1948-1994: Van triomf tot ondergang
Lees ook deel I
Tydens die Hertzogjare het ons gesien dat Afrikaans in 1925 as amptelike taal erken is en dat “Die Stem” in 1928 as volkslied, tesame met die oranje-blanje-blou-vlag aangeneem is. Met die oorname van D.F. Malan se Nasionale Party in 1948 kon ons meer stappe te wagte wees wat die Britse karakter wat die land onder die Britse koloniale administrasie, asook onder die pro-Britse regering van Smuts aangeneem het, enigsins sou laat vervaag. Dit is dan ook presies wat gebeur het.
Een van die eerste stappe wat die Nasionale Party in die onderwys geneem het, is om die dubbelmediumskole wat bedoel was om Afrikaans in ‘n ondergeskikte posisie teenoor Engels te stel, uit te skakel. Maar ‘n ander, baie groot stryd wat uiteindelik bepalend sou wees, het hom op die gebied van swart onderwys afgespeel.
Sowel Brittanje as die plaaslike Engelse elite, wat in wese pro-Brits was, het ‘n regering deur Afrikaners as ‘n geweldige skok ervaar. Het hulle nie reeds in 1902 met die Boere afgereken nie? Het die feit dat hulle steeds die koloniale mynmaatskappye, asook die kapitaalkragtige Engelse media, beheer het, hulle nie genoeg mag gegee om Suid-Afrika te regeer nie?
Die meeste Engelse het steeds op Afrikaners neergesien en die kombinasie van ‘n meerderwaardigheidsgevoel en ‘n ervaring van magteloosheid het tot ‘n nuwe etniese gevoel onder baie Engelse aanleiding gegee.
Hierdie nuwe etniese gevoel van intense Afrikanerhaat, afkeer van Afrikaans en van die hele Afrikaanse kultuur en tradisie in Suid-Afrika, het hom veral aan die linkerkant van die politieke spektrum onder die liberales en die kommuniste gevestig.
Waarskynlik het die Nasionale Party ‘n fout gemaak om die Kommunistiese Party op 22 Junie 1950 te verbied, maar binne die party was daar mense wat gevoel het dat kommunisme ‘n gevaar vir Suid-Afrika verteenwoordig het, veral in die lig van die kommunistiese doktrine van verandering deur gewelddadige revolusie. Ná die Sowjetunie se klinkklare winste in die tweede wêreldoorlog, het kommuniste ook ‘n meer militante en uitdagende houding ingeslaan.
Slegs een kiesafdeling in die hele land het ‘n kommunis as Volksraadslid verkies en dit was in die Wes-Kaap waar Sam Kahn – waarskynlik in ‘n destydse kleurlinggebied – aangewys is.
Ná die verbod op kommunisme, loop al die blanke kommuniste – waaronder heelwat Jode – na die ANC oor waar hulle ‘n groep, die sogenaamde “Congress of Democrats” vorm.
Verwoerd dien as minister van naturellesake in die eerste NP-kabinet en hy is gemoeid met die toepassing van die beleid wat later berugtheid as “apartheid” sou verwerf. Dit sou hom onmiddelik in konflik bring met die “radikale priester”, soos vele mense reeds na Trevor Huddleston verwys.
In sy ywer om Afrikaners polities te bestry, sou Huddleston uiteindelik die grootste gedeelte van die Britse media, die Britse Arbeidersparty, die Britse Gemenebes en die Sweedse regering opvorder en sodoende die uiteindelike triomf oor die NP by die Kodesa-onderhandelinge behaal.
Waaroor het die Koue Oorlog tussen Boer en Brit tussen 1948 en 1994 gegaan? In die eerste plek was dit natuurlik ‘n etniese stryd tussen Brittanje wat sy beheer oor Suid-Afrika wou behou en die Afrikaners wat van Suid-Afrika ‘n onafhanklike en selfstandige staat met ‘n eie patriotisme en nasionale kultuur wou maak.
Anders as in die negentiende eeu, is daar egter nie direk oorlog gemaak nie. Daar is wel blanke verkiesings in Suid-Afrika gehou, maar dit was aanstons duidelik dat die liberale, pro-Britse komponent wat deur mnr. Alan Paton van die Liberale Party en toe mev. Helen Suzman en Colin Eglin van die Progressiewe Party aangevoer is, telkens by die stembus verslaan is. Op die kruin van Verwoerd se mag in die vroeë sestigerjare het 50% van Engelse blankes vir die Nasionale Party gestem! Hierdie “verdeelde indentiteit” van die plaaslike Engelse bevolking gaan terug na die Tweede Vryheidsoorlog toe ‘n groot deel van plaaslike Engelse nie meer vir Engeland in haar imperialistiese sug na uibreiding gesteun het nie. Sowel in Natal as die Kaapprovinsie het ‘n groot deel van die Engelse bevolking destyds die onafhanklikheid van die Boererepublieke gesteun en Kaapse Engelse intellektuele het selfs teen groot persoonlike risiko pro-Boerse gedigte gepubliseer.
Afgesien van die verkiesings in Suid-Afrika wat steeds onder blankes na etniese en taalverdelings geskied het, was daar ‘n tweede, baie ou terrein van stryd wat uiteindelik vir Brittanje die vrugbaarste geblyk het: dié om beheer oor swart onderwys, swart media en om uiteindelik die swartman in Suid-Afrika se denke te beheer.
Verwoerd was van die begin af midde-in dié stryd en een van sy heel eerste stappe, wat tot histeriese teenkanting van Huddleston en ander Engelse geestelikes gelei het, was om die beheer oor swart onderwys van die kerke weg te neem en onder die regering te plaas.
In die huidige tydvak het elemente van die destydse Britse propaganda natuurlik die aanvaarde waarheid geword. Volgens die Britse propaganda het swartmense tot 1948 ‘n hoë standaard van liberale, Engelse onderwys geniet, wat toe deur die Nasionale Party met agterlike, minderwaardige “Bantoe-onderwys” vervang is.
Iets wat mens ook dikwels vandag in Suid-Afrika hoor, is dat die Nasionale Party – en dus “die Afrikaners” – onderwys en opleiding geheel en al van swartes weerhou het. Baie mense, veral in die buiteland, glo dat swartes eers in 1994 begin skoolgaan het en dat hulle voorheen ook nie tot universiteite toegelaat is nie. Trouens, sommige rubriekskrywers in Afrikaanse koerante raak vandag soortgelyke snert kwyt.
Oor die afgelope 200 jaar was leuens en laster nog altyd ‘n wettige wapen in die arsenaal van Brittanje en die pro-Britse politici, skrywers en geestelikes in Suid-Afrika. Hierdie laster en verwronge aanbieding van die geskiedenis gaan vandag natuurlik lustig voort en word deesdae rojaal deur die belanstingbetaler befonds.
