Julian Müller-boek sit gelowiges aan die dink

Die publikasie Geloof anderkant Sondag is deel van Julian Müller se trilogie. Die ander twee boeke is:  Om te mag twyfel en Opstanding. Dit blyk dat in die trilogie die aspek van “twyfel in geloof” sentraal staan.

Titel: Geloof anderkant Sondag
Skrywer: Julian Müller
Kategorie: Godsdiens
ISBN: 9780624066231
Datum Vrygestel: 21 Julie 2014
Prys (insl. BTW): R 175.00
Formaat: Sagteband, 204pp

‘n Beoordeling van eersgenoemde hang grootliks af van ‘n eie standpunt in sake:

  • Die kerk as godsdiensinstelling en
  • Geloof (beter gestel: oor die inhoud van geloof).

In ‘n Bybelse mensbeskouing is geloof ‘n eienskap of ‘n vermoë van menswees, naas ‘n juridiese besef, ‘n etiese verantwoordelikheid, ‘n sosiale lewe, ‘n ekonomiese aktiwiteit, ‘n taalvermoë, om logiese te kan dink, ens.

Dit is die inhoud wat die mens aan geloof gee wat dikwels omstrede is!

geloofanderkantIn hierdie verband kan (ja, moet!) die kerkbegrip aan ‘n struktuuranalise onderwerp word. Die kerk is ‘n enkele instelling in ‘n meer omvattende koninkryksperspektief. In ‘n koninkryksperspektief moet elke instelling ‘n godgewilde karakter hê en word elke instelling deur interne vryheid geken. So is die kerk ‘n vertikale godsdiensinstelling vir die formele aanbidding van Adonai Jahweh, naas en in onderskeiding van die volgende:

  • Die huwelik ‘n verbinding tussen man en vrou wat op gesinsvorming aangewese is.
  • Die gesin ‘n verbintenis tussen ouers en kinders, wat normaalweg bloedbande kan wees.
  • Die familie ‘n breër verbinding tussen bloedverwante is.
  • Die staat ‘n regsverbintenis vir die ordelike  samesyn van burgers binne ‘n spesifieke geografiese gebied.
  • ‘n Sake-onderneming ‘n dienslewerende instelling is wat ook op wins en groei ingestel is.
  • Ens.

In sodanige koninkryksperspektief is een instelling nie na ‘n ander te herlei nie maar vorm  al die instellinge ‘n kulturele inslag en volgens ‘n religieuse rigting ‘n eenheidskarakter.

In hierdie verband is die kerk ‘n godsdiensinstelling vir die formele aanbidding van GOD  en van ‘n gemeenskap van mense met dieselfde religieuse ingesteldheid. Die liturg tree namens die gemeenskap/gemeente op en dien terselfdertyd as verteenwoordiger van GOD, gegrond op Bybelse analise en eksegese. So gesien, is dit uiters riskant vir die liturg om:

  • Die kansel vir “social gospel”-stories te misbruik.
  • Twyfel te saai of selfs ruimte vir twyfel te maak, want twyfel binne hierdie konteks is ongeloof.
  • Riskante, verdelende dogma te verkondig.
  • Die formele karakter van die kerk in/tot ‘n vermaaklikheidsinstelling te misvorm.

In die bestuur van die kerk is dit uiters noodsaaklik dat lidmate sal weet:

  • dat die erediens ‘n formele aanbiddingskarakter het,
  • dat die Tien Gebooie en gebed en toewyding noodsaaklike liturgiese aktes en dade is, en
  • dat ‘n gemeente substrukture kan/moet daarstel om aan ander godsdiensbehoeftes  uitdrukking/vervulling te gee.

