was Trevor Huddleston. Kort ná 1948 sou hy hom midde-in ‘n magstryd rondom die beheer oor swart onderwys in Suid-Afrika bevind teen die Nasionale Partyminister vir Naturellesake en voormalige redakteur van Die Transvaler, die bekende H.F. (Hendrik) Verwoerd. Nie net het hy Desmond Tutu op die ouderdom van 13 onder sy vlerk geneem en vir hom sekere boeke gegee om te lees nie, maar by die eerste protesvergadering wat hy teen Verwoerd se beleid in die destydse Sophiatown sou organiseer, sou hy ‘n swart prokureur van Johannesburg vra om saam met hom op die verhoog te verskyn, ene Nelson Mandela.

Hoe minder die Britse invloed in Suid-Afrika, hoe meer sou die verhouding tussen die Afrikaner en Brittanje versleg. Die Koue Oorlog wat Churchill ontketen het deur Rusland tot in Wes-Europa toe te laat, het enorme druk op Suid-Afrika geplaas wat in Suider-Afrika feitlik alleen gestaan het en in sy naïwiteit die “Westerse belang” in Angola en elders verdedig het. Afrikanerbloed is gestort vir die Weste in sy konflik met Rusland, maar uiteindelik is die Afrikaner deur sowel Amerika as Brittanje verraai en op die ashoop van die geskiedenis gegooi waar hy hopelik spoedig sou vergaan.

Brittanje sou voortaan ‘n dubbele spel teenoor Suid-Afrika speel. Enersyds sou sy haar bande met Suid-Afrika probeer behou en andersyds die radikale beweging steun wat sou poog om die NP-regering met geweld omver te werp en sosialisme of kommunisme in te stel. Hierin sou die Arbeidersparty en die Anglikaanse kerk ‘n sleutelrol speel, met Vader Trevor Huddleston vooraan.

Vir ‘n dekade of twee ná 1948 sou die Afrikaner gedra word deur die ywer van ‘n nuwe geslag wat sonder die vreemde juk van Brittanje en Engelse instellings sou grootword. Die eens verdrukte taal Afrikaans het begin bloei en vroeg in die sewentigerjare het die destydse redakteur van die Sunday Times, Ken Owen, die vrees uitgespreek dat Engels uiteindelik in Suid-Afrika sou verdwyn omdat dit nie meer in die parlement, in die kabinet, in die staatsdiens, in die weermag en selfs in die tuislandadministrasies deur swartmense gepraat word nie. Die wêreldtaal, Engels, het in Suid-Afrika ‘n taal sonder mag geword en daar is aan sy voortbestaan hier te lande getwyfel. Terwyl “tweetaligheid” voorheen gebruik is om Afrikaans dood te maak, is die Nasionale Party se tweetaligheid aangewend om Engels lewend te hou. ‘n Strategiese fout deur die goedhartige, naïewe Afrikaners.

 

Elke keer as Engelse of Britsgesindes in Suid-Afrika aan die mag gekom het, selfs al was dit in ‘n koalisie met Afrikaners soos in die veertigerjare, het hulle – soos tans – feitlik onmiddellik probeer om Afrikaans uit te roei en die Afrikaner se identiteit te vernietig. Hierteenoor het die goeie, ordentlike Afrikaner Engels tydens die jare van Afrikanerregering lewend gehou en rojaal gesubsidieer.

In die Koue Oorlog wat tussen Brittanje en die Afrikaner tussen 1948 en 1994 sou woed, sou die Britte geen genade betoon nie. Dit was weer ‘n verskroeide-aardebeleid, net in ‘n ander vorm.

In ‘n derde aflewering, sal ek enkele minder bekende aspekte van die Boer-Britstryd oor die afgelope sestig jaar onthul, soos byvoorbeeld: Wie het Verwoerd vermoor? Waar het die geld vir die ANC se sogenaamde “struggle” vandaan gekom? Wie het gesorg vir sanksies teen Suid-Afrika? Het PW Botha regtig beroerte gekry?

Gaan voort na deel II.

купить тамбов диагностическое оборудованиеДанильченко Харьков