Die waarheid is dat die Brittanje en die Britse Ryk nêrens in Afrika enige noemenswaardige opvoedingstelsel nagelaat het nie. Toe die meeste Britse kolonies in Afrika onafhanklikheid verkry het, het hulle oor weinig matrikulante en – op enkele individue na – oor geen graduandi beskik nie. Huddleston wat, nadat hy uit Suid-Afrika weg is, as’t ware as president Julius Nyerere van Tanzanië se hanteerder opgetree het en hom in sy rampspoedige sosialistiese eksperimente aangemoedig het, vertel self in sy outobiografie dat sy “grootste kritiek teen die (Britse) koloniale administrasie is: dat dit ‘n administrasie was wat niks, absoluut niks, gedoen het om die mense vir onafhanklikheid en soewereiniteit voor te berei nie. En dus, toe die Britse koloniale staatsamptenare onttrek het (en ek kan dit met absolute juistheid sê), was die enigste werklik opgeleide persoon in die administratiewe hoofkwartier in Masasi ‘n Asiese liasseerklerk.”
Tanzanië het in 1960 onafhanklikheid van die hoogheilige Britte verkry en op daardie stadium oor geen opgeleide mannekrag of opvoedingstelsel beskik nie. Hierteenoor het die Afrikaner reeds in Paul Kruger se tyd moeite gedoen om swartmense te laat opvoed. Trouens, Paul Kruger het betaal dat ‘n plaaslike stamhoof se seun in Nederland kon gaan studeer en het ook grond aan die Berlynse sendinggenootskap geskenk om ‘n sendingstasie te begin en swartes te leer lees en skryf.
Nie te lank gelede nie was daar ‘n ontstoke persverklaring van mnr. Andrew Groenewald van die Vryheidsfront, n.a.v. die Swazi-politikus en voormalige onderwysminister Naledi Pandor se uitlatings oor “apartheidonderwys”:
“Die Onderwysminister, me. Naledi Pandor, verdraai die geskiedenis wanner sy, volgens ‘n SAPA-berig, beweer die vorige bedeling het ‘uitnemendheid in skole vernietig, ouers en skole van mekaar verwyder (en) goeie onderwysers gedemotiveer. Sy ken klaarblyklik nie die geskiedenis nie. Die ongegronde uitsprake van die Minister is hoogs onverantwoordelik. Die jeug, wat die geskiedenis nie ken nie, word daardeur opgesweep tot rassisme en haat teenoor blankes. Net soos die ANC nie voor 1994 die opstande kon beheer nie, en duisende van hul eie mense met brandende motorbande vermoor is, kan daar weer chaos uitbreek as die verwagtings van matrikulante nie realiseer nie’, het mnr Andrew Gerber, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor Onderwys gesê.
In ‘n verklaring sê mnr. Gerber dat die NP-regering in 1949, ‘n jaar nadat hy die bewind oorgeneem het, die Eiselen-kommissie aangestel het om aanbevelings te doen oor die stand van onderwys vir swart mense. Die Kommissie het bevind dat dit in chaos was. In 1949 was daar slegs 476 swart matrikulante in Suid-Afrika. Hulle is opgelei in sendingskole. Kerke soos die Rooms Katolieke kerk en die Anglikaanse kerk het subsidies van die regering ontvang, maar die onderwysers was swak opgelei – die meeste van hulle het self slegs oor ‘n standerd 2-sertifikaat beskik. Die kerke het nie skole gebou met die subsidies nie, maar hul eie geboue gebruik en op dié wyse self voordeel uit die subsidie getrek.
Na die aanbevelings van die Eiselen-kommissie het die staat die onderwys van swartmense oorgeneem en stappe geneem om die situasie te verbeter. Onder andere is alle belastings wat deur swart mense betaal is, in die onderwys vir hul eie kinders ingeploeg.
Met die sluiting van die Departement van Onderwys en Opleiding uiteindelik in 1990, was daar 11 nuwe universiteite gebou – 7 vir swart studente en een elk vir Kleurlinge en Indiërs. In 1990 was daar 42 000 swart studente in universiteite regoor Suid-Afrika. Op ‘n stadium het die begroting vir swart onderwys sterker gegroei as die Verdedigingsbegroting – en dit in ‘n beleërde Suid-Afrika.”
‘Ek daag die Minister uit om met bewyse te kom dat daar sedert die 1950’s ‘n poging was om uitnemendheid in skole te vernietig en skole en ouers van mekaar te vervreem. Die uitnemendheid in onderwys is vernietig toe die ANC skoliere as troepe ingestuur het om 1000 skole af te brand sedert die 1970’s. Daardie skole is deur die regering gebou en sou vandag duisende skoliere kon huisves’, het mnr. Gerber gesê.”
Toe Zambië van Brittanje onafhanlik geword het, was daar iets soos 17 gegradueerdes in die hele land. Maar volgens die Britte en hul intellektuele meelopers in Suid-Afrika, het Verwoerd en ander ‘n “misdaad teen die mensdom” gepleeg deur universiteite vir swartes op te rig en duisende skole te bou. Uitsprake soos dié van Gerber wat op die histories korrekte syfers en toestande wys, word egter deur Suid-Afrika se pro-Britse joernaliste en akademici geïgnoreer en niemand slaan ag daarop nie. In ons Orwelliaanse heelal, het die leuen geseëvier en word dit vandag tot in die skoolhandboeke gepropageer.
Om egter die aard van die konflik oor “beheer oor die swartman se denke in Suid-Afrika” te begryp, moet ons weereens teruggaan na die negentiende eeu. Kortliks kom dit daarop neer dat daar twee benaderings tot sending en die opleiding van swartes was: die Britse en die Europese. Omdat Paul Kruger as kind die verhale van die leuenagtige Britse sendelinge in die Kaap en hul renons in Afrikaners gehoor het, het hy geweier om enige Britse sendelinge in die Transvaal toe te laat. Duitse sendelinge van die Berlynse sendinggenootskap was egter welkom en so is die grondslag vir ‘n bepaalde benadering tot swart onderwys deur Afrikaners gelê wat ook slaan op die verskil in die onderwysbenadering van Brittanje en dít wat op die Europese vasteland, veral in Duitsland, geld.
Die Britse skoolstelsel is gerig op die elite wat in sogenaamde “public schools” opgevoed word en agterna aan Oxford of Cambridge gaan studeer. Tot vandag toe verlaat sestig persent van alle Britse kinders die skool sonder matriek. Nie veel aandag word aan die gemiddelde kind bestee nie; hy ontvang akademiese onderrig en as hy nie veel aanleg daarvoor toon nie, moet hy maar gaan werk. Hierteenoor plaas die Vastelandse stelsel in Europa en veral natuurlik in Duitsland, veel klem op praktiese vaardighede, ambagte en vakleerlingskappe. Terwyl Brittanje sy rykdom verkry het deur kolonies (soos Suid-Afrika) te plunder en sy eie mense se vaardighede af te skeep, het Duitsland danksy sy hoogs ontwikkelde stelsel van beroepsgerigte onderwys die sterkste ekonomie in Europa gebou. Baie jare lank was die Duitse produktiwiteit, nywerheidsproduksie en veral natuurlik uitvoere na die res van die wêreld veel hoër as dié van Brittanje. Vandag bestaan daar kwalik meer Britse motorfabrieke, terwyl Volkswagen, BMW, Mercedes en Porsche steeds van die wêreld se suksesvolste motormaatskappye bly.