Daar is egter substrukture van ‘n kerk waar gemeentelike behoefte en teologie in mindere of meerdere mate bedryf kan word. Omdat die godsdiens noodwendig op dogmavorming aangewese is, is die wisselwerking tussen teologie as godsdienswetenskap en kerklike liturgie van die allergrootste belang. Die kloof tussen teoloog en dominee moet uitgewis word. Die verskil tussen die historiese Jesus van die teoloog en die mitiese Jesus van die kerk moet in ewewig gebring word. Die geskiedenis van die kerk begin nie, soos Markus Borg suggereer, vier jaar na die aanvang van die Christelike jaartelling nie, maar by Abraham 1800 jaar voor die christelike kalender.

Dit is teen bg. agtergrond dat Julian Müller aan die orde tree.

In die godsbeskouing van Müller is:

  • GOD duskant die Sondag transendent … teïsties (daar vêr) … gebaseer op ‘n drie-vlak-wêreldbeeld (hemel, aarde, onder die aarde).
  • GOD anderkant die Sondag post-teïsties … selfs pan-teïsties (in alles en ook buite alles). In so ‘n benadering speel die bloedteologie (die kruis … die nagmaal) van die Sondagkerk geen rol nie. Bloedteologie skep ‘n karikatuurbeeld van GOD!

In die Jesus van die geloof anderkant die Sondag is Jesus nie die geslagte lam in ‘n verlossingsleer nie, maar GOD se gesig na die wêreld. Na die voorbeeld van Jesus leer die mens GOD beter ken.

Die Sondagkerk soek mag … word twyfel uitgesluit … ly die kerk aan sekularisasie (ontkerkliking) van sy lidmate … ens.  Anderkant die Sondag is daar ruimte vir kritiese denke … is die kerk buigbaar en oop … gaan dit oor bediening … bestaan geloof en twyfel in harmonie … is daar oop gesprek.

Die vraag is nou welke kritiek/kommentaar ek op Müller se dokument, in die lig van my kerkbeskouing, nahou?

Toegepas op die NGK is daar ‘n historiese verbondenheid tussen NGK en politiek … eers onder NP-bewind en nou onder ANC-regering. Onder NP-bewind het die NG Kerk rasse-differensiasie aan die hand van die dokument “Ras, volk en nasie” vergoeilik … en toe die NP-politiek verander, dogmatiese klemverskuiwings in die dokument “Kerk en Samelewing” aangebring. Nou weer word “Belhar” omhels.  Is dit om die ANC ter wille te wees? Mag is dus, soos Julian Müller dit stel, belangrik vir die NGK.

Dogmaties gesproke hou die NGK vas aan die belydenis van Nicea waarop 325 jaar na Christus besluit is, onder voorsitterskap van die heidense keiser Konstantyn. Dit geld ook vir die sg. drie-eenheid maar wat in feite ‘n twee-eenheid word, wanneer die onderskeid tussen GOD en Jesus uitgewis word. Wat dít betref, is Müller weer reg, wanneer hy die godwording van Jesus bevraagteken. Dogmatiese vernuwing is eenvoudig nie deel van die NGK se opset en ingesteldheid nie.  Dit is wel part en deel van teoloë van die NGK.

Tewens, as die kerk staande wil bly, ten aansien van ‘n immer-veranderende mens, sal die kerk hom los moet maak van die pre-moderne/mitiese inhoude wat nog steeds sy belydenisskrifte kenmerk.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat Müller sy lesers wil laat dink. Hy sien sy lesers as sy post-universitêre studente. Hy neem die leerstoel na die gemeenskap.  Dit maak sy boeke boeiend en aktueel.

Müller is ‘n plaasseun van Nigel. Kerkgaan was vir hom as kind ‘n straf. Tog studeer hy teologie. Sy eerste gemeente is in Johannesburg-Oos. Hier vind hy die Sondagkerk. By die studentegemeente is die kerk ‘n instelling anderkant die Sondag. As professor maak hy van die narratiewe leermetode gebruik.

Die lees van Julian Müller se Geloof anderkant Sondag word aanbeveel!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.