Die verskille in benadering tussen sendelinge van die Londense Sendinggenootskap en sendelinge van die Berlynse Sendinggenootskap sou uiteindelik ook die verskil tussen die Eiselen-Verwoerd-beleid en dié van die SA Raad van Kerke en Anglo-American word. Die een benadering is daarop uit om die swartman geletterd en opgelei, met bruikbare vaardighede, te maak, terwyl die ander hom tot swart intellektueel wil vorm wat uiteindelik met derderangse intellektuele vaardighede as gefrustreerde werklose iemand soek om vir sy toestand te blameer.
‘n Ander belangrike verskil tussen die Afrikaner-Duitse benadering tot swart onderwys en dié van die Britte, is dat die Duitsers en Afrikaners verkies het om swartmense in hul eie tale op te voed, terwyl die Britte altyd daarop aangedring het dat alle onderwys in Engels moet plaasvind, selfs al verstaan die leerlinge of studente nie wat daar vir hulle gesê word nie. Die hele stryd rondom moedertaalonderrig in Suid-Afrika, wat tot vandag toe woed, kan ook teruggevoer word tot die twee groepe sendelinge uit die negentiende eeu.
By Botshabelo naby Middelburg het twee sendelinge van die Berlynse Sendinggenootskap, Alexander Merensky en Heinrich Grützner, vanaf 1865 getoon hoe ongeletterde swartmense gekersten en geskool kon word, maar ook bruikbare vaardighede op die Duitse manier aangeleer kon word. Botshabelo word beskou as een van die suksesvolste sendingstasies in Suider-Afrika en het tot in 1962 aanhou funksioneer.
Die metodes van die Berlynse Sendinggenootskap is later deur die Afrikaanse kerke, veral die NG Kerk, nagevolg en so het ‘n hele tradisie van swart onderwys in Suider-Afrika ontstaan.
Ander sendelinge het onder die Tswanas van die Wes-Transvaal dieselfde benadering gevolg. Een rede waarom die destydse Bophutatswana-tuisland soveel suksesvoller as die ander was, was danksy die nalatenskap van die Berlynse sendinggenoogskap en die NG Kerk wat reeds dekades lank in daardie gedeelte werksaam was.
Verwoerd het in Heidelberg gestudeer en was daarom bekend met die Duitse opvoedingstelsel. Kort ná sy aanstelling as minister van naturellesake in 1948 het hy dus ‘n verafrikaanste Duitser uit die Berlynse sendingtradisie, Werner Eiselen, gevra om ‘n verslag oor swart onderwys saam te stel. Hieruit sou die idee van “Bantoe-onderwys” gebore word, wat die klem plaas op geletterdheid, maar ook praktiese vaardighede wat tot indiensneming in die landbou, nywerheid en handel sou kon lei.
Hoe het swart onderwys in 1948 gelyk? Hermann Giliomee se Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika vertel ons: “Teen 1948 het kerke en sendelinge steeds vir 90% van swart onderwys gesorg. Ongeletterdheid was algemeen. Hoewel enkele sendingskole goeie onderwys gebied het, was swart onderwys oor die algemeen baie swak: teen 1952 het net 3% van al die swartes enige skoolopvoeding ná die primêre fase ontvang, en net 8 488 swartes kon met matriek spog. Daarteenoor het meer as 40 000 wittes elke jaar die hoogste skoolstanderd bereik. In 1947 was daar maar net vier bruin hoërskole.”
Met ander woorde, die wonderlike opvoedingstelsel wat “vóór apartheid” en die gehate “Bantoe-onderwys” bestaan het, het min of meer gelyk soos dié in Tanzanië onder die Britse Ryk. Dit het ‘n klein, radikale elite geproduseer wat agterna kandidate vir swartmagpolitiek en lede van die ANC of SAKP kon lewer, terwyl die breë massa swartes ongeletterd en onopgelei gelaat is.
Verwoerd was daarvan bewus dat die Anglikaanse en ander Engelse kerke, met die radikale Huddleston aan die spits, reeds besig was om hul skole te gebruik om Afrikanerhaat en ‘n revolusionêre sentiment teen die regering aan te blaas. Daarom was daar ook politieke redes waarom die regering die beheer oor swart onderwys moes oorneem.
Kort ná 1948 word Huddleston se instinktiewe Britse afkeer van Afrikaners geradikaliseer rondom die verskuiwing van Sophiatown in Johannesburg wat deur Verwoerd voorgestaan is. Sophiatown is net so ‘n groot mite soos “liberale Britse sendingonderwys” voor 1948. In wese was Sophiatown ‘n krotbuurt en misdaadhool wat een of ander optrede van die owerheid vereis het. Die huidige voorstelling daarvan as een of ander Latynse buurt in Parys of Manhattan waar skrywers, intellektuele en musici in kafees rondgekuier het, is omtrent so misplaas soos om Zimbabwe ‘n demokrasie te noem.
Die swart skrywer Don Mattera gee die volgende beskrywing van hierdie “hawe van kultuur en gekultiveerdheid”:
“It was a place where the poor were victims of subtle exploitation at the hands of shrewd Chinese, Indian, white and in a few instances, African businessmen, who drained the masses very discreetly. Food was sold in small quantities but at huge profits. A five-penny loaf of bread would be sliced into twelve or fifteen pieces and sold at a penny a slice. Other commodities such as cooking oil, sugar, maize-meal, tea and candles were neatly packed into three-penny or five-penny parcels, which realized big profits. And the unsuspecting customers paid, unaware that they were victims of bloodsucking. Even house rentals were paid on an instalment basis. Property owners, especially the Jews and Indians, built several single quarters on small plots and also encouraged the erection of wood and zinc shanties at rentals of two and three pounds a month. Most of the yards had a single lavatory and one tap which were shared by 150 to 200 residents. People and the township dogs relieved themselves against the same walls and put their mouths under the same taps. Beneath the same three they had their brief sexual encounters.
The yards were small and stinking wherever people lived in this crowded communal way. And you would find a man or woman lying drunk in the grime and slime and debris, breathing the foul air of the dispossessed and forsaken life – men and women robbed of those vital fibres that divide man from beast.” (D. Mattera, Memory is the Weapon, Ravan Press: Johannesburg, 1987, pp.49-50)
Vandag word Soweto as ‘n toeriste-aantreklikheid beskou en min mense kan onthou dat Verwoerd dit destyds geskep het. Volgens Huddleston en ander linkses in die vroeë 1950s verteenwoordig die opruiming van Sophiatown en verskuiwing van die inwoners na Soweto egter, indien nie ‘n doodsvonnis nie, ‘n vonnis tot dwangarbeid in ‘n Siberiese strafkamp.
Suid-Afrika is ‘n land met ‘n bevolking wat gedurig aan die trek is. Oor die afgelope enkele jare het drie tot vier miljoen Zimbabwiërs oor ons grense gestroom. Tienmiljoene swartes het na die voormalige blanke stede getrek en hulle dikwels ontsier met onooglike plakkerskampe. Binne die verband van dié reusagtige demografiese verskuiwings, kan die besluit om ‘n paar duisend swartes in Sophiatown tydens die vyftigerjare na Soweto te verskuif kwalik as beduidend gesien word. Maar die gebeure rondom Sophiatown vestig tog ‘n patroon wat hom in die jare daarna ad infinitum sou herhaal waartydens die Britse media, aangevuur deur Huddleston of sy trawante, georkestreerde veldtogte teen die destydse Afrikanerregering met eensydige, kwaadwillige en negatiewe publisiteit sou voer.
Huddleston is die Anglikaanse priester in Sophiatown en hoewel hy later bevorder word tot die pos van “Provinsiaal” met die verantwoordelikheid van ‘n groter skool in Rosettenville, besoek hy steeds gereeld Sophiatown.
Huddleston organiseer betogings en protesvergaderings teen Verwoerd se verskuiwing na Soweto. Ondanks al sy moeite, geskied die hele verskuiwing sonder enige geweld en die inwoners verlaat Sophiatown vrywillig. Maar in die proses vestig Huddleston ‘n versetkultuur en ‘n haat jeens Afrikaners onder ‘n klein groepie swartes wat later, met hom as marionetmeester in Londen, wêreldwye aansien sou verwerf.
Huddleston probeer die swartes oprui in ‘n bioskoop in Sophiatown genaamd die Odin. Hy nooi Johannesburg se eerste swart prokureur, Nelson Mandela, uit om saam met hom op die verhoog te verskyn.
By die skool in Rosettenville genaamd St. Peter’s ly een van die 13-jarige swart seuns aan tuberkulose. Huddleston neem hom onder sy vlerk en leen vir hom boeke om te lees. Sy naam is Desmond Tutu. Een van die onderwysers aan dieselfde skool is Oliver Tambo, die latere leier van die ANC. Hy sorg dat ‘n maat, Hugh Masekela, ‘n saksofoon ontvang. Deur sy magsposisie binne die Anglikaanse kerk, skep Huddleston so te sê eiehandig die radikale, swart elite wat jare lank as Suid-Afrika se “regering in ballingskap” voorgehou sou word.
Toe die verskuiwing in 1955 uiteindelik plaasvind, nooi Huddleston al die koerante in Londen om die gebeurtenis te dek. Soos hy dit in sy outobiografie op die ANC se webwerf stel:
“It was at that time that the people I’d known best to be involved in the struggle really came into their own. Nelson Mandela, needless to say, was one of them on the African side. But I also got to know Ruth First (die kommunis Joe Slovo se vrou – DR) pretty well – she was a frequent visitor; so was Hilda Bernstein whom I knew exceedingly well – Violet Weinberg and Helen Joseph (almal kommuniste – DR). They were all visitors to my office in Rossetenville and Sophiatown. And I think the Western Areas Removal Scheme did something else: it was the first time that the media from Britain sent their top correspondents to cover what was happening. So we had all the major ‘heavies’. We had people like Cyril Dunne from the Observer, Rene McColl from the Daily Mail – everyone in fact who was in that line of business, whatever the political party their paper represented, was there. So we got an enormous amount of media coverage in Britain for the Removal Scheme.”
Met die gebeure rondom Sophiatown word die patroon vir die toekoms vasgelê: telkens een of ander aksie waaroor morele histerie aangeblaas word en wat dan globale dekking in die Britse media ontvang. Van daar word dit natuurlik deur die Amerikaanse, Europese en ander media opgeneem. Soos wat Huddleston se mag en geld tot sy beskikking toegeneem het, het hy die propaganda-aanslag teen Suid-Afrika in felheid laat toeneem met die uiteindelike doel om die NP omver te werp en, daarmee saam, die Afrikaner se moontlike vernietiging iewers in die toekoms moontlik te maak.
Trouens, Tutu verskaf ‘n motto by Huddleston se outobiografie deur te verklaar: “If you could say that anybody single-handedly made apartheid a world issue then that person was Trevor Huddleston.”
Huddleston en ander linkses probeer hul bes om die swart bevolking van Johannesburg tot openlike opstand teen die gehate Afrikanerregering op te sweep, al is Verwoerd op daardie stadium besig om meer swart skole te laat bou as ooit in die geskiedenis, asook huise om die groeiende swart bevolking van die stad in Soweto te huisves. Dit lei tot die sogenaamde “historiese byeenkoms” te Kliptown in Soweto waar die ANC se “Vryheidsmanifes” aangeneem word.
Wie het die Vryheidsmanifes geskryf? Sekerlik was dit ‘n blanke kommunis of twee, of dalk Huddleston self, maar daar word moeite gedoen om dit te laat lyk asof elke klousule “deur die massa self” voorgestel, gesekondeer en aanvaar is. Inderdaad stel die Vryheidsmanifes ‘n sosialistiese Suid-Afrika in die vooruitsig en daar word nou openlik van revolusie gepraat.
Die ANC-SAKP se Vryheidsmanifes, wat niks minder as ‘n so ‘n revolusionêre aksieplan verteenwoordig nie, word op 26 Junie 1955 aangeneem. Maar op 5 Desember 1956 slaan die regering terug en kla 156 mense van hoogverraad aan, waaronder Slovo, Mandela, Tambo, Luthuli, Ruth First, Ahmed Kathrada, kortom so te sê die totale leierskap van die ANC en sedertdien ondergrondse SAKP. Die geheime leier van die Kommuniste, Bram Fischer is die advokaat vir die verdediging.
Die hele hofsaak hou vier jaar lank aan en loop op niks uit nie. In die kommunistiese Sowjetunie word dissidente eenvoudig van die gras af gemaak of Siberië toe gestuur; in die bose “apartheid-Suid-Afrika” ontvang kommunistiese revolusionêre wat die omverwerping van die regering bepleit ‘n regverdige verhoor en word vrygespreek.
Die belang van die hofsaak vir ons verhaal is egter dat Huddleston hier ‘n nuwe geleentheid sien om sy eie mag en invloed, asook beheer oor die swart marionette van die ANC, uit te brei. Hy begin geld insamel vir die beskuldigdes en sodoende word Huddleston, die radikale priester van die Anglikaanse kerk, so te sê die betaalmeester van die ANC. Tesame met ‘n ander ekstreemlinkse Anglikaanse priester, Kanon John Collins, stig hulle die International Defence and Aid Fund. Oor die jare sou die fonds enorme bedrae geld (amptelik 100 miljoen pond) na Suid-Afrika kanaliseer en ook allerlei frontorganisasies finansier wat opstand, terreur en propaganda teen die NP-regering sou pleeg.
Vanuit die Sint Paulus-katedraal in Londen sou John Collins ‘n geldwassery-operasie met die steun van Londense advokate en hoëprofiel-Britte aan die gang hou wat uiteindelik die “totale aanslag”, waarvan P.W. Botha gepraat het, sou befonds. Terwyl Huddlston voorsitter van die Britse Anti-apartheidsbeweging is, sou hy ook die voorsitterskap van die IDAF beklee.
Tydens sy tydperk in die buiteland – terwyl hy in Suid-Afrika gesoek word – daag Nelson Mandela op ‘n dag in 1962 by Amen Court, die Collinse se amptelike tuiste in Londen naby die Sint Paulus-katedraal op. Volgens Collins se weduwee, Diana, “het Mandela vir John gevra of hy nog steeds die ANC sou ondersteun indien hulle hul na geweld sou wend. ‘n Lang gesprek het gevolg. John was ‘n pasifis, maar hy het gesê dat dit nie vir ons is om aan Suid-Afrikaanse swartes voor te skryf nie. Waarvan hulle ook al aangekla word, moes hulle ‘n regverdige verhoor ontvang en hul gesinne gehelp word.”
Ons vra nie vrae nie, ons gee net geld. Hierdie houding is tot in 1994 deur die Anglikaanse kerk en ander Engelse kerke gehandhaaf. Hoewel Karl Marx se Das Kapital aanvanklik die revolusionêre bybel vir Bram Fischer en die res was, sou die letterlike Bybel in die hande van die Engelse kerke en in mindere mate dié van die Katolieke Kerk – in die vorm van die “teologie van die revolusie” – die regverdiging vir terreur, aanvalle op burgerlikes, intimidasie en opstand teen die staat verskaf.
Die Sweedse konneksie
Kanon Collins, wat vanuit die Sint Paulus-katedraal, een van die beroemdste toeriste-aantreklikhede in Londen, geld vir die ANC insamel, sou binnekort in die vroeë sestigerjare nog ‘n bondgenoot in die sogenaamde “struggle” vekry, dié keer in Stockholm. Op 27 April 2004 sê die Sweedse ambassadeur in Suid-Afrika, Anders Mollander, op RSG tydens ‘n onderhoud dat “die ANC sonder Sweedse hulp nooit in Suid-Afrika aan bewind sou gekom het nie”. Die vraag kan met reg gevra word: was dit ‘n Britse of ‘n Sweedse “struggle” wat die ANC aan bewind geplaas het?
Die skemerwêreld van die Suid-Afrikaanse revolusie is inderdaad klein. Selfs die huidige adjunkpresident en vorige waarnemende president, Kgalema Motlanthe, vertel dat hy as altaarseun in Trevor Huddleston se kerk, die “Community of the Resurrection”, opgetree het.
Dan is daar die geval Per Wästberg. Hy dien op die komitee wat die Nobelprys vir letterkunde aan Nadine Gordimer in 1991 toeken. Teen daardie tyd is hulle al jare lank vriende en het Wästberg ‘n sleutelrol gespeel om die Sweedse geldstroom vir die ANC te ontsluit.
Ná ‘n besoek aan Suid-Afrika en Rhodesië in 1959, stig Per Wästberg die Sweeds-Suid-Afrika-komitee in 1961. Volgens hom het die Suid-Afrika-kwessie ná Sharpeville in 1960 – natuurlik ook danksy Huddleston se ywer – in Swede heelwat meer op die voorgrond getree.
Kanon Collins en Oliver Tambo daag in Swede op. Wästberg beskryf dit so:
“Especially Oliver Tambo had close relations to John Collins. It was not a father-and-son relationship, because they were of the same age, but, nevertheless, it was something like that. They were extremely close. And Trevor Huddleston and Oliver Tambo were almost the same person. Trevor Huddleston would like to die only to see Tambo in heaven. For Oliver Tambo, I think that IDAF and all it stood for, as well as John Collins as a person, represented the very best in the liberation struggle. But Mandela does not mention IDAF in his autobiography. One of the reasons, I think, is that it was written by an American ghost writer who apparently cut out an extraordinary amount of ‘boring’ stuff about organizations, committees, councils and so on. The other thing is the Winnie Mandela trial. IDAF financed a lawyer, but it was not enough in Nelson’s view, I think. They should have done much more and come out openly for Winnie at the time. I do not know what he thinks today.”
Per Wästberg is ‘n skrywer, daarom is sommige van sy opmerkings nogal interessant. Veral die sin “Trevor Huddleston en Oliver Tambo was amper dieselfde persoon” is nogal treffend. ‘n Minder polities korrekte beskrywing sou miskien wees dat Tambo die marionet was en Huddleston die marionetmeester. Oliver Tambo sou jare lank hoof van die ANC wees, maar nooit president van Suid-Afrika word nie, tot Huddleston se waarskynlike teleurstelling.
Wästberg sou later, in 1976, die redakteur van Swede se grootste dagblad, die Dagens Nyheter, word. Maar hy is ook goed bevriend met ‘n ander invloedryke persoon, waardeur die ANC die boerpot sou tref: Olof Palme. Dié sosialistiese politikus wat in 1957 tot die Sweedse parlement verkies word, sou in 1967 onderwysminister en in 1969 leier van die Sosiaal-Demokratiese party en eerste minister word.
Volgens ‘n toespraak wat Palme by die VN lewer, skenk die Sweedse regering oor ‘n tydperk van enkele jare 700 miljoen kronor (ongeveer $100 miljoen of R800 miljoen in vandag se geld) aan drie Suider-Afrikaanse “bevrydingsbewegings”: SWAPO, ZANU-PF en die ANC. SWAPO en ZANU-PF ontvang natuurlik ook hulp vanuit die Oosblok en – veral ZANU-PF – vanuit China. Waarskynlik is die grootste gedeelte van die Sweedse geld aan die ANC oorgedra. Hiermee is propaganda, alkohol en wapens – in daardie volgorde – aangekoop. Die alkoholistiese “ballinge” van die ANC, soos Thabo Mbeki self, het jare lank in hotelle of in kampe in Zambië en Angola, gesit en wag dat die Britte en die Swede die “struggle” vir hulle klaarmaak. Die ANC is seker die mees onaktiewe “bevrydingsbeweging” in die geskiedenis. Indien Huddleston, Collins en natuurlik die wit kommuniste soos Slovo, Kasrils en ander hulle nie soms aangepor het nie, sou daar nie eens ‘n bom in ‘n dameskroeg in Suid-Afrika ontplof het nie.
Die International Defence and Aid Fund het ook ‘n ander vertakking gehad: die sogenaamde International University Exchange Fund, wat deur kaptein Craig Williamson van die destydse Veiligheidspolisie geïnfiltreer is. Sowel Swede as Brittanje het geld na die IUEF gekanaliseer, ongeveer 12 miljoen Switserse frank per jaar. Op die vooraand van die Soweto-onluste op 16 Junie 1976, is R4 000 in die SASM (South African Students Movement), wat die betogings teen Afrikaans georganiseer het, se bankrekening by Barclays-bank in Jorissenstraat, Braamfontein, inbetaal. Ook die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke is sterk betrokke by die beweging teen Afrikaans in 1976, ‘n organisasie wat 90% van sy befondsing vanuit die buiteland ontvang het, hoofsaaklik vanuit Kanada, Brittanje en Swede.
Maar laat ons nie die verhaal van Brittanje en veral die Britse kerke se Koue Oorlog teen die Afrikaner en Afrikaans vooruit loop nie.
In die vroeë sestigerjare gebeur nog enkele belangrike dinge, waarvan die eerste aanslag op Verwoerd se lewe by die Randse skou ‘n aanduiding verskaf van hoe desperaat sommige mense begin raak het om die energieke en intelligente eerste minister van Suid-Afrika te stuit.
Die man wat Verwoerd by die Randse Paasskou in die kop skiet, heet David Pratt. Terwyl dié dramatiese gebeure plaasvind, sit ‘n sekere Britse psigiater wat toevallig ook vir Dimitri Tsafendas sou behandel (volgens Citizen-joernalis en voormalige regeringspioen Gordon Winter), op die pawiljoen. In 1959 is Pratt in Londen deur ‘n Britse psigiater behandel, waarna hy skielik belangstelling in die politiek begin toon het en tien dae voor die sluipmoordpoging verkeer hy volgens sy vriendin, Doreen Bilson, “in een of ander hipnotiese dwaal”.
Het die Britse geheime diens sowel Pratt as Tsafendas met behulp van psigiatriese tegnieke “geprogrammeer” om Verwoerd te vermoor? Selfs al aanvaar ons nie Gordon Winter se verhaal nie, bestaan daar tog vele redes waarom Verwoerd vir die Britte ‘n doring in die vlees moes gewees het.
In die eerste instansie het Verwoerd die mag van die Anglikaanse kerk en veral sy houvas op swart onderwys verbreek, behalwe in Johannesburg wat ‘n sleutelrol sou speel in Junie 1976, die pièce de résistance van die Britse media en Huddleston se byna konstante aanslag op Suid-Afrika.
Dan is daar die Republiekwording in 1961. Die meeste Engelse in Suid-Afrika wou in die Statebond aanbly. Ook Brittanje het Suid-Afrika, een van die kroonjuwele van die eertydse Britse ryk, se bedanking uit die Statebond as ‘n klap in die gesig ervaar.
As Harold McMillan sy “wind van verandering”-toespraak op 3 Februarie 1960 maak, gee hy Verwoerd geen vooraf insae in die teks wat hy in die Kaapse parlement sou lewer nie. In die toespraak stel hy egter Brittanje se nuwe beleid van erkenning teenoor die Afrika-nasionalisme of -nasionalismes. Implisiet rig hy ‘n waarskuwing aan Suid-Afrika dat swart nasionalisme ook hier sou losbars, dít waaraan Huddleston en die Anglikaanse kerk reeds so hard werk. In sy diplomatiese antwoord bedank Verwoerd McMillan en maak dit duidelik aan hom dat Suid-Afrikaanse blankes geen ander heenkome het nie en daarom sowel vriende met die Weste as met Afrika moet bly. Verwoerd verseker McMillan dat Suid-Afrika steeds die vriend van Brittanje wil wees.
Maar McMillan se gebaar met die toespraak was egter geensins vriendelik nie en is insgelyks deur die radikale vleuel in Suid-Afrika geïnterpreteer as ‘n bedekte goedkeuring vir hul revolusieplanne. McMillan meen ook in die toespraak dat daar voortaan mededinging om invloed in Afrika tussen Oos en Wes sou wees en dat Suid-Afrika se beleid moontlik Brittanje se invloed elders op die kontinent sou benadeel.
Op ‘n indirekte wyse kies Brittanje toe reeds kant ten gunste van Afro-nasionalisme, radikalisme en die verdrywing van blankes uit Suider-Afrika, eers uit die Portugese kolonies waar hulle reeds 500 jaar woonagtig is en toe uit Rhodesië. Die etniese suiwering van blankes en Afrikaners uit Suid-Afrika sou heel laaste kom, eers ná 1994, maar is natuurlik tans in volle swang.
Onder Verwoerd in die vroeë sestigerjare wil dit egter voorkom asof Afrikanermag vir altyd sou duur. Die ANC en SAKP wend hul omstreeks 1962 tot die “gewapende stryd”, met die seën van Kanon Collins, Huddleston en die Anglikaanse kerk. As ons daaraan dink dat die koningin van Engeland die titulêre hoof van die Anglikaanse kerk is, dan besef ons in watter mate ook die Britse staat onregstreeks betrokke raak by die ondergrawing en terreur wat daar voortaan teen Suid-Afrika gepleeg sou word.
Maar die hele ondergrondse geweldspoging stuit natuurlik op die Rivoniaverhoor, waarna die grootste deel van die ANC en SAKP se leierskap hulle in die tronk bevind. Bram Fischer verbreek sy borgvoorwaardes en vlug na Engeland, maar word in Desember 1965 weer gevang en sou die res van sy lewe in die gevangenis slyt.
Op 31 Mei 1965 vind die vyfjarige Republiekfeesviering by die Voortrekkermonument in Pretoria plaas. Ongeveer 250 000 Afrikaners woon dit by in een van die grootste byeenkomste wat daar nog ooit in Suid-Afrika plaasgevind het. In ‘n foto van die skare wat agterna gepubliseer is, lees mens in die oë van jonk en oud die hoop en idealisme wat op daardie stadium die ganse Afrikanervolk besiel het, ‘n gevoel van vryheid en “alles is moontlik”.
Kort voor die aanslag op Verwoerd, wen die land die Suidwes-Afrika-saak in die Wêreldhof in Den Haag. Rondom Suid-Afrika bestaan daar ‘n buffersone wat die land teen militêre aanvalle uit die noorde sou beskerm, ‘n cordon sanitaire bestaan uit: die twee Portugese kolonies (Angola en Mosambiek), Suidwes-Afrika wat deur Suid-Afrika geadministreer word en natuurlik Rhodesië wat kort tevore tot ‘n eensydige onafhanklikverklaring oorgegaan het. Dit wil voorkom asof die jong Republiek van Suid-Afrika, die derde republiek in ons geskiedenis, nog vir altyd sou bestaan.
Ook op kulturele gebied bereik die Afrikaanse kultuur nuwe hoogtes. Duisende boeke vir sowel kinders as volwassenes word jaarliks in die taal gepubliseer. Ywerige vertalers is besig om sowel die klassieke literatuurskat van die Weste as eietydse Europese romans in Afrikaans te vertaal, uit Duits, Frans, Russies, Italiaans en ander tale.
Streekskunsterade in die vorm van TRUK, KRUIK, SUKOVS en NARUK bied toneelstukke, ballet en opera aan en teaters verrys oral in die land. Gewilde radioprogramme in keurige en korrekte Afrikaans word op verskeie senders soos die Afrikaanse diens, Springbokradio en Radio Hoëveld uitgesaai.
Benewens hoë ekonomiese groei, word daar ook voorsiening vir die toekoms gemaak in die vorm van infrastruktuur en energieverskaffing. Daar bestaan reeds meer paaie en spoorweë in Suid-Afrika as in Groot-Brittanje. Die elektrisiteitsvoorsieningskommissie, oftewel EVKOM, onderneem die bou van ‘n hele aantal kragsentrales in die Oos-Transvaal. SASOL vervaardig petrol uit steenkool en naas die aanleg in die Vrystaat verrys ‘n hele nuwe dorp genaamd Sasolburg. Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie maak dié en ander nywerheidsprojekte moontlik. YSKOR voorsien die land van staal en al hoe meer motors word binnelands gemonteer of vervaardig.
Maar toe kom die sluipmoord op dr. Verwoerd, op 6 September 1966. Vanuit die bloute verskyn Dimitri Tsfandas, oënskynlik kranksinnig, en steek die eerste minister in die parlement ten aanskoue van die al die LV’s dood.
PW Botha, destyds minister vir gemeenskapsbou, spring op en snou mev. Helen Suzman van die Progressiewe Party toe: “Dis julle liberaliste! Kyk nou net wat gebeur as gevolg van julle histerie teen ons!” Suzman is gebelg oor die beskuldiging en dring aan op ‘n verskoning. Maar natuurlik is Botha deels korrek. Indien die Britse geheime diens nie vir Tsafendas “geprogrammeer” het nie, kan die konstante geskreeu van Engelse liberales wat daagliks alles in Suid-Afrika verguis moontlik vir die versteurde Tsafendas se daad verantwoordelik gehou word.
Kort ná die uitspraak ten gunste van Suid-Afrika deur die Wêreldhof, spreek Lord Wakefield van Kendal die volgende woorde in die Britse Hoërhuis:
“My Lords, could the noble Lord explain how it is that hundreds of thousands of Bantu are seeking to get into the Republic of South Africa because of the excellent conditions there, and the South African Government is having considerable difficulty in preventing them from doing so, while in marked contrast, in Communist East Germany a wall is erected around that Western country to prevent the people from leaving it because of the intolerable conditions there? Perhaps he could explain that situation.”
Lord Wakefield ontvang nooit ‘n antwoord op sy vraag nie. Die ander Britse lords is meer gekwel oor die reaksie van Ethiopië en Liberië, die aansoekers in die saak, asook die woede van sommige ander Afrikalande, wat op die uitspraak volg.
Verwoerd se tragiese einde sou later gevolg word deur ‘n nog tragieser uitkoms. Nie net sou sy ergste vrese van ‘n ANC-SAKP-oorname in die land realiseer, met die snelle aftakeling van alles wat die Afrikaner kultureel en ekonomies oor die afgelope anderhalf eeu gebou het nie, maar sy herinnering sou vertrap word. Hy, die gebore Nederlander wat sy hele lewe aan die Afrikaner se stryd sou wy om aan die Britse juk te ontkom, sou uiteindelik op ‘n manier deur sy eie volk verraai word. Die kinders van daardie selfde skare wat op 31 Mei 1966 met sterre in hul oë na die groot man opgekyk het, sou enkele dekades later voor in die koor sing om saam met die Britte en die swart bevrydingsteoloë wat deur Huddleston en Engelse kerk opgelei is Verwoerd as ‘n Nazi en ‘n rassis uit te kryt… Die stad Verwoerdburg sou die naam van ‘n Engelse krieketveld, Centurion, kry. Hendrik Verwoerdrylaan in Randburg sou na Bram Fischer, die skelm klein kommunis, vernoem word.
Ná Verwoerd sou die Nasionale Party-leierskap ‘n dalende lyn volg. Strategiese en intellektuele denke sou plek maak vir pragmatisme, vir aanpassing. Pleks van buitelandse druk teen te staan en self druk toe te pas, word daar aanmekaar toegegee. Ná die pragmatisme van B.J. Vorster en P.W. Botha, volg die nihilisme van FW de Klerk.
Nadat Verwoerd dood is, sit Trevor Huddleston, John Collins en hul Britse en Sweedse vriende egter nie stil nie. Huddleston beklee nou ‘n redelike hoë posisie in die Anglikaanse kerk. Dit gee aan hom diplomatieke status wat hy kan gebruik om sakelui, politici en selfs staatshoofde te besoek. Terseldertyd is hy voorsitter van die Britse Anti-Apartheidsbeweging en natuurlik van die International Defence and Aid Fund waartoe Swede onder Olof Palme as eerste minister rojaal bydra. Oral in Brittanje spreek Huddleston onophoudelik skole en universiteite toe, pamperlang sy vriende in die media en reis ook toenemend na die VSA waar hy veral op kampusse net een boodskap het: vernietig apartheid-Suid-Afrika, boikot die land op ekonomiese, kulturele en sportgebied. Weens die radikalisering van kampusse dwarsdeur die Westerse wêreld in die laat sestigerjare, vind hy ‘n ontvanklike gehoor vir sy boodskap. Soms sleep hy Tambo, die kastige leier van die ANC, saam, soms nie.
Vorster drink Oude Meester, speel gholf en begaan een strategiese fout na die ander. In 1967 stuur Suid-Afrika polisiemanne na Rhodesië om daardie land in sy oorlog teen die sogenaamde Patriotiese Front van Robert Mugabe en Joshua Nkomo by te staan. Vroeg in 1973 sweer Vorster dat die polisie nooit onder sy regering vanuit Rhodesië sal onttrek nie, maar in Desember van daardie jaar swig hy onder Britse druk en onttrek hulle wel.
Sommige NP-politici begin die aard van die oorlog wat daar teen Suid-Afrika en die Afrikaner deur Huddleston en sy trawante gevoer word, insien. Vorster stel in 1968 dr. Connie Mulder as minister van inligting aan. Onder hom sou daar ‘n grootskaalse teeninligtingsveldtog geloods word. Omdat die vyand in Londen van koverte metodes gebruik maak, begin Mulder, asook die sekretaris van sy departement, dr. Eschel Rhoodie, ‘n program om die Westerse media te beïnvloed en poog op ‘n stadium om selfs die Washington Post, die invloedryke liberale koerant in die Amerikaanse hoofstad, te koop. In Suid-Afrika word die koerant The Citizen met geheime regeringsfondse opgerig, om as teenvoeter vir die Rand Daily Mail, ‘n giftige antiregeringskoerant, te dien. Hierdie veldtog duur van 1972 tot 1979.
Sowel Mulder as Rhoodie word egter betrek by ‘n magstryd binne die Nasionale Party om Vorster se opvolger aan te wys. In die stryd tussen Mulder en PW Botha om leierskap van die party, word die geheime projekte van die departement van inligting nou openbaar gemaak en ontstaan die sogenaamde “Inligtingskandaal”. Rhoodie word van bedrog aangekla, vra op ‘n stadium selfs politieke asiel in Brittanje, maar vlug na Frankryk waar hy uiteindelik gearresteer en uitgelewer word. Ná ‘n lang hofsaak word Rhoodie deur die Appèlhof in Bloemfontein onskuldig bevind, waarna hy Amerika toe emigreer.
Tydens die inligtingskandaal kry die Engelse pers in Suid-Afrika, wie se lojaliteit by die mynhuise en in die tweede instansie by Brittanje berus, die geleentheid om die Nasionale Party maande lank van korrupsie en die verduistering van staatsfondse te beskuldig. Uiteindelik skeur die party, eers as Mulder uitstap om sy eie doodgebore party te begin en daarna Treurnicht wat al jare lank in die visier van die pers verkeer. Sodoende onstaan die Konserwatiewe party as die tweede afsplintering van die NP, ná die Herstigte Nasionale Party reeds in 1968 weggebreek het onder die leierskap van dr. Albert Hertzog, seun van J.B.M. Hertzog.
In 1978, kort ná die Soweto-onluste van 1976, wen P.W. Botha die leierskapstryd in die Nasionale Party. Die volgende dekade of wat sou die toekoms van Suid-Afrika – en van die Afrikaner – op ‘n mespunt verkeer. Botha verwys wel na “die totale aanslag” teen Suid-Afrika, wat toon dat hy wel die omvang van daardie aanslag begryp het. Maar het hy die aard daarvan, as ‘n inligtings- en sielkundige oorlog wat uit Londen gevoer word, begryp?
As minister van verdediging het Botha met die strategiese aspekte van die militêre magspel in Suider-Afrika te doen gekry. Op die Namibiese grens is Suid-Afrika toenemend, namens “die vrye wêreld”, die Westerse wêreld waarvan Harold McMillan nog in 1960 gepraat het, in ‘n konvensionale oorlog teen die Oosblok betrokke wat groot eise aan die land se begroting en mannekrag stel. Sowel die VSA as Brittanje speel nou ‘n dubbele spel. Aan die een kant word daar van Suid-Afrika verwag om “die fort te hou” teen die Sowjetunie en sy bondgenote in Suider-Afrika, aan die ander kant werk albei lande mee aan die ondermyning van Suid-Afrika.
Hoewel Verwoerd destyds al ingesien het dat die Afrikaner se vyande nie sou rus voordat die volk, hetsy uitgewis, hetsy heeltemal geassimileer of uit die land verdryf sou word nie, heers ‘n relatiewe vrede van 1966 tot die middel-sewentigerjare.
‘n Eksterne gebeurtenis veroorsaak dat die eerste twee domino’s van die strategiese “cordon sanitaire” rondom die land val, naamlik die twee Portugese “oorsese provinsies”, Angola en Mosambiek. Die patroon in Suider-Afrika is dat die blanke minderhede, hetsy in die Portugese kolonies, hetsy in Rhodesië of Suid-Afrika, die militêre stryd met redelike gemak teen die swart-nasionalistiese guerillas wen. Maar telkens word elkeen van hulle verraai deur die metropool in die vorm van die koloniale moondhede soos Portugal of Brittanje, of die sogenaamde “leier van die vrye wêreld”, die VSA.
Op 25 April 1974 vind die sogenaamde Angelierrevolusie in Portugal plaas. Die linkse regering wat aan bewind kom, onttrek dadelik vanuit Angola en Mosambiek, wat chaos en langdurige burgeroorloë tussen mededingende swart-nasionalistiese faksies veroorsaak. In 1975 betree Suid-Afrika, op versoek van die VSA, Angola en die SAW vorder baie vinnig tot aan die buitewyke van Luanda. Voor die troepe die grens tussen Suidwes-Afrika en Angola oorsteek, word hulle toegespreek deur ‘n amptenaar van die CIA wat hulle loof vir hul dapperheid in diens van die vrye wêreld.
Maar dit word aanstons duidelik dat die VSA ‘n volgende Viëtnam vrees. In die New York Times word sterk kapsie gemaak teen nog ‘n Amerikaanse militêre avontuur in ‘n derdewêreldland. PW Botha staan nou voor ‘n moeilike keuse. Moet hy op eie houtjie, sonder Amerikaanse steun, Angola beset en die orde daar handhaaf of moet hy weer terugtrek tot oorkant die grens. Van die SA verkenners het reeds die hawe van Luanda begin myn om enige skepe met militêre voorrade vanuit die Oosblok te stuit. Indien Botha sy pro-Westerse bondgenoot Jonas Savimbi van UNITA op daardie stadium in Luanda as oorgangsregering geïnstalleer het, sou die gang van die geskiedenis dalk anders verloop het. Savimbi is lid van die Ovimbundu, die grootste stam in Angola wat ongeveer 40% van die bevolking verteenwoordig. In ‘n verkiesing sou hulle waarskynlik teen die res kon seëvier.
Botha kies egter die opsie wat die minste risiko behels: hy sê sy verkenners aan om weer die hawe van Luanda te ontmyn en die SAW retireer tot suid van die grens. In Johannesburg het ‘n nuwe redakteur die leisels van die swart koerant in die Argusgroep, The World, oorgeneem. Hy heet Percy Quoboza. Terwyl sy voorgangers op sokker en vermaak gekonsentreer het, omskep hy die koerant in ‘n linkse politieke dagblad. In The World word daar geskryf dat Suid-Afrika uit Angola onttrek het omdat die SAW “bang was” en eintlik die oorlog in daardie land, wat toe maar eers begin het, “verloor” het. Onder die swart jeug van Soweto, wat in die onlangse verlede deur die Engelse kerke met die teologie van die revolusie en die swartbewussynsfilosofie bestook is, sou hierdie artikel in The World nie ongesiens verbygaan nie. Die ewe holderstebolder oorname van Frelimo in Mosambiek, met beangste blanke Portugese vlugtelinge wat in Suid-Afrika aangekom het, sou insgelyks die indruk skep dat die kapitulering van die Suid-Afrikaanse regering nie ver weg is nie. Op 24 September 1974 vind ‘n pro-Frelimo-massavergadering op die kampus van die Universiteit van die Noorde plaas.
(word vervolg)
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.